Liturgie 13 Nov. 2011
na Votum Ps. 100 v 1 & 4 (OAB)
Na Wet Ps. 25 v 1 & 5 (OAB)
Na gebed Ps. 40 v 4 (OAB)
Slotsang Ps. 146 v 1 & 3 (OAB)
Inleiding
Waar kry ons krag vandaan om
enduit vol te hou in hierdie lewe? Daar kom tye in mens se lewe wat ons
moedeloos raak. Die lewe raak net te veel en dan sien ek nie meer kans om aan
te gaan nie. Ek stoei met siekte, finansies, die toekoms lyk vir my donker. Dit
lyk of alles besig is om agteruit te gaan en ek weet nie of daar vir my en my
kinders nog ’n toekoms in die land is nie. Die ergste is wanneer ek begin moeg
raak in my geloofslewe. Ek voel nie meer lus om Bybel te lees nie. Daar gaan
dae, selfs weke om dat ek nie bid nie en as wel die dag bid dan voel dit vir my
leeg en sinneloos. Ek twyfel of God nog werklik vir my omgee.
In Hebreërs 12 v 1-3 gebruik die
Here ’n wedloop as voorbeeld om vir ons te leer waar om krag vandaan te kry
wanneer die lewe te veel word. Die wedloop wat hier beskryf word is nie maar
net ’n gewone wedloop by ’n atletiek byeenkoms nie. Dit is nie ’n 100 m resies
wat vinnig agter die blad is nie. Ons sou dit veel eerder met ’n Comrades
maraton kon vergelyk. ’n Gewone maraton is 42 km lank. Die Comrades is twee
keer so ver, ongeveer 90 km lank en dit staan bekend as ’n ultra maraton. Met
’n ultra maraton gaan dit nie soos met ’n gewone wedloop daaroor oor wie wen
nie. Dit is in elk geval net ’n paar uitgesoekte atlete wat die vermoë het om
’n Comrades maraton te wen. Vir die res gaan dit eerder of jy die uithou vermoë
het om die wedloop te voltooi. Kan ek vir 90 km hardloop om die eindpunt te
haal? Dit is hoe die lewe is. Kan ek enduit volhou in hierdie lewe?
Waar kry ons krag vandaan om
enduit vol te hou in hierdie lewe? In Heb. 12 verduidelik die Here vir ons waar
ek krag kan kry om enduit vol te hou in die lewe. Om dit te verduidelik gebruik
Hy die voorbeeld van ’n wedloop. Om ’n antwoord te kry op die vraag moet ons
kyk na die wenners. Wenners in hierdie sin beteken diegene wat die wedloop
voltooi het. Dan moet ons kyk na onsself en vir die antwoord moet ons kyk na
Jesus Christus. In kort sê die Here vir ons: “Volhard in geloof deur jou oë te
vestig op Jesus Christus.”
In die
eerste plek, kyk na die wenners.
In Heb. 12v1 verwys die Here na ’n
groot skare geloofsgetuies. Letterlik staan daar ’n groot wolk van
geloofsgetuies. Die Griekse metafoor wat hier gebruik is verwys na ’n skare
toeskouers wat in ’n atletiek stadion sit en wat soos een massa opstaan om die
atlete aan te moedig. Hierdie toeskouers is die mense wat alreeds die
geloofswedloop voltooi het en ons hoor van hulle in Hebreërs 11. Abel wat ’n
beter offer as Kain gebring het. Henog wat in die hemel opgeneem is sonder om
te sterf. Noag, Abraham, Isak, Jakob, Josef, Moses, die Israeliete wat
droogvoets deur die dooie see gegaan het. Ragab die prostituut by Jerigo, Die
rigters Gideon, Barak, Simson en Jefta. Dawid, Samuel en die profete en al die
ander geloofshelde waarvan die name nie genoem word nie. Hulle het almal die
wedloop van die lewe voltooi.
Dit is belangrik dat ons kennis
moet neem dat hierdie mense wat as voorbeelde vir ons voorgehou word nie
perfekte mense was nie. Dit wat uitgelig word is hulle geloof en vertroue in
die Here en Hy hulle deur al moeilike tye gedra het. Dit is geloof wat hulle
deur gedra het en dit is wat die Here vir ons sê. As Ek hulle deur die lewe
gedra het, hoekom sal ek julle nie dra nie? Geloof beteken dat ons glo dat God
ons ook deur die lewe en al sy moeilikhede sal dra net soos Hy al die
geloofshelde van die verlede deur die lewe gedra het.
In die
tweede plek, kyk na jouself.
In Heb. 12v1b se die Here vir ons:
laat ons elke las
van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die
wedloop wat vir ons voorlê, met volharding
hardloop
Hier moet ons so bietjie na
onsself kyk om te bepaal wat dit is wat ons doen wat die lewe vir ons moeilik
maak. ’n Atleet wat aan ’n wedloop deelneem gaan tog nie ’n sak vol swaar
klippe saamdra nie, veral nie as daardie wedloop 90 km ver is nie! Wat is
hierdie klippe wat ons saam met ons dra deur die lewe? klippe soos byvoorbeeld
sorge, bekommernisse, swaarmoedigheid en moedeloosheid. klippe soos om ’n
obsessie oor geld te hê of om jouself te haat omdat jy volgens jou mening nie
mooi genoeg, slim genoeg of sterk genoeg is nie. klippe soos om op jouself
gefokus te wees om net jouself raak te sien. ’n Kritiese gesindheid waar ek net
die slegte in ander mense raaksien en net dit wat goed is in my eie lewe. Dan
kla ek omdat niemand van my hou nie en hoe swaar dit is. Verkeerde vriende wat
’n swak invloed in my lewe het en my op ’n pad van verderf lei om maar enkele
voorbeelde te noem. Hierdie dinge hang nou saam met sonde wat ons so maklik
verstrik. Dit gaan nie veel sin maak om ’n lys te maak van hierdie sondes nie,
want mens kan so maklik een of twee uitlaat of selfs sondes noem wat nie
eintlik in hierdie omstandighede en tyd van toepassing is nie. Met so ’n lys
verwys ons net na die simptome van sonde. Die eintlike wortel van sonde is
ongeloof. In wese is ongeloof ’n gebrek aan vertroue in God. In kort moet ons
gaan kyk wat dit in ons lewe is wat die lewe vir ons swaarder maak as wat nodig
is. Daarmee saam moet ons, ons ongeloof dit wil sê die gebrek in vertroue aan
God se sorg wat so dikwels in ons lewens na vore kom agterlaat.
Die vraag is nou hoe kry ons reg
om te glo dat God ons sal help net soos Hy die geloofshelde van die Bybel en
die tallose ander wat ons nie eens van weet nie, gehelp het. Hoe kry ons reg om
daardie twyfel in God se sorg wat ons so verlam, neer te lê? Hoe kry ons reg om
daardie sondes in ons lewens wat soos ’n swaar ysterbol met ’n ketting aan ons
vasgemaak is, agterwee te laat. Hoe kom ons los van die dinge wat ons terughou
in die lewe?
Ons moet
na Jesus kyk!
In Heb. 12v1b en 2a sê die Here
vir ons:
laat ons die
wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus,
die Begin en Voleinder van die geloof.
Jesus is die begin en die einde
van ons geloof. Ter wille van ons het Hy die kruis verduur sonder om vir die
skande daarvan terug te deins. Ons Here het vir ons die Nagmaal gegee om ons
geloof sterk te maak. Net soos wat brood en wyn ons liggame voed, voed God deur
sy Gees ons geloof wanneer ons Nagmaal gebruik. Die eindpunt van die wedloop
waarmee ons besig is, is Jesus Christus. Ons geloof in Jesus Christus gee vir
ons die krag om enduit te volhard. Dit help ons om nie geestelik moeg te raak
en uit te sak nie. Kom laat ons nou met die gebruik van Nagmaal volhard in
geloof en daardeur ons oë te vestig op Jesus Christus.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking