Son 18 Nov. 2018 GKE
2 Kor. 13 v 1 – 13 Teksvers 2 Kor. 13 v 5
Sb. 12-3 v 1 & 2
Ps. 119-1 v 3
Ps. 25-2 v 1 & 2
Ps. 119-2 v 1 & 27
Wat is die een ding in jou lewe wat
belangriker is as enige iets anders? Wat is dit wat absoluut onontbeerlik is?
Dit is dat God in jou lewe moet wees. Dat jy met God versoen moet wees en dat
God in beheer van jou lewe moet wees, want as jy nie met God versoen is nie,
staar die ewige verdoemenis jou in die gesig.
Dit is net ware geloof wat jou met God
kan versoen. Daarom is dit belangrik dat jy moet stry vir ware geloof, want as
jou geloof nie ware geloof is nie, kan jy nie met God versoen word nie. Ware
geloof is die Evangelie van Jesus Christus. Dit is ook belangrik dat nadat jy met
God versoen is om Hom beter te leer ken en daarom moet jy groei in geloof.
Jy moet ook jou geloof toets om seker
te maak dat jy op die regte pad bly, want as jy op die verkeerde pad is, dan
stuur jy op ʼn ramp af. In sy briewe aan die gemeente in Korinte waarsku Paulus
hulle om terug te draai van ʼn verkeerde pad waarop hulle beland het.
Alhoewel hierdie brief as 2 Korintiërs
bekend staan is daar goeie aanduiding uit die brief self dat dit nie die tweede
brief is wat Paulus aan die Korintiërs geskryf het nie. Ons hoor in Handelinge
18 dat Paulus die gemeente in Korinte gestig het en nadat hy daarvandaan weg is
het hy berig ontvang van sekere probleme in die gemeente. 1 Korintiërs is die
brief wat Paulus aan die gemeente geskryf het om daardie probleme aan te
spreek.
Daar was egter heelwat mense in die
gemeente wat dit wat Paulus in sy brief geskryf het, verwerp het. Hulle het
inderdaad Paulus se gesag verwerp. Daarna het Paulus weer die gemeente besoek,
maar dit was nie ʼn goeie besoek nie. Soos ons in 2 Kor. 2:1 hoor het die besoek
op droefheid uitgeloop. Na hierdie besoek het Paulus sy “tranebrief” aan hulle
geskryf soos ons hoor in 2 Kor. 1:3-4 en 7:8-12 waarna die meeste van die mense
wat teen Paulus was hul fout besef het en weer met hom versoen.
Paulus skryf die brief wat ons as 2 Korintiërs
ken om die gemeente te verseker van sy liefde en toewyding aan hulle. In
hoofstukke 1 tot 7 versterk hy sy versoening met hulle en verseker hy hulle dat
hy hulle vergewe het en dat hy nog steeds lief is vir hulle. In hoofstukke 8 en
9 herinner Paulus hulle om geld te spaar vir hulp aan die gemeente in Jerusalem
wat in armoede verval het. In hoofstukke 10 tot 13 daag hy diegene uit wat nog steeds
teen hom gekant is.
Nadat Paulus weg is by die gemeente
weg is, het daar ander leiers gekom wat volgens die Korintiërs meer indrukwekkend
was. In vergelyking met Paulus was hulle ryk en indrukwekkende leiers wat baie
welsprekend was teenoor Paulus wat arm was, sy lewe dmv handearbeid verdien
het. Hy het baie gely en was dikwels haweloos. Verder was hy ook glad nie
welsprekend nie. Derhalwe het hulle minder van Paulus gedink en hulself eintlik
vir hom geskaam.
Diegene wat teen Paulus was het sy
apostelskap bevraagteken en selfs sover gegaan om aanbevelingsbriewe te eis wat
sy apostelskap sou bevestig. Nou in hierdie slotgedeelte van die brief verhang
Paulus die bordjies. Hy daag hulle uit om hulself te beproef eerder as om
heeltyd die vinger na hom toe te wys. Hy roep hul op om die egtheid van hulle
verlossing te ondersoek eerder as om die egtheid van Paulus se apostelskap te
bevraagteken soos ons hoor in 2 Kor. 13:5
Stel julle self op die proef en ondersoek julleself
of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in
julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie.
Hierdie persone was so selfvoldaan dat
hulle nie raakgesien het hoe ver hulle van God was nie. Om seker te maak dat
ons nie ook so selfvoldaan is soos daardie persone wat teen Paulus was nie, is
dit belangrik dat ons hierdie oproep tot selfondersoek ter harte neem. In 1 Kor.
10:12 waarsku Paulus die gemeente:
Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie
val nie.
Dit is ʼn waarskuwing wat ons ook ter
harte moet neem.
Voor Nagmaal moet ons selfondersoek
doen, maar dit mag nie net tot Nagmaalsvoorbereiding beperk word nie. Dit is iets
wat jy aanhoudend moet doen sodat jy kan groei in die geloof en al hoe nader
aan God beweeg sodat jy volwasse kan word in jou geloof. Toets jou geloof, want
as jou geloof nie die toets deurstaan nie is die gevolge ondenkbaar. Stel
jouself op die proef om die ware stand van jou geloof te bepaal deur dit aan ʼn toets
te onderwerp. Die proef waarmee jy jouself moet toets is: “ondersoek julleself of julle in die geloof lewe”.
Hoe doen jy hierdie ondersoek? Vra
jouself af of
ü
jy vas en seker glo dat jy in lewe en in sterwe aan Jesus
Christus behoort wat jou met sy bloed van die ewige verdoemenis losgekoop het? Verdiep
jouself in God se genade en dink weer na oor sy liefde en alles wat Jesus vir
jou opgeoffer het.
ü
jy jou hele lewe as ʼn getroue dienaar aan God toewy?
ü
jy jouself verloën en buig voor sy wil?
ü
jy met alles wat in jou is stry teen die sonde?
ü
jy ʼn absolute verlange het om ewig saam met God te
wees?
Paulus vra dan verder: “Besef julle dan nie self dat Christus Jesus
in julle is nie?” Met ander woorde, is Christus se teenwoordigheid in jou
lewe sigbaar? Sien mense die vrug van die Gees, nl. liefde in my lewe raak?
Word my lewe gekenmerk deur vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid,
goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing? As Christus nie in
my lewe sigbaar is nie het ek nie die toets deurstaan nie.
As ons eerlik is, hoe dikwels is die
praktyke van ons sondige natuur eerder nog in ons lewens sigbaar? Hoe dikwels
kom vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns in
my lewe na vore? Dit is juis dit wat so kenmerkend was in die lewens van
diegene wat so gekant was teen Paulus.
Paulus wys ook die valsheid uit van ʼn rede
wat dikwels gegee word om sonde te regverdig. in 2 Kor. 13:7b hoor ons:
Ons wil hê dat júlle die goeie doen, selfs al sou dit
lyk asof ons die toets nie deurstaan het nie.
Hoe dikwels gebeur dit nie dat ons sê,
“maar almal doen dit of julle doen dit, daarom is daar nie ʼn probleem as ons
dit doen nie? Iemand anders se sondige optrede is nie regverdiging dat jyself
ook sonde doen nie.
Maar hoe nou gemaak as ek sien dat ek
nie die toets deurstaan nie? Christus en sy liefde kan alleen sigbaar in my
lewe wees wanneer Christus in my is. Christus kan alleen deur geloof in die
evangelie in my wees. Dit is alleen moontlik deur die Heilige Gees en daarom
moet ek bly bid vir die Gees, bly bid dat die Heilige Gees vir my wys waar in my
lewe ek nie die toets deurstaan nie. Bid dat die Heilige Gees my laat groei in
die geloof sodat ek al hoe stywer aan die evangelie van Jesus Christus en God se
genade kan vashou.
Ons herdenk DV volgende week weer die
Heilige Nagmaal waar die Here vir ons deur die sigbare tekens van brood en wyn
wys hoe Christus in jou is. Daarom geliefdes, Stel julle self op die proef en ondersoek julleself of julle in die
geloof lewe.
Amen