Wys tans plasings met die etiket Parakleet. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Parakleet. Wys alle plasings

14 Mei 2026

Jesus se Hemelvaart beteken meer as wat ons werklik besef!


 Lees

Joh. 14: 1 – 21 Teksvers Joh. 14:16 & 20

Heidelbergse Kategismus Sondag 18

In ons teks ontmoet ons Jesus en sy dissipels waar hulle besig om ’n Paasmaal te nuttig. Dit is egter nie ’n rustige geleentheid nie, want dinge verloop anders as waaraan hulle gewoond is. Die maal  het begin met Jesus wat die dissipels se voete was en die ongemaklike konfrontasie tussen Jesus en Petrus waar Petrus eers nie wil toelaat dat hulle Meester sy voete was nie, omdat hy homself nie waardig geag het nie.

Kort daarna volg die ongemaklike gesprek oor een van die dissipels wat Jesus gaan verraai en Judas wat na dit die vertrek verlaat, terwyl die res van die dissipels nog nie mooi verstaan wat daar aangaan nie.

Dis amper of daar so half ’n gespanne atmosfeer daar onder die dissipels was en dit is die agtergrond van die volgende gesprek wat Jesus met sy dissipels in Joh. 14 het waarin Hy besig is om hulle voor te berei vir die dramatiese gebeure wat binnekort gaan volg, naamlik sy kruisiging en opstanding en dat Hy kort daarna nie meer as mens saam met hulle gaan wees nie.

Dit is teen hierdie agtergrond wat Jesus vir hulle sê: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.” En daarna bemoedig hy hulle met die belofte dat Hy vir hulle ’n plek gaan voorberei waar hulle ewig saam met Hom en die Vader gaan woon.

Daarmee saam maak Hy dit weereens vir hulle duidelik dat Hy die enigste weg na die Vader is. Geloof in Jesus Christus is nodig om jou verhouding met God te herstel.

Dan gee Jesus vir hulle hierdie belofte soos ons hoor in
Joh. 14:16 & 18:

En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle 'n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.

Die Griekse woord “Parakleet” is moeilik om te vertaal, want daar is nie ’n enkele Afrikaanse woord wat die volle betekenis deurgee nie. In die 83 Vertaling is dit met “Voorspraak” vertaal en in die 33/53 Vertaling is dit met “Trooster” vertaal.

Dis iemand wat nader geroep is om jou by te staan as ’n Trooster, Helper, Voorspraak, Advokaat en Bemoediger. Dit is belangrik om te verstaan dat die Parakleet nie bloot ’n “krag” of “gevoel” is nie. Hy is ’n persoon, naamlik die Heilige Gees, d.w.s God self wat by die gelowige teenwoordig is.

’n Verdere woord waar die betekenis in Afrikaans nie so duidelik deurkom nie is die woord “ander”. Die letterlike betekenis van die Griekse woord wat met “ander” vertaal is, is: “ ’n ander van die dieselfde soort”. ’n ander Parakleet van dieselfde soort.

Die Gees kom nie as ’n plaasvervanger van laer orde nie. Hy kom as dieselfde Goddelike teenwoordigheid. D.w.s die dissipels verloor nie vir Christus en kry “iets minder” in sy plek nie. Hulle ontvang God se eie teenwoordigheid deur die Gees.

Wat verder belangrik is, is Jesus se versekering dat Hy hulle nie as weeskinders sal agterlaat nie, maar dat Hy weer na hulle toe kom soos ons hoor in Joh. 14:18 en in Joh. 14:20 voeg Hy by “Op daardie dag sal julle weet: Ek is in my Vader, en julle in My en Ek in julle.”

Wat Jesus hier vir die dissipels sê is dat Hy in sy menslike gestalte nie meer saam met hulle gaan wees nie. Hy gaan egter nie weg nie. Hy gaan steeds by hulle wees, maar nou in sy Goddelike gestalte en dit is wat ons ook in Sondag 18 bely:

Christus is ware mens en ware God.  Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie, maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie.

Die geweldige troos wat ons hier ontvang is dat Christus se Hemelvaart beteken dat in die plek van sy Menslike gestalte kom God Drie-Enig. Die Seun bid tot die Vader. Die Vader stuur die Gees om by die gelowiges te bly, maar die Vader en die Seun is nie afwesig nie.

Alhoewel ons die drie Persone van God, naamlik Vader Seun en Heilige Gees kan onderskei, kan ons hulle nie losmaak van mekaar nie omdat die Drie-enige God onafskeidbaar werk. Waar die Gees is, is die Seun ook en waar die Seun is, is die Vader ook.

En dit is die geweldige troos wat Jesus se Hemelvaart vir ons ook inhou! Ons is nie alleen nie. God is by ons elke dag van elke oomblik. Ons is NOOIT alleen nie!

Ons belydenis in Sondag 18 sluit so mooi by hierdie waarheid aan. In Vraag en Antwoord 49 bely ons:

49  Vraag:  Watter nut het die Hemelvaart van Christus vir ons?

Antwoord: 

U Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is.

In Joh. 14 belowe Jesus ’n Parakleet op aarde, maar in 1 Johannes 2:1 word Jesus ook ’n Parakleet genoem. Dus: Christus is ons hemelse Voorspraak by die Vader wat soos ’n advokaat vir ons intree, terwyl die Gees ons inwonende Trooster in ons is.

Die Hemelvaart beteken dus nie afstand nie, maar dubbele troos: naamlik ’n Voorspraak bó ons én ’n Trooster ín ons.

U Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as 'n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof; ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem.

D.w.s Jesus wat as mens in die hemel is, is God se waarborg aan ons dat ons ook daarheen gaan.

U Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie.

Die Gees in ons is God se waarborg aan ons dat Hy nou reeds hier is. Die Gees is die bewys dat Christus steeds sy kerk vashou.

Christus se Hemelvaart beteken nie dat Christus daar van ver af regeer nie, maar dit beteken die Drie-Enige God woon nou reeds by en in sy volk.

Die dissipels was bang die Hemelvaart beteken verlies, afstand en verlatenheid, maar net die teenoorgestelde is waar. Die Hemelvaart open juis die weg vir die voller teenwoordigheid van God by sy volk. Voor sy Hemelvaart was Christus liggaamlik langs hulle, na sy Hemelvaart woon die Drie-Enige God deur die Gees in sy kerk. Die geweldige troos van Christus se Hemelvaart is die begin van sy wêreldwye teenwoordigheid deur die Heilige Gees.

Wat beteken Christus se Hemelvaart vir ons as gelowiges wat nou hier in 2026 midde in ’n samelewing leef wat onder geweldige ekonomiese druk staan vanweë hemelhoë brandstof pryse en die politiek wat so deurmekaar is waar dit lyk of misdaad en boewery besig is om die oorhand te kry? Wat sê dit vir ons wat die aftakeling van ouderdom so seer aan die lyf voel?

Christus se Hemelvaart sê vir ons: “God Drie-Enig het sy woning by sy kinders gemaak.” Daar waar jy op ’n Maandagoggend wakker word met spanning oor finansies of onsekerheid, begin jy nie die dag alleen nie. Daar waar jy die pyn en swakheid van ouderdom aan die lyf voel is jy nie alleen nie.

Christus is nie ver weg anderkant die sterre nie. Deur sy Gees is Hy teenwoordig in jou bekommernis, in jou besluitneming, in jou swakheid en uitputting.

Dit beteken nie die probleme verdwyn nie. Dit beteken jy dra dit nooit alleen nie, want Christus se Hemelvaart beteken Hy regeer steeds, selfs wanneer die wêreld chaoties lyk. Die wêreld voel dikwels chaoties omdat ons net die grondvlak sien. Christus se Hemelvaart herinner ons: “Daar is Iemand bó die chaos!”

Jesus sê “julle in My.” Dit beteken ons identiteit word nie deur chaos bepaal nie. Dit word deur Christus bepaal en dit beteken ons as kerk is nou ’n sigbare teken van God se teenwoordigheid wat anders leef.

Daarom moet ons kalm bly wanneer daar paniek is. Vrygewig wees in ’n wêreld wat net op eiebelang fokus. Daarom moet ons ook standvastig bly in donker tye en hoopvol wees in donker tye omdat God Drie-Enig se teenwoordigheid in ons lewens dit vir ons moontlik maak.

Christus se Hemelvaart beteken dat God Drie-Enig deur sy Gees in ons lewens teenwoordig is. Hoe verander dit die manier waarop jy na gebed kyk, veral wanneer dit voel asof jou woorde teen die plafon vasslaan?

In Rom. 8:26 hoor ons:

Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.

Wanneer dit vir jou voel of jou gebed teen die plafon vasslaan, weet dat die Heilige Gees jou Parakleet, jou Helper, jou Trooster is. Daarom is die fokus in jou gebed nie meer op jou prestasie van hoe goed jy bid nie. Die Heilige Gees as jou Parakleet, jou Trooster en jou Helper verskuif die fokus in jou gebed na God se teenwoordigheid in jou lewe.

Wanneer jy nie woorde het om te bid nie omdat die lewe te oorweldigend raak, weet dat die Gees self jou woordelose versugtings in ’n suiwer gebed omsit en dit voor die Vader bring. Die Gees neem jou rou emosie en "vertaal" dit in die taal van die hemel. Op aarde tree die Gees vir ons in en in die hemel waar Christus aan die regterhand van God sit, tree Hy vir ons in.

Wanneer die lewe vir jou te veel word, hoef jy nie te veg om deur te breek na God toe nie, want gebed is nie ’n taak of ’n werk wat jy moet verrig om God se aandag te kry nie. Deur gebed vind jy rus in God se teenwoordigheid, self al sug jy net omdat jy nie meer woorde het nie.

Wat beteken Jesus se Hemelvaart vir ons? Dit beteken God Drie-Enig is teenwoordig in jou lewe. Ons is nie weeskinders nie! Jy staan nie alleen wanneer die lewe jou wil omdop nie, want God is daar. Deur jou gebede vind jy rus in God se teenwoordigheid en selfs wanneer jy so oorweldig voel dat jy nie meer woorde het om te bid nie, is God steeds daar. Jou Parakleet vertaal selfs jou versugtinge in die taal van die hemel.

Amen