19 Januarie 2012

Christus verander die donker wanhoop in ons lewe na lig en hoop


Skriflesing:   Jes. 8v19 – 9v7 Teksvers Jes. 9v1
Liturgie  11 Des. 2011
na Votum Ps. 66 v 1  (OAB)
Na Wet Ps. 32 v 1 (OAB)
Na gebed Ps. 86 v 6  (OAB)
Slotsang Ps. 103 v 1 (OAB)

Die jaar is besig om ten einde te snel en Kersfees lê om die draai. Dit is daardie tyd van die jaar dat ons almal besig is om voor te berei vir die vakansie en daar is so ’n gevoel van feestelikheid in die lug. Dit is ’n tyd dat ons daarna uitsien om weer saam met ons geliefdes deur te bring. Vir baie mense is dit egter ook ’n tyd van eensaamheid en is dit ook so dat die aantal selfmoorde in hierdie tyd van die jaar toeneem. Hierdie tyd van die jaar is inderdaad ’n donker tyd vir baie mense. Kersfeestyd is nie vir almal altyd so vreugdevol soos wat ons gewoonlik dink nie. Dalk is dit omdat my kinders ver is of dalk is dit die eerste Kersfees wat ek sonder my geliefde moet deurbring. Daar is baie dinge in die lewe wat dit vir ons donker maak.

In ons teks sien ons dat Israel ook ’n donker tyd beleef het. In die tyd van Jesaja het Koning Tiglat-Pelser van Assirië reeds die Noordelike deel van Israel in Ballingskap weggevoer. Die gebiede Sebulon en Naftalie in die Noorde daar by die meer van Galilea was van die eerste gebiede wat deur Assirië oorval is. Die Israeliete wat in Ballingskap weggevoer was, het inderdaad donker tye beleef.

In Jes. 9v1 hoor ons egter dat daar hoop is vir Israel:
Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn.
Die profeet is so seker daarvan dat hy die verlede tyd praat asof dit reeds gebeur het. Israel sien net donkerte om hulle. Hulle land is verwoes. Hulle is ver van Jerusalem af en hulle het nie meer ’n tempel nie. Dit voel vir hulle of hulle heeltemal van God verwyder is. In Jes. 7v14 en 8v8 het die profeet reeds aan hulle die belofte van Immanuel gegee, God met ons. Nou gebruik die profeet die beeld van lig om die volk te bemoedig sodat hulle, hulle nie moet blindstaar teen die huidige donker omstandighede nie. Daar is hoop!

Verder gebruik hy nog twee beelde om vir die volk hoop te gee binne hulle huidige donker omstandighede. Eers gebruik hy die beeld van vreugde tydens oestyd en ook die blydskap van soldate wanneer die veldtog verby is en hulle die buit verdeel soos ons in Jes. 9v2-4 hoor. Die resultaat is dat alle vyandighede teen die volk van God gestaak gaan word.

In Jes. 9v5 hoor ons die rede vir die hoop waarvan die profeet praat:
Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee;
Weereens stel die profeet dit in die verlede tyd om die absolute sekerheid aan te dui dat dit wel gaan gebeur. Alhoewel Jesaja nie die woord Messias gebruik nie, verwys hy hier na ’n Koning wat uit die geslag van Dawid sal kom wat deur God aangestel is en wat as verlosser van sy volk sal optree soos die Here aan Dawid belowe het in 2 Sam. 7. Die Hebreeuse woord wat gebruik word om na so ’n koning te verwys is Messias terwyl die Griekse woord Christus is. In Afrikaans gebruik ons beide Messias en Christus. Hier is dus ’n belofte van ’n Koning wat ’n ewige vrederyk tot stand gaan bring.

Die kroning van die Messiaskoning word vir ons hier beskryf. Uit Psalm 2 weet ons dat ’n nuwe koning by sy kroning as seun van God aangeneem word en dat hy by dié geleentheid ’n nuwe naam kry. Dit presies dit wat vir ons hier in Jes. 9v2-5 beskryf word. Eers bely die volk: “vir ons is ’n Seun gebore, en aan ons is ’n Seun gegee” en dit verwys na die Messiaskoning wat die troon bestyg. Nou heers hy en by sy troonbestyging kry hy vier name wat sy heerskappy beskryf:
·        Wonderbare Raadsman - hy sal geen raad van ander nodig hê nie, want God is sy raadsman.
·        Magtige God – die Messiaskoning is God se direkte verteenwoordiger op aarde. Wie hom sien, sien as’t ware vir God.
·        Ewige Vader – soos dit ’n koning betaam is hy vir sy onderdane ’n vader wat voortdurend vir hulle sorg.
·        Vredevors – onder sy heerskappy sal daar harmonie wees sodat elke mens ongehinderd vir God kan dien.

In Mat. 4v12 – 16 hoor ons hoe hierdie profesie in Jesus Christus vervul is:
12 Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na Galilea toe gegaan. 13 Hy het nie in Nasaret gaan bly nie, maar Hom gaan vestig in Kapernaum by die see, in die gebied van Sebulon en Naftali. 14 So moes vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is:
15“Jy, gebied van Sebulon en gebied van Naftali, aan die seekant en oorkant die Jordaan, Galilea waar die heidene woon! 16 Die volk wat in duisternis woon, het ’n groot lig gesien; hulle wat in die skemerland van die dood lewe, vir hulle het die lig opgegaan.”

Watter troos hou hierdie profesie van ’n Messiaskoning wat 2000 jaar gelede gebore is vir ons in wat haastig op is na die einde van 2011? Vir elke donker oomblik in ons lewens is daar die hoop van Lig wat die duisternis sal verdryf. Ons is so geneig om tydens Kerstyd in die rooi Kersvaders wat ho ho ho sê vas te kyk. Hoe dikwels kyk ons net in die blink liggies en die reklame van Kerstyd vas en dan is ons verbaas omdat daar soveel donkerte in hierdie tyd is.
In Jes. 8v19 hoor ons:
Mense sê julle moet mediums en spiritiste raadpleeg wat fluister en mompel, maar moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie? Waarom sou ’n mens dooies in belang van lewendes raadpleeg?
As ons op die dooie dinge van hierdie wêreld vertrou dan sal daar in ons lewens ook niks anders as benoudheid en donkerte nie wees nie. Met Kersfees sê die Here vir ons ook: in die land waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie, want Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.

Geliefdes ons sien ook saam met Israel uit na ’n Koninkryk waar daar ewige vrede sal heers. Ons hou vas aan die belofte van die woonplek van God wat nou by die mense sal wees. Hy sal by ons bly; ons sal sy volke wees, en God self sal by ons wees as ons God. Hy sal al die trane van ons oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”
(Open 21v3&4)
.

Geliefdes moenie in hierdie feestyd u vreugde in die dooie dinge van die wêreld soek nie. Daar is net een ware bron van vrede soos die Here ook in .Fil. 4:6 & 7 vir ons bevestig:
6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
Hou vas aan die troos en vrede wat daar net by Jesus Christus te vinde is want Christus verander die donker wanhoop in ons lewe na lig en hoop.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking