11 Mar. 2012 (RB) 1 Kor. 15; Teksverse 1
Kor. 15 v 3 & 4
Sing
Lofsang: Ps. 84 v 1 & 2 (OAB)
Na
wet: Sb.
7-2 v 1 & 2 (Beryming uit Open 22)
Na
gebed Ps. 42 v 5 (OAB)
Slotsang Sb. 18-7 v 1 , 3 , 11 & 12 (Beryming uit
Open 21)
SONDAG 17
45 Vraag: Watter nut het die opstanding
van Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste het Hy deur sy opstanding
die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het,
deelagtig kon maak (a).
Ten tweede word
ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b).
Ten derde is die
opstanding van Christus vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige
opstanding (c).
(a) Rom. 4:25; 1 Pet 1:3;
1 Kor. 15:16. (b) Rom. 6:4; Kol 3:1, 5;
Ef. 2:5, 6. (c) 1 Kor. 15:20, 21.
Inleiding
Wat
beteken dit vir ons dat Christus opgestaan het? Ons hoor elke Sondag wanneer
die ds. die geloofsbelydenis lees”
Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die
Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.
Maak
hierdie belydenis enigsins ’n verskil in ons lewens?
Die
vraag by Sondag 17 van die Heidelbergse Kategismus is:
Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Dit
beteken doodeenvoudig: “Maak Christus se opstanding ’n verskil in my lewe?” In
1 Kor. 15 v 14 hoor ons wat die gevolge is as Christus nie opgestaan het nie:
En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking
sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.
As
Christus nie opgestaan het nie, dan is ons almal besig om vanmore ons tyd te
mors. Dan kan ons maar net sowel die kerkdeure toesluit en iets anders gaan
doen. Dan help dit nie dat ons Bybellees en bid nie. Dan het ek nou reeds 8
jaar van my lewe vermors om te gaan studeer en predikant te word. As Christus
nie opgestaan het nie, dan was al die tyd en moeite wat julle as kerk van die
Here daaraan bestee het tevergeefs!
Die
Christendom staan of val by die opstanding van Jesus Christus. In 1 Kor. 15 v
17 tot 19 hoor ons:
as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof
waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook dié wat in
Christus gesterf het, verlore. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus
vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.
Jesus
Christus se opstanding is een van die kern aspekte van ons geloofslewe en
daarom MOET dit ’n verskil in ons lewens maak. In 1 Kor. 15 v 20 hoor hoe
Paulus triomfantlik uitroep:
Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as
eersteling uit dié wat gesterf het.
Omdat
die Here dit vir ons in sy lewende Woord sê, weet ons dat Christus se
opstanding ’n verskil in ons lewens KAN maak!
Watter
verskil maak Jesus Christus se opstanding in my lewe? Daar is drie areas wat my
hele lewe omvat, naamlik die lewe wat agter my lê (my verlede), die lewe
vorentoe (die toekoms hier op aarde) en dit wat na die dood vir my voorlê. In
Kort kan ons sê: “Jesus se opstanding beteken dat ons waarlik léwe, nou en in
die toekoms!”
Die
eerste groot voordeel wat Christus se opstanding inhou is:
My
verlede het nie meer ’n houvas op my nie!
Die
mens is ’n slaaf van sy verlede. Dit wat in my verlede gebeur het is dikwels
die tronk wat my vashou en keer dat ek die wonderlike geleenthede wat voor my
lê kan aangryp. Elke verkeerde ding wat ek in die verlede gedoen het en elke
verkeerde ding wat met my gebeur het, is soos slawekettings wat my vasbind en
vashou. Dit bind my vas aan alles wat sleg en verkeerd is in hierdie lewe. Dit
bind my vas aan my sondige natuur sodat ek nie daarvan kan loskom nie.
In
Gal v 19 hoor ons ’n paar voorbeelde van so ’n sondige natuur:
Die praktyke van die sondige natuur is algemeen
bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery,
vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns,
dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge.
My
sondige verlede keer dat ek loskom van verkeerde begeertes wat dan aanleiding
gee tot onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid.
My
sondige verlede gee aanleiding tot afgodsdiens en towery, dit wil sê ek vertrou
op iets of iemand anders as die lewende God om my deur die lewe te help. Ek
vind dit onmoontlik om by God troos te vind en ek probeer maar self regkom met
die gevolg dat ek in absolute moedeloosheid verval elke slag as daar iets in my
lewe gebeur wat nie goed is nie. Ek kry nie reg om die mense in my verlede te
vergewe nie en daarom is vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid,
skeuring en afguns deel van my lewe.
My
sondige verlede bind my vas aan dronkenskap en uitspattigheid. Dit maak dat
mense hulle dronk drink om byvoorbeeld ’n geleentheid te vier. Dit maak dat
kinders aand vir aand in kuierplekke rondhang sodra hulle onder hul ouers se
toesig uit is.
Jesus
se opstanding maak ons los van hierdie sondes wat keer dat ons werklik die lewe
leef wat God vir ons beplan het. In 1 Kor. 15 v 22 sê die Here vir ons:
Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam
sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.
Daarom
bely ons ook:
Die Here het deur sy opstanding die dood oorwin sodat
Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak
Dit
beteken eenvoudig die sonde in ons verlede geen houvas op ons het nie en dat
ons nie meer voor God skuldig staan daaroor nie omdat Christus met sy
opstanding die dood oorwin het en daarmee het Hy die straf vir die sonde (die
dood) ten volle betaal.
Die
eerste ding wat Christus se opstanding in my lewe verander is dat my sondige
verlede nie meer ’n houvas het op my nie. Die twee voordeel wat sy opstanding
inhou is:
Ek
kan nou die lewe leef wat God vir my beplan het.
In
1 Pet 1v3 hoor ons
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom
al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur
die opstanding van Jesus Christus uit die dood.
Die
tweede groot verandering wat Christus se opstanding in my lewe teweeg bring is
dat ek nou ’n nuwe lewe het. Daarom is onsedelikheid, onreinheid,
losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies,
verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap en uitspattigheid nie meer deel van
my lewe nie.
In
die plek van hierdie sondige lewe waaraan ek verslaaf was het ek nou ’n nuwe
lewe en daarom is die vrug van die Gees ook deel van my lewe. In Gal 5 v 22
hoor wat die vrug van die Gees is:
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde,
vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid
en selfbeheersing.
My
lewe word deur vreugde en vrede gekenmerk. Ek is dankbaar teenoor die Here
wanneer dit goed gaan met my. Ek beleef die Here se seën in die groot en klein
dinge in my lewe. Wanneer ek byvoorbeeld in die oggend wakker word is ek
dankbaar teenoor die Here dat ek nog ’n dag het om te lewe. Wanneer die
beproewings in die lewe soos siekte en al die ander moeilikhede wat ons in die lewe
ervaar oor my pad kom, dan is ek geduldig en blymoedig omdat ek weet dat die
Here my nie in die swaarkry dae verlaat nie. Inteendeel ek ervaar hoe die Here
my deur die swaarkry dae dra.
My
lewe word gekenmerk deur vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,
nederigheid en selfbeheersing. Ek dra nie wrokke en bitterheid in my rond nie
en ek kry reg om na die Here te luister wanneer Hy in Kol 3 v 13 vir my sê:
Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die
een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar
ook vergewe.
In
kort vind ek dit al hoe makliker om die Here se liefdesopdrag in sy wet na te
kom. Wanneer ek struikel en val dan vind ek vergifnis en verlossing by Jesus en
sy opstanding.
Die
tweede verandering wat Jesus se opstanding in ons lewens teweeg bring is dat
ons nou die lewe kan leef wat God vir ons beplan het en daarom bely ons ook dat
ons nou deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek.
Die
derde voordeel wat Jesus se opstanding vir ons inhou is:
Ons
het ’n lewende hoop waaraan ons vashou
Daar
is een ding in die lewe waarvan ons seker is, naamlik dat elkeen van ons een of
ander tyd gaan doodgaan. Vir baie mense is daar egter saam met hierdie
sekerheid ook ’n groot onsekerheid omdat hulle nie weet wat gaan van hulle word
nie. Christene wat met geloof vashou aan Christus se opstanding het nie
laasgenoemde onsekerheid nie omdat ons ’n vaste hoop het waaraan ons vashou. In
1 Kor. 15 v 53 & 54 hoor ons:
Hierdie verganklike liggaam moet met die
onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike. En
wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie
sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan,
vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”
Ons
hoef nie meer bang te wees vir die dood nie omdat ons ’n lewende hoop het. Vir
die Christen wat met geloof vashou aan Jesus se opstanding is die dood nie die
einde nie, maar slegs ’n heerlike deurgang na die volgende bedeling waar ons
ewig saam met God sal wees, verlos van die elende en hartseer van hierdie
wêreld. Daarom bely ons ook dat die opstanding van Christus vir ons ’n
betroubare waarborg van ons salige opstanding is.
Slot
Die
opstanding van Christus is die belangrikste aspek van ons geloofslewe wat ons
lewens drasties verander. In die eerste plek beteken dit dat my verlede
nie meer ’n houvas op my het nie. In die tweede plek beteken dit dat ek
nou hiervandaan vorentoe die lewe kan leef wat God vir my beplan het. In die derde
plek beteken dit dat ons ’n lewende hoop het om ewig saam met God te wees
sonder hartseer, dood of pyn.
As
hierdie lewensverandering nog nie deel is van u lewe is nie, kom na Jesus
Christus toe en neem sy uitnodiging aan wat Hy in Mat 11 v 28 aan ons rig:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is,
en Ek sal julle rus gee.
Hou
in die geloof wat die Heilige Gees vir ons gee vas aan die verlossing wat Jesus
met sy kruisiging en opstanding aan ons gegee het en ervaar die nuwe lewe wat
Christus vir ons gee, want Jesus se
opstanding beteken
dat ons waarlik léwe, nou en in die toekoms!
dat ons waarlik léwe, nou en in die toekoms!
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking