25 Januarie 2026

Op die pad van geloofsgroei

Lees:

Inleiding

Wat verwag die HERE van ons? Dit is ’n vraag waarmee ons as gelowiges dikwels stoei. Wat wil die HERE hê dat ons moet doen? Verwag Hy dat ek gereeld kerk toe moet kom? Verwag Hy dat ek ten minste 2 ure per dag Bybellees? Verwag Hy dat ek dat ek ten minste 3 ure per dag moet bid? Hierby kan ons nog ’n hele string moets en moenies byvoeg? Wat verwag die HERE van ons?

Ons kan op hierdie vraag baie maklik allerlei menslike voorskrifte voorhou, maar dan maak ons maar net soos die Fariseërs van ouds. Dit is inderdaad ook dikwels wat gebeur. Ons moenie dink dat die Fariseërs net in Jesus se tyd bestaan het nie. Hulle is nou nog steeds by ons teenwoordig. Ons hoef nie baie ver te gaan soek nie geliefdes. Ek hoef nie eers na die persoon langs my te kyk nie, want ek vind die Fariseër sommer hier in my eie hart. Ek is dikwels die persoon wat allerlei menslike voorskrifte aan die HERE se wil koppel.

Ons hoef egter nie baie te wonder oor wat die HERE van ons verwag nie, want Hy sê dit baie duidelik in sy Woord vir ons. Hier in Deut. 10 sê die HERE vir Israel wat Hy van hulle verwag wanneer hulle die beloofde land binnegaan. In Gen 12 v 3 & 4 hoor ons dat die HERE aan Abraham belowe het dat hy ’n groot nageslag gaan hê en dat hulle ’n land gaan kry om in te woon.

Dit is nou ongeveer 430 jaar later waar die nageslag van Abraham op die punt staan om die beloofde land binne te gaan. Israel is verlos van die slawerny in Egipte en nou nadat hulle 40 jaar in die woestyn rondgetrek het, staan hulle gereed om die beloofde land binne te gaan. Hulle is tans aan die oostekant van die Jordaanrivier. Aan die westekant tussen die Jordaanrivier en die Middellandse see lê Kanaän, die beloofde land. Moses is besig om die volk voor te berei oor hoe hulle moet leef wanneer hulle in die beloofde land woon. Hier in Deut. 10v12 & 13 vind ons ’n samevatting van wat die HERE van Israel verwag. In hierdie samevatting sê die HERE ook vir ons wat Hy van ons verwag.

12“En nou, Israel, die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer , sy wil moet gehoorsaam , Hom moet liefhê en dien met hart en siel. 13Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte wat die Here jou vandag deur my gee. Dit sal tot jou voordeel wees.

Hier sê die HERE vir ons:

    i.        Wat Hy van ons verwag

   ii.        Hoe ons dit moet doen en

 iii.        Hoekom die HERE dit van ons verwag.

Wat verwag die HERE van ons?

Die HERE verwag van ons dat ons Hom moet eer en dat ons Hom moet liefhê en dien met hart en siel. In die Ou Vertaling is die woord wat in die Nuwe vertaling met eer vertaal is met vrees vertaal. Dit beteken egter nie dat ons vir die HERE moet bang wees nie. Ons praat dikwels in die kerk daarvan dat ons die HERE moet vrees en dit kan maklik misverstaan word omdat die betekenis van vrees in Afrikaans verander het van eerbied na bang wees.

Die betekenis van die Hebreeuse woord dui daarop dat dit verwys na heilige eerbied vir die HERE. Met ander woorde dit beteken dat ons aan die HERE die nodige erkenning moet gee vir wie Hy is. In Deut. 10v14 hoor ons:

Die hemel, selfs, die hoogste hemel, behoort aan die Here jou God, ook die aarde en alles daarop.

Ons moet die Here erken vir wie Hy is, naamlik die enigste ware God wat die Hemel en die aarde uit niks geskep het. Dit beteken egter nie dat ons vir die HERE moet bang wees nie, maar dat ons aan Hom moet eer bewys en daarom is dit in die nuwe vertaling met eer vertaal.

Hoe eer ons die HERE? Ons eer die HERE wanneer ons vir Hom lief is deur Hom te dien met hart en siel. Ons die ’n die HERE wanneer Hy die no. 1 prioriteit in ons lewe is. Ons het die HERE lief vir wat Hy vir ons gedoen het en vir wie Hy is. In Deut. 10v15 sê die HERE vir ons:

En tog het Hy sy liefde net aan jou voorvaders betoon en vir julle, hulle nageslag, uit al die volke uitgekies. Dit is nou nog so.

Die God wat hemel en die aarde geskep het buig Homself neer na ons as nietige mense. Hy het Israel uitverkies as sy volk. Uit Israel is die Messias gebore. Net soos Israel van ouds uit die slawekettings van Egipte verlos is, verlos Jesus Christus vandag nog God se uitverkore kinders uit die slawerny van die sonde. Israel het vooruit gekyk na die liefde van God se verlossing deur die voorbeeld van hul verlossing uit Egipte. Ons kyk vandag terug na God se liefde vir ons in Jesus Christus soos Hy ook so duidelik in 1 Joh. 4v9&10 vir ons sê.

9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.

10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Op grond van God se uitverkiesende liefde wat Hy in Jesus Christus se kruisoffer en oorwinning oor dood aan ons bewys het kan ons die HERE eer. Ons eer die HERE wanneer ons Hom alleen erken as die enigste God en ons is lief vir Hom en dien Hom met ons hele wese wanneer ons NIKS of NIEMAND in sy plek stel nie.

Hoe moet ons die HERE liefhê en dien met ons hele wese?

In Deut. 10v13a sê die HERE vir ons:

Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte wat die Here jou vandag deur my gee.

Hierdie gebooie en voorskrifte is die wet van die HERE wat Moses net kort tevore vir ’n tweede keer aan die volk gegee het. Dit is dikwels op hierdie punt waar ons die gevaar loop om Fariseërs te word. Hoe word ons Fariseërs? Ons word Fariseërs wanneer ons die HERE se voorskrifte vervang met ons eie godsdienstige reëls. Wanneer ons verder hierdie reëls van ons voorhou as voorwaarde om vir die HERE aanvaarbaar te wees. As jy nie hierdie reëls nakom nie, dan kan jy nie ’n kind van die HERE wees nie en so span ons die kar voor die perde.

En tog is die wet van die HERE eintlik baie eenvoudig. Jesus som die wet op met liefde. Liefde vir God bo alles en liefde vir jou naaste soos Hy dit in Mat 22v37-40 vir ons sê:

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Dit is ook nie iets nuuts wat Jesus uit die lug gryp nie. Hy haal maar eintlik net die Ou Testament aan wanneer Hy dit sê. Liefde vir God uit Deut. 5v6 en liefde vir jou naaste uit Lev. 19v18. In wese kom hierdie selfde opsoming ook in Deut. 10 voor. In Deut. 10v16 sê die HERE vir ons:

16“Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie.

17Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie.

Wat is dit anders as dat jy die HERE jou God met jou hele hart en jou hele verstand bo alles moet liefhê?

In Deut. 10v18 sê Hy vir ons:

18“Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere. 19Jy moet ook die vreemdelinge liefhê, want jy was self ’n vreemdeling in Egipte.

In wese sê die HERE hier vir ons dat ons vir mekaar moet omgee. Ons moet dus nie in selfsug net op onsself gefokus wees nie. Ons moet mekaar liefhê deur mekaar se belange op die hart te dra.

Ons dien die HERE wanneer ons Hom bo alles liefhet en wanneer ons, ons naaste net soos onsself liefhet. Die HERE sê egter nie net vir ons wat ons moet doen en hoe ons dit moet doen nie. Hy sê ook vir ons hoekom ons dit moet doen.

Waarom moet ons die gebooie en voorskrifte van die HERE nakom?

Ons sê so maklik dat ons die HERE se gebooie en voorskrifte moet nakom omdat die HERE so sê. Dit sou seker genoeg motivering wees, maar die HERE verduidelik ook in sy liefde vir ons hoekom dit nodig is. Die HERE gee nie sy voorskrifte om die lewe vir ons moeilik te maak nie. Hy gee dit vir ons met ’n baie spesifieke rede. Die rede wat die HERE gee is eintlik baie eenvoudig. in Deut. 10v13 sê Hy eenvoudig vir ons:

Dit sal tot jou voordeel wees.

Ons verstaan hierdie ook so dikwels verkeerd. Ons dink so maklik dat die voordeel daarin lê dat as ons God se gebooie en voorskrifte nakom dan vermy ons sy straf. Ek moet luister wat die HERE sê anders gaan Hy my straf. As dit ons siening is, dan verstaan ons egter nog bitter min van die HERE se liefde vir ons. Die HERE verwag dat ons mekaar moet liefhê omdat dit in ons eie belang is dat ons dit doen.

Die HERE weet hoe afbrekend selfsug en kritiek is. Hy weet hoe haat en bitterheid ons van ons lewensvreugde beroof. Hy weet hoe eensaam ons word wanneer ons, ons in selfsug van ons naaste afsonder. Wanneer die HERE vir ons sê dat ons mekaar moet liefhê en dat ons vir mekaar moet omgee, doen Hy dit omdat Hy weet hoeveel vreugde mens ervaar wanneer jy liefde uitdeel en as gevolg daarvan weer liefde terugontvang.

Dit is die wonder van God se liefde. Hoe meer ons daarvan uitdeel, hoe meer ontvang ons terug. Dit is onmoontlik om al God se liefde uit te deel, want jy ontvang altyd meer terug as wat jy uitdeel. As jy egter in selfsug God se liefde net vir jouself wil hou, dan verdwyn God se liefde en het jy naderhand niks daarvan oor nie.

Nou kry ons ook ’n ander fokus op God en sy liefde. As God eerste in my lewe is, dan kan ek nie anders as om vir my naaste om te gee nie. Dan is dit nie vir my moeite om eredienste by te woon nie, maar eerder ’n vreugde omdat ek daar saam met my broers en susters in die geloof in die heerlike teenwoordigheid van ons Vader gaan wees. Dan lees ek Bybel omdat ek my Vader se stem wil hoor. Dan bid ek tot die HERE omdat ek graag met Hom wil praat. Dan dien ek die HERE omdat dit vir my ’n vreugde is en nie omdat dit ’n sware plig is nie.

Ons kom die HERE se gebooie en voorskrifte na omdat dit tot ons voordeel strek om dit te doen want dit is goed vir ons om die HERE en ons naaste lief te hê.

Samevatting

Geliefdes, wat verwag die HERE van ons?

Die HERE verwag dat ons Hom alleen moet eer deur niks of niemand in sy plek te stel nie. Ons eer die HERE wanneer ons sy gebooie en voorskrifte nakom deur God bo alles lief te hê en ons naaste soos onsself lief te hê. Ons doen dit in die volle wete en vertroue dat dit tot ons voordeel strek om dit te doen want dit is goed om die HERE en ons naaste lief te hê.

Dien die HERE alleen deur jou volkome liefde en totale toewyding aan sy wil!

Amen

 

18 Januarie 2026

Jesus bring hoop vir moedelose en gebroke mense

Op die pad van geloofsgroei deur die vuur van beproewing


 Lees:

Jesaja 42:1-9 & 2 Korintiërs 12:7-10

Ons leef in ’n wêreld wat nie baie geduld met swakheid het nie. As jy nie meer funksioneer soos daar van jou verwag word nie, word jy eenkant toe gestoot en weggegooi, want daar is nie tyd of plek vir swakheid nie. Daar word van jou verwag om sterk te wees. Die wêreldse standaard is: Moenie vir die wêreld wys dat jy kwesbaar is nie. Maak nie saak hoe moeilik dit gaan nie, sorg dat jy glimlag.

Daarom kry ons ook sulke motiverende spreekwoorde soos: “maak nie saak hoe jy voel nie, staan op, trek aan en veg vir wat joune is” of “wat ook al die lewe na jou kant toe bring, selfs as dit seermaak, wees net sterk en maak of alles goed en reg is. Onthou sterk mure skud, maar hulle val nie om nie.”

Dit klink alles baie mooi, maar eintlik skuil daar ’n troostelose boodskap agter sulke mooi klinkende spreekwoorde. Wat sê dit eintlik vir jou? Moenie vir die wêreld jou swaarkry wys nie, want niemand gee om nie! Sorteer jou probleme by jouself uit en moenie ander daarmee pla nie!

Die wêreld is ingestel op dit wat mens kan bereik. Hulle wat nie die paal haal nie word eenkant toe gestoot. Die wêreld het nie tyd of plek vir moedelose en stukkende mense nie. Die probleem is egter dat die dat wêreld vol is van stukkende en moedelose mense.

God het gelowiges geroep om as sy kerk sy lig in ’n donker wêreld wat Hom nie ken nie, in te dra. Die probleem is egter dat elkeen van ons ook maar een of ander stukkie seer het wat ons met ons saamdra. Hoe kan ons God se troos aan ’n moedelose en stukkende wêreld bring wanneer ons self ook soms stukkend en moedeloos is?

As ons volgens wêreldse maatstawe meet is ons nie goed genoeg nie, maar God werk egter anders as die wêreld. Sy werk word gedoen deur gebroke mense, mense wat die nood en seerkry van die wêreld verstaan omdat hulle self daardeur gaan. In Jes. 42 leer die Here ons dat Hy deur middel van ons gebrokenheid en onvolmaaktheid sy wil met die wêreld bereik.

Jesaja 40 – 66 is geskryf om die Israeliete wat daar in die vreemde van Babilon in gevangenskap is, te bemoedig. Vir hierdie klein hopelose klompie Israeliete sê God deur sy profeet Jesaja: “daar IS hoop is vir die toekoms!”

Die boodskap van hoop is nie net in die verlossing van Israel uit ballingskap nie. Dit is veel groter want God wil deur die swak, nederige, magtelose groepie ballinge sy verlossingswerk laat uitkring tot aan die uithoeke van die aarde. God gee aan hulle die spesiale taak om sy wil aan al die nasies bekend te maak en om die moedelose mense te inspireer om weer lig te sien soos ons hoor in Jes.42:1-9.

Die beginsel dat God deur gebrokenheid sy wil met die wêreld bereik, word vir ons duidelik gewys deur die lewe en werk van Jesus Christus. In Hom kry die “onlogiese” logika van God prakties gestalte. God bereik sy wil met die wêreld nie deur magsvertoon en bloedvergieting nie. Nie deur konings en wêreldbeheersers nie, maar deur gebrokenheid en selfs die dood heen.

God roep ons ook in ons gebrokenheid om sy wil aan die wêreld bekend te maak. Die troos wat ons het is dat Hy ons met sy Gees toerus om die werk te doen waartoe Hy ons geroep het. Volgens die voorbeeld wat Christus gestel het toe Hy sy werk gedoen het, moet ons ook sagkens werk en deernis betoon aan dié wat gebroke en moedeloos is. Ons moet omgee vir ons broers en susters wat swaar trek. Ons kan dit doen omdat God met ons ook sagkens werk en dat Hy vol deernis is vir ons gebrokenheid soos ons hoor in Jes. 42:3

’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.

Die beeld van ’n lamppit wat dof brand, is dalk nie so bekend in ons moderne tyd nie. 'n Lamp in die Bybelse tyd was 'n kleinerige kleipotjie wat met olie gevul was. Aan die voorpunt was daar 'n gaatjie waarin 'n stukkie tou gedruk is wat van vlas gemaak is. Wanneer die olie min raak, brand die lont al hoe flouer en gee byna geen lig af nie terwyl dit begin rook. So 'n lamp het nie eintlik meer nut om lig te gee nie.

Is dit nie hoe ons ook maar baie maal voel nie? ’n Vlammetjie wat so flou en rokerig brand dat die geringste windjie dit sal uitblaas. Elkeen van ons het elkeen maar sy eie bekommernisse en seerkry wat ons met ons saamdra. Dikwels voel dit vir ons dat ons nie eens genoeg lig het om ons eie donkerte in die lewe te verlig nie, wat nog daarvan om ’n lig te wees vir ander?

Jes. 42 v 3 wys dan profeties heen na Jesus wat nie die laaste gloeiende kooltjie van hoop sal uitdoof nie, want dit is juis dan wanneer ons bruikbaar is soos ons ook hoor in 2 Kor. 12:9a

My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.

Wanneer ons nie meer krag het om aan te gaan nie is dit juis Christus se krag wat ons dra soos ons hoor in 2 Kor. 12:9b & 10

Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

Die Here sê hier vir ons dat ons nie in eie krag die lewe moet aanpak nie, maar dat ons, ons krag in Hom alleen moet vind. Die wêreldse standaard sê vir jou dat jy moet sterk wees, maak nie saak hoe swaar dit gaan nie. Teenoor dit sê die Here sê vir ons: “jy hoef nie sterk te wees nie, want Ek is jou sterkte.”

Die wêreld is in nood omdat sonde veroorsaak dat die mens se verhouding met God deur sonde vernietig is. Dit het meegebring dat mense se onderlinge verhoudings ook beskadig is. In Jes. 42:6 & 7 hoor ons dat God vir Christus as sy dienaar geroep het om die gebroke verhouding tussen God en die mens en tussen mense onderling te herstel.

Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies. Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry; wie in die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan.

God se verbond is ’n vaste ooreenkoms wat Hy reeds met Abraham gemaak het met die belofte dat daardie verbond ook vir sy nageslag van krag sal wees en telkemale het Hy dit weer bevestig met die gelowiges wie Hy uitverkies het. Die Bybel leer ons dat elkeen wat in Jesus Christus glo ook die nageslag van Abraham is en dat God se verbond ook vir hulle bedoel is.

Die inhoud van daardie verbond / ooreenkoms is dat Hy onderneem om ons God te wees en dat ons sy volk moet wees. Met ander woorde God onderneem om die gebroke verhouding wat deur ons sonde veroorsaak is te herstel. In Jes. 42:7 hoor ons dat Hy sy verbond deur Jesus Christus wat sy Kneg is, bekragtig.

Jesus Christus het met sy offer aan die kruis die gebroke verhouding tussen God en die mense kom herstel. Dit is die goeie nuus, dit wil sê die evangelie wat ons aan die wêreld moet uitdra. Jesus laat mense wat deur sonde verblind word vir God se liefde, weer sien dat God liefde is. Dit is die goeie nuus dat mense wat deur sonde vasgevang is daarvan bevry kan word.

Jesus het sy kerk (d.w.s elkeen wat in Hom glo) geroep om hierdie goeie nuus aan die wêreld uit te dra. Hierdie werk van God word in ons gebrokenheid gedoen en ons kan dit doen omdat ons krag in Jesus Christus gesetel is.

Die wonderlike troos hierin is dat Jesus nie net vir ons sondes in die verlede gesterf het nie. Hy het ook gesterf vir alles wat ons nou in die lewe moet deurmaak omdat Jesus hoop bring vir moedelose en gebroke mense.

Die wêreld is ingestel op dit wat mens kan bereik en het nie tyd of plek vir moedelose en stukkende mense nie. In Jesus Christus bereik God sy wil met die wêreld nie deur magsvertoon en bloedvergieting nie. Nie deur konings en wêreldbeheersers nie, maar deur gebrokenheid selfs die dood heen.

Geliefdes, As die lewe jou moedeloos gemaak het. As jy uitgeput en oorlaai is weet dat jy nie nodig het om in eie krag die lewe hoef aan te durf nie. Kom na Jesus toe. Hy is jou krag en sterkte en Hy sal jou rus gee.

Amen

 


11 Januarie 2026

Die krag van ʼn lewende hoop

 

Lees 1 Petrus 1

Teksverse: 1 Pet. 1 v 3-5

Inleiding

Geliefdes, wat maak dit moontlik om die lewe in die oë te kyk? Hoop! Die krag van lewende hoop wat jou staande hou wanneer jy binne die swaarkry en onsekerhede van die lewe vasgevang word.

Om die lewende hoop te verstaan waarvan die Here hier praat gaan ons na die volgende aspekte daarvan kyk:

1)         Wat is lewende hoop?

2)         Hoe kry jy lewende hoop?

3)         Wat beteken lewende hoop vir jou?

1) Wat is hierdie lewende Hoop?

Dit is anders as wat ons gewoonlik aan hoop dink. Wêreldse hoop werk op die basis dat jy die wens uitspreek dat iets goed sal afloop, maar daar is altyd die kans dat dit skeef kan uitloop en nie goed eindig nie. Byvoorbeeld, jy hoop dat jou span gaan wen, maar daar is altyd ’n kans dat hulle tog kan verloor.

Die uitkoms van wêreldse hoop is nie vas en seker nie. Wanneer jou lewe omgedop word en jy nie weet watter kant toe nie, dan sê die wêreld vir jou: “wees sterk. Hou net aan. Moenie dat dit jou onder kry nie.” Die probleem met hierdie raad is dat daar geen waarborg is dat dit jou lewe beter gaan maak nie.

Lewende hoop is anders soos ons hoor in
1 Pet 1 v 3 & 4

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

Die lewende hoop is ons hoop op ‘n nuwe lewe saam met God. Die erfenis van die sondeval is die ewige dood. Nou gee God vir ons hoop van lewe i.p.v. dood. Dis nie ’n hoop van miskien sal dit gebeur nie. Dis die vaste sekerheid dat God teenwoordig is in jou lewe en dat jy nie alleen is nie.

Die lewende hoop van ’n nuwe lewe saam met God is geanker in Jesus se opstanding. Hy het die prys vir die sonde betaal met sy dood, maar nog meer. Hy het die dood oorwin. Jesus leef en daarom kan ons vashou aan sy belofte van ’n lewende hoop op ’n nuwe lewe saam met God.

Wêreldse hoop van ’n beter lewe dra geen waarborge nie. Daar is geen waarborg dat dit wat jy hoop, wel waar gaan word nie. Teenoor dit is daar God se lewende hoop wat vir jou ’n nuwe lewe saam met God waarborg. Daar is geen kans dat dit nie sal gebeur nie, want die waarborg daarvan is die lewende God wat die hemel en die aarde gemaak het.

2) Hoe kry jy lewende hoop?

Heel eenvoudig soos ons hoor in 1 Pet. 1:5

En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.

En in 1 Pet. 1:8-9 hoor ons:

Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is.

Jy moet glo!

Wat moet jy glo?

Jy moet glo dat Jesus uit die dood opgestaan het. Hoekom het Jesus gesterf? Hy het aan ’n vervloekte kruishout gesterf om die prys vir die sonde te betaal wat geen mens self kan betaal nie. Sonde het verwydering tussen God en mens gebring en omdat God lewe is, het sonde verwydering tussen die mens en lewe gebring. Met sy opstanding uit die dood het Jesus vir die mens die lewende hoop van lewe gebring.

Om daardie lewende hoop te kry moet jy glo dat Jesus Christus vir jou gesterf het en dat Hy vir jou die dood oorwin het. Jy moet glo dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker is.

Maar hiermee saam is daar ’n belangrike punt wat jy moet verstaan. Jy hoef niks te doen om die lewende hoop te verdien nie. God gee dit vir jou, verniet! Ons hoor in 1 Pet. 1:3 “Hy (God) het ons die nuwe lewe geskenk.” En dis met jou geloof in Jesus Christus dat jy dit vasgryp.

Hiermee saam is hoor ons ook hoe groot God se genade werklik is. Selfs die geloof wat Hy vra, gee Hy vir ons deur die Heilige Gees. Ons hoor in 1 Pet. 23:

Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.

Weergebore, beteken dat God jou bring op ’n plek waar jy die Evangelie, die Goeie Nuus van Jesus Christus hoor. Die Heilige Gees verander jou en gee vir jou die geloof sodat jy sal glo dat Jesus jou so lief het, dat Hy sy lewe vir jou afgelê het en dat Hy die dood oorwin het sodat jy kan lewe.

God het jou lief en daarom gee Hy vir jou die lewende hoop van ’n nuwe lewe saam met Hom. Jy moet dit glo.

Glo julle dit, geliefdes?

3) Wat beteken lewende hoop vir jou?

In 1 Pet. 1:6 hoor ons dat lyding en swaarkry nog steeds ’n werklikheid is in hierdie lewe.

Lewende hoop beteken dat lyding nie kan keer dat jy nie die nuwe lewe saam met God kan leef nie. Verder beteken dit ook dat jy nie alleen staan teen die lyding van lewe nie, omdat God saam met jou is. God is daar by jou. Hy hou jou vas en wanneer dit nodig word dra Hy jou.

Wanneer jy jou lewenspad saam met God stap sal Hy keer dat lyding jou vernietig, want Hy gee vir jou die krag wat jy nodig het. Wanneer jy jou lewenspad saam met God stap dan maak lyding jou ook meer intens bewus van God se teenwoordigheid in jou lewe.

Verder beteken lewende hoop ook dat selfs die dood nie God se liefde in jou lewe kan wegvat nie. Die lewende hoop is ’n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir ons in bewaring gehou word.

Ons hoef nie meer vir die dood bang te wees nie, want dit is nie die einde nie. Dit is alleen maar net ’n heerlike deurgang tot die ewige heerlik saam met God, daar waar daar geen lyding, dood, hartseer of pyn meer sal wees nie.

Dit is ook die troos wat die Here vir ons gee wanneer ons met die dood van ’n geliefde gekonfronteer word. Lewende hoop maak dit moontlik dat jy nie hoef te treur soos hulle wat geen hoop het nie. Ons treur oor ons geliefdes, maar ons doen dit met die wete dat lewende hoop ons waarborg dat die dood nie die einde is nie.

Lewende hoop beteken ook dat God sy liefde in jou ingeplant het soos ons ook in 1 Pet. 1:22 hoor:

Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.

God gee sy liefde vir ons en nou vra Hy: “gaan leef My liefde teenoor mekaar uit.” Lewende hoop beteken dat ons inderdaad God se liefde kan leef. Dit beteken dat dit nie meer ons eie sondige natuur is wat ons lewens regeer nie, maar dat dit God se liefde is wat dit doen.

Slot

Wat maak dit moontlik om die lewe in die oë te kyk?

Hoop!

Dis die vaste sekerheid dat God teenwoordig is in jou lewe. Die sekerheid van die krag van die lewende hoop van ’n lewe saam met God wat jou staande hou wanneer jy binne die swaarkry en onsekerhede van die lewe vasgevang word.

Gryp daardie lewende hoop in geloof vas. Glo dat Jesus vir jou sondes aan ’n vervloekte kruis gesterf het en dat Hy met sy opstanding vir jou ’n nuwe lewe gegee het.

Lewende hoop beteken dat jy nie alleen staan teen die lyding van lewe nie, omdat God saam met jou is. Dit beteken ook dat jy nie vir die dood hoef bang te wees nie omdat dit slegs ’n deurgang is na die ewige heerlikheid saam met God.

Lewende hoop beteken dat God se liefde nou jou lewe bepaal en dat jy God se liefde kan uitleef.

Gryp die lewende hoop vas wat God jou gee en gaan leef dit!

Amen


04 Januarie 2026

Soek eers die Koninkryk van God


 Teks: Mat. 6:19-34

Teksvers: Mat. 6:33

Inleiding

Ons staan aan die begin van ’n nuwe jaar wat voor ons uitgestrek lê. Voordat die jaar volspoed begin weghardloop is dit goed dat ons net so bietjie stilstaan en perspektief kry. Wat gaan 2026 vir ons inhou? Wat is dit wat die lewe die moeite werd maak? Wat is dit wat vir jou ware geluk in die jaar wat voorlê gaan gee?

In ons teks gee die Here vir ons goeie riglyne om ons daarmee te help sodat ons perspektief kan kry oor wat belangrik is en waar ons ons prioriteite behoort te stel. Ons leef in ’n wêreld wat baie klem op rykdom besittings stel en dit kan ons so maklik op die dwaalspoor plaas om ons prioriteite op die verkeerde plek te plaas. Een van die geliefkoosde leuens van die ou duiwel wat ons tog so graag wil glo, is: “As jy net eers ’n miljoenêr is, gaan jy baie gelukkig wees!”

Jesus waarsku ons daarteen:
“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel. Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en steel nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Dan gebruik Hy die beeld van ’n oog wat verkeerd kyk om nog verder te waarsku teen ’n verkeerde fokus. Verkeerde fokus veroorsaak “donker” in jou lewe en dit lei tot verdeelde lojaliteit soos ons hoor in
Mat. 6:24.

“Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

Met ander woorde, dit lei tot ’n lewe wat nie op God gefokus is nie en dit lei tot ’n lewe vol onsekerhede en kommer wat jou lewensvreugde steel en wat inderdaad die lewe vir jou “donker” gaan maak.

Geliefdes waar ons hier aan die begin van ’n nuwe jaar staan moet ons seker maak dat dit nie vir ons ook ’n “donker” jaar gaan wees nie. In ons teks sê Jesus vir ons wat dit is wat die jaar vir ons “donker” kan maak? Bekommernisse. Bekommernisse oor hoe ons vir onsself gaan sorg. Bekommernisse omdat ons onseker is oor die toekoms.

Jesus sê nie hier vir ons dat ons nie moet werk of voorsiening moet maak of verantwoordelikheid moet neem nie. Nee, die kernvraag wat Hy hier aanspreek is die vraag: “wie regeer jou lewe?” Is dit God, of is dit bekommernisse? Jesus spreek hier ’n hart aan wat God se plek met wêreldse dinge wil volmaak.

Verder verduidelik Jesus ook hier wat se nadelige gevolge bekommernisse op jou lewe het. Dit lei jou van God af weg omdat dit jou geloof ondermyn en Hy beklemtoon hoe nutteloos kommer is. “Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?”

Bekommernis verander niks nie. Dit is soos om op ’n rystoel te ry. Jy beweeg, maar jy kom nêrens nie. Dit steel jou lewensvreugde en dit verlam jou. Dit maak inderdaad die lewe vir jou “donker”!

Jesus beklemtoon hier dat ons ons vertroue op ons hemelse Vader moet stel, want Hy sal vir ons sorg net soos Hy in die verlede gesorg het.

Die vraag is: “Hoe kom jy vry van die bekommernisse wat jou so lamlê in die lewe?” Jesus gee vir ons die antwoord: soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

Hierin lê die geheim oor wat 2026 vir ons die moeite werd sal maak. Maar om te verstaan wat Jesus hier vir ons sê, moet ons net kortliks stilstaan by wat die Koninkryk van God is. God se Koninkryk is nie primêr ’n plek nie, maar God se heerskappy oor elke aspek van die lewe.

Sy Koninkryk het in Jesus Christus sigbaar geword. Met Jesus wat Mens geword het, het dit naby gekom. Satan se mag is gebreek en verlossing het ’n werklikheid geword, maar dit is nog nie volledig hier nie. Die wêreld is nog gebroke en sonde en lyding is nog teenwoordig. Wanneer Jesus weer kom gaan die sonde, lyding, swaarkry en dood finaal vernietig word en die Koninkryk van God gaan perfek wees soos Hy dit van die begin af beplan.

Wat is God se geregtigheid? Dit is om in ’n regte verhouding met God en volgens sy wil te leef.

Die volgende vraag is: “Hoe soek ons die koninkryk van God en sy geregtigheid?” Die antwoord is heel eenvoudig. Deur geloof en bekering soos ons byvoorbeeld in Mar. 1:15 hoor: “Die bestemde tyd is vervul, en die koninkryk van God is op hande. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Erken dat jy ’n verlore sondaar is en glo dat Christus die prys betaal het sodat jy met God versoen kan word. Jesus se geregtigheid word ons sin omdat Hy die prys betaal het wat ons nie kon nie. Ons kry deel daarin deur dit met geloof vas te gryp. Eenvoudig gestel: “Glo dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker is.”

Nou dat ons weet wat die Koninkryk van God en sy geregtigheid is en hoe ons daarin kan deel is die volgende vraag: “Hoe doen ons dit prakties? Wat presies moet mens doen om eers die koninkryk van God en sy geregtigheid te soek?”

U    In Mat. 5:3 sê Jesus: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Met ander woorde, jy moet weet dat as God nie deel is van jou lewe nie, dan is die lewe inderdaad “donker”.

U    In Mat. 5:4 sê Jesus: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” Met ander woorde, Soek God se geregtigheid deur sy troos en herstel te ontvang.

U    In Mat. 5:5 sê Jesus: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” Met ander woorde, Koninkryk soekers vertrou op God se heerskappy, nie op eie krag nie.

U    In Mat. 5:6 sê Jesus: “Gelukkig is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.” Met ander woorde Stel jouself in op God se geregtigheid en beywer jouself daarvoor.

U    In Mat. 5:7 sê Jesus: “Salig is die barmhartiges...” Met ander woorde, soek die koninkryk deur barmhartigheid en liefde in praktyk uit te leef.

U    In Mat. 5:8 sê Jesus: “Salig is die rein van hart…” Met ander woorde, sorg dat jou fokus onverdeeld op God gerig is.

U    In Mat. 5:9 sê Jesus: “Salig is die vredemakers…” Met ander woorde, Koninkryk soekers werk aktief aan vrede en versoening.

U    In Mat. 5:10-11 sê Jesus: “Salig is die wat vervolg word ter wille van geregtigheid…” Met ander woorde, soek die koninkryk beteken volharding, selfs onder teenstand, omdat die beloning in die hemel is.”

In Mat. 5:3-11 hoor ons wat die waardes en die karakter van die Koninkryk is en in Mat. 6:33 gee Jesus vir ons die opdrag om dit bo alles te soek en te prioritiseer.

Wat moet ons prioriteit wees vir die nuwe jaar wat voorlê? Soek jou identiteit daarin om ’n koninkryksmens te wees deur God bo alles in jou lewe te soek en op Hom alleen te vertrou. Gee jou bekommernisse vir Hom. Maak tyd vir Hom in jou lewe. Maak tyd om na Hom te luister deur Bybel te lees, eredienste en Bybelstudies by te woon. Praat met God deur gebed.

Gaan 2026 in met die volle vertroue dat daar waar jy jou aan God heerskappy onderwerp, dat kommer sy mag verloor. Leef daarom in gehoorsame vertroue saam met God in die wete dat vandag se genade genoeg is.

Amen

28 Desember 2025

Gaan jy 2026 met hoop tegemoet?

 

2 Kor. 4 v 7 – 15

Teksverse 2 Kor. 4 v 8 & 9

Ons staan hier aan die einde van 2025 met ’n nuwe jaar wat voor ons lê. Hoe lyk die lewenspad wat jy gedurende die afgelope jaar geloop het? Was dit ’n mooi snelweg of was dit ’n grondpad wat vol slaggate was?

Daar was sekerlik dae wat glad verloop het en dinge net reg in plek geval het, maar daar was ook dae wat jy oor die klippe moes klouter om net op ’n beter plek te kom as gister. Daar was dae wat ek op my knieë gekruip het omdat ek nie krag gehad het om te loop nie. Deur God se genade was daar ook dae waar ek rustig sonder omkyk of omdraai kon loop.

As jy so terugkyk na die jaar wat verby is en jy kon kies, sou jy kies dat dinge anders in jou lewe gedurende 2025 verloop het? Of vind jy berusting daarin dat dit die pad is wat God vir jou gekies het? Wat gaan die nuwe jaar vir ons inhou? Gaan daar ook klippe wees om oor te klouter? 

In ons teksgedeelte kry ons perspektief oor die pad wat God besig is om met ons te stap. Paulus kyk terug na die pad wat hy geloop het om die evangelie te verkondig. Op hierdie reispad was daar ook verskeie struikelblokke waaroor hy moes kom. Ons hoor in 2 Kor. 1 v 8

Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het.

Paulus fokus egter nie op die swaarkry of op sy eie krag om dit te oorkom nie. Hy fokus op God en hoe God hom deur dit gedra het. In 2 Kor. 4 v 7 hoor ons hoe Paulus na homself verwys as ’n kleipot wat maklik breek, maar binne in is ’n skat van onskatbare waarde. Die skat is God se krag wat in Jesus se dood en opstanding openbaar word. Die soeklig is dus nie op Paulus se lyding nie, maar wel op God wat hom dra in sy lyding.

In 2 Kor. v 8 & 9 hoor ons die erns van Paulus se lyding:

In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie;

ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie;

ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie,

op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.

Paulus maak egter nie of sy lyding niks ernstig is nie. Ons hoor hoe Paulus verdruk is. Die Griekse woord wat met verdruk vertaal word, beteken letterlik om styf saamgepers te word. Hy word met ’n verlammende gewig van verdriet neergedruk. Hy word saamgepers, maar hy word nie verpletter nie.

Op vier verskillende maniere beskryf Paulus wat sy lyding aan hom doen, (verdruk, verleë vir raad, vervolg en op die grond neergegooi) maar dat dit hom nie vernietig nie. Die versekering dat God hom dra, maak dit moontlik vir hom om aan te gaan.

Hy weet ook dat terwyl hy hier op aarde is, dat daar nog weer swaarkry oor sy pad gaan kom. Dit wat tot nou toe gebeur het is nie die einde nie, maar hy sien uit na ’n tyd wanneer hy volkome verlos gaan word wanneer hy saam met Christus in ’n verheerlikte liggaam opgewek gaan word.

Al sy lyding het hom nie vernietig nie, nie omdat hy so sterk was om dit kon verdra nie, maar omdat hy veilig in die hande van God deur dit gedra is. Hy staar verwerping in die gesig maar niks sal hom uiteindelik verslaan of vernietig nie omdat God se liefde hom deur dit dra.

Sy lyding het hom wel as ’n kleipot laat kraak, maar hy is nie uitmekaar gebreek nie. God se krag hou dit aanmekaar en die lig wat deur hierdie krake skyn is niks anders as die lig van God se genade in die lewe, sterwe en opstanding van Jesus nie.

In 2 Kor. 4 v 10 hoor ons dat ons in ons lyding deel het aan die sterwe van Jesus sodat Jesus deur ons sterflike bestaan sigbaar kan word. Deur Jesus se dood gee God lewe. Hierin word ’n groot geheim geopenbaar. God werk met Paulus se gebrokenheid. God se krag word in gebrokenheid sigbaar.

Wanneer God hom gebruik en sy kragte gee in, dan vind hy dat dit nie sy krag is nie, maar God se krag wat hom dra. Dit het Paulus gekeer om in sy eie krag die taak wat God hom gegee het aan te pak. Dit het hom ook geleer dat wanneer hy iets aanpak, dat hy nie sy eie krag as maatstaf moet gebruik om te bepaal hoe groot hy moet dink nie.

In 2 Kor. 4 v 15 hoor ons dat die doel is om meer mense met God se genade te bereik. Dit gaan oor Koninkrykswerk. Dit gaan daaroor dat mense wat God nie ken nie, Hom kan leer ken. En deur dit alles ontvang God die eer.

Geliefdes, wanneer jy so terugkyk oor die jaar wat verby is, wat sien jy raak? Sien jy die donker valleie waardeur jy gestap het? Sien jy die kere toe jy heeltemal moedeloos was? Sien jy jou prestasies raak? Is daar dinge wat jy anders sou wou hê? Of sien jy raak hoe God se genade jou deur dit wat Hy oor jou pad gebring het, jou gedra het? Kan jy ook saam met Paulus sê :

In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie;

ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie;

ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie,

op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.

Elkeen van ons het een of ander hou gekry wat ’n kraak of twee in die erdekruik veroorsaak het. Vir elkeen is die houe wat jy ontvang net so ernstig as wat Paulus se lyding vir hom was. Dit gaan nie hier daaroor om mee te ding wie se terugslae was die ergste nie.

Dit gaan oor jou persoonlike pad wat jy gestap het en hoe jy die swaarkry gedeeltes daarvan ervaar het. Sien jy raak hoe God se krag jou erdekruik aanmekaar hou? Sien jy dat die lig wat deur hierdie krake skyn, niks anders is as die lig van God se genade in die lewe, sterwe en opstanding van Jesus nie?

Wat is jou verwagting vir die nuwe jaar? Gaan jy 2026 met hoop tegemoet? Verwag jy dat die nuwe jaar net voorspoed moet inhou? Of is die hoop wat jy koester in God se liefde gevestig?

Hou jy vas aan die wete dat net soos God jou deur 2025 gedra het, dat Hy jou ook deur 2026 sal dra? Gee God se krag jou moed om groter dinge aan te pak as dit waarvoor jy in eie krag voor kans sien? Gaan jy in 2026 die wêreld met woord en daad vertel van God se liefde wat Hy in Jesus se lewe, sterwe en opstanding uit genade aan ons geskenk het? Gaan die wêreld raaksien dat jy Jesus se volgeling is?

Die kleipot van ons lewe word gekraak deur die stampe en stote van die lewe, maar dit kan ons nie vernietig nie, want God se krag is die gom wat ons aanmekaar hou. Die lig wat deur die krake skyn is sy genade in die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus. God het jou deur 2025 gedra en Hy sal jou ook deur 2026 dra!

Amen


25 Desember 2025

Geloof in Christus is nie altyd maklik nie, maar dit dra ewigheidswaarde

 

1.     Skriflesing Luk. 2:1-35 Teksverse Luk. 2: 11, 19, 33 - 35

Vooraf – verduideliking betekenis van die name waarna ons na die Seun van God verwys.

1) Jesus – In die Ou Testament Yeshua wat verkort is van Yehosshua. Die betekenis van die naam is: “die HERE red/verlos. Deurgetrek na die Nuwe Testament - Die naam Jesus verkondig sy sending — Hy is die Een wat sy volk van hulle sondes verlos
Jesus is dus sy persoonlike Naam wat sy reddende werk aandui.

2) Messias / Christus – Messias is die Hebreeuse benaming en Christus is die Griekse benaming wat “Die Gesalfde” beteken. Waar Jesus sy persoonlike Naam is, Is Messias/Christus sy titel wat sy Goddelike aanstelling en gesalfde rol aandui

Inleiding

So bietjie meer as 2000 jaar gelede is Christus as mens gebore in Betlehem. Dit is een van die groot sleutel gebeure in die geskiedenis van die mensdom waar God op sy perfekte vasgestelde tyd sy belofte van ’n Messias wat Hy deur al die eeue van die Ou Testament herhaaldelik gemaak het, nakom soos ons ook hoor in Gal. 4:4

Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur.

En dit is wat Christene wêreldwyd in gedagtenis bring wanneer ons Kersfees herdenk.

In hierdie verhaal van Christus se geboorte sien ons dat God doodgewone mense in die uitvoering van sy ewige raadsplan gebruik. Josef en Maria was maar net nog twee doodgewone mense sonder spesiale status in daardie tyd. Hulle was nie vername of ryk mense nie. Toe hulle die reinigingsoffer moes bring kon hulle nie die gebruiklike offer van ’n jaaroue lam bekostig nie. Hulle kon maar net die armmans-offer van twee tortelduiwe daarvoor bekostig.

En dit gee vir ons die troos dat God ook tyd het vir gewone mense soos ek en jy. Niemand is te gering vir God nie en daarom kan elkeen met vrymoedigheid na Hom toe kom.

Ons hoor in hierdie verhaal van Christus (God se beloofde Messias) wat in Betlehem gebore is, nie in ’n koninklike paleis nie, maar in nederigheid vir elkeen wat ook maar net gewone mense is. Onthou dat selfs die vernaamste mense ook maar net gewone mense is voor God.

Die Engele bring ook die volgende boodskap aan die skaapwagters daar in die veld by hul skape en dit is dan wat hulle ook aan Maria en Josef oorgedra het:

Luk. 2:11

Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!

Hulle bring die goeie nuus dat hierdie Kind die Een is wat sy volk van hulle sondes verlos en ook dat Hy die beloofde Messias, die Christus is wat God deur al die eeue heen beloof het.

Hierdie boodskap het Maria diep getref soos ons hoor in
Luk. 2:19

Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink.

En dan ontmoet ons Maria en Josef in die tempel waarheen hulle Jesus gebring het vir sy besnydenis, afsondering en reiniging. Terwyl hulle daar in die tempel is, ontmoet hulle vir Simeon, ’n toegewyde gelowige wat naby aan God geleef het. Die Heilige Gees het hom beloof dat hy die beloofde Messias sou sien voor sy dood en gelei deur die Heilige Gees het hy na die tempel gegaan terwyl Josef, Maria en Jesus daar was.

Gelei deur die Heilige Gees, bevestig hy dat Jesus die beloofde Messias is wat God gestuur het om sondaars met Hom te versoen. Ook dit het Josef en Maria verwonder soos ons hoor in Luk. 2:33 en mens kan jouself net indink hoe hulle gepoog het om die grootsheid van dit alles in te neem.

En dan rig Simeon die volgende ontstellende boodskap aan Maria soos ons hoor in Luk. 2:34 & 35

Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word. So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.”

Tot nou toe is alles wat hulle gehoor het, net positief gewees, wel soms bietjie oorweldigend, maar steeds positief. En nou word hulle met die harde werklikheid van Jesus Christus gekonfronteer.

Jesus se geboorte is nie maar net ’n sentimentele gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom nie. Dit hou lewensveranderende implikasies in vir elkeen wat daarmee gekonfronteer word en dit bring ook die harde werklikheid tuis dat dit nie altyd maklik gaan wees om Christus te volg nie.

Wat beteken hierdie boodskap? Ons hoor dat die Kindjie waaroor daar soveel blydskap tot nou toe was , bestem is tot ’n ’n val en opstanding van baie. Met ander woorde, jy kan nie neutraal staan teenoor Jesus nie. Daar is een van twee alternatiewe en niks tussen in nie.

Ons word hier gekonfronteer met die grootsheid van Jesus Christus en die vraag wat elkeen vir homself moet afvra is: “waar staan ek vandag? Is ek bereid om dit wat met Christinwees gepaardgaan ten volle te omhels?” Wanneer jy voor Jesus staan kan jy nie maar net met jou ou lewe aangaan asof niks verander nie.

Vir diegene wat Christus verwerp is daar ’n baie dringende en ernstige boodskap. Jy is bestem tot ’n “val”. Die Griekse woord wat hier met “val” vertaal is, beteken letterlik jou ondergang.

Sommige mense dink dat hulle lewens beter af sal wees sonder die bande van Christus en van dit wat God van ons vra. Maar die harde werklikheid is dat ewigheids-implikasies inhou. Om ewig sonder God te wees, is iets wat geen mens werklik kan verstaan hoe verskriklik dit werklik gaan wees nie.

Daar is ook die goeie nuus vir diegene wat God se genade in Christus met geloof omhels. Die belofte van ’n Opstanding tot die ewige lewe saam met God. Die ewige lewe is nie net dit wat eendag daar ver is nie. Die ewige lewe begin hier en nou om jou lewenspad saam met God te stap.

En dan voeg Simeon by dat die Kind bestem is tot ’n teken wat weerspreek sal word. Jesus Christus is die teken en die harde werklikheid is dat nie almal Hom sal aanvaar nie. Hierdie “teken” van Christus sluit ook sy kruis in. Jy kan nie aan Kersfees dink sonder dat jy sy kruis en opstanding ook in ag neem nie. Dit is Christus se opstanding wat ons eie opstanding waarborg.

Ons leef in ’n wêreld wat met sy sogenaamde rasionele denke Christus se dood en opstanding maar net nie wil aanvaar nie en wat Hom maar net as ’n goeie navolgingswaardige voorbeeld wil voorhou. Geliefdes, jy moet die volle pakket van Christus aanvaar. Christus sonder sy kruis en opstanding is nie ’n alternatief nie en ongelukkig is dit wat baie mense met Kersfees wil vier, net die oulike sentimentele storietjie van ’n baba vol feestelikheid. Die ware Christus verhaal gaan om meer as dit.

Die “gesindheid” wat hier openbaar word, is die konflik wat met Christus gepaard gaan. Die konflik van hulle wat Hom totaal verwerp, maar ook die konflik van hulle wat die evangelie verdraai. Die gevaar van die evangelie wat die kruis met gemak wil vervang.

Die indringende waarskuwing is dat ’n verdraaide evangelie, ’n valse evangelie is en dit hou op die uiteinde dieselfde gevaar in as om Christus te verwerp. Die Here waarsku ons in Gal. 1:8 dat die vloek van God elkeen sal tref wat ’n valse evangelie verkondig en ook vir diegene wat dit navolg.

En dan voeg Simeon vir Maria ook die volgende ontstellende boodskap by: “En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.” Die “swaard” deur Maria se siel vertel van Maria se persoonlike deelname aan die konflik rondom Christus. Haar hartseer en pyn wat sy sou ervaar wanneer die volk en die Joodse leiers Christus verwerp en haar intense pyn om sy kruisiging te aanskou.

Maria se pyn is ook ons pyn geliefdes. Die feit dat ons Christus en sy verlossing in kinderlike geloof omhels beteken nie die lewe nou net maanskyn en rose gaan wees nie. Ons leef nog steeds in ’n wêreld wat deur die gevolge van sonde geteister word.

Die swaard gaan ook deur jou siel geliefdes. Die swaard gaan deur jou siel wanneer jy in ’n wêreld leef wat jou geloof bespot of marginaliseer. Die swaard gaan deur jou siel wanneer jy jou kinders moet beskerm teen ’n wêreldse opvoeding stelsel wat Christenskap en die uitleef daarvan belaglik maak en wat hulle leer om die wêreldse weë na te volg. Dis nie altyd maklik om teen die stroom van die populêre samelewings-standaarde te swem nie.

Die swaard sny deur jou siel waar jy moet kies tussen dit wat so aantreklik klink en dit wat die waarheid is. Dis nie altyd maklik om te kies wat die Bybel ons leer teenoor dit wat die populêre mening is nie.

Die swaard gaan deur jou siel waar jy swaarkry beleef en nie verstaan hoekom nie. Wanneer jy siekte beleef of dit in ’n geliefde moet aanskou waar daar nie onmiddellike genesing is nie. Wanneer jy verliese moet verwerk sonder kits antwoorde wat alles regmaak.

Een ding moet ons egter ook hier verstaan. Die duiwel wil ons wysmaak dat dit goed gaan met hulle wat teen Christus is, maar die harde werklikheid is dat dit ’n leuen is. Almal gaan deur swaarkry en lyding in die lewe. Christene het die troos dat God ons daardeur dra.

Dis waar ons hoop lê geliefdes. Ons is nie alleen nie. Ons is saam met God oppad na ’n lewe saam met Hom waar daar geen hartseer pyn of lyding meer gaan wees nie. God is ook daar waar die lewe swaar word terwyl ons oppad is. God los ons nie alleen laat nie, veral nie daar waar ons nie verstaan nie en die lewe nie sin maak nie. Ons troos lê daarin dat God ons verseker dat lyding nie die laaste woord het nie.

Wat sê Kersfees vir ons geliefdes? God het sy belofte nagekom deur ’n Messias te stuur sodat ons met God versoen kan word. Verder sê dit vir ons dat daar waar die lewe swaar word, is God steeds naby.

Maria het die ontstellende boodskap van ’n swaard deur haar siel ontvang. Maar ons moet mooi verstaan. Haar siel is nie deurboor omdat sy ver van Hom was nie, maar juis omdat sy so intens naby aan Hom was.

Die swaard deur jou siel omdat jy Christus volg, is nie ’n teken van God se afwesigheid nie. Dit is juis ’n bewys dat Christus naby aan jou is.

Daar kom tye wanneer die swaard deur jou siel sny. Die troos is dat ons nie alleen is nie wanneer dit gebeur nie. Geloof in Christus is nie altyd maklik nie, maar dit is die moeite werd want dit dra ewigheidswaarde.

Amen