19 Januarie 2012

Niks is vir God onmoontlik nie


Skriflesing:   Luk. 1v5 – 38 
Teksvers:       Luk. 1 v 37
Liturgie  18 Des. 2011
na Votum Ps. 18 v 1  (OAB)
Na Wet Ps. 130 v 1 & 2 (OAB)
Na gebed Ps. 119 v 2  (OAB)
Slotsang Ps. 31 v 3 (OAB)

Inleiding
Hoe kan die onmoontlike moontlik wees? Hoe sal jy reageer op ’n boodskap wat iets aankondig wat volgens alle logiese denke onmoontlik is? In ons teks sien ons dat daar twee uiteenlopende reaksies is. Aan die een kant sien ons ’n reaksie van ongelowige skeptisisme en aan die ander kant kinderlik gelowige aanvaarding. In hierdie twee uiteenlopende reaksies wys die Here vir ons dat niks vir God onmoontlik is nie.

In die eerste plek: Ongelowige skeptisisme
Sagaria was ’n priester by die tempel in Jerusalem. Daar was destyds egter veel meer priesters as wat vir die tempelsdiens nodig is. Dawid het al ’n 1000 jaar voor Christus gereël dat priesters in 24 afdelings verdeel word sodat elkeen ’n week lank die tempeldiens kon behartig. In die tyd van Christus was hierdie afdelings egter nog steeds te groot om vir elkeen ’n beurt te gee en daarom moes die betrokke week se tempelwerk onder mekaar verdeel word deur die lot te werp soos ons dan ook hoor in Luk. 1v8 & 9:
8 Op ’n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig, 9 is hy volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altaar te brand.

Een van die heel belangrikste take wat ’n priester in die tempel kon verrig was om die reukoffer altaar skoon te maak en dan nuwe reukwerk te offer as simbool van gebed. Dit was so ’n buitegewone taak dat ’n priester net een maal in sy lewe die geleentheid gekry het om dit te doen. Met hierdie taak het die priester eers die volk by God verteenwoordig en daarna kon hy God weer by die volk verteenwoordig wanneer hy buitentoe gegaan het om die wagtende skare in die Naam van die Here te seën. Sagaria was dus besig met die hoogtepunt van sy priesterlike loopbaan toe die engel Gabriel aan hom verskyn het met ’n haas ongelooflike boodskap soos ons hoor in Luk. 1v12 & 13:
12 Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, 13 maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou ’n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem.

Voordat ons na Sagaria se reaksie op hierdie boodskap kyk moet ons net sy omstandighede in ag neem. In Luk. 1v7 hoor ons:
Hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd
Rasioneel gesproke was dit wat Gabriel aangekondig het dus onmoontlik. Daarom moet ons nie so verbaas wees oor Sagaria se reaksie nie – Luk. 1v18:
Toe sê Sagaria vir die engel: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is ’n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.”
Baie skepties en vol ongeloof vra Sagaria vir ’n teken om hom te oortuig dat hierdie boodskap die waarheid is. Dit is nie dat Sagaria ’n slegte en ongelowige mens was nie. Ons hoor in Luk. 5v 6 dat hy en Elisabet getrou was in hul godsdiens:
Hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou.

Is dit nie maar hoe dit met ons ook gaan nie, geliefdes? Ons is getrou in ons godsdiens. Ons lewe ’n goeie lewe. Ons drink nie en hou nie uitspattige partytjies nie. Ons woon gereeld die eredienste by, maar as dit op toets kom, daar waar ons werklik op God moet vertrou om ons in ’n menslik gesproke onmoontlike situasie te help, dan vertrou ons nie die Here nie. Dit is wat ongeloof is, dat ons nie vertrou nie. Dit is wat Sagaria se probleem was. Hy het teen die rasionele feite vasgekyk en daarom het hy God nie vertrou om die onmoontlike moontlik te maak nie.

Dit is wat ons vandag sien. Ons leef mos in ’n moderne wêreld wat van beter weet, daarom kan ons nie meer in ’n maagdelike ontvangenis glo nie. Christus het nie regtig opgestaan nie. So sê die tydsgees van ons moderne wêreld vir ons. Dit bring mee dat ek God nie werklik vertrou om in my persoonlike omstandighede in te gryp en ’n verskil te maak nie. Ons glo nie dat God ’n verskil kan maak in my huwelik wat maar net wil vlot nie. Ons glo nie dat God iets kan doen aan die seer hier diep binne in my wat die lewe my toegedien het nie. Ons glo nie dat God iets kan doen aan die hartseer en verlange na ’n geliefde wat skielik uit my lewe weggeruk is nie. Daarom kan ek nie meer bid nie. Daarom kan ek nie meer Bybel lees nie en as ek bid dan voel dit vir my of ek maar net hier teen die plafon vaspraat. As ek Bybel lees dan verstaan ek nie.

Die engel se antwoord aan Gabriel se versoek vir ’n teken is amper onbegryplik soos ons hoor in Luk. 1 v 19:
Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring.
In wese sê die engel Gabriel vir hom: “Niks is vir God onmoontlik nie!” Die belofte van ’n kind vir Elisabet en Sagaria is ’n baie spesiale belofte, want dit is hy wat vir Christus die wegbereider sal wees. Hy moet die volk voorberei op Christus se koms. Hy moet die volk voorberei vir die volgende aankondiging van ’n menslik gesproke onmoontlike gebeurtenis.

Tweedens ’n kinderlik gelowige aanvaarding
Ongeveer ses maande later kom die hemelse boodskapper met nog ’n ongelooflike boodskap. Weereens op ’n baie persoonlik intieme wyse. Hierin sien ons weereens hoe bedagsaam ons Here is. Hy oorrompel nie mense deur sommer net uit die bloute op te tree nie. Hy neem sy kinders saam in wat Hy gaan doen op ’n baie besonderse manier. Die Koning van alle konings is op pad, maar dit word nie met ’n trompetgeskel op die pleine aangekondig nie. Die boodskap word op ’n baie intieme en persoonlike manier oorgedra aan die persoon wat direk by hierdie gebeure betrokke is.

In teenstelling met Sagaria wat maar net nie kon glo nie, glo sy die ongelooflike. Nie dat dit haar nie skud nie. Sy is verbysterd en kan nie verstaan waarom die engel haar aanspreek as “begenadigde” nie en hoe sy wat ’n maagd is ’n kindjie in die wêreld kan bring. Die engel verduidelik (vir sover dit verduidelik kan word) en hy sluit sy verduideliking af met dieselfde versekering wat hy aan Sagaria gegee het: “Niks is vir God onmoontlik nie.” Die verskil tussen Maria en Sagaria is Maria se kinderlike gelowige onvoorwaardelike aanvaarding van die wil van die Here soos ons hoor in Luk. 1v 38:
Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”

Hierin sien ons ook duidelik watse verskil Christus in ’n mens se lewe maak. Sonder Christus tree ons in ongeloof en in wantroue teenoor God op. Sonder Christus is ons verwyder van God se genade. Maar in Christus lewe ons deur God se genade soos ons hoor in 1 Kor. 15 v 22:
Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.
Die evangelie van Jesus Christus is vandag nog net so ’n radikale boodskap wat vir skeptiese en siniese wêreld haas ongelooflik klink. Die boodskap van God wat mens geword het bly ongelooflik vir diegene wat God met hul verstand probeer uitpluis. Vir diegene wat Christus se versoeningswerk met God in kinderlike geloof aanvaar is daar die wonderlike troos “Niks is vir God onmoontlik nie”. Christus maak dit moontlik dat ek sal vertrou dat God groter as my pyn en hartseer.

Geliefdes, wat ook al die situasie en hartseer is. Hou vas aan God se genade in Jesus Christus met die troosvolle wete dat die boodskap van die engel Gabriel ook vir ons is: Niks is vir God onmoontlik nie.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking