Teks: Mat. 6:19-34
Teksvers: Mat. 6:33
Inleiding
Ons staan aan die begin van ’n nuwe jaar wat
voor ons uitgestrek lê. Voordat die jaar volspoed begin weghardloop is dit goed
dat ons net so bietjie stilstaan en perspektief kry. Wat gaan 2026 vir ons
inhou? Wat is dit wat die lewe die moeite werd maak? Wat is dit wat vir jou
ware geluk in die jaar wat voorlê gaan gee?
In ons teks gee die Here vir ons goeie
riglyne om ons daarmee te help sodat ons perspektief kan kry oor wat belangrik is
en waar ons ons prioriteite behoort te stel. Ons leef in ’n wêreld wat baie
klem op rykdom besittings stel en dit kan ons so maklik op die dwaalspoor plaas
om ons prioriteite op die verkeerde plek te plaas. Een van die geliefkoosde
leuens van die ou duiwel wat ons tog so graag wil glo, is: “As jy net eers ’n miljoenêr
is, gaan jy baie gelukkig wees!”
Jesus waarsku ons
daarteen:
“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar mot en roes
verniel, en waar diewe inbreek en steel. Maar maak vir julle skatte in
die hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie
inbreek en steel nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”
Dan gebruik Hy die beeld van ’n oog wat
verkeerd kyk om nog verder te waarsku teen ’n verkeerde fokus. Verkeerde fokus
veroorsaak “donker” in jou lewe en dit lei tot verdeelde lojaliteit soos ons
hoor in
Mat. 6:24.
“Niemand
kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf
hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én
Mammon dien nie.”
Met ander woorde, dit lei tot ’n lewe wat nie
op God gefokus is nie en dit lei tot ’n lewe vol onsekerhede en kommer wat jou
lewensvreugde steel en wat inderdaad die lewe vir jou “donker” gaan maak.
Geliefdes waar ons hier aan die begin van ’n nuwe
jaar staan moet ons seker maak dat dit nie vir ons ook ’n “donker” jaar gaan
wees nie. In ons teks sê Jesus vir ons wat dit is wat die jaar vir ons “donker”
kan maak? Bekommernisse. Bekommernisse oor hoe ons vir onsself gaan sorg. Bekommernisse
omdat ons onseker is oor die toekoms.
Jesus sê nie hier vir ons dat ons nie moet
werk of voorsiening moet maak of verantwoordelikheid moet neem nie. Nee, die
kernvraag wat Hy hier aanspreek is die vraag: “wie regeer jou lewe?” Is dit
God, of is dit bekommernisse? Jesus spreek hier ’n hart aan wat God se plek met
wêreldse dinge wil volmaak.
Verder verduidelik Jesus ook hier wat se
nadelige gevolge bekommernisse op jou lewe het. Dit lei jou van God af weg omdat
dit jou geloof ondermyn en Hy beklemtoon hoe nutteloos kommer is. “Trouens,
wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?”
Bekommernis verander niks nie. Dit is soos om
op ’n rystoel te ry. Jy beweeg, maar jy kom nêrens nie. Dit steel jou
lewensvreugde en dit verlam jou. Dit maak inderdaad die lewe vir jou “donker”!
Jesus beklemtoon hier dat ons ons vertroue op
ons hemelse Vader moet stel, want Hy sal vir ons sorg net soos Hy in die
verlede gesorg het.
Die vraag is: “Hoe kom jy vry van die bekommernisse
wat jou so lamlê in die lewe?” Jesus gee vir ons die antwoord: “soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en
al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
Hierin lê die geheim oor wat 2026 vir ons die
moeite werd sal maak. Maar om te verstaan wat Jesus hier vir ons sê, moet ons
net kortliks stilstaan by wat die Koninkryk van God is. God se Koninkryk is nie
primêr ’n plek nie, maar God se heerskappy oor elke aspek van die lewe.
Sy Koninkryk het in Jesus Christus sigbaar
geword. Met Jesus wat Mens geword het, het dit naby gekom. Satan se mag is
gebreek en verlossing het ’n werklikheid geword, maar dit is nog nie volledig
hier nie. Die wêreld is nog gebroke en sonde en lyding is nog teenwoordig.
Wanneer Jesus weer kom gaan die sonde, lyding, swaarkry en dood finaal
vernietig word en die Koninkryk van God gaan perfek wees soos Hy dit van die
begin af beplan.
Wat is God se geregtigheid? Dit is om in ’n regte
verhouding met God en volgens sy wil te leef.
Die volgende vraag is: “Hoe soek ons die
koninkryk van God en sy geregtigheid?” Die antwoord is heel eenvoudig. Deur
geloof en bekering soos ons byvoorbeeld in Mar. 1:15 hoor: “Die bestemde tyd
is vervul, en die koninkryk van God is op hande. Bekeer julle en glo die
evangelie.”
Erken dat jy ’n verlore sondaar is en glo dat
Christus die prys betaal het sodat jy met God versoen kan word. Jesus se
geregtigheid word ons sin omdat Hy die prys betaal het wat ons nie kon nie. Ons
kry deel daarin deur dit met geloof vas te gryp. Eenvoudig gestel: “Glo dat Jesus
Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker is.”
Nou dat ons weet wat die Koninkryk van God en
sy geregtigheid is en hoe ons daarin kan deel is die volgende vraag: “Hoe doen
ons dit prakties? Wat presies moet mens doen om eers die koninkryk van God en
sy geregtigheid te soek?”
U In
Mat. 5:3 sê Jesus: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Met ander woorde, jy
moet weet dat as God nie deel is van jou lewe nie, dan is die lewe inderdaad
“donker”.
U In
Mat. 5:4 sê Jesus: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.”
Met ander woorde, Soek God se geregtigheid deur sy troos en herstel te ontvang.
U In
Mat. 5:5 sê Jesus: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe
aarde ontvang.” Met ander woorde, Koninkryk soekers vertrou op God se
heerskappy, nie op eie krag nie.
U In
Mat. 5:6 sê Jesus: “Gelukkig is dié wat honger en dors na geregtigheid, want
hulle sal versadig word.” Met ander woorde Stel jouself in op God se
geregtigheid en beywer jouself daarvoor.
U In
Mat. 5:7 sê Jesus: “Salig is die barmhartiges...” Met ander woorde, soek
die koninkryk deur barmhartigheid en liefde in praktyk uit te leef.
U In
Mat. 5:8 sê Jesus: “Salig is die rein van hart…” Met ander woorde, sorg
dat jou fokus onverdeeld op God gerig is.
U In
Mat. 5:9 sê Jesus: “Salig is die vredemakers…” Met ander woorde, Koninkryk
soekers werk aktief aan vrede en versoening.
U In
Mat. 5:10-11 sê Jesus: “Salig is die wat vervolg word ter wille van
geregtigheid…” Met ander woorde, soek die koninkryk beteken volharding,
selfs onder teenstand, omdat die beloning in die hemel is.”
In Mat. 5:3-11 hoor ons wat die waardes en
die karakter van die Koninkryk is en in Mat. 6:33 gee Jesus vir ons die opdrag
om dit bo alles te soek en te prioritiseer.
Wat moet ons prioriteit wees vir die nuwe
jaar wat voorlê? Soek jou identiteit daarin om ’n koninkryksmens te wees deur
God bo alles in jou lewe te soek en op Hom alleen te vertrou. Gee jou
bekommernisse vir Hom. Maak tyd vir Hom in jou lewe. Maak tyd om na Hom te
luister deur Bybel te lees, eredienste en Bybelstudies by te woon. Praat met
God deur gebed.
Gaan 2026 in met die volle vertroue dat daar waar
jy jou aan God heerskappy onderwerp, dat kommer sy mag verloor. Leef daarom in
gehoorsame vertroue saam met God in die wete dat vandag se genade genoeg is.
Amen

