6 Jul. 2025 GK RB
Mat. 1 v 1 – 17
In die
evangelie volgens Mateus begin die verhaal van Jesus Christus se geboorte
anders as wat mens sou verwag. Dit begin nie met ʼn vertelling van die gebeure
wat daar plaasgevind het nie, maar wel met ʼn geslagsregister. Mense sien dikwels
die geslagsregisters in die Bybel as vervelig en
Mat. 1 v 1 – 17 word ook
dikwels geïgnoreer.
Hierdie
inleiding tot verhaal van Jesus Christus se geboorte is egter belangrik want
die verhaal waarvan ons hier hoor gaan oor veel meer as net die geboorte van ʼn
kind. Dit is die verhaal van die koms van die mees belangrikste persoon in die
geskiedenis van die mensdom wat beplan is voor die grondlegging van die aarde.
Die
geslagsregister vertel ons baie meer as wat ons op die oog af sou dink. Die
geslagsregister sê vir ons:
1.
die evangelie is Goeie Nuus, nie goeie advies
nie.
2.
Verder sê dit ook vir ons die Evangelie is
anders as wêreldse waardes.
In die eerste
plek hoor ons
Evangelie is Goeie Nuus, nie goeie advies nie
Die verhaal
begin nie met “Eendag lank, lank gelede ....” nie. Dis hoe mens gewoonlik ʼn
sprokie begin wat nie werklik waar is nie. Wanneer Mateus begin met “dit is die
geslagsregister van Jesus Christus,” dan sê hy daarmee dat hierdie verhaal
gegrondves is in die geskiedenis. Dit is nie net ʼn sprokie nie. Dit het werklik
gebeur.
Sprokies word
dikwels gebruik om ʼn morele lessie tuis te bring. Dit sê vir ons hier is goeie
advies oor hoe jy jou lewe behoort te leef. Hierdie verhaal vertel vir ons van
ʼn gebeurtenis in die geskiedenis wat belangrike implikasies in jou lewe het.
Dit is goeie nuus wat jou lewe sal verander.
Die verskil
tussen advies en goeie nuus kan soos volg verduidelik word. Sê nou maar daar is
ʼn vyand wat jou bedreig. Dan het jy advies nodig oor wat om te doen, watter
maatreëls moet jy tref om jouself te verdedig sodat jy jouself kan red van
daardie vyand. Advies gaan dus oor iets wat jy nog moet doen.
Goeie nuus
vertel vir jou van iets wat reeds gebeur het. Dit is die goeie nuus dat die
vyand wat jou bedreig het, oorwin is. Jy hoef nie meer verdegingsmure te bou
nie. Jy hoef nie te vlug nie. Die koning het die vyand oorwin en dit verander
jou lewe drasties.
Ons hoor nie
hier advies oor wat ons moet doen om onsself te red nie. Ons hoor van die
goeie nuus wat God gedoen het. Jy hoef nie jouself te red nie. God het gekom om
jou te red. Dis die verskil tussen die Christendom en al die ander godsdienste.
Ander godsdienste gee advies oor wat jy behoort te doen om gered te word sodat
jy geestelik vervul kan wees. Die goeie nuus van Jesus Christus sê vir jou wat
Jesus gedoen het om jou te red en dit gee vir jou die geestelike vervulling om
met God versoen te wees.
Christenskap
is dus nie primêr oor goeie advies oor wat jy behoort te doen om jou lewe te
verbeter nie. Dit is wel waar dat die evangelie groot implikasies het oor hoe
jou lewe daardeur verander word, maar eerstens is die evangelie die goeie nuus
dat jy gered is. Jy is nie gered deur iets wat jyself gedoen het nie, maar wel
deur dit wat Jesus vir jou gedoen het.
Jy begin dus
by Christus en nie by advies oor om ʼn nuwe blaadjie oor te slaan nie. Jy begin
deur die goeie nuus te glo van die verhaal van Jesus wat werklik in die
geskiedenis gebeur het. Jy glo dat God werklik in Jesus Christus mens geword
het. Jy glo dat Jesus Christus vir jou geleef en gely het. Jy glo dat Hy vir
jou sondes aan ʼn vervloekte kruishout gesterf het. Jy glo dat Jesus die dood
oorwin het en dit verander jou hele lewe.
Die goeie
nuus van die geboorte van Jesus Christus begin met ʼn geslagsregister wat vir
ons sê “dit is nie net nog ʼn sprokie met ʼn morele lessie nie. Nee dit is ʼn ware
verhaal van een van die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die
mensdom.”
Dan hoor ons
die tweede plek die
Evangelie is anders as wêreldse waardes
Om te
verstaan wat hierdie geslagsregister nog verder beteken moet ons in ag neem wat
die kultuur gebruike was in die tyd waarin Mateus geleef het.
Ons leef in ʼn
tyd met ʼn individualistiese kultuur waarin jy jouself by ander aanbeveel met
dit wat jy in die lewe bereik het. Op jou CV voeg jy jou akademiese
kwalifikasies, jou werksondervinding en dit wat in die lewe bereik het in.
Mateus het in
ʼn tyd geleef wat meer op die gemeenskap gefokus was waarin jou familie en
herkoms baie belangrik was. Mat. 1 v 1 – 17 is dus baie meer as net ʼn blote
geslagsregister. Dit moet inderdaad as ʼn CV beskou word. Net soos wat ons
vandag ʼn CV gebruik om onsself aan te beveel, het ʼn geslagsregister gedien om te
sê, “Dit is wie ek is.”
Net soos wat
die mense vandag ook hul CVs opstel om al die positiewe dinge te beklemtoon en
die negatiewe weg te laat, het die mense van daai tyd ook hul geslagsregisters
gedokter om net die positiewe te beklemtoon. So het Herodus bv. baie name uit
sy geslagsregister weggelaat omdat hy nie wou gehad het dat die weggelate
persone met hom geassosieer sou word nie.
Die doel van
die geslagsregister was om mense te beïndruk met die hoë kwaliteit en
eerbiedwaardigheid van jou herkoms. Mateus doen egter net mooi die
teenoorgestelde met hierdie geslagsregister. Dit is skokkend anders as die
geslagsregisters van sy tyd.
Daar word bv.
vyf vroue in die geslagsregister genoem, iets wat in die patriargale samelewing
van sy tyd ongehoord was. Tog word hierdie vroue in Jesus se geslagsregister
ingesluit. Verder is daar drie van die vroue, Tamar, Ragab en Rut wat nie deel
was van die Israelitiese volk was nie.
Twee
Kananiete en ʼn Moabiet. Die Jode van destyds het diegene wat buite die volk was
as onrein beskou en hulle was bv. nie in die tabernakel of tempel toegelaat
nie. Hulle was van ongewenste rasse, maar tog is hulle ingesluit in Jesus se
geslagsregister.
Daar is nog
meer hieraan verbonde. Deur die noem van hierdie vroue herinner Mateus sy
gehoor van die mees immorele en slegte insidente in die Bybel. Tamar het Juda
verlei om bloedskande te pleeg omdat hy nie sy jongste seun aan haar wou gee
volgens die gebruik van sy tyd waar broers die vrou van hulle broer wat gesterf
het as vrou moes neem sodat daar vir die afgestorwe broer ʼn nageslag kon wees.
Alhoewel
Jesus nie van Serag afgestam het nie word hy ook genoem om die hele skandelike
verhaal in herinnering te roep. Daardie disfunksionele familie was deel van
Jesus se stamboom. Ragab was ʼn prostituut. Nie juis iemand in jou nageslag aan
wie jy die mense wil herinner nie.
Koning Dawid
word ook genoem en op die oog af sou mens dink dat dit darem die naam van ʼn
vooraantaande persoon is wat genoem word. Die verwysing na Dawid is egter nie
vleiend nie. In die geslagsregister word hy genoem as die vader van Salomo,
maar dan word daar bygevoeg “by die vrou van Urija.” Dit laat die klem val op
Dawid se skandes, sy owerspel en moord op een van sy getrouste manskape.
Hier in die
geslagsregister van Jesus hoor ons van die morele buitestaanders, owerspeliges,
bloedskandes, prostitute en selfs vooraanstaandes soos Dawid wat morele mislukkings
was. Die onreines wat deur die wet van Moses uitgesluit is om in die
teenwoordigheid van God te wees, was almal deel van Jesus se voorgeslag.
Wat sê dit
vir ons? Dit sê in die eerste plek dat mense wat deur kultuur uit die samelewing
uitgesluit word en selfs hulle wat deur die wet van God uitgesluit word, deel
kan word van Jesus se familie. Dit maak nie saak wat jou agtergrond is nie of
wat jy gedoen het nie of selfs of jy ʼn moordenaar is of nie. As jy in Jesus glo
word jy deur de genade in Jesus Christus; wat jou sondes bedek; deel van die
huisgesin van God. Jesus bedek jou sondes met sy bloed en versoen jou met God.
In die
Bybelse tyd was dit so dat indien jy rein en respektabel wou bly jy kontak met
die onreines moes vermy sodat jy nie deur hulle besoedel kon word nie. Jesus
verander dit egter want sy heiligheid word nie deur jou onreinheid besoedel
nie. Wanneer jy met Jesus in aanraking kom, word jy deur sy heiligheid skoon
gemaak. Daarom kan jy na Hom toe kom ongeag van wat jy gedoen het. Jesus reinig
jou van jou sondes.
Aan die ander
kant sê dit ook vir ons dat selfs die beroemde koning Dawid net op grond van God se genade
deel kan word van God se gesin. Maak nie saak of jy deel is van die
vooraanstaandes van die samelewing nie, dit is slegs op grond van God se genade
dat jy deel kan word van sy gesin. Dit is slegs op grond van wat Jesus gedoen
het dat jy deel kan word van sy gesin. Niemand is sonder sonde nie, selfs nie
eens die mees vooraanstaande persoon in die samelewing nie.
In alle
kulture word daar neergekyk op mense. Die rykes kyk neer op die armes, sekere
rasgroepe kyk neer op ander rasgroepe. Die wêreld gebruik die maatstawe van
sosiale status, rykdom en hoë aansien van jou herkoms om te bepaal of jy
aanvaarbaar is of nie.
In die gesin
van Jesus Christus is dit egter anders. Die waardes wat buite die kerk so
belangrik is, is nie vir God belangrik nie. Al wat belangrik is, is bekering en
geloof in Jesus Christus.
Samevatting
Die goeie
nuus van Jesus Christus begin met ʼn geslagsregister. Dit sê vir ons dat dit ʼn
verhaal is wat in die waarheid van die geskiedenis gegrondves is. Daarom is die
Evangelie goeie nuus en nie goeie advies nie. Dit vertel die goeie nuus van wat
Jesus reeds vir jou gedoen het.
Verder sê dit
vir ons dat die wêreldse waardes soos status, rykdom, ras en geslag, nie bepaal
of jy deel word van Jesus se gesin of nie. Dit is slegs op grond van God se
genade in Jesus Christus dat jy deel word van sy gesin.
Daarom
geliefdes. Glo in die evangelie. Glo in die ware verhaal van die goeie nuus van
Jesus Christus en ervaar die rus en vrede wat net by God te vinde is.
Amen