Wys tans plasings met die etiket Kerk. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kerk. Wys alle plasings

01 September 2019

01. Wat beteken dit om kerk van die Here te wees? Die kerk is die bruid van Christus


1 Sep. 2019
Skriflesing: Ef. 5 v 21 tot 33
Teksverse: Ef. 5 v 31 & 32



Ons leef in 'n wêreld waar die kerk so maklik opsy geskuif word. Die kerk is vir die moderne mens net nie meer belangrik nie. Ons samelewing is so gefokus op ek en wat is vir my belangrik en al die ander goed is sekondêr. Ons is so besig dat daar nie eintlik tyd is vir die kerk nie. Daar waar ek betrokke is by die kerk, gaan dit eintlik maar oor watse voordele hou dit vir my in. Dat kerklidmate daar moet wees om te dien vorm nie eintlik deel van die moderne denkpatrone nie. Ons hanteer ons kerklidmaatskap asof ons aan 'n klub behoort. Ek besluit of en wanneer ek betrokke wil wees.

Hierdie denkwyse het 'n groot negatiewe invloed op die gesondheid van die kerk. Ons sien dit in ons kerkverband met gemeentes wat al hoe kleiner word en al hoe meer gemeentes wat deure sluit. Ons sien dit ook in ons eie gemeente. Ons sien dit in ons erediensbywoning. Ons sien dit in ons dankbaarheidslewe. Ons sien dit in ons meelewing.

Waar lê die probleem? Een van die oorsake is dat ons nie mooi verstaan wat dit beteken om kerk van die Here te wees nie. Derhalwe is dit nodig dat ons net weer terug gaan na die Bybel toe sodat die Heilige Gees ons kan leer wat beteken dit om kerk te wees.

God praat met ons deur middel van sy Lewende Woord op verskillende maniere. Een van die maniere is om van beeldspraak gebruik te maak. Dit is om iets konkreets in die alledaagse lewe as voorbeeld te gebruik om 'n abstrakte begrip wat moeilik is om te verduidelik, makliker maak om te verstaan. Byvoorbeeld’ hoe verduidelik ek vir jou intense pyn? Ek gebruik 'n voorbeeld. Almal van ons het al jouself op een of ander manier gebrand. Die seer wat jy het wanneer jy aan iets baie warm gevat het of deur 'n vlam gebrand is, is intense pyn.

So help die Heilige Gees ons deur middel van beeldspraak om die misterie van God te verstaan.

Die Bybel maak dit duidelik dat 'n Christin lid van 'n kerk moet wees. Tog is daar nie 'n spesifieke teksvers waar ons die opdrag kry, “jy moet by 'n kerk aansluit nie.” Die Bybel beveel ons nie net om by 'n kerk aan te sluit nie - dit doen iets beter. Die Heilige Gees verduidelik hoe lyk die verhouding tussen die kerk en sy lidmate met verskillende beelde. Hiermee daag die Heilige Gees ons uit om weer te kyk na ons sondige geneigdheid tot individualisme, selfvoorsiening, trots.

As die Bybel bloot sou sê: 'Sluit aan by 'n kerk', kan ons so maklik kerklidmaatskap benader asof dit net nog taak op 'n taaklys is wat ons moet afhandel. Maar deur die kerk en sy lidmate, deur die verskillende beelde soos byvoorbeeld 'n tempel, 'n kudde en 'n gesin uit te beeld, dwing die Bybel ons om nie net by 'n kerk aan te sluit nie, maar ook om te besin oor hoe goed my lewe by die Bybelse beeld pas.

Hierdie beelde dwing ons om te vra: 'Lyk my lidmaatskap van die kerk so?' Is ek regtig 'n familielid in my kerk of is ek eerder meer soos die buurman langsaan? Is ek regtig 'n hand of 'n voet in die lyf, of is ek maar net soos 'n skoen wat nie altyd nodig is nie? Om lid van die kerk te wees is meer as om bloot net my naam op die lidmaatregister te hê.

Ons gaan in die volgende paar weke stilstaan by 'n paar van die beelde sodat ons beter kan verstaan wat dit beteken om lid van die kerk te wees. Vandag staan ons stil by die beeld van die kerk as bruid van Christus.

God het die mens as 'n verhoudingswese geskape. In die eerste plek staan die mens in 'n verhouding teenoor God en dan staan die mens ook in onderlinge verhoudings teenoor ander mense. Jou verhoeding met ander mense wys hoe lyk jou verhoeding met God.

Die huwelik is die mees intiemste verhouding wat daar tussen mense kan wees en hier in ons teks gebruik God die huwelik om aan ons te verduidelik hoe die verhouding tussen Christus en sy kerk moet wees.

In ons teks beskryf Paulus dit uit twee teenoorgestelde hoekpunte. Eerstens gebruik hy die verhouding tussen Christus en sy kerk as voorbeeld vir die verhouding tussen man en vrou in die huwelik en dan ruil hy die rolle om. Dan stel hy dat God die verhouding tussen man en vrou gebruik om die geheimenis van die intieme eenheid tussen Christus en sy kerk sigbaar te maak.

Ef. 5 v 21 begin met die opdrag: “wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” Die beginsel wat hier vir ons voorgehou word, is dat Christus se verhouding met ons en ons verhouding met Hom die bepalende faktor in ons verhoudings teenoor mekaar is. Ons word dus opgeroep om ons verhouding met Christus as model te gebruik vir ons onderlinge verhoudings.

In Ef. 5 v 22 – 24 gee Paulus die opdrag aan vroue en in Ef. 5 v 25 – 30 die opdrag aan mans. Ef. 5 v 22 – 24 word dikwels buite konteks gebruik om die oorheersing van die vrou te regverdig. Die opdrag kan egter net reg verstaan word wanneer dit saam met die opdrag aan die man gelees word.

In Ef. 5 v 22 hoor ons:
Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is.
En in Ef. 5:25 hoor ons:
Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.

Wanneer hierdie verse los van mekaar gelees word kan die slotsom gemaak word dat vrouens net moet onderwerp en mans moet net liefhê. Die verse hou met mekaar verband en moet saamgelees word met
Ef. 5 v 21 dat albei partye aan mekaar onderdanig moet wees. In 1 Joh. 4 v 7 kry ons ook die opdrag dat ons mekaar moet liefhê. Dit is dus duidelik dat gelowiges aan mekaar moet onderdanig wees en mekaar moet liefhê.

Binne die huwelik is daar egter 'n besondere fokus. Binne die huwelik moet die vrou uitmunt in onderdanigheid en die man in selfopofferende liefde vir sy vrou.

Die verhouding tussen Christus en sy kerk dien as voorbeeld hoe die vrou se onderdanigheid moet lyk en ook hoe die man se liefde moet lyk. Soos die kerk uit eerbied Christus se gesag respekteer en hulself daaraan onderwerp moet die vrou binne die huwelik haar man respekteer en haar aan sy gesag as hoof van die huisgesin onderwerp.

Dit beteken egter nie dat mans in tirannie oor hulle vroue moet heers nie. Christus heers nie soos 'n tiran oor sy kerk nie. Sy gesag kom in liefde en opoffering na vore. Hy het alles vir sy bruid, die kerk opgeoffer. Die grootste prys wat betaal kan word, sy lewe, het hy betaal. Die beginsel wat hier na vore kom, is dat die man alles moet gee om sy vrou se belang te bevorder. Dit wat hy doen en besluit moet tot haar voordeel strek en nie tot haar nadeel nie.

Christus het uit liefde alles vir die kerk opgeoffer om haar van sonde te reinig sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.
Christus is steeds besig om die kerk te reinig deur die werk van die Heilige Gees.

In Ef. 5 v 31 – 33 word die rolle nou omgeruil. Hier gebruik God nou die verhouding tussen man en vrou om in die geheimenis van die intieme eenheid tussen man en vrou te wys hoe die intieme eenheid tussen Christus en sy kerk sigbaar moet word.

Geliefdes hierdie beeld van die kerk bruid van Christus, bring ons voor die vraag te staan. “Is ons as kerk van Christus nog onderdanig aan Hom? Aanvaar ons sy gesag oor ons? Sien ons nog raak wat Christus in liefde vir ons opgeoffer het?”

Ons gaan in die volgende paar weke stilstaan by die verskillende beelde wat die Skrif vir ons voorhou om te verduidelik hoe lyk die kerk van ons Here en hoe moet dit funksioneer. Is u bereid om uself in onderdanigheid aan Christus te onderwerp om kerk van die Here te wees?
Amen.



15 Februarie 2015

Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.

1 Tim 1 teksvers 1 Tim 1:15
15 Feb. 2015 GKE

Sb 12-3 v 1 & 2
Sb 9-1 v 1 & 11
Ps. 143-1:1
Gebed na die preek SB 10-1 v 1 - 4
Sb 3-4 v 1 – 5

Inleiding
Twee weke gelede het ons gehoor dat die kerk van die Here onsigbaar word in die wêreld wanneer die kerk aan die sondige wêreld gelyk word. Verlede week het ons gehoor hoedat ’n verkeerde verstaan van wat kerkwees eintlik is ons as kerk kan verhoed om ’n verskil te maak in hierdie wêreld. Hierdie week gaan ons na nog ’n rede kyk wat kan veroorsaak dat die kerk onsigbaar word in die wêreld (dit wil sê, die kerk is nie meer effektief om die koninkryk van God in die wêreld sigbaar te maak nie). Hoogmoed, wat ’n groot struikelblok vir ’n Christen kan wees. Ek begin dink dat ek so ’n bietjie beter as ander mense is. Ek kyk so bietjie neer op ander mense. Ek is darem nie sleg soos hulle nie. Mense wat nie op my standaard is nie gaan in die hel brand. Mense wat nie my godsdiens rituele of tradisies onderhou of op my manier aanbid nie is in die moeilikheid by God.

Hoogmoed is ’n klip waaroor ons as Doppers baie maklik val. Hoogmoed is een van die sondes wat die Here haat soos ons in Spr. 6:16 – 19 hoor
Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ’n afsku het:
oë wat straal van hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, ’n getuie wat lieg
en iemand wat rusie stook tussen broers.
Hoogmoed word 1ste genoem!

Hoogmoed is nie net ’n probleem van ons tyd nie. Dit is iets wat deel is van die mense se geskiedenis vanaf die vroegste jare. Dis hoogmoed wat die satan tot ’n val gebring het en dit is hoogmoed wat veroorsaak het dat die mens in opstand teen God se gesag gekom het. Hoogmoed was ook ’n probleem in Efese waar Timoteus gearbei het. In hoofstuk 1 van die eerste brief wat Paulus aan Timoteus geskryf het om hom te bemoedig gee Paulus vir Timoteus raad oor hoe om die probleem aan te spreek.

Paulus gee aan hom ’n opdrag wat ons in twee dele kan onderskei. Hy moet keer dat sekere dinge nie plaasvind nie en daar is sekere dinge wat wel gedoen moet word.

Wat mag nie gebeur nie?
In 1 Tim 1:3b & 4 hoor ons
Daar is sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied. Hulle moet hulle nie met verdigsels en eindelose geslagsregisters besig hou nie. Sulke dinge gee eerder aanleiding tot twisgesprekke as dat dit die vorming bevorder wat God deur die geloof gee.
Vals leerstellings is nie altyd so maklik om te onderskei nie omdat die mense wat hulle daarmee besig hou dit baie subtiel en onskuldig inbring. Hier vind ons ’n paar riglyne wat ons kan help om dit te onderskei.

Lei dit tot onenigheid? Mense hou so maklik aan rituele en tradisionele gebruike vas. Die argument van “maar ons het nog altyd sus of so gemaak” word dikwels in ’n twisgesprek gebruik waarmee daar gepoog word om iemand se gewete te bind. Met ander woorde as jy nie op my manier aanbid nie is jy in die moeilikheid by God. Dit dui dikwels op ’n vorm van hoogmoed.

Is ons besig met teologiese haarklowery? Daar in Efese het dit gegaan oor geslagsregister. Geslagsregisters was in daardie tyd baie belangrik vir die Jode want daarmee kon hulle bewys dat hulle van Joodse afkoms (dit wil sê die uitverkore volk) was. Die valse leerstelling wat hierin vasgevang is, is dat jou Joodse afkoms jou saligheid verseker. Ons stry nie vandag meer oor geslagsregisters nie, maar daar is baie ander sake waaroor ons wel stry. Dink maar aan die debatte wat vandag in die kerk woed.

Die sake waaroor gestry word is dikwels so ingewikkeld dat dit jou eintlik hoofpyn gee wanneer jy probeer bepaal wat is nou eintlik reg en wat is verkeerd. As ’n teologiese saak nie ly tot Jesus se verlossingswerk en liefde bevorder nie moet mens versigtig wees daarvoor.

Dan word die wet (dit wil sê die Skrif) dikwels aangehaal om ’n standpunt te regverdig. Paulus gee hier vir ons duidelik die doel van die wet. Die hooftaak van die wet is om aan te toon wat sonde is. Ons gebruik so dikwels die wet (die Bybel) om ander se sonde raak te sien. As ek nie op daardie punt kom dat die wet (Bybel) my oortuig van die sonde in my eie lewe nie, dan moet ek myself die vraag afvra of ek nie dalk in die valstrik van hoogmoed getrap het nie.

Ons moet versigtig wees om nie soveel tyd aan die klein puntjies in die Bybel spandeer nie dat ons nie meer tyd het vir die hoofsaak, dit wil sê die evangelie in die Bybel het nie. Hiermee het ons gehoor wat die evangelie nie is nie.

Wat is die evangelie dan wel?
Die woord evangelie is ’n Griekse leenwoord wat goeie nuus beteken. In ons teks hoor ons wat is hierdie goeie nuus is. In 1 Tim. 1:14 hoor ons wat die fondament van die evangelie is:
Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.
God se genade en nie omdat ek so oulik of goed is nie. Wat is genade? Dit is God se liefde wat jou opsoek wanneer jy niks het om in ruil te gee nie.

Dan hoor ons wat die hart van die evangelie is in 1 Tim 1:15
Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.
Jesus Christus het as ’n eenvoudige mens in die wêreld ingekom. Hy het die prys van die sonde betaal sodat sondaars verlos kan word. Dit is die waarheid van die evangelie. Die valstrik van hoogmoed is in stryd met die evangelie. Hoogmoed sê: “kyk hoe goed en oulik is ek. Omdat ek so goed en oulik is, is God verplig om my saligheid vir my te gee. Dit gaan nie oor God nie, maar oor myself! Kan u insien hoe hoogmoed in die pad staan van ’n Christin se koninkrykswerk. Wanneer dit net oor myself gaan sien ek nie die nood van ander mense raak nie.

Teenoor dit staan die evangelie. Deur God se genade gee Hy vir my, my saligheid deur middel van Christus Jesus wat in die wêreld gekom het om sondaars te verlos. Dan voeg Paulus in 1 Tim 1:15 by: Van die sondaars wat Jesus gekom het om te verlos, is ek die grootste! Ons kan gerus so bietjie na onsself kyk en vra: “het ek al ooit so van myself gedink?” Die grootste sondaar onder al die sondaars wat daar is!

Ons vier DV oor twee weke die Heilige Nagmaal en daarom is ons nou in ’n tyd van voorbereiding. Voorbereiding gaan ten diepste daaroor dat ek bietjie introspeksie doen en biddend vir God vra om die hoogmoed van my sonde uit te wys. Voordat ek nie onder diepe besef van my eie onvermoë om my saligheid te bewerk kom nie, sal ek nooit die werklike diepte van God se genade in Christus Jesus begryp nie. As ek ook soos Paulus kan bely dat onder die sondaars wat Jesus gekom het om te verlos dat ek die grootste is, dan sal die Nagmaal my geloof versterk sodat ek ook saam met Paulus kan bely (vgl. 1 Tim 1:16):
God was my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ’n voorbeeld kan wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry.

Slot
Geliefdes, laat ons hierdie week ingaan met die vaste voorneme om die goeie stryd te stry en vas te aan die geloof terwyl ons nie in stryd met ons gewetens optree nie. Onthou die kern van ons geloof is die goeie nuus (evangelie) naamlik Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.

Amen

08 Februarie 2015

Kliënt van die kerk of lid van die liggaam?

1 Kor. 12:12-31 teksvers 1 Kor. 12v12  & Ef. 4:15b en 16
Heidelbergse Kategismus Son 21
GKE 8 Feb. 2015
Sing: Ps. 18-1 v 1
Ps. 86-1 v 1 & 3
Ps. 86-1 v 6
Ps. 128-1 v 1 & 4
Sb 15-7 v 1,2,4 & 6

Ons leef in ’n verbruikers gedrewe kultuur. Ek is die kliënt en ek verwag goeie diens. As ek nie goeie diens by ’n besigheid kry nie skuif ek na ’n ander besigheid. Is dit nie hoe ons oor die kerk begin dink nie? Ek is die kliënt en ek verwag goeie diens. Die kerk het 'n beweging of klub geword. Dis soos 'n besigheid. Die kerk dit wil sê die dominee en kerkraad, moet die hele tyd op hoogte bly en in pas wees met die nuutste "trends" anders verloor jy kliënte. Hulle jaag die massas na anders verloor hulle lidmate. As die dienslewering by die kerk my nie bevredig nie dan skuif ek my besigheid elders.

Hierdie siening ten opsigte van kerk is egter totaal in stryd met die wat die Bybel openbaar oor wat kerkwees is. Met bogenoemde siening draai kerkwees om die individu en hoe sy behoeftes daar bevredig kan word terwyl die Bybel ons leer dat kerkwees gaan oor om te gee eerder as om te ontvang.

Voordat ons na God se Woord luister oor wat die kerk werklik is net vinnig oor wat kerk nie is nie. Die kerk is nie ’n gebou nie. Die kerk is ook nie ’n klub of organisasie waar jy besluit of jy as lid wil aansluit en tot watter mate jy by die klubaktiwiteite wil deelneem nie. Die vraag is dus nie: “wat kan die kerk vir my doen nie?” Dit is veel eerder: “wat kan ek vir die kerk doen?” Ons kla so maklik daar gaan niks by die kerk aan nie, daar word niks vir die kinders gedoen nie en noem maar op. Dalk is die rede dat daar niks aangaan nie omdat ek nie betrokke is en my deel doen nie!

Wat leer die Skrif ons oor kerkwees? In Sondag 21 van die Heidelbergse Kategismus bely ons:
Ons glo dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is,, deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan 'n lewende lid is en ewig sal bly.
Verder bely ons ook ten opsigte van die gemeenskap van die gelowiges, dit wil sê wat behels my deelname aan die kerk?
Ons glo ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het.  Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.

In ons teks gedeelte verduidelik die Here dan ook aan die hand van ’n beeld van ’n menslike liggaam wat kerkwees werklik is. In Ef. 4:15b en 16 hoor ons dat Christus as die hoof van die liggaam en ons as die ledemate in hierdie beeld voorgestel word:
Hy (dit wil sê Christus) is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

In ons teks 1 Kor. 1:12 word die beeld verder verduidelik:
Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.
Verder aan in 1 Kor. 12:14 – 27  hoor ons dat almal nie dieselfde is nie. (lees) Net soos wat die liggaam uit verskillende ledemate soos voete, hande, oë, ore ensovoorts bestaan, net so bestaan die kerk uit verskillende mense wat verskillende gawes het. Dit is dan ook hoekom daar na die mense in die kerk as lidmate verwys word. Net soos die liggaam nie goed kan funksioneer sonder byvoorbeeld ’n oor of oë of hande of voete nie, net so word die kerk nadelig geraak wanneer van sy lidmate onbetrokke raak nie. As ’n mens se hand afgekap word dan affekteer die pyn daarvan die hele liggaam. Wanneer die pyn van die afgekapte hand beter word, dan ly die liggaam nog steeds omdat dit die funksionaliteit van die hand verloor het.

Vir dieselfde rede wat ’n hand of ’n voet nie kan leef en funksioneer as dit los is van die liggaam nie, kan ’n lidmaat nie hom of haarself eenkant hou nie. Mense wat sê dat hulle die Here dien by hulself en self Bybel lees en bid, tree dus eintlik in stryd met dit wat God in sy woord openbaar oor kerkwees. In 1 Kor. 12:15 hoor ons:
Omdat ek nie ’n hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie.
As jy jouself dus eenkant hou, bly jy nog deel van die liggaam, maar jy doen die liggaam ook skade aan omdat jy nie jou gawes tot beskikking van die liggaam stel nie.

Elkeen het ’n bydrae om te lewer, hoe gering dit ook al mag wees. As dit net ’n oproep is na iemand wat beproef is om hom of haar te bemoedig soos byvoorbeeld oom Sarel wat sy vrou aan die dood moes afstaan, dan is dit nie minder belangrik as die predikant of die ouderling se werk in die gemeente nie. Elkeen van ons moet weer gaan besin watter gawes ek het en hoe kan ek daardie gawes gaan aanwend om die liggaam op te bou sodat ons, ons opdrag om die koninkryk van die God uit te bou kan nakom.

Die kerk is in die eerste plek die somtotaal van alle christene deur die eeue heen. Dit staan bekend as die onsigbare kerk. Ons is almal deel daarvan. Die kerk word egter sigbaar in die plaaslike gemeentes. Ons kan dit ook sien dat die kerk een groot familie is en daarom verwys ons na mekaar as broers en susters. Maar net soos wat die broers en suster in ’n familie groot word en trou en hulle eie kinders het en sodoende elkeen weer ’n eie gesin vorm net so kan ons die verskillende gemeentes sien as verskillende gesinne.

Hoekom is ek deel van die kerk? Omdat die Seun van God my en my broers en susters uit die hele menslike geslag uitgekies deur ons sondes te vergewe. Daarom bely ons ook :
Dat God, op grond van die voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry nooit meer wil dink nie.  Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus skenk sodat ek nooit in die strafgerig van God sal kom nie

Christus het my uitgekies en die Heilige Gees gee aan my die geloof dat ek dit kan weet. Daarom is ek ’n lidmaat van die kerk van die Here en uit dankbaarheid wend ek my gawes aan tot uitbou van sy koninkryk.

Geliefdes, ons is nie kliente van die kerk nie en ons is ook nie lede van ’n kerk klub nie. Ons is lidmate van die liggaam van Christus. Hy is die Hoof en Hy regeer sy kerk. Kom ons wees gehoorsaam aan Hom en wend ons gawes in sy kerk aan sodat ons gemeente ook ons roeping kan vervul om die koninkryk van God uit te bou.

Amen 

23 Julie 2013

Sola Gratia. Deur die genade van God alleen.

21 Jul. 2013 Ef. 2:1-10 Fokusgedeelte : Ef. 2:8 & 9 Sondag 1 HK
Lof-Psalm Ps. 18:1 & 3           (OAB)
Na Wet Ps. 1:1 & 3                 (OAB)
Na Gebed Ps. 18:13 & 4          (OAB)
Slotsang Ps. 8:1, 4, 5 & 8        (OAB)
SONDAG 1.
1  Vraag:  Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord:  Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c).  Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e).  Hy bewaar my op so 'n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g).  Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h).  Daarom verseker (i) Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).
(a) Rom 14:8.  (b) 1 Kor 6:19.  (c) 1 Kor 3:22;  Tit 2:14:  (d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7;  2:2, 12.  (e) Heb 2:14;1 Joh 3:8;  Joh 8:34-36.  (f) Joh 6:39;  10:28;  2 Tess 3:3;  1 Pet 1:5.  (g) Matt 10:30;  Luk 21:18.  (h) Rom 8:28.  (i) 2 Kor 1:22;  5:5;  Ef 1:14;  Rom 8:16.  (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3:
2  VraagHoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Antwoord:  Drie dinge (a):  Ten eerste, hoe groot my sonde en ellende is (b);  ten tweede;  hoe ek van al my sonde en ellende verlos word (c) en ten derde hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees (d).
(a) Matt 11:28-30;  Ef 5:8.  (b) Joh 9:41;  Matt 9:12;  Rom 3:10;1 Joh 1:9;10.  (c) Joh 17:3;  Hand 4:12 10:43.  (d) Ef 5:10;  Ps 50:14;  Matt 5:16;  1 Pet 2:12;  Rom 6:13;  2 Tim 2:15:

Inleiding
As ons in een sin moet opsom waaroor Christenskap gaan, hoe sou ons dit doen? Daar is basies drie hoofsake waaroor dit gaan. Hoe groot is my sonde en ellende. Hoe kan ek van al my sonde en ellende verlos word en hoe moet ek dankbaar wees teenoor God vir so ’n verlossing. As ons mooi daaroor nadink dan is dit in kort waaroor Christenskap gaan en dit is hoe dit kortliks in ons teksgedeelte opgesom word.

Hoe groot is my Sonde en ellende?
Ons hoor in Ef. 2:1-3
Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is. So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word.

Die eerste saak is dus dat mense as gevolg van sonde ver van God af is. Hoe lyk die mens wat in hierdie sondige toestand is? God het nie ’n invloed op sy lewe nie. Hy erken nie God se gesag nie, met ander woorde dit wat God in die Bybel sê wat reg en verkeerd is, stem hy nie mee saam nie. So ’n persoon is inderdaad in opstand teen God se gesag in sy lewe. Hy laat hom lei deur die satan en sy eie sondige natuur. Hy aanvaar nie self verantwoordelikheid vir sy doen en late nie. Ander kry die skuld vir sy verkeerde optrede.

As ons na Ef. 2:2 luister dan sal ons maklik sê dat dit die ou duiwel se skuld is dat ek sondig. In vers 3 is dit egter duidelik dat dit ons eie sondige natuur en begeertes is wat ons lei. Niemand anders buiten onself moet die skuld dra vir ons verkeerde optrede nie. As ons die skuld op die satan pak, dan beskuldig ons eintlik vir God, want Hy het toegelaat dat die satan ons verlei. Eva en Adam het ook probeer om die skuld op iemand anders te pak. Eva het die slang beskuldig. Adam het Eva beskuldig en op die uiteinde vir God self. God sê egter duidelik vir ons dat elkeen self verantwoordelik is vir sy sonde. God het vir elke mens ’n vrye wil gegee en daarom kan ons nie ander mense die skuld gee vir ons sondige optrede nie.

Die gevolge van die sonde is egter verskriklik. God se oordeel en straf rus nou op die mens. Die mens se eie wil het so verwronge geraak dat hy net die sonde wil najaag en so is die mens se natuurlike geaardheid nie meer om goed te doen nie maar om verkeerd te doen. Hoe lyk die mens se sondige natuur wat hy navolg? In Gal 5:19 spel die Here dit vir ons uit:
Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge.
Ons kan maar net weer gaan kyk tot watter mate hierdie dinge nog deel is van my lewe.

Hoe kan ek van al my sonde en ellende verlos word?
Die probleem is dat ek so diep in my sonde en ellende vasgevang is dat ek nie self daaruit kan kom nie. Wat ’n droewige toestand verkeer die mens nie in nie? Hy is vasgevang in die sondige ellendigheid van hierdie wêreld en hy kan niks doen om daarvan verlos te word nie. Die Here sê vir ons in Ef. 2:1
Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes
As God nie ingryp nie, dan sal ons vir ewig vasgevang wees in ’n hopelose toestand ver van God af.

Genadig het God ingegryp. Omdat Hy ons innig liefhet, het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. In Ef. 2:8 & 9 hoor ons:
Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.
God se genade beteken dat ons nie vir God hoef te bewys dat ons goed genoeg is vir Hom nie. Dis wat genade beteken. Daar is niks wat ons kan doen sodat God meer lief vir ons sal wees nie en die teendeel is ook waar. Daar is niks wat ons gedoen het wat sal maak dat God minder lief is vir ons nie.

Jesus het gesterf en opgestaan. Dit wat letterlik met Jesus gebeur het, geld figuurlik vir die gelowiges. Soos Christus dood was, maar opgewek is, so het God die gelowige lewend gemaak sodat ons nou die ewige lewe kan hê. Dit wat met Jesus gebeur het, geld egter ook letterlik vir die gelowige. Jou liggaam gaan letterlik doodgaan, maar God gaan ook jou dooie liggaam lewendig maak, en dan gaan jy na liggaam en gees ewig saam met Christus regeer.

God se genade beteken dat Hy alles vir ons gee sonder dat ons iets hoef te doen om dit te verdien. Ons deel in hierdie genade deur geloof en selfs die geloof wat God vra is ’n gawe van God sodat ons kan weet dat ons deel het aan sy ewige genade.

Hoe moet ons vir God dankie sê vir hierdie verlossing?
Ons was dood as gevolg van ons sonde en God het ons in Christus Jesus lewend gemaak deur ons te verlos van die doodsbestaan waarin die sonde ons vasvang soos ons hoor in Ef. 2:10
Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Besef u wat dit vir ons beteken? Ons is nie meer vasgevang in die negatiwiteite van die lewe nie. In die plek van vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid en skeuring kan liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid en goedhartigheid ons lewens kenmerk. God wil vir ons net die beste gee en daarom kan ons nou begin deel in die goeie wat Hy vir ons bestem het.

Samevatting
Christenskap gaan daaroor dat daar ’n radikale verandering in die lewe van ’n gelowige plaasvind. Deur God se genade in Jesus Christus is ons nie meer dood as gevolg van ons sonde nie. Ons is saam met Christus opgewek tot ’n nuwe lewe. Ons is nie meer vasgebind aan ’n negatiewe sondige bestaan wat deur liefdeloosheid gekenmerk word nie. In die plek daarvan het God vir ons ’n lewe gegee wat deur liefde en omgee gekenmerk word en daarmee saam ’n lewende hoop dat ons liggaamlike dood maar slegs ’n heerlike deurgang is tot ’n ewige heerlikheid saam met God.

Om getroos in hierdie lewe te leef moet ek weet hoe groot my sonde en ellende is, hoe ek daarvan verlos kan word en hoe ek vir God dankie moet sê vir die nuwe lewe wat Hy uit genade aan ons skenk.

Geliefdes, kom ons kyk opnuut weer na daardie areas van ons lewens wat nog deur sonde gekenmerk word. Kom ons bely ons sonde teenoor God, want Hy is getrou en regverdig. Hy vergewe ons, ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. Kom ons glo in Jesus Christus en kom ons wees lief vir mekaar ooreenkomstig sy gebod wat Hy vir ons gegee het.

Amen

Wie en wat is die kerk van Jesus Christus?

14 Jul 2013
Ef. 1 teksverse Ef. 1:18-19
Ps. 147:1 & 2
Ps. 19:4 & 5
Sb 7-2:1 & 2
Sb 1-1:1,2 & 7

Inleiding
Gelowiges maak so dikwels ’n onderskeid tussen kerk en hul eie lewens. Dit is egter ’n valse onderskeid omdat gelowiges nie los van die kerk kan wees nie, want ons is die kerk. Mense dink verkeerd oor wie en wat die kerk werklik is en daarom sien hulle die kerk as hierdie aparte organisasie waarby hulle betrokke kan raak of nie.

Teenoor hierdie verkeerde siening van die kerk, leer die Here ons wie en wat die kerk werklik is. In die briewe aan Efese en Kolosse leer die Here ons presies wie en wat sy kerk is. Die brief aan Kolosse fokus daarop dat Jesus die Hoof van sy kerk is terwyl die brief aan Efese daarop fokus dat die kerk die Liggaam van Christus is.

Verlede Sondag het ons gehoor dat daar ’n onderskeid is tussen die kerk en die wêreld. Vandag gaan ons meer spesifiek fokus op wie en wat die kerk is.

Eerstens: Wie is die kerk?
Ek dink een van die redes waarom daar so ’n verskeurdheid in die kerk is, is omdat gelowiges nie altyd mooi verstaan wie die kerk is nie. Baie gelowiges dink dat die kerk maar net ’n organisasie is waarby mens kan aansluit of nie. Net soos mens byvoorbeeld besluit of jy deel van die tennis of visvangklub wil wees. Jy besluit of jy daarby betrokke wil wees of nie en tot watter mate jy aktief gaan wees daarin. Sekere tennisklublede sluit aan net aan om so een of twee maal per maand ’n potjie tennis te gaan speel. Verder is hulle nie juis betrokke by die klub nie. Hulle betaal hul lidmaatskapfooie en verder moet jy hulle nie pla nie. Ander weer het ’n baie groter betrokkenheid en dien selfs op die bestuur van die klub.

Baie van ons tree op asof die kerk ook maar net so ’n menslike organisasie is waar ons besluit of ons deel daarvan wil wees of nie en hoe betrokke ons wil wees. Ek sal so dan en wan ’n erediens bywoon wanneer ek behoefte daaraan het, maar verder moet julle my nie met kerksake pla nie. Ons kry vandag ook al hoe meer mense wat redeneer dat hulle die Here kan dien los van die kerk. Die Here leer ons hier in Efesiërs dat sy kerk nie so werk nie. Dit is nie mense wat besluit of hul deel van die kerk wil wees of nie. Ons is deel van die kerk omdat God ons uitgekies het om deel van sy kerk te wees soos ons hoor in Ef. 1:4 & 5:
So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.

Jesus het ons gekoop en Hy het ’n duur prys betaal soos ons hoor in Ef. 1:7 & 8:
Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.
Hoe weet ek of ek deel het aan hierdie genade? In Ef.1:13 sê die Here vir ons dat ek deel het aan sy genade wanneer ek die goeie nuus glo dat Jesus Christus vir my sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat die Heilige Gees vir my daardie geloof gee sodat ek kan weet dat ek uitgekies is om deel van sy kerk te wees. In Ef. 1:15 sê die Here vir ons hoe ek kan weet of ek deel van die kerk is of nie. As ek in Jesus Christus glo en ek is lief vir die gelowiges dan kan ek weet dat God my ook uitgekies het om deel van sy kerk te wees. Geliefdes, ons is deel van Jesus Christus se kerk omdat Hy ons uitgekies het en nie omdat ons so besluit het nie. As ek so optree asof dit my besluit en keuse is of ek deel van die kerk is of nie en hoe betrokke ek is, dan is ek ongehoorsaam aan God.

Wat is die kerk?
Hoekom het God ons uitgekies om sy kerk te wees? In ons teksvers Ef. 1:18 & 19 gee die Here vir ons drie redes:
Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.
Die Here het vir ons ’n roeping. Hy gee vir ons ’n erfenis en sy krag werk in ons wat glo.

Wat is sy roeping? Ons maak so dikwels die fout om te dink dat ons roeping in die lewe die beroep is wat ek beoefen. Dit is deel daarvan, maar dit maak net ’n klein onderdeel uit van my totale roeping. Ons roeping is baie groter as wat ons dink. In Ef. 1:17 hoor ons wat die totale omvang van God se roeping is in ons lewens:
Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.
Ons roeping is om God en sy heerlikheid te leer ken. Ek moet God leer ken in elke aspek van my lewe. Ek moet God leer ken in my beroep. Ek moet Hom leer ken in my verhoudings met mense. Ek moet Hom leer ken in my ontspanning. Ek moet leer dat God 24/7 deel is van my lewe!

Wat is die erfnis wat ons van Hom ontvang? Die ewige lewe. Die ewige lewe is nie net iets wat eendag gaan kom nie maar dit begin nou reeds waar ons kan lewe as burgers van sy Koninkryk. ’n Verkeerde siening van die kerk bring mee dat ek dink dit gaan net oor my. Dan word ek vasgevang in my eie klein wêreldjie waar ek dinge so wil reël dat alles my moet dien. Dan raak ek kwaad as dinge nie na my smaak en sin verloop nie. Dan wil ek aan almal voorskryf hoe dinge moet gebeur en as dit nie volgens my smaak en beginsel gaan nie, is ek kwaad. Die kerkraad en die ds. moet sorg dat die kerk vir my ’n lekker plek is. Dan leef ek inderdaad nog as ’n burger van die duisternis waar alles net om my eie selfsugtige begeertes draai.

Wanneer ek besef wat die kerk van die Here werklik is en dat ek deel is daarvan, begin ek leef as ’n burger van God se koninkryk van die lig. Dan sien ek die groter prentjie raak waar dit nie net oor my gaan nie, maar waar ek deel is van God se weermag wat Hy gebruik om die bose te oorwin en dat ek op pad is na ’n heerlikheid waar die bose finaal oorwin sal wees. Dan besef ek dat nie ’n passasier op ’n vakansieskip is wat bedien moet word nie, maar dat ek ’n soldaat op ’n oorlogskip is wat in God se weermag teen die bose baklei. Die wapen wat God vir ons gee in hierdie stryd is die evangelie. Ons moet die goeie nuus van Jesus Christus aan die wêreld uitdra sodat God se lig al hoe helderder in ’n donker wêreld begin skyn.

Wat is God se krag wat in ons werk? Na Jesus se hemelvaart het Hy die Heilige Gees in sy plek gestuur om ewig met ons te bly. Die Heilige Gees is die krag in ons lewe wat dit vir ons moontlik maak om die uitdagings in die lewe aan te vat. Die Heilige Gees gee aan ons die krag om aan te gaan wanneer die lewe moeilik raak. Burgers van die duisternis se lewens word deur vrees en negatiwiteit gekenmerk. Die Heilige Gees gee vir ons die krag om die vrees te oorwin en die ewige lewe wat God vir ons gee te begin leef. Die krag om as soldaat in God se koninkryk te stry teen die bose. Ons leef nog in ’n wêreld wat ly as gevolg van die gevolge van die sonde. Die Heilige Gees gee aan ons die krag sodat die gevolge van die sonde ons nie onder kry nie en die krag om aan te gaan na ons einddoel waar die bose finaal oorwin sal word deur Jesus wederkoms.

Samevatting
Die kerk van die Here is nie ’n menslike organisasie waar mens self besluit of jy daarby wil aansluit of nie. Die kerk van die here is sy uitverkorenes wat Hy uitgekies het om deel van sy kerk te wees. Jesus het sy kerk uitgekies met die roeping om God werklik te leer ken. Om deel te hê aan die erfenis van God naamlik die ewige lewe wat Hy aan ons skenk en om die krag van die Heilige Gees te ondervind sodat ons werklik die lewe kan leef wat God vir ons bestem het.

Geliefdes, kom ons luister na God se stem wanneer Hy ons roep sodat ons geestesoë so kan verhelder dat ons weet watter hoop sy roeping vir ons inhou, watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir ons bestem het en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.

Amen

Christus is die krag en wysheid van God waarmee die kerk ʼn verskil in die wêreld maak

1 Kor 1 v 18 tot 31 tv 23 en 24
Intreepreek ds G. van der Walt – Gereformeerde Kerk Empangeni – 7 Jul 2013
Inleiding
Wanneer die onderskeid tussen kerk en wêreld verdwyn, is dit die begin van die einde vir die kerk. Die kerk werk anders as die wêreld en daarom is dit nodig dat ons hier aan die begin van ’n nuwe tydvak besin oor wat die doel en rol van die kerk in die wêreld is. Hoekom is ons kerk? Hoekom offer ons, ons tyd en geld op om vir die kerk te werk? Hoekom slaap ons nie laat op ’n Sondag of ontspan net nie? Hoekom woon ons eredienste by? Hoekom word hier vandag ’n nuwe predikant in die Gereformeerde Kerk Empangeni bevestig?

Agtergrond
Die gemeente in Korinte het ook met hierdie vrae gesukkel. Hulle het al hoe meer soos die wêreld begin word. Die gevolg was dat hulle ook begin sukkel het met probleme wat algemeen in die wêreld is, trots, hoogmoed, statusbewustheid en spoggerigheid. Verdeeldheid en losbandigheid het groot onmin in die gemeente veroorsaak. Hierdie probleme het die gemeente binnegesluip as gevolg van die wêreldse invloed wat in die kerk begin posvat het. Wanneer die kerk soos die wêreld word dan ervaar die mense nie meer die verlossing van God nie, maar struikel hulle oor die roem van mense.

Daarom begin Paulus dan ook hierdie brief aan die gemeente deur ’n duidelike onderskeid tussen kerk en wêreld te tref. Daar is ’n verskil tussen wêreldse wysheid wat eintlik dwaasheid is en die wysheid van God wat die wêreld as dwaasheid beskou.

Wêreldse wysheid/dwaasheid
Mense wat in die wêreld bo wil uitkom, maak van wêreldse wysheid gebruik en hulle dink dikwels dat hulle hierdeur vir God kan leer ken. Die Jode word beïndruk deur wondertekens en dit is wat hulle najaag. Ons vind dit vandag nog in die kerk. Mense wat soveel van wonderwerke maak en sommiges wat selfs aandring dat hulle lewens net deur wonderwerke gereël word. Jy mag nie dokter toe gaan as jy siek is nie, jy moet net bid en glo vir ’n wonderwerk en wanneer dit nie gebeur nie dan is jou geloof skynbaar nie sterk genoeg nie. So word die ware betekenis van wonderwerke in die Bybel geïgnoreer en word die boodskap van die kruis verander tot iets wat dit nie is nie.

Die nie-Jode (Grieke) het op geheime kennis wat net vir sekeres bedoel was, staatgemaak vir verlossing. So het daar ’n geloofs-snobisme in die gemeente ingesluip. Dit vind ons vandag nog in die kerk. Dit is veral ’n slaggat waarin ons as gereformeerdes maklik trap. Ons is so bietjie beter as die res en as jy nie saam met ons siening stem nie dan word jy veroordeel. Dink maar aan die debat binne die kerk oor Psalms, vrouens en kelkies. So word die kerk na binne gerig weg van sy roeping af om God se liefde na ’n stukkende wêreld te bring.

’n Ander aspek van wêreldse wysheid wat vandag sterk na vore kom is die rasionalistiese denkrigting van ons tyd. Dit wat die mens nie kan verklaar nie, kan nie wees nie. Alles moet deur middel van natuurlike prosesse verklaar en verduidelik word en per definisie sluit dit God en sy betrokkenheid by die wêreld uit. Hierdie denke sluip ook die kerk binne. Dit wat in die Bybel nie deur middel van hierdie natuurlike rasionalistiese denke verduidelik kan word nie, word afgemaak as mites en stories wat die produk is van ongesofistikeerde menslike denke. Die skeppingsverhaal is nie meer geldig nie. Jesus se maagdelike geboorte kan nie wees nie en Hy het ook nie werklik opgestaan nie. So word die krag van God se Woord tot niet gemaak en menslike prestasie en denke as enigste norm voorgehou. Hierdie sogenaamde wêreldse wysheid is vir God dwaasheid.

Goddelike wysheid en krag
Teenoor die wêreldse wysheid (wat eintlik ’n dwaasheid is) staan God se krag en wysheid wat Hy deur die boodskap van die kruis bekendmaak. Vir die wêreld is die boodskap van die kruis ’n aanstoot en onsin omdat menslike prestasie, kennis en vernuf daarin niks tel nie.

Maar vir hulle wat deur God uitgeroep is gee die boodskap van die kruis lewe. Dit gee aan hulle die krag om op te staan uit die doodsbestaan van die sonde en dit gee aan hulle die wysheid om die nuwe lewe te leef wat God gee.

Wat beteken die boodskap van die kruis? Dit stel jou saak met God reg. Sonde het ’n kloof veroorsaak tussen die mens en God. Die kruis en opstanding van Jesus Christus oorbrug daardie kloof. Die boodskap van die kruis maak dit vir mense moontlik om heilig te lewe, met ander woorde nie meer die selfsugtige doodsbestaan van die sonde en die wêreld nie, maar ’n lewe wat daarop gemik is om liefde na ’n verlore wêreld uit te dra. Die boodskap van die kruis gee aan die uitverkorenes ’n lewende hoop op die hiernamaals. Gelowiges hoef nie meer die dood te vrees nie. Gelowiges kry deel daaraan deur die boodskap van die kruis met geloof aan te neem wat die Heilige Gees gratis aan elke uitverkore kind van God skenk.

Wat beteken dit prakties vir die kerk en hiermee saam moet ons vra: “wat beteken dit prakties vir my?” Want ons IS die kerk? Christus is vir ons die krag van God, met ander woorde die Heilige Gees is met ons al die dae van ons lewe. Die Heilige Gees gee aan ons die wysheid om ons vyande lief te hê. Die wysheid om te weet dat ek my krag net by God moet soek wanneer die lewe vir my te moeilik raak. Die boodskap van die wêreld is om jou self te help en om sterk te wees, maak nie saak wat oor jou pad kom nie. Die vraag is net: “wat maak jy as jy nie meer kan sterk wees nie???” Waar kry ek die krag vandaan om met my lewe aan te gaan as my lewe deur ’n egskeiding uitmekaar geruk is? Waar kry ek krag om die verpletterende nuus van kanker in my lewe te hanteer? U ken die lewenskrisisse waarmee ons elke dag stoei.

God het die kerk geroep om die boodskap van die kruis aan ’n wêreld sonder hoop te bring sodat daar weer hoop kan wees vir ’n wêreld wat God nie ken nie. Reik ons as kerk nog uit na die stukkende mense daarbuite? Bring ons hoop of veroordeling aan die prostituut daar buite? Bring ons vertroosting vir die ou wat net nie meer weet watter kant toe nie en wat nou selfmoord as die laaste opsie oorweeg? Bring ons lig en nuwe lewe vir die mens wat die pad byster geraak het? Die mens se grootste krisis in die lewe is dat hy van God vervreem is. Die kerk is God se plan om verlore mense weer met Hom te versoen deur die boodskap van die kruis te verkondig. Daar is nie ’n plan B nie! Vir die wêreld is die kerk onsin, maar vir God se uitverkorenes is die kerk die voertuig wat God gebruik om weer hoop vir ’n verlore mensdom te bring. Die oes is groot en die arbeiders min.

Die oplossing van die wêreld bied geen hoop nie en as die kerk met wêreldse oplossing gevul raak verloor die kerk haar relevansie in die wêreld. As die kerk haar nie besig hou met die boodskap van die kruis nie, dan verval die hele rede en doel van die kerk om te bestaan. Kom ons besin net weer of die Gereformeerde Kerk in Empangeni steeds haar roeping vervul. Kom ons wees getrou aan ons naam steeds reformerend, dit wil sê weg te draai van die wêreld en terug te draai na die boodskap van die kruis. Kom ons draai opnuut weet terug na die kruis sodat ons met die krag en wysheid van God ’n verskil in ’n stukkende wêreld kan maak wat God nie ken.

Geliefdes, dit is nie toevallig dat hier in Empangeni ’n Gereformeerde Kerk is nie. God het ’n doel met ons. Kom ons rol ons moue op en pak die werk wat God vir ons gegee het met ywer aan.

Amen.