’n Gelofte uit nood gebore
en wat as ’n smeekgebed aan God gerig is. In die uitkoms is die hand van die
Almagtige Drie-Enige God duidelik sigbaar.
Dit gaan oor ’n gelofte
aan God
Dit gaan om die eer aan
God te bring
Herinner jouself en jou
kinders daaraan dat God jou en jou nageslag in hierdie land toegelaat het.
Tussen 9 en 15 Desember
1838 het ’n groep voortrekker mans wat onder bevel van Andries Pretorius
gestaan het, voor die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838, die volgende
gelofte teenoor God afgelê.
Hier staan ons voor die
Heilige God van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons
sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as
'n dankdag soos 'n Sabbat tot sy eer sal deurbring, en dat ons 'n huis tot Sy
eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat
hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte.
Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van
oorwinning aan Hom te gee.
Op 16 Desember 1838 het God ’n wonderwerk laat gebeur. ’n Boerekommando van slegs 464 mans het te staan gekom teen ’n oormag van tussen 16 000 en 20 000 Zoeloekrygers en in die geveg wat ontstaan het, is slegs drie Voortrekkers gewond, terwyl meer as 3000 Zoeloekrygers gesterf het.
Ons herdenk nie die
gelofte om te roem oor ’n oorwinning en vernedering van die vyandelike mag van
daardie dag op 16 Desember 1838 nie. Ons herdenk die gelofte omdat God
geantwoord het op ’n noodroep van sy kinders toe hulle in nood verkeer het. Dit
gaan daaroor om aan God alleen die eer te gee dat Hy getrou is en dat ons op sy
beloftes kan vertrou.
Sarel Cilliers het in sy
gelofte gesê dat die eer aan God gegee moet word en dit is ook nie nodig om
paragrawe oor die eer van God te skryf nie. Calvyn som dit deeglik op:
"Gevolglik moet ons natuurlik al hierdie dinge van Hom verwag en dit van
Hom vra en wanneer ons dit ontvang het, moet ons dit met dankbetoon aan Hom
toeskrywe.
Daarom is dit belangrik
dat ons nie God van sy eer beroof wanneer ons Geloftedag herdenk nie.
Die geskiedenis van die slag van Bloedrivier
Agtergrond
Die verhaal van
Bloedrivier is nie volledig sonder die gebeure wat daartoe aanleiding gegee het
nie. Shaka die broer van Dingane wat voor hom koning van die Zoeloes was het
begin met die uitdelgingsoorloë wat as die Mfecana tydperk bekendstaan. Dit was
die oorsaak dat duisende inheemse volke uitgewis of verdryf is. Baie stamme het
by Shaka aangesluit, terwyl diegene wat nie wou aansluit nie, uitgemoor is. Dit
was die oorsaak dat die hele Natal, suid van die Tugela, ontvolk geraak het.
Drie van sy generaals het
weggeloop, hul eie koers ingeslaan en meegedoen aan die uitdelging op dieselfde
patroon:
Soshangana het die
Shangaan-nasie in Mosambiek laat ontstaan en in Transvaal ingetrek.
Zwangendaba het tot in
Malawi gevorder.
Die ergste was Mzilikazi
wat met sy Ndebele-nasie die grootste dele van die later Transvaal en Vrystaat
domineer en laat ontvolk het.
In dieselfde tyd het
Moshweshwe aan vlugtende Sotho's asiel gebied by Thaba-Bosiu waar Lesotho
vandag nog bestaan.
Die Voortrekkers verdien
die eer dat hulle die Mfecana beëindig het. Eers is Mzilikazi verslaan en
verdryf tot in die huidige Zimbabwe en Dingane van die Zoeloes is na die
Bloedrivier-veldslae verdryf na Swaziland waar hy vermoor is. Na 1838 kon
duisende Tswanas uit die Kalahari terugtrek en hulle lewens vervat in die
gebiede waaruit hulle verdryf was.
Die Groot
Trek
Die Groot Trek het in 1835
al begin, hoofsaaklik as gevolg van die onsimpatieke houding van die Britse
regering teenoor die grensboere in die Oos-Kaap. Die Britse sendelinge
(filantrope) in die Kaapland het bygedra tot hierdie hatige gesindheid teenoor
die grensboere. Die Xhosas het die grensboere herhaaldelik geteister met moorde
en strooptogte en is nooit behoorlik gestraf nie.
Al die Voortrekkers is nie
in een groep weg nie. Hoewel Louis Trichardt in 1835 en Hans van Rensburg vroeg
in 1836 weg is, het groter groepe, onder leiers soos Hendrik Potgieter, Piet
Retief en Piet Uys later die jaar eers oor die Oranjerivier getrek. In totaal
het omtrent 10 000 mense, bestaande uit omtrent 2300 gesinne, uit Kaapland
getrek.
Die Voortrekker-gemeenskap
het verskillende groepe gevorm onder leiding van Piet Retief en Hendrik
Potgieter. Retief wou Natal toe trek terwyl Potgieter verder Noord oor die
Vaalrivier wou trek.
Die ontmoeting met Dingane
en die Moord op Retief
Retief het in Oktober 1837
al Natal toe gereis waar hy in Port Natal die Engelse handelaars ontmoet het.
Toe het hy noordwaarts oor die Tugela na Mgungundlovu (Dingaanstat) gereis en
Dingane, koning van die Zoeloes, in November 1837, versoek om die onbewoonde
gebied tussen die Tugela en Umzimvuburivier tot aan die Drakensberg, aan die
Trekkers as woongebied af te staan.
Dingane het Piet Retief
vriendelik ontvang, maar hom beskuldig dat die Voortrekkers 'n trop beeste van
hom gesteel het en dat hy nie voor Retief die vee terugbesorg het, die
woongebied sou afstaan nie. Retief is dus terug na die laers wes van die
Drakensberg. Die Trekkers het geweet dat die beesdief 'n Tlokwa- kaptein
Sikonyela was, wat in die omgewing van die latere Harrismith gewoon het. Hulle
het maklik die gesteelde beeste gekry en ook beslag gelê op 'n klomp
Tlokwa-beeste as skadevergoeding aan Dingane. Retief en 'n gevolg van 70 man en
30 agterryers het op 25 Januarie 1838 weer na Mgungundlovu gereis en op 3
Februarie 1838 die beeste aan Dingane afgelewer.
Op 4 Februarie 1838 het
Dingane die kontrak (traktaat) onderteken wat die oordrag van grond aan die
Trekkers beskryf het. Baie vriendelik het Dingane die Retief-groep genooi om op
6 Februarie 'n Zoeloe-dansvertoning en onthaal by te woon voor hulle vertrek.
Tydens die vertoning het Dingane eenkant toe gestap en hard geroep:
"Bulalani abathakati!" (dit beteken: "maak dood die
towenaars!"). Die Voortrekkers is vinnig oorval, met rieme vasgebind en
noordoos van die stat gesleep tot op die klipkoppie genaamd "Kwa
Matiwana" aan die kant van die paradegrond, wat genoem word
"Hlom'amabutho". Hier is almal met kieries doodgeslaan, Retief
laaste.
Dis verstaanbaar dat die
Trekkers na langer as 'n jaar se kamplewe nie kon rus om Natal, suid van die
Tugela in te trek nie. Boonop het almal geglo dat Retief se tweede besoek aan
Dingane 'n blote formaliteit sou wees, want hy het die gesteelde beeste teruggeneem
soos hy belowe het. Ongelukkig wou verskeie gesinne ook nie in Natal in laers
staan nie, en het ooswaarts uitgesprei aan die walle van die Bloukrans- en
Boesmansriviere. Daar het hulle die terugkoms van Retief en sy gevolg verwag,
maar is in stede aangeval deur duisende moordlustige Zoeloekrygers. Die
bloedbad van 17 Februarie 1838 het die dood van 'n verdere 282 Trekkers gekos:
41 mans, 56 vrouens en 185 kinders is vermoor. Daarbenewens is 250 bediendes
vermoor en ook duisende stuks vee geroof.
Die
Strafekspedisie
Na die moord op die
Trekkers het Hendrik Potgieter Natal toe gekom om sy volksgenote te kom help.
Op 6 April 1838 het twee berede kommando's, een onder leiding van Potgieter en
een onder Piet Uys na Zoeloeland vertrek. Ongelukkig wou nie een van die genoemde
here onder die ander een dien nie. Op 10 April was die kommando's aan die hange
van die Italeni-berg, waar hulle in hinderlae gelok is. Piet Uys en sy seun
Dirkie en nog vyf ander het geval, maar die res moes vlug vir hul lewe. Die
kommando by die Slag van Italeni het toe die naam van die Vlugkommando gekry.
Potgieter is spoedig terug oor die Drakensberg, want hy is ten onregte deur
baie mense beskuldig van lafhartigheid.
Die volgende aanval deur
die Zoeloes het plaasgevind op 3 Augustus 1838, maar die laer aan
Boesmansreivier was goed verskans en met doringtakke dig gemaak. Na drie dae se
vrugtelose pogings het die Zoeloes die beleg opgegee, maar weereens baie vee
saamgejaag na Zoeloeland.
Kort na die laasgenoemde
aanval, op 23 Oktober 1838, is Gerrit Maritz oorlede. Die Trekkers in Natal was
nou leierloos, daarom is 'n afvaardiging na Oos-Kaapland gestuur om Andries
Pretorius te versoek om sy volksgenote te kom help. Op sy advies het die afvaardiging
onderneem om veghekke van hout te maak, sodat die laer elke aand tydens die tog
na Umgungundlovu doeltreffend en vinnig dig gemaak kon word. Boonop moes die
vrouens linnesakkies maak, tien of twaalf lopers daarin toewerk en in gesmelte
vet week, sodat die kommando's vinniger sou kon laai tydens 'n geveg.
Op 22 November 1838 het
Andries Pretorius by die laers in Natal opgedaag. Alhoewel hy versoek was om as
leier te dien, het hy vereis dat daar eers gestem sal word om seker te maak dat
almal met sy leiding tevrede is. Daarbenewens het Andries Pretorius an die
bestaande kommandante van Natal aanvaar: Karel Pieter Landman is as
tweede-in-bevel bevestig, met Pieter Daniël Jacobs, Koos Potgieter, Hans de
Lange en Stephanus Erasmus as offisiere. Die kommando van bykans 470 man met 64
waens kon vertrek na Zoeloeland, vanaf Schietdrift in die Tugela op 3 desember
1838.
Dit is verstaanbaar dat
elkeen in die kommando met groot kommer vervul moes wees oor hul dierbares wat
agtergebly het. As die kommando verslaan sou word, sou die Natalse
Trekgemeenskap ook geen kans op oorlewing hê nie. Almal was reeds verarm en
daar was ook nie genoeg waens en osse oor om terug te trek oor die Drakensberg
nie. Daar was wel 'n aantal manne by die laers, maar die wapens en kruit sou
nie lank hou as verdere aanvalle op die laers sou plaasvind nie. Die naam
Sooilaer, soos een van die laers bekend was, dui ook aan dat die waens in die
laer te min was om dit te beveilig.
Die eer kom Charl (Sarel)
Cilliers toe dat hy die eerste gedagte aan 'n gelofte aan die Here uitgespreek
het. Geskiedkundiges verskil oor die presiese tyd en plek waar die Gelofte die
eerste keer afgelê is. Dit wissel van 7 Desember naby Danskraal aan die
Kliprivier tot 10 Desember aan die Wasbankrivier. Wat wel belangrik is, is dat
die Voortrekkers die Gelofte sedertdien elke aand herhaal het tydens die
gebruiklike aandgodsdiens, tot en met die aand van 15 Desember.
Die
Gelofte
Die gelofte, deur Charl
(Sarel) Cilliers opgestel, bestaan uit 'n versoek en drie beloftes wat nagekom
sou word:
1. Ter ere van die Here,
waar dit Hom sal behaag, 'n kerk bou.
2. Die datum van die
oorwinning jaarliks soos 'n Sabbat van die Here deurbring.
3. Ons sal ons kinders
daarvan vertel sodat ons nageslagte die Gelofte kan onderhou en die roem en die
eer aan Hom daarvoor te gee.
Die roete
tot by Bloedrivier
Die kommando van Andries
Pretorius het vanaf die laers, in die huidige Estcourt- Colenso-gebied,
noordwaarts getrek tot deur die Kliprivier (by die huidige Ladysmith) toe
noordoos geswaai deur die Sondagsrivier en Wasbankrivier tot by Endumeni-berg,
suid van die huidige Dundee. Aan die voet van hierdie berg het die Engelse
handelaar, Alexander Biggar se skotskar gebreek nadat dit in 'n gat geval het
en moontlik is hy ook deur die voorval beseer. Die plaas waarop dit gebeur het
heet vandag nog Biggarssgat en die berg is genoem Biggarsberg. Sedertdien heet
die hele voetheuwelgebied vanaf Dundee tot aan die Drakensberg die
Biggarsberge.
Die noord-ooswaartse
trekrigting is voortgesit tot aan die Buffelsrivier, waar 'n geskikte drif
gevind is wat sedertdien Kommandodrif heet. Die plaas oorkant die Buffelsrivier
aan die Utrecht-kant, waar die drif is, heet nog steeds Kommandodrif.
Hans de Lange, algemeen
bekend as Hans Dons, het tydens die tog opgetree as verkenner. Hy het elke dag
vooruitgery om te verseker dat die kommando nie onverhoeds op trek deur die
Zoeloemag oorval word nie.
Toe die kommando deur
Kommandodrif trek, het Hans Dons hulle laat weet dat die wêreld vorentoe uit
oop grasvlaktes bestaan en dat hulle eers by Doringberg (naby die huidige De
Jagersdrift) moet gaan hout kap en saamneem vir daaglikse gebruik.
Van Doringberg af het die
kommando in 'n suid-ooswaartse rigting getrek. Omtrent 20 kilometer verder is
daar 'n sytak van die Buffelsrivier (wat ons vandag ken as Bloedrivier, toe
bekend as die Ncome). Die Trekkers was reeds deur die rivier toe die dringende
boodskap die kommando bereik dat die Zoeloemag op die rante, omtrent 2 uur te
perd, of 10 kilometer vorentoe, in aantog is. Dadelik het Andries Pretorius
besef dat hulle pas by 'n strategiese plek vir die laer verby was. Aan die
wesoewer van die rivier het 'n diep droë sloot reghoekig by 'n lang seekoeigat
aangesluit. ('n Seekoeigat is 'n diep kuil water waardeur mens slegs kon swem).
Die waens is dadelik deur die rivier terug na die wesoewer geneem.
Bloedrivier
Dit was Saterdag, 15
Desember toe laer getrek is. Voorbereidings vir die geveg is getref en die
bykans 900 osse en 500 perde was onder beheer in die laer. Die posisie van die
laer sou die Zoeloes dwing om hoofsaaklik uit die noordweste aan te val aangesien
die rivier aan die oostekant en die sloot aan die suidekant die laer beskerm
het.
Voor donker het van die
Zoeloemagte reeds deur dieselfde drif gekom, terwyl andere aan die noordekant
bokant die kuil deurgekom het. Die Zoeloeregiment wat eerste aan die geveg sou
deelneem, was die Abafana (seuns) met swart skilde toegerus. Die Swartskilde
regiment was sedert Shaka se tyd die jong krygers wat nie mag trou voordat
hulle assegaailemme bloed getrek het nie. Op hulle versoek is hulle juis om die
rede toegelaat om die geveg in te lei.
Die Zoeloe
opperbevelhebbers, Ndlela en Tambuza, met ander hooggeplaastes, byvoorbeeld
twee "prinse" (jonger broers van Dingane) het aan die ooste-kant van
die seekoeigat saam met die Witskilde regiment gesit om die geveg dop te hou.
Die aand van Saterdag, 15
Desember was baie donker en boonop het 'n digte mis oor die gebied getrek.
Daardie nag het geen aanval plaasgevind nie en dit het gelei tot verskillende
verklarings, byvoorbeeld: Die Voortrekker-lanterns het 'n spookagtige skynsel
in die miswolke tot gevolg gehad. (Die lanterns was nie soos ons dit vandag ken
en soos die wat nou aan die sweepstokke hang nie. Dit was 'n blikkie wat soos
'n groenterasper lyk met 'n kersie binne-in. In die museums in Bloemfontein en
Pretoria is voorbeelde van die lanterns). Die Zoeloes het reeds geweet dat
vogtige lug die ontvlamming van buskruit kan verhinder, en het gedink hulle sou
die Voortrekkers maklik in die vroeë more kon doodsteek.
Die bekende fisikus, Prof
Lotz Strauss, het op skrywer se versoek vasgestel dat Maandag, 17 Desember 1838
nuwemaan was en dit bevestig dat die nag van 16 Desember donkermaan was. Nie
een van die vegtende partye kon vooraf die tyd van ontmoeting bepaal nie, tog
was dit bestem om mekaar op 16 Desember te ontmoet met donkermaan.
Anders as wat normaalweg
gebeur, het die mis voordag opgeklaar en was Sondag, 16 Desember 1838 'n
helder, sonnige dag.
Die eerste aanval, vroeg
na sonop, is deur sarsies geweerskote en kanonvuur afgeslaan. Nog verskeie
verwoede pogings deur die swartskilde het gevolg, maar geeneen kon die waens
bereik nie. Later het ook die Witskilde bokant die kuil deurgekom en hard
probeer om die laers te bereik, maar ook hulle kon nie die laaste 40 meter na
die laer indring nie.
Die presiese plek waar die
laer opgerig is, is in 1971, voor die oprigting van die pragtige brons walaer
bevestig. Volgens meneer George Chadwick van die N.O.D, is deur middel van
infrarooi fotografie bepaal dat die middelpunt van die laer, wat omstreeks 1860
deur 'n klipstapel gepak deur oudstryders aangedui is, hoogstens 10 meter na
eenkant toe aangedui. Die diep sloot is vandag nog duidelik - nou baie vlak
waar die sloot in die kuil eindig. Die waens het daar suidwaarts deurgetrek en
+- 200 meter verder deur die rivier getrek deur 'n drif "Izibuku
Labafazi" (Vrouedrif). Die laer was minstens 400 tot 500 meter wes van die
seekoeigat; die vorm daarvan soos 'n reuse letter D met sy reguit sy teen die
diep sloot.
Strategies was dit vir
bykans 470 geweerskutters meet moontlik om uit 'n verspreide gebied sterk
vuurkrag te lewer, terwyl die beskikbare frontwydte vir die naderkomende
Zoeloes al nouer geword het. Slegs 'n klein aantal, moontlik 20 geweerskutters,
was nodig om die aanvallers, wat op 'n stadium in die diep sloot langs probeer
het om die laer te bereik, te verhinder op die wal uit te klouter.
'n Skeepskanon, een van 2
of 3 kanonne wat saamgeneem was, is deur Pretorius aangewend in 'n oostelike
rigting teen die hooggeplaastes oorkant die kuil. Een is deur 'n kanonkoeël
getref en nog andere beseer. Hierdie kanon het slegs "Canon Balls"
gevuur, want brisantbomme wat ontplof as dit die teiken of die grond tref, is
eers later uitgevind. Hierdie aksie het veroorsaak dat die witskilde ook aan
die geveg kom deelneem het.
Na omtrent drie uur se
geveg het die Zoeloes tou opgegooi en het Pretorius 'n paar berede aanvalle
buitentoe onderneem om die Zoeloes te dwing om weer te probeer of om hulle te
verjaag. Pretorius self en nog twee Trekkers het assegaaiwonde opgedoen, maar
kon voortgaan met die geveg.
Teen elf- of twaalfuur die
dag was die slag gelewer. Rondom die laer het 'n wal dooies gelê. Elke
geweerskoot was egter nie 'n doodskoot nie en baie bloeiende gewondes het die
kuil ingevlug en probeer om deur te swem en koers te kry "huis toe".
Gevolglik het die kuil spoedig bloedrooi geword van die bloed en so aanleiding
gegee dat die rivier sy naam gekry het: BLOEDRIVIER. Baie gewonde Zoeloes het
ook geslaag om deur die rivier te kom, maar beswyk op die lang oop vlakte aan
die oostekant. Vandag nog noem Zoeloes die bult oorkant "Ukhalo
lamathambo" (bult van doodsbeendere).
Bron: www.Bloedrivier.org.za
die amptelike webblad van die Bloedrivier Gelofte-herdenkingskomitee.






