19 Julie 2020

Bring jou sorge en laste na Jesus toe

Datum: 19 Jul. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Mat. 11 v 25 - 30

Teksvers: Mat. 11 v 28

 

Hierdie preek is ook in video formaat beskikbaar:

1) Facebook - volle erediens

2) Youtube - Net die preek

Raak die lewe soms te veel? Hierdie jaar is voorwaar 'n jaar wat vol uitdagings is wat ons baie beproef. Elkeen van ons word op 'n mindere of meerdere mate negatief geraak. Mense probeer dit op verskillende maniere hanteer, maar dit is nie altyd effektief nie.

 Hoe hanteer jy die uitdagings wat hier buite vir ons lê en wag? Wens jy ook dat dinge maar net weer na normaal toe moet terug keer? Die probleem is egter dat selfs die sogenaamde normaal ook nie altyd so lekker is nie.

 Selfs sonder hierdie pandemie is die lewe steeds vol uitdagings. Mense word nog steeds siek van ongeneeslike siektes en gaan dood. Die lewe is steeds so vol gejaagdheid dat dit ons uitput en oorlaai. Daar is steeds die bekommernis oor finansies en begrotings wat nie altyd wil klop nie.

 Hoe kan ons die uitdagings van die lewe in die oë kyk sonder om oorweldig te word? Die Here antwoord die vraag hier in ons teksgedeelte.

 Mat. 11 v 25 begin waar Jesus sy Vader prys oor die groot verlossings wat Hy bewerk het. Die groot rede vir al die stres en uitputting in die lewe is omdat die mens van God vervreem is. God het die mens geskep met die doel om Hom te ken en in 'n verhouding saam met Hom te leef. Dit is alles verwoes toe Adam en Eva in opstand teen God gekom het en daardie opstand leef vandag nog in ons harte

 Die rebelse opstand teen God het die mens bang vir God gemaak en daarom het Adam en Eva weggekruip toe hulle God hoor nader kom het. Een van die mees vertroostende boodskappe in die Bybel, is God se reaksie op dit. Hy het Adam en Eva nie aan hul eie lot oorgelaat nie. In plaas van verwerping reik God met liefde uit soos ons in Gen. 3 v 8 hoor: Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”!

Dwarsdeur die eeue roep God na die mens: “Waar is jy?” en daarom het God die Vader sy Seun gestuur om versoening tussen God en die mense te bewerk. Die troos is dat dit vir alle mense is wat dit aanvaar. Jy hoef nie slim en belangrik te wees nie. Inteendeel indien jy jouself slim en belangrik ag, gaan jy nie by God uitkom nie. Jy hoef nie iets te doen om dit te verdien nie. Al wat jy nodig het is om te besef hoe afhanklik jy van God is.

Dan verduidelik Jesus in Mat. 11 v 26 & 27 dat Jesus die enigste manier is om tot God te nader. Dit is in die lig hiervan dat Jesus sy uitnodiging in Mat. 11 v 28 rig:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”

 Dit is 'n uitnodiging aan mense wat besef hoe afhanklik hulle van God is. Dis 'n uitnodiging aan die elkeen wat erken: “Here ek kom na U toe omdat ek nie meer weet watter kant toe nie.” 


Dis 'n uitnodiging vir die mense aan wie Jesus in die bergrede met sy saligsprekinge rig: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

 Dis 'n uitnodiging vir jou om rus vir jou siel in die teenwoordigheid van God te vind. Met hierdie uitnodiging vra God vir jou ook: “Waar is jy?” God wil deel van jou lewe wees. Die wêreld met al sy probleme, hartseer en pyn raak te veel wanneer jy dit alleen moet trotseer. In hierdie uitnodiging sê Jesus vir jou dat jy nie nodig het om die lewe alleen aan te durf nie.

 Die rede waarom mense, en selfs gelowiges nog steeds ver van God is, is omdat hulle 'n verkeerde verstaan het van wie God is en wat nodig is om tot Hom te nader. Die persepsie bestaan dat dit moeilik is om tot God te nader omdat jy vir God moet bewys dat jy goed genoeg is vir Hom.

 Sommige mense probeer om deur middel van 'n “goeie lewe” tot God te nader en dit kan daartoe lei dat jy naderhand dink dat jy verdien om tot God te nader. Dit is die eiegeregtige mense soos die Fariseërs ook in die Nuwe Testamentiese tyd was. Hoeveel Christene trap nie ook in hierdie slaggat nie?

 Ander sien net nie kans daarvoor nie omdat dit naderhand net te veel word en daarom hou hulle op om te probeer. Hoeveel mense is daar nie wat in Christin huise groot geword het, maar wat nou van God en die kerk af weggeraak het?

 Hoe dit ook al sy, die uiteinde is dat hulle ver van God af is. Wanneer dit goed gaan kom hulle nie agter dat hulle 'n probleem het nie. Wanneer die lewe egter moeilik raak, word hulle oorweldig omdat hulle ver van God is. Dit maak dat mense uitgeput en oorlaai voel omdat God nie werklik deel is van hul lewens nie.

 Soms gebeur dit ook dat die probleme jou so oorweldig dat jy soos Petrus naderhand net die reuse golwe en stormwind raaksien omdat jy jou oë van Jesus weggedraai het. Sink jy ook in die golwe weg soos Petrus?

 

Geliefdes, voel jy vandag uitgeput en oorlaai? Hoor jy God se roepstem waar Hy vir jou roep: “Waar is jy?” Luister na Jesus se uitnodiging: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”

Dit is nie moeilik om hierdie uitnodiging van Jesus aan te neem nie. Hoor wat sê Hy nog hiermee saam: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Kom na Jesus toe. Glo dat Hy gekom het en sy kruisoffer gebring het sodat jy tot God as jou Vader mag nader. Leer wie Hy werklik is. Nie 'n kwaai God vol van oordeel en straf nie. Nee, Hy is sagmoedig, nederig en vol genade. Hy wat God is, het ter wille van jou 'n nederige mens geword en Hy bring rus vir jou gemoed.

 Jy hoef nie die lewe en al sy hartseer en probleme alleen aan te durf nie. Bring jou sorge en laste na Jesus toe. Hy SAL vir jou rus gee. Jy is nie alleen nie. God is by jou en Hy sal jou nie in die steek laat nie.

Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking