07 Apr. 2012 (RB)
Skriflesing: Luk. 23:13 – 43 ; Joh. 19:17-35
; Mat. 27:45 – 46
Teksverse: Luk. 23;34, 43, 46; Joh. 19:
26-28, 30; Mat 27:46
Sing
Lofsang: Ps. 116 v 8 - 10 (OAB)
Na
wet: Ps.
130 v 2 & 4 (OAB)
Na
gebed Sb. 18-6 v 1 , 3 & 5 (OAB)
Slotsang Ps. 31 v 3 , 4 & 12 (OAB)
Inleiding
Wat
beteken Paasfees werklik vir ons? Volgens die winkeladvertensies lyk dit of
Paasfees gaan oor sjokolade paashase en sjokolade eiers. Die haas en die eier
is oeroue simbole van vrugbaarheid, want die tydperk waarin ons Paasfees vier,
is in die noordelike halfrond vroeë lente, ’n tydperk van nuwe lewe. Vir
Christene is dit egter nie waaroor Paasfees gaan nie. Christene herdenk met
Paasfees die kruisiging en opstanding van Jesus Christus 2000 jaar gelede wat
plaasgevind het in die tyd wat Joodse Paasfees gevier is.
Wat
is die werklike betekenis van Jesus se kruisiging en opstanding vir ons?
Hierdie betekenis kom duidelik na vore uit die sewe kruiswoorde wat Jesus aan
die kruis uitgespreek het. Met sewe kruiswoorde sê Jesus vir ons hoe lief Hy
ons werklik het en daarom gaan ons vanoggend stilstaan by die sewe
kruiswoorde. Sewe is die volheidsgetal van God en met sewe kruiswoorde hoor ons
die volle omvang van Jesus se liefde vir ons.
In
die eerste kruiswoord bid Jesus vir sy vyande.
Luk.
23 v 34 : “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Wie
is Jesus se vyande? Die maklike antwoord is hulle wat Hom gekruisig het. Hulle
wat saam geskree het “kruisig Hom!” Daarmee wys ons gerieflik die vinger weg
van onsself af. Die korrekte antwoord is dat alle mense as gevolg van sonde
vyande van God is. Die ongemaklike antwoord is dat ek Jesus se vyand is en
daarmee wys die vinger direk terug na my toe! Die troos wat ons in hierdie bede
van Jesus vind is dat Hy ook vir my aan die kruis gesterf het soos ons ook hoor
in Rom. 5 v 8:
Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat
Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
Hierin
sien ons hoe ware liefde van God haat oorwin. Die verantwoordelikheid wat
hieruit voortspruit is dat ek ook my vyande moet vergewe soos wat God my
vergewe. Is ek bereid om God se liefde in my lewe te laat werk of leef ek nog
in vyandskap met God en my naaste?
In
die tweede kruiswoord sien ons Jesus se liefde in die verlossing wat Hy aan
boetvaardige mense skenk.
Saam
met Jesus het is daar twee misdadigers gekruisig. Een van hulle het die
vertroostende woorde van Luk. 23 v 34 gehoor:
“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die
paradys wees.”
Waarom
het net een hierdie troos gehoor? Slegs een het besef hoe verlore hy in sy
sonde is terwyl die ander een Christus gespot het en ander vir sy sonde blameer
het. Die een wat gered is het in diepe ootmoed by Jesus gesmeek soos ons hoor
in Luk. 23 v 42: “dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”
Volhard
ek nog in my sonde waar ek alles en almal blameer of het ek al tot die diepe
besef van my verlorenheid gekom sodat ek by Jesus verlossing kan soek? Die
troos wat ons in die tweede kruiswoord ontvang is Jesus se liefde vir verlore
sondaars wat by Hom verlossing vind.
In
die derde kruiswoord hoor ons die ware vertroosting van Jesus se liefde vir
diegene wat naby Hom is.
Joh.
19v26-27: “Daar is u seun ........ daar is jou moeder”
In
Jesus se diepe nood dink Hy nie aan homself nie, maar sien Hy steeds die pyn en
lyding van hulle wat vir Hom dierbaar is raak. Met hierdie kruisgebeure het die
profesie van Simeon aan Jesus se moeder waar geword:
En wat jou betref, ’n swaard sal deur jou siel gaan
In
hierdie derde kruiswoord sien ons Jesus se liefde raak in sy omgee vir die pyn
en lyding van elkeen wat naby Hom is. Sy liefde bied ware vertroosting omdat Hy
empatie het met die seer wat ons in hierdie wêreld ly.
Die
troos wat ons hierin vind is dat Jesus ook vir ons omgee en dat ons met
vertroue na Hom toe kan gaan vir troos wanneer ons pyn en lyding ervaar. Net
soos wat Johannes vir Maria in sy huis geneem het, sal ons hemelse Vader al sy
kinders in sy huis opneem waar Jesus vir hulle plek voorberei het.
Na
hierdie derde kruiswoord was daar drie uur duisternis. Voor die duisternis rig
Jesus Hom tot die mense. Na die duisternis rig Hy Homself tot sy lyde in die
vierde en vyfde kruiswoorde. Die duisternis dui ook vir ons die dieptepunt van
Jesus se lyding aan.
In
die vierde kruiswoord hoor ons Jesus se uitroep van Godverlatenheid.
Mat.
27v46: “My God, my God, waarom het U
My verlaat?”
Deur
die eeue heen hoor ons hoe mense kerm van Godverlatenheid. Daar was egter net
een geval in die geskiedenis waar God werklik sy rug op iemand gedraai, toe Hy
Homself van Jesus ontrek het. Dit is wat die ware hel is, naamlik om totaal
deur God verlaat te word. Daardeur het Jesus die volle straf gedra van die
uitverkorenes.
Die
troos wat ons in die vierde kruiswoord ontvang is dat Jesus uit liefde
Godverlatenheid ervaar het sodat ons nooit hoef uit te roep: “My God, my
God, waarom het U My verlaat?” In ons swaarste aanvegtinge kan ons verseker
weet dat God ons nooit alleen laat nie. Hy is daar en daarom kan ons met
vertroue by hom hulp en skuiling soek wanneer die lewe moeilik raak en kan ons
vashou aan sy belofte wat Hy in Rom. 8 v 38 – 39 vir ons gee:
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele
of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte
of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die
liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Met
die vierde kruiswoord hoor ons Jesus se liefde in sy geestelike lyde wat Hy in
ons plek gedra het.
In
die vyfde kruiswoord hoor ons van Jesus se liggaamlike lyde.
Joh.
19v28 “Ek is dors.” Jesus het na
liggaam en siel gely en daarmee bewys Hy sy liefde vir ons deurdat Hy ons
liggaamlik en geestelik verlos. Hiermee kry ons die troos dat ons by Jesus die
lewende water kan kry wat vir ons ’n lafenis vir ons lyding en droefheid hier
op aarde. Die troos is ook verder dat Jesus ons daarmee verseker dat die lyding
hier op aarde van verbygaande aard is. Ons sien daarna uit om na hierdie lewe
vir ewig by God te wees waar daar geen hartseer pyn of lyding sal wees nie en
dat God self al ons trane sal afdroog. Ons kan nou reeds troos by God vind met
die sekere wete dat “die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen
die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” soos
hy ons belowe in Rom. 8 v18. Gaan soek ons, ons troos by die Here of
verval ons nog steeds in ’n troostelose moedeloosheid wanneer die lewe ons
omdop?
Die
vierde en vyfde kruiswoorde was uitroepe van smart en daarmee troos Jesus se
liefde ons omdat Hy bereid was om in ons plek die smart te dra. Die sesde en
sewende kruiswoorde is uitroepe van oorwinning.
In
die sesde kruiswoord hoor ons hoe Jesus se liefde vir ons ’n nuwe begin in die
lewe gee.
Joh.
19 v 30: “Dit is volbring!” Hiermee sê Jesus vir ons dat sy werk as
slaaf voltooi is en dat sy werk as Koning begin. Hy het die oorwinning behaal
deur volledig vir ons sondes te betaal. Dit is dan ook ’n draaipunt in die
wêreldgeskiedenis. Die mag van die sonde is gebreek. Sonde het nie meer ’n
houvas op ons nie. Ons het nou ’n nuwe lewe saam met God.
In
die sesde kruiswoord hoor ons hoe Jesus se liefde die troos op ons lewensweg
is. Al dreig my lewe om sy doel te mis en doelloos te wees is daar vir my die
hoop van ’n nuwe begin saam met God. Vir elkeen wat die sesde kruiswoord ter
harte neem is daar die hoop dat my lewe sinvols sal wees en dat ek my
lewensdoel saam met God sal bereik.
Met
die sewende kruiswoord sê Jesus vir ons dat Hy nou ’n nuwe betekenis aan die
dood gee.
Luk.
23v46. “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” Met sy lewe het Jesus vir
ons gewys hoe om te leef. Nou wys Hy vir ons hoe om te sterf. Een ding in die
lewe is seker, naamlik dat ons gaan sterf. Dit wat agter die dood lê bly vir
ons ’n onsekerheid. Hier wys Jesus vir ons dat ons, ons nou ook in die dood
veilig in die Vader se hande kan toevertrou omdat die dood nie meer ’n straf is
nie.
Vir
die ongelowige is die dood ’n absolute hopeloosheid en ’n einde aan alles. Vir
die gelowige is die dood egter slegs ’n deurgang na ’n volgende bedeling waar
ons ewig saam met God sal wees. Omdat Jesus in ons plek die straf vir die sonde
gedra het hoef ons nie God se woede in die dood te vrees nie en daarom kan ons
vertrou dat God ons veilig sal bewaar. Die troos wat ons hierdeur ontvang is
die wete dat ek nou in ’n toestand van onsekere donkerte ingaan waar ek myself
nie kan beskerm nie. Daarom vertrou myself aan God se troue Vaderlike sorg toe.
Ek vertrou dat U my in die nuwe dag sal wakker maak.
Daarom
is die dood vir die gelowige nie die einde nie, maar ’n deurgang tot die nuwe
dag van heerlikheid saam met God.
Samevatting
Die
ware betekenis van Jesus se kruisdood en opstanding kom duidelik na vore uit
die sewe kruiswoorde wat Jesus aan die kruis uitgespreek het. Met die sewe
kruiswoorde sê Jesus vir ons hoe lief Hy ons werklik het In die eerste
kruiswoord bid Jesus vir sy vyande en daarin sien ons hoe God se liefde ons
haat oorwin. In die tweede kruiswoord hoor ons van Jesus se liefde vir verlore
sondaars wat by Hom verlossing vind. In die derde kruiswoord hoor ons van Jesus
se liefde wat ware vertroosting bied omdat Hy empatie het met die seer wat ons
in hierdie wêreld ly.
In
die vierde en vyfde kruiswoorde hoor ons van Jesus se lyde. Hy het geestelik en
liggaamlik gely. Met die vierde kruiswoord hoor ons van sy Godverlatenheid
sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie. In die vyfde kruiswoord hoor ons
dat niks ons van sy liefde kan skei nie en dat ons uitsien na ’n bedeling waar
daar geen lyding meer sal wees nie. Die sesde en sewende kruiswoorde is
uitroepe van oorwinning. Met die sesde kruiswoord hoor ons dat daar ’n nuwe
begin is vir elkeen wat deur sonde ontspoor is. In die sewende kruiswoord hoor
ons dat die dood vir die gelowige nie die einde is nie, maar ’n deurgang tot
die nuwe dag van heerlikheid saam met God.
Kom
ons vind ons verlossing en vertroosting in die liefde van Jesus wat Hy aan die
kruis vir ons gewys het en nie in die oppervlakkigheid van hierdie wêreld nie.
Amen