10 Februarie 2012

Keer terug na die ewige waarheid van Jesus Christus se verlossing waar ons rus sal vind


5 Feb. 2012 (RB) Jer. 6; teksvers Jer. 6:16

Sing    Lofsang: Ps. 9 v 1 & 7       (OAB)
           Na wet:              Ps. 34 v 1 & 6     (OAB)
           Na gebed Ps. 30 v 1            (OAB)
           Slotsang  Ps. 66 v 7            (OAB)

Inleiding

Die jaar is besig om spoed op te tel. Januarie is verby en die jaar is aan die gang met al sy bedrywighede. Ons raak soms so besig met ons dag tot dag bedrywighede dat ons nie regtig tyd maak om te besin waarmee ons besig is nie. Het dit waarmee ek besig is ewigheidswaarde of het dit net tydelike waarde? Is ek nog op koers na my ewige bestemming toe of het ek êrens ’n afdraai paadjie gevat wat my wegneem van my ewige bestemming af? Is ons as kerk nog op die regte pad? As ons nie in ons persoonlike lewe op die regte pad is nie, dan kan ons ook nie as kerk op die regte pad wees nie, want ons is die kerk. My persoonlike lewe bepaal waarheen die kerk op pad is.

Israel het ook ’n verkeerde afdraai paadjie gevat.

Israel as Ou Testamentiese kerk het ook ’n afdraai paadjie gevat wat hulle na ’n verkeerde bestemming gelei het soos ons hoor in Jer. 6. In vers 6 hoor ons dat verdrukking in Jerusalem aan die orde van die dag is. In vers 7 hoor ons dat geweld en vernietiging hoogty vier. Ten spyte daarvan dat die Here sy profeet Jeremia gestuur het om hulle te waarsku wou hulle nie hoor nie soos ons hoor in Jer. 6v10:
Hulle ore is doof, hulle is nie in staat om te hoor nie. Hulle praat smalend oor die woord van die Here, dit kan hulle nie skeel nie.
In Jer. 6 v 13-15 hoor ons:
13 Almal, klein en groot, wil hulleself net verryk, almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog. 14 Hulle het ’n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net: “Alles is reg! Alles is reg!” Maar niks is reg nie. 15 Wanneer hulle aan die kaak gestel word oor die gruwelike dinge wat hulle gedoen het, skaam hulle, hulle nie eens nie, hulle weet nie van skaamte nie.

Die Here se opdrag om selfondersoek te doen

In Jer. 6 v 16 hoor ons hierdie dringende oproep van die Here aan sy volk, dit wil sê sy kerk in vandag se terme:
So sê die Here: Staan by die kruispaaie en kyk, en vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is en loop dit, dan sal julle rus vind.

Die eerste opdrag wat die Here hier aan sy volk gee is: Staan by die kruispaaie en kyk,” Die Here gebruik hier die beeldspraak van ’n reisiger wat op pad is en wat nou bietjie gaan stilstaan om te kyk waarvandaan hy gekom het en waarheen hy op pad is. Die Here wil hê dat sy volk moet insien dat hulle op ’n verkeerde pad is en dat hulle ’n koersaanpassing moet maak weg van die sondige pad waarop hulle nou is.

Die Here het hierdie gedeelte in sy lewende Woord laat opteken, want daarmee gee Hy ook aan sy kerk vandag hierdie selfde opdrag: “Staan by die kruispaaie en kyk” As ons so bietjie gaan stilstaan en kyk, dan is daar ’n paar goed wat ons bekommerd behoort te maak. Die eerste is dat die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika stadig maar seker besig is om dood te gaan! As ons na die statistieke gaan kyk, dan het ons belydende lidmate die afgelope twintig jaar met bykans 10% gedaal. Dit klink dalk nie so erg nie, maar as ons na die voerbron van die kerk kyk, ons dooplidmate dan sien ons die skokkende syfer dat ons dooplidmate in dieselfde tyd met bykans 60% gedaal het! Teenoor dit het ons by die pas afgelope sinode gehoor van ons broers en susters in Suid Amerika waar die kerke met Gereformeerde belydenis by ’n miljoen lidmate sterk is en waar hulle groei teen ’n tempo van ongeveer 300 kerke per jaar.

Ons kan baie redes uitdink oor hoekom dit so is, maar is die grootste rede nie omdat ons as kerk ’n verkeerde afdraaipaadjie gevat het nie? Is ons as kerk steeds besig om die Here se opdrag uit te voer soos Hy dit in Mat. 28 v 19 vir ons gegee het?
Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Keer terug na die waarheid toe.

In ons teksvers Jer. 6v16 is die tweede opdrag wat die Here hier aan sy volk gee:
vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is en loop dit
Ons kan maklik hierdie opdrag misverstaan omdat daar in die vertaling so ietsie van die oorspronklike taal verlore gegaan het. Ons kan maklik uit die Afrikaanse vertaling verstaan dat ons moet terugkeer na ons ou tradisies, maar dit is nie wat daar staan nie. Letterlik staan daar: “vra na die ewige paaie.” Die Hebreeuse woord wat hier met ou paaie vertaal is, beteken letterlik ewigdurend met die verwysing na ’n onbeperkte tydsduur met ’n fokus op die toekoms. Die opdrag is dus dat ons moet vra: “wat het ewigheidswaarde?” Die beste pad, is daardie pad wat fokus op ewigheidswaarde.

Saam met hierdie opdrag gee die Here ook ’n belofte “dan sal julle rus vind.” In Mat. 11 v 28 herhaal Jesus hierdie belofte:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”
Ons kan alleen rus by God vind in Jesus Christus se verlossing. Dit is die evangelie, die goeie nuus wat ons as kerk van die Here moet uitdra. Die pad met ewigheidswaarde is daar waar die evangelie brandend in my lewe is. Ons kan alleen rus by die Here vind as ons op die pad is wat ewigheidswaarde in Jesus Christus het. Dit is eers as hierdie goeie nuus lewend is in my eie lewe dat ek op die regte pad is.

Is dit nie miskien die rede waarom ons nie aan die Here se opdrag gehoorsaam is nie, omdat die evangelie nie meer brandend in my lewe is nie? In Hand 1 v 8a hoor ons duidelik dat ons alleen die opdrag van die Here kan uitvoer as ons dit deur die krag van die Heilige Gees doen:
Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
Is ons nie besig om die Gees te blus en bedroef met ons eie selfsug en ons fokus op die tydelike nie? Is dit nie dalk die rede waarom die krag van die Heilige Gees nie meer werklik is in ons lewens is nie?

Ons teksvers sluit met ’n baie hartseer stelling af:
Maar hulle het gesê: “Ons sal nie daardie pad loop nie.”
Die gevolg van hulle hardkoppigheid was dat hulle in ballingskap weggevoer is waar hulle as slawe vir die Babiloniërs moes gaan werk. Is dit waarheen ons op pad is? Is die rede waarom ons nie werklik by die roeping van kerkwees uitkom omdat ons ’n verkeerde begrip het van wat dit beteken om kerk van die Here te wees nie? In die prediking hierdie jaar gaan die fokus dan ook wees op wat dit beteken om werklik kerk van die Here te wees.

Daar is maar net een manier waarop ons die evangelie weer brandend in ons lewens kan kry, deur te vra na die pad met ewigheidswaarde, naamlik Jesus Christus se verlossing in my lewe.

Slot

Die Here se opdrag is: Staan by die kruispaaie en kyk,” Daarmee sê die Here vir ons dat ons indringende selfondersoek moet gaan doen sodat ons ook ’n koersverandering kan ondergaan om op die regte pad te kom. Verder sê die Here ook vir ons:vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is en loop dit” Hiermee sê die Here vir ons dat ons moet fokus op dit wat ewigheidswaarde het, naamlik Jesus Christus se verlossing in my lewe. As ek dit doen dan sal die belofte van rus ook in my lewe ’n werklikheid word. Geliefdes, kom ons keer terug na die ewige waarheid van Jesus Christus se verlossing waar ons rus sal vind.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking