08 April 2012

Die HERE gee in die oorvloed van sy troue verbondsliefde vir ons skuiling teen storms van die lewe


25 Mar. 2012 (RB) Ps. 5 ; Teksverse Ps. 5 v 8 & 9

Sing    Lofsang: Ps. 34 v 1 , 2 & 5          (OAB)
           Na wet:    Ps. 119 v 1                    (OAB)
           Na gebed Ps. 86  v 3                    (OAB)
           Slotsang  Ps. 31 v 1 & 17             (OAB)

Inleiding

Soms dop die lewe ons om. Dinge gebeur waaroor ons geen beheer het en dit voel of ons maar net meegesleur word. Die ergste is daardie gevoel dat ons niks daaraan kan doen nie. Dit is wanneer mens moedeloos word en nie weet watter kant toe nie. Elkeen van ons weet maar alte goed watter dinge in die lewe ons moedeloos maak. Dit is daardie dinge wat dit vir ’n mens laat voel of ons in ʼn hoek gedruk word waaruit ons maar net nie self kan uitkom nie.

Geliefdes: Wat doen mens wanneer dit vir jou voel of die lewe sy rug op jou gedraai het en jy weet nie watter kant toe nie?

In Psalm 5 sien ons dat Dawid ook so benoud gevoel het. Ons leer egter in Ps. 5 dat Dawid gevind het dat die enigste antwoord by God lê. Die HERE sê vir ons in Ps. 5 dat Hy in die oorvloed van sy troue verbondsliefde vir ons skuiling gee teen storms van die lewe.

Met Ps. 5 antwoord God drie belangrike vrae in ons lewens:
F    Waar kry ek antwoorde op my lewenskrisse?
F    Waar kry ek geloofsekerheid?
F    Hoe verander my geloofsvertroue my lewe?

Waar kry ek antwoorde op my lewenskrisse?

In ons teks sien ons dat Dawid in ʼn worstelstryd betrokke was waar sy vyande leuens oor hom versprei het. Uit die Psalm weet ons egter nie wat die omstandighede was wat aanleiding gegee het dat Dawid hierdie Psalm geskryf het nie. Dit is wel in die Psalm baie duidelik dat dit meer was as wat hy as mens kon hanteer.

Dit sien ons duidelik in die intensiteit van sy gebed. In verse 2 en 3 bid hy:
“Luister tog na my woorde, Here, hoor hoe ek sug. Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek.”
Dawid is benoud en sy gebed raak al hoe intenser hoe verder hy gaan. HERE hoor my gebed! Verstaan my probleem, HERE help my! Hoor u Dawid se benoudheid geliefdes? Deur die eeue heen het gelowiges vertroosting gevind in die Psalms. In die Psalms praat die Psalmdigters met God. Hulle stort hulle diepste emosies teenoor God uit. Hulle prys God en besing sy lof in die Psalms, maar hulle lê ook hul diepste wroegings voor God neer. In die Psalms leer God ons ook dat ons met ons vreugdes en lewenskrisse na Hom toe moet kom. As jy nie weet wat om te bid nie, haal dan die Psalms aan in jou gebede en weet dat die Heilige Gees jou daardeur help bid want die Psalms is ook die geïnspireerde Woord van God. As jy werklik benoud is en nie weet watter kant toe nie, bid maar gerus :
        “Luister tog na my woorde, Here,
        hoor hoe ek sug. Gee tog aandag aan my hulpgeroep,
        my Koning en my God,
        want tot U bid ek.”

Waar kry ek antwoorde op my lewenskrisse? Ek kry alleen by God antwoorde wanneer ek in gebed tot Hom nader. Wanneer ek in ’n worstelstryd is het ek geloofsekerheid nodig sodat ek op God kan vertrou om my te help in krisistye.

Waar kry ek geloofsvertroue?

Ps. 5 toon die Heilige Gees vir ons baie duidelik aan wat die oorsprong van ’n mens se geloofsekerheid is. In ons teksvers hoor ons hoe Dawid in vertroue tot God nader. Waar kom hierdie vertroue vandaan? Verse 5 tot 8 maak dit duidelik waar dit vandaan kom.

Dawid sê in sy gebed dat God hoogmoediges en leuenaars uitroei en dat Hy moordenaars en bedrieërs verafsku.
“U is nie ’n God wat onreg verdra nie,
die kwaad het by U geen  plek nie.
 Hooghartiges durf nie voor U kom nie.
U haat almal wat onreg doen,
U roei alle leuenaars uit.
Die Here verafsku moordenaars en bedrieërs.”
Sulke mense het geen reg om tot God te nader nie! Tog sê Dawid in vers 8 dat hy tot die HERE mag nader en in sy teenwoordigheid Hom mag aanbid. Bedoel Dawid hiermee dat hy beter is as die mense wat hy in verse 5 tot 7 genoem het?

Nee geliefdes! Dit is dieselfde Dawid wat as gevolg van sy owerspel met Batseba moord gepleeg het. Dawid roem nie hier op sy goeie hoedanighede nie. Hy probeer God nie tevrede stel met sy vroom lewe nie. Dawid sê nie hier: “Ek is beter as daardie slegte mense en daarom is ek vir God aanvaarbaar terwyl hulle nie is nie.” Kom ons luister weer mooi na wat hy sê:
        “Maar ek, ek mag deur u groot liefde in u huis ingaan
        en in u heilige tempel buig met die eerbied
        wat aan U verskuldig is.”
Die Hebreeuse woord wat met groot liefde vertaal is, kan ook vertaal word met troue verbondsliefde.

Die grondrede van Dawid se geloofsekerheid lê dus nie in sy eie pogings om God te probeer tevrede stel nie, maar wel in God se troue verbondsliefde wat Hy teenoor sondaars bewys. God se verbondsliefde verwys na sy verbond wat Hy in die eerste plek met Abraham opgestel het en wat Hy met Abraham se nageslag herbevestig het, ook met Dawid. Die verbond kom volledig van God af waarin Hy belowe om ’n God te wees vir sy volk en Hy van hulle verwag om sy volk te wees. In die verbond bevestig God sy liefde vir sy volk en Hy gee daardie liefde sonder dat Hy verplig is om dit te doen.

God se verbond is ook weer in die Nuwe Testament in Christus met ons as Abraham se geestelike nageslag herbevestig. Op grond van hierdie verbond gee God sy liefde aan die ons. Die inisiatief vir die verbond het immers van God af gekom op grond van sy liefde vir ons. Dit is op hierdie verbondsliefde wat Dawid hom beroep.

God vertel vir ons in die Nuwe Testament hoe groot hierdie liefde van Hom werklik is. In 1 Johannes 4:9-10 sê die HERE vir ons baie duidelik presies wat God se liefde behels:
        “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar,
        dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het,
        sodat ons deur Hom kan lewe.
        Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie,
        maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het
        as ’n versoening vir ons sondes.”

U sien dus geliefdes, ons geloofsekerheid is gevestig in God se troue verbondsliefde. God het ons so lief dat Hy sy Seun gestuur het as versoening vir al ons sondes. Uit ons eie sal ons nooit goed genoeg wees vir God nie, maar in Christus staan ons vlekkeloos voor God. Ons hoef niks te doen om vir God aanvaarbaar te wees nie. Christus het alles reeds klaar vir ons gedoen!

God se troue verbondsliefde in Jesus Christus is die fondament waarop my geloofsvertroue gebou word.

Hoe verander my geloofsvertroue my lewe?
In vers 9 bid Dawid dat die HERE hom moet leer wat reg is en dat die HERE hom moet help om sy wil te doen. Letterlik staan daar soos die 33/53 vertaling dit ook vertaal:
“Here, lei my in u geregtigheid om my vyande ontwil;
        maak u weg voor my reg.”

Wanneer Dawid die HERE vra om hom te lei in sy geregtigheid, dan vra hy vir die HERE om hom te lei om die sonde te vermy en om die wil van die HERE te doen. Christus som dit soos volg in Mat 22:37 op:
“‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele  siel’ en met jou hele verstand..
In wese vra Dawid dus vir die HERE om hom te help om die HERE ten volle te vertrou en volmaak lief te hê.

In die tweede plek vra Dawid vir die HERE:
        “maak u weg voor my reg”
Wat Dawid hier vir die HERE vra is dat die HERE sy pad wat Hy vir Dawid uitgelê het moet reguit maak. Dawid vra dus hier dat die Here hom moet help om die pad te loop wat die Here vir hom uitgelê het. Om dit van die Here te bid vra geloofsvertroue en geloofsvertroue vind ons slegs in God se troue verbondsliefde wat Hy ten volle in Jesus Christus aan ons bewys het. Geloofsvertroue maak dat ek by God vrede vind, selfs wanneer alles in my lewe skeefloop. Deur God se krag kan ons die pad loop wat Hy vir ons uitgelê het.

Hoe verander geloofsvertroue my lewe? Met geloofsvertroue kan ek die pad loop wat God vir my uitgelê het. Geloofsvertroue gee vir my moed om selfs die moeilikste lewensomstandighede aan te pak want ek weet dat God my daardeur sal dra.

Slot
Geliefdes,
·        wanneer alles in die lewe skeef loop,
·        wanneer dit vir voel of daar geen einde aan al die moeilikhede gaan wees nie,
·        wanneer dit vir my voel of die lewe soos ʼn tsunami oor my spoel en ek net meer kan asemhaal nie, moet Ons weet: 

Ons kry antwoorde op ons lewenskrisse wanneer ons in gebed tot God nader. Die geloofsvertroue wat ons daarvoor nodig het is in God se troue verbondsliefde geanker. God bewys sy troue verbondsliefde aan ons in Jesus Christus wat vir ons sondes aan die kruis gesterf het en wat deur sy oorwinning oor die dood aan ons ’n nuwe lewe saam met God gee. Die wonderlike genade van God is dat geloofsvertroue vir my moed gee sodat ek kans sien vir die moeilikste lewensomstandighede omdat ek weet dat God my daardeur sal dra.

Wanneer die lewe te veel word weet dan dat Hy in die oorvloed van sy troue verbondsliefde vir ons skuiling gee teen storms van die lewe.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking