27 September 2020

JESUS BRING HOOP VIR MOEDELOSE EN GEBROKE MENSE

 Jes. 42:1-9 & 2 Kor. 12:7-10

27 Sep. 2020

 


Hierdie oordenking is ook op video beskikbaar by:

1) Youtube

2) Facebook 

Ons leef in ’n wêreld wat nie baie geduld met swakheid het nie. As jy nie meer funksioneer soos daar van jou verwag word nie, word jy eenkant toe gestoot en weggegooi. Daar is nie tyd of plek vir swakheid nie. Daar word van jou verwag om sterk te wees. Moenie vir die wêreld wys dat jy kwesbaar is nie.

  Maak nie saak hoe moeilik dit gaan nie, sorg dat jy glimlag. Daarom kry ons ook sulke motiverende spreukwoorde soos: “maak nie saak hoe jy voel nie, staan op, trek aan en veg vir wat joune is” of “wat ook al die lewe na jou kant toe bring, selfs as dit seermaak, wees net sterk en maak of alles goed en reg is. Onthou sterk mure skud, maar hulle val nie om nie.”

  Dit klink alles baie mooi, maar eintlik skuil daar ’n troostelose boodskap agter sulke mooi klinkende spreukwoorde. Wat sê dit eintlik vir jou? Moenie vir die wêreld jou swaarkry wys nie, want niemand gee om nie! Sorteer jou probleme by jouself uit en moenie ander daarmee pla nie! Die wêreld is ingestel op dit wat mens kan bereik. Hulle wat nie die paal haal nie word eenkant toe gestoot. Die wêreld het nie tyd of plek vir moedelose en stukkende mense nie. Die probleem is egter die dat wêreld vol is van stukkende en moedelose mense.

  God het gelowiges geroep om as sy kerk sy lig in ’n donker wêreld in te dra wat Hom nie ken. Die probleem is egter dat elkeen van ons ook maar een of ander stukkie seer het wat ons met ons saamdra. Hoe kan ons God se troos aan ’n moedelose en stukkende wêreld bring wanneer ons self ook soms stukkend en moedeloos is? As ons volgens wêreldse maatstawe meet is ons nie goed genoeg nie, maar God werk egter anders as die wêreld. Sy werk word gedoen deur gebroke mense, mense wat die nood en seerkry van die wêreld verstaan omdat hulle self daardeur gaan.. In Jes. 42 leer die Here ons dat Hy deur middel van ons gebrokenheid en onvolmaaktheid sy wil met die wêreld bereik.

  Jesaja 40 – 66 is geskryf om die Israeliete wat daar in die vreemde van Babilon in gevangenskap is, te bemoedig. Vir hierdie klein hopelose klompie Israeliete sê God deur sy profeet Jesaja: “daar IS hoop is vir die toekoms!”

  Die boodskap van hoop is nie net in die verlossing van Israel uit ballingskap nie. Dit is veel groter want God wil deur die swak, nederige, magtelose groepie ballinge sy verlossingswerk laat uitkring tot aan die uithoeke van die aarde. God gee aan hulle die spesiale taak om sy wil aan al die nasies bekend te maak en om die moedelose mense te inspireer om weer lig te sien soos ons hoor in Jes.42:1-9.

  Die beginsel dat God deur gebrokenheid sy wil met die wêreld bereik word vir ons duidelik gewys deur die lewe en werk van Jesus Christus. In Hom kry die “onlogiese” logika van God prakties gestalte. God bereik sy wil met die wêreld nie deur magsvertoon en bloedvergieting nie. Nie deur konings en wêreldbeheersers nie, maar deur gebrokenheid en selfs die dood heen.

  God roep ons ook in ons gebrokenheid om sy wil aan die wêreld bekend te maak. Die troos wat ons het is dat Hy ons met sy Gees toerus om die werk te doen waartoe Hy ons geroep het. Volgens die manier wat Christus sy werk gedoen het moet ons ook sagkens werk en deernis betoon aan dié wat gebroke en moedeloos is. Ons kan dit doen omdat God met ons ook sagkens werk en dat Hy vol deernis is vir ons gebrokenheid soos ons hoor in Jes. 42:3

’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.

 

Die beeld van ’n lamppit wat dof brand, is dalk nie so bekend in ons moderne tyd nie. 'n Lamp in die Bybelse tyd was 'n kleinerige kleipotjie wat met olie gevul was. Aan die voorpunt was daar 'n gaatjie waarin 'n stukkie tou gedruk is wat van vlas gemaak is. Wanneer die olie min raak, brand die lont al hoe flouer en gee byna geen lig af nie terwyl dit begin rook. So 'n lamp het nie eintlik meer nut om lig te gee nie.

 Is dit nie hoe ons ook maar baie maal voel nie? ’n Vlammetjie wat so flou brand dat die geringste windjie dit sal uitblaas. Elkeen van ons het elkeen maar sy eie bekommernisse wat ons met ons saamdra. Dikwels voel dit vir ons dat ons nie eens genoeg lig het om ons eie donkerte in die lewe te verlig nie, wat nog daarvan om ’n lig te wees vir ander?

  Jes. 42 v 3 wys dan profeties heen na Jesus wat nie die laaste gloeiende kooltjie van hoop sal uitdoof nie, want dit is juis dan wanneer ons bruikbaar is soos ons ook hoor in 2 Kor. 12:9a

My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.

  Wanneer ons nie meer krag het om aan te gaan nie is dit juis Christus se krag wat ons dra soos ons hoor in 2 Kor. 12:9b & 10

Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

  Die wêreld is in nood omdat sonde veroorsaak dat die mens se verhouding met God deur sonde vernietig is. Dit het meegebring dat mense se onderlinge verhoudings ook beskadig is. In Jes. 42:6 & 7 hoor ons dat God vir Christus as sy dienaar geroep het om die gebroke verhouding tussen God en die mens en tussen mense onderling te herstel.

Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies. Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry; wie in die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan.

  God se verbond is ’n vaste ooreenkoms wat Hy reeds met Abraham gemaak het en telkemale weer bevestig het met die gelowiges wie Hy uitverkies het. Die inhoud van daardie ooreenkoms is dat Hy onderneem om ons God te wees en dat ons sy volk moet wees. Met ander woorde God onderneem om die gebroke verhouding wat deur ons sonde veroorsaak is te herstel. In Jes. 42:7 hoor ons dat Hy sy verbond deur Jesus Christus bekragtig.

  Jesus Christus het met sy offer aan die kruis die gebroke verhouding tussen God en die mense kom herstel. Dit is die goeie nuus, dit wil sê die evangelie wat ons aan die wêreld moet uitdra. Jesus laat mense wat deur sonde verblind word vir God se liefde, weer sien dat God liefde is. Dat mense wat deur sonde vasgevang is daarvan bevry kan word. Hierdie werk van God word in ons gebrokenheid gedoen en ons kan dit doen omdat ons krag in Jesus Christus gesetel is.

 Die wonderlike troos hierin is dat Jesus nie net vir ons sondes in die verlede gesterf het nie. Hy het ook gesterf vir alles wat ons nou in die lewe moet deurmaak omdat Jesus hoop bring vir moedelose en gebroke mense. Die wêreld is ingestel op dit wat mens kan bereik en het nie tyd of plek vir moedelose en stukkende mense nie. In Jesus Christus bereik God sy wil met die wêreld nie deur magsvertoon en bloedvergieting nie. Nie deur konings en wêreldbeheersers nie, maar deur gebrokenheid selfs die dood heen.

 Geliefdes, As die lewe jou moedeloos gemaak het. As jy uitgeput en oorlaai is kom na Jesus toe en Hy sal julle rus gee.

Amen

20 September 2020

By die HERE skuil ek

 

 By die Here skuil ek

 Psalm 11

Sondag 20 Sep. 2020


Die oordenking is in video formaat beskikbaar op:

1) Facebook

2) YouTube

 Ons almal kom soms in 'n situasie waar dit vir jou voel of jou omstandighede jou gaan oorweldig. Dit voel of jy in 'n storm vasgevang is wat jou gaan versmoor.

 Die redes verskil vir elkeen van ons. Vir party is dit jou gesondheid, siektes soos kanker, hartprobleme en al die ander siektes wat dreig om jou lewensvreugde te steel. Vir ander is dit weer finansiële probleme, moeilike werksomstandighede. Die verlies van 'n geliefde, veral as dit heeltemal onverwags is.

 Die vraag is wat maak jy wanneer die lewe dreig om jou te oorweldig? Watse ankers het jy om aan vas te hou wanneer jy midde in die storm is?

 Dawid het ook baie lewenskrisisse beleef. Dink maar aan die keer toe hy vir sy lewe moes vlug omdat Saul hom wou doodmaak. Of die keer toe sy seun Absolom die troon met geweld by hom wou afvat.

 Dawid het Psalm 11 gedig na aanleiding van een van sy lewenskrisisse. Presies watter een word nie aan ons bekend gemaak nie. Wat wel seker is, is dat dit 'n situasie was wat hy nie alleen kon 
hanteer nie.

In verse 1 tot 3 hoor ons dat sy raadgewers nie eintlik van hulp was met hul raad nie. Dawid luister egter nie na hulle nie want in Ps. 11:1a hoor ons wat sy antwoord is op die raad wat hy ontvang:

By die Here skuil ek  

 Hy vind sy ankers by die Here in tye van nood.

 In die Hebreeuse grammatika word die werkwoord gewoonlik eerste geplaas. Wanneer dit nie gedoen word nie, is dit om 'n saak te beklemtoon soos dit ook in Psalm 11 die geval is. In ons teksvers is die werkwoord skuil nie eerste geplaas nie

 Die sin begin met “by die Here” en dan volg die werkwoord, skuil.

By die Here skuil ek.

 Dit is om te beklemtoon by wie Dawid skuil in tye van nood. Hy skuil by die Here.

 In die woordjie skuil lê die gedagte van eie onvermoë en dit beklemtoon die onsekerheid en hulpeloosheid van selfs die sterkste mens. Die beklemtoning dat hy by die Here skuil bevestig sy vertroue in die Here se alvermoë. Om by die Here te skuil, beteken om op Hom alleen te vertrou vir verlossing en beskerming.

 Geliefdes, dit is maklik om te sê: “Skuil by die Here.” Die vraag is egter: “Hoekom kan ons by die Here skuil? In Ps. 11 v 4 tot 7 sê Dawid waarom hy eerder by die Here skuil as om sy raadgewers se raad te volg. In Ps. 11 v 1 b gee sy raadgewers vir hom die raad:

“Vlug na die berge toe soos ’n voël!

 Met ander woorde die bose het die oorhand gekry. Hulle is nou in beheer en die enigste raad is om te vlug. Geliefdes, hoe dikwels is dit nie ons reaksie wanneer die lewe moeilik raak nie? Ek wil net van alles wegkom. Ek sien nie meer kans hiervoor nie.

 In Ps. 11 v 4 sê Dawid vir sy raadgewers hoekom hy nie gaan vlug nie:

Die Here is in sy heilige tempel!

Die Here is op sy troon in die hemel!

Sy oë is oop, sy oë keur die mensekinders.

 Met ander woorde die goddeloses is nie in beheer nie. Die Here IS in beheer. Sy oë is oop, hy sien wat gebeur. Die goddeloses gaan nie met hul boosheid wegkom nie.

 Wanneer ons in 'n krisis is en die ou duiwel probeer jou oortuig dat God nie in beheer is nie, skep hy werklik 'n hopelose situasie. Die lewe is voorwaar donker as daar nie meer hoop is nie. Dit is inderwaarheid om soos op 'n vliegtuig te wees sonder 'n loods wat besig is om die vliegtuig te vlieg.

 Wat die Here hier vir ons sê is: “ja die vliegtuig is besig om deur 'n storm te vlieg en die vliegtuig word deur die stormwind rond geruk, maar moenie bekommerd wees nie, want Ek is in beheer.” Die Here is aan stuur van sake en Hy SAL die vliegtuig veilig deur die storm bring.

 In Ps. 11 v 2 motiveer Dawid se raadgewers waarom dit beter is om na die berge toe te vlug:

Kyk, die goddeloses span hulle boë,

en hulle lê aan met die pyl op die snaar;

hulle staan reg om uit die donker

die opregtes van hart te tref.

 Met ander woorde die reg en orde het in duie gestort. Reg en geregtigheid vind nie meer plaas nie. Die goddeloses maak net wat hulle wil.

 Dan antwoord Dawid in Ps. 11 v 5 & 6 dat dit nie so is nie:

Die Here onderskei tussen regverdige en goddelose.

Wie geweld liefhet, haat Hy.

Hy laat vuur en swael reën op die goddeloses,

’n skroeiende wind: dit is die beker wat hulle sal drink

 Die goddeloses sal nie met hulle boosheid wegkom nie. Hulle wandade sal nie ongestraf bly nie. Hulle sal nie God se oordeel vryspring nie.

 Geliefdes, voel dit nie vir u ook soms asof daar geen reg en geregtigheid is nie? Voel dit nie soms so dat dit goedgaan met die goddeloses terwyl die regverdiges moet swaarkry nie?

 Moenie jouself aan moedeloosheid oorgee nie. Die Here is in beheer. Ons is nie op 'n vliegtuig sonder 'n loods nie. Moenie soos Petrus teen die golwe en die wind vaskyk nie, maar sien vir Jesus raak wat veilig daar tussen die golwe is terwyl Hy sy hand na jou toe uitsteek.

 In Ps. 11 v 3 motiveer Dawid se raadgewers nog verder waarom dit beter is om na die berge toe te vlug:

As die fondamente ondermyn word,

wat kan die regverdige daaraan doen?

 Met ander woorde daar is niks wat ons daaraan kan doen nie. Hoor u die hopeloosheid en moedeloosheid wat hier na vore kom?

 Die lewe is voorwaar donker wanneer daar nie meer hoop is nie. Voel dit nie soms vir u ook of daar geen hoop meer is nie? Dat die lewe net nie meer die moeite werd is nie?

 Luister na Dawid se antwoord in Ps. 11 v 7 op hierdie hopelose moedeloosheid van sy raadgewers:

Die Here is regverdig.

Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel,

en Hy sal by hulle wees.

 Met ander woorde op grond van die regverdigheid van die Here sal Hy die wat regverdig is verlos.

 Nou mag u dalk nog steeds moedeloos voel, want wie van ons kan daarop roem dat ons geregtig is? Dis hier duidelik dat die Here se guns en liefde net vir die regverdiges bedoel is. Hoe nou? Want die Here sê ook vir ons in Ps. 14 v 3 en Ps. 53 v 4:

Almal het afgedwaal, die laaste een het ontaard,

daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één nie.

 En in Rom. 3 v 10 & 12 word dit weer bevestig.

 Geliefdes, dit gaan nie oor ons geregtighede nie, maar oor Christus se geregtighede in ons. Die Vader sien die werke (geregtigheid) van sy Seun in ons en Hy het die werke van sy Seun lief. Ja, Christus en sy werke gee ons sekerheid in die krisis: dat die HERE by ons is en ons lief het. Sy geregtighede word ons toegereken; sy geregtighede bedek al ons ongeregtighede.

 As jy opreg glo dat Jesus vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy die dood oorwin het en dat dit die waarborg is dat Hy jou ongeregtighede op Hom geneem het en dat Hy sy geregtigheid vir jou gegee het, kan jy vir seker weet dat God jou lief het en dat Hy saam met jou is. Hy sal jou nie alleen los in die krisis tye in jou lewe nie. Hy is daar. Hy gee om.

 Geliefdes, wanneer die lewensstorms om jou woed, skuil by die Here. Hou vas aan sy beloftes dat Hy jou sal red. Vertrou dat Hy steeds in beheer is. Vertroue in sy alvermoë. Hy het immers die hemel en die aarde gemaak. Vertrou dat Hy jou ook deur jou lewenskrisis kan en sal dra. Vertrou dat Hy jou op grond van Jesus se soenverdienste aan die kruis jou liefhet en dat Hy jou nooit in die steek sal laat nie.

Amen

13 September 2020

Op 'n pad van persoonlike geloofsgroei deur die vuur van beproewing - Psalm 46

God is vir jou ’n toevlug en ’n beskerming

 Skriflesing Ps. 46 teksvers Ps. 46:2


Die preek is ook in video formaat beskikbaar via:

1) Facebook: Gereformeerde Kerk Empangenie

2) YouTube: Gereformeerde Kerk Empangeni

Inleiding

Die lewe is vol onsekerheid en benoudheid. Wie van ons weet wat môre vir ons inhou? Sonder dat jy dit verwag maak die lewe soms 'n nare draai en pluk al jou sekerhede onder jou uit. Waar soek jy sekerheid wanneer jou hele leerwêreld net so eensklaps onderstebo gegooi word?

 In Ps. 46 hoor ons waar die Psalmdigter troos en sekerheid gesoek het. Hy vertrou dat God se volk veilig en beskut is onder God se beskerming. In hierdie Psalm word God se konkrete bystand aan sy bedreigde volk in die loop van die geskiedenis besing.

 Dwarsdeur die Ou Testament is die verdrukking van Israel en God se verlossing ’n heenwysing na Christus wat die mensdom van die slawerny van die sonde verlos. Die uittog uit Egipte waar God sy volk verlos van die slawerny van Egipte. Die verlossing van die Jode uit die slawerny van die Ballingskap.

 Die doel van hierdie Psalm is om die aandag op die God van Israel wat op Sion in die tempel woon, te vestig en hoe Hy sy volk verlos van hul vyande. Ons grootste vyand is die sonde wat ons van God af wegskeur.

 God beskerm ons (Ps. 46:2-4)

In Ps. 46:2-4 hoor ons hoe God sy volk beskerm teen hul vyande. In vers 2 bevestig die Psalmdigter :

God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming ;

Hy was nog altyd bereid om te help in nood

Die Hebreeuse woord wat met “toevlug” vertaal is, wys op die absolute vertroue wat op iets of iemand geplaas word om jou teen gevaar te beskerm.

 Die Hebreeuse woord wat met “beskerming” vertaal is, beteken letterlik ’n plek van veiligheid. God is vir die wat by Hom skuiling soek so ’n plek van veiligheid.

 Mens kan God vertrou, want Hy is altyd te bereid om te help wanneer jy in nood verkeer. Die Hebreeuse woord wat met “nood” vertaal is, beteken ’n diepe emosionele pyn en ellende wat mens ervaar as gevolg van ’n sekere situasie of omstandigheid.

 Die mens se grootste nood is dat hy vanweë sy sondige opstand teen God van Hom geskei is. God het die mens gemaak om in ’n verhouding met Hom te leef. Wanneer daardie verhouding gebreek is, ervaar die mens diep emosionele pyn en ellende. Dit is ook dan wanneer jy nie weet watter kant toe nie wanneer die wêreld jou onderstebo skop.

 Wanneer dit gebeur is daar net een plek om uitkoms te soek. Jy moet na God toe terugdraai, want jy kan op Hom vertrou, maak nie saak wat gebeur nie. Al skud die berge. Wanneer die lewensaardbewings ’n vloedgolf oor jou laat spoel wat jou heeltemal verswelg kan jy God vertrou om jou te help.

 God is nog altyd bereid om te help in die nood wanneer gevaar jou lewe bedreig, mits jy Hom ken en jou verhouding met Hom herstel is omdat jy in Jesus Christus glo.

 Blydskap in die Godstad (Ps. 46:5-8)

Om te beklemtoon dat mens veilig by God is, beskryf die Psalmdigter op ’n ander manier God se sorg vir sy volk. In verse 5-8 word die volk se blydskap beskryf omdat God Homself as ’n lewendgewende rivierstroom aan sy volk gee. Water verteenwoordig lewe. Sonder water is daar nie lewe nie. In Open 21:6 hoor ons:

Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.

God is die lewende water wat aan sy uitverkore kinders die ewige lewe gee.

 Hy is snags teenwoordig by sy volk en daarom sal die Godstad niks oorkom nie. Die volke en nasies kan maar probeer om teenoor God in opstand te kom, maar dit sal hulle niks baat nie omdat God almagtig is.

 In vers 8 word God se almag vir ons beskryf met sy Hebreeuse Naam Sebaot. Dit beteken letterlik ’n Almagtige heerser wat oor die heelal heers. Alles, dit wil sê elke mag of natuurkrag en elke volk en nasie, elke mens is aan sy heerskappy onderworpe. In die 83 Vertaling is sy naam vertaal met “die Here die almagtige” en in die Ou Vertaling is dit met “die Here van die Leërskare” vertaal. Ons kan dit ook vertaal met “die Here wat oor alles regeer.”

 Die klem is dus hier op die almag van God. Daarom kan ons met vertroue by Hom skuiling soek omdat daardie skuiling wat Hy gee, nie deur die vyand ingeneem kan word nie.

 Dit is soos ’n fort wat op ’n hoë berg wat omring is deur onklimbare steil kranse met hoë mure wat die fort bo-op daardie kranse omring. Dit is dus ’n vesting wat nie deur die vyand ingeneem kan word nie.

 Jy kan God vertrou om te help wanneer jy in nood verkeer omdat Hy almagtig is en daarom in staat is om vir jou ’n veilige skuilplek gee. Die situasie of omstandighede verander nie, maar daai hopelose benoudheid (verlammende vrees) wat jy ervaar, neem Hy weg en Hy dra jou veilig deur die gevaar. As jy eers eenmaal deur God se genade gered is, is daar niks wat jou van sy liefde kan skei nie.

 Kom kyk wat die Here gedoen het (Ps. 46:9-12)

In hierdie laaste verse val die klem nou op wat die Here vir sy volk doen. God die Almagtige laat oorloë ophou. Hy breek die opstandige nasies se spiese en verbrand hulle oorlogswaens sodat hulle kan weet en erken dat Hy alleen God is. Daarom voel sy volk veilig by Hom.

 In hierdie Psalm sê die Here vir ons hoekom sy volk vir niks bang was nie. Hulle het in hul nood gedink aan God se dade in die verlede gedink en terwyl hulle dit gedoen het, het hulle onthou wat Hy alles vir hulle beteken het. Dit het die volk herinner dat hulle Hom kan vertrou en dat hulle vir niks meer bang hoef te wees nie.

 Hoe vind jy troos in hierdie Psalm?

Waar gaan soek jy troos en sekerheid soek wanneer jy in diepe emosionele pyn en ellende verkeer? Het jy vrymoedigheid om in absolute vertroue by God veiligheid en beskutting te soek? Kan jy ook sê:

God is vir my ’n toevlug en ’n beskerming ;

Hy was nog altyd bereid om te help in nood

 Jy kan dit doen geliefdes! In sy groot liefde het God sy enigste Seun gestuur sodat die wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal kry.

 Op grond van wat Jesus Christus aan die kruis gedoen vir jou gedoen het, kan jy ook met sekerheid sê:

Die Here, die Almagtige , is by my, die God van Jakob is vir my ’n beskutting

 Gryp met geloofshande vas aan die verlossing wat Jesus Christus vir jou uit genade gee, want in Jesus is God vir jou ’n toevlug en ’n beskerming.

Amen



30 Augustus 2020

Wat is die sin en betekenis van my lewe?

Datum: 30 Aug. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Joh. 1 v 1 - 18

Teksvers: Joh. 1 v 18

 


Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Ons facebook-blad Gereformeerde Kerk Empangeni

volledige erediens 

2) Op ons YouTube kanaal Gereformeerde Kerk Empangeni

Preek alleen

Waar kom ons vandaan? Hoekom is ons hier? Wat is die rede vir my bestaan? Wat word van ons wanneer ons hierdie lewe op aarde verlaat? Dit is die groot lewensvrae waarvoor elke mens vir hom of haarself antwoorde moet kry. Het jy al vir jouself 'n antwoord op hierdie vrae?

Die antwoord op hierdie vrae bepaal hoe jy die lewe benader. Dit bepaal hoe jy die lewenskrisisse wat oor jou pad kom hanteer. Inderdaad bepaal dit jou hele lewe en dit bepaal hoe jy die dood benader.

Waar gaan soek jy antwoorde op hierdie vrae? Dwarsdeur die eeue het die mens antwoorde op hierdie vrae gesoek. Filosowe het hulle hele lewe daaraan gewy om antwoorde op hierdie vrae te kry en ten spyte daarvan kon hulle nie bevredigende antwoorde vind nie, want hulle het dit by die verkeerde plek gesoek.

Die enigste plek waar mens sinvolle antwoorde sal vind is by die Bron van alles. Ons leer Hom ken as die enigste ware God wat die hemel en die aarde geskep het soos Hy Homself in sy Woord aan ons openbaar.

 Joh. 1 v 1 - 3 neem ons terug na die tydperk voor die skepping:

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.

 Die Skepper was van ewigheid nog altyd daar. Hier word na Hom verwys as die Woord. Hier word ook beklemtoon dat die Woord nie deel van die Skepping is nie en dat die Woord verhewe bo die skepping is.

 Die Woord was by God, maar ook die beklemtoning dat die Woord self ook God is. Dit is duidelik dat hier ook verhoudings ter sprake is en in hierdie gedeelte kom die gedagte van die Goddelike Drie-Eenheid na vore. Nie in volledigheid nie, want hier is nog net twee persone ter sprake. Die Heilige Gees as die derde persoon van die Drie-Eenheid kom later in die boek in hoofstukke 14 tot 16 ter sprake.

Wat hier baie duidelik gemaak word, is dat daar 'n verhouding tussen die persone van die Goddelike Eenheid is en dat uit dit, daar ook 'n verhouding tussen God en sy skepping is en dit het belangrike implikasies vir die rede en doel vir die mense in God se skepping.

 Die Griekse woord wat ons hier as ‘Woord’ vertaal het is ‘Logos’ en dit het 'n wye verskeidenheid van betekenisse soos 'n stelling wat gemaak word, om te praat, woorde, 'n boodskap gebring word, die rede of oorsaak vir iets.

 Om te bepaal watter spesifieke betekenis hier ter sprake is, is die konteks baie belangrik. Uit die konteks van ons teks soos ons in verse 3 en 9 hoor, is dit duidelik dat die betekenis wat hier ter sprake is, verwys na rede of oorsaak vir iets se bestaan.

Joh. 1 v 3a: “Alles het deur Hom tot stand gekom:”

Joh. 1 v 10b: “die wêreld het deur Hom tot stand gekom”

Die Logos is die rede vir die bestaan van lewe.

 Soos wat ons vorder in ons teks word dit duidelik wie die Logos is waarna hier verwys word. In Joh. 1 v 14 hoor ons:

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.

Logos verwys na Jesus in wie God mens geword het. In Joh. 1 v 18 word dit duidelik dat Jesus die Seun van God is.

 God openbaar Homself in die persoon van Jesus Christus. In Jesus leer ons God ken en in Hom leer ons God se liefde en genade ken. In Joh. 1 v 5 hoor ons dat daar duisternis in God se skepping ingekom het. Dit verwys terug na Genesis 3 waar ons van die mens se sonde hoor en hoe die mens teen God se gesag gerebeleer het.

 Die doel van die mens in God se skepping is om in 'n verhouding met Hom te leef, maar nou het daar duisternis gekom wat hierdie verhouding verwring en skeefgetrek het. Jesus is die Lig wat lewe gee en hierdie Lig skyn in die duisternis in en verdryf dit.

 Hierdie duisternis is juis die rede hoekom mense nie verstaan wat hul doel in die lewe is nie omdat hulle van God af wegdraai soos ons Joh. 1 v 9 tot 11 hoor.

Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld; die wêreld het deur Hom tot stand gekom; en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.

 Wanneer jy van God af wegdraai en net vir jouself begin leef, dan verloor die lewe sin en betekenis vir jou. Die duisternis versmoor jou en dit beroof jou van lewe.

 Tog is daar hoop. In Joh. 1 v 12 hoor ons:

Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Om werklik by die sin en betekenis van hierdie lewe uit te kom, moet jy glo in die Een wat die wêreld tot stand gebring het en aan dit lewe gegee het. Jy moet in Jesus Christus glo as jou enigste Verlosser en Saligmaker.

 Waar kom ons vandaan? Hoekom is ons hier? Wat is die rede vir my bestaan? God het jou geskep met die doel om in 'n verhouding met Hom saam te leef. Jy moet Hom dien, ken en liefhê. Jy leer God ken in Jesus Christus.

 Verder aan in die boek Johannes word hierdie inleidende gedagtes meer in detail uitgebrei. Ons leer dat jy deel kry aan die ewige lewe wat nou reeds vir jou beskikbaar is. Jy is nie alleen nie, want die Heilige Gees is met jou en lei jou.

 Ons leer dat hierdie aardse lewe nie al is wat daar is nie. Daar is lewe ander kant die dood. As jy in Jesus glo, wag daar ander kant die dood 'n ewige heerlikheid saam met God wat beter is as wat jy ooit kon droom of dink.

Wat is die sin en betekenis van jou lewe? God het jou geskep om in 'n verhouding met Hom saam te leef, om Hom te ken, dien en lief te hê. Dit gee sin en betekenis in jou lewe. Jou verhouding met God en sy liefde spoel ook oor na jou medemens toe sodat ons ook in ons onderlinge verhoudings in vrede kan saamleef.

Deur jou geloof in Jesus Christus kry jy deel aan dit. Dit gee vir jou die vrymoedigheid om in afhanklikheid van God jou dag tot dag lewe te leef. Nie net in die groot dinge nie, maar ook in die klein dingetjies. Dit gee jou krag om sterk te staan wanneer jou lewe onstuimig raak. Dit help jou om nie moedverlore in hopeloosheid te verval wanneer jy met die dood gekonfronteer word nie. 

Moenie die sin en betekenis in jou lewe mis leef nie. Leef die lewe wat God vir jou uit sy genade gegee het.

Amen


23 Augustus 2020

Vroue in die Bybel 04 – Die Samaritaanse vrou

 Datum:  23 Aug. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Joh. 4 v 1 - 26

Teksvers: Joh. 4 v 10

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Ons facebook-blad Gereformeerde Kerk Empangeni

volledige erediens 

2) Op ons YouTube kanaal Gereformeerde Kerk Empangeni

Preek alleen

Ons staan vandag stil by die verhaal van 'n vrou waarvan ons nie eens haar naam ken nie. Sy word net bekend gestel as die Samaritaanse vrou. Sommige mense noem haar ook die vrou by die put.

 

In hierdie verhaal van hierdie naamlose vrou kan elkeen van ons, onsself ook vind. Sy verteenwoordig die gewone mens in die samelewing. In haar verhaal sien ons hoe God omgee vir 'n gewone mens en dit gee vir elkeen van ons die troos dat God ook vir my omgee.

 

Haar verhaal begin waar sy Jesus by die buite die dorp ontmoet toe sy in die middel van die dag kom water haal het. Sy is so 'n bietjie geïrriteerd toe Jesus vir haar vra om vir Hom water te gee. Sy kom immers in die middel van die dag na die put toe om nie deur ander mense gekonfronteer te word nie omdat sy deur die mense eenkant toe gestoot is.

 

En nou doen hierdie vreemdeling iets wat ongehoord is. Mans het nie met vreemde vrouens in die openbaar gepraat nie. Jode het nie met Samaritane gepraat nie. Maar ten spyte van haar geïrriteerdheid, is hierdie 'n ontmoeting wat haar lewe gaan verander.

 

In hierdie ontmoeting sien ons hoe Jesus hierdie vrou begelei om 'n behoefte wat sy het, maar nie van weet nie, te identifiseer. Sy het 'n behoefte aan lewende water, maar sy weet nie dat sy dit het nie.

 

Al wat sy weet is dat sy 'n behoefte het wat nie bevredig word nie. Sy verstaan nie wat hierdie behoefte binne in haar is nie en daarom verstaan sy ook nie wat Jesus met lewende water bedoel nie. Lewende water is nie fisiese water wat mens uit 'n put kan skep nie.

 

Die dors waarvan Jesus hier praat is ook nie 'n fisiese dors nie. Dit is 'n geestelike dors na 'n lewende verhouding met God wat deel is van elke mens se wese. Die rede hoekom sy en ook elke mens soos ek en jy so 'n geestelike dors het, kom reeds van die begin af toe ons eerste voorouers in opstand teen God gekom het en ons daardeur afgesny het van die bron van lewende water.

 

Dit veroorsaak ook dat verhoudings tussen mense skipbreuk ly. Dit was die rede hoekom sy in die middel van die dag na die put toe gekom het omdat haar verhouding met die mense in haar gemeenskap nie gesond was nie.

 

Dit is die rede hoekom daar tussen haar as 'n Samaritaan en Jode vyandskap was. Dis die rede hoekom daar spanning heers tussen etniese groepe. Dis die rede hoekom daar tussen geslagte gediskrimineer word.

 

Net soos gewone put water nie jou dors permanent kan les nie, kan enige iets anders as lewende water, ook nie jou geestelike dors les nie.

 

Lewende water is die ewige lewe, dit wil sê die versekering wat die Heilige Gees vir jou gee dat God jou liefhet, dat Hy jou vergewe het en dat Hy deel is van jou lewe op grond van sy genade. Jy drink lewende water wanneer jy God se genade, liefde, vergifnis en teenwoordigheid in jou lewe beleef.

 

Wanneer die vrou tot die besef kom dat Jesus nie besig is om van die put se water te praat nie, vra sy vir Hom om vir haar daarvan te gee. Sy verstaan nog steeds nie wat dit is nie, want sy dink dit sal haar verlos om na die put toe te kom. Sy dink dit sal haar help sodat sy nie per ongeluk iemand by die put ontmoet nie. Sy verstaan nie dat dit wat sy wil hê, nie haar probleem gaan oplos nie.

 

Op hierdie punt lyk dit of Jesus nou maar die punt van lewende water waarmee Hy besig was gelos het en heeltemal 'n ander gesprek begin wanneer Hy vir haar sê: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”

 

Jesus is egter nie besig om die onderwerp te verander nie. Hy sit nou sy vinger op die seerpunt van die probleem. Hy wys vir haar wat die rede is, hoekom sy nie haar geestelike dors verstaan nie. Hy wys vir haar wat dit is wat keer dat sy verstaan wat lewende water is.

 

Jesus bring haar sonde, dit wat sy probeer wegsteek na vore. Jesus doen dit nie om haar te veroordeel nie. Hy doen dit nie in die openbaar sodat sy verneder word nie, want Hy is steeds besig met 'n privaat gesprek met haar.

 

Die rede hoekom Hy dit doen, is sodat sy kan raaksien wat dit is wat keer dat haar geestelike dors geles kan word. Sy moet raaksien dat sy besig is om haar verkeerde verhoudings te gebruik om haar geestelike dors te red. Sy is besig om putwater te drink in plaas van lewende water.

 

Hierdie vrou is nou op 'n baie ongemaklike plek. Dit is nie maklik wanneer die lig op dit geskyn word, wat jy so diep probeer wegsteek nie. Maar dit is nodig dat dit moet gebeur, anders sal jy nooit werklik by die lewende water uitkom nie.

 

Wat is daar in jou lewe wat keer dat jy lewende water drink? Dit is 'n gesprek wat jy met Jesus in die privaatheid van jou binnekamer moet voer. In 1 Joh. 1 v 9 sê die Here vir ons:

Maar as ons ons sondes bely — Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

 

Die vrou probeer om die fokus van hierdie gesprek weg te skuif van haar af en daarom bring sy die onderwerp van die plek van aanbidding op, deur te vra: “waar hulle moet aanbid?”

 

Jesus antwoord haar dat die tempel in Jerusalem die regte plek is om te aanbid, maar dat die wêreld op 'n draaipunt in die geskiedenis is waar dit nie meer nodig gaan wees om in die tempel te aanbid nie. Jesus verwys na 'n tyd en daarmee bedoel Hy die tyd van sy kruisiging. Jesus se soenoffer aan die kruis maak dit moontlik dat mense nou direkte toegang tot die lewende water gaan verkry.

 

Jy drink die lewende water deur God in gees en waarheid te aanbid. Jy aanbid in gees en waarheid deur op grond van Jesus se soenoffer aan die kruis tot God te nader.

 

In hierdie gesprek met die vrou het Jesus haar gelei om Hom as die Messias te herken. Deur sy Woord en Woordverkondiging lei Jesus jou ook om Hom as die Messias te herken en wat dit vir jou lewe beteken.

 

Deur die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put herinner Jesus vir jou (net soos Hy haar herinner het) dat jy geskep is om lewende water te drink. Hierdie vrou, die verwerpte een, se verhaal vertel vir ons dat jy geskep is om in 'n lewende verhouding met God te leef.

 

Jy is geskep om deur God genade, sy liefde en aanvaarding te beleef. Deur God se liefde word die vyandskap tussen mense van elke ras en kleur en geslag begrawe. Jy is geskep vir God se liefde in jou lewe en om daardie liefde te gebruik om jou medemens lief te hê.

 

Die hele skepping word in 'n verhouding met God saamgebind. Dit is God se liefde wat ons saambind. Dit is God se liefde wat jou dra deur die lewe. Kom drink die lewende water, Jesus, sodat jy God se liefde wat Hy vir jou het, kan vind.

 

Moenie put water drink om jou geestelike dors te les nie, want jy gaan weer dors kry. Jesus sit hier by die put vir jou en wag. Kom kry jou lewende water by Hom.

Amen

16 Augustus 2020

Vroue in die Bybel – 03 Ragab

 

Skriflesing: Jos.2; 6 v 22 - 25   

Teksvers: Jos. 2 v 11

 

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Ons facebook-blad Gereformeerde Kerk Empangeni

volledige erediens 

2) Op ons YouTube kanaal Gereformeerde Kerk Empangeni

- Preek alleen

Ragab was 'n prostituut. Dit is nogal hoe ons geneig is om mense te onthou. Wie was Ragab nou weer? O, ja. Sy was mos daardie prostituut wat die twee verkenners weggesteek het toe die Israeliete vir Jerigo ingeneem het.

 Wanneer ons dit doen dan plaas ons die fokus op haar verlede en dit wat verkeerd was in haar lewe. En is dit nie hoe ons maar geneig is om na mense te verwys nie? Sy was 'n prostituut. En dan dink ons: “Ek is darem nie so sleg soos sy nie.”

 Die ongemaklike vraag waarmee ons vanoggend gekonfronteer word is: “Was Ragab die prostituut 'n groter sondaar as wat ek is?”

Wanneer die Bybel na Ragab die prostituut verwys, dan is die fokus heeltemal anders. In Heb. 11 ontmoet ons die geloofshelde van die Bybel, byvoorbeeld Noag, Abraham, Dawid om maar 'n paar te noem. Hulle en die ander wat saam met hulle genoem word, is die mense wat die Here met trots na verwys. Ons hoor in Heb. 11 v 16 dat God nie skaam is om hulle God genoem te word nie.

In hierdie lys name (vir wie God nie skaam is om hulle God genoem te word nie), word die naam van Ragab die prostituut ook genoem! Wanneer die Bybel na Ragab as 'n prostituut verwys, is die fokus egter heel anders.

Die Bybel vertel vir ons van haar geloof en God se genade vir haar. Wanneer die Bybel na haar as 'n prostituut verwys, beklemtoon dit God se genade. Dit sê vir ons, sy is een van die geloofshelde vir wie God nie skaam is om haar God genoem te word nie!

 Ragab was inderdaad 'n merkwaardige vrou en die Here het haar verhaal in die Bybel laat opteken omdat Hy daarmee vir ons in 2020 'n belangrike boodskap wil bring.

 Wat het van Ragab so 'n merkwaardige vrou gemaak? Voor ons by die detail van haar verhaal kom, net so 'n bietjie agtergrond geskiedenis van die leefwêreld waarin sy geleef het.

 God het Abraham geroep om in Kanaän te gaan woon en Hy het in sy oudag vir hom 'n seun Isak gegee. Isak het twaalf seuns gehad wat hul broer Josef verkoop het om 'n slaaf in Egipte te word.

 Weens 'n hongersnood in Kanaän het hulle in Egipte gaan woon nadat hulle met hul broer Josef versoen is. Daar het hulle 'n groot volk geword. Soveel so dat die latere Farao bang geword het vir hulle. Dit het meegebring dat hy van hulle slawe gemaak het.

God het hulle gered van die slawerny waaraan die Egiptenare hulle onderwerp het, deur die Egiptenare met plae te tref. Na die tiende plaag, die dood van die eersgeborenes, het Farao die Israeliete laat gaan onder die leierskap van Moses.

 Farao het egter spyt gekry en hy het sy weermag agter die Israeliete aangestuur om hulle weer as slawe terug te bring Egipte toe. God het hulle egter gered toe Hy die Rietsee se waters laat oopgaan het sodat die Israeliete op droë grond daardeur kon gaan. Toe die Egiptenare hulle agterna gesit het, het God die waters weer laat terugkeer en sodoende die hele Egiptiese weermag laat verdrink.

 Daarna het God hulle terug gebring na die beloofde land Kanaän toe. Dieselfde land waarvandaan Isak en sy seuns na Egipte toe vertrek het. Toe hulle na ongeveer 'n maand en 'n half by Kanaän aankom, het Moses twaalf verkenners (onder wie Josua en Kaleb was) uitgestuur om die land te gaan verken.

 Toe hulle terugkom het Josua en Kaleb berig dat hulle die land kan oorneem, maar die ander tien het nie met hulle saamgestem nie en die volk het in ongeloof na die tien verkenners geluister. Hulle het nie geglo dat God die Kananiete in hulle hand sou oorgee nie. Oor hierdie ongeloof het God die volk gestraf deur hulle vir veertig jaar in die woestyn laat rondtrek.

 Gedurende hierdie veertig jaar het die hele geslag (buiten Josua en Kaleb) wat uit Egipte gekom het, uitgesterf. Josua het die leierskap oorgeneem nadat Moses gesterf het, en nou het die Here hulle weer terug gebring na Kanaän toe om die land in te neem.

 Op pad terug Kanaän toe, het konings Sihon en Og van die Amoriete geweier dat die Israeliete deur hulle land trek en die Here het hulle toe in die hand van die Israeliete oorgegee om hulle te verslaan.

 Die verhaal van Ragab wat ons in Josua 2 hoor, begin waar die Israeliete oorkant die Jordaan kamp opgeslaan het om Kanaän binne te val. Die stad Jerigo waarin Ragab gewoon het, het die toegang tot Kanaän vir die Israeliete versper en hulle het hulle gereed gemaak om dit in te neem.

 Jerigo was 'n baie sterk vestingstad met sterk hoë mure wat die stad beskerm het. Ragab se huis was in die stadsmuur naby een van die ingangspoorte met 'n venster na die buitekant van die muur.

 Net soos Moses veertig jaar gelede, het Josua ook verkenners gestuur om inligting in te samel. Josua het egter net twee verkenners gestuur met die opdrag dat hulle inligting veral oor Jerigo moes inwin.

 Ragab het volgens die gebruik in daardie tyd heelwaarskynlik 'n oornagplek bedryf wat dan ook ingesluit het dat sy haar beroep daar bedryf het vir diegene wat daarin belang gestel het. Uit ons teks is dit egter duidelik dat die twee verkenners niks meer as net oornag verblyf daar gaan opsoek het nie. Dit was natuurlik ook die ideale plek om inligting in te samel.

 Die vraag wat hier opkom, is of Josua nodig gehad het om verkenners uit te stuur, veral in die lig van hoe die Here die stadsmure laat inval het nadat die Israeliete sewe dae om die stad marsjeer het? Uit 'n militêre intelligensie oogpunt was die verkenners nie nodig nie.

 Uit die verhaal word dit duidelik dat die redding van Ragab en haar familie die werklike doelwit van die verkenners was. Dit is nie toevallig dat die verkenners in 'n stad van 'n hele paar duisend mense, juis by Ragab opgeland het nie. Die Here het hulle spesifiek na haar toe gestuur, want Hy het haar uitgekies om deel van sy groter raadsplan uit te maak.

 Die twee verkenners het egter nie baie goed daarin geslaag om die stad ongesiens in te kom nie, want kort nadat hulle by Ragab aangekom het, het die koning te wete gekom dat daar verspieders in die stad was en ook waar hulle was.

 Hy het soldate na Ragab toe gestuur met die opdrag dat sy hulle moes uitlewer. Ragab het hulle versteek en die soldate wat na hulle kom soek het op 'n dwaalspoor weggestuur.

 Op hierdie punt van die verhaal wonder mens hoekom sy dit gedoen het? Hoekom het sy vir die vyand kant gekies?

 Die rede hoekom sy dit gedoen het, was omdat sy vreesbevange was. Die nuus oor wat met die Egiptenare by die Rietsee gebeur en ook hoe die Israeliete die Amoriete verslaan het, was algemeen bekend.

 Ragab het verstaan dat die werklike bedreiging nie die Israeliete self was nie. Sy het verstaan dat dit die Israeliete se God was wat aan hulle die oorwinning gegee het en dat Hy ook vir Jerigo in die hande van die Israeliete gaan oorgee.

 Sy het geglo dat die Israeliete se God die enigste ware God is, want volgens haar belydenis in Jos 2 v 11 is hulle God, die Here, die God, bo in die hemel en onder op die aarde.

 Sy het verstaan haar enigste kans op lewe was om op die Here te vertrou en sy het nie toegelaat dat haar vrees haar vertroue in God ondermyn het nie.

 Sy het die verhale oor God en die uitkoms wat Hy vir sy volk gegee het, gehoor en geglo. Haar geloof het haar aangespoor om aksie te neem. Sy het die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat ontkom. Dit is haar geloof wat haar daartoe gebring het om op die Here te vertrou vir uitkoms.

 Ragab het op die Here vertrou om haar lewe te spaar, maar in sy genade het Hy vir haar soveel meer gegee as dit waarvoor sy gevra het. Hy het vir haar die ewige lewe gegee.

 Sy het deel van die uitverkore volk geword. God het vir haar 'n kans gegee op 'n nuwe lewe en sy het dit met albei hande vasgegryp. Nie meer Ragab die prostituut nie, maar nou Ragab die geloofsheld vir wie God nie skaam is om haar God genoem te word nie.

 In die lig daarvan dat twee verkenners wat Ragab versteek het, spesifiek die opdrag gekry het om te verseker dat sy en haar familie gered word, sou ons graag wou hoor dat een van hulle Salmon was. Maar ons weet egter nie wie die verkenners was nie, want die Bybel sê nie vir ons wie hulle was nie.

 Wat die Bybel wel vir ons sê is dat sy met Salmon getrou het nadat sy deel van die verbondsvolk geword het. Hulle het 'n seun genaamd Boas gehad wat met Rut getrou het. Rut en Boas het 'n seun Obed gehad. Obed was die vader van Isai wat die vader van Dawid was. So is dit in die geslagsregister van Jesus opgeteken.

 Uit die nageslag van Ragab is vir ons 'n Verlosser gebore. Die Here het die lewe van Ragab die prostituut verander na meer as wat sy ooit kon hoop of droom.

 Hy kan jou lewe ook verander. Al wat Hy vra is dat jy moet glo soos Ragab geglo het, dat jy op Hom kan vertrou omdat Hy die enigste ware God is. Jy moet glo dat jy die ewige lewe sal verkry op grond daarvan dat Jesus (wat uit die nageslag van Ragab gebore is,) vir jou sy lewe gegee het sodat jy kan lewe.

 Is jy bereid om te glo dat God die enigste ware God is wat sy Seun gestuur het sodat jy kan lewe? Is jy bereid om jou geloof uit te leef? Is jy bereid om op God te vertrou wanneer die lewe vol onsekerhede is?

 Vertrou op God. Glo dat Hy vir jou in Christus die ewige lewe sal gee. Glo dat Hy jou toekoms kan verander, maak nie saak wat in jou verlede lê nie.

Amen