19 Januarie 2012

As Jesus Christus ons verhoudings beheer sal ons mekaar opbou en nie afbreek nie.


Skriflesing Kol. 3v18 tot 4v1 Teksverse Kol. 2 v 13 & 14



Lit 27 Nov 2011 RB
 Ps. 92 v 1 na die Votum
 Ps. 119 v 7 na die wet
 Ps. 84 v 3 na gebed
 Ps. 133 v 1 en 2 slotsang

Hoe lyk ons verhoudings? Verhoudings is een ding wat alle mense in gemeen het en dit is ons verhoudings wat bepaal of ons gelukkig is of nie. Die stand van ons verhoudings bepaal die kwaliteit van ons lewens. ’n Mens se gesindheid oefen ’n groot invloed op die sukses van verhoudings uit. As ek ’n kritiese en veroordelende ingesteldheid het, dan sal dit ook in my verhoudingslewe deurskemer. Daar is niks wat so afbrekend is in ’n verhouding as ’n ingesteldheid van dat my goedkeuring en liefde vir jou bepaal word deur jou vermoë om aan my standaarde te voldoen nie. In kort kom dit daarop neer dat jy eers vir my moet wys dat jy goed genoeg is vir my liefde en aanvaarding.

Dit is veral binne ons naby verhoudings hier binne in die huisgesin dat so ’n gesindheid groot skade kan aanrig. Die verhouding van man en vrou, en ouers tot hulle kinders. Die opdrag aan vrouens om aan hulle mans onderdanig te wees beteken nie dat die vrou die man se vloerlap moet wees nie. Dit beteken dat die vrou die man se rol en posisie moet respekteer en dat sy dit nie vir hom moet moeilik maak om sy rol in die gesin te vertolk nie. In Spreuke 25v24 hoor ons:
Liewer bo-op ’n dak woon as saam met ’n twisgierige vrou onder een dak.
’n Vrou wat heeltyd krities is teenoor haar man se doen en late kan die lewe vir hom hel maak.

Aan die ander kant moet die man ook nie sy magsposisie misbruik om sy vrou sleg te behandel nie. In die meeste gevalle in vandag se samelewing is die vrou nog steeds net so afhanklik van haar man as wat vrouens in die destydse samelewing was. Mans moenie so teenoor hulle vrouens optree dat hulle begin bitter word nie. Die man se opdrag is dat hy sy vrou moet liefhê. Dit beteken dat hy sy vrou se belange eerste moet stel. In Ef. 5v 25 hoor ons:
Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.
Broeders, is ons werklik bereid om ons lewens vir ons vrouens af te lê?

Kinders kry die opdrag om aan hulle ouers gehoorsaam te wees en aan die ander kant kry vaders die opdrag om nie heeltyd by kinders fout te soek sodat hulle moedeloos word nie. Die een ding wat kinders soek (en ons is almal kinders in hierdie opsig) is aanvaarding. Die grootste fout wat ons kan maak is om te dink dat ons net deur streng reëls waar ons op die hoogste standaard aandring en deur middel van konstante kritiek daardie standaard handhaaf liefde kan gee. Dit beteken nie dat daar nie huisreëls moet wees nie. Dit gaan daaroor oor hoe dit toegepas word. Ons liefde vir ons kinders moenie bepaal word deur hulle vermoë om reëls te gehoorsaam nie.

In ons moderne samelewing het ons nou wel nie meer slawe nie, maar tog is daar in ons teks sinvolle beginsels in die voorskrifte wat vir die slawe van destyds van toepassing was. Die dilemma vir slawe en eienaars het ingekom waar eienaars en slawe Christene geword het. Slawe is oor die algemeen net as besittings beskou en nou is hulle en hulle eienaars broers in Christus. Die beginsel wat hier na vore kom is dat ons, ons werk so moet doen asof ons dit vir die Here doen. In elke beroep waarin ons staan, is ons deur die Here daargestel en daarom moet ons, ons werk ook eerbaar doen. Die ander beginsel wat na vore kom is dat mense wat in ’n toesighoudende posisie staan billik moet optree teenoor die mense wat onder sy toesig staan. Die implikasie is dat ons teenoor ons ondergeskiktes moet optree soos wat ons verwag die Here teenoor ons moet optree.

Die probleem is egter dat ons dikwels in ons verhoudings baie krities en veroordelend optree en ons is aan beide die uitdeel en ontvang kant van kritiek en veroordeling in ons verhoudings. Die rede waarom dit so is, is omdat ons verhouding met die Here deur sonde versteur is. Ons diepste vrees is die vrees dat ons nie goed genoeg is nie. Dit is daardie vrees dat as ons geweeg gaan word en dat ons te lig bevind sal word en dit word ten diepste gedryf deur die sonde besef hier diep binne in ons. Wanneer ons aan die ontvangkant is in ’n verhouding wat deur kritiek en oordeel gedryf word kwyn ons naderhand weg, want maak nie saak hoe hard jy probeer nie, op die uiteinde is dit net nie goed genoeg nie. Daarom dat mens dikwels vind dat mense steeds bly vasklou in ’n verhouding waar die een party in die grond in vertrap word. Dit is daardie soeke na aanvaarding. As ek net nog so ’n bietjie gewig kan verloor sal my man of kêrel vir my lief wees. As ek net probeer om beter punte te kry sal my ma of pa vir my lief wees. Die probleem is dat ons naderhand moed opgee en of heeltemal wegkwyn of aan die anderkant heeltemal in rebelsheid reageer.

Ons skuldgevoel oor ons eie onbevoegdheid dryf ons egter ook dikwels om aan die uitdeelkant van oordeel en kritiek in ons verhoudings te wees. Dit kom daaruit oor hoe ons die Here in ons lewe ervaar. As ons nie die genade van God verstaan nie sal ons God as veroordelend ervaar en dan sal dit ook in ons verhouding met mense so deurskemer. As ons in ons verhouding met die Here heeltyd probeer om sy genade te verdien met goeie gedrag sal dit ook in ons verhoudings met die mense om ons deurskemer. As ons by daardie punt gekom het dat ons teen God se gesag rebelleer sal dit ook in ons verhoudings deurskemer. Dit is eers wanneer ons God se genade wat Hy deur Jesus Christus se soenverdienste aan die kruis vir ons gegee het verstaan en ervaar dat ons werklik verlos kan word van die slawebande van ’n veroordelende en kritiese gesindheid.

In Kol. 2v13 & 14 hoor ons:
13Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. 14Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.
Dit is eers wanneer ons verstaan dat Jesus Christus al ons skuld weggeneem het, dat ons bevry word van ’n veroordelende of rebelse gesindheid. Want dan is ek nie meer in beheer nie, maar Jesus Christus is in beheer van my lewe. Wanneer Jesus Christus in beheer is van my lewe sal sy liefde ook in my lewe en in my verhoudings begin deurskemer.

In Spreuke 4v23 sê die Here vir ons:
Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.
As my hart vol oordeel en kritiek is, word my lewe deur oordeel en kritiek gekenmerk. As my hart egter vol van liefde is, sal my lewe deur liefde gekenmerk word. In 1 Joh. 4v19 sê die Here vir ons dat ons kan liefhê omdat God ons eerste liefgehad het. God se liefde vir ons beteken dat Hy die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak het, deur dit aan die kruis te spyker. Daardeur het Hy dit vir goed weggeneem.

Hou met die geloof wat die Heilige Gees vir ons gee vas aan God se genade in die soenverdienste van Jesus Christus. Laat Jesus Christus ons verhoudings beheer, dan sal ons mekaar opbou en nie afbreek nie.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking