27 Maart 2012

Jesus se laaste week op aarde


JESUS AS MENS : SY LAASTE WEEK OP AARDE

‘n Bybellees program vir stiltetyd of huisgodsdiens met die aanloop tot Paasfees  (opgestel deur ds. Joepie Marais NG Kerk Reddersburg wat hy goedgunstelik met ons deel)

  
·         Ons gaan die Here Jesus dag vir dag volg as die Man van Smarte
·         Ek alleen/ons as gesin gaan met diepe respek en deernis Sy lyding, pyn, smart, spot  en haat met ’n hart wat diep geraak is, volg.
·         By elke dag is daar  LESSE.  Dink daaroor, praat met mekaar  en bid daaroor.


1.      Die Sondag ’n Palmtak voor Sy voet -  Mat. 21:8, Joh.12:13
Lees -  Mat. 21:1-11, Luk.19:28-44 en Sagaria   9:9 en 10
Lesse:  Die skare se “prys Hom” (Hosanna) was oppervlakkig.  Hulle wou ‘n politieke bevryder hê.  Jesus hoor daarin reeds “Kruisig Hom”.  Is my hart skoon van enige bybedoeling as volgeling van Jesus?
Die les van die eseltjie:  “Die Here het hom nodig” – my gawes, my besittings, ook vir mý. Oordink die les van kanse (tyd) wat God ons gee.  Tyd wat verbygaan (Luk. 19:44)


2.      Die Maandag ’n Sweep in Sy hand – Joh. 2:15
Lees - Mat. 21:12-17, Joh. 2:13-21 en Psalm 69:10
Lesse:  Jesus se ywer vir die Kerk spreek ons aan.  Die sweep is simbolies:  verwyder alles uit die Kerk wat om die eiegewin van mense gaan en die dieper les: later sal die sweep van God Hom tref – in ons plek om ons harte te suiwer van enige bybedoelings.  Die les van kinderstemme wat spontaan Jesus eer.  Kinders is vir Jesus baie belangrik! Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie. (Mar 10:15)


3.      Die Dinsdag’n Koringkorrel moet sterwe - Joh. 12:24
Lees - Joh. 12:20-36 (een van die diepsinnigste gedeeltes in die Bybel)
Lesse:  Die Grieke se besoek:  hulle wou Jesus net bewonder.  Vir hulle was die kruis dwaasheid (1 Kor.1:23).  Waarskuwing:  ’n Godsdiens sonder die Kruis is van geen waarde! Daarom antwoord Jesus hulle so. Onthou Jesus kies die kruis doelbewus, daarom moet ons onsself verloën, ons kruis opneem en Hom volg (Mar. 8:34). Oordink die les van die koringkorrel. Maak Joh.12:24 jou lewenskeuse.

4.      Die Woensdag’n Albasterfles wat gebreek is -  Mark. 14:4
Lees - Markus 14:1-9, Mat. 26:1-13
Lesse:  Simon, die melaatse, gebruik die maaltyd by sy huis as ’n dankie-sê-geleentheid vir wat Jesus vir hom gedoen het.  En ons?  Kom ons gebruik ons geleenthede.  Dieselfde les leer ons by Maria:  net die beste is goed genoeg vir Hom!  Kom ons praat en bid oor die gehalte van ons toewyding aan Jesus.


5.      Die Donderdag’n Verraderlike soen -  Mat. 26:48
Lees - Markus 14:10-50 (lees gerus die hele hoofstuk).  Markus 14:44 en 45
Lesse:  Neem verse 17 – 19 vir diepe selfondersoek.  Ek sal Hom mos nooit kan verraai nie! Of sal ek Hom in die steek kan laat soos Petrus na alles wat Hy vir mý gedoen het?  “Wee die man   .” (vers 21).  Moenie soos Petrus te selfversekerd wees nie.  Oordink die diep Getsemane-gebeure en bid daaroor.


6.      Die Vrydag ’n Kruis op ’n heuwel -  Joh.19:17
Lees - Joh.19:1-37
Lesse:  Lees die Goeie Vrydag gebeure met ’n hart wat stil, gesuiwer, verbaas, diep geraak en verbind is.

Oordink die Kruiswoorde:     Vader vergeef hulle  - Luk, 23:34
Daar is u seun - Joh. 19:26 en 27
Vandag sal jy saam met My … - Luk. 23:43
My God, my God  Mark.- 15:34
Ek is dors – Joh. 19:28
Dit is volbring – Joh. 19:30
Vader in U hande – Luk. 23:46


7.      Die Saterdag’n Graf in ’n tuin -  Mat. 27:59
Lees -  Mat. 27:57-66 en Joh. 19:38-42
Lesse:  Lees in hierdie somber verhaal die les van verlies:  die grootste verlies is om Jesus te verloor.  Dank die Here dat jy Hom nooit sal verloor nie omdat Hy klaar in ons plek die straf vir die sonde, die dood, gestraf is. Josef en Nikodemus:  Mens kan nie ’n geheime dissipel van Jesus bly nie.  Veral nie as jy by Sy Kruis was nie! 

“Here help my om U altyd openlik te bely!”

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking