Ef. 1 . Heidelbergse Kategismus Sondag 8
Sondag 8 Heidelbergse Kategismus
24
Vraag: Hoe word
hierdie artikels ingedeel?
Antwoord: In drie
dele: die eerste handel oor God die
Vader en ons skepping; die tweede oor
God die Seun en ons verlossing; die
derde oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.
25
Vraag: Terwyl
daar maar tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie,
naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees (a)?
Antwoord: Omdat God Hom so
in sy Woord geopenbaar het (b) dat hierdie drie onderskeie Persone die enige,
ware en ewige God is.
(a)
Deut 6:4; Ef 4:6; Jes 44:6;
45:5; 1 Kor 8:4, 6. (b) Jes 61:1;
Luk 4:18; Gen 1:2, 3; Ps 33:6;
Jes 48:16; Matt 3:16, 17; 28:19;
1 Joh 5:7; Jes 6:1, 3; Joh 14:26;
15:26; 2 Kor 13:13; Gal 4:6;
Ef 2:l8; Tit 3:5, 6.
Inleiding
Hoe beskryf mens die onbeskryflike? Hoe verduidelik
mens dit wat jy self nie eens verstaan nie? Terwyl daar tog maar net een, enige
Goddelike Wese is, waarom praat ons van drie, naamlik die Vader, Seun en
Heilige Gees? Daar is maar net een antwoord op die vraag: Ons glo dit omdat God
Hom so in sy Woord geopenbaar het dat hierdie drie onderskeie Persone die
enige, ware en ewige God is. Kan ons ooit werklik die Drie-Eenheid van God
begryp? Nee, geliefdes. Ons verstaan dit nie, maar ons glo dit omdat God Homself
so in sy ewige Woord aan ons openbaar soos Hy byvoorbeeld ook in Ef. 1v3
doen:
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy
het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die
hemel is.
God is een enige Wese in wie drie Persone is, God
die Vader, sy Seun Jesus Christus en die Heilige Gees. Die drie persone is
onderskeie, nie gedeel nie en ook nie vermeng nie. Die Vader is nie die Seun
nie, Die Seun is nie die Vader nie en die Heilige Gees is nie die Vader en ook
nie die Seun nie. Hierdie onderskeiding van die drie persone verander niks aan
die feit dat Hy slegs een enige God is nie soos die Hy ook vir ons sê in Deut.
6v4:
Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.
Verder is dit ook uit die Skrif duidelik dat God in
elk van die drie onderskeie persone ’n unieke werk doen en daarom bely ons ook
in die kategismus soos volg oor die drie Persone van God: God die Vader en ons
skepping, God die Seun en ons verlossing, God die Heilige Gees en ons
heiligmaking.
Vanweë die sondeval het daar ’n skeiding tussen die
mens en God gekom en daarom is daar ook soveel elende in die wêreld
teenwoordig. Uit homself kan die mens niks doen om weer met God versoen te word
nie, maar in sy genade verlos God Drie-Enig ons uit die godverlatenheid waarin
die sondeval ons gedompel het. Vader, Seun en Heilige Gees werk saam om ons te
bring tot die ewige heerlikheid.
Ons bely God die Vader en ons skepping:
God die Vader bestem ons vir die ewige heerlikheid
nog voordat Hy die wêreld geskep het Ef. 1v4:
So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies
om heilig en onberispelik voor Hom te wees.
Ons bely God die Seun en ons verlossing:
In Jesus Christus het God ons verlos van die greep
van die sonde Ef. 1v5-7:
In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al
daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. 6Daarom moet ons God
prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk
het. 7Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe
kragtens die ryke genade van God
Ons bely God die Heilige Gees en ons heiligmaking:
Die Heilige Gees gee aan ons hierdie verlossing wat
Jesus Christus vir ons verwerf het Ef. 1v3 & 13b-14:
3 Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat
daar in die hemel is.
13b In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as
die eiendom van God beseël. 14Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook
verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort,
volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.
Die Drie-Enigheid van God is ’n geheimenis waarin
ons dikwels verstrik raak as ons dit met ons verstand probeer uitredeneer.
Iemand het eendag gesê rakende die Drie-Eenheid van God:
Probeer dit verstaan en jy raak van jou verstand af. Ontken dit en jy
verloor die ewige lewe.
Ons is so dikwels geneig om te probeer om die
verhouding tussen die drie Persone van God te probeer ontrafel dat ons nie by
die werklike doel uitkom naamlik om God werklik te leer ken nie soos ook
duidelik is uit Paulus se gebed vir die kerk Ef. 1v17:
bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die
heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle
openbaar dat julle Hom werklik kan ken.
In plaas daarvan om die geheimenis van die
Drie-Eenheid te probeer ontrafel, moet ons eerder fokus op ons verhouding met
die Drie-Enige God. Die verhouding wat ons met God die Vader het as ons
Skepper. Hy is die bron, oorsprong en draer van alles. Hy het ons geskape en
laat lewe. Ons is die maaksel van sy hande. Hy is ons Skepper en ook ons Vader.
En soos ’n vader sorg vir sy kinders, so sorg Hy vir ons (Ps. 103:13):
Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor
dié wat Hom dien.
Hy dra ons deur die lewe en voorsien in wat ons
nodig het. Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom lief het (Rom.
8:28):
Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet,
dié wat volgens sy besluit geroep is.
Die verhouding wat ons met God die Seun het. Deur
die sonde het daar ’n kloof tussen God en ons gekom en ons het die dood oor
onsself gebring. Maar deur Jesus Christus is die wêreld met God versoen en is
die dood oorwin. Hy was bereid om Homself te verneder deur ’n mens te word
sodat Hy ons straf vir die Sondes aan die kruis kon dra. Deur sy opstanding uit
die dood het Hy vir ons die ewige lewe verwerf.
Ef. 1v7-8
7 Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe
kragtens die ryke genade van God 8 wat Hy in al sy wysheid en insig so
oorvloedig aan ons geskenk het.
Die verhouding wat ons met God die Heilige Gees
het. Die Heilige Gees gee aan ons deur die gawe van geloof hierdie ewige lewe
wat Christus vir ons verwerf het. Ef. 2v8:
Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom
nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.
In Ef. 1v17-21 sê die Here vir ons watter groot
waarde dit inhou om in ’n verhouding met die Drie-Enige God te leef:
Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here
Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan
julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. Ek
bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy
roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die
gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons
wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe
Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit
het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al
sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling
wat kom.
In die eerste plek beteken dit dat ons ’n heerlike
hoop as gelowige het. Hiermee kry ons die versekering dat ons vir ewig aan God
behoort en dat niks ons van sy liefde kan skei nie.
In die tweede plek beteken dit dat ons nou al weet
watter heerlike rykdom dit inhou om ’n kind van God te wees. Ons is nou reeds
deel van Jesus Christus se kerk en daarom deel ons nou reeds in die heerlikheid
om God te ken. Die ewige lewe wat God aan ons uit genade skenk is nou reeds ons
deel en dit hou tot in alle ewigheid aan.
In die derde plek beteken dit dat die Here ’n
geweldige groot krag in ons uitoefen. Die Heilige Gees wek ons op tot ’n nuwe
lewe en stel ons in staat om te begin leef uit die genade van God. Wanneer ons
uit die Gees leef dan kan ons werklik die nuwe lewe wat God vir ons bestem het
begin beleef.
God is een enige Wese in wie drie Persone is, God die Vader, sy
Seun Jesus Christus en die Heilige Gees. Die drie persone is onderskeie, nie
gedeel nie en ook nie vermeng nie. Daarom bely ons soos volg oor God Drie-Enig:
God die Vader en ons skepping, God die Seun en ons verlossing, God die Heilige
Gees en ons heiligmaking. Vader, Seun en Heilige Gees werk saam om ons te bring
tot die ewige heerlikheid om weer die skeiding te oorbrug wat deur die sondeval
veroorsaak is. Die Here is ons God, Hy is die enigste Here onderskei in drie
Persone. Ons verstaan dit nie maar ons glo dit, want dit is God Homself in sy
Woord openbaar.
Amen
