19 Januarie 2012

Met die lig van God se Woord kan ons 2012 met vertroue aanpak


8 Jan. 2012 

Skriflesing Psalm 119:105-112; 
Teksvers Ps. 119 v 105

Sing  Lofsang:     Ps. 119 v 1 & 2 (OAB)
        Na wet:  Ps. 119 v 11 (OAB)
        Na gebed      Ps. 119 v 26 (OAB)
        Slotsang Ps. 119 v 39 & 52 (OAB)

As ons so terugkyk na 2011 dan sien ons dat dit ’n vol jaar was waarin ons vreugdes beleef het. Die Here was vir ons goed, maar tog was daar tye wat ons angstig en bang was. Daar was tye dat ons bedroef was. Tye wat ons moedeloos was. Wat van daardie tyd toe ons so bekommerd was of die keer toe ons onseker was en selfs begin twyfel het? Deur die loop van die jaar het daar met elkeen van ons baie dinge gebeur en sommige daarvan was baie lekker terwyl ander weer minder lekker was.

Nou kyk ons vorentoe na 2012 en ons wonder wat gaan hierdie jaar vir ons inhou? Daar sal verseker dinge wees wat ons baie bly en dankbaar sal maak, maar daar gaan ook tye wees wat ons bang en benoud gaan wees. Daar gaan tye kom wanneer ons in versoeking gaan staan en tye wanneer ons dalk selfs kan begin twyfel aan ons geloof. Ons gaan behoefte hê aan bemoediging en of aan leiding. Daar gaan tye wees wanneer ons onseker is en daar gaan tye wees wat ons sommer net moeg en moedeloos gaan wees. Die ergste van alles is dat ons nie weet wanneer dit gaan gebeur nie. Dit is maar hoe die lewe is, een oomblik gaan dit baie goed met ons en ons het niks om ons oor te bekommer nie. Dan binne enkele oomblikke word ons lewe radikaal verander.

Waar kry ons sekerheid in so ’n onsekere wêreld? Hoe pak ons ’n toekoms aan waar ons nie eers seker is van die volgende tree nie? Met die lig van God se Woord kan ons 2012 met vertroue aanpak! In ons teksvers (Ps. 119v105) hoor ons:
U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.

Psalm 119 is ’n unieke Psalm waar elke agt opeenvolgende reëls met ’n letter van die Hebreeuse alfabet begin. In die OAV is dit duidelik gemerk. Psalm 119 is ook die langste hoofstuk in die Bybel met 176 versreëls, agt versreëls vir elke letter van die Hebreeuse alfabet. So ’n Psalm staan as ’n akrostigon bekend. Psalm 145 is nog ’n voorbeeld van so ’n Psalm, maar hier is daar net een versreël vir elke alfabet letter. Hierdie formaat is destyds gebruik om dit makliker te maak om die Psalm te onthou aangesien geskrewe tekste baie skaars was. Omdat die alfabet die struktuur van die Psalm bepaal is daar nie altyd ’n logiese opbou van verse nie. Ons teksgedeelte verse 105 tot 112 is dan ook die gedeelte wat met die Hebreeuse Noen begin wat soortgelyk aan die N klank in ons alfabet is.

In Psalm 119 is daar deurgaans 3 rolspelers betrokke. Eerstens is daar die gelowiges in die persoon van die Psalmdigter (die Bybel sê nie vir ons wie hy was nie). Hy verteenwoordig ook medegelowiges na wie hy as “vriende” verwys. Tweedens is daar die vyande van die gelowiges wat hulle spot en op allerlei maniere vervolg. Derdens is daar die Here met wie die gelowiges ’n persoonlike verhouding het. Hierdie drie partye word deur die wet van die Here saamgebind. Die wet verwys hier na meer as net die tien gebooie. Dit verwys inderdaad na al die bepalings wat die Here vir ons gee wat dan inderdaad na die Woord van die Here verwys. Uit die Woord van die Here kan ons bepaal wat is die Here se Wil in ons lewens.

In ’n sekere sin beskryf hierdie Psalm ons lewenspad hier op aarde. Ons as gelowiges se verhouding met die Here, maar tog is daar allerlei vyande wat ons bedreig. Sentraal binne hierdie driehoek is die Here se geopenbaarde wil (sy Ewige Woord) in ons lewens. In die Bybel leer ons hoe ons in verhouding met die Here moet lewe en ook hoe ons die krisisse volgens God se wil moet hanteer. Inderdaad is dit wat die Psalmdigter verklaar in ons teksgedeelte. Die Here se Woord is die lig wat vir hom die pad wys wat hy moet loop. Hy verklaar plegtig dat hy volgens die Woord van die Here wil leef (vers 106). Verder roep hy ook tot die Here om hulp wanneer sy vyande hom bedreig (vers 107) en daar vra hy dat die Here hom sal leer om volgens sy bepalings te leef (vers 108) sodat hy in die lewe kan bly. Sy enigste erfdeel is immers die inhoud van God se Woord en daarin vind hy sy vreugde.

Die vraag is nou geliefdes: “kan ons, ons vereenselwig met die Psalmdigter van Psalm 119? Vind ons ook ons vreugde in die Here se Woord? Gaan soek ons antwoorde daarin wanneer ons “vyande” dit wil sê ons probleme in die lewe vir ons te veel word? Gebruik ons die Woord van die Here om die pad vir ons te verlig wanneer ons deur donker skaduwees moet reis op ons lewenspad?” As ons eerlik wil wees moet ons sê, nee! My natuurlike sondige geaardheid het die geneigdheid om my van God en sy gebod te laat wegdraai. Ek wil eerder my eie pad in die lewe loop. Ons kan inderdaad saam met Paulus sug (Rom. 7v18):
Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie.

En so sit ons met dieselfde ellende wat Paulus ook ervaar het soos ons hoor in Rom. 7v24:
Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?
Genadiglik gee die Here self vir ons die antwoord in sy Woord (Rom. 7v25):
Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.
Wanneer Jesus Christus deel is van my lewe dan kan ek met die Woord van die Here as lig selfs in die donker tye en plekke van die lewe met vreugde reis. Jesus Christus maak dit moontlik dat ek aan God se genade kan vashou, veral wanneer dit swaar gaan in my lewe.

Hoe gebruik ek die Woord van die Here as ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad? Ek moet tyd maak in my lewe om na die Here te luister deur besig te wees met sy Woord. Hoeveel van ons besit meer as een Bybel wat maar net stof vergader daar op ’n rak? Dit is eers wanneer Jesus Christus ’n werklikheid in my lewe word, dat ek deur die Heilige Gees aangevuur word om te luister na God se stem uit sy Woord. Luister na die triomf waarmee Paulus uitroep: “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.” As ons 2012 met vertroue wil aanpak, dan sal ons dit slegs kan doen wanneer Jesus Christus deel is van ons lewens.

Hier volg nou ’n paar praktiese voorbeelde van hoe die Woord van die Here ’n lamp vir ons voet en ’n lig vir ons pad kan wees. Eerstens wanneer dit goed gaan met my en ek dankbaar is. As die Here en sy Woord nie deel daarvan is nie, dan verander selfs ons vreugdes in donkerte! Dankbaarheid : lees Ps. 136; Luk 17:11 – 19. Angstig: Psalm 46; Jak. 5:7-11; Bang: Jes. 43:1-5; Mar. 4: 35-41; Bedroef : 2 Kor. 4:16 -5:5; Joh. 14; Behoefte aan bemoediging: Rom. 15:1-6; Heb. 12v1-3; Eensaam: Ps. 22:42; Joh. 13:15-21; Siek of in pyn: Ps. 6; 2 Kor. 12:7-10; Vermoeid: Jes. 40:21-31; Mat 11:25-30.
Dit is maar net enkele voorbeelde van hoe die Woord van die Here prakties in ons lewens inslag vind. Die uitdaging is dat ons self in die Woord van die Here gaan antwoorde soek. Die Bybelgenootskap gee vir ons baie goeie hulpmiddels waarvan ons enkeles in ons nuusbrief vandag saamgee.

U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Laat dit ons leuse wees waarmee ons die lewenspad van 2012 met vertroue aanpak!
Amen.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking