Wys tans plasings met die etiket Mat 6:24-34. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Mat 6:24-34. Wys alle plasings

12 Julie 2020

Moenie jouself bekommer nie

Datum: 12 Jul 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Mat. 6 v 24 - 34

Teksvers: Mat. 6 v 31


Hierdie preek is ook in video formaat beskikbaar:


1) Facebook - volle erediens

2) YouTube - preek alleen

2020 is voorwaar 'n deurmekaar jaar. Die impak van hierdie Covid19 virus beïnvloed ons almal negatief. Ekonome beraam dat ons ekonomie met tot soveel as 10% kan inkrimp en dat dit 'n hele paar jaar kan neem om te herstel. En dan is daar ook die bekommernis oor wat gaan gebeur as jy geïnfekteer word met die virus? En hiermee saam al die ander dinge in ons lewens wat negatief geraak word.

Maak die gebeure rondom Covid19 jou bekommerd? Bekommernis kan jou lamlê! Bekommernis bewerk 'n onrus in jou gemoed en dit steel jou lewensvreugde.

Die fokus van hierdie teksgedeelte is: “Moenie jouself bekommer nie!” Jesus sê hier dit 5 keer vir ons:

ð Vers 25: “... moet julle nie bekommer....”

ð Vers 27 “.... wie van julle kan deur hom te bekommer ....”

ð Vers 28 “.... wat bekommer julle julle....”

ð Vers 31 “Julle moet julle dus nie bekommer ......”

ð Vers 34 “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, ....”

Die groot rede vir die oorsaak vir die bekommernis in hierdie teksgedeelte is geld of eerder 'n gebrek aan geld. Daar is ook ander redes waarom jy jouself kan bekommer en die beginsel wat Jesus hier gee hoe om jouself daarvan te bevry kan ook daarop van toepassing gemaak word.

In Mat. 6 v 24 druk Jesus sy vinger op die oorsaak van kommer:

“Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

Dit kom daarop neer dat jy jou vertroue in iets anders as God stel om vir jou te sorg en vir jou sekuriteit te gee. Moenie van rykdom 'n afgod maak nie.

In Mat. 6 v 25 antwoord Jesus die eerste beswaar wat opkom, naamlik: “Maar ons het tog geld nodig om in ons lewensbehoeftes te kan voorsien.” Jesus se teenargument is dat daar baie meer aan die lewe is as net jou fisiese daaglikse behoeftes.

Dan spreek Hy in Mat. 6 v 26 die volgende argument aan wat vra: “Moet ons dan nou maar Gods water oor Gods akker laat loop? Moet ons dus nou maar net terugsit, want God gaan mos vir ons sorg?” Jesus gebruik hier die voorbeeld van hoe God vir die wilde voëls sorg. Hulle het nie opgehoopte voorrade om op terug te val nie, maar God sorg steeds vir hulle.

Dit is egter belangrik dat ons moet raak sien dat die voëls nie maar net terugsit sonder om iets te doen nie. Die wurmpies en sade kom nie na hulle toe aangeloop nie. Hulle moet nog steeds uitgaan om kos te soek. Die beginsel hier is dat jy moet doen wat jy kan doen en jou verantwoordelikhede nakom. Jy moet doen wat binne jou vermoë is met die vertroue dat God dit wat jy doen sal seën en dat Hy daardeur vir jou sal voorsien.

In Mat. 6 v 27 verduidelik Jesus waarom dit nutteloos is om jou te bekommer:

“Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?”

Bekommernis gaan niks aan die saak verander nie! Bekommernis is soos om op 'n rystoel te sit en ry. Jy beweeg heeltyd, maar jy kom nêrens nie.

In Mat. 6 v 28 – 30 beklemtoon Jesus dat God vir ons sal sorg omdat Hy omgee, want ons is vir Hom kosbaar. Jesus lig hier ook die kern van die probleem uit waarom ons, ons bekommer. Hy sluit sy argument hier af met: “... julle kleingelowiges.” Ongeloof is die probleem. 'n Gebrek aan geloofsvertroue dat God sal sorg.

In Mat. 6 v 31 tot 33 verduidelik Jesus hoe ons van bekommernis bevry kan word. In verse 31 en 32 hoor ons wat die verskil maak:

“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.

'n Ongelowige het niemand behalwe homself om op staat te maak nie. 

Hy sê dus hier vir ons: “Moenie soos die ongelowiges maak nie.” Bekommernis is vir jou 'n teken dat jy nie ten volle op God vertrou nie.

In Mat. 6 v 33 verduidelik Jesus wat die oplossing vir die probleem is:

Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Hoe beywer jy jouself vir die Koninkryk van God? Voor ons die antwoord op hierdie vraag soek, moet ons, onsself net weer herinner wat die Koninkryk van God is. Dit is alles wat God geskep het. Die fisiese wêreld waarin ons leef, naamlik die aarde en die hele heelal waarvan die aarde deel is. Dit sluit ook die geestelike wêreld van ons denke in. Dit wil sê dit behels jou hele lewe, alles wat jy doen en dink.

Nou terug na die vraag: “Hoe beywer jy jouself vir die Koninkryk van God?” Jy begin deur die erken dat net God die Koning is en dat Hy alleen regeer in sy Koninkryk. Verder dat Hy jou Vader is wat vir jou sorg omdat Jesus vir jou sonde aan 'n vervloekte kruishout gesterf het en dat jy glo dat dit vir jou waar is. Jy moet in Jesus Christus as jou enigste Verlosser en Saligmaker glo.

Omdat jy die voorreg het om God jou Vader te noem, het jy ook die versekering dat Hy vir jou sal sorg en dat Hy vir jou alles sal gee wat jy nodig het. Dit is egter belangrik om te onthou dat dit wat jy wil hê nie noodwendig ooreenstem met dit wat jy nodig het nie. God weet wat jy nodig het en Hy sal dit vir jou gee.

Hierdie teksgedeelte sluit af met die beginsel dat jy dag vir dag die pad saam met God moet stap met die vertroue dat Hy vir jou sal sorg. Ons is dikwels so bekommerd oor wat môre, oormôre en volgende maand gaan gebeur dat ons nie raaksien hoe God vandag vir ons sorg nie. Hier in Mat. 6 v 34 sê Jesus vir ons om nie die bobbejaan agter die bult te gaan uithaal nie.

Geliefdes, hierdie pandemie skep 'n donker prentjie en as jy toelaat dat dit jou met bekommernis vul, gaan daardie bekommernis jou lewensvreugde steel. Kom jou verantwoordelikhede na. Doen wat jy moet doen en beywer jou vir die Koninkryk van God sodat jy bevry kan word van bekommernisse wat jou lewe versuur. 

Moenie jouself bekommer nie, want God sal vir jou sorg.

Amen