05 Julie 2020

Tema: - Hoe lank nog? Het God my vergeet?

Tema: - Hoe lank nog? Het God my vergeet?

Datum: 5 Jul 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Psalm 13    Teksvers: Ps. 13 v 6

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar:

1) Volle erediens Gereformeerde Kerk Empangeni se facebook-blad

2) Preek alleen  Gereformeerde Kerk Empangeni YouTube kanaal


Dit is nou meer as 100 dae sedert die inperking begin het. In hierdie tyd is daar met reg baie gefokus op die praktiese aspekte van hierdie pandemie. Daar is regulasies oor wanneer jy mag uitgaan en wat jy moet doen om jouself veilig te hou. Daar is regulasies oor watter besighede mag oop wees en ook hoe die interaksie tussen mense moet wees. Ons hoor daagliks die statistiek van hoeveel nuwe gevalle aangemeld is, hoeveel sterftes daar was en hoeveel mense weer gesond geword het.

Een aspek is egter so bietjie op die agtergrond geplaas en het nie eintlik aandag gekry nie. Van die regulasies het dit in die begin ook inderdaad moeilik gemaak om hieraan aandag te gee. Dit is die geestesgesondheids-aspek hiervan. Die gemoedstoestand van mense en hoe hierdie gebeure die mense se gemoedstemming beïnvloed.

En tog is dit iets waaraan aandag gegee moet word. Mense voel bekommerd, moeg, uitgeput, hartseer en hulle sukkel om hierdie situasie te verwerk.

Voel dit vir jou ook of jy saam met die Psalmdigter wil uitroep: “Hoe lank nog Here? Hoe lank gaan U my nog bly vergeet?” Raak u ook soms moedeloos.  

Ons hoor hier in Ps. 13 v 2 & 3 hoe worstel die Psalmdigter met sy nood wat hy ervaar:

Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd?

Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?

Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?

Hy kyk hier teen sy huidige omstandighede vas en dit maak hom moedeloos en benoud. Dit voel vir hom of die Here van hom vergeet het.

Ons word so bombardeer met die feite van hierdie pandemie dat dit naderhand ons hele gemoed oorheers. Die bekommernis oor hoe dit ons nadelig raak. Die benoudheid oor wat sal gebeur as ons ook siek word kan ons lamlê. As ons net teen ons huidige situasie en omstandighede vaskyk lyk die prentjie inderdaad donker en loop ons die gevaar om van ons Vader se liefde en sorg vir ons te vergeet..

In Ps. 13 v 4 & 5 hoor ons die Psalmdigter se angstige versoeke:

Luister tog en antwoord my, Here my God!

Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe nie,

anders sê my vyand hy het my oorwin en juig my verdrukkers

oor my ondergang.

Ons hoor die Psalmdigter se benoudheid in hierdie angstige versoeke aan die Here en hoe hy vir sy lewe vrees.

Die Psalm eindig egter totaal anders as wat dit begin het:

Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee,

juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here,

omdat Hy aan my goed gedoen het.

Waar die eerste deel gevul is met wanhoop en benoudheid, eindig dit vol verwagting.

Die verskil wat hier inkom is omdat die Psalmdigter nou anders kyk na sy omstandighede. Terwyl hy hom blind gestaar het teen sy eie nood, het hy net 'n hopelose donkerte raakgesien.

Hoe kyk jy na jou huidige omstandighede? Sien jy ook net die hopeloosheid en donkerte raak?

Die verskil wat hier by die Psalmdigter ingetree het, is omdat hy nou wyer as net na sy huidige omstandighede begin kyk het. Hy het God se sorg en liefde in sy verlede raakgesien en dit het hom in staat gestel om aan God se liefde vas te hou.

Wanneer ons terugkyk na God se sorg en liefde in die verlede het ons 'n voordeel bo die Psalmdigter. Ons sien baie beter hoe groot God se liefde werklik is.

1 Joh. 4 v 9 & 10:

Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Jesus het sy lewe vir jou afgelê. Sal Hy jou nou in die steek laat?

Vir die Psalmdigter het die verskil ingekom toe hy God se teenwoordigheid in sy lewe begin raaksien het en dit het hom anders na sy huidige situasie laat kyk. Dit het vir hom die vertroue gegee dat God hom nie vergeet het nie en dat Hy net soos wat Hy in die verlede uitkoms gegee het, nou ook uitkoms sal gee. Die verskil is geloofsvertroue in God.

Hoe kry jy dit reg om verby jou huidige situasie te kyk na die groter prentjie van God se liefde vir jou? Dit verg geloof. In die meeste gevalle is dit nie net 'n groot geloofssprong nie. Dis eerder klein geloofstreetjies na God toe. Soms selfs klein wankelende geloofstreetjies.

Kom in gebed na God toe en moenie skaam wees om die nood en bekommernis wat in jou hart is teenoor God uit te stort nie. Word stil in die teenwoordigheid van God se liefde en dink na aan sy groot liefde vir jou. Dink na aan hoe kosbaar jy vir God is en hoeveel Hy vir jou omgee.

Dit sal jou help om jou fokus weg te draai van die onmiddellike van die beproewings wat jou nou in die gestig staar. Dit sal jou help om op God te fokus wat nog heeltyd saam met jou op jou lewenspad was. Dit sal jou help om raak te sien dat God nog altyd daar was selfs al het jy dit nie altyd raak gesien nie.

Dawid se omstandighede het nie hier verander nie. Dit wat hom so benoud gemaak het, was nog altyd daar. Wat wel verander het is Dawid se perspektief op die situasie. Hy het raakgesien wie saam met hom in sy situasie was.

Dikwels is ons so besig om te fokus op die waaroms en hoekoms van ons omstandighede dat ons nie raaksien wie saam met ons in die omstandighede is nie.

Wanneer jy net op die nood en benoudheid van jou omstandighede fokus kan dit maklik jou liefde vir jou Verlosser steel. Gaan jy net na jou emosies van benoudheid en kommer luister of gaan jy in vertroue verby dit kyk na God se teenwoordigheid in jou lewe?

Wanneer jy op pad is na 'n bestemming, gee jy nie net een reusesprong van begin tot einde nie. Elke reis begin met die eerste tree wat jy gee. Die eerste tree van jou geloofspad saam met God is om te glo dat Hy jou so liefhet, dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat jy nie verlore sal gaan nie. Dis om te glo dat Jesus sy lewe neergelê het vir jou. Dis om te glo dat Jesus die dood oorwin en dat Hy daarom vir jou die ewige lewe gee.

Op jou lewenspad saam met God gaan die pad soms gelyk wees met mooiweer waar jy gemaklik sonder moeite kan stap. Moenie vergeet dat God langs jou is nie.

Die pad gaan soms ook moeilik wees met onweersomstandighede waar jy maar net klein wankelrige treetjies kan gee. Moenie vergeet dat God langs jou is nie. Moenie net teen die moeilike ongelyke pad vaskyk nie want God is hier langs jou. Wanneer die pad te moeilik raak, vertel vir God daarvan, maar onthou ook hoe Hy jou in die verlede gedra het toe die pad te moeilik geraak het, met die vaste vertroue dat Hy jou ook nou sal dra wanneer jy nie meer kan nie. 

Moenie jou net blind staar teen jou huidige omstandighede nie. Sien dit raak teen die wyer omstandighede van God se liefde en sorg vir jou. Wanneer jy stil word na die dag se gewoel, dink daaraan terug hoe God jou ook deur hierdie dag gedra het en dank Hom daarvoor met 'n loflied in die hart.

Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking