25 Oktober 2015

Ons geloof verseker ons dat die Here ons gebede verhoor en dat ons Hom alleen moet gehoorsaam

24 Okt. 2015 (GKE) Ps. 116 Teksverse Ps. 116 v 6 & 14
Sing    Lofsang: Ps. 116  v 1 (OAB)
           Na wet:    Ps. 116 v 7 (OAB)
           Na gebed Ps. 116 v 2 & 3 (OAB)
           Slotsang  Ps. 116 v 1 , 5 , 8 & 10 (OAB)

Inleiding

Hoe vind ek ’n genadige God? Dit is ’n vraag waarmee Maartin Luther gespook het en wat daartoe aanleiding gegee het dat hy ’n priester geword het. In sy stryd om ’n antwoord op bogenoemde vraag te kry het Luther eventueel vertroosting in Rom. 1v17 gevind:
In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

Daar het Luther geleer wat geloof vir hom beteken, veral wat geloof vir hom beteken het in die donker tye van vertwyfeling. Wat beteken geloof vir ons? Wat beteken geloof vir ons wanneer ons in ’n doodse benoudheid verkeer? In Psalm 116 leer die Here ons wat geloof vir ons beteken wanneer ons in doodsangs vasgevang is. Hier vind ons twee hooftemas:
i.        Ek roep die Naam van die Here aan en Hy verhoor my smeekgebede
ii.       My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk

Ek roep die Naam van die Here aan en Hy verhoor my smeekgebede

Die Psalmdigter beskryf ’n doodsbenoudheid waarin hy verkeer: (Vgl. Ps. 116v3)
Bande van die dood het my omsluit,
doodsangs het my aangegryp,
ek het benoud en bekommerd geword.
Hierdie was nie maar net ’n ongemaklike situasie waarin die Psalmdigter verkeer het nie. Dit was ’n lewensgevaarlike situasie waar daar menslik gesproke geen hoop meer was nie. Hy het in ’n absolute doodsbenoudheid verkeer met die aaklige besef dat daar geen uitkoms was nie. Daar was niemand na wie toe hy kon gaan om hom te help nie. (Vgl. Ps. 116v11)
en toe ek in my vertwyfeling besef het:
ek kan op geen mens staat maak nie.

En tog beskryf hierdie Psalm nie ’n wanhopige situasie nie! Ten spyte van die donker prentjie wat hier geskets word, is dit ’n lofpsalm waar die Psalmdigter die lof van die Here besing. (Vgl. Ps. 116v1)
Ek het die Here lief,
want Hy verhoor
my smeekgebede
Die Psalmdigter beskryf hier vir ons hoe hy die Naam van die Here aangeroep het. (Ps. 116v3&4)
3 Bande van die dood het my omsluit,
doodsangs het my aangegryp,
ek het benoud en bekommerd geword.
4 Toe het ek die Naam van die Here
aangeroep: “Here, red my tog!”

Daar is net een rede hoekom die Psalmdigter die Naam van die Here aangeroep het in sy benoudheid. Dit is omdat hy besef het dat dit net God is wat hom kon help. (Ps. 116v10-11)
10 Ek het in U bly glo,
selfs toe ek gedink het
dit is klaar met my
11 en toe ek in my vertwyfeling besef het:
ek kan op geen mens staat maak nie.

Die vertroosting wat die Here vir ons met Ps. 116 gee is dat wanneer ons nie meer weet watter kant toe nie. Wanneer ons besef daar is nie meer alternatiewe nie, wanneer daar niemand meer is waarnatoe ek kan draai nie, dan sê die Here vir ons dat ons net op Hom alleen kan staatmaak. Wanneer ons werklik op daardie punt kom dat ons besef, ek kan nie meer nie, dan sê God vir ons Ek kan! Dit is dan ook waarom hierdie Psalm nie ’n wanhoopspsalm is nie. maar ’n Psalm van hoop en oorwinning.

God luister na ons nood. (Ps. 116v4-6)
4Toe het ek die Naam van die Here
aangeroep:
“Here, red my tog!”
5Die Here is genadig en regverdig,
ons God ontferm Hom oor ons.
6 Die Here beskerm die hulpeloses:
ek was magteloos, maar Hy het my gered.

Jesus het ook hierdie Psalm saam met sy dissipels gesing daar in die bovertrek net kort voor sy kruisiging toe Hy die Nagmaal ingestel het. Ironies genoeg, is hierdie psalm wat God dank vir verlossing uit die dood, die Psalm wat Jesus vir die dood voorberei het. God red ons van die dood deurdat Hy in sy Seun Jesus Christus die dood in ons plek gedra het. Dit is die rede waarom hierdie nie ’n wanhoopspsalm is nie maar ’n oorwinningspsalm. Jesus Christus het die dood oorwin en daarom verlos Hy ons ook uit die ewige dood. Ons kyk so dikwels net teen die benoudheid van hierdie lewe vas en ons vergeet so dikwels dat die eintlike benoudheid gaan oor die ewige dood waarin die sonde ons gedompel het.

Wanneer ons dit besef, dan eers verstaan ons wat die bande en strikke van die dood waarvan die Psalmdigter praat, werklik beteken. Dit is eers dan wat ons werklik tot rus kom omdat die Here aan ons goed gedoen het. Dan verstaan ons werklik die Here se genade dat Hy ons van die dood gered het en ’n einde aan ons trane maak (v7&8). Dit is eers dan wat ons verstaan wat ons geloof wat die Heilige Gees vir ons gee werklik vir ons beteken.(Ps. 116v6)
Die Here beskerm die hulpeloses:
ek was magteloos,
maar Hy het my gered.

Uit genade luister die Here na ons smeekgebede en kan ons ook tereg saam met die Psalmdigter vra:
Hoe sal ek die Here vergoed
vir al sy weldade aan my?

My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk

Ons dankbaarheidslewe is nie ’n sware plig wat ons teen wil en dank moet nakom om die Here tevrede te probeer stel nie. Dit is gewoonlik op hierdie punt dat die kerk ontspoor. Dit is waar die Rooms Katolieke Kerk ontspoor het. Gehoorsaamheid aan God is duidelik iets wat mens doen omdat jy dankbaar is vir die verlossing wat die Here gee soos die Here dit ook duidelik in Psalm 116 aantoon.

Die Rooms Katolieke Kerk het dit egter ’n voorwaarde gemaak om deur die Here gered te word. Hulle erken wel Jesus Christus se verlossingsdade, maar voeg by dat die mens ook met sy goeie werke moet help vir met sy verlossing. Die mens moet God dus help om hom van die dood te red. In die tyd van Luther was daar selfs die praktyk dat jy jou verlossing kon koop met aflaatbriewe. Daarmee wou die RKK geld insamel om die st Peters kerk in Rome te bou. Dit is teen die agtergrond hiervan dat die Reformasie plaasgevind het wat ons vandag op 31 Oktober herdenk.

Wanneer mens deur middel van goeie werke probeer om God se redding te verdien, is daar geen vreugde meer in nie. Dan word dit ontmoontlik om te sing
God het ek lief, want die getroue Heer hoor na my stem uit vrye welbehae...

Die herdenking van die Reformasie herinner ons opnuut weer dat ons uit genade gered is op grond van die soenverdienste van Jesus Christus. Dit is eers dan wanneer ons werklik besef dat die Here die hulpeloses beskerm. Eers wanneer ek besef dat ek magteloos is, maar dat die Here my gered het, kan ek werklik die vreugde kan ervaar om saam met die Psalmdigter te verklaar
My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk.

Dan is dit nie vir my moeite om vir die Here te werk nie. Dan is dit nie vir my moeite om in liefde na my naaste uit te ryk nie. Dan is dit nie vir my moeite om ’n dankoffer vir die Here te gee nie en soek ek ook nie allerlei verskonings om dit nie te doen nie. Wanneer ek besef hoe groot die genade van die Here is en dat hy vir my uit die benoudheid van die dood verlos het, is dit vir my ’n vreugde om gereeld sy Woordverkondiging op te soek. Dan sal ons nie iets soos byvoorbeeld my besittings in die plek van die Here wil aanbid nie. Dan sal Sondag die hoogtepunt van ons week wees en sal dit vir ons ’n vreugde wees om kerk toe gaan.

Dan sal dit vir ons ’n vreugde wees om gehoorsaam te wees aan die gesag wat die Here oor ons gestel het. Dan sal ons nie ander mense wil seermaak of vermoor met ons woorde en dade nie. Dan sal dit vir ons ’n vreugde wees om aan ons lewensmaat getrou te wees. Dan sal ons eerder maniere soek om aan ander te gee as wat ons maniere soek om mekaar te verneuk en dit te neem wat nie myne is nie. Dan sal ons nie sleg praat van mekaar nie. Dan sal ons enigste begeerte slegs wees dat God meer en meer word in ons lewens.

Samevatting

In ons benoudheid roep ons die Naam van die Here aan met die vertroue dat Hy ons smeekgebede hoor. Die natuurlike gevolg is dat ons met ons hele lewe dank aan God wil bewys. Ons geloftes aan die Here sal ons betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk.
Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking