Liturgie GKE 22 Des 2013
na Votum Ps. 66 v 1 (OAB)
Na Wet Ps. 32 v 1 (OAB)
Na gebed Ps. 86 v 6 (OAB)
Slotsang Sb. 3-1 v 1 – 3 (Die volk wat in donker wandel)
Die jaar is besig om ten einde te
snel en Kersfees lê om die draai. Dit is daardie tyd van die jaar dat ons almal
besig is om voor te berei vir die vakansie en daar is so ’n gevoel van
feestelikheid in die lug. Dit is ’n tyd dat ons daarna uitsien om weer saam met
ons geliefdes deur te bring. Vir baie mense is dit egter ook ’n tyd van
eensaamheid en is dit ook so dat die aantal selfmoorde in hierdie tyd van die
jaar toeneem. Hierdie tyd van die jaar is inderdaad ’n donker tyd vir baie
mense. Kersfeestyd is nie vir almal altyd so vreugdevol soos wat ons gewoonlik
dink nie. Dalk is dit omdat my kinders ver is of dalk is dit die eerste
Kersfees wat ek sonder my geliefde moet deurbring. Daar is baie dinge in die
lewe wat dit vir ons donker maak.
In ons teks sien ons dat Israel
ook ’n donker tyd beleef het. In die tyd van Jesaja het Koning Tiglat-Pelser
van Assirië reeds die Noordelike deel van Israel in Ballingskap weggevoer. Die
gebiede Sebulon en Naftalie in die Noorde daar by die meer van Galilea was van
die eerste gebiede wat deur Assirië oorval is. Die Israeliete wat in
Ballingskap weggevoer was, het inderdaad donker tye beleef.
In Jes. 9v1 hoor ons egter dat
daar hoop is vir Israel:
Die volk wat in
donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land
was, het ’n lig geskyn.
Die profeet is so seker daarvan
dat hy die verlede tyd praat asof dit reeds gebeur het. Israel sien net
donkerte om hulle. Hulle land is verwoes. Hulle is ver van Jerusalem af en
hulle het nie meer ’n tempel nie. Dit voel vir hulle of hulle heeltemal van God
verwyder is. In Jes. 7v14 en 8v8 het die profeet reeds aan hulle die belofte
van Immanuel gegee, God met ons. Nou gebruik die profeet die beeld van lig om
die volk te bemoedig sodat hulle, hulle nie moet blindstaar teen die huidige
donker omstandighede nie. Daar is hoop!
Verder gebruik hy nog twee beelde
om vir die volk hoop te gee binne hulle huidige donker omstandighede. Eers
gebruik hy die beeld van vreugde tydens oestyd en ook die blydskap van soldate
wanneer die veldtog verby is en hulle die buit verdeel soos ons in Jes. 9v2-4
hoor. Die resultaat is dat alle vyandighede teen die volk van God gestaak gaan
word.
In Jes. 9v5 hoor ons die rede vir
die hoop waarvan die profeet praat:
Vir ons is ’n
Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee;
Weereens stel die profeet dit in
die verlede tyd om die absolute sekerheid aan te dui dat dit wel gaan gebeur.
Alhoewel Jesaja nie die woord Messias gebruik nie, verwys hy hier na ’n Koning
wat uit die geslag van Dawid sal kom wat deur God aangestel is en wat as
verlosser van sy volk sal optree soos die Here aan Dawid belowe het in
2 Sam. 7. Die Hebreeuse woord wat gebruik word om na so ’n koning te
verwys is Messias terwyl die Griekse woord Christus is. In Afrikaans gebruik
ons beide Messias en Christus. Hier is dus ’n belofte van ’n Koning wat ’n
ewige vrederyk tot stand gaan bring.
Die kroning van die Messiaskoning
word vir ons hier beskryf. Uit Psalm 2 weet ons dat ’n nuwe koning by sy
kroning as seun van God aangeneem word en dat hy by dié geleentheid ’n nuwe
naam kry. Dit presies dit wat vir ons hier in Jes. 9v2-5 beskryf word. Eers
bely die volk: “vir ons is ’n Seun gebore, en aan ons is ’n Seun gegee”
en dit verwys na die Messiaskoning wat die troon bestyg. Nou heers hy en by sy
troonbestyging kry hy vier name wat sy heerskappy beskryf:
·
Wonderbare Raadsman - hy sal
geen raad van ander nodig hê nie, want God is sy raadsman.
·
Magtige God – die
Messiaskoning is God se direkte verteenwoordiger op aarde. Wie hom sien, sien
as’t ware vir God.
·
Ewige Vader – soos
dit ’n koning betaam is hy vir sy onderdane ’n vader wat voortdurend vir hulle
sorg.
·
Vredevors – onder
sy heerskappy sal daar harmonie wees sodat elke mens ongehinderd vir God kan
dien.
In Mat. 4v12 – 16 hoor ons hoe
hierdie profesie in Jesus Christus vervul is:
12 Toe
Jesus hoor dat Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na
Galilea toe gegaan. 13 Hy het nie in Nasaret gaan bly nie, maar Hom
gaan vestig in Kapernaum by die see, in die gebied van Sebulon en Naftali. 14
So moes vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is:
15“Jy,
gebied van Sebulon en gebied van Naftali, aan die seekant en oorkant die
Jordaan, Galilea waar die heidene woon! 16 Die volk wat in
duisternis woon, het ’n groot lig gesien; hulle wat in die skemerland van die
dood lewe, vir hulle het die lig opgegaan.”
Watter troos hou hierdie profesie
van ’n Messiaskoning wat 2000 jaar gelede gebore is vir ons in wat haastig op
is na die einde van 2013? Vir elke donker oomblik in ons lewens is daar die
hoop van Lig wat die duisternis sal verdryf. Ons is so geneig om tydens Kerstyd
in die rooi Kersvaders wat ho ho ho sê vas te kyk. Hoe dikwels kyk ons net in
die blink liggies en die reklame van Kerstyd vas en dan is ons verbaas omdat
daar soveel donkerte in hierdie tyd is.
In Jes. 8v19 hoor ons:
Mense sê julle
moet mediums en spiritiste raadpleeg wat fluister en mompel, maar moet ’n volk
nie sy God raadpleeg nie? Waarom sou ’n mens dooies in belang van lewendes
raadpleeg?
As ons op die dooie dinge van
hierdie wêreld vertrou dan sal daar in ons lewens ook niks anders as benoudheid
en donkerte nie wees nie. Met Kersfees sê die Here vir ons ook: in die land
waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie, want Vir
ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem
word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.
Geliefdes ons sien ook saam met
Israel uit na ’n Koninkryk waar daar ewige vrede sal heers. Ons hou vas aan die
belofte van die woonplek van God wat nou by die mense sal wees. Hy sal by
ons bly; ons sal sy volke wees, en God self sal by ons wees as ons God. Hy sal
al die trane van ons oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed,
smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”
(Open 21v3&4).
(Open 21v3&4).
Geliefdes moenie in hierdie
feestyd u vreugde in die dooie dinge van die wêreld soek nie. Daar is net een
ware bron van vrede soos die Here ook in .Fil. 4:6 & 7 vir ons bevestig:
6 Moet oor
niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking
en met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God wat alle
verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus
Jesus.
Hou vas aan die troos en vrede wat
daar net by Jesus Christus te vinde is want Christus verander die donker
wanhoop in ons lewe na lig en hoop.
Amen