19 Januarie 2012

God is getrou aan sy verbond, daarom is daar vir ons hoop in ’n toekoms wat donker lyk

Geloftediens 16 Des 2011
Teks: Pred. 4v17 - 5v6; Ef. 3v14 – 20. 
Teksvers Pred. 5v3

Liturgie
na Votum Ps. 9 v 1 & 7  (OAB)
Slotsang Ps. 68 v 1 (OAB)
173 jaar gelede het ons voorvaders ’n gelofte teenoor die Here afgelê. Daarmee het hulle ’n verpligting op ons geplaas omdat daardie gelofte onder andere gemeld het dat: “ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte” Alhoewel daar sommige van ons volkgenote is wat daarteen rebelleer, bly ons gebonde aan daardie gelofte. Die Here waarsku ons dat ons versigtig moet wees wanneer ons ’n vrywillige gelofte teenoor Hom aflê soos ons hoor in Pred. 5v3:
As jy aan God ’n gelofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie. Hy hou nie van ligsinnige mense nie. Wat jy beloof het, moet jy betaal.
Op ’n ander plek in Deut. 23V21-23 sê die Here:
21“Wanneer jy ’n gelofte aflê teenoor die Here jou God, moet jy nie traag wees om dit na te kom nie, anders sal die Here jou God jou tot verantwoording roep en sal jy skuldig wees. 22 Wanneer jy nie ’n gelofte aflê nie, sal jy nie skuldig wees nie, 23 maar as jy vrywillig ’n gelofte teenoor die Here jou God aflê, moet jy versigtig wees met wat jy sê en moet jy die gelofte nakom.

Die vraag is nou of ons daardie gelofte wat afgelê is nakom? Voordat ons dit kan doen moet ons net eers kortliks weer gaan kyk presies wat die gelofte behels en wat daartoe aanleiding gegee het. Wat het aanleiding tot die gelofte gegee?

Die Voortrekkers in Natal het totale uitwissing in die gesig gestaar. Dit het met hulle bitter ellendig gegaan.
•     In Febr. 1838 is Piet Retief en sy afvaardiging
       op ʼn verraderlike wyse deur Dingaan by sy kraal vermoor.
•     Kort daarna volg die gruwel massamoorde
       teen die hange van die Drakensberge: Moordspruit, Bloukrans, Weenen.
•     In April het Piet Uys en sy seun Dirkie in ’n mislukte vergeldingspoging by Italeni gesneuwel
•     Om sake te vererger trek Andries Potgieter terug na Transvaal
•     In Aug./Sept. seëvier die doodsengel weer eens toe ’n maselepidemie die reeds moedelose en verswakte Voortrekkers nog verder uitgedun het.
•     Die kroon op hulle ellende was toe die 41 jarige Gerrit Maritz op 23 Sept. aan die Klein Tugela sterf.

Die Voortrekkers was nou uitgedun, leierloos, moedeloos – ja, weerloos uitgelewer. Hulle het vir hulself geen toekoms meer in die vooruitsig gestel nie. In sy voorsienigheid beskik God dat die bekwame Andries Pretorius twee maande later (in Nov.) hom by die Voortrekkers in Natal aansluit. Binne enkele dae het hy op baie bedrewe wyse die hele situasie daar in Natal opgesom en besluit dat daar nie anders kan as om in geloof teen Dingaan op te tree nie.

Dit word vertel dat toe die boere kommando opgeruk het na die vesting van Dingaan, Sarel Cilliers en Andries Pretorius volgens gewoonte alleen vooruit gery het. Dit was volgens oorlewering by dié geleentheid terwyl hulle oor die gevare en probleme van hul onderneming en die geweldige getalle oormag van die vyand gepraat het, dat Sarel Cilliers aan die generaal voorgestel het dat hulle ’n gelofte voor die Here God moet aflê – hulle moet hul krag van Hom alleen soek.
Op die aand van 7 Des 1838 is die gelofte die 1ste maal afgelê in die vorm van ’n erediens onder leiding van Sarel Cilliers. Die gelofte kan kortliks soos volg uiteengesit word:

Die voorneme om ’n gelofte te doen:

"Hier staan ons voor die heilige GOD van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen

Voorwaarde

dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee,

Belofte

1) ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n Sabbat sal deurbring,
2) en dat ons 'n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag,
3) en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte

Doel:- om aan God alleen die eer te gee

want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan hom te gee."

Die gelofte is daarna elke aand herhaal en op Sondag 16 Des 1838 het God die onmoontlike moontlik gemaak. Minder as 500 Boere kommandolede het ’n oormag van meer as 10 000 Zoeloe krygers verslaan. Nie een van die boeremagte is gedood nie en slegs ’n paar het ligte snywonde opgedoen. God het aan die noodroep van sy kinders gehoor gegee en Hy het hulle beskerm en die vyand in hul hand gegee. Hiermee is egter ’n verpligting op die nageslag van die verbondmakers geplaas.

Wat is die verpligting wat op ons as die nageslag geplaas is? In kort dat ons moet herdenk dat die Here in ’n tyd van nood vir ons voorvaders uitkoms gegee het en dat ons dit aan die volgende geslag moet oordra sodat die Here se Naam daardeur geëer kan word. Nou kom ons weer by die vraag wat ons in die begin gevra het, het ons die verpligting van die gelofte nagekom? As ons doodeerlik moet wees dan moet ons sê “NEE”. Dit is eers na 1910 dat 16 Des. as ’n nasionale gedenkdag ingestel is. Tot watter mate het ons werklik aan ons kinders oorgedra hoe God vir ons voorvaders in tyd van nood gesorg het? Tot watter mate getuig ons lewens daarvan dat ons net van God afhanklik is om vir ons te sorg? Gee ons met dit wat ons doen en sê die eer aan God alleen? Nee geliefdes, ons lewens getuig eerder van rebelse opstand teenoor God!

Toe Sarel Cilliers daardie gelofte in die week voor die slag van Bloedrivier teenoor die Here afgelê het, het die Here geweet dat ons nie 100% getrou gaan wees aan die beloftes wat gemaak is nie. Ten spyte daarvan het Hy nog steeds in sy groot genade gehoor gegee aan die pleidooi van die Voortrekkers, want Hy het lank reeds van sy kant af ’n ewige verbond met sy uitverkore kinders aangegaan waarin Hy sy ewige trou beloof het. Alhoewel ons nie getrou die beloftes kan nakom wat ons teenoor die Here maak nie, is daar Een wat wel 100% getrou in alles is en was. In Heb. 3v1 & 2:
Daarom, broers wat vir die Here afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping, moet julle noukeurig let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof wat ons bely. Hy is getrou aan God wat Hom aangestel het
Watter troos kan ons daaruit put? Toe die toekoms vir ons voorvaders donker gelyk het na die moord op Retief, Andries Potgieter wat na Transvaal teruggetrek het en die dood van Maritz het hulle, hulle krag in die Here en in sy groot mag gesoek (Ef. 6v10). Hulle het deur die Heilige Gees krag ontvang om innerlik sterk te word. (Efesiërs 3:16). Christus het deur die geloof in hulle harte gewoon en hulle was in sy liefde gegrondves. (Efesiërs 3:17). Hulle was in staat om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus gestrek het! (Efesiërs 3:18).

Hier is baie dinge wat die toekoms vir ons ook donker laat lyk. Die ekonomie wat maar net nie op dreef wil kom nie. Die dreigemente van ons plase wat deur herverdeling van grond afgevat kan word. Regstellende aksie wat ons en ons kinders van loopbaangeleenthede ontneem. Die golf misdaad en korrupsie wat so oor ons spoel. Ons kan en ons moet net soos ons voorvaders ons krag in die Here en in sy groot mag soek. Ons kan dit alleen doen wanneer ons deur die Heilige Gees krag ontvang om innerlik sterk te wees. Ons kan dit alleen doen wanneer Christus deur die geloof in ons harte woon en wanneer ons in sy liefde gegrondves is. Dit is eers wanneer ons Christus soek vir wie Hy is en nie omdat hy net nuttig is vir die seëninge wat Hy gee nie. Dit is eers wanneer ons Christus onweerstaanbaar vind net vir wie Hy is dat ons werklik op God kan vertrou.

In wese behels die gelofte dat ons, ons kinders van God se troue verbondliefde leer. God is getrou aan sy verbond, daarom is daar vir ons hoop in ’n toekoms wat donker lyk.
Amen



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking