15
Jan. 2012
Mat 27 v 45 - 66 Teksverse
Mat 27 v 46 & 50
Sing Lofsang:
Ps. 18 v 1 & 2 (OAB)
Na
wet: Ps. 31 v 1 (OAB)
Na
gebed : Ps. 33 v 11 (OAB)
Slotsang : Ps. 147 v 1 & 2 (OAB)
SONDAG 16 Heidelbergse Kategismus
40
Vraag: Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom
tot in die dood toe verneder het?
Antwoord: Weens die
geregtigheid en waarheid van God (a) kon nie anders as deur die dood van die
Seun van God vir ons sondes betaal word nie (b).
(a) Gen 2:17. (b) Rom 8:3, 4; Heb 2:14, 15.
41
Vraag: Waarom is Hy begrawe?
Antwoord: Om daarmee
die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het (a).
(a) Hand 13:29; Matt 27:59, 60; Luk 23:53;
Joh 19:38.
42
Vraag: As Christus dan vir ons gesterf het, waarom
moet ons ook nog sterwe?
Antwoord: Ons dood
is nie 'n betaling vir ons sondes nie (a), maar slegs 'n afsterwe van die
sondes en 'n deurgang tot die ewige lewe (b).
(a) Mark 8:37; Ps 49:8.
(b) Fil 1:23; Joh 5:24; Rom 7:24.
43
Vraag: Watter nut verkry ons nog verder uit die
offer en dood van Christus aan die kruis?
Antwoord: Deur sy
krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe (a). Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer
oor ons heers nie, (b) maar kan ons onsself as 'n dankoffer aan Hom toewy (c).
(a) Rom 6:6. (b) Rom 6:6, 12. (c) Rom 12:1.
44
Vraag: Waarom volg daar: en neergedaal het na die hel?
Antwoord: Sodat ek
in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat
my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (a). Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy
onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat Hy ook aan sy siel deur sy
hele lewe, maar veral aan die kruis gely het.
(a) Jes 53:5. (b) Ps 18:5, 6; 116:3;
Matt 26:38; 27:46 Heb 5:7
Inleiding
“Eli, Eli, lemá
sabagtani?” Dis die hulproep van Godverlatenheid. My God, my God, waarom het U
my verlaat! Het u al gevoel of God u verlaat het? Sien u die prentjie van
Christus se bange uitroep, “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Daar waar Hy aan die
kruis hang. Die fisiese pyn wat Hy ervaar het was niks in vergelyking met die
Godverlatenheid wat Hy ervaar het nie. Nadat Christus sy laaste asem uitgeblaas
het, het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur.
Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. Grafte het oopgegaan,
en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, en hulle het uit hulle grafte
uitgegaan.
Kan u uself indink wat
daardie dag gebeur het. Ons het nog so ’n idee van Christus se fisiese lyding,
maar ons sal nooit werklik weet wat dit beteken om deur God verlaat te word
nie. Altans elkeen wat bely dat Jesus Christus die Seun van God is wat vir ons
sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf, sal nooit werklik weet wat dit beteken
om deur God verlaat te word nie. Wanneer ons bely dat Christus die angste van
die hel tot die dood toe ondergaan het, bely ons dat ons nooit sal nodig hê om
daardie Godverlatenheid te ervaar nie.
In Sondag 16 is daar twee
hoofgedagtes wat in ons belydenis na vore kom. Die eerste is Christus sterf in
ons plek sodat ons dood net ’n deurgang is na die ewige lewe (vrg en antw
40-43) en die tweede is Christus ly helse angs en pyn om ons daarvan te verlos
(vrg en antwoord 44).
In die eerste plek dan wat
beteken ons belydenis dat:
Christus sterf in ons plek sodat ons dood net ’n deurgang is na die ewige lewe (vrg. en antw. 40-43)
In Mat. 27 v 50 hoor ons:
Jesus
het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
Wat beteken dit werklik
vir ons? Maak dit regtig saak of Jesus gesterf het of nie? Geliefdes, die
Christelike geloof staan of val by Jesus se sterwe en opstanding! Jesus hét
gesterf. Sy begrafenis is die versekering, die bewys, dat Hy werklik gesterf
het. Jesus se sterwe hou vir ons ’n wonderlike troos in. Dit is waarmee
Christene mekaar troos wanneer hulle voor ’n oop graf staan, want vir ’n
Christen is die liggaamlike dood nie die einde nie. Dit is die Christelike hoop
waaraan ons vashou. Die dood hou vir ons geen verskrikking meer in nie.
Ons dood is geen betaling
nie, maar ’n afsterwing en ’n deurgang. Ons leef nog in ’n wêreld wat deur
sonde geteister word. Ons voel dit daagliks aan die lyf. Ons word nog kwaad.
Ons vertel soms nog leuens. Ons voer ’n ewige stryd met sonde in ons lewens en
ons ly nog as gevolg van ons eie sondige keuses en die sondige keuses van mense
om ons. Christus se dood hou vir ons die troos in dat ons van hierdie gevolge
van die sonde verlos gaan word. In die nuwe Jerusalem sondig ons as gelowiges
nie meer nie.
Daar is dit finaal en vir
altyd en volkome verby met ons sondes en ons sondige geaardheid. Dit beteken
dat ons nie meer aan die lyding van misdaad blootgestel gaan wees nie. Dit
beteken dat ons kwaadwillige geneigdheid waarteen ons so moet stry in hierdie
lewe, nie meer daar gaan wees nie. Christus se dood beteken ook dat ons in
hierdie lewe teen die sonde kan stry en ook oorwin. Dit beteken dat ek nie
tevergeefs teen die sonde stry nie.
Hierdie belydenis van ons
begin prakties iets beteken wanneer ons met die dood gekonfronteer word. Dit
gee vir ons die vrede wanneer ons met ons eie sterflikheid gekonfronteer word.
Geliefdes wanneer mens die dood in die oë staar is dit ’n wonderlike troos om
aan vas te hou. Dit gee ook vir ons die troos dat ons nie moedeloos hoef te
word met ons stryd teen die sonde nie.
In die tweede plek
Christus ly helse angs en pyn om ons daarvan te verlos (vrg. en antw. 44)
Het u al ooit in die lewe
gevoel dat almal u in die steek gelaat het? Het dit al ooit vir u gevoel of u
nie weet watter kant toe nie. In ons belydenis dat Christus die angste van die
hel tot die dood toe ondergaan, lê ’n onuitspreeklike troos. Dit is die anker
waaraan ons vashou wanneer alles rondom ons ineenstort. Wanneer dit vir ons
voel of die lewe sy rug op ons gedraai het, dan is dit die troos waaraan ons
moet vashou.
In ons kategismus bely ons
dat ons Here Jesus onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking gely het. In
Mat 27 v 46 hoor ons hoe Jesus se smarte en angste ’n hoogtepunt bereik:
Teen
drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God,
my God, waarom het U My verlaat?
Hiermee verseker Jesus ons
dat ons nooit daardie doodsbenoudheid hoef te verduur nie.
Wat beteken dit prakties
vir ons? In die kategismus bely ons: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge
verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my
van die hel se benoudheid en pyn verlos het.” Dit beteken dat wanneer dit vir
ons voel of die lewe sy rug op ons gedraai het dat ons nie alleen staan nie.
Mense kan ons in die steek laat, maar God sal ons nooit in die steek laat nie.
Hierdie belydenis van ons word so mooi bevestig in Rom. 8 v 35-39:
35 Wie kan ons van die
liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of
naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe: “Dit is
oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel
word.” 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur
Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe
of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39
of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde
van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Dis die wonderlike troos en
betekenis van Jesus Christus se lyde en sterwe. Mense kan ons in die steek
laat, hulle kan alles van ons wegvat, selfs ons lewe, maar hulle kan ons nie
uit die hand van God ruk nie.
slot
Ons vat saam. Ons
belydenis in Sondag 16 oor die sterwe en begrafnis van Jesus Christus beteken
vir ons dat ons nie vir die dood hoef bang te wees nie omdat ons liggaamlike
dood slegs ’n deurgang is na die ewige heerlikheid saam met God.
Christus het deur sy hele
lewe op aarde helse smart en pyn gely wat ’n hoogtepunt op die kruis bereik het
toe Hy in Godverlatenheid uitgeroep het “My God, My God waarom het U My
verlaat?” Hy het dit vir ons gedoen sodat ons verseker kan wees dat ons nooit
deur God verlaat sal word nie. Alles kan van my af weggeneem word, selfs my
lewe, maar niks of niemand kan my uit God se hand ruk nie.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking