Wys tans plasings met die etiket Die vrou by die put. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Die vrou by die put. Wys alle plasings

23 Augustus 2020

Vroue in die Bybel 04 – Die Samaritaanse vrou

 Datum:  23 Aug. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Joh. 4 v 1 - 26

Teksvers: Joh. 4 v 10

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Ons facebook-blad Gereformeerde Kerk Empangeni

volledige erediens 

2) Op ons YouTube kanaal Gereformeerde Kerk Empangeni

Preek alleen

Ons staan vandag stil by die verhaal van 'n vrou waarvan ons nie eens haar naam ken nie. Sy word net bekend gestel as die Samaritaanse vrou. Sommige mense noem haar ook die vrou by die put.

 

In hierdie verhaal van hierdie naamlose vrou kan elkeen van ons, onsself ook vind. Sy verteenwoordig die gewone mens in die samelewing. In haar verhaal sien ons hoe God omgee vir 'n gewone mens en dit gee vir elkeen van ons die troos dat God ook vir my omgee.

 

Haar verhaal begin waar sy Jesus by die buite die dorp ontmoet toe sy in die middel van die dag kom water haal het. Sy is so 'n bietjie geïrriteerd toe Jesus vir haar vra om vir Hom water te gee. Sy kom immers in die middel van die dag na die put toe om nie deur ander mense gekonfronteer te word nie omdat sy deur die mense eenkant toe gestoot is.

 

En nou doen hierdie vreemdeling iets wat ongehoord is. Mans het nie met vreemde vrouens in die openbaar gepraat nie. Jode het nie met Samaritane gepraat nie. Maar ten spyte van haar geïrriteerdheid, is hierdie 'n ontmoeting wat haar lewe gaan verander.

 

In hierdie ontmoeting sien ons hoe Jesus hierdie vrou begelei om 'n behoefte wat sy het, maar nie van weet nie, te identifiseer. Sy het 'n behoefte aan lewende water, maar sy weet nie dat sy dit het nie.

 

Al wat sy weet is dat sy 'n behoefte het wat nie bevredig word nie. Sy verstaan nie wat hierdie behoefte binne in haar is nie en daarom verstaan sy ook nie wat Jesus met lewende water bedoel nie. Lewende water is nie fisiese water wat mens uit 'n put kan skep nie.

 

Die dors waarvan Jesus hier praat is ook nie 'n fisiese dors nie. Dit is 'n geestelike dors na 'n lewende verhouding met God wat deel is van elke mens se wese. Die rede hoekom sy en ook elke mens soos ek en jy so 'n geestelike dors het, kom reeds van die begin af toe ons eerste voorouers in opstand teen God gekom het en ons daardeur afgesny het van die bron van lewende water.

 

Dit veroorsaak ook dat verhoudings tussen mense skipbreuk ly. Dit was die rede hoekom sy in die middel van die dag na die put toe gekom het omdat haar verhouding met die mense in haar gemeenskap nie gesond was nie.

 

Dit is die rede hoekom daar tussen haar as 'n Samaritaan en Jode vyandskap was. Dis die rede hoekom daar spanning heers tussen etniese groepe. Dis die rede hoekom daar tussen geslagte gediskrimineer word.

 

Net soos gewone put water nie jou dors permanent kan les nie, kan enige iets anders as lewende water, ook nie jou geestelike dors les nie.

 

Lewende water is die ewige lewe, dit wil sê die versekering wat die Heilige Gees vir jou gee dat God jou liefhet, dat Hy jou vergewe het en dat Hy deel is van jou lewe op grond van sy genade. Jy drink lewende water wanneer jy God se genade, liefde, vergifnis en teenwoordigheid in jou lewe beleef.

 

Wanneer die vrou tot die besef kom dat Jesus nie besig is om van die put se water te praat nie, vra sy vir Hom om vir haar daarvan te gee. Sy verstaan nog steeds nie wat dit is nie, want sy dink dit sal haar verlos om na die put toe te kom. Sy dink dit sal haar help sodat sy nie per ongeluk iemand by die put ontmoet nie. Sy verstaan nie dat dit wat sy wil hê, nie haar probleem gaan oplos nie.

 

Op hierdie punt lyk dit of Jesus nou maar die punt van lewende water waarmee Hy besig was gelos het en heeltemal 'n ander gesprek begin wanneer Hy vir haar sê: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”

 

Jesus is egter nie besig om die onderwerp te verander nie. Hy sit nou sy vinger op die seerpunt van die probleem. Hy wys vir haar wat die rede is, hoekom sy nie haar geestelike dors verstaan nie. Hy wys vir haar wat dit is wat keer dat sy verstaan wat lewende water is.

 

Jesus bring haar sonde, dit wat sy probeer wegsteek na vore. Jesus doen dit nie om haar te veroordeel nie. Hy doen dit nie in die openbaar sodat sy verneder word nie, want Hy is steeds besig met 'n privaat gesprek met haar.

 

Die rede hoekom Hy dit doen, is sodat sy kan raaksien wat dit is wat keer dat haar geestelike dors geles kan word. Sy moet raaksien dat sy besig is om haar verkeerde verhoudings te gebruik om haar geestelike dors te red. Sy is besig om putwater te drink in plaas van lewende water.

 

Hierdie vrou is nou op 'n baie ongemaklike plek. Dit is nie maklik wanneer die lig op dit geskyn word, wat jy so diep probeer wegsteek nie. Maar dit is nodig dat dit moet gebeur, anders sal jy nooit werklik by die lewende water uitkom nie.

 

Wat is daar in jou lewe wat keer dat jy lewende water drink? Dit is 'n gesprek wat jy met Jesus in die privaatheid van jou binnekamer moet voer. In 1 Joh. 1 v 9 sê die Here vir ons:

Maar as ons ons sondes bely — Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

 

Die vrou probeer om die fokus van hierdie gesprek weg te skuif van haar af en daarom bring sy die onderwerp van die plek van aanbidding op, deur te vra: “waar hulle moet aanbid?”

 

Jesus antwoord haar dat die tempel in Jerusalem die regte plek is om te aanbid, maar dat die wêreld op 'n draaipunt in die geskiedenis is waar dit nie meer nodig gaan wees om in die tempel te aanbid nie. Jesus verwys na 'n tyd en daarmee bedoel Hy die tyd van sy kruisiging. Jesus se soenoffer aan die kruis maak dit moontlik dat mense nou direkte toegang tot die lewende water gaan verkry.

 

Jy drink die lewende water deur God in gees en waarheid te aanbid. Jy aanbid in gees en waarheid deur op grond van Jesus se soenoffer aan die kruis tot God te nader.

 

In hierdie gesprek met die vrou het Jesus haar gelei om Hom as die Messias te herken. Deur sy Woord en Woordverkondiging lei Jesus jou ook om Hom as die Messias te herken en wat dit vir jou lewe beteken.

 

Deur die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put herinner Jesus vir jou (net soos Hy haar herinner het) dat jy geskep is om lewende water te drink. Hierdie vrou, die verwerpte een, se verhaal vertel vir ons dat jy geskep is om in 'n lewende verhouding met God te leef.

 

Jy is geskep om deur God genade, sy liefde en aanvaarding te beleef. Deur God se liefde word die vyandskap tussen mense van elke ras en kleur en geslag begrawe. Jy is geskep vir God se liefde in jou lewe en om daardie liefde te gebruik om jou medemens lief te hê.

 

Die hele skepping word in 'n verhouding met God saamgebind. Dit is God se liefde wat ons saambind. Dit is God se liefde wat jou dra deur die lewe. Kom drink die lewende water, Jesus, sodat jy God se liefde wat Hy vir jou het, kan vind.

 

Moenie put water drink om jou geestelike dors te les nie, want jy gaan weer dors kry. Jesus sit hier by die put vir jou en wag. Kom kry jou lewende water by Hom.

Amen