08 April 2012

Met sewe kruiswoorde sê Jesus vir ons hoe lief Hy ons werklik het


07 Apr. 2012 (RB)
Skriflesing: Luk. 23:13 – 43 ; Joh. 19:17-35 ; Mat. 27:45 – 46
Teksverse: Luk. 23;34, 43, 46; Joh. 19: 26-28, 30; Mat 27:46

Sing    Lofsang:   Ps. 116 v 8 - 10            (OAB)
           Na wet:      Ps. 130 v 2 & 4             (OAB)
           Na gebed  Sb. 18-6 v 1 , 3 & 5      (OAB)
           Slotsang   Ps. 31 v 3 , 4 & 12        (OAB)
Inleiding
Wat beteken Paasfees werklik vir ons? Volgens die winkeladvertensies lyk dit of Paasfees gaan oor sjokolade paashase en sjokolade eiers. Die haas en die eier is oeroue simbole van vrugbaarheid, want die tydperk waarin ons Paasfees vier, is in die noordelike halfrond vroeë lente, ’n tydperk van nuwe lewe. Vir Christene is dit egter nie waaroor Paasfees gaan nie. Christene herdenk met Paasfees die kruisiging en opstanding van Jesus Christus 2000 jaar gelede wat plaasgevind het in die tyd wat Joodse Paasfees gevier is.

Wat is die werklike betekenis van Jesus se kruisiging en opstanding vir ons? Hierdie betekenis kom duidelik na vore uit die sewe kruiswoorde wat Jesus aan die kruis uitgespreek het. Met sewe kruiswoorde sê Jesus vir ons hoe lief Hy ons werklik het en daarom gaan ons vanoggend stilstaan by die sewe kruiswoorde. Sewe is die volheidsgetal van God en met sewe kruiswoorde hoor ons die volle omvang van Jesus se liefde vir ons.

In die eerste kruiswoord bid Jesus vir sy vyande.
Luk. 23 v 34 : “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Wie is Jesus se vyande? Die maklike antwoord is hulle wat Hom gekruisig het. Hulle wat saam geskree het “kruisig Hom!” Daarmee wys ons gerieflik die vinger weg van onsself af. Die korrekte antwoord is dat alle mense as gevolg van sonde vyande van God is. Die ongemaklike antwoord is dat ek Jesus se vyand is en daarmee wys die vinger direk terug na my toe! Die troos wat ons in hierdie bede van Jesus vind is dat Hy ook vir my aan die kruis gesterf het soos ons ook hoor in Rom. 5 v 8:
Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Hierin sien ons hoe ware liefde van God haat oorwin. Die verantwoordelikheid wat hieruit voortspruit is dat ek ook my vyande moet vergewe soos wat God my vergewe. Is ek bereid om God se liefde in my lewe te laat werk of leef ek nog in vyandskap met God en my naaste?

In die tweede kruiswoord sien ons Jesus se liefde in die verlossing wat Hy aan boetvaardige mense skenk.
Saam met Jesus het is daar twee misdadigers gekruisig. Een van hulle het die vertroostende woorde van Luk. 23 v 34 gehoor:
“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Waarom het net een hierdie troos gehoor? Slegs een het besef hoe verlore hy in sy sonde is terwyl die ander een Christus gespot het en ander vir sy sonde blameer het. Die een wat gered is het in diepe ootmoed by Jesus gesmeek soos ons hoor in Luk. 23 v 42: “dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

Volhard ek nog in my sonde waar ek alles en almal blameer of het ek al tot die diepe besef van my verlorenheid gekom sodat ek by Jesus verlossing kan soek? Die troos wat ons in die tweede kruiswoord ontvang is Jesus se liefde vir verlore sondaars wat by Hom verlossing vind.

In die derde kruiswoord hoor ons die ware vertroosting van Jesus se liefde vir diegene wat naby Hom is.
Joh. 19v26-27: “Daar is u seun ........ daar is jou moeder”
In Jesus se diepe nood dink Hy nie aan homself nie, maar sien Hy steeds die pyn en lyding van hulle wat vir Hom dierbaar is raak. Met hierdie kruisgebeure het die profesie van Simeon aan Jesus se moeder waar geword:
En wat jou betref, ’n swaard sal deur jou siel gaan
In hierdie derde kruiswoord sien ons Jesus se liefde raak in sy omgee vir die pyn en lyding van elkeen wat naby Hom is. Sy liefde bied ware vertroosting omdat Hy empatie het met die seer wat ons in hierdie wêreld ly.

Die troos wat ons hierin vind is dat Jesus ook vir ons omgee en dat ons met vertroue na Hom toe kan gaan vir troos wanneer ons pyn en lyding ervaar. Net soos wat Johannes vir Maria in sy huis geneem het, sal ons hemelse Vader al sy kinders in sy huis opneem waar Jesus vir hulle plek voorberei het.

Na hierdie derde kruiswoord was daar drie uur duisternis. Voor die duisternis rig Jesus Hom tot die mense. Na die duisternis rig Hy Homself tot sy lyde in die vierde en vyfde kruiswoorde. Die duisternis dui ook vir ons die dieptepunt van Jesus se lyding aan.

In die vierde kruiswoord hoor ons Jesus se uitroep van Godverlatenheid.
Mat. 27v46:  “My God, my God, waarom het U My verlaat?”
Deur die eeue heen hoor ons hoe mense kerm van Godverlatenheid. Daar was egter net een geval in die geskiedenis waar God werklik sy rug op iemand gedraai, toe Hy Homself van Jesus ontrek het. Dit is wat die ware hel is, naamlik om totaal deur God verlaat te word. Daardeur het Jesus die volle straf gedra van die uitverkorenes.

Die troos wat ons in die vierde kruiswoord ontvang is dat Jesus uit liefde Godverlatenheid ervaar het sodat ons nooit hoef uit te roep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” In ons swaarste aanvegtinge kan ons verseker weet dat God ons nooit alleen laat nie. Hy is daar en daarom kan ons met vertroue by hom hulp en skuiling soek wanneer die lewe moeilik raak en kan ons vashou aan sy belofte wat Hy in Rom. 8 v 38 – 39 vir ons gee:
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Met die vierde kruiswoord hoor ons Jesus se liefde in sy geestelike lyde wat Hy in ons plek gedra het.

In die vyfde kruiswoord hoor ons van Jesus se liggaamlike lyde.
Joh. 19v28 “Ek is dors.”  Jesus het na liggaam en siel gely en daarmee bewys Hy sy liefde vir ons deurdat Hy ons liggaamlik en geestelik verlos. Hiermee kry ons die troos dat ons by Jesus die lewende water kan kry wat vir ons ’n lafenis vir ons lyding en droefheid hier op aarde. Die troos is ook verder dat Jesus ons daarmee verseker dat die lyding hier op aarde van verbygaande aard is. Ons sien daarna uit om na hierdie lewe vir ewig by God te wees waar daar geen hartseer pyn of lyding sal wees nie en dat God self al ons trane sal afdroog. Ons kan nou reeds troos by God vind met die sekere wete dat “die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” soos hy ons belowe in Rom. 8 v18. Gaan soek ons, ons troos by die Here of verval ons nog steeds in ’n troostelose moedeloosheid wanneer die lewe ons omdop?

Die vierde en vyfde kruiswoorde was uitroepe van smart en daarmee troos Jesus se liefde ons omdat Hy bereid was om in ons plek die smart te dra. Die sesde en sewende kruiswoorde is uitroepe van oorwinning.

In die sesde kruiswoord hoor ons hoe Jesus se liefde vir ons ’n nuwe begin in die lewe gee.
Joh. 19 v 30: “Dit is volbring!” Hiermee sê Jesus vir ons dat sy werk as slaaf voltooi is en dat sy werk as Koning begin. Hy het die oorwinning behaal deur volledig vir ons sondes te betaal. Dit is dan ook ’n draaipunt in die wêreldgeskiedenis. Die mag van die sonde is gebreek. Sonde het nie meer ’n houvas op ons nie. Ons het nou ’n nuwe lewe saam met God.

In die sesde kruiswoord hoor ons hoe Jesus se liefde die troos op ons lewensweg is. Al dreig my lewe om sy doel te mis en doelloos te wees is daar vir my die hoop van ’n nuwe begin saam met God. Vir elkeen wat die sesde kruiswoord ter harte neem is daar die hoop dat my lewe sinvols sal wees en dat ek my lewensdoel saam met God sal bereik.

Met die sewende kruiswoord sê Jesus vir ons dat Hy nou ’n nuwe betekenis aan die dood gee.
Luk. 23v46. “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” Met sy lewe het Jesus vir ons gewys hoe om te leef. Nou wys Hy vir ons hoe om te sterf. Een ding in die lewe is seker, naamlik dat ons gaan sterf. Dit wat agter die dood lê bly vir ons ’n onsekerheid. Hier wys Jesus vir ons dat ons, ons nou ook in die dood veilig in die Vader se hande kan toevertrou omdat die dood nie meer ’n straf is nie.

Vir die ongelowige is die dood ’n absolute hopeloosheid en ’n einde aan alles. Vir die gelowige is die dood egter slegs ’n deurgang na ’n volgende bedeling waar ons ewig saam met God sal wees. Omdat Jesus in ons plek die straf vir die sonde gedra het hoef ons nie God se woede in die dood te vrees nie en daarom kan ons vertrou dat God ons veilig sal bewaar. Die troos wat ons hierdeur ontvang is die wete dat ek nou in ’n toestand van onsekere donkerte ingaan waar ek myself nie kan beskerm nie. Daarom vertrou myself aan God se troue Vaderlike sorg toe. Ek vertrou dat U my in die nuwe dag sal wakker maak.

Daarom is die dood vir die gelowige nie die einde nie, maar ’n deurgang tot die nuwe dag van heerlikheid saam met God.

Samevatting
Die ware betekenis van Jesus se kruisdood en opstanding kom duidelik na vore uit die sewe kruiswoorde wat Jesus aan die kruis uitgespreek het. Met die sewe kruiswoorde sê Jesus vir ons hoe lief Hy ons werklik het In die eerste kruiswoord bid Jesus vir sy vyande en daarin sien ons hoe God se liefde ons haat oorwin. In die tweede kruiswoord hoor ons van Jesus se liefde vir verlore sondaars wat by Hom verlossing vind. In die derde kruiswoord hoor ons van Jesus se liefde wat ware vertroosting bied omdat Hy empatie het met die seer wat ons in hierdie wêreld ly.

In die vierde en vyfde kruiswoorde hoor ons van Jesus se lyde. Hy het geestelik en liggaamlik gely. Met die vierde kruiswoord hoor ons van sy Godverlatenheid sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie. In die vyfde kruiswoord hoor ons dat niks ons van sy liefde kan skei nie en dat ons uitsien na ’n bedeling waar daar geen lyding meer sal wees nie. Die sesde en sewende kruiswoorde is uitroepe van oorwinning. Met die sesde kruiswoord hoor ons dat daar ’n nuwe begin is vir elkeen wat deur sonde ontspoor is. In die sewende kruiswoord hoor ons dat die dood vir die gelowige nie die einde is nie, maar ’n deurgang tot die nuwe dag van heerlikheid saam met God.

Kom ons vind ons verlossing en vertroosting in die liefde van Jesus wat Hy aan die kruis vir ons gewys het en nie in die oppervlakkigheid van hierdie wêreld nie.
Amen

3 opmerkings:

  1. Baie dankie vir so baie om oor te dink!

    AntwoordVee uit
  2. Here ek se dankie vir u liefde. God se liefde is wonderbaar vir my .Daar is niemand soos die Here nie.

    AntwoordVee uit
  3. wat n ware vriend is my Jesus,Sy liefde is tot in ewigheid.

    AntwoordVee uit