Datum: 28 Jun. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds.
George van der Walt
Skriflesing: Psalm 131
Teksvers: Ps. 131 v 2
Die preek is ook in video formaat beskikbaar:
1) facebook - Volle erediens
2) YouTube - Preek alleen
Ons staan nou in die middel van 2020 en hierdie jaar
bevestig net weereens dat die lewe soms op sy kop kan staan en die einde is nog
nie in sig nie. Die virus infeksie koers is nog steeds besig om te styg en is
nou al meer as 6 000 gevalle per dag. Die nuus op ekonomiese front lyk al
hoe donkerder en die beperkings op ons lewens werk op ons gemoed.
Uit mense se praat en reaksies kom jy agter dat daar baie
woede, ontevredenheid, verwarring, angstigheid en selfs depressie by mense
voorkom. Hoe voel jy oor die saak? Tot watter mate beïnvloed ons huidige
situasie jou lewensperspektief?
Die Here gee vandag vir ons Psalm 131 om ons te help om
die onstuimigheid in ons gemoed tot ruste te bring. Dit is 'n Psalm met 'n lewensveranderende
perspektief wat in 'n baie klein pakkie verpak is. Die Psalm is maar drie verse
lank, een van die kortste Psalms, maar die inhoud daarvan is groot. Die Here
gee vandag vir ons hierdie kort Psalm om die onrus in ons gemoed stil te maak, om
stilte en gemoedsrus in sy arms te vind.
Dawid begin hierdie Psalm met die grootste bron van onrus
in die mens se gemoed. Die eie ek en selfbelangrikheid:
Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here.
Hy bely hier dat hy maar net 'n nietige mens is wat God
se sorg in sy lewe nodig het. Om rustigheid in jou lewe te vind, is dit nodig
dat jy verby jouself moet kyk. Om heeltyd mense te moet oortuig hoe belangrik
jy in die lewe is, bring baie onrus in jou gemoed. Om gemoedsrus te vind is dit
nodig dat jy van jouself af moet wegdraai.
Dit beteken egter nie, dat jy nie belangrik is nie. Jy is
vir God kosbaar. Hy het jou so lief dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié
wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Daarom
doen God ook moeite met jou. Daarom wil Hy hê dat jy die fokus van jouself af
moet draai na Hom toe sodat Hy uit sy genade vir jou rus en stilte in jou lewe
kan gee.
Dit eers wanneer jy besef dat jy God se sorg nodig het
dat jy werklik rus en stilte in sy arms kan vind.
Dan gaan Dawid aan na die tweede bron van onrus, die
strewe om alles in jou lewe self te beheer.
Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,
dinge wat bo my vermoë is.
Een van die groot redes wat onrus in jou gemoed bring is
die strewe om dit in die lewe wat jy nie kan beheer nie, te wil beheer nie.
Wanneer die lewe onderstebo raak wil ons weet “hoekom?” Hoekom
het hierdie virus gekom? Kan dit nie maar net weggebly het sodat die lewe
normaal kan aangaan nie? Hoekom moet ons deur ongeneeslike siektes geteister
word. Hoekom moet mense wat nog jonk is doodgaan?
Ons wil verstaan waarom die lewe is soos dit is. Die
probleem is egter dat ons nie alles kan verstaan nie. In Pred. 8 v 17 sê die Here
vir ons:
die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur,
te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy verstaan nie. Al sê die
wyse hy weet, kan hy nie verstaan nie.
Hier in Psalm 131 gee Dawid sy reg op om te verstaan. Hy
erken dat daar dinge in hierdie lewe is wat hy nie kan beheer nie.
Geliefdes, dit is OK om nie alles te verstaan nie. Dit is
OK om te aanvaar dat die lewe nie altyd sin maak nie. Wat Dawid hier sê is dat
hy God vertrou om sy lewensloop te bepaal. Hy vertrou dat God beter weet al lyk
dit nie vir hom of die lewensloop wat God bepaal het, sin maak nie.
Hoe het Dawid dit reggekry? Ons hoor in Ps. 131 v 2 Hy
het rus en kalmte by God gaan soek.
Dit is egter nie 'n passiewe aksie nie. Die 1933/53 OAV
gee die betekenis van vers 2 bietjie duideliker weer:
Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en
stilgemaak
Dit is 'n aktiewe aksie, maar ons moet dit nie verkeerd
verstaan nie. Dit gaan nie hieroor dat jy in eie krag harder moet probeer nie,
want as jy dit sou doen sal jy net nog meer onrus en onvrede in jou gemoed
veroorsaak omdat jy dit nie gaan regkry nie.
Maar hoe moet jy dit dan doen? Dawid gebruik hier Die beeld
van 'n moeder se liefde en versorging van haar kind om God se liefde en
versorging vir ons te verduidelik.
Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het,
so het ek tevredenheid gevind.
Die 1933/53 OAV wat 'n meer letterlike vertaling is, gee
die betekenis van hierdie beeld nog duideliker deur:
soos ’n gespeende kind by sy moeder, soos ’n gespeende
kind is my siel in my.
'n Kind wat gespeen is begin nou al bietjie meer
onafhanklik raak om die wêreld op sy eie te verken. Wanneer dinge egter te veel
vir die kindjie raak, hardloop hy na sy ma toe. Dan gaan dit nie meer vir die
kind oor die moedersmelk wat hy by sy ma kan kry nie. Dit gaan oor sy ma as
persoon. Wanneer die wêreld te veel raak vir die kind, vind hy rustigheid en
kalmte in die arms van sy moeder. Sy is vir hom 'n bron van kalmte en vrede.
God is vir Dawid sy bron van kalmte en vrede. Soos 'n kind
by sy ma kalmte en vrede soek, moet jy by God kalmte en vrede soek. As jy in Jesus
glo, is jy 'n kind van God soos ons in Joh. 1 v 12 hoor:
Maar aan almal wat Jesus aangeneem het, dié wat in Hom
glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
Die aktiewe aksie wat jy moet doen om by God rus en
kalmte te vind, is om te glo dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is
en dan moet jy op grond daarvan na God toe kom.
Wanneer jy dit doen sal jy vind dat jy in die arms van God
nie omgee as die lewe nie is soos wat jy gedink het dit moet wees nie. Jy vind
berusting en troos in die arms van God. Dan is die nie jou omstandighede wat
bepaal of jy rus en vrede het in die lewe nie. Die teenwoordigheid van God gee
vir jou rus en vrede selfs wanneer die wêreld op sy kop staan.
Dawid sluit hierdie Psalm af met 'n opdrag om vas te hou
aan die rus en vrede wat jy by God vind:
Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.
Wag op die Here, is die sekere wete dat God daar is vir
jou, dat Hy vir jou sal sorg hier waar jy nou is, maar ook in die toekoms en
veral wanneer jy hierdie lewe verlaat om in ewigheid saam met God te wees waar
daar geen hartseer, pyn of dood meer sal wees nie.
Vind rus in die arms van God deur jou eie onvermoë te
bely en te erken dat jy Hom nodig het. Gee die reg op om alles te wil verstaan
in hierdie lewe en plaas jou vertroue op God. Glo dat Jesus jou enigste Verlosser
en Saligmaker is, want dit gee vir jou die reg om troos en tevredenheid by God
te vind soos wat 'n kindjie by sy moeder tevredenheid vind. Wag met 'n verwagting
en hoop wat op God gefokus is.
Geliefdes jou omstandighede bepaal nie of jy rus en vrede
in hierdie lewe gaan hê nie. Jy vind rus en vrede in die arms van God. Gaan
soek jou berusting in die arms van God.
Amen