29 Des. 2013 (GKE) Gen. 6:1-8 & Heb. 12:1-3 Teksv. Gen. 6:8
Sing
Lofsang: Ps. 100-1:1 - 4
Na
wet: Ps. 1-1 v 1 & 4
Na
gebed Ps. 112-2 v 1 - 3
Slotsang Sb. 14-1 v 1
Inleiding
Hier
teen die einde van die jaar kyk mense gewoonlik terug na die gebeure van die
afgelope jaar. Radio en TV programme neem die afgelope jaar se nuus in oënskou
en lewer kommentaar daarop. Dit is goed dat ons so bietjie terugkyk, want dit
help ons om te verstaan waar ons nou is.
In
ons teksgedeelte hoor ons hoe God ook terugkyk na die geskiedenis van die
mensdom wat Hy geskep het en dit wat Hy sien is nie ’n mooi prentjie nie. Adam
en Eva se rebelse opstand. Kain wat vir Abel vermoor het. Lameg wat dreig met
geweld en so word dit net al hoe erger. Tog is daar ook uitsonderings. Henog
het naby God geleef en hierin sien ons reeds God se genade. Hierdie ligpuntjie
word egter heeltemal oorskadu deur die geweldige gevolge van die sonde wat net
van krag tot krag gaan.
Verdorwenheid
van die mens
Dit
bring ons by Gen. 6 met ’n baie vreemde vertelling van hemelwesens wat na die
dogters van die mense toe gekom het. Hierdie is ’n gedeelte wat baie maklik
misverstaan kan word indien ons die konteks daarvan ignoreer. Ons vind hier dat
’n standpunt beskryf word wat in die antieke wêreld geheers het. Daar is geglo
dat reuse, sterk mense en manne van naam nie bloot net gewone mense is nie.
Hulle is beskou as ’n verbintenis tussen mense en hemelwesens.
Hierdie
gedagtes druis egter teen alles in wat God in die res van die Bybel oor Homself
en hemelwesens vir ons leer. Die verkeerdheid van bogenoemde siening word vir
ons hier in Gen. 6:1-4 duidelik uitgewys. Eers word die sondige standpunt in
Gen. 6:1 & 2 aangetoon
Toe die mense baie begin word het op die aarde en
daar vir hulle dogters gebore is, 2het die hemelwesens gesien
die dogters van die mense is mooi en het hulle getrou met die dogters van hulle
keuse.
en
dan weer in Gen. 6:4 herhaal.
4In daardie tyd was daar
reuse op die aarde, en ook daarna wanneer die hemelwesens
na die dogters van die mense toe gekom en kinders by hulle gehad het. Hulle was die sterk
mense van die ou tyd, die manne van naam.
Die
twee herhalings vou as te ware soos ’n toebroodjie om Gen. 6:3 wat dit
weerspreek.
3Toe sê die Here: “My Gees
sal nie meer so lank in die mens bly nie, want hy is sterflik. Sy lewensduur
sal nou honderd en twintig jaar wees.”
Dit
is ’n skryfstyl in Hebreeus wat dikwels in die Bybel gebruik word om ’n saak te
beklemtoon. Die sondigheid van die mens se opstand teen God word uitgewys
terwyl God se oordeel daaroor beklemtoon word.
Ons
sien hier die verdere gevolge van die sonde (die mens se rebelse opstand teen
God) waar mense hulself as gode begin beskou. Die mens wat nie tevrede is om
homself aan God se gesag te onderwerp nie word vir ons hier uitgelig. Ons sien
hier hoe die mens self god wil wees! So is hierdie vertelling net deel van die
groter prentjie oor die geskiedenis van die mensdom en soos ons reeds gesien
het, is dit nie ’n mooi prentjie nie!
Droefheid
en pyn van die sonde
In
verse 5-7 kry ons so ’n kykie na die pyn in God se hart wat deur die sonde
veroorsaak is. Wanneer die Here terugkyk oor sy skepping sien Hy hoe groot die
mens se opstand teen God geword het. In Gen. 6:5 hoor ons:
Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid
van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink,
.......
Terwyl
God goeie dinge vir die mens doen, antwoord die mens met slegte dinge. Die mens
sien egter net die “goed” in sy eie optrede raak, soveel so dat die mens
homself as ’n godheid begin sien, maar God sien die ware toestand van sake
raak.
In
Gen. 6:6 hoor ons wat dit aan God doen:
....... die Here was bedroef
daaroor dat hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief.
Die
Hebreeuse woord wat hier met bedroef vertaal is, beskryf vir ons God se
onsteltenis. Ons hoor hier ’n noodkreet uit God se hart oor sy skepping. Dit is
’n emosionele pyn soortgelyk aan wat ’n ouer ervaar wanneer ’n kind waarvoor jy
lief is, ondanks al jou waarskuwings steeds verkeerde keuses in die lewe maak
wat verwoestende gevolge dra.
Die
Hebreeuse woord wat hier met diep gegrief vertaal is beteken letterlik “sy hart
was vol smart.” Dieselfde woord word in Gen. 3:16 gebruik om die pyn waarmee
die vrou kinders in die wêreld bring te beskryf en in Gen. 3:17 die swaarkry
van die man om ’n bestaan te maak. Hier sien ons hoe die pyn en swaarkry van
die mens na God toe oorspoel. Die mens se pyn en swaarkry vanweë sy verkeerde keuses
het God se pyn en swaarkry geword, net soos wat ’n kind se lyding ook sy ouers
se lyding word.
Kyk
terug na 2013
Wat
sien ons wanneer ons terugkyk na 2013? Sien ons ook soos die mense van destyds
dat ons eintlik nie so sleg gevaar het nie? Inteendeel as ons kyk na die
vername dinge wat die mens bereik het, is ons nogal heel oraait! Ons noem nou
wel nie die belangrike mense meer gode nie, maar ons behandel hulle so. Dan is
dit natuurlik nogal maklik om myself met die mense om my te vergelyk. Ek is
darem nie so korrup soos party van ons volksgenote nie! Ons is darem nie deel
van die kultuur van selfverryking en selfsug nie! En hoe meer ons na ons goeie
hoedanighede kyk, hoe meer kom ons tot die slotsom dat ek eintlik glad nie so
sleg is nie! Ons vergeet so maklik dat ons beste werke so met sonde besmet is
dat dit soos ’n vuil stuk lap is waaraan mens nie eers met ’n stok wil raak
nie.
Wat
sien God wanneer Hy terugkyk na 2013? Is Hy nog steeds bedroef en sy hart met
smart gevul? Gen. 6:7 beskryf vir ons die verskriklike gevolge wat sonde inhou:
Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep
het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls,
want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.”
Ons
is so geneig om die gevolge van sonde ligtelik op te neem, maar die
verskriklike werklikheid van sonde is dat die gevolge daarvan die dood is!
Ons
het gesien dat die pyn wat sonde veroorsaak soortgelyk is aan die pyn wat ’n
ouer voel wanneer sy kind verkeerde keuses in die lewe maak. Daar is egter ’n
verskil. Wanneer ons en ons kinders keuses maak is daar nie eintlik iets wat
ons kan doen om die gevolge om te keer nie. In Gen. 6:8 hoor ons dat God wel
iets kon doen en gedoen het:
Maar Noag is deur die Here begenadig.
God
se genade kos Hom egter baie duur! In plaas daarvan dat ons die prys (dit wil
sê die dood) moet betaal het God sy Seun gestuur om Mens te word sodat Hy die
prys in ons plek kon betaal soos ons hoor in 1 Joh. 4:9-19:
Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy
enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan
hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die
liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons
sondes.
Diegene
wat egter God se genade verwerp, dra self die gevolge van sonde, naamlik die
ewige dood. Deur geloof het Noag genade ontvang soos ons hoor in Heb. 11:7
Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig
gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom
het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van
die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die
geloof kom.
Deur
geloof kry ons ook deel aan God se genade soos ons hoor in Heb. 12:1 & 2
Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies
rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so
maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met
volharding hardloop, die oog gevestig op
Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.
Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die
kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou
aan die regterkant van die troon van God.
Slot
Wanneer
ons terugkyk oor die afgelope jaar moet ons God se genade raaksien en nie ons
eie menslike prestasies nie. Sien God se genade raak in die mooi dinge wat ons
beleef het. Sien sy genade raak ook in die slegte dinge, veral daar waar ons
deur verkeerde keuses van die spoor af geloop het, God beantwoord die
hartseer en pyn wat ons sonde veroorsaak met genade.
Kom
ons gryp vas aan sy genade sodat ons vir die pad vorentoe vir Christus voor oë
kan hou soos ons hoor in Heb. 12:3:
Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die
sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak
nie.
Amen