12 Februarie 2012

Om waarlik kerk van die Here te wees hou vir ons groot waarde in


12 Feb. 2012 (RB) Ef. 1; teksverse Ef. 1:22 & 23

Sing    Lofsang: Ps. 146 v 1 , 2 & 8       (OAB)
           Na wet:    Ps. 19 v 4 & 5               (OAB)
           Na gebed Ps. 89 v 1 & 2              (OAB)
           Slotsang  Sb. 1-1 v 1 , 2 & 7        (Sb 24 swart Psalmboek)

Inleiding

Besef u wat dit beteken om waarlik kerk van die Here te wees? ’n Verkeerde verstaan van kerkwees bring mee dat ons nie werklik die krag van die Here in ons lewens ervaar nie. Dan mis ons die lewensvreugde om waarlik saam met God te wandel en dan kry die lewe ons maklik onder wanneer die moeilike tye in ons lewe verbykom. As ons ’n verkeerde kerkbegrip het dan is dit ook vir ons ’n sware las en ’n moeite om kerk van die Here te wees terwyl dit vir ons ’n vreugde en ’n seën is om werklik kerk van die Here te wees. Dan besef ons dat om werklik kerk van die Here te wees vir ons groot waarde inhou.

Die Here leer ons wat dit beteken om waarlik kerk van die Here te wees. Ons gaan eerstens luister hoe die Here vir ons vertel wie en wat die kerk is en daarna wat dit vir ons beteken om waarlik kerk van die Here te wees.

Wie en wat is die kerk?

Om te verstaan wie en wat die kerk is gaan ons eers kyk na wat die kerk nie is nie en daarna luister na wie en wat die kerk werklik is.

Wat is die kerk van die Here nie
Ons kry so maklik ’n verkeerde idee van wie en wat die kerk van die Here is. Ons weet dat die kerk nie hierdie gebou is waarin Sondae bymekaarkom nie, want ons die lidmate is die kerk. Tog dink ons so dikwels nog steeds verkeerd oor die kerk. Ons dink so maklik dat die kerk ’n organisasie is waarby ons as lede aansluit soos byvoorbeeld ’n klub waar ’n sekere stokperdjie beoefen word. Hoe werk so ’n organisasie? Jy besluit self of jy lid daarvan wil wees of nie en verder besluit jy ook self tot watter mate jy betrokke gaan wees. Gaan ek net ’n gewone lid wees wat so dan en wan byeenkomste en vergaderings bywoon, of gaan ek baie betrokke wees en elke geleentheid bywoon en selfs op die bestuur van die klub dien?

Wat is die gevolge as ek so oor die kerk van ons Here dink? Dan draai dit net om my en my grille en giere. Ek sien die kerk as ’n instansie wat my moet vermaak. Dan verwag ek dat dienste deel (ons kan nie hier van erediens praat nie, want dit gaan nie oor die eer van die Here nie, maar wel oor my) van daardie vermaak moet wees. Ek betaal mos my lidmaatgeld (my maandelikse bydra)! Ek verdien dus waarde vir my geld! Ek kom kerk toe as ’n toeskouer en ek besluit wanneer wil ek die genot van ’n diens beleef. As ek die Sondag nie lus voel nie dan kom ek nie na die diens toe nie. Die diens is net nog een van die aktiwiteite in my lewe wat saam met al die ander aktiwiteite moet meeding vir my tyd en aandag en daarom skuif ek maklik die diens op sy. Eintlik gaan dit nie om erediens nie, maar wel vermaaklikheidsdiens.

Wanneer ek wel ’n diens bywoon, dan woon ek dit net as toeskouer by en ek verwag dat ek bedien moet word. Die manier hoe die diens moet verloop, moet aan my smaak voldoen. Hier kan dit na twee kante toe uitval. Aan die een kant bly ek vasklou aan ou tradisies en gebruike wat ek al tot beginsels verhef het en ek verwag dat almal volgens my smaak en oordeel moet inval. Aan die ander kant verwag ek dat alles verander moet word en dat die diens radikaal anders moet wees selfs tot so ’n mate dat woordverkondiging maar afgeskeep kan word. Dit maak ook verder dat ek maklik besluit om te loop as dinge nie na my smaak is nie. As die predikant of ouderling durf om my aan te spreek oor een of ander aangeleentheid, dan loop ek.

Ek besluit self tot watter mate ek betrokke is by die kerk. Gewoonlik is daardie betrokkenheid beperk tot een of twee Sondae per maand. Verder wil ek nie in die week met kerklike dinge gepla word nie. Die sogenaamde Sondag Christen waar ek bloot ’n toeskouer is wat glad nie verder by die kerk betrokke wil wees nie. Die predikant en die kerkraad is mos daar om te sien dat dinge aan die gang bly. In baie gevalle is my naam net op die kerk se lidmaatregister, maar ek is nie aktief betrokke by die kerk nie.

In kort kom hierdie siening daarop neer dat ek self besluit of ek deel van die kerk wil wees en dat dit net oor my en my behoeftes gaan. Die gevolg is dat kerkwees vir my ’n moeite is en dat ek die vreugde van ware kerkwees in my lewe mis.

Wie en wat is die kerk van die Here werklik
Teenoor hierdie verkeerde idee leer die Here ons hier in die brief aan die Efesiërs wie en wat die kerk van Here die werklik is. Die brief aan die Efesiërs word dan ook beskryf as die brief oor die kerk. Die Griekse woord wat in die Bybel met kerk vertaal is beteken letterlik “die uitgeroepenes”. Hierdie woord word in die Bybel ook net ten opsigte van gelowiges wat in God glo gebruik en nooit om enige ander groep mense of geloofsoortuiging aan te dui nie. Dit is duidelik dat die Bybel die woord net gebruik om mense aan te dui wat deur God uitverkies is. In Ef. 1 v 4 & 5 word die betekenis van kerk dan ook duidelik uitgespel:
4 So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5 In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.

Wie is die persone wat deur God uitgeroep is, dit wil sê kerk van die Here is? Almal van ons wat waarlik glo dat Jesus Christus vir ons sondes aan die kruis gesterf en ook weer uit die dood opgestaan het soos die Here vir ons sê in Ef. 1 v 11:
“Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem. Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.
Geliefdes, besef u wat staan in hierdie gedeeltes? Hier staan dat dit nie ons besluit is om deel van die volk van die Here (sy kerk) te wees nie.  Wanneer ons in Hom glo, ís ons deel van sy kerk!  Ons het nie 'n keuse om deel van die kerk te wees of nie. Ek is ʼn lidmaat van sy kerk. Die Here gebruik hier die beeld van ’n liggaam om die verhouding tussen Jesus en sy kerk vir ons te verduidelik soos ons hoor in ons teksverse Ef. 1 v 22 & 23:
22 Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23 Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

Die woord lidmaat is net ʼn verbuigde vorm van die woord ledemaat. As jy glo dan is jy ’n lidmaat, dit wil sê ’n ledemaat van Christus se liggaam hier op aarde. As jy glo, dan is jy hande voete, oë en ore van Christus hier op aarde! Daar is net een baas in hierdie kerk, naamlik Jesus Christus. Verder is ons almal lidmate wat elkeen geroep is om ’n spesifieke taak in hierdie gemeente te verrig. Almal staan gelyk in hierdie diens en daarom is die predikant of die kerkraad nie bokant die gewone lidmate verhef nie. Elkeen het sy werk net soos wat hande, voete, oë en ore elkeen ’n spesifieke taak het. As een van die ledemate nie die taak verrig waarvoor hy of sy geroep is nie, dan ly almal daaronder.

Dit is ook nie toevallig dat ons lidmate is van die Gereformeerde kerk Reddersburg is nie, want by God is daar geen toeval nie. God het reeds voordat die aarde nog geskep was dit al besluit dat ons op hierdie tydstip lidmaat van hierdie kerk sal wees en daarom het Hy ons ook uitgeroep. Ons het nou nie ’n keuse nie, maar die plig en verantwoordelikheid om saam met ander gelowiges kerk van die Here te wees. Die feit dat ons nou hier is, is bevestiging dat die Here ons geroep het om hier kerk van die Here te wees.

Die verskil tussen ware kerkwees en verkeerde kerkwees beteken dat God my gekies het en dat ek aktief moet meewerk in die kerk van die Here omdat ek Christus se hande, voete oë en ore hier op aarde is. Teenoor dit is ’n verkeerde kerkbegrip dat ek besluit en dat ek bedien moet word in plaas van dat ek die een is wat dien. Wanneer ons waarlik kerk van die Here is, dan is kerkwees nie meer vir my ’n moeite en ’n las nie, maar ’n vreugde en vertroosting.

Wat beteken dit vir ons om waarlik kerk te wees?

Dit beteken dat ek ’n brandende begeerte het wat die Heilige Gees vir my gee om deel van die kerk te wees en dat ek tydens die eredienste deur die prediking en ook deur persoonlike Bybelstudie Jesus Christus waarlik sal leer ken. Dan sal ek die eredienste sien as ’n geleentheid waar ek God persoonlik ontmoet en waar ek ook sy seën ontvang. Die eredienste sal dan ook ’n prioriteit wees in my lewe en dan sal ek ook daarna uitsien om in antwoord op die Woord van God Hom te kom loof en prys vir die wonderlike genade wat Hy in Christus vrylik aan my geskenk het soos ons hoor in Ef. 1 v 6 & 12.

As ek nie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie, dan sal die krag van die Heilige Gees ook in my lewe ’n werklikheid word. Dan sal ek ook ervaar hoe God my dra deur die lewe en hoe Hy my seën met al sy ryke seëninge. Dan sal ek nie bang wees vir die moeilike tye in my lewe nie omdat ek bewustelik sal weet dat God elke dag deel van my lewe is. Dan sal ek werklik die liefde van God in my lewe ervaar en sal ek ook die vreugde ervaar om daardie liefde uit te deel. Dan sal ek werklik weet watter hoop hierdie roeping van God vir my inhou en dan sal ek ook die brandende begeerte hê om my broers en susters wat weggeraak het weer te gaan opsoek omdat ek besef wat se leegheid daar in ’n mens is om sonder God en die geloofsgemeenskap van sy kerk te leef. Dit is elkeen van ons se plig om hulle wat weggeraak het en wie eintlik net ’n inskrywing op ons lidmaatregister is weer in liefde te gaan opsoek. Dan sal daar die brandende begeerte in ons wees om ook hulle te gaan haal wie se name nog nie in ons gemeente se lidmaatregister opgeteken is nie, maar wat tog deur God uitgeroep is.

Geliefdes kom ons bid dat die Here ons werklik die waarde sal laat besef van wat dit beteken om waarlik kerk van die Here te wees en nadat ons gebid het, kom ons wees waarlik kerk van die Here.
Amen

Gebed
Ons troue Hemelse Vader, ons wil U loof en prys want aan U kom al die lof toe. Ons val in eerbetoon voor U neer en ons buig en kniel voor die HERE ons Skepper. U is ons God en ons is U kudde, U skape wat deur U hand versorg word. Ons sê dankie vir U groot genade dat U deur U Gees vir ons die Geloof gee en dat U ons voor die grondlegging van die aarde In Christus Jesus uitverkies het om U kinders te wees. Dankie vir U liefde wat U so mildelik oor ons uitstort.

Ten spyte van U liefde verval ons so dikwels in sonde sodat ons nie raaksien hoe groot U krag is wat in ons werk nie. Ons handhaaf so dikwels ons eie siening van kerkwees waarmee ons net ons eie selfsugtige begeertes wil bevredig en daarmee dan nie u troos en vreugde in ons lewens ervaar nie.

Ons bely vanoggend saam met die Psalmdigter: “Wie sien sy eie dwalings? Moet ons tog nie straf vir sondes wat ons onwetend gedoen het nie. Weerhou ons van opsetlike sondes sodat dit nie oor ons heers nie. Dit is slegs met U hulp dat ons onberispelik en vry van hierdie groot sondes sal wees.”

Ons bid dat U ons sondes in Jesus Christus vergewe en ook dat ons liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling sodat ons die dinge kan onderskei waarop dit werklik aankom sodat ons op die dag wanneer Christus weer kom, onberispelik en sonder blaam sal wees en dat ons deur Jesus Christus geheel en al in die regte verhouding met God kan leef tot sy lof en eer alleen.

Ons nader vanoggend in gebed tot U wat God die Vader van ons Here Jesus Christus is en ons vra dat U deur U Gees aan ons die wysheid sal gee en U so aan ons openbaar dat ons U werklik sal ken. Ons bid dat U ons geestesoë so sal verhelder dat ons kan weet watter hoop U roeping vir ons inhou en ook watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat U vir ons bestem het. Help ons om te weet hoe geweldig groot U krag is wat U uitoefen in ons wat glo. Help ons om te verstaan dat dit dieselfde kragtige werking van U mag is wat U uitgeoefen het toe U Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan U regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom.

Ons erken en bely dat U alles aan Christus onderwerp het, dat U Hom bo alles verhef het en dat ons as kerk sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking