21 Desember 2025

Niks is vir God onmoontlik nie

Skriflesing:     Luk. 1 v 5  – 38 Teksvers Luk. 1 v 37

Inleiding

Hoe kan die onmoontlike moontlik wees? Hoe sal jy reageer op ’n boodskap wat iets aankondig wat volgens alle logiese denke onmoontlik is? In ons teks sien ons dat daar twee uiteenlopende reaksies is.

Aan die een kant sien ons ’n reaksie van ongelowige skeptisisme en aan die ander kant kinderlik gelowige aanvaarding. In hierdie twee uiteenlopende reaksies wys die Here vir ons dat niks vir God onmoontlik is nie.

Inleiding

Hoe kan die onmoontlike moontlik wees? Hoe sal jy reageer op ’n boodskap wat iets aankondig wat volgens alle logiese denke onmoontlik is? In ons teks sien ons dat daar twee uiteenlopende reaksies is.

Aan die een kant sien ons ’n reaksie van ongelowige skeptisisme en aan die ander kant kinderlik gelowige aanvaarding. In hierdie twee uiteenlopende reaksies wys die Here vir ons dat niks vir God onmoontlik is nie.

In die eerste plek: Ongelowige skeptisisme

Sagaria was ’n priester by die tempel in Jerusalem. Daar was destyds egter veel meer priesters as wat vir die tempeldiens nodig is. Dawid het al ’n 1000 jaar voor Christus gereël dat priesters in 24 afdelings verdeel word sodat elkeen ’n week lank die tempeldiens kon behartig.

In die tyd van Christus was hierdie afdelings egter nog steeds te groot om vir elkeen ’n beurt te gee en daarom moes die betrokke week se tempelwerk onder mekaar verdeel word deur die lot te werp soos ons dan ook hoor in
Luk. 1v8 & 9:

8 Op ’n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig, 9 is hy volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altaar te brand.

Een van die heel belangrikste take wat ’n priester in die tempel kon verrig, was om die reukoffer altaar skoon te maak en dan nuwe reukwerk te offer as simbool van gebed. Dit was so ’n buitengewone taak dat ’n priester net een maal in sy lewe die geleentheid gekry het om dit te doen.

Met hierdie taak het die priester eers die volk by God verteenwoordig en daarna kon hy God weer by die volk verteenwoordig wanneer hy buitentoe gegaan het om die wagtende skare in die Naam van die Here te seën.

Sagaria was dus besig met die hoogtepunt van sy priesterlike loopbaan toe die engel Gabriel aan hom verskyn het met ’n haas ongelooflike boodskap soos ons hoor in
Luk. 1v12 & 13:

12 Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, 13 maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou ’n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem.

Voordat ons na Sagaria se reaksie op hierdie boodskap kyk moet ons net sy omstandighede in ag neem. In Luk. 1 v 7 hoor ons:

Hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd

Rasioneel gesproke was dit wat Gabriel aangekondig het dus onmoontlik. Daarom moet ons nie so verbaas wees oor Sagaria se reaksie nie –
Luk. 1 v 18:

Toe sê Sagaria vir die engel: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is ’n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.”

Baie skepties en vol ongeloof vra Sagaria vir ’n teken om hom te oortuig dat hierdie boodskap die waarheid is. Dit is nie dat Sagaria ’n slegte en ongelowige mens was nie. Ons hoor in Luk. 5 v 6 dat hy en Elisabet getrou was in hul godsdiens:

Hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou.

Is dit nie maar hoe dit met ons ook gaan nie, geliefdes? Ons is getrou in ons godsdiens. Ons lewe ’n goeie lewe. Ons drink nie en hou nie uitspattige partytjies nie. Ons woon gereeld die eredienste by, maar wanneer die toets kom, daar waar ons werklik op God moet vertrou om ons in ’n menslik gesproke onmoontlike situasie te help, dan vertrou ons nie die Here nie.

Dit is wat ongeloof is, dat ons nie vertrou nie. Dit is wat Sagaria se probleem was. Hy het teen die rasionele feite vasgekyk en daarom het hy God nie vertrou om die onmoontlike moontlik te maak nie.

Dit is wat ons vandag sien. Ons leef mos in ’n moderne wêreld wat van beter weet, daarom kan ons nie meer in ’n maagdelike ontvangenis glo nie. Christus het nie regtig opgestaan nie. So sê die tydsgees van ons moderne wêreld vir ons. Dit bring mee dat ek God nie werklik vertrou om in my persoonlike omstandighede in te gryp en ’n verskil te maak nie.

Ek glo nie dat God ’n verskil kan maak in my huwelik wat maar net nie wil vlot nie. Ek glo nie dat God iets kan doen aan die seer hier diep binne in my wat die lewe my toegedien het nie. Ek glo nie dat God iets kan doen aan die hartseer en verlange na ’n geliefde wat skielik uit my lewe weggeruk is nie.

Daarom kan ek nie meer bid nie. Daarom kan ek nie meer Bybel lees nie en as ek bid dan voel dit vir my of ek maar net hier teen die plafon vaspraat. As ek Bybel lees dan verstaan ek nie.

Die engel se antwoord aan Gabriel se versoek vir ’n teken is amper onbegryplik soos ons hoor in Luk. 1 v 19:

Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring.

In wese sê die engel Gabriel vir hom: “Niks is vir God onmoontlik nie!” Die belofte van ’n kind vir Elisabet en Sagaria is ’n baie spesiale belofte, want dit is hy wat vir Christus die wegbereider sal wees.

Hy moet die volk voorberei op Christus se koms. Hy moet die volk voorberei vir die volgende aankondiging van ’n menslik gesproke onmoontlike gebeurtenis.

Tweedens ’n kinderlik gelowige aanvaarding

Ongeveer ses maande later kom die hemelse boodskapper met nog ’n ongelooflike boodskap. Weereens op ’n baie persoonlik intieme wyse. Hierin sien ons weereens hoe bedagsaam ons Here is.

Hy oorrompel nie mense deur sommer net uit die bloute op te tree nie. Hy neem sy kinders saam in wat Hy gaan doen op ’n baie besonderse manier. Die Koning van alle konings is op pad, maar dit word nie met ’n trompetgeskal op die pleine aangekondig nie. Die boodskap word op ’n baie intieme en persoonlike manier oorgedra aan die persoon wat direk by hierdie gebeure betrokke is.

In teenstelling met Sagaria wat maar net nie kon glo nie, glo sy die ongelooflike. Nie dat dit haar nie skud nie. Sy is verbysterd en kan nie verstaan waarom die engel haar aanspreek as “begenadigde” nie en hoe sy wat ’n maagd is ’n kindjie in die wêreld kan bring.

Die engel verduidelik (vir sover dit verduidelik kan word) en hy sluit sy verduideliking af met dieselfde versekering wat hy aan Sagaria gegee het: “Niks is vir God onmoontlik nie.” Die verskil tussen Maria en Sagaria is Maria se kinderlike gelowige onvoorwaardelike aanvaarding van die wil van die Here soos ons hoor in Luk. 1 v 38:

Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”

Hierin sien ons ook duidelik watse verskil Christus in ’n mens se lewe maak. Sonder Christus tree ons in ongeloof en in wantroue teenoor God op. Sonder Christus is ons verwyder van God se genade. Maar in Christus lewe ons deur God se genade soos ons hoor in

1 Kor. 15 v 22:

Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.

Die evangelie van Jesus Christus is vandag nog net so ’n radikale boodskap wat vir skeptiese en siniese wêreld haas ongelooflik klink. Die boodskap van God wat mens geword het bly ongelooflik vir diegene wat God met hul verstand probeer uitpluis.

Vir diegene wat Christus se versoeningswerk met God in kinderlike geloof aanvaar is daar die wonderlike troos “Niks is vir God onmoontlik nie”. Christus maak dit moontlik dat ek sal vertrou dat God groter as my pyn en hartseer is.

Geliefdes, wat ook al die situasie en hartseer is. Hou vas aan God se genade in Jesus Christus met die troosvolle wete dat die boodskap van die engel Gabriel ook vir ons is: 

Niks is vir God onmoontlik nie.

Amen


16 Desember 2025

’n Gelofte uit nood gebore

 

’n Gelofte uit nood gebore en wat as ’n smeekgebed aan God gerig is. In die uitkoms is die hand van die Almagtige Drie-Enige God duidelik sigbaar.

Dit gaan oor ’n gelofte aan God

Dit gaan om die eer aan God te bring

Herinner jouself en jou kinders daaraan dat God jou en jou nageslag in hierdie land toegelaat het.

Tussen 9 en 15 Desember 1838 het ’n groep voortrekker mans wat onder bevel van Andries Pretorius gestaan het, voor die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838, die volgende gelofte teenoor God afgelê.

Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n Sabbat tot sy eer sal deurbring, en dat ons 'n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.

Op 16 Desember 1838 het God ’n wonderwerk laat gebeur. ’n Boerekommando van slegs 464 mans het te staan gekom teen ’n oormag van tussen 16 000 en 20 000 Zoeloekrygers en in die geveg wat ontstaan het, is slegs drie Voortrekkers gewond, terwyl meer as 3000 Zoeloekrygers gesterf het.

Ons herdenk nie die gelofte om te roem oor ’n oorwinning en vernedering van die vyandelike mag van daardie dag op 16 Desember 1838 nie. Ons herdenk die gelofte omdat God geantwoord het op ’n noodroep van sy kinders toe hulle in nood verkeer het. Dit gaan daaroor om aan God alleen die eer te gee dat Hy getrou is en dat ons op sy beloftes kan vertrou.

Sarel Cilliers het in sy gelofte gesê dat die eer aan God gegee moet word en dit is ook nie nodig om paragrawe oor die eer van God te skryf nie. Calvyn som dit deeglik op: "Gevolglik moet ons natuurlik al hierdie dinge van Hom verwag en dit van Hom vra en wanneer ons dit ontvang het, moet ons dit met dankbetoon aan Hom toeskrywe.

Daarom is dit belangrik dat ons nie God van sy eer beroof wanneer ons Geloftedag herdenk nie.



Die geskiedenis van die slag van Bloedrivier
 


Agtergrond

Die verhaal van Bloedrivier is nie volledig sonder die gebeure wat daartoe aanleiding gegee het nie. Shaka die broer van Dingane wat voor hom koning van die Zoeloes was het begin met die uitdelgingsoorloë wat as die Mfecana tydperk bekendstaan. Dit was die oorsaak dat duisende inheemse volke uitgewis of verdryf is. Baie stamme het by Shaka aangesluit, terwyl diegene wat nie wou aansluit nie, uitgemoor is. Dit was die oorsaak dat die hele Natal, suid van die Tugela, ontvolk geraak het.

Drie van sy generaals het weggeloop, hul eie koers ingeslaan en meegedoen aan die uitdelging op dieselfde patroon:

Soshangana het die Shangaan-nasie in Mosambiek laat ontstaan en in Transvaal ingetrek.

Zwangendaba het tot in Malawi gevorder.

Die ergste was Mzilikazi wat met sy Ndebele-nasie die grootste dele van die later Transvaal en Vrystaat domineer en laat ontvolk het.

In dieselfde tyd het Moshweshwe aan vlugtende Sotho's asiel gebied by Thaba-Bosiu waar Lesotho vandag nog bestaan.

Die Voortrekkers verdien die eer dat hulle die Mfecana beëindig het. Eers is Mzilikazi verslaan en verdryf tot in die huidige Zimbabwe en Dingane van die Zoeloes is na die Bloedrivier-veldslae verdryf na Swaziland waar hy vermoor is. Na 1838 kon duisende Tswanas uit die Kalahari terugtrek en hulle lewens vervat in die gebiede waaruit hulle verdryf was.

Die Groot Trek

Die Groot Trek het in 1835 al begin, hoofsaaklik as gevolg van die onsimpatieke houding van die Britse regering teenoor die grensboere in die Oos-Kaap. Die Britse sendelinge (filantrope) in die Kaapland het bygedra tot hierdie hatige gesindheid teenoor die grensboere. Die Xhosas het die grensboere herhaaldelik geteister met moorde en strooptogte en is nooit behoorlik gestraf nie.

Al die Voortrekkers is nie in een groep weg nie. Hoewel Louis Trichardt in 1835 en Hans van Rensburg vroeg in 1836 weg is, het groter groepe, onder leiers soos Hendrik Potgieter, Piet Retief en Piet Uys later die jaar eers oor die Oranjerivier getrek. In totaal het omtrent 10 000 mense, bestaande uit omtrent 2300 gesinne, uit Kaapland getrek.

Die Voortrekker-gemeenskap het verskillende groepe gevorm onder leiding van Piet Retief en Hendrik Potgieter. Retief wou Natal toe trek terwyl Potgieter verder Noord oor die Vaalrivier wou trek.

Die ontmoeting met Dingane en die Moord op Retief

Retief het in Oktober 1837 al Natal toe gereis waar hy in Port Natal die Engelse handelaars ontmoet het. Toe het hy noordwaarts oor die Tugela na Mgungundlovu (Dingaanstat) gereis en Dingane, koning van die Zoeloes, in November 1837, versoek om die onbewoonde gebied tussen die Tugela en Umzimvuburivier tot aan die Drakensberg, aan die Trekkers as woongebied af te staan.

Dingane het Piet Retief vriendelik ontvang, maar hom beskuldig dat die Voortrekkers 'n trop beeste van hom gesteel het en dat hy nie voor Retief die vee terugbesorg het, die woongebied sou afstaan nie. Retief is dus terug na die laers wes van die Drakensberg. Die Trekkers het geweet dat die beesdief 'n Tlokwa- kaptein Sikonyela was, wat in die omgewing van die latere Harrismith gewoon het. Hulle het maklik die gesteelde beeste gekry en ook beslag gelê op 'n klomp Tlokwa-beeste as skadevergoeding aan Dingane. Retief en 'n gevolg van 70 man en 30 agterryers het op 25 Januarie 1838 weer na Mgungundlovu gereis en op 3 Februarie 1838 die beeste aan Dingane afgelewer.

Op 4 Februarie 1838 het Dingane die kontrak (traktaat) onderteken wat die oordrag van grond aan die Trekkers beskryf het. Baie vriendelik het Dingane die Retief-groep genooi om op 6 Februarie 'n Zoeloe-dansvertoning en onthaal by te woon voor hulle vertrek. Tydens die vertoning het Dingane eenkant toe gestap en hard geroep: "Bulalani abathakati!" (dit beteken: "maak dood die towenaars!"). Die Voortrekkers is vinnig oorval, met rieme vasgebind en noordoos van die stat gesleep tot op die klipkoppie genaamd "Kwa Matiwana" aan die kant van die paradegrond, wat genoem word "Hlom'amabutho". Hier is almal met kieries doodgeslaan, Retief laaste.

Dis verstaanbaar dat die Trekkers na langer as 'n jaar se kamplewe nie kon rus om Natal, suid van die Tugela in te trek nie. Boonop het almal geglo dat Retief se tweede besoek aan Dingane 'n blote formaliteit sou wees, want hy het die gesteelde beeste teruggeneem soos hy belowe het. Ongelukkig wou verskeie gesinne ook nie in Natal in laers staan nie, en het ooswaarts uitgesprei aan die walle van die Bloukrans- en Boesmansriviere. Daar het hulle die terugkoms van Retief en sy gevolg verwag, maar is in stede aangeval deur duisende moordlustige Zoeloekrygers. Die bloedbad van 17 Februarie 1838 het die dood van 'n verdere 282 Trekkers gekos: 41 mans, 56 vrouens en 185 kinders is vermoor. Daarbenewens is 250 bediendes vermoor en ook duisende stuks vee geroof.

Die Strafekspedisie

Na die moord op die Trekkers het Hendrik Potgieter Natal toe gekom om sy volksgenote te kom help. Op 6 April 1838 het twee berede kommando's, een onder leiding van Potgieter en een onder Piet Uys na Zoeloeland vertrek. Ongelukkig wou nie een van die genoemde here onder die ander een dien nie. Op 10 April was die kommando's aan die hange van die Italeni-berg, waar hulle in hinderlae gelok is. Piet Uys en sy seun Dirkie en nog vyf ander het geval, maar die res moes vlug vir hul lewe. Die kommando by die Slag van Italeni het toe die naam van die Vlugkommando gekry. Potgieter is spoedig terug oor die Drakensberg, want hy is ten onregte deur baie mense beskuldig van lafhartigheid.

Die volgende aanval deur die Zoeloes het plaasgevind op 3 Augustus 1838, maar die laer aan Boesmansreivier was goed verskans en met doringtakke dig gemaak. Na drie dae se vrugtelose pogings het die Zoeloes die beleg opgegee, maar weereens baie vee saamgejaag na Zoeloeland.

Kort na die laasgenoemde aanval, op 23 Oktober 1838, is Gerrit Maritz oorlede. Die Trekkers in Natal was nou leierloos, daarom is 'n afvaardiging na Oos-Kaapland gestuur om Andries Pretorius te versoek om sy volksgenote te kom help. Op sy advies het die afvaardiging onderneem om veghekke van hout te maak, sodat die laer elke aand tydens die tog na Umgungundlovu doeltreffend en vinnig dig gemaak kon word. Boonop moes die vrouens linnesakkies maak, tien of twaalf lopers daarin toewerk en in gesmelte vet week, sodat die kommando's vinniger sou kon laai tydens 'n geveg.

Op 22 November 1838 het Andries Pretorius by die laers in Natal opgedaag. Alhoewel hy versoek was om as leier te dien, het hy vereis dat daar eers gestem sal word om seker te maak dat almal met sy leiding tevrede is. Daarbenewens het Andries Pretorius an die bestaande kommandante van Natal aanvaar: Karel Pieter Landman is as tweede-in-bevel bevestig, met Pieter Daniël Jacobs, Koos Potgieter, Hans de Lange en Stephanus Erasmus as offisiere. Die kommando van bykans 470 man met 64 waens kon vertrek na Zoeloeland, vanaf Schietdrift in die Tugela op 3 desember 1838.

Dit is verstaanbaar dat elkeen in die kommando met groot kommer vervul moes wees oor hul dierbares wat agtergebly het. As die kommando verslaan sou word, sou die Natalse Trekgemeenskap ook geen kans op oorlewing hê nie. Almal was reeds verarm en daar was ook nie genoeg waens en osse oor om terug te trek oor die Drakensberg nie. Daar was wel 'n aantal manne by die laers, maar die wapens en kruit sou nie lank hou as verdere aanvalle op die laers sou plaasvind nie. Die naam Sooilaer, soos een van die laers bekend was, dui ook aan dat die waens in die laer te min was om dit te beveilig.

Die eer kom Charl (Sarel) Cilliers toe dat hy die eerste gedagte aan 'n gelofte aan die Here uitgespreek het. Geskiedkundiges verskil oor die presiese tyd en plek waar die Gelofte die eerste keer afgelê is. Dit wissel van 7 Desember naby Danskraal aan die Kliprivier tot 10 Desember aan die Wasbankrivier. Wat wel belangrik is, is dat die Voortrekkers die Gelofte sedertdien elke aand herhaal het tydens die gebruiklike aandgodsdiens, tot en met die aand van 15 Desember.

Die Gelofte

Die gelofte, deur Charl (Sarel) Cilliers opgestel, bestaan uit 'n versoek en drie beloftes wat nagekom sou word:

1. Ter ere van die Here, waar dit Hom sal behaag, 'n kerk bou.

2. Die datum van die oorwinning jaarliks soos 'n Sabbat van die Here deurbring.

3. Ons sal ons kinders daarvan vertel sodat ons nageslagte die Gelofte kan onderhou en die roem en die eer aan Hom daarvoor te gee.

Die roete tot by Bloedrivier

Die kommando van Andries Pretorius het vanaf die laers, in die huidige Estcourt- Colenso-gebied, noordwaarts getrek tot deur die Kliprivier (by die huidige Ladysmith) toe noordoos geswaai deur die Sondagsrivier en Wasbankrivier tot by Endumeni-berg, suid van die huidige Dundee. Aan die voet van hierdie berg het die Engelse handelaar, Alexander Biggar se skotskar gebreek nadat dit in 'n gat geval het en moontlik is hy ook deur die voorval beseer. Die plaas waarop dit gebeur het heet vandag nog Biggarssgat en die berg is genoem Biggarsberg. Sedertdien heet die hele voetheuwelgebied vanaf Dundee tot aan die Drakensberg die Biggarsberge.

Die noord-ooswaartse trekrigting is voortgesit tot aan die Buffelsrivier, waar 'n geskikte drif gevind is wat sedertdien Kommandodrif heet. Die plaas oorkant die Buffelsrivier aan die Utrecht-kant, waar die drif is, heet nog steeds Kommandodrif.

Hans de Lange, algemeen bekend as Hans Dons, het tydens die tog opgetree as verkenner. Hy het elke dag vooruitgery om te verseker dat die kommando nie onverhoeds op trek deur die Zoeloemag oorval word nie.

Toe die kommando deur Kommandodrif trek, het Hans Dons hulle laat weet dat die wêreld vorentoe uit oop grasvlaktes bestaan en dat hulle eers by Doringberg (naby die huidige De Jagersdrift) moet gaan hout kap en saamneem vir daaglikse gebruik.

Van Doringberg af het die kommando in 'n suid-ooswaartse rigting getrek. Omtrent 20 kilometer verder is daar 'n sytak van die Buffelsrivier (wat ons vandag ken as Bloedrivier, toe bekend as die Ncome). Die Trekkers was reeds deur die rivier toe die dringende boodskap die kommando bereik dat die Zoeloemag op die rante, omtrent 2 uur te perd, of 10 kilometer vorentoe, in aantog is. Dadelik het Andries Pretorius besef dat hulle pas by 'n strategiese plek vir die laer verby was. Aan die wesoewer van die rivier het 'n diep droë sloot reghoekig by 'n lang seekoeigat aangesluit. ('n Seekoeigat is 'n diep kuil water waardeur mens slegs kon swem). Die waens is dadelik deur die rivier terug na die wesoewer geneem.

Bloedrivier

Dit was Saterdag, 15 Desember toe laer getrek is. Voorbereidings vir die geveg is getref en die bykans 900 osse en 500 perde was onder beheer in die laer. Die posisie van die laer sou die Zoeloes dwing om hoofsaaklik uit die noordweste aan te val aangesien die rivier aan die oostekant en die sloot aan die suidekant die laer beskerm het.

Voor donker het van die Zoeloemagte reeds deur dieselfde drif gekom, terwyl andere aan die noordekant bokant die kuil deurgekom het. Die Zoeloeregiment wat eerste aan die geveg sou deelneem, was die Abafana (seuns) met swart skilde toegerus. Die Swartskilde regiment was sedert Shaka se tyd die jong krygers wat nie mag trou voordat hulle assegaailemme bloed getrek het nie. Op hulle versoek is hulle juis om die rede toegelaat om die geveg in te lei.

Die Zoeloe opperbevelhebbers, Ndlela en Tambuza, met ander hooggeplaastes, byvoorbeeld twee "prinse" (jonger broers van Dingane) het aan die ooste-kant van die seekoeigat saam met die Witskilde regiment gesit om die geveg dop te hou.

Die aand van Saterdag, 15 Desember was baie donker en boonop het 'n digte mis oor die gebied getrek. Daardie nag het geen aanval plaasgevind nie en dit het gelei tot verskillende verklarings, byvoorbeeld: Die Voortrekker-lanterns het 'n spookagtige skynsel in die miswolke tot gevolg gehad. (Die lanterns was nie soos ons dit vandag ken en soos die wat nou aan die sweepstokke hang nie. Dit was 'n blikkie wat soos 'n groenterasper lyk met 'n kersie binne-in. In die museums in Bloemfontein en Pretoria is voorbeelde van die lanterns). Die Zoeloes het reeds geweet dat vogtige lug die ontvlamming van buskruit kan verhinder, en het gedink hulle sou die Voortrekkers maklik in die vroeë more kon doodsteek.

Die bekende fisikus, Prof Lotz Strauss, het op skrywer se versoek vasgestel dat Maandag, 17 Desember 1838 nuwemaan was en dit bevestig dat die nag van 16 Desember donkermaan was. Nie een van die vegtende partye kon vooraf die tyd van ontmoeting bepaal nie, tog was dit bestem om mekaar op 16 Desember te ontmoet met donkermaan.

Anders as wat normaalweg gebeur, het die mis voordag opgeklaar en was Sondag, 16 Desember 1838 'n helder, sonnige dag.

Die eerste aanval, vroeg na sonop, is deur sarsies geweerskote en kanonvuur afgeslaan. Nog verskeie verwoede pogings deur die swartskilde het gevolg, maar geeneen kon die waens bereik nie. Later het ook die Witskilde bokant die kuil deurgekom en hard probeer om die laers te bereik, maar ook hulle kon nie die laaste 40 meter na die laer indring nie.

Die presiese plek waar die laer opgerig is, is in 1971, voor die oprigting van die pragtige brons walaer bevestig. Volgens meneer George Chadwick van die N.O.D, is deur middel van infrarooi fotografie bepaal dat die middelpunt van die laer, wat omstreeks 1860 deur 'n klipstapel gepak deur oudstryders aangedui is, hoogstens 10 meter na eenkant toe aangedui. Die diep sloot is vandag nog duidelik - nou baie vlak waar die sloot in die kuil eindig. Die waens het daar suidwaarts deurgetrek en +- 200 meter verder deur die rivier getrek deur 'n drif "Izibuku Labafazi" (Vrouedrif). Die laer was minstens 400 tot 500 meter wes van die seekoeigat; die vorm daarvan soos 'n reuse letter D met sy reguit sy teen die diep sloot.

Strategies was dit vir bykans 470 geweerskutters meet moontlik om uit 'n verspreide gebied sterk vuurkrag te lewer, terwyl die beskikbare frontwydte vir die naderkomende Zoeloes al nouer geword het. Slegs 'n klein aantal, moontlik 20 geweerskutters, was nodig om die aanvallers, wat op 'n stadium in die diep sloot langs probeer het om die laer te bereik, te verhinder op die wal uit te klouter.

'n Skeepskanon, een van 2 of 3 kanonne wat saamgeneem was, is deur Pretorius aangewend in 'n oostelike rigting teen die hooggeplaastes oorkant die kuil. Een is deur 'n kanonkoeël getref en nog andere beseer. Hierdie kanon het slegs "Canon Balls" gevuur, want brisantbomme wat ontplof as dit die teiken of die grond tref, is eers later uitgevind. Hierdie aksie het veroorsaak dat die witskilde ook aan die geveg kom deelneem het.

Na omtrent drie uur se geveg het die Zoeloes tou opgegooi en het Pretorius 'n paar berede aanvalle buitentoe onderneem om die Zoeloes te dwing om weer te probeer of om hulle te verjaag. Pretorius self en nog twee Trekkers het assegaaiwonde opgedoen, maar kon voortgaan met die geveg.

Teen elf- of twaalfuur die dag was die slag gelewer. Rondom die laer het 'n wal dooies gelê. Elke geweerskoot was egter nie 'n doodskoot nie en baie bloeiende gewondes het die kuil ingevlug en probeer om deur te swem en koers te kry "huis toe". Gevolglik het die kuil spoedig bloedrooi geword van die bloed en so aanleiding gegee dat die rivier sy naam gekry het: BLOEDRIVIER. Baie gewonde Zoeloes het ook geslaag om deur die rivier te kom, maar beswyk op die lang oop vlakte aan die oostekant. Vandag nog noem Zoeloes die bult oorkant "Ukhalo lamathambo" (bult van doodsbeendere).

Bron: www.Bloedrivier.org.za die amptelike webblad van die Bloedrivier Gelofte-herdenkingskomitee.


14 Desember 2025

Jesus gee lewende water aan almal wat dors het

 


Joh. 4v1 – 42 Teksverse Joh. 4v10, 14 & 23-24 2020 Vertaling

Die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put wys vir ons hoe Jesus ’n mens se lewe verander. Jesus is op pad van Judea af na Galilea toe en Hy “moes” deur Samaria gaan. Dit is nie omdat dit die beste of kortste pad was nie. Hy moes deur Samaria gaan want Hy het ’n afspraak met ’n vrou gehad wat deur die lewe eenkant toe gestoot is. Dit was ’n afspraak wat haar lewe verander het.

Hierdie vrou was op ’n plek in haar lewe waar sy eintlik nie wou wees nie. Sy pas nie binne die sosiale kringe in die dorp nie, want sy kom op die hitte van die dag water haal en nie vroeg oggend saam met die ander vroue nie. Verder het sy die lewe vir haarself nog moeiliker gemaak met die verkeerde keuses wat sy gemaak het.

En dan onverwags kom Jesus in haar lewe in met ’n versoek vir ’n bietjie water. Dit is egter ’n versoek wat die vrou bewus maak van ’n veel dieper dors as ’n fisiese dors na water.

So half onwillig word sy gelei om na binne te kyk, daardie selfondersoek wat ’n mens maar eerder wil vermy omdat dit ongemaklike waarhede aan die lig bring. Aanvanklik is sy so half ongeërg met Jesus: Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe is dit moontlik dat u wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water vra om te drink?”

Die Samaritane en die Jode het nie goed met mekaar oor die weg gekom nie omdat die Jode die Samaritane as tweede klas burgers behandel het omdat die Samaritane van gemengde afkoms was. Hulle was die nageslag van die Israeliete wat met die Assiriërs ondertrou het nadat dié hulle in Ballingskap weggevoer het.

Jesus laat Hom egter nie deur hierdie rassediskriminasie tussen die Jode en die Samaritane afsit nie. Sy antwoord bring die diepste nood van hierdie vrou na vore: “As jy van die gawe van God geweet het, en wie dit is wat vir jou vra, ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het. ”

Die vrou verstaan egter nog nie werklik nie. Sy dink dit gaan nog steeds oor fisiese water en sy antwoord so half en half met ’n afjak. “Meneer, u het nie eers 'n skepding nie, en die put is diep. Waarvandaan kry u dan die lewende water? U is tog nie belangriker as ons vader Jakob nie, hy wat die put aan ons gegee het, en self daaruit gedrink het, en ook sy seuns en sy vee?”

Geliefdes is dit nie hoe dit ook maar in ons lewens gaan nie? Hierdie vrou het ’n behoefte na iets meer in die lewe as wat sy tans het. En dan kom die Here in haar lewe in en wys dit vir haar, maar sy sien dit nog nie raak nie. Hoeveel keer gryp die Here nie in ons lewens in en dan sien ons nie die werklike rede daarvoor raak nie?

Hoeveel maal sien ons net soos hierdie vrou net die fisiese materiële behoeftes raak, maar ons mis die geestelike behoeftes? Here help tog net asb. met hierdie probleem wat ek het. Laat dit asb. tog net beter gaan met my geldsake. Here as ek tog net ’n ander motor kan kry. As dit tog maar net beter met my gesondheid kan gaan. En so raak ons verstrengel in die oppervlakkigheid van die materialistiese hier en nou. Is ons slegs bekommerd oor die tydelike dinge in ons lewens, maar ons mis die dieper geestelike sake wat ewigheidswaarde het.

Jesus raak egter nie ongeduldig met die vrou nie. Hy verduidelik nog verder vir haar dat enige iemand wat maar net van hierdie fisiese water drink, dit wil sê vashaak by die wêreldse dinge maar net weer dors gaan kry. Solank as wat ons, ons geestelike dors met wêreldse dinge probeer les gaan dit nooit geles word nie.

Net die lewende water wat Jesus self vir ons gee kan daardie dors les. ...... wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom 'n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe.

Wat is hierdie “lewende water” waarvan Jesus praat?

Dit is die ewige lewe en die geestelike vernuwing wat die Heilige Gees in mens werk.

Die lewende water wat Jesus verniet gee, het Hom baie duur gekos. Hy moes met sy lewe aan ’n vervloekte kruishout daarvoor betaal sodat ons kan lewe. Sodat ons in vrede met mekaar en in vrede met God kan leef. Sodat ons werklik by die dinge kan uitkom wat saak maak in die lewe deur vir mekaar om te gee.

Nou eers besef die vrou waarvan Jesus praat en sy vra vir Hom om vir haar van daardie water te gee. Voordat sy egter van die water kan kry moet daar nog iets gebeur. Sy moet eers haar eie hulpeloosheid vanweë haar sonde raaksien en daarom sê Jesus vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”

Sy probeer nog wegskram deur te sê dat sy nie ’n man het nie, maar daar is niks wat ’n mens vir God kan wegsteek nie. Wanneer Jesus die volle werklikheid vir haar blootlê probeer sy nog ’n maal. Sy maak gebruik van die taktiek wat ons as kinders vervolmaak het. So binne die eerste vyf minute vra iemand vir die wiskunde onnie iets oor die naweek se rugby en voor jy jou oë kan uitvee is die periode om.

So probeer sy om die aandag van haarself af weg te lei met vraag oor waar daar aanbid moet word. Ons doen dit vandag nog geliefdes. So neem ons ook die fokus van Jesus af weg deur ons besig te hou met allerlei kleinighede soos wat die presiese modestyl moet wees waaraan ons kleredrag moet voldoen wanneer ons kerk toe gaan of watter liedere ons mag en nie mag sing nie of wat die grote moet wees van die houers waaruit ons Nagmaalwyn moet drink.

Jesus laat egter nie toe dat die vrou die fokus verskuif nie. Hy bring die gesprek weer terug na wat werklik saak maak. Hy sê vir haar: “Vrou, glo My, daar kom 'n tyd dat julle die Vader nóg op hierdie berg, nóg in Jerusalem sal aanbid. Julle aanbid dit wat julle nie verstaan nie; ons aanbid dit wat ons verstaan, want die verlossing kom uit die Jode. Daar kom egter 'n tyd, en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis sulke aanbidders hê. God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. ”

Jesus se antwoord aan die vrou dring tot die kern deur. Hy sê vir haar waaroor dit werklik gaan. Dit gaan nie oor waar jy aanbid nie, maar oor jou hart ingesteldheid. Hoe lyk jou hart? Aanbidding is nie aan ’n plek of kultuur vasgebind nie. Dit gaan oor ’n ware ontmoeting met God. Deur die Heilige Gees maak God dit moontlik om by die waarheid Jesus Christus uit te kom. Om by God uit te kom, moet jy by Christus, die Messias uitkom want Hy is die een wat die Vader gestuur het om die volk te red.

Nou kom die Samaritaanse vrou by die dieptepunt van haar geestelike dors uit waarheen Jesus haar gelei het. Sy sê: “Ek weet die Messias kom wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak. ” En dan antwoord Jesus haar: “Ek Is, is die Een wat met jou praat.”

Jesus stel Homself as “EK IS” aan haar voor. Reeds in Eksodus 3:14 stel God Homself as “EK IS wat EK IS” voor. Hier identifiseer Jesus Homself as God wat naby gekom het. Hy is Emmanuel, “God by ons”. Dis God wat die lewende water van die ewige lewe gee. Jesus het ’n Goddelike afspraak gehad met hierdie vrou. Daarom “MOES” Hy deur Samaria gaan.

En haar ontmoeting verander haar hele lewe. Ons sien in hierdie verhaal watter radikale invloed Jesus se lewende water op die lewe van hierdie vrou gehad het. Sy wat uitgestoot was en haarself eenkant gehou het en wat nie eens water saam met die ander vroue by die put water kom haal het nie, gaan nou uit en vertel aan almal wat sy tot nou toe vermy het die Goeie Nuus van die lewende water wat Jesus vir haar gegee het.

Geliefdes, Jesus het vandag ’n afspraak met jou. Hy bring vir jou die lewende water van die ewige lewe. Hy is Emmanuel, God met jou en Hy vra dat jy Hom in Gees en waarheid sal aanbid. Uit sy genade gee Hy alles. Na sy Hemelvaart het Hy die Heilige Gees gestuur om elke oomblik van elke dag by jou te wees.

Uit genade gee God vir jou sy liefde. Hy gee vir jou die waarheid dat jy deur geloof in Jesus Christus die lewende water van die ewige lewe ontvang. Jy hoef niks te doen om God se liefde te verdien nie. Hoe gaan jy op God se liefde reageer? Genade beteken dat God alles doen, maar daarmee maak Hy ons nie passiewe robotte nie. Deur die Heilige Gees lei Hy ons na die waarheid van Jesus Christus. Gaan jy liefde teruggee? Gaan jy uit God se genade begin leef? Die ewige lewe wat God gee begin nou reeds sodat jy jou lewenspad hiervandaan saam met God kan stap.

Begin jou dag met gebed sodat jy intens van God se teenwoordigheid in jou lewe bewus kan wees. Deel jou dag met God soos jy deur die dag gaan. Hy sê vir ons, bid gedurig. Praat met God. Laat Hy deel wees van jou lewe. Laat Hom toe om jou laste te dra wat die lewe oor jou pad bring. Maak tyd in jou dag om na God se stem uit sy Ewige Lewende Woord te luister. Sluit jou dag af met gebed. Aanbid God in Gees en in Waarheid.

Geliefdes, het jy dors? Kom dan na Jesus toe want Hy gee lewende water aan almal wat dors het.

Amen


07 Desember 2025

Emanuel – ’n teken van hoop of oordeel

 


Jes. 7:1-25 teksverse Jes. 7:10 – 14 OAV

Inleiding

Oor 18 dae vier ons Kersfees. Christene herdenk met Kersfees dat Christus as ’n mens gebore is. In die Ou Testament kry ons talle beloftes van die Messias wat gaan kom. In Jesaja 7 word die beloofde Messias “Emanuel” genoem wat beteken “God met ons”.

Met ander woorde God is ’n “vêr” God wat nie omgee nie. Dit beteken dat God omgee en dat Hy elke dag persoonlik in jou lewe teenwoordig is.

Ons gaan vandag bietjie stilstaan by wat beteken die belofte van “Emanuel”. In Jesaja 7 word die belofte van die teken “Emanuel” in die eerste plek aan die huis van Dawid gegee, maar dit is ’n belofte wat ook ’n verdere vervulling het in die geboorte van Christus.

Ons gaan dus eerste stilstaan by wat die betekenis was van die Emanuel teken vir die eerste hoorders en daarna hoe daardie betekenis deurgetrek word na Christus toe en wat daar belofte van Emanuel vir ons vandag hier en nou beteken.

Wat beteken die teken van Emanuel vir die eerste hoorders daar in die tyd van Jesaja.

Ons hoor hier in Jesaja 7 van ’n krisis situasie. Die gebeure speel af tydens die Siro-Efraimitiese oorlog 734 v.C.

Konings Pekah van Israel en Resin van Sirië wil koning Agas van Juda dwing om hulle te help in hulle oorlog teen Assirië. Agas weier egter en daarom wil hulle hom onderwerp om hom te dwing.

Juda se koning, Agas en die volk, is bang, paniekerig en vol ongeloof. God stuur egter sy profeet Jesaja om vir hulle te sê: “Moenie vrees nie. Ek sal julle red.”

God gaan so ver om vir Agas ’n buitengewone teken aan te bied. Agas kan kies watter bonatuurlike of selfs kosmiese teken hy wil hê.

Agas weier egter en op die oog af klink dit vroom, want Deut. 6:16 verbied die volk om God te “versoek”. maar in Jes. 7 is dit God wat die teken aanbied. Deur sy weiering rebelleer Agas eintlik teen God. Ons lees in 2 Kon. 16:7-8 dat hy reeds besluit het om eerder op Assirië te vertrou en daardeur het hy die verbondstrou van God verwerp.

Daarom berispe God in Jes. 7:13 Dawidshuis:

Luister tog, o huis van Dawid! Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei, dat julle my God ook vermoei nie?

Dit wys vir ons dat Agas nie net namens sy eie naam optree nie maar dat hy die hele koninklike dinastie se roeping versaak.

Agas word egter nie toegelaat om God se raadsplan te keer nie en daarom Gee God self sy eie teken soos ons hoor in Jes. 7:14:

Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.

Hierdie teken het eerstens ’n onmiddellike betekenis vir Juda, maar dit het ook ’n verreikende groter betekenis vir die hele mensdom.

In die eerste plek is hierdie ’n teken van hoop vir Juda, maar dit is inderdaad ook ’n teken van oordeel. Die Here bied in die eerste plek vir Agas hierdie teken as ’n teken van hoop waar Hy sê: “Moenie bang wees nie. Die plan van hierdie twee konings sal nie slaag nie. Agas, jy hoef nie bang te wees nie. God is met julle.”

Agas se ongeloof verander dit egter in ’n teken van oordeel omdat hy doelbewus die Here se verlossing verwerp soos ons ook hoor in Jes. 7:17

Maar die Here sal oor jou en jou volk en die huis van jou vader dae laat kom soos daar nie gekom het van die dag dat Efraim van Juda afgeval het nie — die koning van Assur!

Agas het inderdaad ook tot ’n droewige einde gekom soos ook verder aan die Bybel in 2 Kron. 28:22-27 hoor.

Die betekenis van die teken is dus duidelik ’n boodskap van hoop vir diegene wat in geloofsvertroue hulle vertroue ten volle op God plaas, maar vir hulle wat in ongeloof vanaf God wegdraai is dit ’n teken oordeel.

Wat beteken die Emanuel teken vir ons vandag?

Die Bybel gee nie vir ons veel detail oor die teken se onmiddellike vervulling nie. Wat wel duidelik is, is dat die teken wel in vervulling gegaan het as bewys dat God getrou is aan sy woord. Dit word egter nie in detail uitgespel nie, want die fokus is op die verdere belofte van hoop wat in die teken vir ons gegee word.

In Matteus 1 hoor ons wat die groter belofte was van die teken in Jes. 7:14. Daar het ’n engel vir Josef verduidelik van sy verloofde wat swanger was deur die Heilige Gees en dat Jesus ons Verlosser gebore sou word.

In Mat. 1:22 & 23 hoor ons
22En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het:

23 Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.

Die kind Emmanuel (God met ons) is vir ons gebore en dit is wat ons as Christene met dankbare eerbied teenoor God met Kersfees in gedagtenis bring.

Oorspronklik het die teken van Emmanuel God se verbondstrou aan Juda te midde van oorlogsbedreiging bevestig. Die teken het vir Juda bevestig dat God se teenwoordigheid werklik is en dit is wat Emmanuel vandag nog vir ons ook doen.

Dit het vir Juda van God se verbondsliefde, beskerming en heerskappy verseker en net so verseker dit ons vandag ook van God se verbondsliefde, beskerming en heerskappy in ons lewens.

God self het in menslike gestalte by ons kom woon en daarom kan ons verseker weet God werklik teenwoordig is in ons lewens in Christus, deur die Gees, nou én tot die voleinding toe.

Net soos die oorspronklike Immanuel teken Jes. 7 hoop gebring te midde van onsekerheid en vrees bring die vervulling van die Immanuel teken in Christus vir ons hoop, want God is teenwoordig by ons in ’n wêreld vol van onsekerheid en vrees.

Matteus sê dat Jesus die finale, volkome Immanuel is, en daarmee beantwoord hy dieselfde vraag vir elke gelowige deur alle eeue heen: God het nie net ’n boodskap gestuur nie. Hy het self gekom!

Wat sê dit vir ons geliefdes?

Ø Jou geloof rus nie op jou eie prestasie of geestelike standvastigheid nie, maar op God se nabyheid.

Ø Jy hoef nie jou lewe alleen te dra, bestuur of reg te maak nie—Immanuel dra jou.

Ø Wanneer jy konflik, onsekerheid of pyn beleef, hoef jy nie te vra “Waar is God?” nie.

Ø God ís hier by jou. In Christus en in die Gees. Hy sal jou nie alleen los nie, want Hy is elke oomblik van elke dag by jou.

Immanuel is God wat verlossing bring deur oordeel heen. In Jes. 7 het ons gehoor dat Immanuel ’n teken van hoop is vir diegene wat op God vertrou, maar dat dit ook ’n teken van oordeel is vir diegene wat God verwerp.

En by die kruis klim hierdie spanning tot ’n hoogtepunt. Christus dra self die oordeel aan die kruis en maak die vloek van die dood tot niet met sy opstanding sodat God se Immanuel teenwoordigheid vir jou ’n werklikheid kan wees.

Jesus is Immanuel, God by jou. Daarom kan jy verseker weet dat jou hele lewe, jou werk, huis, familie, woede, vrese, siekte plaasvind binne God se teenwoordigheid. Niks in jou lewe gebeur buite Christus se hand nie.

Immanuel gee vir ons ’n lewende hoop dat ons op pad is na ’n ewige heerlikheid saam met God waar daar geen trane, hartseer, pyn of dood gaan wees nie. Vir ewig en altyd in God se teenwoordigheid.

Immanuel is ’n teken van hoop vir elkeen wat in Jesus Christus glo en wat sy volle vertroue en hoop op God alleen plaas en saam met Hom wandel.

Dit is egter ook ’n teken van oordeel vir elkeen wat sy rug op God draai. Die hoop van God se teenwoordigheid in jou lewe is net vir diegene wat in Jesus Christus as sy enigste Verlosser en Saligmaker glo.

Omhels Immanuel, d.w.s gryp God se teenwoordigheid in jou lewe met geloof vas. Leef deur jou geloof in Jesus Christus die lewe wat God vir jou beplan het sodat Immanuel nie vir jou ’n teken van oordeel word nie.

Amen


30 November 2025

Jesus het mens geword sodat ons in oorvloed kan lewe


 

Genesis 3
Teksvers Gen. 3 v 20

Die jaar snel ten einde en ons is al weer by daardie tyd van die jaar waar ons begin regmaak vir Kersfees. Kersfees beteken baie dinge vir verskillende mense. Met Kersfees onthou Christene dat God mens geword het toe Jesus so bietjie meer as 2000 jaar gelede gebore is.

So tussen deur die regmaak en beplanning vir al die feestelikhede is dit goed dat ons net so bietjie stil word om na te dink wat Christus se geboorte vir ons beteken. Daarmee saam om ook net weer te besef wat se verskil dit aan ons lewe maak.

Om werklik die betekenis te verstaan van dit wat ons met Kersfees herdenk, gaan ons vandag eers weer terug na daardie gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom wat dit nodig gemaak het dat God in Jesus Christus mens geword het.

Wanneer ons aan Genesis 3 dink, dan haak ons so maklik vas by die vrug en die slang en die gebeure rondom dit. Vandag gaan ons so bietjie besin oor wat die implikasies was van daardie hap aan die vrug.

In Gen. 2 v 16 & 17 hoor ons dat God die mens ’n opdrag gee en wat die gevolge sal wees indien die mens nie gehoorsaam is aan daardie opdrag nie.

16Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”

Ongehoorsaamheid hou baie ernstige gevolge in. Met ongehoorsaamheid word lewe vir dood verruil. In Gen. 3 hoor ons dan ook die hartseer verhaal hoe die mens en sy vrou die lewe vir dood verruil het.

En die vrou het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.

God het vir hulle gesê hulle moenie, maar hulle het besluit hulle wil en toe het hulle die vrug van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet.

Die gevolge van hierdie daad het verrykende gevolge vir hulle en hul nageslag ingehou. Hulle het lewe verruil vir dood. Van daardie oomblik af was hulle liggame onderwerp aan aftakeling wat op die uiteinde tot liggaamlike dood lei, nie net vir hulle nie, maar vir hulle hele nageslag.

Verder ook het hulle hele bestaan nou moeite geword soos ons hoor in Gen. 3:16-19:

16Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring.

Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.”

17Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; 19net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.”

Die leefwêreld van die mens wat vir hulle vreugde verskaf het, het verander in ’n omgewing wat moeite en lyding veroorsaak.

Die ergste is dat daar ’n vervreemding tussen God en die mens ingetree het. In die plek van liefde in hul verhouding met God is nou vrees. Die mens het bang geword vir God en daarom het hulle probeer wegkruip toe hulle God hoor naderkom.

As die verhaal hiermee geëindig het, sou dit inderdaad ’n baie droewige hartseer verhaal gewees het. Dan het dood die laaste sê gehad. Dood het egter nie die laaste sê nie, want verweef binne in die verhaal tussen al die hartseer gebeure, is ’n boodskap van hoop.

Ons hoor dit reeds in Gen. 3 v 15 met ’n belofte van vyandskap tussen die nageslag van die mens en die bose. Die vyandskap bring verwydering tussen die mens en die bose en daarmee saam ook die belofte dat die bose oorwin gaan word. Die bose het nie die laaste sê nie.

In Gen. 3 v 20 hoor ons hoe die man hierdie boodskap van hoop aangryp. Tot nou toe is daar na die mense in hierdie verhaal net verwys as man en vrou. Nou gee die man vir sy vrou ’n naam. “Die mens het sy vrou Eva genoem.” Die betekenis van die Hebreeuse woord wat in ons Bybel met Eva vertaal is, beteken lewe.

Adam verklaar: “Sy is Lewe, want God sal deur haar lewe voortbring.” Die naam “Eva – Lewe” bevestig God se verlossingsplan. Dit is ’n boodskap van hoop van voortgaande lewe ná die sondeval en die belofte van die uiteindelike koms van die Messias.

En dan bevestig die verteller van die verhaal dat daar inderdaad lewe vanuit die vrou voortgevloei het. “sy was die moeder van al die mense.” Eva is die moeder van die mensdom en sy is die draer van God se belofte van verlossing. Eva is inderdaad ’n geloofsverklaring dat God se lewegewende belofte sal voortgaan ondanks die sondeval en dat dit uiteindelik in Christus vervul sal word.

En dan sluit die verhaal af met nog ’n boodskap van hoop op lewe. Ons hoor hoedat hulle uit die tuin verban was sodat hulle nie toegang tot die boom van lewe sou verkry het nie. Op die oog af klink dit of dit deel is van hulle straf, maar dit is nie. Dit vertel vir ons van God se genade. Hy keer hiermee dat hulle in hul sondige toestand van die boom van die lewe eet en so vir ewig in hul sondige toestand vasgevang sou word.

As hulle op daardie stadium van die boom van die lewe sou eet sou dit nie lewe gee nie, maar dood waar hulle vir ewig van God vervreem sou wees vanweë hulle sonde. Deur hulle uit die tuin te verban, maak God dit moontlik dat die beloftes wat Hy gegee het dat die bose oorwin sal word, waar word.

Wat beteken hierdie verhaal uit ons oeroue geskiedenis vir ons vandag en hoe pas dit in by Kersfees? In Joh. 10 v 10 hoor ons die volgende woorde van Jesus:

Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Hiermee bevestig Jesus die belofte van lewe wat ons reeds in Gen. 3 gehoor het. Hy is die Verlosser wat mens geword het uit die nageslag van EVA wat lewe beteken en hier bevestig Hy dat Hy gekom het om lewe te bring.

Met Kersfees herdenk ons dat Jesus wat God is, as mens gebore is. Hy is as mens gebore sodat die belofte van lewe in Gen. 3 waar kon word. Dit is egter nie net gewone lewe wat Jesus bring nie. Dit is lewe in oorvloed! Dit beteken dat elkeen wat die belofte van lewe in Jesus Christus met geloof omhels, deel in daardie lewe van oorvloed wat Jesus gebring het.

Wat beteken Kersfees dus prakties vir ons, geliefdes? Dit beteken dat die vloek van ’n doodsbestaan nie meer die laaste sê het in ons lewens nie. Dit is waar dat ons nog nie heeltemal bevry is van die gevolge van die sonde nie. Ons lewens is nie nou van terugslae en swaarkry vrygeskeld nie, maar die terugslae en swaarkry het nie die laaste sê nie. Midde in die terugslae en swaarkry beleef ons God se liefdevolle teenwoordigheid en ons beleef hoe Hy ons daardeur dra.

Die belofte van lewe in Gen. 3 wat deur Jesus waar geword het, beteken dat die vervreemding wat sonde tussen jou en God gebring het, nie meer daar is nie. Jy kan reeds in hierdie lewe die oorvloed van God se liefde beleef, veral hoe Hy jou dra deur ’n lewe wat nie perfek is nie.

Ek is seker dat elkeen van ons kan terugkyk hoe God ons gedra het deur die stampe en die stote van die lewe. Ons sien ook uit na die belofte dat die swaarkry in hierdie lewe net tydelik is. Ons het ’n lewende hoop op ’n ewigdurende lewe saam met God sonder hartseer trane of pyn.

Kersfees herinner ons net weer dat God ons ook in die toekoms sal dra deur die stampe en die stote van die lewe. Kersfees herinner ons dat die swaarkry van hierdie lewe net tydelik is en dat ons op pad is na ’n ewige heerlikheid saam met God sonder hartseer trane of pyn.

Kersfees sê vir ons dat Jesus mens geword het sodat ons in oorvloed kan lewe.

Amen