26 Julie 2020

Hoekom HERE?

Datum:  2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Job 42 v 1 - 6

Teksvers: Job 42 v 5 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar:

1) Volledige erediens - op die Gereformeerde Kerk Empangeni facebook-blad

2) Preek alleen op die Gereformeerde Kerk Empangeni se YouTube kanaal

Die lewe maak nie altyd sin nie. Hoekom gebeur daar slegte goed wat veroorsaak dat onskuldige mense moet ly? Hoekom het hierdie pandemie ons lewens so erg in 2020 kom deurmekaar krap?

 Navorsing wat gedoen is, toon aan dat daar sedert die inperking begin het, bykans 3 miljoen mense hulle werk verloor. In baie gevalle was dit persone wat die enigste bron van inkomste vir 'n huishouding verdien het. Hoekom moes dit gebeur? Het al daardie mense iets verkeerd gedoen om dit te verdien?

 Hoekom is daar so baie mense in rou gedompel oor die afsterwe van geliefdes as gevolg van hierdie pandemie? Buiten hierdie pandemie is daar nog baie ander goed wat veroorsaak dat ons swaarkry in die lewe. Hoekom gebeur dit?

 Dis een van die groot vraagstukke in die lewe. Hoekom moet ons ly? Lyding is die kanker wat die sin van ons bestaan wegvreet, veral as dit onverdiende lyding is.

 Met Job gee die Here vir ons perspektief oor hierdie saak van lyding. Job verloor alles in die lewe sonder dat Hy dit verdien. Dit kom na aanleiding van 'n gesprek in die hemel waar God met sy engele vergader en Job voorhou as iemand wat vroom, opreg en godvresend is.

 Die satan kla Job egter aan. Die betekenis van die benaming satan is inderdaad, die aanklaer, die een wat in opposisie staan. Hy kla Job aan dat hy slegs so voorbeeldig lewe omdat dit so goed met hom gaan en dat daar geen lyding in sy lewe is nie.

 Job sit in sak en as oor sy groot verlies en sy emosies is op en af. Aanvanklik prys hy God nog steeds, maar dan vervloek hy sy geboortedag.

 


Dan kom Job se drie vriende om hom by te staan. Hulle siening is dat Job teenoor God gesondig het en dat God hom nou daaroor straf. Hulle siening is dat alles lewe volgens 'n direkte een tot een oorsaak en gevolg beginsel werk. As jy iets goed doen, word jy beloon en as jy iets verkeerds doen word jy gestraf.

 Job se standpunt is dat hy onskuldig is en dat sy lyding nie 'n straf is nie. Hy is reg ten opsigte van sy standpunt. In Job 1 v 8 en weer in Job 2 v 3 sê die Here self die volgende ten opsigte van Job:

“En my dienaar Job, het jy hom raakgesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad.”

 Job se lyding het sy vrede verwoes. Sy emosies is op 'n mallemeule op en af. Hy glo dat God regverdig is, maar sy lyding laat hom twyfel. Hy stoei met die gedagte dat God onregverdig of onbevoeg is, maar hy bly steeds hoop dat God werklik regverdig is.

 Lyk Job se worstelstryd bekend? Hy probeer sin maak van sy lewe, maar dit wat met hom gebeur het, het sy hele siening deurmekaar gekrap. Sy vriende help nie juis nie, inteendeel hulle maak dinge net erger en daarom praat hy nie meer met hulle nie. Job wil antwoorde hê. Hy wil weet HOEKOM Here? Hy eis antwoorde van God.

 Voel dit nie vir bekend nie, geliefdes? Daar gebeur goed in ons lewens wat nie altyd sin maak nie. Daar gebeur slegte goed in jou lewe wat jy nie veroorsaak het nie. 2020 slaan ons met 'n pandemie wat ons hele lewe omver werp.

 Buiten die pandemie kom daar goed oor ons pad waaroor ons nie beheer het nie. Mense gaan jonk dood. Mense wat gesond leef kry kanker. En ons wil ook weet HOEKOM Here? 

Hoekom hoekom hoekom................? 

En dan wonder ons ook soms in ons eie worstelstryd soos Job, of God regverdig is.

 God antwoord Job inderdaad. In die eerste plek reageer God op Job se aanklag dat Hy onregverdig en onbevoeg is om die wêreld te beheer. Hy neem Job op 'n virtuele toer van die heelal en vra vir Job: “Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente uitgelê het?” Was Job daar toe die Here planne gemaak het hoe die hemel en die aarde sal werk? Het Job ooit die son of die weer beheer?

 Wat God hier vir Job sê, is dat Hy in beheer is van elke komplekse detail van die heelal en hoe dit funksioneer. Sy perspektief is soveel groter as wat Job sin is. Job is nie in 'n posisie om te bepaal of God regverdig is of nie. Die lewe is baie meer kompleks as wat ons ooit werklik kan verstaan.

Dan sluit God af deur vir Job die seekoei en die krokodil te wys. Die letterlike benaming van hierdie diere is Behemot en Leviatan wat ook elders in die Bybel (soos byvoorbeeld Jes. 27 v 1 & Ps. 74:13-14) as simbole van wanorde en gevaar voorgehou word. Hierdie diere is nie boos nie, maar hulle is baie gevaarlik. 

Tog pas hulle ook in die skepping in.

Wat God hiermee vir Job sê is dat die wêreld wonderbaarlik is, maar dat dit nie perfek of altyd veilig is nie. Die wêreld is mooi en georden, maar dit is ook wild en gevaarlik met die moontlikheid dat lyding kan plaasvind.

 Dit bring ons weer terug na Job se vraag: “Hoekom, Here? Hoekom is daar lyding in hierdie wêreld?” En God beantwoord nooit hierdie vraag nie! Sy antwoord is dat ons in 'n wonderbaarlike wêreld leef wat in hierdie bedeling nie van lyding vrygestel is nie.

 Job het die Here beskuldig dat Hy onregverdig is en hy het 'n verduideliking geëis. God se antwoord is dat Job nie in 'n posisie is om te bepaal of God regverdig is of nie. Hy nooi Job uit om Hom en sy wysheid wat ver bo enige mens se verstand is, te vertrou.

 Job se reaksie is om in nederigheid homself voor God te verootmoedig. Job het gevra: “Hoekom Here?” Maar God het nooit sy vraag beantwoord nie, want hy het die verkeerde vraag gevra. God het die vraag, (Wie is U Here?) wat Job moes gevra het, beantwoord.

 Hy is die almagtige en oralteenwoordige God wat hemel en aarde en al die skepsels onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.

 Hy is ook die liefdevolle God wat vir jou omgee en verstaan waardeur jy gaan. Hy buig neer na jou toe. Hy het jou so lief dat Hy sy enigste Seun gestuur het sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

 Job bely: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien” Job het God gedien en hy was vroom en opreg, maar hy het God nie persoonlik geken nie! Dit is eers na sy ontmoeting met God dat hy God persoonlik leer ken het.

 Sedert Job geleef het, het God Homself nog duideliker in sy Seun aan ons openbaar. Hy het sy Gees gestuur as Trooster om by ons te bly en ons te vertroos. Om werklik God se troos in jou lewe te ervaar is dit nodig dat jy Hom persoonlik moet ken. Jy leer God persoonlik ken deur te glo dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is. Kom na God toe en leer Hom persoonlik ken.

 Geliefdes, die lewe maak nie altyd sin nie. Daar gebeur goed wat veroorsaak dat swaarkry en lyding oor jou pad kom. Ons weet nie altyd hoekom nie dit gebeur nie. Daar is nie altyd antwoorde oor hoekom my lewensmaat op so 'n jong ouderdom moes sterf nie. Daar is nie altyd antwoorde oor hoekom ongeneeslike siektes soos kanker oor ons pad kom nie. Daar is nie altyd antwoorde oor hoekom 'n pandemie moes kom wat die hele wêreld omver werp nie.

Moenie vra: “Hoekom Here?” nie. Vra eerder die regte vraag: “Wie is U Here?” Leer God persoonlik ken deur in geloof vas te hou aan die verlossing van Jesus Christus. Vertrou God en weet dat Hy in beheer is van hierdie komplekse wêreld waarin ons leef. Leer Hom ken in sy omgee vir jou en dat Hy jou nie alleen sal laat om die hartseer, pyn en lyding van die lewe te trotseer nie.

 Bring jou pyn, hartseer en lyding na God toe met die vertroue dat Hy daar is vir jou.

Amen


19 Julie 2020

Bring jou sorge en laste na Jesus toe

Datum: 19 Jul. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Mat. 11 v 25 - 30

Teksvers: Mat. 11 v 28

 

Hierdie preek is ook in video formaat beskikbaar:

1) Facebook - volle erediens

2) Youtube - Net die preek

Raak die lewe soms te veel? Hierdie jaar is voorwaar 'n jaar wat vol uitdagings is wat ons baie beproef. Elkeen van ons word op 'n mindere of meerdere mate negatief geraak. Mense probeer dit op verskillende maniere hanteer, maar dit is nie altyd effektief nie.

 Hoe hanteer jy die uitdagings wat hier buite vir ons lê en wag? Wens jy ook dat dinge maar net weer na normaal toe moet terug keer? Die probleem is egter dat selfs die sogenaamde normaal ook nie altyd so lekker is nie.

 Selfs sonder hierdie pandemie is die lewe steeds vol uitdagings. Mense word nog steeds siek van ongeneeslike siektes en gaan dood. Die lewe is steeds so vol gejaagdheid dat dit ons uitput en oorlaai. Daar is steeds die bekommernis oor finansies en begrotings wat nie altyd wil klop nie.

 Hoe kan ons die uitdagings van die lewe in die oë kyk sonder om oorweldig te word? Die Here antwoord die vraag hier in ons teksgedeelte.

 Mat. 11 v 25 begin waar Jesus sy Vader prys oor die groot verlossings wat Hy bewerk het. Die groot rede vir al die stres en uitputting in die lewe is omdat die mens van God vervreem is. God het die mens geskep met die doel om Hom te ken en in 'n verhouding saam met Hom te leef. Dit is alles verwoes toe Adam en Eva in opstand teen God gekom het en daardie opstand leef vandag nog in ons harte

 Die rebelse opstand teen God het die mens bang vir God gemaak en daarom het Adam en Eva weggekruip toe hulle God hoor nader kom het. Een van die mees vertroostende boodskappe in die Bybel, is God se reaksie op dit. Hy het Adam en Eva nie aan hul eie lot oorgelaat nie. In plaas van verwerping reik God met liefde uit soos ons in Gen. 3 v 8 hoor: Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”!

Dwarsdeur die eeue roep God na die mens: “Waar is jy?” en daarom het God die Vader sy Seun gestuur om versoening tussen God en die mense te bewerk. Die troos is dat dit vir alle mense is wat dit aanvaar. Jy hoef nie slim en belangrik te wees nie. Inteendeel indien jy jouself slim en belangrik ag, gaan jy nie by God uitkom nie. Jy hoef nie iets te doen om dit te verdien nie. Al wat jy nodig het is om te besef hoe afhanklik jy van God is.

Dan verduidelik Jesus in Mat. 11 v 26 & 27 dat Jesus die enigste manier is om tot God te nader. Dit is in die lig hiervan dat Jesus sy uitnodiging in Mat. 11 v 28 rig:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”

 Dit is 'n uitnodiging aan mense wat besef hoe afhanklik hulle van God is. Dis 'n uitnodiging aan die elkeen wat erken: “Here ek kom na U toe omdat ek nie meer weet watter kant toe nie.” 


Dis 'n uitnodiging vir die mense aan wie Jesus in die bergrede met sy saligsprekinge rig: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

 Dis 'n uitnodiging vir jou om rus vir jou siel in die teenwoordigheid van God te vind. Met hierdie uitnodiging vra God vir jou ook: “Waar is jy?” God wil deel van jou lewe wees. Die wêreld met al sy probleme, hartseer en pyn raak te veel wanneer jy dit alleen moet trotseer. In hierdie uitnodiging sê Jesus vir jou dat jy nie nodig het om die lewe alleen aan te durf nie.

 Die rede waarom mense, en selfs gelowiges nog steeds ver van God is, is omdat hulle 'n verkeerde verstaan het van wie God is en wat nodig is om tot Hom te nader. Die persepsie bestaan dat dit moeilik is om tot God te nader omdat jy vir God moet bewys dat jy goed genoeg is vir Hom.

 Sommige mense probeer om deur middel van 'n “goeie lewe” tot God te nader en dit kan daartoe lei dat jy naderhand dink dat jy verdien om tot God te nader. Dit is die eiegeregtige mense soos die Fariseërs ook in die Nuwe Testamentiese tyd was. Hoeveel Christene trap nie ook in hierdie slaggat nie?

 Ander sien net nie kans daarvoor nie omdat dit naderhand net te veel word en daarom hou hulle op om te probeer. Hoeveel mense is daar nie wat in Christin huise groot geword het, maar wat nou van God en die kerk af weggeraak het?

 Hoe dit ook al sy, die uiteinde is dat hulle ver van God af is. Wanneer dit goed gaan kom hulle nie agter dat hulle 'n probleem het nie. Wanneer die lewe egter moeilik raak, word hulle oorweldig omdat hulle ver van God is. Dit maak dat mense uitgeput en oorlaai voel omdat God nie werklik deel is van hul lewens nie.

 Soms gebeur dit ook dat die probleme jou so oorweldig dat jy soos Petrus naderhand net die reuse golwe en stormwind raaksien omdat jy jou oë van Jesus weggedraai het. Sink jy ook in die golwe weg soos Petrus?

 

Geliefdes, voel jy vandag uitgeput en oorlaai? Hoor jy God se roepstem waar Hy vir jou roep: “Waar is jy?” Luister na Jesus se uitnodiging: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”

Dit is nie moeilik om hierdie uitnodiging van Jesus aan te neem nie. Hoor wat sê Hy nog hiermee saam: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Kom na Jesus toe. Glo dat Hy gekom het en sy kruisoffer gebring het sodat jy tot God as jou Vader mag nader. Leer wie Hy werklik is. Nie 'n kwaai God vol van oordeel en straf nie. Nee, Hy is sagmoedig, nederig en vol genade. Hy wat God is, het ter wille van jou 'n nederige mens geword en Hy bring rus vir jou gemoed.

 Jy hoef nie die lewe en al sy hartseer en probleme alleen aan te durf nie. Bring jou sorge en laste na Jesus toe. Hy SAL vir jou rus gee. Jy is nie alleen nie. God is by jou en Hy sal jou nie in die steek laat nie.

Amen


12 Julie 2020

Moenie jouself bekommer nie

Datum: 12 Jul 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Mat. 6 v 24 - 34

Teksvers: Mat. 6 v 31


Hierdie preek is ook in video formaat beskikbaar:


1) Facebook - volle erediens

2) YouTube - preek alleen

2020 is voorwaar 'n deurmekaar jaar. Die impak van hierdie Covid19 virus beïnvloed ons almal negatief. Ekonome beraam dat ons ekonomie met tot soveel as 10% kan inkrimp en dat dit 'n hele paar jaar kan neem om te herstel. En dan is daar ook die bekommernis oor wat gaan gebeur as jy geïnfekteer word met die virus? En hiermee saam al die ander dinge in ons lewens wat negatief geraak word.

Maak die gebeure rondom Covid19 jou bekommerd? Bekommernis kan jou lamlê! Bekommernis bewerk 'n onrus in jou gemoed en dit steel jou lewensvreugde.

Die fokus van hierdie teksgedeelte is: “Moenie jouself bekommer nie!” Jesus sê hier dit 5 keer vir ons:

ð Vers 25: “... moet julle nie bekommer....”

ð Vers 27 “.... wie van julle kan deur hom te bekommer ....”

ð Vers 28 “.... wat bekommer julle julle....”

ð Vers 31 “Julle moet julle dus nie bekommer ......”

ð Vers 34 “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, ....”

Die groot rede vir die oorsaak vir die bekommernis in hierdie teksgedeelte is geld of eerder 'n gebrek aan geld. Daar is ook ander redes waarom jy jouself kan bekommer en die beginsel wat Jesus hier gee hoe om jouself daarvan te bevry kan ook daarop van toepassing gemaak word.

In Mat. 6 v 24 druk Jesus sy vinger op die oorsaak van kommer:

“Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

Dit kom daarop neer dat jy jou vertroue in iets anders as God stel om vir jou te sorg en vir jou sekuriteit te gee. Moenie van rykdom 'n afgod maak nie.

In Mat. 6 v 25 antwoord Jesus die eerste beswaar wat opkom, naamlik: “Maar ons het tog geld nodig om in ons lewensbehoeftes te kan voorsien.” Jesus se teenargument is dat daar baie meer aan die lewe is as net jou fisiese daaglikse behoeftes.

Dan spreek Hy in Mat. 6 v 26 die volgende argument aan wat vra: “Moet ons dan nou maar Gods water oor Gods akker laat loop? Moet ons dus nou maar net terugsit, want God gaan mos vir ons sorg?” Jesus gebruik hier die voorbeeld van hoe God vir die wilde voëls sorg. Hulle het nie opgehoopte voorrade om op terug te val nie, maar God sorg steeds vir hulle.

Dit is egter belangrik dat ons moet raak sien dat die voëls nie maar net terugsit sonder om iets te doen nie. Die wurmpies en sade kom nie na hulle toe aangeloop nie. Hulle moet nog steeds uitgaan om kos te soek. Die beginsel hier is dat jy moet doen wat jy kan doen en jou verantwoordelikhede nakom. Jy moet doen wat binne jou vermoë is met die vertroue dat God dit wat jy doen sal seën en dat Hy daardeur vir jou sal voorsien.

In Mat. 6 v 27 verduidelik Jesus waarom dit nutteloos is om jou te bekommer:

“Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?”

Bekommernis gaan niks aan die saak verander nie! Bekommernis is soos om op 'n rystoel te sit en ry. Jy beweeg heeltyd, maar jy kom nêrens nie.

In Mat. 6 v 28 – 30 beklemtoon Jesus dat God vir ons sal sorg omdat Hy omgee, want ons is vir Hom kosbaar. Jesus lig hier ook die kern van die probleem uit waarom ons, ons bekommer. Hy sluit sy argument hier af met: “... julle kleingelowiges.” Ongeloof is die probleem. 'n Gebrek aan geloofsvertroue dat God sal sorg.

In Mat. 6 v 31 tot 33 verduidelik Jesus hoe ons van bekommernis bevry kan word. In verse 31 en 32 hoor ons wat die verskil maak:

“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.

'n Ongelowige het niemand behalwe homself om op staat te maak nie. 

Hy sê dus hier vir ons: “Moenie soos die ongelowiges maak nie.” Bekommernis is vir jou 'n teken dat jy nie ten volle op God vertrou nie.

In Mat. 6 v 33 verduidelik Jesus wat die oplossing vir die probleem is:

Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Hoe beywer jy jouself vir die Koninkryk van God? Voor ons die antwoord op hierdie vraag soek, moet ons, onsself net weer herinner wat die Koninkryk van God is. Dit is alles wat God geskep het. Die fisiese wêreld waarin ons leef, naamlik die aarde en die hele heelal waarvan die aarde deel is. Dit sluit ook die geestelike wêreld van ons denke in. Dit wil sê dit behels jou hele lewe, alles wat jy doen en dink.

Nou terug na die vraag: “Hoe beywer jy jouself vir die Koninkryk van God?” Jy begin deur die erken dat net God die Koning is en dat Hy alleen regeer in sy Koninkryk. Verder dat Hy jou Vader is wat vir jou sorg omdat Jesus vir jou sonde aan 'n vervloekte kruishout gesterf het en dat jy glo dat dit vir jou waar is. Jy moet in Jesus Christus as jou enigste Verlosser en Saligmaker glo.

Omdat jy die voorreg het om God jou Vader te noem, het jy ook die versekering dat Hy vir jou sal sorg en dat Hy vir jou alles sal gee wat jy nodig het. Dit is egter belangrik om te onthou dat dit wat jy wil hê nie noodwendig ooreenstem met dit wat jy nodig het nie. God weet wat jy nodig het en Hy sal dit vir jou gee.

Hierdie teksgedeelte sluit af met die beginsel dat jy dag vir dag die pad saam met God moet stap met die vertroue dat Hy vir jou sal sorg. Ons is dikwels so bekommerd oor wat môre, oormôre en volgende maand gaan gebeur dat ons nie raaksien hoe God vandag vir ons sorg nie. Hier in Mat. 6 v 34 sê Jesus vir ons om nie die bobbejaan agter die bult te gaan uithaal nie.

Geliefdes, hierdie pandemie skep 'n donker prentjie en as jy toelaat dat dit jou met bekommernis vul, gaan daardie bekommernis jou lewensvreugde steel. Kom jou verantwoordelikhede na. Doen wat jy moet doen en beywer jou vir die Koninkryk van God sodat jy bevry kan word van bekommernisse wat jou lewe versuur. 

Moenie jouself bekommer nie, want God sal vir jou sorg.

Amen


05 Julie 2020

Tema: - Hoe lank nog? Het God my vergeet?

Tema: - Hoe lank nog? Het God my vergeet?

Datum: 5 Jul 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Psalm 13    Teksvers: Ps. 13 v 6

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar:

1) Volle erediens Gereformeerde Kerk Empangeni se facebook-blad

2) Preek alleen  Gereformeerde Kerk Empangeni YouTube kanaal


Dit is nou meer as 100 dae sedert die inperking begin het. In hierdie tyd is daar met reg baie gefokus op die praktiese aspekte van hierdie pandemie. Daar is regulasies oor wanneer jy mag uitgaan en wat jy moet doen om jouself veilig te hou. Daar is regulasies oor watter besighede mag oop wees en ook hoe die interaksie tussen mense moet wees. Ons hoor daagliks die statistiek van hoeveel nuwe gevalle aangemeld is, hoeveel sterftes daar was en hoeveel mense weer gesond geword het.

Een aspek is egter so bietjie op die agtergrond geplaas en het nie eintlik aandag gekry nie. Van die regulasies het dit in die begin ook inderdaad moeilik gemaak om hieraan aandag te gee. Dit is die geestesgesondheids-aspek hiervan. Die gemoedstoestand van mense en hoe hierdie gebeure die mense se gemoedstemming beïnvloed.

En tog is dit iets waaraan aandag gegee moet word. Mense voel bekommerd, moeg, uitgeput, hartseer en hulle sukkel om hierdie situasie te verwerk.

Voel dit vir jou ook of jy saam met die Psalmdigter wil uitroep: “Hoe lank nog Here? Hoe lank gaan U my nog bly vergeet?” Raak u ook soms moedeloos.  

Ons hoor hier in Ps. 13 v 2 & 3 hoe worstel die Psalmdigter met sy nood wat hy ervaar:

Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd?

Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?

Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?

Hy kyk hier teen sy huidige omstandighede vas en dit maak hom moedeloos en benoud. Dit voel vir hom of die Here van hom vergeet het.

Ons word so bombardeer met die feite van hierdie pandemie dat dit naderhand ons hele gemoed oorheers. Die bekommernis oor hoe dit ons nadelig raak. Die benoudheid oor wat sal gebeur as ons ook siek word kan ons lamlê. As ons net teen ons huidige situasie en omstandighede vaskyk lyk die prentjie inderdaad donker en loop ons die gevaar om van ons Vader se liefde en sorg vir ons te vergeet..

In Ps. 13 v 4 & 5 hoor ons die Psalmdigter se angstige versoeke:

Luister tog en antwoord my, Here my God!

Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe nie,

anders sê my vyand hy het my oorwin en juig my verdrukkers

oor my ondergang.

Ons hoor die Psalmdigter se benoudheid in hierdie angstige versoeke aan die Here en hoe hy vir sy lewe vrees.

Die Psalm eindig egter totaal anders as wat dit begin het:

Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee,

juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here,

omdat Hy aan my goed gedoen het.

Waar die eerste deel gevul is met wanhoop en benoudheid, eindig dit vol verwagting.

Die verskil wat hier inkom is omdat die Psalmdigter nou anders kyk na sy omstandighede. Terwyl hy hom blind gestaar het teen sy eie nood, het hy net 'n hopelose donkerte raakgesien.

Hoe kyk jy na jou huidige omstandighede? Sien jy ook net die hopeloosheid en donkerte raak?

Die verskil wat hier by die Psalmdigter ingetree het, is omdat hy nou wyer as net na sy huidige omstandighede begin kyk het. Hy het God se sorg en liefde in sy verlede raakgesien en dit het hom in staat gestel om aan God se liefde vas te hou.

Wanneer ons terugkyk na God se sorg en liefde in die verlede het ons 'n voordeel bo die Psalmdigter. Ons sien baie beter hoe groot God se liefde werklik is.

1 Joh. 4 v 9 & 10:

Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Jesus het sy lewe vir jou afgelê. Sal Hy jou nou in die steek laat?

Vir die Psalmdigter het die verskil ingekom toe hy God se teenwoordigheid in sy lewe begin raaksien het en dit het hom anders na sy huidige situasie laat kyk. Dit het vir hom die vertroue gegee dat God hom nie vergeet het nie en dat Hy net soos wat Hy in die verlede uitkoms gegee het, nou ook uitkoms sal gee. Die verskil is geloofsvertroue in God.

Hoe kry jy dit reg om verby jou huidige situasie te kyk na die groter prentjie van God se liefde vir jou? Dit verg geloof. In die meeste gevalle is dit nie net 'n groot geloofssprong nie. Dis eerder klein geloofstreetjies na God toe. Soms selfs klein wankelende geloofstreetjies.

Kom in gebed na God toe en moenie skaam wees om die nood en bekommernis wat in jou hart is teenoor God uit te stort nie. Word stil in die teenwoordigheid van God se liefde en dink na aan sy groot liefde vir jou. Dink na aan hoe kosbaar jy vir God is en hoeveel Hy vir jou omgee.

Dit sal jou help om jou fokus weg te draai van die onmiddellike van die beproewings wat jou nou in die gestig staar. Dit sal jou help om op God te fokus wat nog heeltyd saam met jou op jou lewenspad was. Dit sal jou help om raak te sien dat God nog altyd daar was selfs al het jy dit nie altyd raak gesien nie.

Dawid se omstandighede het nie hier verander nie. Dit wat hom so benoud gemaak het, was nog altyd daar. Wat wel verander het is Dawid se perspektief op die situasie. Hy het raakgesien wie saam met hom in sy situasie was.

Dikwels is ons so besig om te fokus op die waaroms en hoekoms van ons omstandighede dat ons nie raaksien wie saam met ons in die omstandighede is nie.

Wanneer jy net op die nood en benoudheid van jou omstandighede fokus kan dit maklik jou liefde vir jou Verlosser steel. Gaan jy net na jou emosies van benoudheid en kommer luister of gaan jy in vertroue verby dit kyk na God se teenwoordigheid in jou lewe?

Wanneer jy op pad is na 'n bestemming, gee jy nie net een reusesprong van begin tot einde nie. Elke reis begin met die eerste tree wat jy gee. Die eerste tree van jou geloofspad saam met God is om te glo dat Hy jou so liefhet, dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat jy nie verlore sal gaan nie. Dis om te glo dat Jesus sy lewe neergelê het vir jou. Dis om te glo dat Jesus die dood oorwin en dat Hy daarom vir jou die ewige lewe gee.

Op jou lewenspad saam met God gaan die pad soms gelyk wees met mooiweer waar jy gemaklik sonder moeite kan stap. Moenie vergeet dat God langs jou is nie.

Die pad gaan soms ook moeilik wees met onweersomstandighede waar jy maar net klein wankelrige treetjies kan gee. Moenie vergeet dat God langs jou is nie. Moenie net teen die moeilike ongelyke pad vaskyk nie want God is hier langs jou. Wanneer die pad te moeilik raak, vertel vir God daarvan, maar onthou ook hoe Hy jou in die verlede gedra het toe die pad te moeilik geraak het, met die vaste vertroue dat Hy jou ook nou sal dra wanneer jy nie meer kan nie. 

Moenie jou net blind staar teen jou huidige omstandighede nie. Sien dit raak teen die wyer omstandighede van God se liefde en sorg vir jou. Wanneer jy stil word na die dag se gewoel, dink daaraan terug hoe God jou ook deur hierdie dag gedra het en dank Hom daarvoor met 'n loflied in die hart.

Amen


28 Junie 2020

In die arms van God - Psalm 131

Datum: 28 Jun. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Psalm 131

Teksvers: Ps. 131 v 2

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar:

1) facebook - Volle erediens 

2) YouTube  - Preek alleen

 

Ons staan nou in die middel van 2020 en hierdie jaar bevestig net weereens dat die lewe soms op sy kop kan staan en die einde is nog nie in sig nie. Die virus infeksie koers is nog steeds besig om te styg en is nou al meer as 6 000 gevalle per dag. Die nuus op ekonomiese front lyk al hoe donkerder en die beperkings op ons lewens werk op ons gemoed.

 

Uit mense se praat en reaksies kom jy agter dat daar baie woede, ontevredenheid, verwarring, angstigheid en selfs depressie by mense voorkom. Hoe voel jy oor die saak? Tot watter mate beïnvloed ons huidige situasie jou lewensperspektief?

 

Die Here gee vandag vir ons Psalm 131 om ons te help om die onstuimigheid in ons gemoed tot ruste te bring. Dit is 'n Psalm met 'n lewensveranderende perspektief wat in 'n baie klein pakkie verpak is. Die Psalm is maar drie verse lank, een van die kortste Psalms, maar die inhoud daarvan is groot. Die Here gee vandag vir ons hierdie kort Psalm om die onrus in ons gemoed stil te maak, om stilte en gemoedsrus in sy arms te vind.

 

Dawid begin hierdie Psalm met die grootste bron van onrus in die mens se gemoed. Die eie ek en selfbelangrikheid:

Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here.

Hy bely hier dat hy maar net 'n nietige mens is wat God se sorg in sy lewe nodig het. Om rustigheid in jou lewe te vind, is dit nodig dat jy verby jouself moet kyk. Om heeltyd mense te moet oortuig hoe belangrik jy in die lewe is, bring baie onrus in jou gemoed. Om gemoedsrus te vind is dit nodig dat jy van jouself af moet wegdraai.

 

Dit beteken egter nie, dat jy nie belangrik is nie. Jy is vir God kosbaar. Hy het jou so lief dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Daarom doen God ook moeite met jou. Daarom wil Hy hê dat jy die fokus van jouself af moet draai na Hom toe sodat Hy uit sy genade vir jou rus en stilte in jou lewe kan gee.

 

Dit eers wanneer jy besef dat jy God se sorg nodig het dat jy werklik rus en stilte in sy arms kan vind.

 

Dan gaan Dawid aan na die tweede bron van onrus, die strewe om alles in jou lewe self te beheer.

Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,

dinge wat bo my vermoë is.

Een van die groot redes wat onrus in jou gemoed bring is die strewe om dit in die lewe wat jy nie kan beheer nie, te wil beheer nie.

 

Wanneer die lewe onderstebo raak wil ons weet “hoekom?” Hoekom het hierdie virus gekom? Kan dit nie maar net weggebly het sodat die lewe normaal kan aangaan nie? Hoekom moet ons deur ongeneeslike siektes geteister word. Hoekom moet mense wat nog jonk is doodgaan?

 

Ons wil verstaan waarom die lewe is soos dit is. Die probleem is egter dat ons nie alles kan verstaan nie. In Pred. 8 v 17 sê die Here vir ons:

die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy verstaan nie. Al sê die wyse hy weet, kan hy nie verstaan nie.

 

Hier in Psalm 131 gee Dawid sy reg op om te verstaan. Hy erken dat daar dinge in hierdie lewe is wat hy nie kan beheer nie.

 

Geliefdes, dit is OK om nie alles te verstaan nie. Dit is OK om te aanvaar dat die lewe nie altyd sin maak nie. Wat Dawid hier sê is dat hy God vertrou om sy lewensloop te bepaal. Hy vertrou dat God beter weet al lyk dit nie vir hom of die lewensloop wat God bepaal het, sin maak nie.

 

Hoe het Dawid dit reggekry? Ons hoor in Ps. 131 v 2 Hy het rus en kalmte by God gaan soek.

 

Dit is egter nie 'n passiewe aksie nie. Die 1933/53 OAV gee die betekenis van vers 2 bietjie duideliker weer:

Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak

Dit is 'n aktiewe aksie, maar ons moet dit nie verkeerd verstaan nie. Dit gaan nie hieroor dat jy in eie krag harder moet probeer nie, want as jy dit sou doen sal jy net nog meer onrus en onvrede in jou gemoed veroorsaak omdat jy dit nie gaan regkry nie.

 

Maar hoe moet jy dit dan doen? Dawid gebruik hier Die beeld van 'n moeder se liefde en versorging van haar kind om God se liefde en versorging vir ons te verduidelik.

Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.

 

Die 1933/53 OAV wat 'n meer letterlike vertaling is, gee die betekenis van hierdie beeld nog duideliker deur:

soos ’n gespeende kind by sy moeder, soos ’n gespeende kind is my siel in my.

 

'n Kind wat gespeen is begin nou al bietjie meer onafhanklik raak om die wêreld op sy eie te verken. Wanneer dinge egter te veel vir die kindjie raak, hardloop hy na sy ma toe. Dan gaan dit nie meer vir die kind oor die moedersmelk wat hy by sy ma kan kry nie. Dit gaan oor sy ma as persoon. Wanneer die wêreld te veel raak vir die kind, vind hy rustigheid en kalmte in die arms van sy moeder. Sy is vir hom 'n bron van kalmte en vrede.

 

God is vir Dawid sy bron van kalmte en vrede. Soos 'n kind by sy ma kalmte en vrede soek, moet jy by God kalmte en vrede soek. As jy in Jesus glo, is jy 'n kind van God soos ons in Joh. 1 v 12 hoor:

Maar aan almal wat Jesus aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Die aktiewe aksie wat jy moet doen om by God rus en kalmte te vind, is om te glo dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is en dan moet jy op grond daarvan na God toe kom.

 

Wanneer jy dit doen sal jy vind dat jy in die arms van God nie omgee as die lewe nie is soos wat jy gedink het dit moet wees nie. Jy vind berusting en troos in die arms van God. Dan is die nie jou omstandighede wat bepaal of jy rus en vrede het in die lewe nie. Die teenwoordigheid van God gee vir jou rus en vrede selfs wanneer die wêreld op sy kop staan.

 

Dawid sluit hierdie Psalm af met 'n opdrag om vas te hou aan die rus en vrede wat jy by God vind:

Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.

Wag op die Here, is die sekere wete dat God daar is vir jou, dat Hy vir jou sal sorg hier waar jy nou is, maar ook in die toekoms en veral wanneer jy hierdie lewe verlaat om in ewigheid saam met God te wees waar daar geen hartseer, pyn of dood meer sal wees nie.

 

Vind rus in die arms van God deur jou eie onvermoë te bely en te erken dat jy Hom nodig het. Gee die reg op om alles te wil verstaan in hierdie lewe en plaas jou vertroue op God. Glo dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is, want dit gee vir jou die reg om troos en tevredenheid by God te vind soos wat 'n kindjie by sy moeder tevredenheid vind. Wag met 'n verwagting en hoop wat op God gefokus is.

 

Geliefdes jou omstandighede bepaal nie of jy rus en vrede in hierdie lewe gaan hê nie. Jy vind rus en vrede in die arms van God. Gaan soek jou berusting in die arms van God.

Amen


21 Junie 2020

Die Here is my Herder

Datum: 17 Jun. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Begrafinis Magda Gerard – Pongola diens

Skriflesing: Ps. 23; Joh. 10 v 14 - 15

Teksvers: Ps. 23 v 4

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar:

1) Volledige preek op Facebook - Gereformeerde Kerk Empangeni

2) YouTube (preek alleen)


Die Psalms is 'n baie spesiale gedeelte in die Bybel. Dit kan beskryf word as die geestelike asemhaling van die gelowige. Die intrek van die lewendgewende asem van God se Woord en die uitblaas van jou bekommernisse, vrese en nood.

In hierdie bundel in die Bybel vind ons Psalms wat vir jou iets sê van God se liefde en goedheid vir jou. Wanneer jy Hom wil loof en dank sal jy Psalms vind wat verwoord wat in jou hart is en ook wanneer jy moedeloos, ontsteld, bang of onseker is sal jy vind dat hulle saam met jou huil of kla.

Wanneer jy nie meer woorde het om aan jou gevoelens uitdrukking te gee nie, sal jy 'n Psalm vind wat jou gedagtes in woorde stel waarmee jy in gebed na God toe kan gaan.

Psalm 23 gebruik die beeld van God as Herder om die verhouding tussen 'n gelowige en God uit te beeld. Dit is seker een van die bekendste gedeeltes in die Bybel en dwarsdeur die eeue het gelowiges troos en vrede daarin gevind.

Wanneer jy na hierdie Psalm luister, hoor jy as te ware Jesus se stem wanneer Hy sê: “Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.”

Wat leer ons van die Here as ons Herder in hierdie Psalm? Hy is 'n Herder wat sy skape versorg en omgee vir hulle. Hy voed en beskerm hulle. Hy werk hard om hul welsyn te verseker. In Joh. 10 Hoor ons dat Jesus die Herder is in Psalm 23 en dat Hy sy lewe vir sy skape aflê.

Wie is sy skape? Elkeen wat glo dat Jesus Christus sy lewe vir hom of haar afgelê het. Elkeen wat glo dat Jesus sy of haar Verlosser en Saligmaker is kan aan die troos wat God in hierdie Psalm gee, vashou. Is die Here jou Herder? Is jy een van sy skape? Glo jy dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is?

Psalm 23 verwoord hoe dit voel wanneer Jesus jou onder sy sorg neem. Die troos in hierdie Psalm is, dat jy nie alleen is nie, veral nie wanneer jy deur donker dieptes moet gaan nie.

Psalm 23 is 'n kort Psalm, net 6 verse lank tog is die inhoud daarvan gevul met soveel rykdom dat dit byna onmoontlik is om dit alles in een preek te verwoord. Ons fokus vandag in hierdie Psalm is vers 4.

Ps. 23 v 4 NAV

Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie,

want U is by my. In u hande is ek veilig.

Ps. 23 v 4 OAV

Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

In vers 3 hoor ons: “Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.” Hierdie paaie neem sy skape na die rus van groen weivelde en die vrede van stil waters en dit gee vir hulle nuwe krag vir die pad vorentoe.

Maar dan hoor ons ook in vers 4 dat die pad ook deur die vallei van donker dieptes en doodskaduwee gaan. Dit is nie 'n fout dat ons daardeur gaan nie. Dit is deel van die regte paaie waarop ons Here ons lei. Jesus bevestig dit in Joh. 16 v 33 wanneer Hy sê: In die wêreld sal julle dit moeilik hê”

Om by die finale rusplek van groen weivelde en waters waar daar rus is te kom moet ons deur die dal van doodskaduwee gaan. Die troos wat die Here vir ons gee is dat ons nie alleen daardeur gaan nie want Hy is by ons.

Terwyl ons in hierdie wêreld is, is ons in die land van dood wat deur die sondeval en die nagevolge daarvan veroorsaak is. In hierdie lewe is daar hartseer, pyn en lyding.

Die donker vallei van doodskaduwee is egter nie iets waarvoor ons bang hoef te wees, want dit is juis die plek waar jy God se teenwoordigheid in jou lewe die beste ervaar.

Die troos wat die Psalmdigter vir ons verwoord “u stok en u staf dié vertroos my” gee vir jou die versekering dat jy veilig is in die Here se hande. Die skaapwagters van die Bybelse tyd het 'n stewige stok as wapen gehad om roofdiere mee te beveg en sy staf het hy gebruik om die skape op die veilige pad te hou.

Aan die ander kant van hierdie donker vallei is die poort na groen weivelde en waters waar rus is waar ons as eregaste gaan aansit by 'n feesmaal waar die Here ons met hartlikheid gaan oorlaai. Daar waar die goedheid en die liefde van ons Here vir altyd by ons sal wees in sy ewige tuiste.

Open. 21 v 3 en 4 gee vir ons so 'n klein kyktjie van hoe in God se ewige woning dit sal wees:

Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Dit is net die Here wat jou kan vergesel op hierdie pad na die deurgang van die ewige heerlikheid saam met God. Jesus het belowe dat Hy ons nie as weeskinders sal agterlaat wanneer Hy na die hemel opgevaar het nie. Hy het die Heilige Gees in sy plek as Trooster gestuur om ons te lei op die pad.

Op die uiteinde is dit God Drie-Enig wat jou vergesel op hierdie pad deur die donker vallei van doodskaduwee. God die Vader het sy Seun gestuur as offer aan die kruis om versoening vir ons sondes te doen.

Die Heilige Gees gee vir jou geloof om vas te hou aan die soenoffer van Jesus Christus. Jy moet dit in geloof aanvaar. Glo jy in Jesus Christus? As jy glo, kan jy vir seker weet dat God saam met jou is en jou nie alleen sal laat nie.

As die Ewige Lewende God wat die hemel en die aarde geskep het saam met jou die pad stap, vir wie of wat sal jy bang wees? Jesus het belowe dat daar nie 'n haar van jou hoof af sal val as God dit nie gewil het nie. Daar is niks wat jou van die liefde van God kan skei nie.

Die Here gee vandag vir ons wat nog op pad is deur die donker vallei van doodskaduwee as troos deur hierdie Psalm. Niemand weet hoe ver die pad nog is nie, maar ons weet vir seker dat ons nie alleen is op hierdie pad nie.

Geliefdes moenie bang wees vir die pad wat voorlê nie. Daar gaan tye wees waar dit moeilik gaan wees. Daar gaan dae wees wanneer dit gaan voel of jy nie kans sien om aan te gaan nie.

Jesus het ons gewaarsku dat hierdie lewe moeilik is, maar Hy gee ook die troos dat Hy hierdie wêreld klaar oorwin het. Jy is nie alleen wanneer jy deur die donker dieptes gaan nie.

Wanneer jy deur donker dieptes gaan, soek rus by die Here sodat Hy vir jou nuwe krag vir die pad vorentoe kan gee. Weet dat jy nie alleen sal wees nie. 

Die Here is jou Herder.

Amen