19 Januarie 2012

Terwyl julle vashou aan die hoop wat God gee, moet julle die belange van julle gemeenskap bevorder!


Skriflesing:   Jeremia 29 ; Kernverse:Jeremia 29:5-7 en 10b
Liturgie  23 Okt. 2011
na Votum Ps. 146 v 1   (OAB)
Na Wet Ps. 130 v 1 & 2  (OAB)
Na gebed Ps. 31 v 1 & 3  (OAB)
Slotsang Ps. 146 v 3 & 8 (OAB)


Inleiding
Vir baie van ons voel dit nog vreemd om in hierdie nuwe Suid Afrika te lewe. Ons voel ook dikwels ontuis in die samelewing waar nuwe skokke, soos onbeheerste misdaad, verkragting en kapings, ons telkens tref. Daarom kom daar soms `n lam gevoel oor ons, `n gevoel dat ons dalk vreemdelinge in ons omgewing geword het. Is dit dalk amper soos die ballinge in Babel moes gevoel het? Wat daarby kom is dat ouderdom en `n ongeneeslike siekte ons ook laat vra: hoekom leef ek nog en wat is die sin daarvan as ek niks meer kan doen en my bewegings so ingeperk word?

Hoe moet ons hierdie situasie hanteer? Hoe kan ons die betekenis van hierdie tyd verstaan en hoe kan ons gemotiveer word om te lewe soos iemand wat voel sy/haar lewe is nog sinvol? Hierdie besondere hoofstuk aan die eerste groepie ballinge in Babel help ons vandag nog hiermee. Ons teksgedeelte kan eintlik so saamgevat word as `n tydige woord aan ons: Terwyl julle vashou aan die hoop wat God gee, moet julle die belange van julle gemeenskap bevorder!

Twee aspekte staan baie skerp uit:
·        Hou vas aan die hoop wat God gee!
·        Bevorder die belange van julle gemeenskap!

1.  Hou vas aan die hoop wat God gee
In hierdie hoofstuk is daar ’n warm briefwisseling tussen Jerusalem en Babel.

Jeremia skryf eers ’n lang brief en stuur dit saam met betroubare manne, Elasa en Gemarja, na die ballinge in Babel om hulle teen die valse profesie van die selfaangestelde profete te waarsku: name wat genoem word, is Agab, Sedekia en Semaja.

Semaja, ’n valse profeet in Babel, reageer skerp op Jeremia se brief deur te skryf aan die priester Sefanja, wat dissipline moes uitoefen in Jerusalem. Daarin vra hy dat die priester Jeremia moet stilmaak.

In ’n derde brief, een wat Jeremia skryf, reageer hy op Semaja se brief en waarsku dat God Semaja sal straf deur hom kinderloos te laat sterf. In hierdie preek val die klem op Jeremia se eerste brief aan die ballinge.

Wie was hierdie ballinge?

Dit was die eerste groep, leiers en belangrike en waardevolle persone, wat ongeveer in 597 vC, so tien jaar voor die val van Jerusalem en die vernietiging van die tempel in 586, na Babel weggevoer is. Hulle was nie té pessimisties oor die wegvoering nie, want die valse profete het hulle verseker dat hulle na twee jaar sal terugkeer. In Jerusalem het alles nog normaal gelyk, want ’n nakomeling van Dawid, Sedekia, was koning. In die stad het almal nog met hulle gewone lewe aangegaan en die tempel het gestaan en die offerdiens is onderhou. Hulle sou teruggaan, al moes hulle ’n rebellie teen die onderdrukkers in Babel voer, so het die valse profete hulle aangemoedig.

Jeremia kry berig van wat die gesindheid in Babel is en hy is hewig ontsteld oor die onrealistiese verwagting. Hy sê vir die ballinge en vir hulle valse profete wat God se woorde is. God sê: “Ék het julle weggevoer na Babel!” Die Here se manier van doen is dikwels vir ons met die eerste ervaring daarvan, vreemd en onverstaanbaar. Tog kan ons daaraan vashou dat Hy volkome in beheer van alles is, watter onaangename ervaringe ons ook al beleef.

Dieselfde God wat hulle weggevoer het, gee aan hulle ’n vaste belofte: “Ek sal presies oor 70 jaar vir Babel straf, julle onder my sorg neem en julle bymekaar maak en terugbring na julle vaderland.”

Die effek van Jeremia se brief is nie vertroostend nie, maar eintlik vernietigend vir die ballinge. Oor 70 jaar ... Nog 70 jaar hier! Die valse profete se boodskap is baie meer aanvaarbaar: oor 2 jaar! Dit kan nog, maar om te dink ek sien my ouers nooit weer, of my familie of my verloofde of my land of die tempel van die Here. Dan glo ek liewer die profete in Babel. Maar die Here leer dat die mense wat nou in Juda agtergebly het deur swaard, hongersnood en plae geteister sal word en ’n bespotting vir die volke sal wees. Hulle is soos slegte vye wat onbruikbaar is.

God weet wat Hy vir die ballinge beplan. Hy sê dit ook en in die “Ek weet wat Ek vir julle beplan”, word die “weet” baie sterk beklemtoon! Hy wil nie die ballinge seermaak nie, maar in die 70 jaar sy tug oor die volk uitoefen, ’n nuwe begin maak, hulle lei tot ware bekering. Daarom moet hulle vashou aan die hoop wat God gee. Hulle moet téén hoop óp hoop vertrou, soos wat Abraham dit gedoen het (oa toe hy op was om Isak te gaan offer). Sewentig jaar is kort in die oë van die Here, maar dit is die leeftyd van drie geslagte. Wie bly hoop en elke volgende geslag laat vashou aan die hoop, het ’n vaste punt van hoop. Die ballinge kan maar die tyd aftel: nog 40 jaar, nog 30, 20, 10, nog net vyf. Nou is dit die tyd! God sal hulle bymekaarmaak en terugbring op sy tyd. God bepaal die tyd waarop die hoop werklikheid sal word. Daar mag egter nie valse hoop wees nie.

Hoop is so belangrik vir die ballinge om te kan doen wat God hulle beveel.

God se beloftes is soos die saad van hoop wat klaar daar is, maar wat deur volharding moet groei en sterker word. Met die koms en sterwe en opstanding en hemelvaart van Christus het daar vir ons ook hoop aangebreek. Ons kan ook van 70 praat, maar dan nie letterlik nie. Tien en sewe was die volheidsgetalle in die Bybel en 10x7 is die tyd van volheid.

Ons hoop op die wederkoms is net so belangrik om te kan doen wat God ons beveel terwyl ons op aarde lewe. Hoop is om verseker te weet dat Christus wat reeds gekom het, wat sy belofte in die Ou Testament van die Messias wat sou kom, vervul het, dat hierdie Christus weer sal kom en alles nuut sal maak: Ons en die nuwe hemel en aarde. Wie nou voel hy/sy is in ballingskap mag vashou daaraan dat God verseker weet wanneer Hy sal kom om sy vyande te straf en ons by ons ewige bestemming uit te bring.

2.  Bevorder die belange van julle gemeenskap!
Terwyl die ballinge vashou aan die hoop, moet hulle die belange van die gemeenskap bevorder. Hulle moet dus die ballingskap aanvaar en nie net vol heimwee verlang na die ou dae nie.

Hulle moet bou en plant en kinders kry en vermeerder.

Hulle moet ’n gemeenskap bou wat na 70 jaar sterk in die geloof is, suiwer in hulle manier van lewe, en dan teruggaan na hulle eie land. By God werk dit dikwels so dat ’n geleentheid om ’n nuwe begin te maak, kan lei tot ’n sterk gemeenskap met vaste beginsels wat goed gemotiveer is. Toe die Israeliete Kanaän binnegegaan het, het hulle lande gekry wat reeds geploeg was, wingerde wat druiwe gedra het, olyflanings, huise wat klaar gebou was, maar hulle het hierdie gawes deur die eeue vertrap.

Nou moet hulle deur selfwerksaamheid ander karaktereienskappe ontwikkel. Hulle moet self plant en bou en so met die basiese dinge begin. God sal hulle beskerm en lei en selfs in die vreemde kan hulle, hulle huise aan Hom wy en die eerste vrugte van die oes aan Hom gee. Hulle kan kinders hê en ’n gesonde gemeenskap bou.

Die ballinge het merkwaardige vryheid gehad. Hulle kon vry beweeg, ’n normale lewe lei, behalwe dat hulle nie na Juda kon terugkeer nie. Hulle was die goeie vye! Deur hulle werk kan hulle die land van die Babiloniërs help herstel wat deur die lang oorlog teen die Assiriërs verwoes is. Die feit dat hulle kon trou, sonder dat hulle ouers (wat dalk agtergebly het) vir hulle vrouens gekies het, is simbool van hulle nuwe geleenthede wat hulle kan benut. Hulle kan ’n nuwe leefwyse begin!

Maar nie net plant en bou en kinders hê nie.

Hulle kan in die vreemde bid, en hulle móét bid vir die vrede en voorspoed van die stad. Dit is ’n absoluut merkwaardige opdrag en die enigste in die Ou Testament waar opdrag gegee word om vir vyande en ongelowiges te bid. In die Nuwe Testament beveel Jesus dit in die Bergrede, Paulus vra in Romeine 12:21: oorwin die kwaad deur die goeie (vgl ook Tit 3:1-3; 1 Pet 2:18). God bemoedig hulle om te bid en belowe Hy sal luister. Die volk het gedink God is nie in ’n vreemde land nie en jy kan Hom nie in die vreemde soek en tot Hom roep nie. Nou leer Jeremia hulle dat God grense deurbreek en dat die vreemde land nie noodwendig onrein is nie. As hulle die belange van die stad bevorder, is hulle tegelyk ook besig om hulle eie belange as nuwe geloofsgemeenskap te bevorder.

God se doel met die ballingskap was om hulle vir Hom af te sonder en sterk te maak, maar ook om hulle bloot te stel aan die vreemde om gevorm te word. Hulle kry daarby ’n missie om God se Koningskap in die vreemde te proklameer.

Wie hierdie opdrag uitvoer, ook in die omstandighede van vandag wat vir ons vreemd is, word bevry van selfbejammering en ’n passiewe gesindheid, negatief en nie lus om alles te gee nie. God gee aan hulle iets om voor te lewe, al weet hulle, hulle sal self nie lewend uit die ballingskap kom nie: hulle kan plant en bou en so entrepreneurs en ondernemers in die vreemde word. Hulle kan deur intensiewe voorbidding vir die heidense stad en die ongelowiges, hulleself geestelik verryk. As hulle die vestiging in Babel aanvaar, dan hou die Here sy verhouding met hulle in stand ten spyte daarvan dat hulle ver van die tempel en die heilige land af is.

Hulle kan bid, God soek en Hom vind.

Die klem verskuif van ’n formalistiese godsdiens na ’n intiem persoonlike verhouding met God. So leer hulle nuwe wyses van aanbidding om God in die Gees en in waarheid te aanbid.

Die wonder vir die opkomende geslagte is dat Jeremia hierdie beloftes op skrif gestel het. Sy brief kan bewaar word dwarsdeur die 70 jaar en elke keer weer moed aan die volgende geslagte gee.

Wat sê dit vir ons wat ná die koms van Christus lewe?

Die lyn van die geskiedenis loop so: Die ballinge het na ongeveer 70 jaar in die vreemde teruggekeer en in die stukkende land weer geplant en huise gebou, selfs die tempel herbou. Maar die bekering was van korte duur. In Maleagi se tyd is hulle maar weer die slegte vye.

Die ware tempel, die Christus Self, moes afgebreek word om te doen wat die ballingskap nie kon doen nie. Hy het met sy opstanding ware bevryding uit die ewige ballingskap van die dood gebring. Hy het selfs sover gegaan om elkeen wat in Hom glo saam met Hom uit die dood op te wek en saam met Hom laat opvaar na die hemel.

Maar Hy het ons nie onmiddellik ewig daar laat woon nie. Ons moes eers terug na die wêreld om ’n nuwe gemeenskap met Christus as Hoof te bou. Daarom is ek en jy hier, maar hierdie wêreld is nie ons woning nie. Ons het ’n lewende hoop dat ons òf by ons sterwe òf by die onverwagse wederkoms van Christus, onmiddellik by Hom sal wees.

Hierdie hoop moet ons vashou. Ons is nie bloot stof wat weer stof sal word nie. Ons het ’n ewige bestemming. Wie aan hierdie hoop nie vashou nie, sal in die grootste pessimisme en selfbejammering en verbittering verval.

Maar terwyl ons hierdie hoop vashou, moet ons die belange van ons samelewing bevorder. En ons het ’n ongemaklike samelewing. Dinge het drasties verander en ons worstel om te weet wat ons rol hierin is. Dalk is die misdaad- en verkragtingsberigte so neerdrukkend dat ons dink aan padgee uit hierdie land. Dan is die boodskap van Jeremia 29 steeds vir ons. Die Here se manier van doen is dikwels vir ons, wanneer ons dit op ’n nuwe manier ervaar, vreemd en onverstaanbaar, maar Hy is ook hierin altyd volkome in beheer.

Wat sê dit vir ons oor ons verblyf nou op hierdie plek? Twee dinge: Werk en hoop. Hou vas aan die hoop op Christus se koms en al die ander beloftes, veral die belofte dat die Heilige Gees ons sal lei. Maar bou en plant en bid en soek God en maak so jou aardse lewe vol betekenis.

·        Jongmense, God sal julle hier gebruik om entrepreneurs en kreatiewe denkers te wees, wat die belange van die hele land bevorder.
·        Ons hoogs bejaardes kan nog bid vir vrede en voorspoed, selfs vir wie hulle as God se vyande beskou. Hulle kan die boodskap van God se beloftes vir die volgende geslagte helder en duidelik oordra en so die volgende geslagte se hoop versterk.
·        Ons moenie net kritiseer nie, maar betrokke raak by die plekke waar daar geleenthede is, selfs by die plaaslike, provinsiale en landsregering.
·        Ons moet harder werk by ons werkplekke wat nou groter behoefte aan kreatiewe aksie en ondernemingskap het.

Want deur die belange van ons samelewing te bevorder, bevorder ons ook die belange van die kerk van Christus. Ons het immers die Heilige Gees om ons in alles te begelei. So kan ons meehelp om, waar land, werksplek en samelewing deur swak bestuur en korrupsie en ander faktore agteruitgegaan het, weer op te bou .

Hierdie nuwe begin, anders as waaraan ons gewoond was, sal tot versterking van ons persoonlike verhouding met die Here lei. Dit sal nuwe karaktereienskappe by ons ontwikkel en ons sal nie vassteek by heimwee na die verlede nie. Ons sal die kwaad deur die goeie oorwin.

Dit geld ook vir almal wat terminaal siek is: God laat daardeur sy krag, wat in ons swakheid werk, deurbreek en sigbaar word. En dit alles is nie soetsappige toesmeerstories nie. God het, soos met Jeremia se brief, dit alles vir ons in die Bybel gesaghebbend gegee.

Slot
God se beloftes is soos die saad van hoop wat klaar daar is. Hoe sterker ons vashou aan die sekerheid van sy wederkoms, hoe sekerder sal sy wederkoms vir ons nader kom. Terwyl ons vashou aan die hoop wat God gee, moet ons die belange van ons omgewing bevorder. Plant en bou en neem inisiatief en bid vir almal en soek die Here. Hy sal Hom laat vind!
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking