Lees:
Kol. 2 Teksverse kol. 2v6&7
Inleiding
Leef
deur geloof in verbondenheid met Jesus Christus. Hoe doen mens dit? Waar begin
ons en hoe begin ons om in verbondenheid met Jesus Christus te leef?
Waar
begin ons?
In
Kol 2: 13 sê die Here vir ons waar ons begin:
Julle was
dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie
weggeneem was nie.
Wat
’n troostelose vooruitsig! Is daar vir ’n dooie enige hoop om vooruit te gaan?
Nee, daar is geen hoop nie! Dit is ’n situasie waarin elke mens homself bevind.
Hy besef dat hy binne homself geen rus of vrede kan vind nie. In homself vind
die mens geen sin en betekenis in die lewe nie en daarom gaan soek die mens dit
buite homself.
Die
probleem is dat die ons altyd op die verkeerde plek gaan soek. Sommige van ons
soek dit in geld en besittings. Dit hou egter geen bevrediging in nie, want
mens kan nooit genoeg hê nie. Hoeveel geld en besittings is genoeg? Net nog ’n
bietjie meer!
Ander
soek dit weer in status en magsposisies in die samelewing. Dit is egter ook
leeg sonder inhoud en bring geen bevrediging nie. Die soeke na mag en status
laat mens altyd bang en swak voel. Hoe meer mag en status mens het, hoe groter
is jou gebrek aan vertroue in mense. Jy vertrou niemand nie en daar is altyd
die agterdog dat iemand jou van jou mag wil beroof en daarom soek mens net na
al hoe meer mag om hierdie vrees te besweer.
Sommige
van ons soek dit in ons uiterlike voorkoms. Vrouens in skoonheid en fietse
lyfies en mans in spiere. Ook dit bring geen bevrediging nie. Hoe meer jy
skoonheid en voorkoms najaag, hoe meer voel dit of jy lelik en onaantreklik is.
Dink maar aan jong meisies wat so fanaties oor gewig raak dat hulle hulself
letterlik so uithonger dat dit hul dood kos.
’n
Ander plek waar die mens na sin en betekenis in die lewe soek is deur middel
van sy intellek. Dit word ’n obsessie dat almal kan sien hoeveel kennis ek het
en dit is op daardie kennis wat ek my sekerheid bou.
Ook
dit is ’n gejaag na wind. Hoe meer ek my sekerheid in kennis soek, hoe meer
voel dit vir my dat ek te min weet en jaag die vrees my dat almal eventueel
gaan agterkom dat ek nie werklik soveel kennis het as wat ek voorgee nie.
Die
hartseer is dat die mens se soeke na sin en betekenis hom al hoe verder daarvan
wegneem. Ten spyte van die mens se beste pogings kan hy dit nie vind nie.
Hoe
kan die mens lewend word uit die doodstoestand waarin hy homself gedompel het?
In
Kol 2:13b-14 sê die Here vir ons:
God het julle
egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.
Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak.
Deur
God se genade en liefde gee Hy aan ons dit wat ons nooit self kan doen of
verdien nie. Die mens is dood in sy sonde en kan daarom nie rus en vrede in sy
gemoed vind nie.
Hy
kan dit egter ook nie buite homself vind nie en daarom gryp God op ’n radikale
wyse in. Christus gee sy bestaan op Godgelyke wyse prys deur die gestalte van
’n slaaf aan te neem soos ons hoor in Fil. 2:5-8:
Hy wat in die
gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets
waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte
van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn
het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die
dood aan die kruis.
Dit
wat die mens nie kon doen nie het God self vir die mens kom doen. Hy bring die
mens weer by die ware bron van rus en vrede uit naamlik Hyself. Dit is dan ook
wat God op ’n sigbare wyse deur middel van die Nagmaal aan ons wys. God die
Vader stuur sy Seun wat gewillig die straf vir die sonde in ons plek dra.
God
die Heilige Gees wek die mens op uit sy doodsbestaan en gee aan die mens
hierdie versoeningswonder. Die proses waardeur Hy dit doen is om aan die mens
geloof te gee om daaraan vas te hou. Met Nagmaal versterk God daardie geloof
wat Hy aan ons gee sodat ons die nuwe lewe kan leef wat Jesus vir ons verwerf
het.
Hoe
leef ons die nuwe lewe?
In
Kol 2:14b hoor ons hoe Christus met sy soenoffer aan die kruis die mag van die
sonde gebreek het:
Deur dit aan
die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.
Die
mag van die sonde is gebreek, maar die mens is so geneig om terug te draai na
sy sondige natuur. Die opdrag wat uit Nagmaal voortvloei is daarom ook dat die
mens nie moet terugdraai na die valse gode van geld, mag, uiterlike voorkoms of
intellek nie.
Moenie
na sin en betekenis soek in die nakom van leë godsdienstige rituele nie soos
ons hoor in Kol 2:16:
Daarom moet
julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie of
dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier
nie.
Wanneer
mens dit doen, dan word ons maar net weer vasgevang in die leegheid van
godsdienstige rituele wat net so frustrerend en onbevredigend is as die
wêreldse dinge waarin ons voorheen sin en betekenis gesoek het. Dit is ’n leë
dop wat geen krag het nie. Godsdienstige rituele is nie die nuwe lewe wat God
vir ons gee nie!
Die
nuwe lewe wat God vir ons gee behels dat ons die aardse dinge doodmaak wat
nog deel van ons lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes,
en gierigheid, wat afgodery is soos ons in Kol 3:5 hoor. Die nuwe lewe word
geleef deur te breek met die ou sondige natuur soos ons hoor in Kol 3:8-10:
Maar nou moet
julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet
daar nie uit julle mond kom nie. En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met
die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe
mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle
kennis van God
Slot
Ons
kan ons self nie verlos uit die doodsheid van die sonde nie. Dit is alleen God
se genade in Jesus Christus wat ons daaruit kan lewend maak. Uit die krag van
Jesus Christus se soendood aan die kruis word ons lewend gemaak en kan ons die
nuwe lewe leef wat God aan ons gee.
Ons
kan dit maar alleen doen wanneer ons deur ons geloof leef in verbondenheid met
Jesus Christus. Ons doen dit wanneer ons besef hoe groot ons sonde en ellende
is en dat ons slegs deur Jesus Christus daarvan verlos kan word.
Wanneer
ons dit doen dan wil ons ook in dankbaarheid die nuwe lewe leef wat God aan ons
gee. Soek die sin en betekenis van die lewe in Jesus Christus en leef deur jou
geloof in verbondenheid met Jesus Christus.
Amen
