14 Jul 2013
Ef. 1 teksverse Ef. 1:18-19
Ps. 147:1 & 2
Ps. 19:4 & 5
Sb 7-2:1 & 2
Sb 1-1:1,2 & 7
Inleiding
Gelowiges maak so
dikwels ’n onderskeid tussen kerk en hul eie lewens. Dit is egter ’n valse
onderskeid omdat gelowiges nie los van die kerk kan wees nie, want ons is die
kerk. Mense dink verkeerd oor wie en wat die kerk werklik is en daarom sien
hulle die kerk as hierdie aparte organisasie waarby hulle betrokke kan raak of
nie.
Teenoor hierdie
verkeerde siening van die kerk, leer die Here ons wie en wat die kerk werklik
is. In die briewe aan Efese en Kolosse leer die Here ons presies wie en wat sy
kerk is. Die brief aan Kolosse fokus daarop dat Jesus die Hoof van sy kerk is
terwyl die brief aan Efese daarop fokus dat die kerk die Liggaam van Christus
is.
Verlede Sondag het
ons gehoor dat daar ’n onderskeid is tussen die kerk en die wêreld. Vandag gaan
ons meer spesifiek fokus op wie en wat die kerk is.
Eerstens: Wie
is die kerk?
Ek dink een van
die redes waarom daar so ’n verskeurdheid in die kerk is, is omdat gelowiges
nie altyd mooi verstaan wie die kerk is nie. Baie gelowiges dink dat die kerk
maar net ’n organisasie is waarby mens kan aansluit of nie. Net soos mens
byvoorbeeld besluit of jy deel van die tennis of visvangklub wil wees. Jy
besluit of jy daarby betrokke wil wees of nie en tot watter mate jy aktief gaan
wees daarin. Sekere tennisklublede sluit aan net aan om so een of twee maal per
maand ’n potjie tennis te gaan speel. Verder is hulle nie juis betrokke by die
klub nie. Hulle betaal hul lidmaatskapfooie en verder moet jy hulle nie pla
nie. Ander weer het ’n baie groter betrokkenheid en dien selfs op die bestuur
van die klub.
Baie van ons tree op
asof die kerk ook maar net so ’n menslike organisasie is waar ons besluit of
ons deel daarvan wil wees of nie en hoe betrokke ons wil wees. Ek sal so dan en
wan ’n erediens bywoon wanneer ek behoefte daaraan het, maar verder moet julle
my nie met kerksake pla nie. Ons kry vandag ook al hoe meer mense wat redeneer
dat hulle die Here kan dien los van die kerk. Die Here leer ons hier in
Efesiërs dat sy kerk nie so werk nie. Dit is nie mense wat besluit of hul deel
van die kerk wil wees of nie. Ons is deel van die kerk omdat God ons uitgekies
het om deel van sy kerk te wees soos ons hoor in Ef. 1:4 & 5:
So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus
uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons,
volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus
sy kinders te wees.
Jesus het ons
gekoop en Hy het ’n duur prys betaal soos ons hoor in Ef. 1:7 & 8:
Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe
kragtens die ryke genade van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig
aan ons geskenk het.
Hoe weet ek of ek
deel het aan hierdie genade? In Ef.1:13 sê die Here vir ons dat ek deel het aan
sy genade wanneer ek die goeie nuus glo dat Jesus Christus vir my sondes aan ’n
vervloekte kruishout gesterf het en dat die Heilige Gees vir my daardie geloof
gee sodat ek kan weet dat ek uitgekies is om deel van sy kerk te wees. In
Ef. 1:15 sê die Here vir ons hoe ek kan weet of ek deel van die kerk is of
nie. As ek in Jesus Christus glo en ek is lief vir die gelowiges dan kan ek
weet dat God my ook uitgekies het om deel van sy kerk te wees. Geliefdes, ons
is deel van Jesus Christus se kerk omdat Hy ons uitgekies het en nie omdat ons
so besluit het nie. As ek so optree asof dit my besluit en keuse is of ek deel
van die kerk is of nie en hoe betrokke ek is, dan is ek ongehoorsaam aan God.
Wat is die
kerk?
Hoekom het God ons
uitgekies om sy kerk te wees? In ons teksvers Ef. 1:18 & 19 gee die Here
vir ons drie redes:
Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter
hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy
vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen
in ons wat glo.
Die Here het vir
ons ’n roeping. Hy gee vir ons ’n erfenis en sy krag werk in ons wat glo.
Wat is sy
roeping? Ons maak so
dikwels die fout om te dink dat ons roeping in die lewe die beroep is wat ek
beoefen. Dit is deel daarvan, maar dit maak net ’n klein onderdeel uit van my
totale roeping. Ons roeping is baie groter as wat ons dink. In Ef. 1:17
hoor ons wat die totale omvang van God se roeping is in ons lewens:
Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons
Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees
aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan
ken.
Ons roeping is om
God en sy heerlikheid te leer ken. Ek moet God leer ken in elke aspek van my
lewe. Ek moet God leer ken in my beroep. Ek moet Hom leer ken in my verhoudings
met mense. Ek moet Hom leer ken in my ontspanning. Ek moet leer dat God 24/7
deel is van my lewe!
Wat is die
erfnis wat ons van Hom ontvang? Die ewige lewe. Die ewige lewe is nie net iets wat eendag gaan kom
nie maar dit begin nou reeds waar ons kan lewe as burgers van sy Koninkryk. ’n
Verkeerde siening van die kerk bring mee dat ek dink dit gaan net oor my. Dan
word ek vasgevang in my eie klein wêreldjie waar ek dinge so wil reël dat alles
my moet dien. Dan raak ek kwaad as dinge nie na my smaak en sin verloop nie.
Dan wil ek aan almal voorskryf hoe dinge moet gebeur en as dit nie volgens my
smaak en beginsel gaan nie, is ek kwaad. Die kerkraad en die ds. moet sorg dat
die kerk vir my ’n lekker plek is. Dan leef ek inderdaad nog as ’n burger van
die duisternis waar alles net om my eie selfsugtige begeertes draai.
Wanneer ek besef
wat die kerk van die Here werklik is en dat ek deel is daarvan, begin ek leef
as ’n burger van God se koninkryk van die lig. Dan sien ek die groter prentjie
raak waar dit nie net oor my gaan nie, maar waar ek deel is van God se weermag
wat Hy gebruik om die bose te oorwin en dat ek op pad is na ’n heerlikheid waar
die bose finaal oorwin sal wees. Dan besef ek dat nie ’n passasier op ’n
vakansieskip is wat bedien moet word nie, maar dat ek ’n soldaat op ’n
oorlogskip is wat in God se weermag teen die bose baklei. Die wapen wat God vir
ons gee in hierdie stryd is die evangelie. Ons moet die goeie nuus van Jesus
Christus aan die wêreld uitdra sodat God se lig al hoe helderder in ’n donker
wêreld begin skyn.
Wat is God se
krag wat in ons werk? Na
Jesus se hemelvaart het Hy die Heilige Gees in sy plek gestuur om ewig met ons
te bly. Die Heilige Gees is die krag in ons lewe wat dit vir ons moontlik maak
om die uitdagings in die lewe aan te vat. Die Heilige Gees gee aan ons die krag
om aan te gaan wanneer die lewe moeilik raak. Burgers van die duisternis se
lewens word deur vrees en negatiwiteit gekenmerk. Die Heilige Gees gee vir ons
die krag om die vrees te oorwin en die ewige lewe wat God vir ons gee te begin
leef. Die krag om as soldaat in God se koninkryk te stry teen die bose. Ons
leef nog in ’n wêreld wat ly as gevolg van die gevolge van die sonde. Die
Heilige Gees gee aan ons die krag sodat die gevolge van die sonde ons nie onder
kry nie en die krag om aan te gaan na ons einddoel waar die bose finaal oorwin
sal word deur Jesus wederkoms.
Samevatting
Die kerk van die
Here is nie ’n menslike organisasie waar mens self besluit of jy daarby wil
aansluit of nie. Die kerk van die here is sy uitverkorenes wat Hy uitgekies het
om deel van sy kerk te wees. Jesus het sy kerk uitgekies met die roeping om God
werklik te leer ken. Om deel te hê aan die erfenis van God naamlik die ewige
lewe wat Hy aan ons skenk en om die krag van die Heilige Gees te ondervind
sodat ons werklik die lewe kan leef wat God vir ons bestem het.
Geliefdes, kom ons
luister na God se stem wanneer Hy ons roep sodat ons geestesoë so kan verhelder
dat ons weet watter hoop sy roeping vir ons inhou, watter rykdom daar is in die
heerlike erfenis wat Hy vir ons bestem het en hoe geweldig groot sy krag is wat
Hy uitoefen in ons wat glo.
Amen