08 Maart 2012

Moenie moedeloos word nie, Christus dra sy kerk deur tye van swaarkry


4 Mar. 2012 (RB) Open. 2 v 8 tot 11

Sing    Lofsang: Ps. 147 v 1 & 2             (OAB)
           Na wet:    Ps. 130 v 1 & 2             (OAB)
           Na gebed Ps. 86  v 1 & 6             (OAB)
           Slotsang  Ps. 31 v 1 &3                (OAB)
Voel u soms moedeloos omdat dinge net al hoe slegter word. Niks wil reg loop nie. Die een probleem is skaars opgelos of daar is twee ander in sy plek! Dan wonder ons soms waarom ons as Christene so swaar moet kry in hierdie lewe. Dit kan so erg raak dat ons selfs begin twyfel of God werklik omgee. Sien God regtig my ellende raak?

Die gelowiges in Smirna het ook goeie rede gehad om so te voel, want hulle het regtig swaar gekry ten spyte daarvan dat hulle in ’n stad gewoon het wat as ’n juweel van die gebied bekend was. Binne ’n stad waar die gemiddelde inwoner welvarend was, was hulle die uitgeworpenes en die armste van die armes. Verder het hulle gebuk gegaan onder erge vervolging vanweë hulle Christelike geloofsoortuiging. Die Jode het elke geleentheid gebruik om hulle onder verdenking te plaas en om hulle sleg te maak by die stadsowerhede. Die gevolg was dat hulle in ’n groot mate uitgesluit was en dat hulle geen geleenthede ontvang het in daardie stad nie. Hulle kon nie werk kry nie, met die gevolg dat hulle werklik arm was. In hierdie brief troos die Here die gelowiges in Smirna wat so swaarkry.

Hierdie brief is ook aan Christus se kerk oor al die eeue heen gerig en dit bring inderdaad ook vertroosting vir sy kerk wat swaarkry in hierdie wêreld. Daar is mense wat voorhou dat dit net goed moet gaan met die kerk, maar dit is ’n valse beeld van die kerk dat gelowiges nie sal swaarkry nie. Gewoonlik is die boodskap wat hiermee saamgaan om die werklikheid van swaarkry weg te praat dat mense wat swaarkry se geloof nie sterk genoeg is nie. Dit is egter ’n verkeerde idee van kerkwees wat uit die misplaasde voorspoed teologie na vore kom. Daardie foutiewe leer wat voorhou dat verlossing in hierdie wêreld gesetel is. Daar is geen sprake van sonde verlossing nie en God word inderdaad gebruik soos ’n gelukspakkie waar dit net gaan oor die materiële voordele wat God kan gee en nie oor God self nie. Die voorspoed teologie verkondig op die uiteinde maar net die groot leuen van die satan: “as ek net eers ’n miljoenêr is, dan sal ek gelukkig wees.”

Met hierdie brief leer die Here sy kerk dat dit nie net altyd voorspoedig sal gaan met sy kerk nie, inteendeel die Here sê inderdaad vir ons dat ons gaan swaarkry! Die lewe is nie altyd net lekker en goed nie. Ek is seker dat elkeen van ons dit uit ons lewenservaring sal kan bevestig. Hierdie brief aan die gelowiges in Smirna word ook gerig aan elkeen wat voel dat die wêreld buite beheer geraak het.

Reeds in die inleiding maak Christus dit baie duidelik dat Hy omgee vir sy kerk en dat hulle Hom na aan die hart lê. Hy stel Homself bekend soos ons hoor in Open 2:8:
So sê die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het
Christus is die begin en die einde en hiermee sê Hy vir ons dat Hy alles omvat. Daar is nie iets wat buite sy beheer is nie. Hy IS die begin en die einde! In Hom, deur Hom en uit Hom bestaan alle dinge. Verder sê Hy vir ons dat Hy alles deurgemaak het, selfs tot in die dood toe, maar dat die dood Hom nie kon vashou nie. Hy het die dood oorwin. Hiermee sê Christus dat niks buite sy beheer is nie. Maak nie saak wat die gelowiges in Smirna moet deurmaak nie, Christus het dit reeds gedoen.

Dan hoor ons van sy wonderlike vertroosting in Open 2 v 9:
Ek ken julle verdrukking en julle armoede, en tog is julle ryk. Ek weet ook van die kwaadstokery van die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar tot die sinagoge van die Satan behoort.
Christus wat alles in hierdie lewe beheer weet van hulle swaarkry. Die Griekse woord wat met ken en weet vertaal is kom net in die verlede tyd voor. Daarmee sê dit vir ons dat Christus van die begin af weet wat die omstandighede is en dat Hy absoluut verstaan.

Christus sê vir die gelowiges in Smirna: “Ek ken julle armoede”. In Grieks is daar twee woorde wat armoede aandui. Die een woord beskryf die gebrek aan sekere besittings terwyl die ander woord iemand beskryf wat absoluut niks het nie. Dit is hierdie laasgenoemde woord wat gebruik word om die armoede van die gelowiges in Smirna te beskryf. Ten spyte daarvan sê Christus egter ook “en tog is julle ryk!” Op die oog af gaan dit baie sleg met hierdie gelowiges, maar hulle het ’n skat wat groter is as enige materiële rykdom wat daar is, die verlossing in Jesus Christus.

Christus weet wat hulle omstandighede is en dat die Jode hulle onder verdenking plaas by die owerhede. Daarom die verwysing na die sinagoge van satan. Satan beteken ook “teenstander” en die Jode was groot teenstanders van die Christene. Hiermee troos die Here ons ook. Hy weet wat elkeen van ons se omstandighede is. Hy weet waarmee ons sukkel en wat maak ons bekommerd. Hy troos ons ook met die wete dat ons ’n geestelike skat het wat baie meer werd is as enige materiële rykdom wat daar is. Die Here sê hier vir ons dat ons nie moet val vir daardie leuen van die satan nie “as jy maar net ’n miljoenêr is, dan sal jy gelukkig wees”. Ware rykdom en geluk lê nie in aardse besittings nie.

Na hierdie vertroosting ten opsigte van dit wat die gelowiges alreeds deurgemaak het, bemoedig die Here hulle vir dit wat nog voorlê soos ons hoor in Open 2 v 10:
Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.
Hiermee sê die Here dat daar inderdaad swaar tye is wat voorlê, maar dat hulle nie daarvoor hoef bang te wees. Die Here gee twee redes waarom hulle nie bang hoef te wees, naamlik: Eerstens dat dit net ’n kort tydjie gaan duur. Die verwysing na tien dae se swaar kry dui daarop dat die lyding net ’n beperkte tyd sal duur. Verder verseker die Here hulle dat Hy diegene wat hulle volle vertroue op Hom stel deur die lyding sal dra.

Geliefdes, op wie vertrou ons wanneer dit swaar gaan in die lewe? As ons op Jesus Christus vertrou, geld hierdie belofte vir ons ook dat die swaarkry van hierdie lewe net vir ’n beperkte tyd sal duur en dat daar ’n einde aan sal kom. Verder verseker die Here ons ook dat ons nie alleen is nie, maar dat Hy ons daardeur dra.

Dan sluit die brief af met die wonderlike troos en hoop wat dit inhou vir diegene wat hoor en luister, dit wil sê ag slaan op wat die Here sê en wat inderdaad reageer op die boodskap van die Here. Elkeen wat sy verlossing in Jesus Christus soek en vind sal die lewe as oorwinningskroon ontvang. Dit verseker dat hulle nie deur die tweede dood, dit wil sê die ewige dood waar mens ewig van God en sy liefde geskei is en waar mens net die oordeel van God ervaar, getref sal word nie. Wat is die ergste wat met ons in hierdie lewe kan gebeur? Dat ons lewe van ons weggeneem word. Diegene wat in Jesus Christus glo kry die versekering dat selfs die fisiese dood nie die einde is nie, maar dat dit ’n heerlike deurgang is tot die volgende bedeling waar ons ewig saam met God sal lewe.

Geliefdes, moenie dat bekommernisse en lyding in hierdie lewe ons onder kry nie. Hou vas aan die heerlike wete dat Christus sy kerk dra deur tye van swaarkry.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking