Wys tans plasings met die etiket Eksodus 33. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Eksodus 33. Wys alle plasings

06 Julie 2025

As die HERE nie saamgaan nie, is alles tevergeefs

 

6 Jul 2022 GK BSH

Eksodus 33 – Teksverse Eks. 33:4, 15, 12, 16 & 18

Ons staan nou aan die begin van ’n nuwe hoofstuk op ons pad vorentoe en daarom is dit goed dat ons net so bietjie besin oor die pad vorentoe.

Eksodus 33 gee vir ons ’n goeie raamwerk om te besin oor die pad vorentoe.

Op hulle pad na die beloofde land vanaf Egipte se slawerny het die Israeliete by Sinaiberg oorgestaan waar die HERE sy wet vir hulle gegee het. Terwyl Moses op die berg was waar die Here vir hom verdere voorskrifte gegee het, het die volk ongeduldig begin raak en hulle het vir Aaron gevra om vir hulle ’n goue kalf te maak (Eks. 32).

Dit is teen hierdie agtergrond waar Israel die verbond tussen hulle en God verbreek het, dat die Here vir Moses in Eks. 33:1 sê dat die volk verder moet trek na die beloofde land toe, maar dat Hy nie met hulle sou saamgaan nie.

Dit mag dalk klink of die volk gestraf word, maar dit is eintlik die Here se genade wat Hy hier betoon. God is heilig en daarom laat Hy nie sonde toe nie. Die Here wil nie saamtrek nie want die volk se sonde sal maak dat hulle verdelg word.

In Eksodus 33:4 hoor ons dat hierdie uitspraak die volk hard getref het. Alhoewel die Here hulle steeds belowe dat hulle in die beloofde land sou ingaan, besef hulle dat die land van melk en heuning sonder God eintlik hel sal wees. Hoe dikwels maak ons nie die fout om God se seëninge te wil hê i.p.v. God self nie?

In die volk se reaksie sien ons ook wat nodig is wanneer daar sonde tussen jou en God staan. Die feit dat hulle nie juwele verder gedra het nie, wys dat hulle getreur het oor die verlies van God se teenwoordigheid in hul lewens. Hulle wou die saak tussen hulle en God reg stel.

Met die tent van ontmoeting wat Moses buite die laer opgestel het, het hy ook vir die volk die geleentheid gegee om God weer op te soek en dit is wat hulle inderdaad gedoen het. Hulle het hulself voor God verootmoedig.

Om te weet hoe groot jou sonde en ellende is, moet jy jouself verootmoedig voor God. Jy moet verstaan dat sonde verwydering tussen jou en God bring. Jy moet ’n diepgaande berou oor jou sonde hê en daar moet ’n opregte begeerte by jou wees om die saak tussen jou en God reg te stel. Jy moet God aktief weer opsoek.

Geliefdes, waar staan ons as gemeente vandag teenoor God? Is daar nog steeds die opregte begeerte dat God deel van ons lewens moet wees? Het ons nog tyd vir God in ons lewens? Of gebruik ons Hom maar net soos ’n noodwiel om ons probleme weg te vat? Soek ons net die voordele wat God gee of soek ons God self? Dis vrae wat ons elkeen vir onsself moet afvra. Waar staan ek in my verhouding met God?

Moses het vir die volk ingetree by God en dit is ’n heenwysing na Jesus Christus wat by God vir ons ingetree het met sy kruisoffer.

Ons sien ook hier hoe belangrik dit is dat die leierskap ’n voorbeeld vir die volk moet wees. Omdat Moses die Here opgesoek het in die tent van ontmoeting, het die volk ook na die wil van Here kom vra. Hierin sien ons hoe groot die verantwoordelikheid is wat op ons as kerkraad rus. Ons moet die gemeente lei hierin.

In Eksodus 33:13 bid Moses:

As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk.”

Om te weet wat God verwag is dit noodsaaklik om God te leer ken.

In Eksodus 33:15 hoor ons dat Moses vir Here sê:

“As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie.

Verstaan mooi hoe belangrik dit is. As die Here nie saam met ons as gemeente gaan nie, help dit nie dat ons enigsins verder kerk probeer wees nie. As die Here nie saamgaan nie, is alles tevergeefs en dan kan ons maar net sowel die deure sluit.

In enige besluit wat ons as gemeente neem vir die pad vorentoe moet die eerste en belangrikste vraag wees: “wat wil die Here hê dat ons moet doen?” Want dit is immers sy kerk. Jesus Christus is die Hoof van die kerk. Hy is die Hoof van ons gemeente. Dit is sy kerk!

In Eksodus 33:15 & 16 hoor ons wat Moses se motivering is waarom die Here saam met die volk moet gaan:

Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”

Die kerk van die Here moet anders as die wêreld lyk. Die hartseer in vandag se tyd is dat die kerk onsigbaar binne die wêreld geword het omdat die kerk al hoe meer soos die wêreld begin lyk. Daarom kan ons nie maar net met die wêreld saamgaan wat so gefokus is op menseregte nie.

Ons fokus moet op God wees soos Hy Homself in die Bybel openbaar. God moet in ons lewens sigbaar wees. Daarom moet ons onsself ook dringend afvra: “Hoe sigbaar is ons gemeente vir die wêreld daarbuite?”

Navorsing het getoon dat een van die redes hoekom mense wat kerklos geraak het weer terug sal bring kerk toe, is dat hulle God op ’n besonderse en persoonlike manier wil beleef. Met ander woorde, God moet ’n werklikheid wees. Hulle wil nie net leë rituele beleef nie. Hulle wil God beleef.

Bied ons gemeente dit vir die mense wat soekend is daarbuite?

Moses het vir die volk ingetree en die Here het besluit om wel met die volk saam te gaan, maar Moses wou nog meer hê. Hy wou die glorie van God aanskou soos ons hoor in Eks. 33:18:

Toe vra Moses: “Kan ek maar asseblief sien hoe U lyk?”

Wat beteken dit om God te ken en in ’n verhouding met Hom saam te leef?

Daar is ’n verskil tussen om maar net te glo dat God bestaan op ’n intellektuele vlak en om deur die bewegings van rituele aanbidding te gaan teenoor om God persoonlik te ken en om sy liefde en heerlikheid in jou lewe te ervaar. Ons is na die beeld van God geskape en daarom is ons lewensdoel om in ’n verhouding met Hom saam te leef.

Wanneer jy werklik begin verstaan dat God jou geskep het om in ’n verhouding met Hom saam te leef, gaan daar ’n groot waarheid vir jou oopgaan. Dan sal jy die wonder begin beleef dat jy saak maak omdat jy vir God kosbaar is. Dan sal jy verstaan dat jou lewe betekenis het.

Om in ’n verhouding met God saam te leef sal jou ook laat verstaan hoeveel God se genade vir jou beteken. Dan sal jy verstaan hoe belangrik God se genade is deurdat Hy moeite maak met jou.

Wanneer God nie net meer ’n intellektuele onderwerp vir jou is nie, maar persoonlik teenwoordig in jou lewe is, sal jy sien hoe mooi God is. Wanneer jy byvoorbeeld die natuur bewonder of ’n kunswerk waardeer sal jy die skoonheid van God daarin raaksien. Die lewe maak sin wanneer jy die wonder van God daarin beleef.

Dan sal Artikel 1 van die NGB nie maar net nog iets wees wat ons sê nie, maar sal dit vir jou ’n lewende werklikheid wees dat God ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die aller oorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Moses mag net God se agterkant gesien het en daarom het die Here hom in ’n rotsskeur met sy hande toegemaak sodat hy nie verdelg word nie. ’n Sondige mens kan nie die volle heiligheid van God aanskou nie want God se heiligheid verdelg sonde.

God wat Moses met sy hande bedek het, is ’n heenwysing na Jesus Christus wat ons sonde met sy bloed bedek sodat ons nie verdelg word nie. Op grond van Jesus Christus se soenoffer aan die kruis, mag ons tot God nader.

In hierdie lewe kan ons God nie fisies sien nie. Ons sien Hom slegs met ons geloofsoë. Maar God belowe ons dat ons Hom van aangesig tot aangesig gaan sien en vir ewig saam met Hom sal wees. Die ewige lewe begin egter nie eers daar ver in die toekoms nie. Dit begin nou reeds deur jou geloof in Jesus Christus. Jy kan nou reeds God se teenwoordigheid in jou lewe beleef.

Geliefdes, hoe beleef jy die werklikheid van God se teenwoordigheid in jou lewe?

Jy moet verstaan dat sonde verwydering tussen jou en God bring. Verootmoedig jou voor God. Glo dat jou sondes vergewe is op grond van Jesus Christus se soenoffer aan die kruis en dat Hy met sy opstanding vir jou ’n nuwe lewe gee om saam met God te leef.

Bid dat God sy Gees vir jou sal gee. In Lukas 11:13 verseker die Here ons dat Hy die Heilige Gees aan elkeen wat Hom daarvoor vra, sal gee.

Maak seker jou motivering vir God se teenwoordigheid is opreg. Hoe lyk jou gebedslewe? Bid jy net vir God se gawes of bid jy om God al hoe beter te leer ken?

Maak tyd vir God in jou lewe. Luister na Hom deur tyd te maak om na Hom in sy Woord te luister. Antwoord Hom deur gebed.

Hoe lyk die pad vorentoe vir ons gemeente? Een ding is seker. As die Here nie saamgaan nie, is alles tevergeefs.

Amen