Preek Son 22 Jan. 2012 (RB)
Psalm 19; teksvers Ps. 19:2
Sing
Lofsang: Ps. 8 v 1,3,4&7 (OAB)
Na
wet: Ps. 1 v 1 (OAB)
Na
gebed Ps. 33 v 1 (OAB)
Slotsang Ps. 19 v 1 (OAB)
Art’s 1 & 2 NGB (Preek volg na die NGB Artikels)
Ons glo almal met die hart en bely met die
mond dat daar 'n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God
noem. Hy is ewig, onbegryplik,
onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en
die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.
2 Kor 3:17;
Joh 4:24; Jes 40:14.
Ons ken Hom deur twee middele:
Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en
regering van die hele wêreld. Dit is
immers voor ons oë soos 'n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die
letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en
goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom.
1:19-20). Al die dinge is genoegsaam om
die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.
Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog
duideliker en meer volkome aan ons bekend en wel so veel as wat vir ons in
hierdie lewe nodig is om tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom
behoort.
Ps 19:2;
Ef 4:6; 1 Tim 2:5; Deut 6:4;
Mal 2:4; 1 Kor 8:4, 6; 1 Kor 12;
1 Kor 1.
Inleiding
Die mens is geneig om klein te dink oor
God. So dikwels hoor ons hoe ongelowiges vra dat hulle God wil sien voordat
hulle sal glo. Sien is glo is hulle leuse. Dit is egter nie net ongelowiges wat
God klein probeer maak nie. Gelowiges doen dit ook wanneer hulle twyfel of God
raaksien wanneer hulle swaarkry. Dis nie ’n nuwe ding wat uniek is by die
moderne mens nie. Israel het ook daarmee gesukkel soos ons hoor in Jes. 40v27:
Waarom sê jy dan, Jakob,
waarom kla jy, Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan
by my God verby”?
Hoe dikwels vra ons nie ook maar net soos
die ongelowige “waar is God?” Luister na wat die Here antwoord wanneer die mens
vra “Waar is God?” Jes. 40v28a:
Weet jy dan nie, het jy
nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde.
In Rom. 1v20 hoor ons:
Van die skepping van die
wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag
ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ’n mens nie met
die oog kan sien nie.
Ons kan God nie direk sien nie, maar tog is
Hy nie onsigbaar nie. Ons sien sy almag en majesteit in die werk van sy hande
raak soos ons hoor in Ps. 19v2:
Die hemel getuig van die
mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.
Dit is ook wat ons bely in Artikels 1 &
2 van die NGB. In Art. 1 bely ons sy Almag en majesteit en Art. 2 hoe God dit
aan die mens bekend maak wie en wat Hy is. Hy doen dit op twee maniere soos ons
ook hoor in Ps. 19. Die eerste sewe verse vertel vir ons hoe God Homself deur
sy Skepping openbaar en verse 8 tot 12 oor hoe God Homself nog duideliker deur
sy lewende Woord openbaar.
In die eerste plek hoor ons:
Die hemel getuig van die mag van God
In Ps. 19 v 2 sien ons ’n tipiese kenmerk
van die Hebreeuse poësie waar dieselfde saak op twee verskillende maniere
herhaal word om dit te beklemtoon. Die eerste maal hoor ons:
“Die hemel getuig van die
mag van God,”
en dan word dieselfde waarheid op ’n ander
manier gestel:
“die uitspansel maak die
werk van sy hande bekend.”
Ons wetenskap bevestig vandag wat Dawid al
3000 jaar gelede geweet het. Op ’n helder aand kan ons met die blote oog
ongeveer 2500 sterre op een slag waarneem. As ons so sonder ’n teleskoop na die
nagtelike hemel kyk is dit asof ons net na die omslag van ’n boek kyk. Die
omslag het dikwels net so ’n kort opsomming wat die inhoud van die boek bekend
maak en dit is wat ons met die blote oog kan sien. Die wetenskap het ons in
staat gestel om daardie boek oop te maak.
Deur middel van die Hubble-ruimteteleskoop
het ons gesien dat die heelal uit veel meer as net die 2500 sterre bestaan wat
ons met die blote oog kan sien. Ons son is maar 1 ster in die melkweg
sterrestelsel wat na raming ongeveer 100 biljoen sterre bevat. Volgens wat nou
waargeneem kan word is die skatting dat daar tussen 100 en 200 biljoen
sterrestelsels in heelal is. En elk van daardie sterrestelsels is of groter
of gelykstaande aan die Melkweg. Ons kan
nie regtig ’n begrip vorm van hoeveel sterrestelsels daar is of hoe groot die
Heelal is nie. Hierdie syfers is uit die aard van die saak nie presiese
akkuraat nie, maar dit gee darem so ’n idee.
Soos wat die wetenskap vorder kom die
wetenskaplikes net elke slag agter dat die heelal veel groter is as wat
voorheen gedink is. Die volgende proefneming bevestig hoe wetenskaplikes
agtergekom het dat hulle te klein van die heelal dink. Die mense in beheer van
die Hubble-teleskoop het besluit om die teleskoop op ’n klein donker kolletjie
in die lugruim te fokus wat tot nou toe heeltemal donker was. Die kolletjie
waarop hulle gefokus het was in vergelyking met die nagtelike hemelruim
ongeveer so groot soos ’n sandkorrel wat ons ’n armlengte van ons af weghou.
Die teleskoop het vir 4 maande lank foto’s
geneem van daardie spesifieke kolletjie en soos die data ingekom het, het hulle
deur middel van ’n rekenaar ’n prentjie gevorm van daardie klein donker
kolletjie in hemelruim. Die resultate van hierdie eksperiment het die
wetenskaplikes absoluut stomgeslaan. Die saamgestelde foto het aangetoon dat
daar net in daardie donker kolletjie ongeveer 10 000 sterrestelsels is
waarvan die grootste ongeveer 8 keer so groot is soos die melkweg waarin ons woon.
In Ps. 19 v 5b-7 hoor ons:
Vir die son is daar in
die hemel ’n tent opgeslaan. As hy stralend begin om sy baan te volg, is hy
soos ’n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom. Aan die een kant van die hemel kom
hy op en aan die ander kant gaan hy onder, en niks ontkom aan sy gloed nie
As ons so bietjie nader aan die huis kom
dan sien ons dat die aarde in vergelyking met son baie klein is. Die son se
deursnee is 100 keer groter as die aarde se deursnee. Om dit verduidelik kan
ons die aarde vergelyk met ’n albaster en die son ’n bak waarin albaster gegooi
word. Om die bak in die regte verhouding tot die son te plaas moet dit diep
genoeg wees om 100 albasters hoog te wees. As die albaster 1cm in deursnee is
dan moet die bak 100 cm of 1 meter hoog wees. As ons daardie bak sou vol maak
dan sal daar 1 miljoen albasters binne daardie bak pas. Dit sal dus 1 miljoen
aardes neem om ’n voorwerp te maak wat so groot soos die son is.
Aan die ander kant as ons, ons son met die
grootste ster waarvan ons weet in ons sterrestelsel vergelyk dan is ons son so
groot soos ’n 20c muntstuk in vergelyking met die Noord Amerika. Wat sê dit vir
ons? Dit het my verskriklik klein laat voel. Dit laat mens met ander oë kyk na
Gen. 1v1:
In die begin het God die
hemel en die aarde geskep.
As ons so na die hemelruim kyk dan kan ons
verstaan hoe die dag en die nag sonder spraak en sonder stem ’n boodskap oor
die hele wêreld kan uitstuur. Die hele skepping verkondig die almag van God en
as ons so na die skepping om ons kyk dan sien ons dat God Homself aan die mens
daardeur bekend maak. Hy openbaar homself egter nog duideliker en meer volkome
aan ons deur sy heilige en Goddelike Woord. Hierdie belydenis van ons in
artikels 1 & 2 van die NGB is in die Woord gegrondves, want in Ps. 19v8 hoor
ons:
Die woord van die Here is volmaak: dit gee
lewe
In verse 8 tot 12 hoor ons dat die Here vir
ons alles in sy Woord openbaar wat ons in hierdie lewe nodig het en wat vir
diegene wat aan Hom behoort saligheid gee. In Ps. 19 v 12 hoor ons:
U dienaar laat hom
daardeur leer. Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.
Die vraag wat by baie ongelowiges opkom (en
dalk ook by ons) is hoekom sou die Here Homself met ons bemoei? Hoekom sal Hy
enigsins aandag gee aan mense wat in vergelyking met sy skepping op ’n planeet
wat onsigbaar is binne die groter geheel? As ons so na die heelal kyk dan lyk
dit oorweldigend groot om ’n blyplek vir mense te maak. Ongelowiges redeneer
dat God nie eens weet van ons nie. Hierdie redenasie rus egter op ’n verkeerde
argument. Uit ons teksvers Ps. 19v2 is dit duidelik dat God alles geskep het om
sy majesteit sigbaar te maak. Die skepping gaan dus nie in die eerste plek oor
die mens nie, maar oor die eer van God.
Hoekom sou God hom met ons klein nietige
mense bemoei? Omdat Hy wil! In Jes. 43 v 1 hoor ons:
Luister, so sê die Here
wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek
verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.
Psalm 19 sluit af deur na die Here te
verwys as my Rots en my Verlosser. Die naam Jesus beteken Verlosser. God wat
die heelal geskep het, het Homself klein gemaak ter wille van ons. Hy is gebore
as ’n eenvoudige mens en Hy het ’n vervloekte kruisdood gesterf sodat ons weer
met Hom verenig kan word, sodat ons Hom kan ken.
Uit die skepping en uit die Woord leer ons
dat daar 'n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik,
onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die
alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.
Geliefdes as ons weer wonder “waar is God?”
dan moet ons na sy skepping kyk en besef dat Hy wat dit alles gemaak het, ter
wille van my mens geword het sodat ek kan lewe! Wat beteken dit vir my? Dit
beteken dat wanneer ek die moeilike deel van die lewe bereik, ek kan weet dat
God in Jesus Christus daar is vir my. Iemand het eendag gesê: wys my hoe groot
jou probleem is, dan sal ek vir jou wys hoe groot God is. Ons probleme is vir
die Here soos die grote van die aarde is in vergelyking met die heelal.
slot
Wonder u soms waar is God? Wanneer dit
gebeur kyk bietjie weer op na die hemelruim daarbo en beleef die almag van God.
Ontmoet Hom in sy Woord en beleef hoe Hy in Jesus Christus ons genadig is sodat
ons Hom as die ewige God persoonlik kan leer ken. Hou vas aan God se groot
genade en weet dat God wat die Hemel en die aarde geskep het ons deur die lewe
dra.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking