Datum: 2020
Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt
Skriflesing: Job 42 v 1 - 6
Teksvers: Job 42 v 5
Die preek is ook in video formaat beskikbaar:
1) Volledige erediens - op die Gereformeerde Kerk Empangeni facebook-blad
2) Preek alleen op die Gereformeerde Kerk Empangeni se YouTube kanaal
Die lewe maak nie altyd sin nie. Hoekom gebeur daar
slegte goed wat veroorsaak dat onskuldige mense moet ly? Hoekom het hierdie
pandemie ons lewens so erg in 2020 kom deurmekaar krap?
Navorsing wat gedoen is, toon aan dat daar sedert die
inperking begin het, bykans 3 miljoen mense hulle werk verloor. In baie gevalle
was dit persone wat die enigste bron van inkomste vir 'n huishouding verdien
het. Hoekom moes dit gebeur? Het al daardie mense iets verkeerd gedoen om dit
te verdien?
Hoekom is daar so baie mense in rou gedompel oor die
afsterwe van geliefdes as gevolg van hierdie pandemie? Buiten hierdie pandemie
is daar nog baie ander goed wat veroorsaak dat ons swaarkry in die lewe. Hoekom
gebeur dit?
Dis een van die groot vraagstukke in die lewe. Hoekom
moet ons ly? Lyding is die kanker wat die sin van ons bestaan wegvreet, veral
as dit onverdiende lyding is.
Met Job gee die Here vir ons perspektief oor hierdie saak
van lyding. Job verloor alles in die lewe sonder dat Hy dit verdien. Dit kom na
aanleiding van 'n gesprek in die hemel waar God met sy engele vergader en Job
voorhou as iemand wat vroom, opreg en godvresend is.
Die satan kla Job egter aan. Die betekenis van die
benaming satan is inderdaad, die aanklaer, die een wat in opposisie staan. Hy
kla Job aan dat hy slegs so voorbeeldig lewe omdat dit so goed met hom gaan en
dat daar geen lyding in sy lewe is nie.
Job sit in sak en as oor sy groot verlies en sy emosies
is op en af. Aanvanklik prys hy God nog steeds, maar dan vervloek hy sy
geboortedag.
Dan kom Job se drie vriende om hom by te staan. Hulle
siening is dat Job teenoor God gesondig het en dat God hom nou daaroor straf. Hulle
siening is dat alles lewe volgens 'n direkte een tot een oorsaak en gevolg
beginsel werk. As jy iets goed doen, word jy beloon en as jy iets verkeerds
doen word jy gestraf.
Job se standpunt is dat hy onskuldig is en dat sy lyding
nie 'n straf is nie. Hy is reg ten opsigte van sy standpunt. In Job 1 v 8 en weer
in Job 2 v 3 sê die Here self die volgende ten opsigte van Job:
“En my dienaar Job, het jy hom raakgesien? Sy gelyke kry
jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad.”
Job se lyding het sy vrede verwoes. Sy emosies is op 'n mallemeule
op en af. Hy glo dat God regverdig is, maar sy lyding laat hom twyfel. Hy stoei
met die gedagte dat God onregverdig of onbevoeg is, maar hy bly steeds hoop dat
God werklik regverdig is.
Lyk Job se worstelstryd bekend? Hy probeer sin maak van
sy lewe, maar dit wat met hom gebeur het, het sy hele siening deurmekaar
gekrap. Sy vriende help nie juis nie, inteendeel hulle maak dinge net erger en
daarom praat hy nie meer met hulle nie. Job wil antwoorde hê. Hy wil weet HOEKOM
Here? Hy eis antwoorde van God.
Voel dit nie vir bekend nie, geliefdes? Daar gebeur goed
in ons lewens wat nie altyd sin maak nie. Daar gebeur slegte goed in jou lewe
wat jy nie veroorsaak het nie. 2020 slaan ons met 'n pandemie wat ons hele lewe
omver werp.
Buiten die pandemie kom daar goed oor ons pad waaroor ons
nie beheer het nie. Mense gaan jonk dood. Mense wat gesond leef kry kanker. En
ons wil ook weet HOEKOM Here?
Hoekom hoekom hoekom................?
En dan
wonder ons ook soms in ons eie worstelstryd soos Job, of God regverdig is.
God antwoord Job inderdaad. In die eerste plek reageer God
op Job se aanklag dat Hy onregverdig en onbevoeg is om die wêreld te beheer. Hy
neem Job op 'n virtuele toer van die heelal en vra vir Job: “Waar was jy toe Ek
die aarde se fondamente uitgelê het?” Was Job daar toe die Here planne gemaak
het hoe die hemel en die aarde sal werk? Het Job ooit die son of die weer
beheer?
Wat God hier vir Job sê, is dat Hy in beheer is van elke komplekse
detail van die heelal en hoe dit funksioneer. Sy perspektief is soveel groter
as wat Job sin is. Job is nie in 'n posisie om te bepaal of God regverdig is of
nie. Die lewe is baie meer kompleks as wat ons ooit werklik kan verstaan.
Dan sluit God af deur vir Job die seekoei en die krokodil
te wys. Die letterlike benaming van hierdie diere is Behemot en Leviatan wat
ook elders in die Bybel (soos byvoorbeeld Jes. 27 v 1 & Ps. 74:13-14) as
simbole van wanorde en gevaar voorgehou word. Hierdie diere is nie boos nie,
maar hulle is baie gevaarlik.
Tog pas hulle ook in die skepping in.
Wat God hiermee vir Job sê is dat die wêreld wonderbaarlik
is, maar dat dit nie perfek of altyd veilig is nie. Die wêreld is mooi en
georden, maar dit is ook wild en gevaarlik met die moontlikheid dat lyding kan
plaasvind.
Dit bring ons weer terug na Job se vraag: “Hoekom, Here? Hoekom
is daar lyding in hierdie wêreld?” En God beantwoord nooit hierdie vraag nie! Sy
antwoord is dat ons in 'n wonderbaarlike wêreld leef wat in hierdie bedeling nie
van lyding vrygestel is nie.
Job het die Here beskuldig dat Hy onregverdig is en hy
het 'n verduideliking geëis. God se antwoord is dat Job nie in 'n posisie is om
te bepaal of God regverdig is of nie. Hy nooi Job uit om Hom en sy wysheid wat
ver bo enige mens se verstand is, te vertrou.
Job se reaksie is om in nederigheid homself voor God te
verootmoedig. Job het gevra: “Hoekom Here?” Maar God het nooit sy vraag
beantwoord nie, want hy het die verkeerde vraag gevra. God het die vraag, (Wie
is U Here?) wat Job moes gevra het, beantwoord.
Hy is die almagtige en oralteenwoordige God wat hemel en
aarde en al die skepsels onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en
droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte,
rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand
toekom.
Hy is ook die liefdevolle God wat vir jou omgee en
verstaan waardeur jy gaan. Hy buig neer na jou toe. Hy het jou so lief dat Hy
sy enigste Seun gestuur het sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar
die ewige lewe sal hê.
Job bely: “Tot nou
toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien” Job
het God gedien en hy was vroom en opreg, maar hy het God nie persoonlik geken
nie! Dit is eers na sy ontmoeting met God dat hy God persoonlik leer ken het.
Sedert Job geleef het, het God Homself nog duideliker in
sy Seun aan ons openbaar. Hy het sy Gees gestuur as Trooster om by ons te bly
en ons te vertroos. Om werklik God se troos in jou lewe te ervaar is dit nodig
dat jy Hom persoonlik moet ken. Jy leer God persoonlik ken deur te glo dat Jesus
jou enigste Verlosser en Saligmaker is. Kom na God toe en leer Hom persoonlik
ken.
Geliefdes, die lewe maak nie altyd sin nie. Daar gebeur
goed wat veroorsaak dat swaarkry en lyding oor jou pad kom. Ons weet nie altyd
hoekom nie dit gebeur nie. Daar is nie altyd antwoorde oor hoekom my lewensmaat
op so 'n jong ouderdom moes sterf nie. Daar is nie altyd antwoorde oor hoekom ongeneeslike
siektes soos kanker oor ons pad kom nie. Daar is nie altyd antwoorde oor hoekom
'n pandemie moes kom wat die hele wêreld omver werp nie.
Moenie vra: “Hoekom Here?” nie. Vra eerder die regte
vraag: “Wie is U Here?” Leer God persoonlik ken deur in geloof vas te hou aan
die verlossing van Jesus Christus. Vertrou God en weet dat Hy in beheer is van
hierdie komplekse wêreld waarin ons leef. Leer Hom ken in sy omgee vir jou en
dat Hy jou nie alleen sal laat om die hartseer, pyn en lyding van die lewe te
trotseer nie.
Bring jou pyn, hartseer en lyding na God toe met die vertroue
dat Hy daar is vir jou.
Amen