Wys tans plasings met die etiket Vertroue. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vertroue. Wys alle plasings

19 Junie 2016

Glo jy werklik dat God in beheer is van jou lewe?



19 Jun. 2016 GKE
Gen. 45 & Gen. 50:16-20
Teksverse
Gen. 39:2           Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom.
Gen. 39:21          Terwyl Josef daar in die tronk was, 21was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind
Gen. 45:5           God het my voor julle uit gestuur om lewens te red.
Gen. 45:7 & 8      7God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte.
Gen. 50:19 & 20   19Maar Josef het hulle geantwoord: “Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. 20Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het.
Sing:
Ps. 48-1:1,4 & 5
Ps. 86-1:1,3 & 6
Sb 15-7:4 & 5
Ps. 121-1:1 & 4

Hoe sal jou lewe lyk as jy rêrig glo dat God in elke situasie van jou lewe teenwoordig is? Sien jy God se hand raak in daardie siekte wat God oor jou pad gebring het? Dis maklik om dit te sê wanneer dit goed gaan met jou, maar glo jy dit steeds in die teenspoed in jou lewe? Sien jy God se hand raak wanneer die behandeling nie suksesvol was nie? Sien jy God se hand raak in al die korrupsie in die land? Sien jy God se hand raak in die misdaad wat besig is om hand uit te ruk? Sien jy God se hand raak in jou persoonlike swaarkry?

In die verhaal van Josef sien ons wat dit beteken om in volle afhanklikheid van God te leef. Josef se verhaal begin eintlik met die belofte wat God aan Abraham gemaak het dat sy nageslag soveel soos die sterre in die hemel of die sand van die see sal wees. Hy moes geduldig wag vir Izak wag totdat dit menslik gesproke onmoontlik was. Izak se twee seuns was Jakob en Esau. Jakob het twaalf seuns gehad waarvan Josef die tweede jongste was. In die verhaal van Josef hoor ons hoe dit gekom het dat hierdie twaalf seuns se nageslag ’n groot nasie geword het.

Jakob het Josef voorgetrek en dit het daartoe gelei dat sy broers hom byna doodgemaak het, maar op die uiteinde het hulle hom aan die Midianiete as slaaf verkoop. 
Die Midianiete het vir Josef in Egipte verkoop aan Potifar, die hoof van Farao se lyfwag. Hier sit Josef. Hy het nie werklik verdien om as slaaf verkoop te word nie. Het die Here van hom vergeet?

Ons hoor in Gen. 39:2:
Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom.
Die Here was by hom. Dit beteken nie dat hy nou nie meer ’n slaaf was en dat hy kon terugkeer huis toe nie. Nee hy was steeds ’n slaaf, maar die Here was by hom midde in sy omstandighede. Die Here het hom geseën en gevolglik was Potifar hom goedgesind. Hy het Josef oor sy hele huishouding aangestel. Alhoewel Josef dus nog steeds ’n slaaf was het dit onder omstandighede goed gegaan met hom.

Maar net toe dit begin goed gaan het die volgende ramp hom getref. Potifar se vrou het by hom aangelê en toe hy weier het sy hom van verkragting beskuldig. 
Die gevolg was dat hy onskuldig in die tronk beland het. 
Hier sit Josef nou onskuldig in die tronk. Hy het die regte ding probeer doen en nou is hy as gevolg daarvan in die tronk! Hoekom laat die Here hierdie onreg toe? Gee Hy dan nie om nie? 
In Gen. 39:20b & 21 hoor ons dat Here wel omgee:
Terwyl Josef daar in die tronk was, was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind

Alhoewel Josef se omstandighede nie was wat hy wou gehad het nie, het die Here hom nie alleen gelaat nie. Die Here se teenwoordigheid in jou lewe beteken nie dat jy gevrywaar word van moeilike omstandighede nie. Dit beteken wel dat die Here met jou is net soos wat Hy saam met Josef was, want die Here was besig met iets groter in Josef se lewe as net sy onmiddellike omstandighede.

Terwyl hy in die tronk was, is die koning se skinker en bakker ook in die tronk gegooi omdat hulle verkeerd teenoor die koning opgetree het. Hier sien ons dat God besig is met ’n groter plan as Josef se onmiddellike omstandighede daar in die tronk. Met die uitlê van hul drome word die weg gebaan vir Josef om uit die tronk te kom sodat sy pa en broers ook Egipte toe kon kom waar die volk Israel uit hulle nageslag ontstaan het.
 
In Gen. 45 hoor ons hoe Josef homself uiteindelik aan sy broers bekend maak. 
Sy broers was met reg vreesbevange toe hulle uitvind dat Josef leef en dat hy so ’n belangrike amptenaar in Egipte was. Wat sou hulle lot gewees het as Josef nie God se hand in sy lewe raakgesien het nie? Hier het Josef nou uiteindelik die persone wat hom soveel ellende en verdriet veroorsaak het in sy mag.  Josef sien egter God se hand raak in die verloop van sy lewe soos ons hoor in Gen. 45:5
God het my voor julle uit gestuur om lewens te red.
en ook in Gen. 45:7 & 8
7God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte.

Selfs nadat hulle in Egipte gevestig was, was Josef se broers steeds bang dat hy wou wraak neem na Jakob se dood, maar Josef het verstaan dat God ’n groter plan in sy lewe gehad het soos ons hoor in Gen. 50:19-20
19Maar Josef het hulle geantwoord: “Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. 20Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het.
 
Hy ontken nie dat dit wat sy broers gedoen het verkeerd was nie. Hulle doel was om kwaad te doen. God het egter nie toegelaat dat hulle bose doelwit bereik word nie. Self in dit wat verkeerd was het God dit weggedraai van hul bose doelwitte sodat selfs dit ten goede meewerk in die groter raadsplan van God. Josef maak nie die verkeerde optrede van sy broers af asof dit nie ernstig was nie. Hy ontken nie die pyn daarvan nie, maar in dit sien hy raak dat God steeds in beheer is.

Sien ons God raak midde in die pyn van hierdie lewe? Ons raak so maklik vasgevang in die vrees dat dinge buite beheer raak. As ons so na die misdaad om ons kyk en selfs daar waar ons ook slagoffers daarvan is gebeur dit so maklik dat ons nie meer vertrou dat God in beheer is nie.

Sien ons die groter doel raak waarmee God besig is? Josef het God se hand raakgesien in die pyn wat hy in sy lewe deurgemaak het, maar selfs hy het nie die groter doel gesien waarmee God besig was nie. God het aan Abraham ’n belofte gemaak soos ons in Gen. 22:18 hoor:
In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.
In Gal 3:8 kry ons meer duidelikheid oor wat God met hierdie belofte bedoel het:
Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo. Daarom het die Skrif al voorheen die goeie nuus vir Abraham gebring: “In jou sal al die nasies geseën word.”

In die lewe van Josef was God besig met sy groter doel om ’n Verlosser na die wêreld toe te stuur. Uit die nageslag van Jakob wat God daar in Egipte gered het is ’n Verlosser gebore. Die lewe van Josef het profeties heen gewys na Jesus Christus. Josef het swaar gekry in sy lewe sodat hy sy familie van hongersnood kon red. Jesus het nie net swaar gekry nie. Hy het met sy lewe geboet om ons van die sonde oorheersing te red.

God gebruik mense om sy raadsplan uit te werk. Hy het vir Josef gebruik en Hy gebruik vandag nog vir jou en my om sy raadsplan uit te voer om Jesus op die troon te plaas. God is met jou in elke situasie. Deur die lewe van Josef het Hy sy plan uitgevoer om ’n Verlosser te stuur sodat ons gered kan word. Deur ons lewens is Hy nog steeds besig om sy koninkryk uit te bou. Deur my lewe in die goeie, maar veral ook die swaarkry tye is God besig om mense tot bekering te bring.

Ons sien nie altyd die resultate of selfs die groter doel raak nie, maar as ons God vertrou dan word ons bruikbare instrumente in sy hand.

Hoe sal jou lewe lyk as jy rêrig glo dat God in elke situasie van jou lewe teenwoordig is? Glo jy werklik dat God in beheer is van jou lewe?

Amen

12 November 2015

Ons vertrou dat God ons Vader in goeie en slegte tye vir ons sorg

Habakuk  Teksverse Hab. 1v2-4; Hab. 2v5-6; Hab. 3:17-19
8 Nov. 2015 GKE

Lof-Lied - Lied 163  Soos `n wildsbok
Na Wet Sb. 9-2 v 1 & 9 (Sb 26 in ou swart Psalmboek)
Na Gebed Ps. 32-1 v 1 & 6
Slotsang Sb. 14-2 (Al sou die vyeboom beryming van Hab. 3v17-19)

Sondag 10

27  Vraag:  Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord:  Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a)  waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).
(a) Hand 17:25-28;  Jer 23:23, 24;  Jes 29:15, 16;  Eseg 8:12.  (b) Heb 1:3.  (c) Jer 5:24;  Hand 14:17.  (d) Joh 9:3.  (e) Spr 22:2.  (f) Matt 10:29;  Spr 16:33.
28  Vraag:  Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord:  Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees.  Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).
(a) Rom 5:3;  Jak 1:3;  Ps 39:10;  Job 1:21, 22.  (b) 1 Tess 5:18;  Deut 8:10.  (c) Ps 55:23;  Rom 5:4.  (d) Rom 8:38, 39.  (e) Job 1:12;  2:6;  Spr 21:1;  Hand 17:2.
As God ons Vader is, hoekom gaan dit nie altyd goed met ons nie? Ons bely op grond van dit wat God vir ons in sy ewige Woord sê dat Hy die hemel en die aarde uit niks geskep het. Verder bely ons dat God sy skepping nog steeds versorg en in stand hou. Net soos ’n ouer vir sy kinders sorg, sorg God vir ons as sy kinders in alle omstandighede. Dit is tog immers wat ons in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus bely. Ons bely tog dat niks toevallig gebeur nie. Dit wil sê dat dit wat daagliks met ons gebeur van God af kom. Die seën van die oorvloedige reën in die vorige jare het van God af gekom, maar ook die verwoestende droogte wat ons nou beleef.

Dink maar byvoorbeeld aan iets wat baie moontlik is in die Suid-Afrika waarin ons tans woon. ’n Vrou wat van ’n Bybelstudie af teruggekom het, is deur boosdoeners oorval, beroof en verkrag. As God dan in beheer is, waar was Hy toe dit gebeur het? Elkeen van ons kan heelwaarskynlik talle soortgelyke situasies in ons eie lewens opnoem. Situasies wat aanleiding gee dat ons saam met die profeet Habakuk vra: (Vgl. Hab. 1v2-4)
2 Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? 3 Waarom laat u my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei. 4 Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag.

Hoe voel u oor God se antwoord op hierdie vraag? (Vgl. Hab. 2v5-6)
5 Die Here het geantwoord: Kyk na die ander nasies: julle sal verstom staan oor wat julle sien. Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen wat julle nie sal glo as dit vir julle vertel word nie. 6 Ek gaan die Galdeërs laat kom, die wrede, woeste nasie wat dwarsoor die aarde rondtrek om lande te verower wat nie hulle s’n is nie.
En dan gaan die Here aan om te verduidelik hoe wreed en woes die Babiloniërs is wat Israel in ballingskap gaan wegvoer.

Kan u nog steeds bely: dat ek in teëspoed geduldig moet wees? U wonder dalk nou waarheen is hierdie preek op pad? Die kern van Sondag 9 is dat God, die Skepper van hemel en aarde in Christus my Vader is op wie ek kan vertrou. As ons werklik wil bely met ander woorde dit onomwonde stel dat ons vas en seker glo dat God ons Vader is wat vir ons sorg in alles wat ons nodig het, dan moet ons God kan vertrou, veral wanneer ons omstandighede duidelik vir ons sê dat ons God nie kan vertrou nie. Daardie tye wanneer die ou duiwel ons so lekker uitkoggel: “kyk hoe gaan dit in jou lewe. Jy kan God nie vertrou nie!”

Wat gebeur eintlik hier in Habakuk 1 en 2? God word in die beskuldigingsbank geplaas! Die mens neem God onder kruisverhoor en beskuldig God dat Hy nie die mens se beste belange op die hart dra nie. Presies wat in die Paradys gebeur het met die sondeval. Daarom moet ons die perspektief van God se antwoord raaksien. Israel het hardnekkig aangehou met afgodery. Dit wil sê hulle het iets of iemand anders in die plek van God geplaas. Dit is nie God wat in die beskuldigingsbank hoort nie, maar die mens self wat God beskuldig. God gebruik die Galdeërs om Israel tot inkeer te bring. Nou moet ons baie mooi verstaan. God beskik nie die kwaad nie, want selfs die boosheid van die Galdeërs gaan gestraf word soos die Here vir ons sê in Habakuk 2v5 tot 20. Telkemale hoor ons “Ellende wag vir hom wat verkeerd doen.”

Wat wel hier gebeur is dat God die kwaad wat van die sonde af kom, gebruik om iets goed te laat voortkom. Die sondigheid van mense veroorsaak baie ellende vir ander mense. Dink maar net hoeveel hartseer veroorsaak gierigheid nie. Mense wat ander mense doodmaak om hulle besittings in die hande te kry. Jaloesie, haat woede onkuisheid noem maar op. Dit veroorsaak baie ellende in hierdie lewe en nie een van ons kan werklik sê dat ons onskuldig is nie.

Nou moet u mooi verstaan. Die aard van sonde en die rimpeleffek daarvan is nie altyd reglynig nie. Met ander woorde: Ek moenie die fout maak om reglynige oorsaak en gevolg vir alle situasies in my lewe te soek nie. Reglynige oorsake is ook daar, soos byvoorbeeld as ek myself aan drank vergryp en ek hou aan daarmee dan sal ek naderhand die gevolge daarvan op my gesondheid voel. Daar is egter ook indirekte gevolge. As ek beroof en aangerand word, is dit nie noodwendig die direkte oorsaak van iets wat ek in my lewe verkeerd gedoen nie. Dit is wel die gevolg van die rimpeleffek wat sonde op die mensdom het.

’n Verdere indirekte effek van sonde is dat die Skepping as gevolg van die sondeval aan die verydeling onderwerp is soos die Here vir ons in Rom. 8v2 sê:
Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.
Dit is die rede hoekom daar natuurrampe en vloede en droogtes plaasvind. Dit is die rede waarom mense wat nog in die fleur van hul lewens is deur siektes geteister word en dat hulle daarvan doodgaan.

Binne die teëspoed wat deur sonde veroorsaak word kan ons net werklik bely dat ek in teenspoed geduldig sal wees as ek God vertrou. As ek vertrou dat God in beheer is en dat Hy selfs dit wat sleg is in my lewe tot my beswil kan gebruik. Dink maar net aan die verhaal van Josef. Hoe dink u het Josef gevoel toe hy daar in die put gelê het waar sy broers hom ingegooi het? Hoe het hy gevoel toe hy as slaaf was op pad na Egipte? Dit is eers baie jare later dat hy as tweede in bevel van Egipte vir sy broers wat hom verkoop het kon help uit die gevolg van die hongersnood waarin hulle beland het. Ons sien nie altyd dadelik die goeie gevolge wat uit die slegte voortspruit nie. Soms neem dit baie jare en tog is ek seker dat elkeen van ons ’n voorbeeld in ons lewens kan aanhaal waar die Here dinge in ons lewens wat aanvanklik sleg was, ten goede laat meewerk het.

Uit die nageslag van Josef se broer Juda is Jesus gebore. Dit is ’n gebeurtenis wat nie in Josef se lewe plaasgevind het nie. Dit het eers baie, baie geslagte later gebeur. Tog het Israel vasgehou aan die belofte van ’n Messias wat sou kom en die verlossing wat Hy sou bring. Dit is ’n belofte wat die Jode deur die pyn van hul Ballingskap gedra het. Dit is net die verlossingswerk van Jesus Christus wat dit moontlik maak dat ons God kan vertrou. Dat ons dankbaar is wanneer Hy ons seën en dat ons geduldig is wanneer ons beproef word.

Ons geloof in Jesus Christus maak dit moontlik dat ons God ons Vader kan vertrou. Die Heilige Gees is altyd by ons en dra ons deur die goeie en die swaar tye. Die Heilige Gees gee vir ons die geloof om vas te hou in God se genade wat Jesus Christus vir ons gebring het. Daarom kan ons ook saam met Habakuk sing:
(Hab. 3:17-19)
17 Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, 18 nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.19 Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Hou in geloof vas aan God se genade en vertrou dat Hy steeds in beheer is. Glo dat God jou Vader is omdat Christus vir jou sondes gesterf het. Dink daaroor na wat God al alles in jou lewe vir jou gedoen het. Dink daaroor na wat dit vir jou beteken dat Christus vir jou sondes ’n vervloekte dood aan ’n kruishout gesterf het. Glo en vertrou dat Hy net ons beste belange op die hart dra. Dan sal ons ook kan bely:
Ons vertrou dat God ons Vader in goeie en slegte tye vir ons sorg.

Amen

25 Oktober 2015

Ons geloof verseker ons dat die Here ons gebede verhoor en dat ons Hom alleen moet gehoorsaam

24 Okt. 2015 (GKE) Ps. 116 Teksverse Ps. 116 v 6 & 14
Sing    Lofsang: Ps. 116  v 1 (OAB)
           Na wet:    Ps. 116 v 7 (OAB)
           Na gebed Ps. 116 v 2 & 3 (OAB)
           Slotsang  Ps. 116 v 1 , 5 , 8 & 10 (OAB)

Inleiding

Hoe vind ek ’n genadige God? Dit is ’n vraag waarmee Maartin Luther gespook het en wat daartoe aanleiding gegee het dat hy ’n priester geword het. In sy stryd om ’n antwoord op bogenoemde vraag te kry het Luther eventueel vertroosting in Rom. 1v17 gevind:
In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

Daar het Luther geleer wat geloof vir hom beteken, veral wat geloof vir hom beteken het in die donker tye van vertwyfeling. Wat beteken geloof vir ons? Wat beteken geloof vir ons wanneer ons in ’n doodse benoudheid verkeer? In Psalm 116 leer die Here ons wat geloof vir ons beteken wanneer ons in doodsangs vasgevang is. Hier vind ons twee hooftemas:
i.        Ek roep die Naam van die Here aan en Hy verhoor my smeekgebede
ii.       My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk

Ek roep die Naam van die Here aan en Hy verhoor my smeekgebede

Die Psalmdigter beskryf ’n doodsbenoudheid waarin hy verkeer: (Vgl. Ps. 116v3)
Bande van die dood het my omsluit,
doodsangs het my aangegryp,
ek het benoud en bekommerd geword.
Hierdie was nie maar net ’n ongemaklike situasie waarin die Psalmdigter verkeer het nie. Dit was ’n lewensgevaarlike situasie waar daar menslik gesproke geen hoop meer was nie. Hy het in ’n absolute doodsbenoudheid verkeer met die aaklige besef dat daar geen uitkoms was nie. Daar was niemand na wie toe hy kon gaan om hom te help nie. (Vgl. Ps. 116v11)
en toe ek in my vertwyfeling besef het:
ek kan op geen mens staat maak nie.

En tog beskryf hierdie Psalm nie ’n wanhopige situasie nie! Ten spyte van die donker prentjie wat hier geskets word, is dit ’n lofpsalm waar die Psalmdigter die lof van die Here besing. (Vgl. Ps. 116v1)
Ek het die Here lief,
want Hy verhoor
my smeekgebede
Die Psalmdigter beskryf hier vir ons hoe hy die Naam van die Here aangeroep het. (Ps. 116v3&4)
3 Bande van die dood het my omsluit,
doodsangs het my aangegryp,
ek het benoud en bekommerd geword.
4 Toe het ek die Naam van die Here
aangeroep: “Here, red my tog!”

Daar is net een rede hoekom die Psalmdigter die Naam van die Here aangeroep het in sy benoudheid. Dit is omdat hy besef het dat dit net God is wat hom kon help. (Ps. 116v10-11)
10 Ek het in U bly glo,
selfs toe ek gedink het
dit is klaar met my
11 en toe ek in my vertwyfeling besef het:
ek kan op geen mens staat maak nie.

Die vertroosting wat die Here vir ons met Ps. 116 gee is dat wanneer ons nie meer weet watter kant toe nie. Wanneer ons besef daar is nie meer alternatiewe nie, wanneer daar niemand meer is waarnatoe ek kan draai nie, dan sê die Here vir ons dat ons net op Hom alleen kan staatmaak. Wanneer ons werklik op daardie punt kom dat ons besef, ek kan nie meer nie, dan sê God vir ons Ek kan! Dit is dan ook waarom hierdie Psalm nie ’n wanhoopspsalm is nie. maar ’n Psalm van hoop en oorwinning.

God luister na ons nood. (Ps. 116v4-6)
4Toe het ek die Naam van die Here
aangeroep:
“Here, red my tog!”
5Die Here is genadig en regverdig,
ons God ontferm Hom oor ons.
6 Die Here beskerm die hulpeloses:
ek was magteloos, maar Hy het my gered.

Jesus het ook hierdie Psalm saam met sy dissipels gesing daar in die bovertrek net kort voor sy kruisiging toe Hy die Nagmaal ingestel het. Ironies genoeg, is hierdie psalm wat God dank vir verlossing uit die dood, die Psalm wat Jesus vir die dood voorberei het. God red ons van die dood deurdat Hy in sy Seun Jesus Christus die dood in ons plek gedra het. Dit is die rede waarom hierdie nie ’n wanhoopspsalm is nie maar ’n oorwinningspsalm. Jesus Christus het die dood oorwin en daarom verlos Hy ons ook uit die ewige dood. Ons kyk so dikwels net teen die benoudheid van hierdie lewe vas en ons vergeet so dikwels dat die eintlike benoudheid gaan oor die ewige dood waarin die sonde ons gedompel het.

Wanneer ons dit besef, dan eers verstaan ons wat die bande en strikke van die dood waarvan die Psalmdigter praat, werklik beteken. Dit is eers dan wat ons werklik tot rus kom omdat die Here aan ons goed gedoen het. Dan verstaan ons werklik die Here se genade dat Hy ons van die dood gered het en ’n einde aan ons trane maak (v7&8). Dit is eers dan wat ons verstaan wat ons geloof wat die Heilige Gees vir ons gee werklik vir ons beteken.(Ps. 116v6)
Die Here beskerm die hulpeloses:
ek was magteloos,
maar Hy het my gered.

Uit genade luister die Here na ons smeekgebede en kan ons ook tereg saam met die Psalmdigter vra:
Hoe sal ek die Here vergoed
vir al sy weldade aan my?

My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk

Ons dankbaarheidslewe is nie ’n sware plig wat ons teen wil en dank moet nakom om die Here tevrede te probeer stel nie. Dit is gewoonlik op hierdie punt dat die kerk ontspoor. Dit is waar die Rooms Katolieke Kerk ontspoor het. Gehoorsaamheid aan God is duidelik iets wat mens doen omdat jy dankbaar is vir die verlossing wat die Here gee soos die Here dit ook duidelik in Psalm 116 aantoon.

Die Rooms Katolieke Kerk het dit egter ’n voorwaarde gemaak om deur die Here gered te word. Hulle erken wel Jesus Christus se verlossingsdade, maar voeg by dat die mens ook met sy goeie werke moet help vir met sy verlossing. Die mens moet God dus help om hom van die dood te red. In die tyd van Luther was daar selfs die praktyk dat jy jou verlossing kon koop met aflaatbriewe. Daarmee wou die RKK geld insamel om die st Peters kerk in Rome te bou. Dit is teen die agtergrond hiervan dat die Reformasie plaasgevind het wat ons vandag op 31 Oktober herdenk.

Wanneer mens deur middel van goeie werke probeer om God se redding te verdien, is daar geen vreugde meer in nie. Dan word dit ontmoontlik om te sing
God het ek lief, want die getroue Heer hoor na my stem uit vrye welbehae...

Die herdenking van die Reformasie herinner ons opnuut weer dat ons uit genade gered is op grond van die soenverdienste van Jesus Christus. Dit is eers dan wanneer ons werklik besef dat die Here die hulpeloses beskerm. Eers wanneer ek besef dat ek magteloos is, maar dat die Here my gered het, kan ek werklik die vreugde kan ervaar om saam met die Psalmdigter te verklaar
My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk.

Dan is dit nie vir my moeite om vir die Here te werk nie. Dan is dit nie vir my moeite om in liefde na my naaste uit te ryk nie. Dan is dit nie vir my moeite om ’n dankoffer vir die Here te gee nie en soek ek ook nie allerlei verskonings om dit nie te doen nie. Wanneer ek besef hoe groot die genade van die Here is en dat hy vir my uit die benoudheid van die dood verlos het, is dit vir my ’n vreugde om gereeld sy Woordverkondiging op te soek. Dan sal ons nie iets soos byvoorbeeld my besittings in die plek van die Here wil aanbid nie. Dan sal Sondag die hoogtepunt van ons week wees en sal dit vir ons ’n vreugde wees om kerk toe gaan.

Dan sal dit vir ons ’n vreugde wees om gehoorsaam te wees aan die gesag wat die Here oor ons gestel het. Dan sal ons nie ander mense wil seermaak of vermoor met ons woorde en dade nie. Dan sal dit vir ons ’n vreugde wees om aan ons lewensmaat getrou te wees. Dan sal ons eerder maniere soek om aan ander te gee as wat ons maniere soek om mekaar te verneuk en dit te neem wat nie myne is nie. Dan sal ons nie sleg praat van mekaar nie. Dan sal ons enigste begeerte slegs wees dat God meer en meer word in ons lewens.

Samevatting

In ons benoudheid roep ons die Naam van die Here aan met die vertroue dat Hy ons smeekgebede hoor. Die natuurlike gevolg is dat ons met ons hele lewe dank aan God wil bewys. Ons geloftes aan die Here sal ons betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk.
Amen


07 Junie 2015

Stort jou hart voor God uit en beleef die krag van gebed in jou lewe want Hy is vir ons ’n toevlug

7 Jul 2015 GKE
Sing:
Ps. 42-1:1 & 2
Ps. 119-2 : 7,9 & 11
Ps. 42-1:3 & 5
Ps. 46-1 : 1,3 & 6

Vertrou. ’n Klein woordjie met ’n groot betekenis. Wat beteken dit om op iemand te vertrou? Om iemand te vertrou beteken dat jy seker is oor die integriteit en vermoëns van iemand om ’n sekere uitkoms te bereik. As ek sê dat ek jou vertrou om ’n sekere taak te verrig dan sê ek dat absoluut vas glo dat jy dit sal doen, maar ook dat jy dit kan doen. Wanneer ek sê dat ek jou vertrou, dan sê ek daarmee dat ek glo dat jy my beste belange op die hart dra en dat jy my nie sal seermaak of skade berokken nie.

Ek sal nie my diepste hartsgeheime bloot lê aan iemand wat ek nie vertrou nie. Ongelukkig is dit egter ook so dat ons dikwels teleur gesteld word omdat ons iemand vertrou het wat nie voldoen het aan die verwagting van my vertroue nie. Lewenservaring het ons geleer om nie sommer enige iemand net goedsmoeds te vertrou nie.  Wie kan ons dan vertrou?

In Psalm 62 hoor ons dat Dawid God onvoorwaardelik vertrou het. In verse 4 en 5 hoor ons dat Dawid deur ’n swaar tyd gegaan het. Hy het vyande wat beskuldigings oor hom maak en dat hulle selfs probeer om hom dood te maak. Uit die geskiedenis van Dawid weet ons dat hy ’n hele paar kere deur moeilike tye gegaan het. Dink maar hoe hy moes vlug toe Saul hom wou doodmaak of selfs die keer toe sy eie seun Absolom die troon by hom wou afvat. In Psalm 62 word egter nie gemeld watter gebeurtenis dit was nie. Wat ons wel weet is dat dit vir hom bitter moeilik was. Hy was soos ’n muur wat maklik wou omval. ’n Klipmuur wat iemand maklik kon omstoot.

Die fokus van hierdie Psalm is egter nie op sy swaarkry nie. In verse 2 en 3 beskryf hy waar hy hulp gaan soek en gevind het.
Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding.
Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting,
sodat ek vas en stewig staan.
Om sy vertroue te beklemtoon herhaal hy dit weer byna woordeliks in verse 6 & 7
Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek.
Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting,
sodat ek stewig staan.

In vers 8 gee Dawid die rede waarom hy so ’n vaste vertroue in God het.
       God is my redding .........
Omdat God sy redding is vind hy sy sterkte en krag by God en het hy in vertroue na God gegaan in sy tye van swaarkry.

God is Dawid se redding en Hy is ook ons redding. In Joh. 3:16 hoor ons waarom God ons en Dawid se redding is:
God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Dit is maklik om te sê vertrou op God, maar ons mag nooit uit die oog verloor dat dit geloof in Jesus Christus is wat ons redding waarborg nie soos ons hoor in Joh. 3:17 hoor:
God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.

In Joh. 3:18 maak die Here dit vir ons duidelik dat sonder geloof in Jesus niemand kan aanspraak maak op God se redding nie:
Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.
Dawid het geweet dat God sy redding is en hy het daaraan vasgehou. 3000 jaar later weet ons hoekom God ook ons redding is. Elkeen wat glo dat Jesus die Here is en dat Hy vir my sondes aan die kruis gesterf het, maar ook opgestaan het kan verseker weet dat God sy redding is.

Tot en met vers 8 van Psalm 62 het Dawid sy vertroue in God beskryf. Vanaf vers 9 moedig hy elkeen aan wat die Psalm hoor en sy redding by God soek om ook sy vertroue op God alleen te stel. “Vertrou altyd op Hom my volk” Wanneer Dawid sê “altyd” bedoel hy in die goeie en slegte tye.

Hy waarsku ons ook teen die gevare van misgeplaasde vertroue. Dit is maklik om God te vertrou wanneer alles goed gaan. Dit is egter ’n ander saak om te sê ek vertrou God wanneer my omstandighede moeilik is en die ou duiwel ewe spottend vir my vra “En waar is jou God dan nou? Kyk net na al jou moeilikheid.” En dan maak hy maar net soos wat hy daar in die Paradys met Eva gemaak het. Hy probeer ons oortuig dat ons God nie kan vertrou nie.

Sy doelwit is om ons te laat twyfel in God en net soos Eva trap ons so maklik in die slaggat om dan ons vertroue op ander dinge of mense te stel. Ook hierteen waarsku Dawid ons. In vers 10 waarsku hy ons om nie die vertroue wat ons op God moet hê in mense te stel nie, want mens kan en sal jou teleur stel.

In vers 11 waarsku hy ons om nie op geweld te vertrou nie. Hoe maklik gebeur dit nie dat ek my moeilikheid wil reg baklei nie. Byvoorbeeld, as die kassier by die Spar onvriendelik is, is ek nog onvriendeliker terug in plaas daarvan om op God te vertrou wanneer Hy vir my leer dat liefde baie meer vermag as haat en woede. In Spreuke 15v1 hoor ons:
’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ’n krenkende woord laat woede ontvlam.
Vertrou ek God dat dit die waarheid is? Dit help nie dat ek sê dat ek God vertrou, maar dat my gedrag dit nie bewys nie. Vertroue word nie gesê nie, dit word gewys.

Die ander slaggat waarin ons so maklik trap is om op rykdom staat te maak. Ek konsentreer so maklik daarop om soveel as moontlik rykdom bymekaar te maak dat ek dit my god maak. My rykdom sal vir my sorg. Solank ek genoeg geld het dan het ek niks en niemand nodig nie, ook nie vir God nie, want ek sal vir myself sorg. Moenie die groot leuen van die ou duiwel glo nie: “as jy net eers ’n miljoenêr is gaan jy baie gelukkig wees en dit sal al jou probleme oplos.”

Soos ons reeds gehoor het, het Dawid hierdie Psalm geskryf in ’n tyd toe hy baie swaar gekry het. In ons teksvers hoor ons wat ons moet doen wanneer die lewe moeilik raak. “Vertrou altyd op Hom, my volk” En dan sê hy vir ons hoe: stort jou hart voor Hom uit! Die beeld wat hy hier gebruik is ’n kruik wat vol vloeistof is wat mens moet omkeer om dit heeltemal leeg te maak. As jy die kruik onderstebo hou moet dit heeltemal leeg wees. Met ander woorde maak jou hart leeg teenoor God. Net soos wat jy jou hart oopmaak teenoor ’n goeie vriend moet jy jou hart uitstort voor God. Hy wíl dit hoor en Hy wíl jou help en raad gee. Moenie skaam wees nie en moenie dink dat dit wat jy vra te groot of te veel is nie. Kom daarmee vorendag, al het jy sakke vol nood.

Kom uit met alles; God is groter en sterker en meer gewillig as al ons oortredings. Moenie terughou nie. Bring jou nood voor God en Hy sal jou deur dit dra. Lê jou hartseer voor Hom neer. Gee jou bekommernisse vir hom. Moet dit egter nie net vir die swaar tye hou nie. Deel ook jou vreugdes met God en dank Hom daarvoor.
Stort jou hart voor Hom uit en beleef die krag van gebed in jou lewe want Hy is vir ons ’n toevlug.

Amen

18 Julie 2013

Vertrou op God alleen

16 Jun. 2013 Hand. 20:17-38 Fokusgedeelte : Hand. 20:32
Lof-Psalm Ps. 48:1 & 12          (OAB)
Na Wet Ps. 25:4 & 4                (OAB)
Na Gebed Ps. 119:2                 (OAB)
Slotsang Ps. 42:1 & 5              (OAB)

Inleiding
Om totsiens te sê is nie altyd maklik nie. Wat sê mens by ’n afskeid? Watter afskeidswoorde kan ’n mens agterlaat wat blywende waarde sal hê? Ek wonder of Paulus ook met hierdie vrae gespook het toe hy die ouderlinge van Efese na Milete laat roep het om afskeid te neem. Of hy nou wel met hierdie vrae gespook het of nie, weet ons nie. Ek kan egter nietemin by dit wat Paulus vir die gemeente in Efese gelaat het vir die pad vorentoe antwoorde vind vir my vrae hierbo.

Efese was ’n belangrike handelstad en een van die drie invloedrykste stede in die oostelike deel van die Romeinse Ryk. Die tempel van Artemis, wat in Efese geleë was, was een van die wonders van die antieke wêreld en die vervaardiging van afgodsbeeldjies was ’n belangrike bron van inkomste vir die stad. Die gemeente in Efese is tydens Paulus se tweede sendingreis gestig en Paulus het ongeveer drie jaar lank in Efese gewerk. Paulus is nou op pad na Jerusalem en daarom het hy die ouderlinge van Efese laat roep om te groet terwyl sy skip vir ’n paar dae in Milete oorlê (wat ongeveer 45km suid van efese was).

In hierdie afskeidsboodskap van Paulus aan die gemeente in Efese kom daar twee hoofsake na vore. Hy gee ’n terugblik op die verlede en ’n toekomsblik.

’n Terugblik op die verlede
Paulus herinner hulle aan die drie jaar wat hy by hulle vertoef het en dat hy die Here in nederigheid in die tyd gedien het. Hierin is daar vir ons ook ’n les. Ons moet die Here met nederigheid dien. Diens aan die Here gaan nie oor eie belang nie. Dit is onselfsugtige gehoorsaamheid aan die Here. Paulus het nie sy eie gerief of gemak voorop gestel nie, inteendeel hy is vervolg, met klippe gegooi en vir dood agtergelaat. Hy moes dikwels vir sy lewe vlug en tog het dit hom nie gekeer nie. Hy het nie die Here gedien om te wys hoe belangrik hy was nie, maar om maar net gehoorsaam te wees aan die wil van die Here.

Die voorbeeld wat Paulus hier gestel het is wat die Here vir ons voorhou. Dien die Here in nederigheid. Moenie toelaat dat eie gemak, gerief of aansien in die pad van die werk van die Here staan nie. Hou aan om die Here in nederigheid te dien en moenie toelaat dat die gewone menslike verskonings wat ons so maklik voorhou keer dat ons diensbaar is in sy gemeente nie.

In sy onderrig aan die gemeente het Paulus niks teruggehou nie, maar hy het die heilsplan van God in sy volle omvang aan hulle verkondig. Die kern van sy onderrig aan hulle was Jesus Christus soos ons in Hand. 20 :21 hoor
Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo.
Dit moet ons onthou. Ons as kerk is die bruid van Jesus Christus en Hy moet die kern van ons kerkwees uitmaak soos Paulus ook aan die gemeente in Korintiërs geskryf het in 1 Kor. 1:23-24
Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.

Jesus Christus moenie verdring word deur allerlei menslike oorwegings en gebruike wat die kerk probeer binnedring nie. Hou vas aan die suiwer leer soos ons ook in ons belydenisskrifte bely.

’n Toekomsblik
Paulus vertel ook dat die Heilige Gees hom van swaarkry verseker op sy pad vorentoe (verse 22-24). Dit het hom egter nie afgeskrik of van koers af gebring nie, want hy het steeds vertrou dat God hom sou dra. Hiermee sê die Here vir ons dat ons geloofslewe nie net een lang suksesverhaal is nie. Partykeer is die pad van die geloof styl en vol struikelblokke, maar ons moenie toelaat dat dit ons van koers af bring nie. Ons moet steeds net op God alleen vertrou.

In verse 26 – 27 wys Paulus die gemeente op hul eie verantwoordelikheid. Ons moet nooit die fout maak om die skuld van ons foute op ander te probeer pak nie. In v 28 moedig Paulus hulle aan om na hul eie en mekaar se geestelike lewens om te sien. Mens kan nie na ander se geestelike lewens omsien as jou eie geestelike lewe nie reg is nie.

Paulus waarsku hulle ook om waaksaam te wees teen die gevaar van dwaalleer deur gebruik te maak van ’n beeld wat die boerdery gemeenskap hier baie goed sal verstaan soos ons hoor in Hand. 20:29
Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie.
Die ontstellende aspek hiervan is dat dit mense uit hulle eie geledere is wat hulle met leuens sal probeer verlei. Dit ervaar ons ook hier in Reddersburg. Mense wat hulself Christene noem, dit wil sê broers en susters in die geloof kom hier aan met allerlei valse leerstellings wat strydig is met dit wat die Here ons in sy Woord leer. Twee sake wat veral in die laaste tyd na vore gekom het, is die leer oor die sabatsonderhouding en dat mens NET grootgedoop mag word! Hier was so ’n paar maande gelede iemand wat ’n boekie versprei het waarin mense gewaarsku word om te bely dat kinderdoop sonde is en so word mense in verwarring gebring.

Ander kom weer en saai verwarring veral onder kinders deur daarop aan te dring dat mens ’n dag en ’n datum van bekering moet kan wys waarop jy bekeer is. Daarmee ignoreer hulle die waarheid van die Skrif wat vir ons leer dat mens wel op ’n spesifieke tyd ’n omkeer in jou lewe kan hê soos Paulus, maar hulle ignoreer dat die Skrif ons ook leer dat mens van kleins af in die geloof grootgemaak kan word soos wat dit met Timoteus die geval was. Dit wat hulle basies leer is dat is ’n Christus plus teologie. Christus plus sabatsonderhouding. Christus plus groot doop. Christus plus dag en datum van bekering.

Paulus wys die gemeente van Efese hoe hulle teen hierdie gevaar moet waak wat soos wolwe onder die skape kom maai soos ons hoor in Hand. 20:31
Wees waaksaam. Onthou dat ek elkeen van julle drie jaar lank onderrig het, aanhoudend, dag en nag, baiekeer met trane.
Moenie net elke vreemde leer goedsmoeds aanvaar nie, maar toets dit aan die gesonde leer soos wat hier verkondig is en waarin die gemeente onderrig is.

In Hand. 20:32 wys Paulus hulle daarop waar hulle, hul anker moet vind vir die pad vorentoe waar daar soveel gevare lê en wag
Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade. Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het.
God is nog altyd daar vir die gemeente en Hy sal ons nooit in die steek laat nie. Sy ewige Woord is nog steeds daar om die gemeente op te bou en hul te laat deel kry aan sy seëninge wat Hy belowe.

Paulus sluit af deur die gemeente daarop te wys dat hulle nie net na mekaar se geestelike welstand moet omsien nie, maar dat hulle ook na mekaar se fisiese welstand moet omsien. Hou aan om aan die diakonie fondse te voorsien sodat hulle diegene wat swaarkry op materiële gebied kan versorg.

Samevatting
Geliefdes in hierdie afskeid van Paulus van die gemeente in Efese is daar ook vir Reddersburg ’n afskeidsboodskap. Dien die Here in nederigheid en moenie in jul dienswerk laat slaplê nie. Glo in Jesus Christus. Glo dat Hy vir ons sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy met sy opstanding vir ons die ewige lewe verwerf het. Weet dat dit net God se genade is wat ons red en dat ons sleg deur geloof wat die Heilige Gees aan ons gee daaraan kan deel kry. Weet dat die pad vorentoe soms moeilik kan wees en dat ons in die Here alleen moet vertrou op daardie pad. Sien om na julle geestelike lewens en gee ook op mekaar ag. Wees waaksaam teen die dwaalleer wat so maklik in die kerk indring. Gee ook ag op mekaar se fisiese welstand. Vertrou op God alleen.

Nadat Paulus dit gesê het, het hy saam met hulle almal gekniel en gebid.
Geliefdes, kom ons bid saam:

Gebed.
Ons troue Hemelse Vader
Op U almag alleen vertrou ons.
Ons bid dat U genade en U Woord ons sal dra op die pad vorentoe
Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in alle ewigheid

Amen