27 Julie 2025

 


Markus 4 v 35 - 41

Jesus het ’n lang dag agter die rug waarin hy die skare deur gelykenisse geleer het. Aan die einde van die dag versoek Jesus sy dissipels om na die oorkant van die meer te vaar. 



Hy was heel waarskynlik moeg na die lang dag en daarom het Hy agter in die skuit aan die slaap geraak terwyl hulle na die oorkant toe gevaar het. In die ligte laatmiddag briese het hulle daar weg weggevaar. 


Toe hulle ongeveer in die middel van die meer was het daar skielik ’n storm opgesteek.

Die see van Galilea is daarvoor bekend dat storms skielik sonder waarskuwing opsteek. Die rede daarvoor is omdat dit in die skeurvallei waarin die Jordaanrivier afvloei geleë is. Die meer is ongeveer 213m onder seevlak met berge aan weerskante van die meer wat tot 600m hoog is aan die oostekant. Die koel droë lug van bo-op die bergtoppe sak dan af in die vallei waar dit met die warm vogtige lug van die meer in kontak kom. Dit veroorsaak lugdruk verskille en omdat die berge weerskante ’n tregter effek het kan daar baie vinnig ’n baie sterk windstorm oor die see opsteek. Die meer is ongeveer 21 km lank en 13 km breed. Dit is dus ’n groot wateroppervlak waar die wind groot golwe kan opwek. En dit is wat daardie dag gebeur het.

Hierdie storm gee vir die dissipels die geleentheid om toets of hulle dit wat hulle van Jesus geleer het kan toepas in hulle lewens. Die laaste gelykenis wat Jesus daardie dag vertel het was die gelykenis van die mosterdsaad. Die Koninkryk van God word in die gelykenis voorgestel as ’n klein mosterdsaadjie wat groei tot dit ’n groot boom is. Met ander woorde dit is die klein groepie dissipels wat die begin is van die koninkryk wat die magtigste op aarde gaan word. Nou kry die dissipels die geleentheid om te toets of hulle glo dat die Here hul gaan bewaar om hierdie belofte te verwesentlik, want daar is ’n storm wat sê “nee, dit is nie so nie.”

Ons hoor in die verhaal wie Jesus werklik is en wat Hy vir sy volgelinge kan doen. Die verhaal begin met ’n groot storm. Daarna volg daar ’n groot stilte en die verhaal eindig met ’n groot ontsag.

Die groot storm.

Ons hoor hoe Jesus ’n groot storm gebruik om ons geloof te toets. in Mar. 4:35 hoor ons hoe Jesus vir sy dissipels sê: “Kom ons vaar oorkant toe.” Hulle het in die storm beland omdat Jesus vir hulle gesê het om weg te vaar. As Jesus nie dit vir hulle gesê het nie, sou hulle nooit in die storm beland het nie. Die dissipels het in die storm beland omdat hulle gehoorsaam was. Hulle het nie in die storm beland omdat hulle iets verkeerd gedoen het nie! Nee, hulle het daar beland juis omdat hulle iets reg gedoen het!

In Mar. 4: 37 hoor ons:

Skielik het daar ’n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het.

Hierdie was nie maar net ’n gewone storm nie. Die Griekse woord wat as groot vertaal word is “mega”. Dit is ’n woord wat in Afrikaans en Engels ook al gebruik word om die grootsheid van iets te beskryf. Dit beskryf iets meer as net groot. As ons storms op ’n skaal moet plaas van gewoon aan die onderkant en baie hewig aan die bokant, dan beskryf “mega” die bopunt van daardie skaal. Dit was ’n storm wat meer was as wat hulle kon hanteer. In Luk 4:23 hoor ons dat hulle lewens inderdaad in gevaar was. Toe hulle weggevaar het was daar geen teken dat daar ’n storm sou wees nie. Toe hulle in die middel van die meer kom het daar skielik ’n storm opgesteek.

In Mar 4:40 vra Jesus die vraag “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” M.a.w. hierdie storm is ’n gelooftoets vir die dissipels en in die verhaal hoor ons wat die eienskappe van so ’n gelooftoets is.

Die eerste eienskap vir so ’n geloofstoets is ’n situasie wat menslik gesproke onmoontlik is om te hanteer. ’n Megastorm. Jesus plaas jou in ’n situasie wat jy nie alleen kan hanteer nie. ’n Situasie waar jy nie uitkoms van kan sien nie. Dit is nogal iets waarmee ons, ons kan vereenselwig, want ervaring het ons geleer dat ons nie vrygeskeld word van die storms in die lewe nie. Christene beland in onmoontlike storms juis omdat hulle christene is! Jesus het sy dissipels beveel om weg te vaar en dit het hulle in die storm laat beland. Hy bring ons in die storms.

Net soos daardie storm op die see van Galilea, ontstaan ons storms net so skielik uit die bloute. Die een oomblik is alles nog reg en dan ontvang jy die oproep, daar was ’n ongeluk. Alles verloop nog glad by die werk, dan word daar afgekondig dat die maatskappy herstruktureer moet word om koste te bespaar. Die gesprek met die dokter: “die resultate van die biopsie het positief vir kanker getoets.” Die ekonomie is nog redelik en dan word daar ’n politieke aankondiging gemaak wat veroorsaak dat daar in die loop van die naweek R500 biljoen se waarde op die aandelebeurs vernietig word en dat die wisselkoers van die rand teenoor buitelandse geldeenhede met 25% verswak. Dit tesame met die voortslepende droogte raak net te veel en besighede word gedwing om deure toe te maak.

Dit is die tipe situasies waarin ons beland. Die skuit is besig om vol water te word, die wind is oorweldigend. Al wat ons sien is die golwe wat bokant die skuit uittoring. Hierdie storm is besig om die oorhand te kry en dit lyk of ons dit nie gaan maak nie.

Christene word nie vrygeskeld van die storms in die lewe nie. Die Here plaas ons in hierdie storms om ons geloof te toets. Jesus het die dissipels beveel om te gaan, maar Hy het hulle nie alleen laat gaan nie. Hy het saam gegaan. Jesus was saam met die dissipels in die skuit en net so is die Heilige Gees saam met ons, ook wanneer ons midde in die megastorms van die lewe beland.

Die eerste eienskap van ’n geloofstoets is ’n onmoontlike situasie, maar daar is ook ’n tweede eienskap, naamlik Jesus wat stilbly. Ek bevind myself in ’n onmoontlike situasie en wanneer ek omdraai is Jesus aan die slaap agter in die boot! Wat moet ek doen wanneer ek in die storm van lewe is en die Here antwoord my nie? Is dit nie hoe ons dikwels voel nie? Ek bid en daar is nie antwoorde nie. Ek bid en my geliefde word nie gesond nie. Ek bid en ek kry nie die werk nie. Ek bid en die persoon vir wie ek bid word nie gelowig nie. Dan begin mens wonder, Here waarom slaap U?

Geloof word nie getoets wanneer dit mooiweer is nie. Vertrou jy Jesus in die storm? Vertrou jy sy stilte? Vertrou jy wanneer jy nie die antwoorde ontvang wat jy verwag nie? Vertrou jy wanneer die omstandighede nie is soos wat jy dink dit behoort te wees nie? Vertrou jy wanneer jy net die oorweldigende golwe om jou sien? Vertrou jy wanneer jou boot vol water begin word en Jesus is aan die slaap agter in die boot? Vertrou jy dat die Here vir jou omgee wanneer dit lyk of alles in die lewe teen jou is?

Let op wat die dissipels gesê het. Die megastorm tesame met Jesus se stilte het die ware toestand van die dissipels se geloof blootgelê. Die dissipels gaan nie na Jesus en vra, Here doen iets nie. Nee in Mar. 4:38 hoor ons:

“Meester, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”

Die dissipels bevraagteken nie die mag van Jesus nie. Nee, hulle bevraagteken sy liefde!

Dit is die dieptepunt van ’n geloofskrisis. Ons glo dat die Here in staat is om te help, maar ons bevraagteken of Hy wil help! Gee Hy werklik om? Sien die Here ooit raak waardeur ek gaan? Ek dien die Here al solank. Ek bid gereeld. Ek probeer werklik om na die beste van my vermoë volgens die wil van God te leef. Het die Here van my vergeet?

Luister hoe beantwoord Jesus hierdie aantyging van die dissipels “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” Met ander woorde “hoe is dit dat julle My nog nie vertrou nie? Hoe is dit dat julle My liefde bevraagteken? Dink julle werklik dat Ek nie omgee nie?” Geloof is die vaste vertroue dat die Here werklik vir my omgee en dat Hy my onvoorwaardelik liefhet.

Ons moet verstaan dat die Here aan geloofstoetse onderwerp omdat Hy ons liefhet. In Jak 1:2-4 hoor ons dat ons aan geloofstoetse onderwerp word sodat ons tot volle geestelike rypheid kom sonder enige tekortkominge. Net soos ’n spier sterk word wanneer jy dit oefen word ons geloof sterker deur gelooftoetse. God het ons te lief om jou met ’n twyfelende geloof te los. Hy wil hê dat jy deur jou geloof die werklike diepte van sy liefde leer ken. Hy wil hê dat ons in geloof moet groei sodat ons kan leer wie Hy werklik is.

Die groot stilte

Na die groot storm kom die groot stilte. Dieselfde woord wat gebruik word om die groot storm word in vers 39 gebruik om die groot stilte te omskryf. ’n Megastorm en nou ’n Megastilte. Dit is nie net ’n gewone stilte of kalmte nie. Dit is ’n buitengewone kalmte wat daar na die storm neerdaal.

Dit is belangrik om te verstaan dat die storm dadelik gekalmeer het. Jesus het die storm beveel “Hou op! Bedaar!” en dadelik het die wind gaan lê en die golwe kalmeer. Dit was nie ’n geleidelik afskaal van die storm nie. Dit wys vir ons op die almag van Jesus. As die storm maar net natuurlik bedaar het sou dit nog ’n lang ruk geduur het. Die golwe het egter dadelik bedaar en dit is net God wat dit kan doen. Dit bevestig absoluut dat Jesus God is.

Die groot ontsag.

En dit het sy dissipels met ’n groot ontsag vervul. Dit is belangrik dat ons moet verstaan dat hierdie magsvertoon nie net is om te bewys dat Jesus God is nie. Dit is ’n magsvertoon na aanleiding van die dissipel se vraag: “Meester, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” Jesus word nie wakker en bestraf die dissipels nie. Hy bestraf die wind as ’n antwoord op hulle vraag, “ja Ek gee om vir julle.” Hy gebruik sy almag om vir sy dissipels te wys hoeveel Hy werklik vir hulle omgee om hulle te verlos. Hiermee wys Hy nie net vir sy dissipels hoe groot sy mag is nie, maar hoe groot sy liefde is. Later het Hy die grote van sy liefde aan die kruis bevestig en die grote van sy mag met sy oorwinning oor die dood. Dit is die evangelie, die goeie nuus dat Jesus gekom het om ons te red uit die grootste storm wat daar in ’n mens se lewe kan wees. Die storm van God se toorn en wraak oor ons sonde.

In hierdie verhaal sê Jesus vir jou: “Ek is lief vir jou. Glo jy dit?”

Amen

25 Julie 2025

Prys die Here op jou pelgrimstog deur die lewe

 

Skrif: Psalm 134

1'n Pelgrimslied.

Kom, prys die Here,

julle almal wat Hom dien,

julle wat in die nag in die tempel van die Here staan!

2Hef julle hande in gebed op na die heiligdom 

en prys die Here!

3Mag die Here jou seën uit Sion,

Hy wat hemel en aarde gemaak het.

 

Sing Ps. 146-1 v 1

Wanneer ons met die dood van ’n geliefde gekonfronteer word, word ons tot stilstand geruk. Dit konfronteer jou met ʼn onomkeerbare onherroeplike situasie wat nie een van ons kan verander nie. Mens begin as te ware met ’n nuwe hoofstuk in jou lewe. In Psalm 134 sê die Here vir ons hoe ons in hierdie nuwe hoofstuk moet voortgaan.

Psalm 134 is die laaste van ’n versameling van vyftien Psalms (Psalms 120 – 134) wat tradisioneel deur Joodse pelgrims gesing is terwyl hulle na Jerusalem gereis het vir godsdienstige feeste.

Die reis na Jerusalem was ’n moeisame reis deur bergpasse heen waar strykrowers dikwels die reisigers voorgelê het en daarom het die pelgrims ook in groepe saamgereis vir veiligheid.

Psalm 134 was dan ook die lied wat hulle gesing het wanneer hulle laat middag hulle bestemming bereik het.

In Ps. 134:1 is die oproep om die Here te prys.

Wanneer ons terugkyk na hierdie pelgrimsliedere dan sien ons al die redes waarom hulle die Here moes prys.

ð  Psalm 120:1-7; vertel van verlossing van wrede vyande;

ð  Psalm 121:1-8; van God se voortdurende bewaring van sy volk;

ð  Psalm 122:1-9; van vreugde en vreugde wat verwesenlik word in die aanbidding van die Here;

ð  Psalm 123:1-4; van voortdurend op God wag in tye van benoudheid;

ð  Psalm 124:1-8; van verlossing van wrede vyande;

ð  Psalm 125:1-5; van ervaring van God se beskermende sorg;

ð  Psalm 126:1-6; van die vreugde van God se verlossing;

ð  Psalm 127:1-5; van die Here alleen as ons vaste Bewaarder;

ð  Psalm 128:1-6; van God se genade en goedheid waarmee Hy ons seën;

ð  Psalm 129:1-8; van baie verdrukkinge, maar van bewaring in almal;

ð  Psalm 130:1-8; van hoe God se seën mens ophef;

ð  Psalm 131:1-3; van die siel wat in die vrede van God bewaar word;

ð  Psalm 132:1-18; van die voorspoed van die Kerk; en

ð  Psalm 133:1-3 van haar eenheid; en nou in

ð  Psalm 134:1-3 is daar, soos dit ook al mag wees, die bevel om die Here te loof.

Prys die Here vir sy genade, hulp, verlossings, en onuitspreeklike seëninge wat Hy tot dusver gegee het.

Hierdie pelgrimstog wat hulle onderneem het, was nie net ’n fisiese reis om van punt A na punt B te kom nie. Dit was ook ’n geestelike reis.

Die dood van ’n geliefde bring mens tot stilstand. En wanneer mens terugdink oor hul lewensreis saam, dan kan mens nie anders as om die Here te prys vir al die seëninge wat Hy op daardie reis verskaf het nie. Kyk terug na die goeie herinneringe van die Here se seën, wat die Here vir julle gegee het, toe julle saam op daardie lewensreis was.

In Ps. 134:1 hoor ons :

Kom, prys die Here,

julle almal wat Hom dien,

julle wat in die nag in die tempel van die Here staan!

Die oproep om die Here te prys word gerig aan almal wat die Here dien en ook aan hulle wat in die nag in die tempel diens gedoen het.

Wat die Here ook hier vir ons sê, is hoe om deur die donker tye op die pad vorentoe te kom. Wanneer die pad te swaar raak, prys die Here.

In Habakuk 3:17-19 hoor ons:

17Al sou die vyeboom nie bot nie

en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,

al sou die olyfoes misluk

en die lande geen oes lewer nie,

al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie

en die beeskrale sonder beeste wees,

18nogtans sal ek in die Here jubel,

sal ek juig in God, my Redder.

19Die Here my God gee vir my krag.

Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok,

op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Prys die Here vir sy liefde en die wete dat Hy ons nooit alleen laat nie.

In Ps. 134:2 hoor ons hoe ons dit moet doen

Hef julle hande in gebed op na die heiligdom

en prys die Here!

Die Here beloof ons op soveel plekke in sy Woord dat daar waar jy God opsoek, Hy jou ook sal opsoek.

Ons hoor byvoorbeeld In 2 Kron. 15:2:

As julle by die Here is, sal Hy by julle wees; as julle na Hom vra, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.

Nader tot die Here in gebed en luister na sy troos wat Hy vir ons in sy Woord gee. Hef jou hart in gebed op na die Here toe. Bring jou sorge en hartseer, jou seerkry en pyn na Hom toe en ervaar sy troos.

In Ps. 134:3 hoor ons wat gebeur wanneer ons die Here prys:

Mag die Here jou seën uit Sion,

Hy wat hemel en aarde gemaak het.

Wanneer ons die Here prys en wanneer ons tot Hom nader, seën Hy ons. Hy seën ons met die troos dat Hy altyd daar sal wees en dat Hy ons sal dra deur die donker swaarkry tye.

Hy seën ons met die sekere wete dat elkeen wat in geloof vashou aan die soen verdienste van Jesus Christus aan die kruis en sy oorwinning oor die dood met sy opstanding, die ewige lewe sal beërwe. Wat ’n seën en troos is dit nie om te weet dat wanneer jy op die einde van jou lewensreis hier op aarde kom, dit nie die einde is nie.

Daardie geweldige troos om te weet dat jou dood ’n heerlike deurgang na die ewigheid saam met God is. Om ewig saam met God te wees, waar daar geen hartseer, smart, pyn of dood meer sal wees nie.

Die Here het ons tot hiertoe gebring. Hoe gaan ons nou hiervandaan verder?

Hou in geloof vas aan Jesus Christus as jou enigste Verlosser en Saligmaker. Kyk terug na die seëninge wat die Here vir ons alreeds gegee het op ons lewensreis en prys Hom daarvoor. Nader tot Hom in gebed en soek sy teenwoordigheid vir die pad vorentoe en weet dat Hy jou sal seën.

Prys die Here op jou pelgrimstog deur die lewe.

Amen

Antwoord met Ps. 134-1 v 4

Laat Heer u seën op ons daal,

U guns uit Sion ons bestraal!

U wat beveel en dit geskied,

Wil Heer, u seën oor ons gebied!


20 Julie 2025

In die arms van God


 Datum: 20 Jul. 2025 GK BSH & RB – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Psalm 131

Teksvers: Ps. 131 v 2

Wat maak jy wanneer die lewe jou omdop? Wat maak jy wanneer die lewe nie meer sin maak nie? Wat maak jy wanneer jy die middelpunt van ’n lewens storm word? Ons sien hoe mense deur krisisse gaan, maar dit is anders wanneer die lewenskrisisse aan jou deur klop. Wanneer die dokter vir jou sê “jammer......”. Wanneer jy die oproep kry oor ’n geliefde wat nie meer daar is nie.

Dit is nie net swaarkry wat die lewe moeilik maak nie. Soms raak jy so vasgevang in die gang van die lewe, dat jy jouself verloor. Nog ’n dag, nog ’n afspraak in jou besige lewe.................

Die Here gee vandag vir ons Psalm 131 om ons te help om die onstuimigheid in ons gemoed tot ruste te bring. Dit is 'n Psalm met 'n lewens-veranderende perspektief wat in 'n baie klein pakkie verpak is.

Die Psalm is maar drie verse lank, een van die kortste Psalms, maar die inhoud daarvan is groot. Die Here gee vandag vir ons hierdie kort Psalm om die onrus in ons gemoed stil te maak, om stilte en gemoedsrus in sy arms te vind.

Dawid begin hierdie Psalm met die grootste bron van onrus in die mens se gemoed. Die eie ek en selfbelangrikheid:

Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here.

Hy bely hier dat hy maar net 'n nietige mens is wat God se sorg in sy lewe nodig het. Om rustigheid in jou lewe te vind, is dit nodig dat jy verby jouself moet kyk. Om heeltyd mense te moet oortuig hoe belangrik jy in die lewe is, bring baie onrus in jou gemoed. Om gemoedsrus te vind is dit nodig dat jy van jouself af moet wegdraai.

Dit beteken egter nie, dat jy nie belangrik is nie. Jy is vir God kosbaar. Dit is juis omdat jy so kosbaar vir God is dat Hy wil hê dat jy van jouself af moet wegdraai.

Hy het jou so lief dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Daarom doen God ook moeite met jou.

Daarom wil Hy hê dat jy die fokus van jouself af moet draai na Hom toe sodat Hy uit sy genade vir jou rus en stilte in jou lewe kan gee. Dit eers wanneer jy besef dat jy God se sorg nodig het dat jy werklik rus en stilte in sy arms kan vind.

Dan gaan Dawid aan na die tweede bron van onrus, die strewe om alles in jou lewe self te beheer.

Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,

dinge wat bo my vermoë is.

Een van die groot redes wat onrus in jou gemoed bring is die strewe om dit in die lewe wat jy nie kan beheer nie, te wil beheer nie.

Wanneer die lewe onderstebo raak wil ons weet “hoekom?” Hoekom het hierdie siekte gekom? Kan dit nie maar net weggebly het sodat die lewe normaal kan aangaan nie? Hoekom moet ons deur ongeneeslike siektes geteister word? Hoekom moet mense wat nog jonk is doodgaan?

Ons wil verstaan waarom die lewe is soos dit is. Ons wil in beheer wees van ons lewens. Die probleem is egter dat ons nie alles kan verstaan of beheer nie.

In Pred. 8 v 17 sê die Here vir ons:

die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy verstaan nie. Al sê die wyse hy weet, kan hy nie verstaan nie.

Hier in Psalm 131 gee Dawid sy reg op om te verstaan. Hy erken dat daar dinge in hierdie lewe is wat hy nie kan beheer nie.

Geliefdes, dit is OK om nie alles te verstaan nie. Dit is OK om te aanvaar dat die lewe nie altyd sin maak nie. Wat Dawid hier sê is dat hy God vertrou om sy lewensloop te bepaal. Hy vertrou dat God beter weet, al lyk dit nie vir hom of die lewensloop wat God bepaal het, sin maak nie.

Hoe het Dawid dit reggekry? Ons hoor in Ps. 131 v 2 Hy het rus en kalmte by God gaan soek.

Dit is egter nie 'n passiewe aksie nie. Die 1933/53 OAV gee die betekenis van vers 2 bietjie duideliker weer:

Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak

Dit is 'n aktiewe aksie waar jy die fokus van jouself af wegneem en dit op iets groters as jy plaas. Waar jy van jouself af wegkyk en kyk na God in jou lewe. Waar jy besluit om jou volle vertroue op God te plaas. Waar jy besluit om jou deur die Heilige Gees te laat lei.

Maar ons moet dit nie verkeerd verstaan nie. Dit gaan nie hieroor dat jy in eie krag harder moet probeer nie, want as jy dit sou doen, sal jy net nog meer onrus en onvrede in jou gemoed veroorsaak, omdat jy dit nie gaan regkry nie.

Maar hoe moet jy dit dan doen?

Dawid gebruik hier die beeld van 'n moeder se liefde en versorging van haar kind om God se liefde en versorging vir ons te verduidelik.

Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.

Die 1933/53 OAV wat 'n meer letterlike vertaling is, gee die betekenis van hierdie beeld nog duideliker deur:

soos ’n gespeende kind by sy moeder, soos ’n gespeende kind is my siel in my.

'n Kind wat gespeen is begin nou al bietjie meer onafhanklik raak om die wêreld op sy eie te verken. Wanneer dinge egter te veel vir die kindjie raak, hardloop hy na sy ma toe.

Dan gaan dit nie meer vir die kind oor die moedersmelk wat hy by sy ma kan kry nie. Dit gaan oor sy ma as persoon. Wanneer die wêreld te veel raak vir die kind, vind hy rustigheid en kalmte in die arms van sy moeder. Sy is vir hom 'n bron van kalmte en vrede.

’n Kind wat nog nie gespeen is nie, se fokus is om gevoed te word en die onmiddellike tevredenheid wat hy by sy moeder kan vind. Die hooffokus is om sy onmiddellike behoeftes te bevredig. Dit gaan oor dit wat die kind by sy moeder kan kry eerder as wat dit om haar as persoon gaan.

’n Kind wat gespeen is aan die ander kant, omhels sy moeder uit 'n begeerte na liefde, nabyheid en geselskap. Dit gaan hier vir die kind om die ma as persoon eerder as om dit wat hy by haar kan kry.

God is vir Dawid sy bron van kalmte en vrede. Soos 'n kind by sy ma kalmte en vrede soek, moet jy by God kalmte en vrede soek.

Nie vir dit wat God vir jou kan gee nie, maar omdat Hy God is. Jy vind vrede en geluk by God, nie omdat Hy moeilike omstandighede wegvat nie, maar juis omdat Hy teenwoordig is in jou lewe.

In 2 Kor. 12 v 7 - 9 hoor ons hoe Paulus vir die Here vra om ’n moeilike omstandigheid uit sy lewe weg te vat, maar die Here het gesê: “Nee! My genade is vir jou genoeg.”

Dis die teenwoordigheid van God en sy genade in jou lewe wat vir jou rus en vrede gee. Ware gemoedsrus is nie die afwesigheid van moeilike omstandighede nie. Dit is die teenwoordigheid van God!

As jy in Jesus glo, is jy 'n kind van God soos ons in
Joh. 1 v 12 hoor:

Maar aan almal wat Jesus aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Die aktiewe aksie wat jy moet doen om by God rus en kalmte te vind, is om te glo dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is en dan moet jy op grond daarvan na God toe kom. Om God op te soek vir wie Hy is en nie vir dit wat Hy vir kan doen nie. Soek na die teenwoordigheid van God in jou lewe. Bid dat die Heilige Gees ’n werklikheid in jou lewe sal wees. Om toe te laat dat die Heilige Gees jou lei.

Wanneer jy dit doen sal jy vind dat jy in die arms van God nie omgee as die lewe nie is soos wat jy gedink het dit moet wees nie. Jy vind berusting en troos in die arms van God. Dan is dit nie jou omstandighede wat bepaal of jy rus en vrede het in die lewe nie. Die teenwoordigheid van God gee vir jou rus en vrede selfs wanneer die wêreld op sy kop staan.

Dawid sluit hierdie Psalm af met 'n opdrag om vas te hou aan die rus en vrede wat jy by God vind:

Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.

Wag op die Here, is die sekere wete dat God daar is vir jou, dat Hy vir jou sal sorg hier waar jy nou is. Wag op die Here beteken om te aanvaar dat jy nie alles in die lewe kan beheer nie.

Wag op die Here is die vaste vertroue dat Hy jou sal dra deur die storm. Dit is om vas te glo dat Hy jou beste belange op die hart dra, self wanneer Hy nie die moeilike omstandighede wegneem nie. Wag op die Here is om steeds te vertrou dat God in beheer is, selfs wanneer dit nie vir jou lyk of die lewe sin maak nie.

Wag op die Here beteken ook dat jy vas en seker glo dat wanneer jy hierdie lewe verlaat, jy ewig saam met God sal wees waar daar geen hartseer, pyn of dood meer sal wees nie.

Vind rus in die arms van God deur jou eie onvermoë te bely en te erken dat jy Hom nodig het. Gee die reg op om alles te wil verstaan en beheer in hierdie lewe en plaas jou vertroue op God.

Glo dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is, want dit gee vir jou die reg om troos en tevredenheid by God te vind soos wat 'n kindjie by sy moeder tevredenheid vind. Wag met 'n verwagting en hoop wat op God gefokus is.

Geliefdes jou omstandighede bepaal nie of jy rus en vrede in hierdie lewe gaan hê nie. Dis net in die arms van God waar jy rus en vrede sal vind. Gaan soek na rus vrede in die arms van God.

Amen


06 Julie 2025

Die goeie nuus van Jesus Christus

 


6 Jul. 2025 GK RB

Mat. 1 v 1 – 17

In die evangelie volgens Mateus begin die verhaal van Jesus Christus se geboorte anders as wat mens sou verwag. Dit begin nie met ʼn vertelling van die gebeure wat daar plaasgevind het nie, maar wel met ʼn geslagsregister. Mense sien dikwels die geslagsregisters in die Bybel as vervelig en 
Mat. 1 v 1 – 17 word ook dikwels geïgnoreer.

 Hierdie inleiding tot verhaal van Jesus Christus se geboorte is egter belangrik want die verhaal waarvan ons hier hoor gaan oor veel meer as net die geboorte van ʼn kind. Dit is die verhaal van die koms van die mees belangrikste persoon in die geskiedenis van die mensdom wat beplan is voor die grondlegging van die aarde.

 Die geslagsregister vertel ons baie meer as wat ons op die oog af sou dink. Die geslagsregister sê vir ons:

1.         die evangelie is Goeie Nuus, nie goeie advies nie.

2.         Verder sê dit ook vir ons die Evangelie is anders as wêreldse waardes.

 In die eerste plek hoor ons

Evangelie is Goeie Nuus, nie goeie advies nie

Die verhaal begin nie met “Eendag lank, lank gelede ....” nie. Dis hoe mens gewoonlik ʼn sprokie begin wat nie werklik waar is nie. Wanneer Mateus begin met “dit is die geslagsregister van Jesus Christus,” dan sê hy daarmee dat hierdie verhaal gegrondves is in die geskiedenis. Dit is nie net ʼn sprokie nie. Dit het werklik gebeur.

 Sprokies word dikwels gebruik om ʼn morele lessie tuis te bring. Dit sê vir ons hier is goeie advies oor hoe jy jou lewe behoort te leef. Hierdie verhaal vertel vir ons van ʼn gebeurtenis in die geskiedenis wat belangrike implikasies in jou lewe het. Dit is goeie nuus wat jou lewe sal verander.

 Die verskil tussen advies en goeie nuus kan soos volg verduidelik word. Sê nou maar daar is ʼn vyand wat jou bedreig. Dan het jy advies nodig oor wat om te doen, watter maatreëls moet jy tref om jouself te verdedig sodat jy jouself kan red van daardie vyand. Advies gaan dus oor iets wat jy nog moet doen.

 Goeie nuus vertel vir jou van iets wat reeds gebeur het. Dit is die goeie nuus dat die vyand wat jou bedreig het, oorwin is. Jy hoef nie meer verdegingsmure te bou nie. Jy hoef nie te vlug nie. Die koning het die vyand oorwin en dit verander jou lewe drasties.

 Ons hoor nie hier advies oor wat ons moet doen om onsself te red nie. Ons hoor van die goeie nuus wat God gedoen het. Jy hoef nie jouself te red nie. God het gekom om jou te red. Dis die verskil tussen die Christendom en al die ander godsdienste. Ander godsdienste gee advies oor wat jy behoort te doen om gered te word sodat jy geestelik vervul kan wees. Die goeie nuus van Jesus Christus sê vir jou wat Jesus gedoen het om jou te red en dit gee vir jou die geestelike vervulling om met God versoen te wees.

 Christenskap is dus nie primêr oor goeie advies oor wat jy behoort te doen om jou lewe te verbeter nie. Dit is wel waar dat die evangelie groot implikasies het oor hoe jou lewe daardeur verander word, maar eerstens is die evangelie die goeie nuus dat jy gered is. Jy is nie gered deur iets wat jyself gedoen het nie, maar wel deur dit wat Jesus vir jou gedoen het.

 Jy begin dus by Christus en nie by advies oor om ʼn nuwe blaadjie oor te slaan nie. Jy begin deur die goeie nuus te glo van die verhaal van Jesus wat werklik in die geskiedenis gebeur het. Jy glo dat God werklik in Jesus Christus mens geword het. Jy glo dat Jesus Christus vir jou geleef en gely het. Jy glo dat Hy vir jou sondes aan ʼn vervloekte kruishout gesterf het. Jy glo dat Jesus die dood oorwin het en dit verander jou hele lewe.

 Die goeie nuus van die geboorte van Jesus Christus begin met ʼn geslagsregister wat vir ons sê “dit is nie net nog ʼn sprokie met ʼn morele lessie nie. Nee dit is ʼn ware verhaal van een van die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die mensdom.”

 Dan hoor ons die tweede plek die

Evangelie is anders as wêreldse waardes

Om te verstaan wat hierdie geslagsregister nog verder beteken moet ons in ag neem wat die kultuur gebruike was in die tyd waarin Mateus geleef het.

 Ons leef in ʼn tyd met ʼn individualistiese kultuur waarin jy jouself by ander aanbeveel met dit wat jy in die lewe bereik het. Op jou CV voeg jy jou akademiese kwalifikasies, jou werksondervinding en dit wat in die lewe bereik het in.

 Mateus het in ʼn tyd geleef wat meer op die gemeenskap gefokus was waarin jou familie en herkoms baie belangrik was. Mat. 1 v 1 – 17 is dus baie meer as net ʼn blote geslagsregister. Dit moet inderdaad as ʼn CV beskou word. Net soos wat ons vandag ʼn CV gebruik om onsself aan te beveel, het ʼn geslagsregister gedien om te sê, “Dit is wie ek is.”

 Net soos wat die mense vandag ook hul CVs opstel om al die positiewe dinge te beklemtoon en die negatiewe weg te laat, het die mense van daai tyd ook hul geslagsregisters gedokter om net die positiewe te beklemtoon. So het Herodus bv. baie name uit sy geslagsregister weggelaat omdat hy nie wou gehad het dat die weggelate persone met hom geassosieer sou word nie.

 Die doel van die geslagsregister was om mense te beïndruk met die hoë kwaliteit en eerbiedwaardigheid van jou herkoms. Mateus doen egter net mooi die teenoorgestelde met hierdie geslagsregister. Dit is skokkend anders as die geslagsregisters van sy tyd.

 Daar word bv. vyf vroue in die geslagsregister genoem, iets wat in die patriargale samelewing van sy tyd ongehoord was. Tog word hierdie vroue in Jesus se geslagsregister ingesluit. Verder is daar drie van die vroue, Tamar, Ragab en Rut wat nie deel was van die Israelitiese volk was nie.

 Twee Kananiete en ʼn Moabiet. Die Jode van destyds het diegene wat buite die volk was as onrein beskou en hulle was bv. nie in die tabernakel of tempel toegelaat nie. Hulle was van ongewenste rasse, maar tog is hulle ingesluit in Jesus se geslagsregister.

 Daar is nog meer hieraan verbonde. Deur die noem van hierdie vroue herinner Mateus sy gehoor van die mees immorele en slegte insidente in die Bybel. Tamar het Juda verlei om bloedskande te pleeg omdat hy nie sy jongste seun aan haar wou gee volgens die gebruik van sy tyd waar broers die vrou van hulle broer wat gesterf het as vrou moes neem sodat daar vir die afgestorwe broer ʼn nageslag kon wees.

 Alhoewel Jesus nie van Serag afgestam het nie word hy ook genoem om die hele skandelike verhaal in herinnering te roep. Daardie disfunksionele familie was deel van Jesus se stamboom. Ragab was ʼn prostituut. Nie juis iemand in jou nageslag aan wie jy die mense wil herinner nie.

 Koning Dawid word ook genoem en op die oog af sou mens dink dat dit darem die naam van ʼn vooraantaande persoon is wat genoem word. Die verwysing na Dawid is egter nie vleiend nie. In die geslagsregister word hy genoem as die vader van Salomo, maar dan word daar bygevoeg “by die vrou van Urija.” Dit laat die klem val op Dawid se skandes, sy owerspel en moord op een van sy getrouste manskape.

 Hier in die geslagsregister van Jesus hoor ons van die morele buitestaanders, owerspeliges, bloedskandes, prostitute en selfs vooraanstaandes soos Dawid wat morele mislukkings was. Die onreines wat deur die wet van Moses uitgesluit is om in die teenwoordigheid van God te wees, was almal deel van Jesus se voorgeslag.

 Wat sê dit vir ons? Dit sê in die eerste plek dat mense wat deur kultuur uit die samelewing uitgesluit word en selfs hulle wat deur die wet van God uitgesluit word, deel kan word van Jesus se familie. Dit maak nie saak wat jou agtergrond is nie of wat jy gedoen het nie of selfs of jy ʼn moordenaar is of nie. As jy in Jesus glo word jy deur de genade in Jesus Christus; wat jou sondes bedek; deel van die huisgesin van God. Jesus bedek jou sondes met sy bloed en versoen jou met God.

 In die Bybelse tyd was dit so dat indien jy rein en respektabel wou bly jy kontak met die onreines moes vermy sodat jy nie deur hulle besoedel kon word nie. Jesus verander dit egter want sy heiligheid word nie deur jou onreinheid besoedel nie. Wanneer jy met Jesus in aanraking kom, word jy deur sy heiligheid skoon gemaak. Daarom kan jy na Hom toe kom ongeag van wat jy gedoen het. Jesus reinig jou van jou sondes.

 Aan die ander kant sê dit ook vir ons dat selfs die beroemde koning Dawid net op grond van God se genade deel kan word van God se gesin. Maak nie saak of jy deel is van die vooraanstaandes van die samelewing nie, dit is slegs op grond van God se genade dat jy deel kan word van sy gesin. Dit is slegs op grond van wat Jesus gedoen het dat jy deel kan word van sy gesin. Niemand is sonder sonde nie, selfs nie eens die mees vooraanstaande persoon in die samelewing nie.

 In alle kulture word daar neergekyk op mense. Die rykes kyk neer op die armes, sekere rasgroepe kyk neer op ander rasgroepe. Die wêreld gebruik die maatstawe van sosiale status, rykdom en hoë aansien van jou herkoms om te bepaal of jy aanvaarbaar is of nie.

 In die gesin van Jesus Christus is dit egter anders. Die waardes wat buite die kerk so belangrik is, is nie vir God belangrik nie. Al wat belangrik is, is bekering en geloof in Jesus Christus.

Samevatting

 Die goeie nuus van Jesus Christus begin met ʼn geslagsregister. Dit sê vir ons dat dit ʼn verhaal is wat in die waarheid van die geskiedenis gegrondves is. Daarom is die Evangelie goeie nuus en nie goeie advies nie. Dit vertel die goeie nuus van wat Jesus reeds vir jou gedoen het.

 Verder sê dit vir ons dat die wêreldse waardes soos status, rykdom, ras en geslag, nie bepaal of jy deel word van Jesus se gesin of nie. Dit is slegs op grond van God se genade in Jesus Christus dat jy deel word van sy gesin.

 Daarom geliefdes. Glo in die evangelie. Glo in die ware verhaal van die goeie nuus van Jesus Christus en ervaar die rus en vrede wat net by God te vinde is.

Amen


As die HERE nie saamgaan nie, is alles tevergeefs

 

6 Jul 2022 GK BSH

Eksodus 33 – Teksverse Eks. 33:4, 15, 12, 16 & 18

Ons staan nou aan die begin van ’n nuwe hoofstuk op ons pad vorentoe en daarom is dit goed dat ons net so bietjie besin oor die pad vorentoe.

Eksodus 33 gee vir ons ’n goeie raamwerk om te besin oor die pad vorentoe.

Op hulle pad na die beloofde land vanaf Egipte se slawerny het die Israeliete by Sinaiberg oorgestaan waar die HERE sy wet vir hulle gegee het. Terwyl Moses op die berg was waar die Here vir hom verdere voorskrifte gegee het, het die volk ongeduldig begin raak en hulle het vir Aaron gevra om vir hulle ’n goue kalf te maak (Eks. 32).

Dit is teen hierdie agtergrond waar Israel die verbond tussen hulle en God verbreek het, dat die Here vir Moses in Eks. 33:1 sê dat die volk verder moet trek na die beloofde land toe, maar dat Hy nie met hulle sou saamgaan nie.

Dit mag dalk klink of die volk gestraf word, maar dit is eintlik die Here se genade wat Hy hier betoon. God is heilig en daarom laat Hy nie sonde toe nie. Die Here wil nie saamtrek nie want die volk se sonde sal maak dat hulle verdelg word.

In Eksodus 33:4 hoor ons dat hierdie uitspraak die volk hard getref het. Alhoewel die Here hulle steeds belowe dat hulle in die beloofde land sou ingaan, besef hulle dat die land van melk en heuning sonder God eintlik hel sal wees. Hoe dikwels maak ons nie die fout om God se seëninge te wil hê i.p.v. God self nie?

In die volk se reaksie sien ons ook wat nodig is wanneer daar sonde tussen jou en God staan. Die feit dat hulle nie juwele verder gedra het nie, wys dat hulle getreur het oor die verlies van God se teenwoordigheid in hul lewens. Hulle wou die saak tussen hulle en God reg stel.

Met die tent van ontmoeting wat Moses buite die laer opgestel het, het hy ook vir die volk die geleentheid gegee om God weer op te soek en dit is wat hulle inderdaad gedoen het. Hulle het hulself voor God verootmoedig.

Om te weet hoe groot jou sonde en ellende is, moet jy jouself verootmoedig voor God. Jy moet verstaan dat sonde verwydering tussen jou en God bring. Jy moet ’n diepgaande berou oor jou sonde hê en daar moet ’n opregte begeerte by jou wees om die saak tussen jou en God reg te stel. Jy moet God aktief weer opsoek.

Geliefdes, waar staan ons as gemeente vandag teenoor God? Is daar nog steeds die opregte begeerte dat God deel van ons lewens moet wees? Het ons nog tyd vir God in ons lewens? Of gebruik ons Hom maar net soos ’n noodwiel om ons probleme weg te vat? Soek ons net die voordele wat God gee of soek ons God self? Dis vrae wat ons elkeen vir onsself moet afvra. Waar staan ek in my verhouding met God?

Moses het vir die volk ingetree by God en dit is ’n heenwysing na Jesus Christus wat by God vir ons ingetree het met sy kruisoffer.

Ons sien ook hier hoe belangrik dit is dat die leierskap ’n voorbeeld vir die volk moet wees. Omdat Moses die Here opgesoek het in die tent van ontmoeting, het die volk ook na die wil van Here kom vra. Hierin sien ons hoe groot die verantwoordelikheid is wat op ons as kerkraad rus. Ons moet die gemeente lei hierin.

In Eksodus 33:13 bid Moses:

As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk.”

Om te weet wat God verwag is dit noodsaaklik om God te leer ken.

In Eksodus 33:15 hoor ons dat Moses vir Here sê:

“As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie.

Verstaan mooi hoe belangrik dit is. As die Here nie saam met ons as gemeente gaan nie, help dit nie dat ons enigsins verder kerk probeer wees nie. As die Here nie saamgaan nie, is alles tevergeefs en dan kan ons maar net sowel die deure sluit.

In enige besluit wat ons as gemeente neem vir die pad vorentoe moet die eerste en belangrikste vraag wees: “wat wil die Here hê dat ons moet doen?” Want dit is immers sy kerk. Jesus Christus is die Hoof van die kerk. Hy is die Hoof van ons gemeente. Dit is sy kerk!

In Eksodus 33:15 & 16 hoor ons wat Moses se motivering is waarom die Here saam met die volk moet gaan:

Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”

Die kerk van die Here moet anders as die wêreld lyk. Die hartseer in vandag se tyd is dat die kerk onsigbaar binne die wêreld geword het omdat die kerk al hoe meer soos die wêreld begin lyk. Daarom kan ons nie maar net met die wêreld saamgaan wat so gefokus is op menseregte nie.

Ons fokus moet op God wees soos Hy Homself in die Bybel openbaar. God moet in ons lewens sigbaar wees. Daarom moet ons onsself ook dringend afvra: “Hoe sigbaar is ons gemeente vir die wêreld daarbuite?”

Navorsing het getoon dat een van die redes hoekom mense wat kerklos geraak het weer terug sal bring kerk toe, is dat hulle God op ’n besonderse en persoonlike manier wil beleef. Met ander woorde, God moet ’n werklikheid wees. Hulle wil nie net leë rituele beleef nie. Hulle wil God beleef.

Bied ons gemeente dit vir die mense wat soekend is daarbuite?

Moses het vir die volk ingetree en die Here het besluit om wel met die volk saam te gaan, maar Moses wou nog meer hê. Hy wou die glorie van God aanskou soos ons hoor in Eks. 33:18:

Toe vra Moses: “Kan ek maar asseblief sien hoe U lyk?”

Wat beteken dit om God te ken en in ’n verhouding met Hom saam te leef?

Daar is ’n verskil tussen om maar net te glo dat God bestaan op ’n intellektuele vlak en om deur die bewegings van rituele aanbidding te gaan teenoor om God persoonlik te ken en om sy liefde en heerlikheid in jou lewe te ervaar. Ons is na die beeld van God geskape en daarom is ons lewensdoel om in ’n verhouding met Hom saam te leef.

Wanneer jy werklik begin verstaan dat God jou geskep het om in ’n verhouding met Hom saam te leef, gaan daar ’n groot waarheid vir jou oopgaan. Dan sal jy die wonder begin beleef dat jy saak maak omdat jy vir God kosbaar is. Dan sal jy verstaan dat jou lewe betekenis het.

Om in ’n verhouding met God saam te leef sal jou ook laat verstaan hoeveel God se genade vir jou beteken. Dan sal jy verstaan hoe belangrik God se genade is deurdat Hy moeite maak met jou.

Wanneer God nie net meer ’n intellektuele onderwerp vir jou is nie, maar persoonlik teenwoordig in jou lewe is, sal jy sien hoe mooi God is. Wanneer jy byvoorbeeld die natuur bewonder of ’n kunswerk waardeer sal jy die skoonheid van God daarin raaksien. Die lewe maak sin wanneer jy die wonder van God daarin beleef.

Dan sal Artikel 1 van die NGB nie maar net nog iets wees wat ons sê nie, maar sal dit vir jou ’n lewende werklikheid wees dat God ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die aller oorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Moses mag net God se agterkant gesien het en daarom het die Here hom in ’n rotsskeur met sy hande toegemaak sodat hy nie verdelg word nie. ’n Sondige mens kan nie die volle heiligheid van God aanskou nie want God se heiligheid verdelg sonde.

God wat Moses met sy hande bedek het, is ’n heenwysing na Jesus Christus wat ons sonde met sy bloed bedek sodat ons nie verdelg word nie. Op grond van Jesus Christus se soenoffer aan die kruis, mag ons tot God nader.

In hierdie lewe kan ons God nie fisies sien nie. Ons sien Hom slegs met ons geloofsoë. Maar God belowe ons dat ons Hom van aangesig tot aangesig gaan sien en vir ewig saam met Hom sal wees. Die ewige lewe begin egter nie eers daar ver in die toekoms nie. Dit begin nou reeds deur jou geloof in Jesus Christus. Jy kan nou reeds God se teenwoordigheid in jou lewe beleef.

Geliefdes, hoe beleef jy die werklikheid van God se teenwoordigheid in jou lewe?

Jy moet verstaan dat sonde verwydering tussen jou en God bring. Verootmoedig jou voor God. Glo dat jou sondes vergewe is op grond van Jesus Christus se soenoffer aan die kruis en dat Hy met sy opstanding vir jou ’n nuwe lewe gee om saam met God te leef.

Bid dat God sy Gees vir jou sal gee. In Lukas 11:13 verseker die Here ons dat Hy die Heilige Gees aan elkeen wat Hom daarvoor vra, sal gee.

Maak seker jou motivering vir God se teenwoordigheid is opreg. Hoe lyk jou gebedslewe? Bid jy net vir God se gawes of bid jy om God al hoe beter te leer ken?

Maak tyd vir God in jou lewe. Luister na Hom deur tyd te maak om na Hom in sy Woord te luister. Antwoord Hom deur gebed.

Hoe lyk die pad vorentoe vir ons gemeente? Een ding is seker. As die Here nie saamgaan nie, is alles tevergeefs.

Amen