06 Julie 2025

Die goeie nuus van Jesus Christus

 


6 Jul. 2025 GK RB

Mat. 1 v 1 – 17

In die evangelie volgens Mateus begin die verhaal van Jesus Christus se geboorte anders as wat mens sou verwag. Dit begin nie met ʼn vertelling van die gebeure wat daar plaasgevind het nie, maar wel met ʼn geslagsregister. Mense sien dikwels die geslagsregisters in die Bybel as vervelig en 
Mat. 1 v 1 – 17 word ook dikwels geïgnoreer.

 Hierdie inleiding tot verhaal van Jesus Christus se geboorte is egter belangrik want die verhaal waarvan ons hier hoor gaan oor veel meer as net die geboorte van ʼn kind. Dit is die verhaal van die koms van die mees belangrikste persoon in die geskiedenis van die mensdom wat beplan is voor die grondlegging van die aarde.

 Die geslagsregister vertel ons baie meer as wat ons op die oog af sou dink. Die geslagsregister sê vir ons:

1.         die evangelie is Goeie Nuus, nie goeie advies nie.

2.         Verder sê dit ook vir ons die Evangelie is anders as wêreldse waardes.

 In die eerste plek hoor ons

Evangelie is Goeie Nuus, nie goeie advies nie

Die verhaal begin nie met “Eendag lank, lank gelede ....” nie. Dis hoe mens gewoonlik ʼn sprokie begin wat nie werklik waar is nie. Wanneer Mateus begin met “dit is die geslagsregister van Jesus Christus,” dan sê hy daarmee dat hierdie verhaal gegrondves is in die geskiedenis. Dit is nie net ʼn sprokie nie. Dit het werklik gebeur.

 Sprokies word dikwels gebruik om ʼn morele lessie tuis te bring. Dit sê vir ons hier is goeie advies oor hoe jy jou lewe behoort te leef. Hierdie verhaal vertel vir ons van ʼn gebeurtenis in die geskiedenis wat belangrike implikasies in jou lewe het. Dit is goeie nuus wat jou lewe sal verander.

 Die verskil tussen advies en goeie nuus kan soos volg verduidelik word. Sê nou maar daar is ʼn vyand wat jou bedreig. Dan het jy advies nodig oor wat om te doen, watter maatreëls moet jy tref om jouself te verdedig sodat jy jouself kan red van daardie vyand. Advies gaan dus oor iets wat jy nog moet doen.

 Goeie nuus vertel vir jou van iets wat reeds gebeur het. Dit is die goeie nuus dat die vyand wat jou bedreig het, oorwin is. Jy hoef nie meer verdegingsmure te bou nie. Jy hoef nie te vlug nie. Die koning het die vyand oorwin en dit verander jou lewe drasties.

 Ons hoor nie hier advies oor wat ons moet doen om onsself te red nie. Ons hoor van die goeie nuus wat God gedoen het. Jy hoef nie jouself te red nie. God het gekom om jou te red. Dis die verskil tussen die Christendom en al die ander godsdienste. Ander godsdienste gee advies oor wat jy behoort te doen om gered te word sodat jy geestelik vervul kan wees. Die goeie nuus van Jesus Christus sê vir jou wat Jesus gedoen het om jou te red en dit gee vir jou die geestelike vervulling om met God versoen te wees.

 Christenskap is dus nie primêr oor goeie advies oor wat jy behoort te doen om jou lewe te verbeter nie. Dit is wel waar dat die evangelie groot implikasies het oor hoe jou lewe daardeur verander word, maar eerstens is die evangelie die goeie nuus dat jy gered is. Jy is nie gered deur iets wat jyself gedoen het nie, maar wel deur dit wat Jesus vir jou gedoen het.

 Jy begin dus by Christus en nie by advies oor om ʼn nuwe blaadjie oor te slaan nie. Jy begin deur die goeie nuus te glo van die verhaal van Jesus wat werklik in die geskiedenis gebeur het. Jy glo dat God werklik in Jesus Christus mens geword het. Jy glo dat Jesus Christus vir jou geleef en gely het. Jy glo dat Hy vir jou sondes aan ʼn vervloekte kruishout gesterf het. Jy glo dat Jesus die dood oorwin het en dit verander jou hele lewe.

 Die goeie nuus van die geboorte van Jesus Christus begin met ʼn geslagsregister wat vir ons sê “dit is nie net nog ʼn sprokie met ʼn morele lessie nie. Nee dit is ʼn ware verhaal van een van die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die mensdom.”

 Dan hoor ons die tweede plek die

Evangelie is anders as wêreldse waardes

Om te verstaan wat hierdie geslagsregister nog verder beteken moet ons in ag neem wat die kultuur gebruike was in die tyd waarin Mateus geleef het.

 Ons leef in ʼn tyd met ʼn individualistiese kultuur waarin jy jouself by ander aanbeveel met dit wat jy in die lewe bereik het. Op jou CV voeg jy jou akademiese kwalifikasies, jou werksondervinding en dit wat in die lewe bereik het in.

 Mateus het in ʼn tyd geleef wat meer op die gemeenskap gefokus was waarin jou familie en herkoms baie belangrik was. Mat. 1 v 1 – 17 is dus baie meer as net ʼn blote geslagsregister. Dit moet inderdaad as ʼn CV beskou word. Net soos wat ons vandag ʼn CV gebruik om onsself aan te beveel, het ʼn geslagsregister gedien om te sê, “Dit is wie ek is.”

 Net soos wat die mense vandag ook hul CVs opstel om al die positiewe dinge te beklemtoon en die negatiewe weg te laat, het die mense van daai tyd ook hul geslagsregisters gedokter om net die positiewe te beklemtoon. So het Herodus bv. baie name uit sy geslagsregister weggelaat omdat hy nie wou gehad het dat die weggelate persone met hom geassosieer sou word nie.

 Die doel van die geslagsregister was om mense te beïndruk met die hoë kwaliteit en eerbiedwaardigheid van jou herkoms. Mateus doen egter net mooi die teenoorgestelde met hierdie geslagsregister. Dit is skokkend anders as die geslagsregisters van sy tyd.

 Daar word bv. vyf vroue in die geslagsregister genoem, iets wat in die patriargale samelewing van sy tyd ongehoord was. Tog word hierdie vroue in Jesus se geslagsregister ingesluit. Verder is daar drie van die vroue, Tamar, Ragab en Rut wat nie deel was van die Israelitiese volk was nie.

 Twee Kananiete en ʼn Moabiet. Die Jode van destyds het diegene wat buite die volk was as onrein beskou en hulle was bv. nie in die tabernakel of tempel toegelaat nie. Hulle was van ongewenste rasse, maar tog is hulle ingesluit in Jesus se geslagsregister.

 Daar is nog meer hieraan verbonde. Deur die noem van hierdie vroue herinner Mateus sy gehoor van die mees immorele en slegte insidente in die Bybel. Tamar het Juda verlei om bloedskande te pleeg omdat hy nie sy jongste seun aan haar wou gee volgens die gebruik van sy tyd waar broers die vrou van hulle broer wat gesterf het as vrou moes neem sodat daar vir die afgestorwe broer ʼn nageslag kon wees.

 Alhoewel Jesus nie van Serag afgestam het nie word hy ook genoem om die hele skandelike verhaal in herinnering te roep. Daardie disfunksionele familie was deel van Jesus se stamboom. Ragab was ʼn prostituut. Nie juis iemand in jou nageslag aan wie jy die mense wil herinner nie.

 Koning Dawid word ook genoem en op die oog af sou mens dink dat dit darem die naam van ʼn vooraantaande persoon is wat genoem word. Die verwysing na Dawid is egter nie vleiend nie. In die geslagsregister word hy genoem as die vader van Salomo, maar dan word daar bygevoeg “by die vrou van Urija.” Dit laat die klem val op Dawid se skandes, sy owerspel en moord op een van sy getrouste manskape.

 Hier in die geslagsregister van Jesus hoor ons van die morele buitestaanders, owerspeliges, bloedskandes, prostitute en selfs vooraanstaandes soos Dawid wat morele mislukkings was. Die onreines wat deur die wet van Moses uitgesluit is om in die teenwoordigheid van God te wees, was almal deel van Jesus se voorgeslag.

 Wat sê dit vir ons? Dit sê in die eerste plek dat mense wat deur kultuur uit die samelewing uitgesluit word en selfs hulle wat deur die wet van God uitgesluit word, deel kan word van Jesus se familie. Dit maak nie saak wat jou agtergrond is nie of wat jy gedoen het nie of selfs of jy ʼn moordenaar is of nie. As jy in Jesus glo word jy deur de genade in Jesus Christus; wat jou sondes bedek; deel van die huisgesin van God. Jesus bedek jou sondes met sy bloed en versoen jou met God.

 In die Bybelse tyd was dit so dat indien jy rein en respektabel wou bly jy kontak met die onreines moes vermy sodat jy nie deur hulle besoedel kon word nie. Jesus verander dit egter want sy heiligheid word nie deur jou onreinheid besoedel nie. Wanneer jy met Jesus in aanraking kom, word jy deur sy heiligheid skoon gemaak. Daarom kan jy na Hom toe kom ongeag van wat jy gedoen het. Jesus reinig jou van jou sondes.

 Aan die ander kant sê dit ook vir ons dat selfs die beroemde koning Dawid net op grond van God se genade deel kan word van God se gesin. Maak nie saak of jy deel is van die vooraanstaandes van die samelewing nie, dit is slegs op grond van God se genade dat jy deel kan word van sy gesin. Dit is slegs op grond van wat Jesus gedoen het dat jy deel kan word van sy gesin. Niemand is sonder sonde nie, selfs nie eens die mees vooraanstaande persoon in die samelewing nie.

 In alle kulture word daar neergekyk op mense. Die rykes kyk neer op die armes, sekere rasgroepe kyk neer op ander rasgroepe. Die wêreld gebruik die maatstawe van sosiale status, rykdom en hoë aansien van jou herkoms om te bepaal of jy aanvaarbaar is of nie.

 In die gesin van Jesus Christus is dit egter anders. Die waardes wat buite die kerk so belangrik is, is nie vir God belangrik nie. Al wat belangrik is, is bekering en geloof in Jesus Christus.

Samevatting

 Die goeie nuus van Jesus Christus begin met ʼn geslagsregister. Dit sê vir ons dat dit ʼn verhaal is wat in die waarheid van die geskiedenis gegrondves is. Daarom is die Evangelie goeie nuus en nie goeie advies nie. Dit vertel die goeie nuus van wat Jesus reeds vir jou gedoen het.

 Verder sê dit vir ons dat die wêreldse waardes soos status, rykdom, ras en geslag, nie bepaal of jy deel word van Jesus se gesin of nie. Dit is slegs op grond van God se genade in Jesus Christus dat jy deel word van sy gesin.

 Daarom geliefdes. Glo in die evangelie. Glo in die ware verhaal van die goeie nuus van Jesus Christus en ervaar die rus en vrede wat net by God te vinde is.

Amen


As die HERE nie saamgaan nie, is alles tevergeefs

 

6 Jul 2022 GK BSH

Eksodus 33 – Teksverse Eks. 33:4, 15, 12, 16 & 18

Ons staan nou aan die begin van ’n nuwe hoofstuk op ons pad vorentoe en daarom is dit goed dat ons net so bietjie besin oor die pad vorentoe.

Eksodus 33 gee vir ons ’n goeie raamwerk om te besin oor die pad vorentoe.

Op hulle pad na die beloofde land vanaf Egipte se slawerny het die Israeliete by Sinaiberg oorgestaan waar die HERE sy wet vir hulle gegee het. Terwyl Moses op die berg was waar die Here vir hom verdere voorskrifte gegee het, het die volk ongeduldig begin raak en hulle het vir Aaron gevra om vir hulle ’n goue kalf te maak (Eks. 32).

Dit is teen hierdie agtergrond waar Israel die verbond tussen hulle en God verbreek het, dat die Here vir Moses in Eks. 33:1 sê dat die volk verder moet trek na die beloofde land toe, maar dat Hy nie met hulle sou saamgaan nie.

Dit mag dalk klink of die volk gestraf word, maar dit is eintlik die Here se genade wat Hy hier betoon. God is heilig en daarom laat Hy nie sonde toe nie. Die Here wil nie saamtrek nie want die volk se sonde sal maak dat hulle verdelg word.

In Eksodus 33:4 hoor ons dat hierdie uitspraak die volk hard getref het. Alhoewel die Here hulle steeds belowe dat hulle in die beloofde land sou ingaan, besef hulle dat die land van melk en heuning sonder God eintlik hel sal wees. Hoe dikwels maak ons nie die fout om God se seëninge te wil hê i.p.v. God self nie?

In die volk se reaksie sien ons ook wat nodig is wanneer daar sonde tussen jou en God staan. Die feit dat hulle nie juwele verder gedra het nie, wys dat hulle getreur het oor die verlies van God se teenwoordigheid in hul lewens. Hulle wou die saak tussen hulle en God reg stel.

Met die tent van ontmoeting wat Moses buite die laer opgestel het, het hy ook vir die volk die geleentheid gegee om God weer op te soek en dit is wat hulle inderdaad gedoen het. Hulle het hulself voor God verootmoedig.

Om te weet hoe groot jou sonde en ellende is, moet jy jouself verootmoedig voor God. Jy moet verstaan dat sonde verwydering tussen jou en God bring. Jy moet ’n diepgaande berou oor jou sonde hê en daar moet ’n opregte begeerte by jou wees om die saak tussen jou en God reg te stel. Jy moet God aktief weer opsoek.

Geliefdes, waar staan ons as gemeente vandag teenoor God? Is daar nog steeds die opregte begeerte dat God deel van ons lewens moet wees? Het ons nog tyd vir God in ons lewens? Of gebruik ons Hom maar net soos ’n noodwiel om ons probleme weg te vat? Soek ons net die voordele wat God gee of soek ons God self? Dis vrae wat ons elkeen vir onsself moet afvra. Waar staan ek in my verhouding met God?

Moses het vir die volk ingetree by God en dit is ’n heenwysing na Jesus Christus wat by God vir ons ingetree het met sy kruisoffer.

Ons sien ook hier hoe belangrik dit is dat die leierskap ’n voorbeeld vir die volk moet wees. Omdat Moses die Here opgesoek het in die tent van ontmoeting, het die volk ook na die wil van Here kom vra. Hierin sien ons hoe groot die verantwoordelikheid is wat op ons as kerkraad rus. Ons moet die gemeente lei hierin.

In Eksodus 33:13 bid Moses:

As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk.”

Om te weet wat God verwag is dit noodsaaklik om God te leer ken.

In Eksodus 33:15 hoor ons dat Moses vir Here sê:

“As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie.

Verstaan mooi hoe belangrik dit is. As die Here nie saam met ons as gemeente gaan nie, help dit nie dat ons enigsins verder kerk probeer wees nie. As die Here nie saamgaan nie, is alles tevergeefs en dan kan ons maar net sowel die deure sluit.

In enige besluit wat ons as gemeente neem vir die pad vorentoe moet die eerste en belangrikste vraag wees: “wat wil die Here hê dat ons moet doen?” Want dit is immers sy kerk. Jesus Christus is die Hoof van die kerk. Hy is die Hoof van ons gemeente. Dit is sy kerk!

In Eksodus 33:15 & 16 hoor ons wat Moses se motivering is waarom die Here saam met die volk moet gaan:

Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”

Die kerk van die Here moet anders as die wêreld lyk. Die hartseer in vandag se tyd is dat die kerk onsigbaar binne die wêreld geword het omdat die kerk al hoe meer soos die wêreld begin lyk. Daarom kan ons nie maar net met die wêreld saamgaan wat so gefokus is op menseregte nie.

Ons fokus moet op God wees soos Hy Homself in die Bybel openbaar. God moet in ons lewens sigbaar wees. Daarom moet ons onsself ook dringend afvra: “Hoe sigbaar is ons gemeente vir die wêreld daarbuite?”

Navorsing het getoon dat een van die redes hoekom mense wat kerklos geraak het weer terug sal bring kerk toe, is dat hulle God op ’n besonderse en persoonlike manier wil beleef. Met ander woorde, God moet ’n werklikheid wees. Hulle wil nie net leë rituele beleef nie. Hulle wil God beleef.

Bied ons gemeente dit vir die mense wat soekend is daarbuite?

Moses het vir die volk ingetree en die Here het besluit om wel met die volk saam te gaan, maar Moses wou nog meer hê. Hy wou die glorie van God aanskou soos ons hoor in Eks. 33:18:

Toe vra Moses: “Kan ek maar asseblief sien hoe U lyk?”

Wat beteken dit om God te ken en in ’n verhouding met Hom saam te leef?

Daar is ’n verskil tussen om maar net te glo dat God bestaan op ’n intellektuele vlak en om deur die bewegings van rituele aanbidding te gaan teenoor om God persoonlik te ken en om sy liefde en heerlikheid in jou lewe te ervaar. Ons is na die beeld van God geskape en daarom is ons lewensdoel om in ’n verhouding met Hom saam te leef.

Wanneer jy werklik begin verstaan dat God jou geskep het om in ’n verhouding met Hom saam te leef, gaan daar ’n groot waarheid vir jou oopgaan. Dan sal jy die wonder begin beleef dat jy saak maak omdat jy vir God kosbaar is. Dan sal jy verstaan dat jou lewe betekenis het.

Om in ’n verhouding met God saam te leef sal jou ook laat verstaan hoeveel God se genade vir jou beteken. Dan sal jy verstaan hoe belangrik God se genade is deurdat Hy moeite maak met jou.

Wanneer God nie net meer ’n intellektuele onderwerp vir jou is nie, maar persoonlik teenwoordig in jou lewe is, sal jy sien hoe mooi God is. Wanneer jy byvoorbeeld die natuur bewonder of ’n kunswerk waardeer sal jy die skoonheid van God daarin raaksien. Die lewe maak sin wanneer jy die wonder van God daarin beleef.

Dan sal Artikel 1 van die NGB nie maar net nog iets wees wat ons sê nie, maar sal dit vir jou ’n lewende werklikheid wees dat God ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die aller oorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Moses mag net God se agterkant gesien het en daarom het die Here hom in ’n rotsskeur met sy hande toegemaak sodat hy nie verdelg word nie. ’n Sondige mens kan nie die volle heiligheid van God aanskou nie want God se heiligheid verdelg sonde.

God wat Moses met sy hande bedek het, is ’n heenwysing na Jesus Christus wat ons sonde met sy bloed bedek sodat ons nie verdelg word nie. Op grond van Jesus Christus se soenoffer aan die kruis, mag ons tot God nader.

In hierdie lewe kan ons God nie fisies sien nie. Ons sien Hom slegs met ons geloofsoë. Maar God belowe ons dat ons Hom van aangesig tot aangesig gaan sien en vir ewig saam met Hom sal wees. Die ewige lewe begin egter nie eers daar ver in die toekoms nie. Dit begin nou reeds deur jou geloof in Jesus Christus. Jy kan nou reeds God se teenwoordigheid in jou lewe beleef.

Geliefdes, hoe beleef jy die werklikheid van God se teenwoordigheid in jou lewe?

Jy moet verstaan dat sonde verwydering tussen jou en God bring. Verootmoedig jou voor God. Glo dat jou sondes vergewe is op grond van Jesus Christus se soenoffer aan die kruis en dat Hy met sy opstanding vir jou ’n nuwe lewe gee om saam met God te leef.

Bid dat God sy Gees vir jou sal gee. In Lukas 11:13 verseker die Here ons dat Hy die Heilige Gees aan elkeen wat Hom daarvoor vra, sal gee.

Maak seker jou motivering vir God se teenwoordigheid is opreg. Hoe lyk jou gebedslewe? Bid jy net vir God se gawes of bid jy om God al hoe beter te leer ken?

Maak tyd vir God in jou lewe. Luister na Hom deur tyd te maak om na Hom in sy Woord te luister. Antwoord Hom deur gebed.

Hoe lyk die pad vorentoe vir ons gemeente? Een ding is seker. As die Here nie saamgaan nie, is alles tevergeefs.

Amen


22 Junie 2025

 Psalm 11


 Ons almal kom soms in 'n situasie waar dit vir jou voel of jou omstandighede jou gaan oorweldig. Dit voel of jy in 'n storm vasgevang is wat jou gaan versmoor en jy weet net nie meer watter kant toe nie.

 Die redes verskil vir elkeen van ons. Vir party is dit jou gesondheid, siektes soos kanker, hartprobleme en al die ander siektes wat dreig om jou lewensvreugde te steel. Vir ander is dit weer finansiële probleme, moeilike werksomstandighede. Die verlies van 'n geliefde, veral as dit heeltemal onverwags is.

 Die vraag is: “wat maak jy wanneer die lewe dreig om jou te oorweldig? Watse ankers het jy om aan vas te hou wanneer jy midde in die storm is?”

 Dawid het ook baie lewenskrisisse beleef. Dink maar aan die keer toe hy vir sy lewe moes vlug omdat Saul hom wou doodmaak. Of die keer toe sy seun Absolom die troon met geweld by hom wou afvat.

 Dawid het Psalm 11 gedig na aanleiding van een van sy lewenskrisisse. Presies watter een word nie aan ons bekend gemaak nie. Wat wel seker is, is dat dit 'n situasie was wat hy nie alleen kon hanteer nie.

In verse 1 tot 3 hoor ons dat sy raadgewers nie eintlik van hulp was met hul raad nie. Dawid luister egter nie na hulle nie want in Ps. 11:1a hoor ons wat sy antwoord is op die raad wat hy ontvang:

By die Here skuil ek  

 Hy vind sy ankers by die Here in tye van nood.

 In die Hebreeuse grammatika word die werkwoord gewoonlik eerste geplaas. Wanneer dit nie gedoen word nie, is dit om 'n saak te beklemtoon soos dit ook in Psalm 11 die geval is. In ons teksvers is die werkwoord skuil nie eerste geplaas nie

 Die sin begin met “by die Here” en dan volg die werkwoord, skuil.

By die Here skuil ek.

 Dit is om te beklemtoon by wie Dawid skuil in tye van nood. Hy skuil by die Here.

 In die woordjie skuil lê die gedagte van eie onvermoë en dit beklemtoon die onsekerheid en hulpeloosheid van selfs die sterkste mens. Die beklemtoning dat hy by die Here skuil bevestig sy vertroue in die Here se alvermoë. Om by die Here te skuil, beteken om op Hom alleen te vertrou vir verlossing en beskerming.

 Geliefdes, dit is maklik om te sê: “Skuil by die Here.” Die vraag is egter: “Hoekom kan ons by die Here skuil?” In Ps. 11 v 4 tot 7 sê Dawid waarom hy eerder by die Here skuil as om sy raadgewers se raad te volg. In Ps. 11 v 1 b gee sy raadgewers vir hom die raad:

“Vlug na die berge toe soos ’n voël!

 Met ander woorde die bose het die oorhand gekry. Hulle is nou in beheer en die enigste raad is om te vlug. Geliefdes, hoe dikwels is dit nie ons reaksie wanneer die lewe moeilik raak nie? Ek wil net van alles wegkom. Ek sien nie meer kans hiervoor nie.

 In Ps. 11 v 4 sê Dawid vir sy raadgewers hoekom hy nie gaan vlug nie:

Die Here is in sy heilige tempel!

Die Here is op sy troon in die hemel!

Sy oë is oop, sy oë keur die mensekinders.

 Met ander woorde die goddeloses is nie in beheer nie. Die Here IS in beheer. Sy oë is oop, hy sien wat gebeur. Die goddeloses gaan nie met hul boosheid wegkom nie.

 Wanneer ons in 'n krisis is en die ou duiwel probeer jou oortuig dat God nie in beheer is nie, skep hy werklik 'n hopelose situasie. Die lewe is voorwaar donker as daar nie meer hoop is nie. Dit is inderwaarheid om soos op 'n vliegtuig te wees sonder 'n loods wat besig is om die vliegtuig te vlieg.

 Wat die Here hier vir ons sê is: “ja die vliegtuig is besig om deur 'n storm te vlieg en die vliegtuig word deur die stormwind rond geruk, maar moenie bekommerd wees nie, want Ek is in beheer.” Die Here is aan stuur van sake en Hy SAL die vliegtuig veilig deur die storm bring.

 In Ps. 11 v 2 motiveer Dawid se raadgewers waarom dit beter is om na die berge toe te vlug:

Kyk, die goddeloses span hulle boë,

en hulle lê aan met die pyl op die snaar;

hulle staan reg om uit die donker

die opregtes van hart te tref.

 Met ander woorde die reg en orde het in duie gestort. Reg en geregtigheid vind nie meer plaas nie. Die goddeloses maak net wat hulle wil.

 Dan antwoord Dawid in Ps. 11 v 5 & 6 dat dit nie so is nie:

Die Here onderskei tussen regverdige en goddelose.

Wie geweld liefhet, haat Hy.

Hy laat vuur en swael reën op die goddeloses,

’n skroeiende wind: dit is die beker wat hulle sal drink

 Die goddeloses sal nie met hulle boosheid wegkom nie. Hulle wandade sal nie ongestraf bly nie. Hulle sal nie God se oordeel vryspring nie.

 Geliefdes, voel dit nie vir u ook soms asof daar geen reg en geregtigheid is nie? Voel dit nie soms so dat dit goedgaan met die goddeloses terwyl die regverdiges moet swaarkry nie?

 Moenie jouself aan moedeloosheid oorgee nie. Die Here is in beheer. Ons is nie op 'n vliegtuig sonder 'n loods nie. Moenie soos Petrus teen die golwe en die wind vaskyk nie, maar sien vir Jesus raak wat veilig daar tussen die golwe is terwyl Hy sy hand na jou toe uitsteek.

 In Ps. 11 v 3 motiveer Dawid se raadgewers nog verder waarom dit beter is om na die berge toe te vlug:

As die fondamente ondermyn word,

wat kan die regverdige daaraan doen?

 Met ander woorde daar is niks wat ons daaraan kan doen nie. Hoor u die hopeloosheid en moedeloosheid wat hier na vore kom?

 Die lewe is voorwaar donker wanneer daar nie meer hoop is nie. Voel dit nie soms vir u ook of daar geen hoop meer is nie? Dat die lewe net nie meer die moeite werd is nie?

 Luister na Dawid se antwoord in Ps. 11 v 7 op hierdie hopelose moedeloosheid van sy raadgewers:

Die Here is regverdig.

Hy het die mense lief

wat regverdig en opreg handel,

en Hy sal by hulle wees.

 Met ander woorde op grond van die regverdigheid van die Here sal Hy die wat regverdig is verlos.

 Nou mag u dalk nog steeds moedeloos voel, want wie van ons kan daarop roem dat ons regverdig is? Dis hier duidelik dat die Here se guns en liefde net vir die regverdiges bedoel is.

Hoe nou?

Want die Here sê ook vir ons in Ps. 14 v 3
en Ps. 53 v 4:

Almal het afgedwaal, die laaste een het ontaard,

daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één nie.

 En dit word weer in Rom. 3 v 10 & 12 bevestig.

 Geliefdes, dit gaan nie oor ons geregtighede nie, maar oor Christus se geregtighede in ons. Die Vader sien die werke (geregtigheid) van sy Seun in ons en Hy het die werke van sy Seun lief.

Ja, Christus en sy werke gee ons sekerheid in die krisis: dat die HERE by ons is en ons lief het. Sy geregtighede word ons toegereken; sy geregtighede bedek al ons ongeregtighede.

 As jy opreg glo dat Jesus vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout gesterf het. As jy glo dat Hy die dood oorwin het en dat dit die waarborg is dat Hy jou ongeregtighede op Hom geneem het. As jy opreg glo dat Jesus sy geregtigheid vir jou gegee het, kan jy vir seker weet dat God jou lief het en dat Hy saam met jou is.

Hy sal jou nie alleen los in die krisis tye in jou lewe nie. Hy is daar. Hy gee om.


Geliefdes, wanneer die lewensstorms om jou woed, skuil by die Here. Hou vas aan sy beloftes dat Hy jou sal red. Vertrou dat Hy steeds in beheer is.

Vertroue in sy alvermoë. Hy het immers die hemel en die aarde gemaak. Vertrou dat Hy jou ook deur jou lewenskrisisse kan en sal dra.

Vertrou dat Hy jou op grond van Jesus se soenverdienste aan die kruis jou liefhet en dat Hy jou nooit in die steek sal laat nie.

Skuil by die Here!

Amen


08 Junie 2025

Wat of wie is die kerk?


 

Lees Mat. 16:13-19 – teksverse Mat. 16:16, 18 & 19 

NGB Art. 27 & Heidelbergse Kategismus Sondag 52 vrae 54 en 55

1.      Inleiding

waarheen is Gereformeerde Kerk Bloemfontein Suidheuwels op pad?

Voordat ons daardie vraag kan beantwoord is dit nodig dat ons net weer vir onsself “uitmaak wat of wie is die kerk?”

Om te verstaan wat of wie die kerk is gaan ek net eers gou stilstaan by wat die kerk nie is nie.

2.      Wat is die kerk nie?

Die kerk is nie ʼn gebou nie. Tog praat ons dikwels van die gebou waar ons bymekaarkom as die kerk. ʼn Beter manier om na die gebou waar ons bymekaarkom te verwys is: ʼn kerkgebou. Tog is dit ook so dat wanneer ons na die gebou as kerk verwys, dan bedoel ons Doppers gewoonlik nie dat dit die kerk is nie. Ek glo ons bedoel daarmee dat wanneer ons van die gebou as kerk praat dat dit die plek is waar ons as kerk bymekaarkom.

Die kerk is ook nie ʼn institusie of organisasie nie. Ek dink ons maak meer dikwels die fout om so aan die kerk te dink en dit is ook waar die wanpersepsie van mense vandaan kom wanneer hulle die kerk as ʼn aparte entiteit van hulself sien. Die kerk maak sus of so en die kerk wil net voorskryf ens. Die ons en hulle sindroom hoort nie in die kerk nie.

Die kerk is ook nie die dominee of kerkraad of ouderlinge nie. Hulle is deel van die kerk, maar hulle is nie op hul eie die kerk nie.

Die kerk is ook nie ʼn sosiale klub nie. Dit klink logies dat nie is nie, maar dit is verbasend hoeveel mense in praktyk die kerk as ʼn klub uitleef. ʼn Klub soos bv. ʼn gholfklub is ʼn sosiale organisasie waarby mense met belange wat hulle deel aansluit en hulle besluit self tot watter mate en hoe gereeld hulle betrokke wil wees en watter saamkom geleenthede hulle wil bywoon. Dit is beslis nie kerk nie.

3.      Wat is die kerk dan?

Om die regte antwoord op die vraag te kry is dit belangrik dat ons kyk na wat die Bybel daaroor te sê het, want die grondslag van die kerk is die waarheid van die woord van God.

Die Griekse woord wat ons met ‘kerk’ vertaal is Ekklesia. Dit beteken letterlik uitgeroep. Daarom bely ons dat Christus uit die hele menslike geslag vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is versamel.

In Mat. 16:18 hoor ons:

En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Die kerk van wie Jesus hier praat is al die gelowiges (lewendig en dood) van die begin tot die einde. Dit wil sê, dit is die somtotaal van al die gelowiges oor al die eeue heen. Ons praat hier van die universele onsigbare kerk. Daarom bely ons ook dat ons glo aan ʼn heilige, algemene Christelike kerk.

Die Bybel leer ons ook dat die kerk 'n plaaslike groep identifiseerbare gelowiges is wat aan Christus en mekaar toegewy is, wat saamwerk om God te verheerlik en sy sending te dien soos ons bv. in Hand. 14:23 hoor:

In elke gemeente het hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het.

In hierdie geval is die Griekse woord ‘Ekklesia’ met ‘gemeente’ vertaal.

Dit is belangrik dat ons moet insien dat die Bybel nie na twee aparte tipes kerk verwys nie. In albei gevalle verwys dit na die kerk van Christus in verskillende gedaantes. Sien dit so. Die universele onsigbare kerk word sigbaar in die plaaslike gemeentes.

In die Bybel gebruik God ook verskillende beelde om vir ons te verduidelik wat die kerk is. Ek gaan hier net ʼn paar voorbeelde noem. Bv. Bruid van Christus (Ef. 5:25-28); Kudde van God (1 Pet. 5:2); Die Saailand van God (1 Kor. 3:9); Lewende boustene van ʼn geestelike gebou (1 Pet. 2:5).

Dan is daar ook die beeld van ʼn liggaam van Christus (Ef. 1:22-23). Laasgenoemde is een van die bekendste beelde en daarom verwys ons ook na die mense in die kerk as lidmate (ledemate). Ons is inderdaad die hande en voete van Jesus hier op aarde.

Die Bybel noem ook dat ons ʼn huisgesin is omdat ons kinders van God is (Joh. 1:12) en daarom verwys ons ook na mekaar as broeders en susters.

Al hierdie beelde druk een gedagte uit, nl. dat die kerk ʼn vergadering is. Almal saam is bv. die bruid van Christus, ens. Die kerk is ʼn vergadering en daarom is dit eintlik verkeerd om te vra: “wat is die kerk?” Ons moet eerder vra: “wie is die kerk?”

4.      Wie is die kerk?

In Sondag 21 vraag en antwoord 54 van die Heidelbergse Kategismus bely ons:

Die Seun van God verkies vir Hom uit die hele menslike geslag 'n gemeente aan wie Hy die ewige lewe gee.

Hoe doen Hy dit?

Hy kies hierdie gemeente uit deur sy Gees en Woord in die eenheid van ʼn ware geloof.

Hy vergader hulle van die begin van die wêreld af tot die einde toe, en verder beskerm en onderhou Hy hulle.

Ons bely ook:

dat ek daarvan 'n lewende lid is en ewig sal bly.

 

Wie is die kerk? Die kerk is die mense wat deur God uitverkies is; deur die bloed van Christus gekoop is; deur die Heilige Gees tot woning van die Heilige God gemaak is en daarom is die kerk heilig. Dit beteken dat die kerk die eiendom van die heilige God is. Ons behoort aan Hom en daarom is ons heilig.

Ons kan ook sê die kerk is Christelik, want die kerk behoort aan Jesus Christus. Hy is die hoof van die kerk en ons is die liggaam. Die kerk staan en val met die belydenis van Petrus wat ons in Mat. 16:16 hoor: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

Ons is Christene omdat ons deur die Heilige Gees gesalf is tot lede van Christus. Verstaan U nou waarom die kerk van Christus radikaal anders as die wêreld daar buite is?

5.      Wat is die doel van die kerk?

Die doel van die kerk is om God te eer en om sy Koninkryk aan die wêreld sigbaar te maak. Een van die kenmerke van ʼn ware kerk is suiwere woordverkondiging. Deur woordverkondiging word die Koninkryk van God sigbaar. Die kerk wys vir die wêreld dat God regeer sodat Hy geken, aanbid en verheerlik kan word.

In Mat. 28:18-20 gee Jesus die opdrag aan sy kerk:

'Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”'

Die kerk moet die evangelie, die goeie nuus van die verlossing in Jesus Christus verkondig sodat elke uitverkore kind van God dit kan hoor en dit glo om weer met God versoen te word.

Deur suiwere woordverkondiging en die suiwere bediening van die sakramente (tweede kenmerk van ʼn ware kerk) word die gelowiges toegerus om uit te gaan in die wêreld om Jesus vir die wêreld te wys deur dit wat hulle sê en dit wat hulle doen.

Met ander woorde om sout en lig vir die wêreld te wees.

In Mat. 16:19 hoor ons:

Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

Deur die sleutel van woordverkondiging van die evangelie word die Koninkryk van die hemel oopgesluit vir diegene wat dit glo, maar dit word ook toegesluit vir hulle wat nie die evangelie glo nie.

Deur die sleutel van die tug word die Koninkryk van die hemel toegesluit vir hulle wat hulle nie wil bekeer nie, maar oopgesluit vir diegene wat hulle berouvol aan die vermaning van die tug onderwerp en hulle bekeer.

Die tug is dan ook die derde kenmerk van ʼn ware kerk om te verseker dat ons getrou bly aan die woord. Die woord Gereformeerd beteken om te reformeer, dit wil sê om terug te verander na die woord toe.

Ons moet egter nie misverstaan wat die kerklike tug is nie. Dit is nie straf nie. Tug is ʼn liefdesmiddel om mense tot berou en bekering te bring.

Die kerk het alleen die gesag van die sleutels van die Koninkryk van die hemel in soverre hulle dit gebruik in ooreenkoms met die woord. Die gesag van die kerk berus in die woord en sodra die kerk afwyk van die woord, het hulle geen gesag meer nie.

6.      Die struktuur van die kerk

God is ʼn God van orde en daarom het Jesus ook ʼn struktuur in die kerk ingestel sodat alles ordelik kan verloop. Ons leer in die Bybel dat daar vier ampte in die kerk is, nl. Predikante, ouderlinge, diakens en gelowiges. Elkeen van die hierdie ampte is gelyk en nie een is hoër as die ander nie.

Die amp van predikant behels om herder en leeraar te wees wat die gemeente lei. Die amp van ouderling is kerkregering en daarom moet ons hulle ook daarvoor respekteer. Die amp van diakens is om die gemeente te lei om die liefdesdiens uit te oefen.

Die amp van die gelowige is profeet, priester en koning. Die amp van die gelowige is ook van toepassing op die ander ampte. As profeet moet ons Christus bely en ʼn profeet is ook die mondstuk van God. As priesters moet ons onself aan Hom toewy as lewende offers van dankbaarheid. En as konings moet ons koninklik stry teen die sonde en die duiwel en sy ganse ryk.

Wat is ons plig in die kerk?

Sondag 52 vraag en antwoord 55 spel dit vir ons uit:

55  Vraag:  

Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?

Antwoord: 

Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het. 

   Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en    met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te    wend.

7.      Slot

Die vraag wat elkeen van ons onsself moet afvra is: “Is ek ʼn ware lidmaat van die kerk?” Glo ek opreg in Jesus Christus as my enigste Verlosser en Saligmaker? Leef ek uit my geloof? Ontvlug ek die sonde en jaag ek die geregtigheid na? Het ek die ware God en my naaste lief?

Ons is nog nie volmaak nie, maar die vraag is: “stry ons deur die genade van die Heilige Gees ten bloede toe teen die sonde?”

Weet dat die ware is gelowige onvolmaak en daarom is die kerk ook onvolmaak.

Geliefdes, waarheen is Gereformeerde Kerk Bloemfontein Suidheuwels op pad? Ons kan net een doelwit voor oë hê. Ons moet ware kerk van ons Here Jesus Christus wees.

Amen

Wat bely ons t.o.v. die kerk:

NGB ARTIKEL 27
DIE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK

Ons glo en bely 'n enige katolieke of algemene kerk, 'n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. 

Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is 'n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie. 

En hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms 'n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het - soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat die voor Baäl gekniel het nie. 

Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot 'n sekere plek of sekere persone nie, maar dit is oor die hele wêreld versprei en verstrooi. 

Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig.

Heidelbergse Kategismus SONDAG 21

54  Vraag: 

Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?

Antwoord: 

Dat die Seun van God (a) uit die hele menslike geslag (b) vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is (c), deur sy Gees en Woord (d) in die eenheid van die ware geloof (e) van die begin van die wêreld af tot die einde toe (f) vergader, beskerm en onderhou (g) en dat ek daarvan 'n lewende lid is (h) en ewig sal bly (i).

(a) Ef 5:26;  Joh 10:11;  Hand 20:28;  Ef 4:11-13.  (b) Gen 26:4;  Op 5:9.  (c) Rom 8:29;  Ef 1:10-13.  (d) Jes 59:21;  Rom 1:16;  10:14-l7;  Ef 5:26.  (e) Hand 2:42, Ef4:3-5.  (f) Ps 71:17, 18;  Jes 59:21;  1 Kor 11:26.  (g) Matt 16:18;  Joh 10:28-30;  Ps 129:1-5.  (h) 1 Joh 3:I4, 19-21;  2 Kor 13:5;  Rom 8:l0.  (i) Ps 23:6;  1 Kor 1:8, 9;  Joh 10:28;  1 Joh 2:19;  1 Pet 1:5.

55  Vraag: 

Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?

Antwoord: 

Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het (a).  Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend (b).

(a) 1 Joh 1:3;  Rom 8:32;  1 Kor 12:12, I3;  1 Kor 6:17.  (b) 1 Kor 12:21;  13:1, 5;  Fil 2:4-8.