Wys tans plasings met die etiket sin van die lewe. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket sin van die lewe. Wys alle plasings

26 Julie 2020

Hoekom HERE?

Datum:  2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Job 42 v 1 - 6

Teksvers: Job 42 v 5 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar:

1) Volledige erediens - op die Gereformeerde Kerk Empangeni facebook-blad

2) Preek alleen op die Gereformeerde Kerk Empangeni se YouTube kanaal

Die lewe maak nie altyd sin nie. Hoekom gebeur daar slegte goed wat veroorsaak dat onskuldige mense moet ly? Hoekom het hierdie pandemie ons lewens so erg in 2020 kom deurmekaar krap?

 Navorsing wat gedoen is, toon aan dat daar sedert die inperking begin het, bykans 3 miljoen mense hulle werk verloor. In baie gevalle was dit persone wat die enigste bron van inkomste vir 'n huishouding verdien het. Hoekom moes dit gebeur? Het al daardie mense iets verkeerd gedoen om dit te verdien?

 Hoekom is daar so baie mense in rou gedompel oor die afsterwe van geliefdes as gevolg van hierdie pandemie? Buiten hierdie pandemie is daar nog baie ander goed wat veroorsaak dat ons swaarkry in die lewe. Hoekom gebeur dit?

 Dis een van die groot vraagstukke in die lewe. Hoekom moet ons ly? Lyding is die kanker wat die sin van ons bestaan wegvreet, veral as dit onverdiende lyding is.

 Met Job gee die Here vir ons perspektief oor hierdie saak van lyding. Job verloor alles in die lewe sonder dat Hy dit verdien. Dit kom na aanleiding van 'n gesprek in die hemel waar God met sy engele vergader en Job voorhou as iemand wat vroom, opreg en godvresend is.

 Die satan kla Job egter aan. Die betekenis van die benaming satan is inderdaad, die aanklaer, die een wat in opposisie staan. Hy kla Job aan dat hy slegs so voorbeeldig lewe omdat dit so goed met hom gaan en dat daar geen lyding in sy lewe is nie.

 Job sit in sak en as oor sy groot verlies en sy emosies is op en af. Aanvanklik prys hy God nog steeds, maar dan vervloek hy sy geboortedag.

 


Dan kom Job se drie vriende om hom by te staan. Hulle siening is dat Job teenoor God gesondig het en dat God hom nou daaroor straf. Hulle siening is dat alles lewe volgens 'n direkte een tot een oorsaak en gevolg beginsel werk. As jy iets goed doen, word jy beloon en as jy iets verkeerds doen word jy gestraf.

 Job se standpunt is dat hy onskuldig is en dat sy lyding nie 'n straf is nie. Hy is reg ten opsigte van sy standpunt. In Job 1 v 8 en weer in Job 2 v 3 sê die Here self die volgende ten opsigte van Job:

“En my dienaar Job, het jy hom raakgesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad.”

 Job se lyding het sy vrede verwoes. Sy emosies is op 'n mallemeule op en af. Hy glo dat God regverdig is, maar sy lyding laat hom twyfel. Hy stoei met die gedagte dat God onregverdig of onbevoeg is, maar hy bly steeds hoop dat God werklik regverdig is.

 Lyk Job se worstelstryd bekend? Hy probeer sin maak van sy lewe, maar dit wat met hom gebeur het, het sy hele siening deurmekaar gekrap. Sy vriende help nie juis nie, inteendeel hulle maak dinge net erger en daarom praat hy nie meer met hulle nie. Job wil antwoorde hê. Hy wil weet HOEKOM Here? Hy eis antwoorde van God.

 Voel dit nie vir bekend nie, geliefdes? Daar gebeur goed in ons lewens wat nie altyd sin maak nie. Daar gebeur slegte goed in jou lewe wat jy nie veroorsaak het nie. 2020 slaan ons met 'n pandemie wat ons hele lewe omver werp.

 Buiten die pandemie kom daar goed oor ons pad waaroor ons nie beheer het nie. Mense gaan jonk dood. Mense wat gesond leef kry kanker. En ons wil ook weet HOEKOM Here? 

Hoekom hoekom hoekom................? 

En dan wonder ons ook soms in ons eie worstelstryd soos Job, of God regverdig is.

 God antwoord Job inderdaad. In die eerste plek reageer God op Job se aanklag dat Hy onregverdig en onbevoeg is om die wêreld te beheer. Hy neem Job op 'n virtuele toer van die heelal en vra vir Job: “Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente uitgelê het?” Was Job daar toe die Here planne gemaak het hoe die hemel en die aarde sal werk? Het Job ooit die son of die weer beheer?

 Wat God hier vir Job sê, is dat Hy in beheer is van elke komplekse detail van die heelal en hoe dit funksioneer. Sy perspektief is soveel groter as wat Job sin is. Job is nie in 'n posisie om te bepaal of God regverdig is of nie. Die lewe is baie meer kompleks as wat ons ooit werklik kan verstaan.

Dan sluit God af deur vir Job die seekoei en die krokodil te wys. Die letterlike benaming van hierdie diere is Behemot en Leviatan wat ook elders in die Bybel (soos byvoorbeeld Jes. 27 v 1 & Ps. 74:13-14) as simbole van wanorde en gevaar voorgehou word. Hierdie diere is nie boos nie, maar hulle is baie gevaarlik. 

Tog pas hulle ook in die skepping in.

Wat God hiermee vir Job sê is dat die wêreld wonderbaarlik is, maar dat dit nie perfek of altyd veilig is nie. Die wêreld is mooi en georden, maar dit is ook wild en gevaarlik met die moontlikheid dat lyding kan plaasvind.

 Dit bring ons weer terug na Job se vraag: “Hoekom, Here? Hoekom is daar lyding in hierdie wêreld?” En God beantwoord nooit hierdie vraag nie! Sy antwoord is dat ons in 'n wonderbaarlike wêreld leef wat in hierdie bedeling nie van lyding vrygestel is nie.

 Job het die Here beskuldig dat Hy onregverdig is en hy het 'n verduideliking geëis. God se antwoord is dat Job nie in 'n posisie is om te bepaal of God regverdig is of nie. Hy nooi Job uit om Hom en sy wysheid wat ver bo enige mens se verstand is, te vertrou.

 Job se reaksie is om in nederigheid homself voor God te verootmoedig. Job het gevra: “Hoekom Here?” Maar God het nooit sy vraag beantwoord nie, want hy het die verkeerde vraag gevra. God het die vraag, (Wie is U Here?) wat Job moes gevra het, beantwoord.

 Hy is die almagtige en oralteenwoordige God wat hemel en aarde en al die skepsels onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.

 Hy is ook die liefdevolle God wat vir jou omgee en verstaan waardeur jy gaan. Hy buig neer na jou toe. Hy het jou so lief dat Hy sy enigste Seun gestuur het sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

 Job bely: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien” Job het God gedien en hy was vroom en opreg, maar hy het God nie persoonlik geken nie! Dit is eers na sy ontmoeting met God dat hy God persoonlik leer ken het.

 Sedert Job geleef het, het God Homself nog duideliker in sy Seun aan ons openbaar. Hy het sy Gees gestuur as Trooster om by ons te bly en ons te vertroos. Om werklik God se troos in jou lewe te ervaar is dit nodig dat jy Hom persoonlik moet ken. Jy leer God persoonlik ken deur te glo dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is. Kom na God toe en leer Hom persoonlik ken.

 Geliefdes, die lewe maak nie altyd sin nie. Daar gebeur goed wat veroorsaak dat swaarkry en lyding oor jou pad kom. Ons weet nie altyd hoekom nie dit gebeur nie. Daar is nie altyd antwoorde oor hoekom my lewensmaat op so 'n jong ouderdom moes sterf nie. Daar is nie altyd antwoorde oor hoekom ongeneeslike siektes soos kanker oor ons pad kom nie. Daar is nie altyd antwoorde oor hoekom 'n pandemie moes kom wat die hele wêreld omver werp nie.

Moenie vra: “Hoekom Here?” nie. Vra eerder die regte vraag: “Wie is U Here?” Leer God persoonlik ken deur in geloof vas te hou aan die verlossing van Jesus Christus. Vertrou God en weet dat Hy in beheer is van hierdie komplekse wêreld waarin ons leef. Leer Hom ken in sy omgee vir jou en dat Hy jou nie alleen sal laat om die hartseer, pyn en lyding van die lewe te trotseer nie.

 Bring jou pyn, hartseer en lyding na God toe met die vertroue dat Hy daar is vir jou.

Amen