31 Januarie 2012

Ware liefde beteken opoffering


29 Jan. 2012 (RB) Joh. 15; teksvers Joh. 15:12

Sing    Lofsang: Ps. 146 v 1  (OAB)
           Na wet:              Sb. 9-1 v 1 & 11 (Die Tien Gebooie)
           Na gebed Ps. 119 v 2 (OAB)
           Slotsang  Sb. 9-3 v 1 & 2 (Voor U wet, Heer, staan ons skuldig)

Julle behoort mekaar lief te hê. Dit is die Here se opdrag aan ons. In die vertaling gaan daar so ietsie van die Griekse grammatika verlore. Dis nie ’n klipharde opdrag wat ons moet doen of ons nou wil of nie. Liefde kan tog immers nie afgedwing word nie. Dit is veel eerder ’n aansporing van iets wat ons behoort te doen. In sekere sin is die aansporing dat ons dit behoort te doen ’n baie strenger opdrag as “julle moet dit doen of julle nou wil of nie”. Die opdrag behels dat ons mekaar moet liefhê omdat ons dit vanuit ons eie wil doen en nie omdat ons dit MOET doen nie. Ons moet wil liefhê omdat ons oortuig is dat dit die regte ding is om te doen en ons behoort dit te doen. Dit is die opdrag wat die Here aan sy kerk gee.

In hierdie teksgedeelte wys die Here ons hoe ons dit kan regkry, want om mekaar lief te hê druis in teen ons sondige natuur. Uit ons sondige natuur sal ons veel eerder haat as om lief te hê en dit kom heel dikwels in ons optrede teenoor mekaar na vore. In hierdie teksgedeelte hoor ons hoe die Here die beeld van ’n druiwestok gebruik om aan ons te verduidelik hoe ons dit kan regkry om mekaar lief te hê. Dit is inderdaad wat die Here van ons verwag wanneer ons die nuwe lewensjaar aanpak. In Joh. 15 v 1 hoor ons:
“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer.
Die Vader is die Boer en Jesus is die wingerdstok (dit wil sê die hoofstam waaruit die take dit wil sê die lote groei) wat Hy geplant het en die lote is ons die gelowiges wat moet vrugte dra soos ons hoor in Joh. 15 v 2. Hiermee sê die Here vir ons dat God die Vader sy Seun Jesus na die mensdom gestuur het sodat hulle waarlik die lewe kan leef wat Hy vir ons beplan het. Die vrug wat ons moet dra is liefde en ons kan dit slegs doen as ons in Jesus ingeplant is.

Die Here gebruik hier ’n baie mooi beeld om vir ons te verduidelik hoe sy liefde werk. Net soos wat ’n druiweloot nie op sy eie kan vrugte dra nie, net so kan ons nie vrugte van liefde dra as ons los is van Jesus Christus se verlossing nie. As die lewegewende sap nie uit die wingerdstok (die hoofstam) vloei in die loot nie, gaan die loot dood en dit verdroog. Die mens wat nie glo in Jesus se verlossing nie is net soos daardie verdroogde loot soos ons hoor in Joh. 15 v 6:
As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ’n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.

So verduidelik die Here vir ons dat ons op ons eie nie lief kan hê nie. As God se liefde nie in ons is nie kan ons nie liefhê nie soos Johannes ook in sy eerste brief 1 Joh. 4v19 verduidelik:
Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.
In die eerste plek is die liefde van God dus ’n genadegawe wat ons van God ontvang. Aan die ander kant is  dit ook ’n opdrag soos ons in ons teksvers Joh. 15 v 12 hoor:
Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.
Die genade van God is dat Hy nooit meer vra as wat Hy alreeds vir ons gegee het nie. Aan die een kant gee Hy, maar aan die ander kant vra Hy wat Hy gee. God het net een doel voor oë met dit wat Hy vir ons gee en dit wat Hy vra soos ons hoor in Joh. 15v11:
“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.
In dit wat God vir ons gee en wat Hy van ons vra, doen Hy sodat ons net die heel beste in die lewe kan ontvang.

Die Here verwag van ons om vrug te dra in ons lewens. Die vrug wat Hy verwag is liefde. In Gal 5v22 & 23 sê die Here vir ons waaruit die vrug van liefde bestaan. Die vrug van liefde bestaan uit : vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. As ons in Jesus, die ware wingerdstok ingeënt is, dan sal Hy vir ons hierdie vrug gee soos ons hoor in Joh. 15v7:
As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.
As ons vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing van die Here vra, dan sal Hy dit vir ons gee.

Wanneer die Here sy opdrag vir ons gee om mekaar lief te hê, dan sê Hy ook hoe ons dit moet doen: “soos Ek julle liefhet”. Jesus se liefde strek so ver dat Hy sy lewe ter wille van ons geoffer het. Ware liefde beteken opoffering. Die vrug van liefde vereis opoffering van ons.

Wat se opoffering vereis die liefde wat die Here vra van ons? Dat ons nie net vir die mense sal lief wees waarvan ons hou nie, maar dat ons ook vir diegene moet lief wees waarvan ons nie hou nie! Dit is maklik om my mede broeders en susters waarvan ek hou lief te hê. Ongelukkig is ons nog blootgestel aan die gevolge van sonde en daarom is dit so dat daar broeders en susters in die gemeente is waarvan ons minder hou. Ons moet ook vir hulle lief wees!

Die grootste aspek van opoffering wat liefde verg is dat ons ook na onself moet kyk. As daar dalk een van ons is wat voel dat my broeders en susters nie so lief is vir my soos die Here van ons vra nie, dan moet ek na myself kyk. Die opoffering wat ons moet maak is dat ek dit vir my broers en susters in die geloof moet maklik maak om my lief te hê. Is ek heeltyd net kwaai en nors? Is ek gedurigdeur skoorsoekerig en soek ek rede om te baklei? Loop ek heeltyd rond en verwyt? Maak ek die lewe vir die mense om my moeilik? Doen ek aspris goed waarvan my broers en susters nie hou nie, sodat ek hulle kan grief? Is ek die een wat altyd net kla en fout vind? As vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing deel is van my lewe, dan maak ek dit maklik vir my broers en susters om vir my lief te wees. Dit kan soms een van die grootste opofferings wees wat ek moet doen, naamlik om my eie foute raak te sien en vir die Here te bid dat Hy my help om daarvan ontslae te raak.

Nog ’n aspek van liefde is die invloed wat ek op die mense om my uitoefen. Ons het ’n spreukwoord wat sê dat maats jou kan maak of breek. As ek met die verkeerde maats deurmekaar is, dan kan hulle my lewe baie negatief beïnvloed. Die vraag is hier of ek nie ’n verkeerde maat is vir my vriende nie? Is ek besig om my vriende saam met my in die afgrond in te ly? Is ek daardie persoon teen wie ouers hulle kinders waarsku? Is ek die persoon wat heeltyd veroorsaak dat ek en my maats in die moeilikheid beland? Hierdie geld nie net vir die kinders nie, maar ook vir die grootmense. Bou ek op of breek ek af?

Geliefdes, die Here se opdrag aan ons is:
Julle behoort mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.
Hierin leer die Here ons dat ware liefde opoffering vereis. Dit vereis opoffering in die sin dat ek moet liefhê omdat ek wil en nie omdat ek dit maar net doen om dit gedoen te kry nie. Ware liefde is opreg en dit vereis opoffering in die sin dat ek ook diegene liefhet waarvan ek nie hou nie. Ware liefde vereis opoffering deurdat ek dit vir my broers en susters moet maklik maak om my lief te hê. Ek kan dit slegs doen as ek bereid is om my eie foute raak te sien en dat ek vir die Here bid om my te help om dit reg te kry. Ek kan slegs hierdie gebed bid as Jesus Christus en sy verlossing van die sonde deel is van my lewe. Ware liefde vereis opoffering deurdat ek moet streef om ’n positiewe invloed uit te oefen op my vriende sodat ek hulle opbou en nie afbreek nie. Geliefdes, kom ons wees lief vir mekaar soos die Here vir ons lief is.
Amen

27 Januarie 2012

God wat die Hemel en die aarde geskep het dra ons deur die lewe


Preek Son 22 Jan. 2012 (RB) 

Psalm 19; teksvers Ps. 19:2

Sing    Lofsang: Ps. 8 v 1,3,4&7  (OAB)
           Na wet:    Ps. 1 v 1 (OAB)
           Na gebed Ps. 33 v 1 (OAB)
           Slotsang  Ps. 19 v 1 (OAB)
Art’s 1 & 2 NGB (Preek volg na die NGB Artikels)
Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar 'n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem.  Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.
2 Kor 3:17;  Joh 4:24;  Jes 40:14.
Ons ken Hom deur twee middele:
Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld.  Dit is immers voor ons oë soos 'n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom. 1:19-20).  Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.
Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is om tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.
Ps 19:2;  Ef 4:6;  1 Tim 2:5;  Deut 6:4;  Mal 2:4;  1 Kor 8:4, 6;  1 Kor 12;  1 Kor 1.

Inleiding
Die mens is geneig om klein te dink oor God. So dikwels hoor ons hoe ongelowiges vra dat hulle God wil sien voordat hulle sal glo. Sien is glo is hulle leuse. Dit is egter nie net ongelowiges wat God klein probeer maak nie. Gelowiges doen dit ook wanneer hulle twyfel of God raaksien wanneer hulle swaarkry. Dis nie ’n nuwe ding wat uniek is by die moderne mens nie. Israel het ook daarmee gesukkel soos ons hoor in Jes. 40v27:
Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby”?

Hoe dikwels vra ons nie ook maar net soos die ongelowige “waar is God?” Luister na wat die Here antwoord wanneer die mens vra “Waar is God?” Jes. 40v28a:
Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde.
In Rom. 1v20 hoor ons:
Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ’n mens nie met die oog kan sien nie.

Ons kan God nie direk sien nie, maar tog is Hy nie onsigbaar nie. Ons sien sy almag en majesteit in die werk van sy hande raak soos ons hoor in Ps. 19v2:
Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.
Dit is ook wat ons bely in Artikels 1 & 2 van die NGB. In Art. 1 bely ons sy Almag en majesteit en Art. 2 hoe God dit aan die mens bekend maak wie en wat Hy is. Hy doen dit op twee maniere soos ons ook hoor in Ps. 19. Die eerste sewe verse vertel vir ons hoe God Homself deur sy Skepping openbaar en verse 8 tot 12 oor hoe God Homself nog duideliker deur sy lewende Woord openbaar.

In die eerste plek hoor ons:
Die hemel getuig van die mag van God
In Ps. 19 v 2 sien ons ’n tipiese kenmerk van die Hebreeuse poësie waar dieselfde saak op twee verskillende maniere herhaal word om dit te beklemtoon. Die eerste maal hoor ons:
“Die hemel getuig van die mag van God,”
en dan word dieselfde waarheid op ’n ander manier gestel:
“die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.”

Ons wetenskap bevestig vandag wat Dawid al 3000 jaar gelede geweet het. Op ’n helder aand kan ons met die blote oog ongeveer 2500 sterre op een slag waarneem. As ons so sonder ’n teleskoop na die nagtelike hemel kyk is dit asof ons net na die omslag van ’n boek kyk. Die omslag het dikwels net so ’n kort opsomming wat die inhoud van die boek bekend maak en dit is wat ons met die blote oog kan sien. Die wetenskap het ons in staat gestel om daardie boek oop te maak.

Deur middel van die Hubble-ruimteteleskoop het ons gesien dat die heelal uit veel meer as net die 2500 sterre bestaan wat ons met die blote oog kan sien. Ons son is maar 1 ster in die melkweg sterrestelsel wat na raming ongeveer 100 biljoen sterre bevat. Volgens wat nou waargeneem kan word is die skatting dat daar tussen 100 en 200 biljoen sterrestelsels in heelal is. En elk van daardie sterrestelsels is of groter
of gelykstaande aan die Melkweg. Ons kan nie regtig ’n begrip vorm van hoeveel sterrestelsels daar is of hoe groot die Heelal is nie. Hierdie syfers is uit die aard van die saak nie presiese akkuraat nie, maar dit gee darem so ’n idee.

Soos wat die wetenskap vorder kom die wetenskaplikes net elke slag agter dat die heelal veel groter is as wat voorheen gedink is. Die volgende proefneming bevestig hoe wetenskaplikes agtergekom het dat hulle te klein van die heelal dink. Die mense in beheer van die Hubble-teleskoop het besluit om die teleskoop op ’n klein donker kolletjie in die lugruim te fokus wat tot nou toe heeltemal donker was. Die kolletjie waarop hulle gefokus het was in vergelyking met die nagtelike hemelruim ongeveer so groot soos ’n sandkorrel wat ons ’n armlengte van ons af weghou.

Die teleskoop het vir 4 maande lank foto’s geneem van daardie spesifieke kolletjie en soos die data ingekom het, het hulle deur middel van ’n rekenaar ’n prentjie gevorm van daardie klein donker kolletjie in hemelruim. Die resultate van hierdie eksperiment het die wetenskaplikes absoluut stomgeslaan. Die saamgestelde foto het aangetoon dat daar net in daardie donker kolletjie ongeveer 10 000 sterrestelsels is waarvan die grootste ongeveer 8 keer so groot is soos die melkweg waarin ons woon. 

In Ps. 19 v 5b-7 hoor ons:
Vir die son is daar in die hemel ’n tent opgeslaan. As hy stralend begin om sy baan te volg, is hy soos ’n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom. Aan die een kant van die hemel kom hy op en aan die ander kant gaan hy onder, en niks ontkom aan sy gloed nie
As ons so bietjie nader aan die huis kom dan sien ons dat die aarde in vergelyking met son baie klein is. Die son se deursnee is 100 keer groter as die aarde se deursnee. Om dit verduidelik kan ons die aarde vergelyk met ’n albaster en die son ’n bak waarin albaster gegooi word. Om die bak in die regte verhouding tot die son te plaas moet dit diep genoeg wees om 100 albasters hoog te wees. As die albaster 1cm in deursnee is dan moet die bak 100 cm of 1 meter hoog wees. As ons daardie bak sou vol maak dan sal daar 1 miljoen albasters binne daardie bak pas. Dit sal dus 1 miljoen aardes neem om ’n voorwerp te maak wat so groot soos die son is.

Aan die ander kant as ons, ons son met die grootste ster waarvan ons weet in ons sterrestelsel vergelyk dan is ons son so groot soos ’n 20c muntstuk in vergelyking met die Noord Amerika. Wat sê dit vir ons? Dit het my verskriklik klein laat voel. Dit laat mens met ander oë kyk na Gen. 1v1:
In die begin het God die hemel en die aarde geskep.

As ons so na die hemelruim kyk dan kan ons verstaan hoe die dag en die nag sonder spraak en sonder stem ’n boodskap oor die hele wêreld kan uitstuur. Die hele skepping verkondig die almag van God en as ons so na die skepping om ons kyk dan sien ons dat God Homself aan die mens daardeur bekend maak. Hy openbaar homself egter nog duideliker en meer volkome aan ons deur sy heilige en Goddelike Woord. Hierdie belydenis van ons in artikels 1 & 2 van die NGB is in die Woord gegrondves, want in Ps. 19v8 hoor ons:
Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe
In verse 8 tot 12 hoor ons dat die Here vir ons alles in sy Woord openbaar wat ons in hierdie lewe nodig het en wat vir diegene wat aan Hom behoort saligheid gee. In Ps. 19 v 12 hoor ons:
U dienaar laat hom daardeur leer. Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.

Die vraag wat by baie ongelowiges opkom (en dalk ook by ons) is hoekom sou die Here Homself met ons bemoei? Hoekom sal Hy enigsins aandag gee aan mense wat in vergelyking met sy skepping op ’n planeet wat onsigbaar is binne die groter geheel? As ons so na die heelal kyk dan lyk dit oorweldigend groot om ’n blyplek vir mense te maak. Ongelowiges redeneer dat God nie eens weet van ons nie. Hierdie redenasie rus egter op ’n verkeerde argument. Uit ons teksvers Ps. 19v2 is dit duidelik dat God alles geskep het om sy majesteit sigbaar te maak. Die skepping gaan dus nie in die eerste plek oor die mens nie, maar oor die eer van God.

Hoekom sou God hom met ons klein nietige mense bemoei? Omdat Hy wil! In Jes. 43 v 1 hoor ons:
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.
Psalm 19 sluit af deur na die Here te verwys as my Rots en my Verlosser. Die naam Jesus beteken Verlosser. God wat die heelal geskep het, het Homself klein gemaak ter wille van ons. Hy is gebore as ’n eenvoudige mens en Hy het ’n vervloekte kruisdood gesterf sodat ons weer met Hom verenig kan word, sodat ons Hom kan ken.

Uit die skepping en uit die Woord leer ons dat daar 'n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem.  Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Geliefdes as ons weer wonder “waar is God?” dan moet ons na sy skepping kyk en besef dat Hy wat dit alles gemaak het, ter wille van my mens geword het sodat ek kan lewe! Wat beteken dit vir my? Dit beteken dat wanneer ek die moeilike deel van die lewe bereik, ek kan weet dat God in Jesus Christus daar is vir my. Iemand het eendag gesê: wys my hoe groot jou probleem is, dan sal ek vir jou wys hoe groot God is. Ons probleme is vir die Here soos die grote van die aarde is in vergelyking met die heelal.
slot
Wonder u soms waar is God? Wanneer dit gebeur kyk bietjie weer op na die hemelruim daarbo en beleef die almag van God. Ontmoet Hom in sy Woord en beleef hoe Hy in Jesus Christus ons genadig is sodat ons Hom as die ewige God persoonlik kan leer ken. Hou vas aan God se groot genade en weet dat God wat die Hemel en die aarde geskep het ons deur die lewe dra.
Amen

19 Januarie 2012

Christus se sterwe en begrafnis is ons versekering van die ewige lewe


15 Jan. 2012 
Mat 27 v 45 - 66  Teksverse Mat 27 v 46 & 50
Sing  Lofsang:    Ps. 18 v 1 & 2 (OAB)
        Na wet:     Ps. 31 v 1 (OAB)
        Na gebed : Ps. 33 v 11 (OAB)
        Slotsang :  Ps. 147 v 1 & 2 (OAB)

SONDAG 16 Heidelbergse Kategismus
40  Vraag:  Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?
Antwoord:  Weens die geregtigheid en waarheid van God (a) kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie (b).
(a) Gen 2:17.  (b) Rom 8:3, 4;  Heb 2:14, 15.
41  Vraag:  Waarom is Hy begrawe?
Antwoord:  Om daarmee die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het (a).
(a) Hand 13:29;  Matt 27:59, 60;  Luk 23:53;  Joh 19:38.
42  Vraag:  As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?
Antwoord:  Ons dood is nie 'n betaling vir ons sondes nie (a), maar slegs 'n afsterwe van die sondes en 'n deurgang tot die ewige lewe (b).
(a) Mark 8:37;  Ps 49:8.  (b) Fil 1:23;  Joh 5:24;  Rom 7:24.
43  Vraag:  Watter nut verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis?
Antwoord:  Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe (a).  Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, (b) maar kan ons onsself as 'n dankoffer aan Hom toewy (c).
(a) Rom 6:6.  (b) Rom 6:6, 12.  (c) Rom 12:1.
44  Vraag:  Waarom volg daar:  en neergedaal het na die hel?
Antwoord:  Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (a).  Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het.
(a) Jes 53:5.  (b) Ps 18:5, 6;  116:3;  Matt 26:38;  27:46 Heb 5:7

Inleiding

“Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dis die hulproep van Godverlatenheid. My God, my God, waarom het U my verlaat! Het u al gevoel of God u verlaat het? Sien u die prentjie van Christus se bange uitroep, “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Daar waar Hy aan die kruis hang. Die fisiese pyn wat Hy ervaar het was niks in vergelyking met die Godverlatenheid wat Hy ervaar het nie. Nadat Christus sy laaste asem uitgeblaas het, het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, en hulle het uit hulle grafte uitgegaan.

Kan u uself indink wat daardie dag gebeur het. Ons het nog so ’n idee van Christus se fisiese lyding, maar ons sal nooit werklik weet wat dit beteken om deur God verlaat te word nie. Altans elkeen wat bely dat Jesus Christus die Seun van God is wat vir ons sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf, sal nooit werklik weet wat dit beteken om deur God verlaat te word nie. Wanneer ons bely dat Christus die angste van die hel tot die dood toe ondergaan het, bely ons dat ons nooit sal nodig hê om daardie Godverlatenheid te ervaar nie.

In Sondag 16 is daar twee hoofgedagtes wat in ons belydenis na vore kom. Die eerste is Christus sterf in ons plek sodat ons dood net ’n deurgang is na die ewige lewe (vrg en antw 40-43) en die tweede is Christus ly helse angs en pyn om ons daarvan te verlos (vrg en antwoord 44).

In die eerste plek dan wat beteken ons belydenis dat:

Christus sterf in ons plek sodat ons dood net ’n deurgang is na die ewige lewe (vrg. en antw. 40-43)

In Mat. 27 v 50 hoor ons:
Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
Wat beteken dit werklik vir ons? Maak dit regtig saak of Jesus gesterf het of nie? Geliefdes, die Christelike geloof staan of val by Jesus se sterwe en opstanding! Jesus hét gesterf. Sy begrafenis is die versekering, die bewys, dat Hy werklik gesterf het. Jesus se sterwe hou vir ons ’n wonderlike troos in. Dit is waarmee Christene mekaar troos wanneer hulle voor ’n oop graf staan, want vir ’n Christen is die liggaamlike dood nie die einde nie. Dit is die Christelike hoop waaraan ons vashou. Die dood hou vir ons geen verskrikking meer in nie.

Ons dood is geen betaling nie, maar ’n afsterwing en ’n deurgang. Ons leef nog in ’n wêreld wat deur sonde geteister word. Ons voel dit daagliks aan die lyf. Ons word nog kwaad. Ons vertel soms nog leuens. Ons voer ’n ewige stryd met sonde in ons lewens en ons ly nog as gevolg van ons eie sondige keuses en die sondige keuses van mense om ons. Christus se dood hou vir ons die troos in dat ons van hierdie gevolge van die sonde verlos gaan word. In die nuwe Jerusalem sondig ons as gelowiges nie meer nie.

Daar is dit finaal en vir altyd en volkome verby met ons sondes en ons sondige geaardheid. Dit beteken dat ons nie meer aan die lyding van misdaad blootgestel gaan wees nie. Dit beteken dat ons kwaadwillige geneigdheid waarteen ons so moet stry in hierdie lewe, nie meer daar gaan wees nie. Christus se dood beteken ook dat ons in hierdie lewe teen die sonde kan stry en ook oorwin. Dit beteken dat ek nie tevergeefs teen die sonde stry nie.

Hierdie belydenis van ons begin prakties iets beteken wanneer ons met die dood gekonfronteer word. Dit gee vir ons die vrede wanneer ons met ons eie sterflikheid gekonfronteer word. Geliefdes wanneer mens die dood in die oë staar is dit ’n wonderlike troos om aan vas te hou. Dit gee ook vir ons die troos dat ons nie moedeloos hoef te word met ons stryd teen die sonde nie.

In die tweede plek

Christus ly helse angs en pyn om ons daarvan te verlos (vrg. en antw. 44)

Het u al ooit in die lewe gevoel dat almal u in die steek gelaat het? Het dit al ooit vir u gevoel of u nie weet watter kant toe nie. In ons belydenis dat Christus die angste van die hel tot die dood toe ondergaan, lê ’n onuitspreeklike troos. Dit is die anker waaraan ons vashou wanneer alles rondom ons ineenstort. Wanneer dit vir ons voel of die lewe sy rug op ons gedraai het, dan is dit die troos waaraan ons moet vashou.

In ons kategismus bely ons dat ons Here Jesus onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking gely het. In Mat 27 v 46 hoor ons hoe Jesus se smarte en angste ’n hoogtepunt bereik:
Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?
Hiermee verseker Jesus ons dat ons nooit daardie doodsbenoudheid hoef te verduur nie.

Wat beteken dit prakties vir ons? In die kategismus bely ons: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het.” Dit beteken dat wanneer dit vir ons voel of die lewe sy rug op ons gedraai het dat ons nie alleen staan nie. Mense kan ons in die steek laat, maar God sal ons nooit in die steek laat nie. Hierdie belydenis van ons word so mooi bevestig in Rom. 8 v 35-39:
35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Dis die wonderlike troos en betekenis van Jesus Christus se lyde en sterwe. Mense kan ons in die steek laat, hulle kan alles van ons wegvat, selfs ons lewe, maar hulle kan ons nie uit die hand van God ruk nie.

slot

Ons vat saam. Ons belydenis in Sondag 16 oor die sterwe en begrafnis van Jesus Christus beteken vir ons dat ons nie vir die dood hoef bang te wees nie omdat ons liggaamlike dood slegs ’n deurgang is na die ewige heerlikheid saam met God.

Christus het deur sy hele lewe op aarde helse smart en pyn gely wat ’n hoogtepunt op die kruis bereik het toe Hy in Godverlatenheid uitgeroep het “My God, My God waarom het U My verlaat?” Hy het dit vir ons gedoen sodat ons verseker kan wees dat ons nooit deur God verlaat sal word nie. Alles kan van my af weggeneem word, selfs my lewe, maar niks of niemand kan my uit God se hand ruk nie.
Amen

Met die lig van God se Woord kan ons 2012 met vertroue aanpak


8 Jan. 2012 

Skriflesing Psalm 119:105-112; 
Teksvers Ps. 119 v 105

Sing  Lofsang:     Ps. 119 v 1 & 2 (OAB)
        Na wet:  Ps. 119 v 11 (OAB)
        Na gebed      Ps. 119 v 26 (OAB)
        Slotsang Ps. 119 v 39 & 52 (OAB)

As ons so terugkyk na 2011 dan sien ons dat dit ’n vol jaar was waarin ons vreugdes beleef het. Die Here was vir ons goed, maar tog was daar tye wat ons angstig en bang was. Daar was tye dat ons bedroef was. Tye wat ons moedeloos was. Wat van daardie tyd toe ons so bekommerd was of die keer toe ons onseker was en selfs begin twyfel het? Deur die loop van die jaar het daar met elkeen van ons baie dinge gebeur en sommige daarvan was baie lekker terwyl ander weer minder lekker was.

Nou kyk ons vorentoe na 2012 en ons wonder wat gaan hierdie jaar vir ons inhou? Daar sal verseker dinge wees wat ons baie bly en dankbaar sal maak, maar daar gaan ook tye wees wat ons bang en benoud gaan wees. Daar gaan tye kom wanneer ons in versoeking gaan staan en tye wanneer ons dalk selfs kan begin twyfel aan ons geloof. Ons gaan behoefte hê aan bemoediging en of aan leiding. Daar gaan tye wees wanneer ons onseker is en daar gaan tye wees wat ons sommer net moeg en moedeloos gaan wees. Die ergste van alles is dat ons nie weet wanneer dit gaan gebeur nie. Dit is maar hoe die lewe is, een oomblik gaan dit baie goed met ons en ons het niks om ons oor te bekommer nie. Dan binne enkele oomblikke word ons lewe radikaal verander.

Waar kry ons sekerheid in so ’n onsekere wêreld? Hoe pak ons ’n toekoms aan waar ons nie eers seker is van die volgende tree nie? Met die lig van God se Woord kan ons 2012 met vertroue aanpak! In ons teksvers (Ps. 119v105) hoor ons:
U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.

Psalm 119 is ’n unieke Psalm waar elke agt opeenvolgende reëls met ’n letter van die Hebreeuse alfabet begin. In die OAV is dit duidelik gemerk. Psalm 119 is ook die langste hoofstuk in die Bybel met 176 versreëls, agt versreëls vir elke letter van die Hebreeuse alfabet. So ’n Psalm staan as ’n akrostigon bekend. Psalm 145 is nog ’n voorbeeld van so ’n Psalm, maar hier is daar net een versreël vir elke alfabet letter. Hierdie formaat is destyds gebruik om dit makliker te maak om die Psalm te onthou aangesien geskrewe tekste baie skaars was. Omdat die alfabet die struktuur van die Psalm bepaal is daar nie altyd ’n logiese opbou van verse nie. Ons teksgedeelte verse 105 tot 112 is dan ook die gedeelte wat met die Hebreeuse Noen begin wat soortgelyk aan die N klank in ons alfabet is.

In Psalm 119 is daar deurgaans 3 rolspelers betrokke. Eerstens is daar die gelowiges in die persoon van die Psalmdigter (die Bybel sê nie vir ons wie hy was nie). Hy verteenwoordig ook medegelowiges na wie hy as “vriende” verwys. Tweedens is daar die vyande van die gelowiges wat hulle spot en op allerlei maniere vervolg. Derdens is daar die Here met wie die gelowiges ’n persoonlike verhouding het. Hierdie drie partye word deur die wet van die Here saamgebind. Die wet verwys hier na meer as net die tien gebooie. Dit verwys inderdaad na al die bepalings wat die Here vir ons gee wat dan inderdaad na die Woord van die Here verwys. Uit die Woord van die Here kan ons bepaal wat is die Here se Wil in ons lewens.

In ’n sekere sin beskryf hierdie Psalm ons lewenspad hier op aarde. Ons as gelowiges se verhouding met die Here, maar tog is daar allerlei vyande wat ons bedreig. Sentraal binne hierdie driehoek is die Here se geopenbaarde wil (sy Ewige Woord) in ons lewens. In die Bybel leer ons hoe ons in verhouding met die Here moet lewe en ook hoe ons die krisisse volgens God se wil moet hanteer. Inderdaad is dit wat die Psalmdigter verklaar in ons teksgedeelte. Die Here se Woord is die lig wat vir hom die pad wys wat hy moet loop. Hy verklaar plegtig dat hy volgens die Woord van die Here wil leef (vers 106). Verder roep hy ook tot die Here om hulp wanneer sy vyande hom bedreig (vers 107) en daar vra hy dat die Here hom sal leer om volgens sy bepalings te leef (vers 108) sodat hy in die lewe kan bly. Sy enigste erfdeel is immers die inhoud van God se Woord en daarin vind hy sy vreugde.

Die vraag is nou geliefdes: “kan ons, ons vereenselwig met die Psalmdigter van Psalm 119? Vind ons ook ons vreugde in die Here se Woord? Gaan soek ons antwoorde daarin wanneer ons “vyande” dit wil sê ons probleme in die lewe vir ons te veel word? Gebruik ons die Woord van die Here om die pad vir ons te verlig wanneer ons deur donker skaduwees moet reis op ons lewenspad?” As ons eerlik wil wees moet ons sê, nee! My natuurlike sondige geaardheid het die geneigdheid om my van God en sy gebod te laat wegdraai. Ek wil eerder my eie pad in die lewe loop. Ons kan inderdaad saam met Paulus sug (Rom. 7v18):
Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie.

En so sit ons met dieselfde ellende wat Paulus ook ervaar het soos ons hoor in Rom. 7v24:
Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?
Genadiglik gee die Here self vir ons die antwoord in sy Woord (Rom. 7v25):
Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.
Wanneer Jesus Christus deel is van my lewe dan kan ek met die Woord van die Here as lig selfs in die donker tye en plekke van die lewe met vreugde reis. Jesus Christus maak dit moontlik dat ek aan God se genade kan vashou, veral wanneer dit swaar gaan in my lewe.

Hoe gebruik ek die Woord van die Here as ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad? Ek moet tyd maak in my lewe om na die Here te luister deur besig te wees met sy Woord. Hoeveel van ons besit meer as een Bybel wat maar net stof vergader daar op ’n rak? Dit is eers wanneer Jesus Christus ’n werklikheid in my lewe word, dat ek deur die Heilige Gees aangevuur word om te luister na God se stem uit sy Woord. Luister na die triomf waarmee Paulus uitroep: “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.” As ons 2012 met vertroue wil aanpak, dan sal ons dit slegs kan doen wanneer Jesus Christus deel is van ons lewens.

Hier volg nou ’n paar praktiese voorbeelde van hoe die Woord van die Here ’n lamp vir ons voet en ’n lig vir ons pad kan wees. Eerstens wanneer dit goed gaan met my en ek dankbaar is. As die Here en sy Woord nie deel daarvan is nie, dan verander selfs ons vreugdes in donkerte! Dankbaarheid : lees Ps. 136; Luk 17:11 – 19. Angstig: Psalm 46; Jak. 5:7-11; Bang: Jes. 43:1-5; Mar. 4: 35-41; Bedroef : 2 Kor. 4:16 -5:5; Joh. 14; Behoefte aan bemoediging: Rom. 15:1-6; Heb. 12v1-3; Eensaam: Ps. 22:42; Joh. 13:15-21; Siek of in pyn: Ps. 6; 2 Kor. 12:7-10; Vermoeid: Jes. 40:21-31; Mat 11:25-30.
Dit is maar net enkele voorbeelde van hoe die Woord van die Here prakties in ons lewens inslag vind. Die uitdaging is dat ons self in die Woord van die Here gaan antwoorde soek. Die Bybelgenootskap gee vir ons baie goeie hulpmiddels waarvan ons enkeles in ons nuusbrief vandag saamgee.

U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Laat dit ons leuse wees waarmee ons die lewenspad van 2012 met vertroue aanpak!
Amen.

Die ware blydskap van Kersfees: Die Koning van die heelal is as ’n eenvoudige Mens vir my gebore!


25 Des. 2011 (RB) Luk. 2 v 1 - 20 Teksverse Luk. 2v10 & 11
Sing    Lofsang: Ps. 146  v 1  (OAB Totius beryming)
           Na wet:    Sb. 16-1 v 1 (Laat julle kinders tot my nader – Sb 15 swart Ps.Boek)
           Na gebed Ps. 8 v 1 (OAB)
           Slotsang  Ps. 48 v 1 (OAB)
Hoekom is ons bly oor Kersfees? Is dit die lekker geskenke of is dit die vooruitsig van lekker partytjies saam met vriende? Vir sommige mense hou Kersfees net hartseer in en is daar geen blydskap nie. In ons teks sê die Here vir ons wat is die enigste bron van ware blydskap. Dit is die goeie boodskap ’n Verlosser vir wêreld gebore is. Hierdie Verlosser is die Koning van die Heelal soos ons hoor in Luk. 2v10 & 11:
10 Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.
11 Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!
Die ware blydskap van Kersfees is dat die Koning van die heelal vir my gebore is. Dit is juis die eenvoud van Christus se geboorte wat aan my die versekering gee dat Hy ook vir my persoonlik gebore is.

In Luk 2v1 & 2 hoor ons hoe God die belangrikste man van die destydse wêreld as sy dienskneg gebruik om die profesie van Miga 5v1 te laat plaasvind:
Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede!
Selfs die belangrikste mens op aarde is nie so belangrik dat hy nie deur God gebruik kan word nie, selfs al weet hy nie eers dat God hom gebruik nie.

Keiser Augustus het ’n bevel uitgevaardig dat daar ’n volkstelling gehou moes word. Die rede vir so ’n volkstelling was sodat die Romeinse ryk se belasting inkomste bereken en beplan kon word. Daardie sensus het egter anders as ons sensus gewerk. In plaas van dat die sensusopnemer na jou huis toe gekom het, is daar bepaal dat jy na jou vaderstad moes gaan, dit wil sê die plek waar jou familie vandaan gekom het. Josef het van Dawid afgestam en Dawid is in Betlehem gebore, daarom het Josef na Betlehem gegaan. Omdat Maria aan Josef verloof was, was sy reeds deel van sy familie en daarom het sy saam met Josef na Betlehem gegaan.

Kersfees word dikwels voorgestel as ’n stil en rustige tyd waar vrede heers. Daardie eerste Kersfees was egter alles behalwe stil en rustig. Stel jouself voor die besige chaos wat geheers het. Betlehem was oorlopens toe vol. Daar is nie plek vir ’n muis nie. Na ’n lang en vermoeiende reis van ongeveer 85 km agter op ’n donkie kom Maria en Josef moeg en uitgeput in Betlehem aan. Dink net hoe moeg moes die arme swanger Maria gewees het. Dink net hoe moedeloos Josef moes gevoel het toe hy nie eens vir hulle ’n blyplek kon kry nie. Keer op keer moes hy hoor, jammer hier is nie meer plek nie.

Dit was vir seker vir hom en Maria nie ’n stil, rustige vredevolle tyd gewees nie. Toe hulle ten einde laaste wel ’n plekkie kry daar tussen die diere kom die volgende krisis! Ek dink die een ding wat Maria nie daardie aand wou gehad het nie, is dat die baba daar gebore moes word nie. Arme Josef, wat weet hy daarvan om ’n vrou te help wat ’n babatjie gaan kry. Dit was sekerlik nie ’n stil en rustige tydjie vir Josef en Maria nie. Maar ten spyte van al die chaos verloop die geboorte goed af en Maria draai die babatjie volgens die gebruik van daardie tyd styf in doeke toe.

Wat ’n teenstrydigheid. Die Verlosser van die wêreld is hulpeloos in doeke toegedraai. Die enigste plek vir die Koning wat uit die geslag van Dawid gebore is, is in ’n bak waaruit diere geëet het. Nederiger kon dit nie. Die gebeure wat hier vir ons beskryf word kon net sowel die geboorte van die armste kind van destyds gewees het. Dit alles wys vir ons op die doodgewone aard van Jesus Christus se menswees. Dit is inderdaad Emmanuel, God met ons vir doodgewone mense soos ek en jy.

Verder kies God ook die heel eenvoudigste mense uit om hierdie blye boodskap uit te dra. In die tyd van Dawid was ’n skaapwagter ’n eervolle beroep, maar in die tyd van Jesus se geboorte, was dit nie meer so nie. Die enigste mense wat skaapwagters was, was daardie mense wat niks anders in die lewe kon vind om te doen nie. Skaapwagters was verag en as onbetroubaar beskou. Die woord van ’n skaapwagter is slegs aanvaar as dit deur iemand wat nie ’n skaapwagter is nie, bevestig kon word. Juis hulle wat deur die samelewing verwerp word, kies God om hierdie belangrike boodskap vir die eerste keer te gaan uitdra.

Hulle kry die boodskap dat ’n hulle ’n kind sal vind in ’n krip wat in doeke toegedraai is. Niks spesiaal nie. Maar tog is daardie kind die Koning van alle konings wat gekom het om die wêreld van hulle sonde te verlos. Die Griekse woord wat hier met goeie tyding vertaal is, word ook in Afrikaans as evangelie weergegee. Daardie Griekse woord is in daardie tyd gebruik om die koms van ’n koning te beskryf. Almal wat dus die boodskap van die evangelie in daardie tyd gehoor het sou dadelik verstaan dat hierdie doodgewone geboorte wat beskryf word, die geboorte van ’n Koning is. Daardeur wys die Here vir ons dat die goeie nuus oor Christus se geboorte vir alle mense bedoel is, selfs vir diegene wat deur die samelewing verwerp en verstoot word en wat as nikswerd beskou word.

Die vraag vanoggend is: “wat beteken hierdie geboorte wat ongeveer 2000 jaar gelede plaasgevind het vir ons hier aan die einde van 2011?” Die gebeure wat hier in Lukas 2 beskryf word gee vir ons alle rede om vol blydskap te wees. Veral as ek nie juis voel dat daar gedurende Kersfees enige rede vir my is om bly te voel nie. As my lewe in chaos is, of selfs net deurmekaar, dan sê die doodeenvoudige aard van Christus se geboorte dat Hy ook in my lewe ’n verskil kan maak. Hy sê dan vir ons in Mat 11v28:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee

Christus is die Koning van alle konings, maar tog het Hy tyd vir my. Jesus Christus kan my ook verlos uit die tronk van eensaamheid en verstotenheid. Al is my lewe in die grootste gemors ooit, dan sê hierdie geboorte van ’n eenvoudige kind vir my dat daar vir my ook plek is by die Koning van die heelal. Dalk is hierdie die eerste Kersfees wat ek sonder ’n geliefde moet deurbring of dalk herinner dit my aan ’n geliefde wat aan die dood afgestaan is. Dalk is my kinders daar ver in die vreemde en ek verlang na hulle. Dalk voel ek dankbaar oor die seëninge in my lewe dan weet ons dat Jesus Christus ons bron van blydskap is. Dan weet ons dat Jesus Christus my help om die verlange na ’n geliefde wat dood is of dalk ver is te verwerk. As ek sukkel met ’n lewe wat in Chaos gedompel is, dan weet ek dat Jesus Christus vir my ’n anker is die storm.

Geliefdes, kom ons maak Jesus Christus die ware bron van ons kersvreugde, want die Koning van die heelal is as ’n eenvoudige Mens vir my gebore!
Amen

Niks is vir God onmoontlik nie


Skriflesing:   Luk. 1v5 – 38 
Teksvers:       Luk. 1 v 37
Liturgie  18 Des. 2011
na Votum Ps. 18 v 1  (OAB)
Na Wet Ps. 130 v 1 & 2 (OAB)
Na gebed Ps. 119 v 2  (OAB)
Slotsang Ps. 31 v 3 (OAB)

Inleiding
Hoe kan die onmoontlike moontlik wees? Hoe sal jy reageer op ’n boodskap wat iets aankondig wat volgens alle logiese denke onmoontlik is? In ons teks sien ons dat daar twee uiteenlopende reaksies is. Aan die een kant sien ons ’n reaksie van ongelowige skeptisisme en aan die ander kant kinderlik gelowige aanvaarding. In hierdie twee uiteenlopende reaksies wys die Here vir ons dat niks vir God onmoontlik is nie.

In die eerste plek: Ongelowige skeptisisme
Sagaria was ’n priester by die tempel in Jerusalem. Daar was destyds egter veel meer priesters as wat vir die tempelsdiens nodig is. Dawid het al ’n 1000 jaar voor Christus gereël dat priesters in 24 afdelings verdeel word sodat elkeen ’n week lank die tempeldiens kon behartig. In die tyd van Christus was hierdie afdelings egter nog steeds te groot om vir elkeen ’n beurt te gee en daarom moes die betrokke week se tempelwerk onder mekaar verdeel word deur die lot te werp soos ons dan ook hoor in Luk. 1v8 & 9:
8 Op ’n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig, 9 is hy volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altaar te brand.

Een van die heel belangrikste take wat ’n priester in die tempel kon verrig was om die reukoffer altaar skoon te maak en dan nuwe reukwerk te offer as simbool van gebed. Dit was so ’n buitegewone taak dat ’n priester net een maal in sy lewe die geleentheid gekry het om dit te doen. Met hierdie taak het die priester eers die volk by God verteenwoordig en daarna kon hy God weer by die volk verteenwoordig wanneer hy buitentoe gegaan het om die wagtende skare in die Naam van die Here te seën. Sagaria was dus besig met die hoogtepunt van sy priesterlike loopbaan toe die engel Gabriel aan hom verskyn het met ’n haas ongelooflike boodskap soos ons hoor in Luk. 1v12 & 13:
12 Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, 13 maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou ’n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem.

Voordat ons na Sagaria se reaksie op hierdie boodskap kyk moet ons net sy omstandighede in ag neem. In Luk. 1v7 hoor ons:
Hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd
Rasioneel gesproke was dit wat Gabriel aangekondig het dus onmoontlik. Daarom moet ons nie so verbaas wees oor Sagaria se reaksie nie – Luk. 1v18:
Toe sê Sagaria vir die engel: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is ’n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.”
Baie skepties en vol ongeloof vra Sagaria vir ’n teken om hom te oortuig dat hierdie boodskap die waarheid is. Dit is nie dat Sagaria ’n slegte en ongelowige mens was nie. Ons hoor in Luk. 5v 6 dat hy en Elisabet getrou was in hul godsdiens:
Hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou.

Is dit nie maar hoe dit met ons ook gaan nie, geliefdes? Ons is getrou in ons godsdiens. Ons lewe ’n goeie lewe. Ons drink nie en hou nie uitspattige partytjies nie. Ons woon gereeld die eredienste by, maar as dit op toets kom, daar waar ons werklik op God moet vertrou om ons in ’n menslik gesproke onmoontlike situasie te help, dan vertrou ons nie die Here nie. Dit is wat ongeloof is, dat ons nie vertrou nie. Dit is wat Sagaria se probleem was. Hy het teen die rasionele feite vasgekyk en daarom het hy God nie vertrou om die onmoontlike moontlik te maak nie.

Dit is wat ons vandag sien. Ons leef mos in ’n moderne wêreld wat van beter weet, daarom kan ons nie meer in ’n maagdelike ontvangenis glo nie. Christus het nie regtig opgestaan nie. So sê die tydsgees van ons moderne wêreld vir ons. Dit bring mee dat ek God nie werklik vertrou om in my persoonlike omstandighede in te gryp en ’n verskil te maak nie. Ons glo nie dat God ’n verskil kan maak in my huwelik wat maar net wil vlot nie. Ons glo nie dat God iets kan doen aan die seer hier diep binne in my wat die lewe my toegedien het nie. Ons glo nie dat God iets kan doen aan die hartseer en verlange na ’n geliefde wat skielik uit my lewe weggeruk is nie. Daarom kan ek nie meer bid nie. Daarom kan ek nie meer Bybel lees nie en as ek bid dan voel dit vir my of ek maar net hier teen die plafon vaspraat. As ek Bybel lees dan verstaan ek nie.

Die engel se antwoord aan Gabriel se versoek vir ’n teken is amper onbegryplik soos ons hoor in Luk. 1 v 19:
Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring.
In wese sê die engel Gabriel vir hom: “Niks is vir God onmoontlik nie!” Die belofte van ’n kind vir Elisabet en Sagaria is ’n baie spesiale belofte, want dit is hy wat vir Christus die wegbereider sal wees. Hy moet die volk voorberei op Christus se koms. Hy moet die volk voorberei vir die volgende aankondiging van ’n menslik gesproke onmoontlike gebeurtenis.

Tweedens ’n kinderlik gelowige aanvaarding
Ongeveer ses maande later kom die hemelse boodskapper met nog ’n ongelooflike boodskap. Weereens op ’n baie persoonlik intieme wyse. Hierin sien ons weereens hoe bedagsaam ons Here is. Hy oorrompel nie mense deur sommer net uit die bloute op te tree nie. Hy neem sy kinders saam in wat Hy gaan doen op ’n baie besonderse manier. Die Koning van alle konings is op pad, maar dit word nie met ’n trompetgeskel op die pleine aangekondig nie. Die boodskap word op ’n baie intieme en persoonlike manier oorgedra aan die persoon wat direk by hierdie gebeure betrokke is.

In teenstelling met Sagaria wat maar net nie kon glo nie, glo sy die ongelooflike. Nie dat dit haar nie skud nie. Sy is verbysterd en kan nie verstaan waarom die engel haar aanspreek as “begenadigde” nie en hoe sy wat ’n maagd is ’n kindjie in die wêreld kan bring. Die engel verduidelik (vir sover dit verduidelik kan word) en hy sluit sy verduideliking af met dieselfde versekering wat hy aan Sagaria gegee het: “Niks is vir God onmoontlik nie.” Die verskil tussen Maria en Sagaria is Maria se kinderlike gelowige onvoorwaardelike aanvaarding van die wil van die Here soos ons hoor in Luk. 1v 38:
Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”

Hierin sien ons ook duidelik watse verskil Christus in ’n mens se lewe maak. Sonder Christus tree ons in ongeloof en in wantroue teenoor God op. Sonder Christus is ons verwyder van God se genade. Maar in Christus lewe ons deur God se genade soos ons hoor in 1 Kor. 15 v 22:
Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.
Die evangelie van Jesus Christus is vandag nog net so ’n radikale boodskap wat vir skeptiese en siniese wêreld haas ongelooflik klink. Die boodskap van God wat mens geword het bly ongelooflik vir diegene wat God met hul verstand probeer uitpluis. Vir diegene wat Christus se versoeningswerk met God in kinderlike geloof aanvaar is daar die wonderlike troos “Niks is vir God onmoontlik nie”. Christus maak dit moontlik dat ek sal vertrou dat God groter as my pyn en hartseer.

Geliefdes, wat ook al die situasie en hartseer is. Hou vas aan God se genade in Jesus Christus met die troosvolle wete dat die boodskap van die engel Gabriel ook vir ons is: Niks is vir God onmoontlik nie.
Amen

Die geskiedenis van die Gelofte van Desember 1838 (Agtergrond inligting saam met die preek op Geloftedag 16 Des 2011)



’n Gelofte uit nood gebore en wat as ’n smeekgebed aan God gerig is. In die uitkoms is die hand van die Almagtige Drie-Enige God duidelik sigbaar. Daarom wil ons vanoggend ook hierdie gedenkdiens alleen tot eer van God hou in erkenning dat ons net van Hom afhanklik is en dat Hy ons nooit sal verlaat nie.

Die gelofte van Bloedrivier - 1838

"Hier staan ons voor die heilige GOD van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen

Voorwaarde

dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee,

Belofte

1) ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n Sabbat sal deurbring,
2) en dat ons 'n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag,
3) en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte

Doel:- om aan God alleen die eer te gee

want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan hom te gee."

Alleen aan God die eer

Die geskiedenis van die slag van Bloedrivier
Agtergrond
Die verhaal van Bloedrivier is nie volledig sonder die gebeure wat daartoe aanleiding gegee het nie. Shaka die broer van Dingane wat voor hom koning van die Zoeloes was het begin met die uitdelgingsoorloë wat as die Mfecana tydperk bekendstaan. Dit was die oorsaak dat duisende inheemse volke uitgewis of verdryf is. Baie stamme het by Shaka aangesluit, terwyl diegene wat nie wou aansluit nie, uitgemoor is. Dit was die oorsaak dat die hele Natal, suid van die Tugela, ontvolk geraak het.
Drie van sy generaals het weggeloop, hul eie koers ingeslaan en meegedoen aan die uitdelging op dieselfde patroon:
Soshangana het die Shangaan-nasie in Mosambiek laat ontstaan en in Transvaal ingetrek.
Zwangendaba het tot in Malawi gevorder.
Die ergste was Mzilikazi wat met sy Ndebele-nasie die grootste dele van die later Transvaal en Vrystaat domineer en laat ontvolk het.
In dieselfde tyd het Moshweshwe aan vlugtende Sotho's asiel gebied by Thaba-Bosiu waar Lesotho vandag nog bestaan.
Die Voortrekkers verdien die eer dat hulle die Mfecana beëindig het. Eers is Mzilikazi verslaan en verdryf tot in die huidige Zimbabwe en Dingane van die Zoeloes is na die Bloedrivier-veldslae verdryf na Swaziland waar hy vermoor is. Na 1838 kon duisende Tswanas uit die Kalahari terugtrek en hulle lewens vervat in die gebiede waaruit hulle verdryf was.
Die Groot Trek
Die Groot Trek het in 1835 al begin, hoofsaaklik as gevolg van die onsimpatieke houding van die Britse regering teenoor die grensboere in die Oos-Kaap. Die Britse sendelinge (filantrope) in die Kaapland het bygedra tot hierdie hatige gesindheid teenoor die grensboere. Die Xhosas het die grensboere herhaaldelik geteister met moorde en strooptogte en is nooit behoorlik gestraf nie.
Al die Voortrekkers is nie in een groep weg nie. Hoewel Louis Trichardt in 1835 en Hans van Rensburg vroeg in 1836 weg is, het groter groepe, onder leiers soos Hendrik Potgieter, Piet Retief en Piet Uys later die jaar eers oor die Oranjerivier getrek. In totaal het omtrent 10 000 mense, bestaande uit omtrent 2300 gesinne, uit Kaapland getrek.
Die Voortrekker-gemeenskap het verskillende groepe gevorm onder leiding van Piet Retief en Hendrik Potgieter. Retief wou Natal toe trek terwyl Potgieter verder Noord oor die Vaalrivier wou trek.
Die ontmoeting met Dingane en die Moord op Retief
Retief het in Oktober 1837 al Natal toe gereis waar hy in Port Natal die Engelse handelaars ontmoet het. Toe het hy noordwaarts oor die Tugela na Mgungundlovu (Dingaanstat) gereis en Dingane, koning van die Zoeloes, in November 1837, versoek om die onbewoonde gebied tussen die Tugela en Umzimvuburivier tot aan die Drakensberg, aan die Trekkers as woongebied af te staan.
Dingane het Piet Retief vriendelik ontvang, maar hom beskuldig dat die Voortrekkers 'n trop beeste van hom gesteel het en dat hy nie voor Retief die vee terugbesorg het, die woongebied sou afstaan nie. Retief is dus terug na die laers wes van die Drakensberg. Die Trekkers het geweet dat die beesdief 'n Tlokwa- kaptein Sikonyela was, wat in die omgewing van die latere Harrismith gewoon het. Hulle het maklik die gesteelde beeste gekry en ook beslag gelê op 'n klomp Tlokwa-beeste as skadevergoeding aan Dingane. Retief en 'n gevolg van 70 man en 30 agterryers het op 25 Januarie 1838 weer na Mgungundlovu gereis en op 3 Februarie 1838 die beeste aan Dingane afgelewer.
Op 4 Februarie 1838 het Dingane die kontrak (traktaat) onderteken wat die oordrag van grond aan die Trekkers beskryf het. Baie vriendelik het Dingane die Retief-groep genooi om op 6 Februarie 'n Zoeloe-dansvertoning en onthaal by te woon voor hulle vertrek. Tydens die vertoning het Dingane eenkant toe gestap en hard geroep: "Bulalani abathakati!" (dit beteken: "maak dood die towenaars!"). Die Voortrekkers is vinnig oorval, met rieme vasgebind en noordoos van die stat gesleep tot op die klipkoppie genaamd "Kwa Matiwana" aan die kant van die paradegrond, wat genoem word "Hlom'amabutho". Hier is almal met kieries doodgeslaan, Retief laaste.
Dis verstaanbaar dat die Trekkers na langer as 'n jaar se kamplewe nie kon rus om Natal, suid van die Tugela in te trek nie. Boonop het almal geglo dat Retief se tweede besoek aan Dingane 'n blote formaliteit sou wees, want hy het die gesteelde beeste teruggeneem soos hy belowe het. Ongelukkig wou verskeie gesinne ook nie in Natal in laers staan nie, en het ooswaarts uitgesprei aan die walle van die Bloukrans- en Boesmansriviere. Daar het hulle die terugkoms van Retief en sy gevolg verwag, maar is in stede aangeval deur duisende moordlustige Zoeloekrygers. Die bloedbad van 17 Februarie 1838 het die dood van 'n verdere 282 Trekkers gekos: 41 mans, 56 vrouens en 185 kinders is vermoor. Daarbenewens is 250 bediendes vermoor en ook duisende stuks vee geroof.
Die Strafekspedisie
Na die moord op die Trekkers het Hendrik Potgieter Natal toe gekom om sy volksgenote te kom help. Op 6 April 1838 het twee berede kommando's, een onder leiding van Potgieter en een onder Piet Uys na Zoeloeland vertrek. Ongelukkig wou nie een van die genoemde here onder die ander een dien nie. Op 10 April was die kommando's aan die hange van die Italeni-berg, waar hulle in hinderlae gelok is. Piet Uys en sy seun Dirkie en nog vyf ander het geval, maar die res moes vlug vir hul lewe. Die kommando by die Slag van Italeni het toe die naam van die Vlugkommando gekry. Potgieter is spoedig terug oor die Drakensberg, want hy is ten onregte deur baie mense beskuldig van lafhartigheid.
Die volgende aanval deur die Zoeloes het plaasgevind op 3 Augustus 1838, maar die laer aan Boesmansreivier was goed verskans en met doringtakke dig gemaak. Na drie dae se vrugtelose pogings het die Zoeloes die beleg opgegee, maar weereens baie vee saamgejaag na Zoeloeland.
Kort na die laasgenoemde aanval, op 23 Oktober 1838, is Gerrit Maritz oorlede. Die Trekkers in Natal was nou leierloos, daarom is 'n afvaardiging na Oos-Kaapland gestuur om Andries Pretorius te versoek om sy volksgenote te kom help. Op sy advies het die afvaardiging onderneem om veghekke van hout te maak, sodat die laer elke aand tydens die tog na Umgungundlovu doeltreffend en vinnig dig gemaak kon word. Boonop moes die vrouens linnesakkies maak, tien of twaalf lopers daarin toewerk en in gesmelte vet week, sodat die kommando's vinniger sou kon laai tydens 'n geveg.
Op 22 November 1838 het Andries Pretorius by die laers in Natal opgedaag. Alhoewel hy versoek was om as leier te dien, het hy vereis dat daar eers gestem sal word om seker te maak dat almal met sy leiding tevrede is. Daarbenewens het Andries Pretorius an die bestaande kommandante van Natal aanvaar: Karel Pieter Landman is as tweede-in-bevel bevestig, met Pieter Daniël Jacobs, Koos Potgieter, Hans de Lange en Stephanus Erasmus as offisiere. Die kommando van bykans 470 man met 64 waens kon vertrek na Zoeloeland, vanaf Schietdrift in die Tugela op 3 desember 1838.
Dit is verstaanbaar dat elkeen in die kommando met groot kommer vervul moes wees oor hul dierbares wat agtergebly het. As die kommando verslaan sou word, sou die Natalse Trekgemeenskap ook geen kans op oorlewing hê nie. Almal was reeds verarm en daar was ook nie genoeg waens en osse oor om terug te trek oor die Drakensberg nie. Daar was wel 'n aantal manne by die laers, maar die wapens en kruit sou nie lank hou as verdere aanvalle op die laers sou plaasvind nie. Die naam Sooilaer, soos een van die laers bekend was, dui ook aan dat die waens in die laer te min was om dit te beveilig.
Die eer kom Charl (Sarel) Cilliers toe dat hy die eerste gedagte aan 'n gelofte aan die Here uitgespreek het. Geskiedkundiges verskil oor die presiese tyd en plek waar die Gelofte die eerste keer afgelê is. Dit wissel van 7 Desember naby Danskraal aan die Kliprivier tot 10 Desember aan die Wasbankrivier. Wat wel belangrik is, is dat die Voortrekkers die Gelofte sedertdien elke aand herhaal het tydens die gebruiklike aandgodsdiens, tot en met die aand van 15 Desember.
Die Gelofte
Die gelofte, deur Charl (Sarel) Cilliers opgestel, bestaan uit 'n versoek en drie beloftes wat nagekom sou word:
1. Ter ere van die Here, waar dit Hom sal behaag, 'n kerk bou.
2. Die datum van die oorwinning jaarliks soos 'n Sabbat van die Here deurbring.
3. Ons sal ons kinders daarvan vertel sodat ons nageslagte die Gelofte kan onderhou en die roem en die eer aan Hom daarvoor te gee.
Die roete tot by Bloedrivier
Die kommando van Andries Pretorius het vanaf die laers, in die huidige Estcourt- Colenso-gebied, noordwaarts getrek tot deur die Kliprivier (by die huidige Ladysmith) toe noordoos geswaai deur die Sondagsrivier en Wasbankrivier tot by Endumeni-berg, suid van die huidige Dundee. Aan die voet van hierdie berg het die Engelse handelaar, Alexander Biggar se skotskar gebreek nadat dit in 'n gat geval het en moontlik is hy ook deur die voorval beseer. Die plaas waarop dit gebeur het heet vandag nog Biggarssgat en die berg is genoem Biggarsberg. Sedertdien heet die hele voetheuwelgebied vanaf Dundee tot aan die Drakensberg die Biggarsberge.
Die noord-ooswaartse trekrigting is voortgesit tot aan die Buffelsrivier, waar 'n geskikte drif gevind is wat sedertdien Kommandodrif heet. Die plaas oorkant die Buffelsrivier aan die Utrecht-kant, waar die drif is, heet nog steeds Kommandodrif.
Hans de Lange, algemeen bekend as Hans Dons, het tydens die tog opgetree as verkenner. Hy het elke dag vooruitgery om te verseker dat die kommando nie onverhoeds op trek deur die Zoeloemag oorval word nie.
Toe die kommando deur Kommandodrif trek, het Hans Dons hulle laat weet dat die wêreld vorentoe uit oop grasvlaktes bestaan en dat hulle eers by Doringberg (naby die huidige De Jagersdrift) moet gaan hout kap en saamneem vir daaglikse gebruik.
Van Doringberg af het die kommando in 'n suid-ooswaartse rigting getrek. Omtrent 20 kilometer verder is daar 'n sytak van die Buffelsrivier (wat ons vandag ken as Bloedrivier, toe bekend as die Ncome). Die Trekkers was reeds deur die rivier toe die dringende boodskap die kommando bereik dat die Zoeloemag op die rante, omtrent 2 uur te perd, of 10 kilometer vorentoe, in aantog is. Dadelik het Andries Pretorius besef dat hulle pas by 'n strategiese plek vir die laer verby was. Aan die wesoewer van die rivier het 'n diep droë sloot reghoekig by 'nlang seekoeigat aangesluit. ('n Seekoeigat is 'n diep kuil water waardeur mens slegs kon swem). Die waens is dadelik deur die rivier terug na die wesoewer geneem.
Bloedrivier
Dit was Saterdag, 15 Desember toe laer getrek is. Voorbereidings vir die geveg is getref en die bykans 900 osse en 500 perde was onder beheer in die laer. Die posisie van die laer sou die Zoeloes dwing om hoofsaaklik uit die noordweste aan te val aangesien die rivier aan die oostekant en die sloot aan die suidekant die laer beskerm het.
Voor donker het van die Zoeloemagte reeds deur dieselfde drif gekom, terwyl andere aan die noordekant bokant die kuil deurgekom het. Die Zoeloeregiment wat eerste aan die geveg sou deelneem, was die Abafana (seuns) met swart skilde toegerus. Die Swartskilde regiment was sedert Shaka se tyd die jong krygers wat nie mag trou voordat hulle assegaailemme bloed getrek het nie. Op hulle versoek is hulle juis om die rede toegelaat om die geveg in te lei.
Die Zoeloe opperbevelhebbers, Ndlela en Tambuza, met ander hooggeplaastes, byvoorbeeld twee "prinse" (jonger broers van Dingane) het aan die ooste-kant van die seekoeigat saam met die Witskilde regiment gesit om die geveg dop te hou.
Die aand van Saterdag, 15 Desember was baie donker en boonop het 'n digte mis oor die gebied getrek. Daardie nag het geen aanval plaasgevind nie en dit het gelei tot verskillende verklarings, byvoorbeeld: Die Voortrekker-lanterns het 'n spookagtige skynsel in die miswolke tot gevolg gehad. (Die lanterns was nie soos ons dit vandag ken en soos die wat nou aan die sweepstokke hang nie. Dit was 'n blikkie wat soos 'n groenterasper lyk met 'n kersie binne-in. In die museums in Bloemfontein en Pretoria is voorbeelde van die lanterns). Die Zoeloes het reeds geweet dat vogtige lug die ontvlamming van buskruit kan verhinder, en het gedink hulle sou die Voortrekkers maklik in die vroeë more kon doodsteek.
Die bekende fisikus, Prof Lotz Strauss, het op skrywer se versoek vasgestel dat Maandag, 17 Desember 1838 nuwemaan was en dit bevestig dat die nag van 16 Desember donkermaan was. Nie een van die vegtende partye kon vooraf die tyd van ontmoeting bepaal nie, tog was dit bestem om mekaar op 16 Desember te ontmoet met donkermaan.
Anders as wat normaalweg gebeur, het die mis voordag opgeklaar en was Sondag, 16 Desember 1838 'n helder, sonnige dag.
Die eerste aanval, vroeg na sonop, is deur sarsies geweerskote en kanonvuur afgeslaan. Nog verskeie verwoede pogings deur die swartskilde het gevolg, maar geeneen kon ide waens bereik nie. Later het ook die Witskilde bokant die kuil deurgekom en hard probeer om die laers te bereik, maar ook hulle kon nie die laaste 40 meter na die laer indring nie.
Die presiese plek waar die laer opgerig is, is in 1971, voor die oprigting van die pragtige brons walaer bevestig. Volgens meneer George Chadwick van die N.O.D, is deur middel van infrarooi fotografie bepaal dat die middelpunt van die laer, wat omstreeks 1860 deur 'n klipstapel gepak deur oudstryders aangedui is, hoogstens 10 meter na eenkant toe aangedui. Die diep sloot is vandag nog duidelik - nou baie vlak waar die sloot in die kuil eindig. Die waens het daar suidwaarts deurgetrek en +- 200 meter verder deur die rivier getrek deur 'n drif "Izibuku Labafazi" (Vrouedrif). Die laer was minstens 400 tot 500 meter wes van die seekoeigat; die vorm daarvan soos 'n reuse letter D met sy reguit sy teen die diep sloot.
Strategies was dit vir bykans 470 geweerskutters meet moontlik om uit 'n verspreide gebied sterk vuurkrag te lewer, terwyl die beskikbare frontwydte vir die naderkomende Zoeloes al nouer geword het. Slegs 'n klein aantal, moontlik 20 geweerskutters, was nodig om die aanvallers, wat op 'n stadium in die diep sloot langs probeer het om die laer te bereik, te verhinder op die wal uit te klouter.
'n Skeepskanon, een van 2 of 3 kanonne wat saamgeneem was, is deur Pretorius aangewend in 'n oostelike rigting teen die hooggeplaastes oorkant die kuil. Een is deur 'n kanonkoeël getref en nog andere beseer. Hierdie kanon het slegs "Canon Balls" gevuur, want brisantbomme wat ontplof as dit die teiken of die grond tref, is eers later uitgevind. Hierdie aksie het veroorsaak dat die witskilde ook aan die geveg kom deelneem het.
Na omtrent drie uur se geveg het die Zoeloes tou opgegooi en het Pretorius 'n paar berede aanvalle buitentoe onderneem om die Zoeloes te dwing om weer te probeer of om hulle te verjaag. Pretorius self en nog twee Trekkers het assegaaiwonde opgedoen, maar kon voortgaan met die geveg.
Teen elf- of twaalfuur die dag was die slag gelewer. Rondom die laer het 'n wal dooies gelê. Elke geweerskoot was egter nie 'n doodskoot nie en baie bloeiende gewondes het die kuil ingevlug en probeer om deur te swem en koers te kry "huis toe". Gevolglik het die kuil spoedig bloedrooi geword van die bloed en so aanleiding gegee dat die rivier sy naam gekry het: BLOEDRIVIER. Baie gewonde Zoeloes het ook geslaag om deur die rivier te kom, maar beswyk op die lang oop vlakte aan die oostekant. Vandag nog noem Zoeloes die bult oorkant "Ukhalo lamathambo" (bult van doodsbeendere).
Bron: www.Bloedrivier.org die amptelike webblad van die Bloedrivier Gelofte-herdenkingskomitee.