22 Maart 2026

Nader aan God 01 - Wat beteken dit om jou lewenspad saam met God te loop

 Psalm 23

1 'n PSALM van Dawid.
Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.
2Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
3Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
4Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
5 U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

God het ons geskep nie vir straf en oordeel nie, maar om in ’n intieme verhouding saam met Hom te leef. Met die sondeval het die verhouding tussen God en die mens verwronge geraak, maar in sy groot troue verbondsliefde het God in Christus herstel gebring en dit is die wonderlike hoop wat God vir ons bring.

Die antwoord op wat mens te doen staan wanneer die lewe druk of daar waar jy sukkel op jou geloofspad en dit vir jou voel of God ver is en jy dalk bietjie begin wegdryf het, is nie om harder te probeer nie. Die antwoord is om nader aan God te beweeg. Ons gaan met die volgende paar preke bietjie stilstaan by wat dit beteken om nader aan God te beweeg. Vandag gaan ons stilstaan by wat dit beteken om jou lewenspad saam met God te loop aan die hand van Psalm 23 en die tema van vandag se preek is:

’n lewe van oorvloed saam met God

Psalm 23 beskryf die lewenspad wat ’n gelowige saam met God loop van die begin af tot en met die eindbestemming van jou lewe. Let wel, ek het NIE gesê van die begin tot by jou dood nie, want vir iemand wat in Jesus glo, is die dood nie die eindbestemming nie! ’n Gelowige se eindbestemming is sy ewige tuiste saam met God.

Psalm 23 begin met ’n belydenis: “Die Here is my Herder.” Wanneer ons hierdie belydenis saam met Joh. 10:14 & 15 lees dan sien ons hoe spesiaal dit is:

“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.”

Deur jou geloof in Jesus Christus begin jou lewe van oorvloed saam met God. Jou geloof in Jesus Christus gee vir jou die versekering dat jy nie meer alleen is nie.

In Psalm 23:2 en 3 hoor ons so ietsie van wat dit beteken om jou lewenspad saam met God te stap.

Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

Letterlik staan daar dat die Herder sy skape bring na ’n plek waar die weiding sag en voedsaam is. Op jou lewenspad saam met God, sorg Hy vir jou met wat die heel beste is vir jou. Verder bring Hy jou na ’n plek wat tot rus lei. Hy “verkwik jou siel” met ander woorde dit gaan oor baie meer as net rus van moegheid. Hy herstel die lewenskrag van jou siel en gemoedsrus.

Alles wat jy het, kos klere, blyplek jou vaardighede en gawes kom alles uit die hand van God. Dit wat jy het, het jy omdat God dit vir jou gegee het. En nog meer. Al die mooi en vreugde in jou lewe kom net van God af en wanneer ons terugkyk na ons lewens en ons sien die goed en mooi en voorspoed wat daar was, dan kan ons weet dit was daar omdat God dit vir ons gegee het.

En dan sien ons ook dat die pad wat ons lewens verloop het, is die “regte” pad wat God vir ons uitgelê het. Ons lewens verloop nie altyd soos wat ons beplan en dink nie, maar wanneer ons terug kyk dan sien ons dat die pad wat God vir ons uitgelê het, tog maar die beste was.

Die lewe is egter nie altyd net maklik en mooi nie. In Ps. 23:4 kry ons die wonderlike troos dat selfs daar waar die lewe donker word, dit juis daar is waar die Here ons vashou en beskerm.

Ons sien in die verskillende vertalings dat die vers effens anders vertaal word. Byvoorbeeld in die 20/20 vertaling is die vertaling: “Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan” teenoor die OAV 33/53 Vertaling, wat vertaal word met: “Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee”. Albei vertalings is reg en dit dui op die nuanse van die oorspronklike Hebreeuse teks.

Aan die een kant is die betekenis dat dit dui op donkerste, gevaarlikste deel van die pad waardeur die skape moet gaan om by weiding uit te kom. Die stok wat die herder met hom saamgedra het, was ’n stewige knuppel waarmee hy die skape teen roof en ongediertes beskerm het wat hulle bedreig het en sy staf was daar stok met sy krom punt waarmee die herder gelei en die pad aangedui het. As ’n skaap bietjie afgedwaal het, het die herder hom met daardie krom punt terug gelei op die regte pad weg van gevaar af.

Dit skep vir ons ’n mooi beeld hoe die Here saam met ons deur die donker dieptes van die lewe gaan en dat ons nooit alleen is daarin nie. Die verdere troos is die versekering dat Hy ons beskerm en lei wanneer die lewe swaar raak.

Wat ook so mooi is van Psalm 23, is hoe Dawid hier waar die lewe moeilik raak baie meer persoonlik raak. Tot hiertoe het gepraat van God en hoe God hom deur sy lewe gelei en beskerm het. Maar hier waar die lewe donker raak praat hy nie meer van God nie. Hy praat nou persoonlik met God waar hy sy vertroue teenoor God uitspreek “ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my”

Wanneer jy jou lewenspad saam met God stap, is die troos dat God intiem naby is, veral daar waar die pad op sy swaarste en donkerste is. Dit is waar Hy jou dra wanneer jy nie meer kan nie. En wanneer ons terug kyk dan sal elkeen van ons kan getuig hoe die Here jou gedra het daar waar die lewe donker was.

Die Hebreeuse teks in Ps. 23:4 dra ook die nuanse van die diepste donker van die dood en daarom is die 33/53 Vertaling daarvan dan ook “Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie”.

Daar is een ding wat seker is in hierdie lewe en dit is dat elkeen op God se bepaalde tyd liggaamlik sterf. En dit is hier waar die troos van Psalm 23 so duidelik na vore kom.

In Joh. 10:15b hoor ons Jesus sê: “en Ek lê my lewe af vir die skape.” Ter wille van ons het Jesus alleen deur die donker vallei van die dood gegaan. Hy het niemand gehad wat Hom beskerm en vertroos het nie. Hy het dit ter wille van ons gedoen op grond van God se onbeskryflike liefde vir ons. Hy het in ons plek die Godverlatenheid deurgaan wat ons sonde verdien het.

Die geweldige troos is dat Hy die mag van die dood gebreek het met sy opstanding en dit is ons waarborg dat elkeen wat in Jesus Christus glo nie alleen deur die donker vallei van die dood gaan nie. Dit gee vir ons die waarborg dat die dood nie meer die verskrikking van Godverlatenheid vir ons inhou nie.

Ps. 23:5 & 6 gee dan ook vir ons so kykie wat anderkant die dood vir ons wag. Hier verander die beeld van ’n herder wat sy skape versorg en beskerm na ’n gasheer wat sy gas in oorvloed onthaal.

In die antieke Nabye Ooste was gasvryheid 'n heilige plig. As God jou as gas aanvaar, is jy onder Sy beskerming. Om te eet "in die teenwoordigheid van vyande" beteken dat die vyande gedwing word om toe te kyk hoe God jou eer en beskerm; hulle kan niks doen nie omdat die Gasheer te magtig is.

Olie is by feeste gebruik om die droë vel te verfris en as simbool van verheffing en vreugde en dit dui daarop dat die Here sy gas met waardigheid en koninklike guns beklee. Die beker wat oorloop simboliseer dat God se genade nie bereken of suinig is nie, maar oorvloedig meer as wat nodig is.

Wanneer ’n gasheer ’n gas onthaal het, het die gasheer letterlik sy gas se beker dopgehou om seker te maak dat hy dit kon volhou en dit het vir die gas gesê dat hy welkom is. Hier hoor ons dat die beker nie volgehou word nie. Dit word tot oorlopens tóé volgehou en dit sê vir ons dat die gas nie net welkom is nie. Die Gasheer sê vir ons dat Hy nie wil hê dat ons moet weggaan nie. Ons moet permanent by Hom bly en dit is waarmee Ps. 23:6 dan ook afsluit:

Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Dit sluit dan ook perfek aan by die groot troos van Open. 21:3&4

Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Hoor u die geweldige troos hier geliefdes? Die dood wat eens as opperheerser geheers het oor die lewens van mense is nou finaal oorwin en dit het nie meer ’n houvas op gelowiges nie.

Luister ook na die verdere troos wat ons hoor in Open. 21:22

'n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam.

Die huis wat vir ons wag anderkant die donker vallei van die dood is nie ’n gebou nie, maar die onbeskryflike heerlike teenwoordigheid van God saam met wie ons, ons lewenspad gestap het en dit is die troos wat die Here gee vir elkeen wat in Jesus Christus glo as sy enigste Verlosser en Saligmaker.

Elkeen wat glo, ontvang nou reeds hier op aarde die oorvloed van die ewige lewe waar ons saam met God op pad is na die ewige heerlike waar die dood finaal vernietig sal wees sonder trane hartseer of pen en lyding.

Amen

21 Maart 2026

’n lewe van oorvloed saam met God

Psalm 23

1 'n PSALM van Dawid.

Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.

2 Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

3 Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

4 Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

5 U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

6 Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Psalm 23 beskryf die lewenspad wat ’n gelowige saam met God loop van die begin af tot en met die eindbestemming van jou lewe. Let wel, ek het NIE gesê van die begin tot by jou dood nie, want vir iemand wat in Jesus glo, is die dood nie die eindbestemming nie! ’n Gelowige se eindbestemming is sy ewige tuiste saam met God.

Psalm 23 begin met ’n belydenis: “Die Here is my Herder.” Wanneer ons hierdie belydenis saam met Joh. 10:14 & 15 lees dan sien ons hoe spesiaal dit is:

“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.”

Deur jou geloof in Jesus Christus begin jou lewe van oorvloed saam met God. Jou geloof in Jesus Christus gee vir jou die versekering dat jy nie meer alleen is nie.

In Psalm 23:2 en 3 hoor ons so ietsie van wat dit beteken om jou lewenspad saam met God te stap.

Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

Letterlik staan daar dat die Herder sy skape bring na ’n plek waar die weiding sag en voedsaam is. Op jou lewenspad saam met God, sorg Hy vir jou met wat die heel beste is vir jou. Verder bring Hy jou na ’n plek wat tot rus lei. Hy “verkwik jou siel” met ander woorde dit gaan oor baie meer as net rus van moegheid. Hy herstel die lewenskrag van jou siel en gemoedsrus.

Alles wat jy het, kos klere, blyplek jou vaardighede en gawes kom alles uit die hand van God. Dit wat jy het, het jy omdat God dit vir jou gegee het. En nog meer. Al die mooi en vreugde in jou lewe kom net van God af en wanneer ons terugkyk na ons lewens en ons sien die goed en mooi en voorspoed wat daar was, dan kan ons weet dit was daar omdat God dit vir ons gegee het.

En dan sien ons ook dat die pad wat ons lewens verloop het, is die “regte” pad wat God vir ons uitgelê het. Ons lewens verloop nie altyd soos wat ons beplan en dink nie, maar wanneer ons terug kyk dan sien ons dat die pad wat God vir ons uitgelê het, tog maar die beste was.

Die lewe is egter nie altyd net maklik en mooi nie. In Ps. 23:4 kry ons die wonderlike troos dat selfs daar waar die lewe donker word, dit juis daar is waar die Here ons vashou en beskerm.

Ons sien in die verskillende vertalings dat die vers effens anders vertaal word. Byvoorbeeld in die 20/20 vertaling is die vertaling: “Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan” teenoor die OAV 33/53 Vertaling, wat vertaal word met: “Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee”. Albei vertalings is reg en dit dui op die nuanse van die oorspronklike Hebreeuse teks.

Aan die een kant is die betekenis dat dit dui op donkerste, gevaarlikste deel van die pad waardeur die skape moet gaan om by weiding uit te kom. Die stok wat die herder met hom saamgedra het, was ’n stewige knuppel waarmee hy die skape teen roof en ongediertes beskerm het wat hulle bedreig het en sy staf was daar stok met sy krom punt waarmee die herder gelei en die pad aangedui het. As ’n skaap bietjie afgedwaal het, het die herder hom met daardie krom punt terug gelei op die regte pad weg van gevaar af.

Dit skep vir ons ’n mooi beeld hoe die Here saam met ons deur die donker dieptes van die lewe gaan en dat ons nooit alleen is daarin nie. Die verdere troos is die versekering dat Hy ons beskerm en lei wanneer die lewe swaar raak.

Wat ook so mooi is van Psalm 23, is hoe Dawid hier waar die lewe moeilik raak baie meer persoonlik raak. Tot hiertoe het gepraat van God en hoe God hom deur sy lewe gelei en beskerm het. Maar hier waar die lewe donker raak praat hy nie meer van God nie. Hy praat nou persoonlik met God waar hy sy vertroue teenoor God uitspreek “ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my”

Wanneer jy jou lewenspad saam met God stap, is die troos dat God intiem naby is, veral daar waar die pad op sy swaarste en donkerste is. Dit is waar Hy jou dra wanneer jy nie meer kan nie. En wanneer ons terug kyk dan sal elkeen van ons kan getuig hoe die Here jou gedra het daar waar die lewe donker was.

Die Hebreeuse teks in Ps. 23:4 dra ook die nuanse van die diepste donker van die dood en daarom is die 33/53 Vertaling daarvan dan ook “Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie”.

Daar is een ding wat seker is in hierdie lewe en dit is dat elkeen op God se bepaalde tyd liggaamlik sterf. En dit is hier waar die troos van Psalm 23 so duidelik na vore kom.

In Joh. 10:15b hoor ons Jesus sê: “en Ek lê my lewe af vir die skape.” Ter wille van ons het Jesus alleen deur die donker vallei van die dood gegaan. Hy het niemand gehad wat Hom beskerm en vertroos het nie. Hy het dit ter wille van ons gedoen op grond van God se onbeskryflike liefde vir ons. Hy het in ons plek die Godverlatenheid deurgaan wat ons sonde verdien het.

Die geweldige troos is dat Hy die mag van die dood gebreek het met sy opstanding en dit is ons waarborg dat elkeen wat in Jesus Christus glo nie alleen deur die donker vallei van die dood gaan nie. Dit gee vir ons die waarborg dat die dood nie meer die verskrikking van Godverlatenheid vir ons inhou nie.

Ps. 23:5 & 6 gee dan ook vir ons so kykie wat anderkant die dood vir ons wag. Hier verander die beeld van ’n herder wat sy skape versorg en beskerm na ’n gasheer wat sy gas in oorvloed onthaal.

In die antieke Nabye Ooste was gasvryheid 'n heilige plig. As God jou as gas aanvaar, is jy onder Sy beskerming. Om te eet "in die teenwoordigheid van vyande" beteken dat die vyande gedwing word om toe te kyk hoe God jou eer en beskerm; hulle kan niks doen nie omdat die Gasheer te magtig is.

Olie is by feeste gebruik om die droë vel te verfris en as simbool van verheffing en vreugde en dit dui daarop dat die Here sy gas met waardigheid en koninklike guns beklee. Die beker wat oorloop simboliseer dat God se genade nie bereken of suinig is nie, maar oorvloedig meer as wat nodig is.

Wanneer ’n gasheer ’n gas onthaal het, het die gasheer letterlik sy gas se beker dopgehou om seker te maak dat hy dit kon volhou en dit het vir die gas gesê dat hy welkom is. Hier hoor ons dat die beker nie volgehou word nie. Dit word tot oorlopens tóé volgehou en dit sê vir ons dat die gas nie net welkom is nie. Die Gasheer sê vir ons dat Hy nie wil hê dat ons moet weggaan nie. Ons moet permanent by Hom bly en dit is waarmee Ps. 23:6 dan ook afsluit:

Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Dit sluit dan ook perfek aan by die groot troos van Open. 21:3&4

Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Hoor u die geweldige troos hier geliefdes? Die dood wat eens as opperheerser geheers het oor die lewens van mense is nou finaal oorwin en dit het nie meer ’n houvas op gelowiges nie.

Luister ook na die verdere troos wat ons hoor in Open. 21:22

'n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam.

Die huis wat vir ons wag anderkant die donker vallei van die dood is nie ’n gebou nie, maar die onbeskryflike heerlike teenwoordigheid van God saam met wie ons, ons lewenspad gestap het en dit is die troos wat die Here gee vir elkeen wat in Jesus Christus glo as sy enigste Verlosser en Saligmaker.

Wanneer ons by die oop graf van ’n geliefde staan, is ons hartseer want haar plek in ons lewens is nou leeg, maar ons treur nie soos hulle wat geen hoop het nie. Ons het ’n lewende hoop van God wat ons lewenspad saam met ons stap deur die goeie en donker tye in ons lewens en ook dat Hy ons dra deur die donker vallei van die dood na ’n ewige heerlikheid saam met God, daar waar daar geen trane hartseer, pyn, lyding of dood meer sal wees nie.

Amen

15 Maart 2026

Christus het die dood oorwin, leef daarom as oorwinnaar op grond daarvan

 1 Kor. 15

Teksverse 1 Kor. 15 v 54-58

Vooraf

1 Kor. 15 is die omvattendste gedeelte in die Bybel wat oor die opstanding handel. Hiermee saam ook ons belydenis in Sondag ?? Heidelbergse Kategismus

SONDAG 17

45  Vraag:  Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?

Antwoord: 

Ten eerste  -  het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). Ons straf vir sonde is ten volle betaal

Ten tweede  -  word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b). Stel ons in staat om vir God te leef

Ten derde  -  is die opstanding van Christus vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).

Ons gaan vanoggend by die slotgedeelte van 1 Kor. 15:54-58 en die tweede voordeel wat ons in die Heidelbergse Kategismus bely,  stilstaan, naamlik wat die betekenis van die opstanding vir ons lewens nou is.

Inleiding

Daar sal ’n tyd kom wanneer ons glo dat ons nou by die einde is. Dit sal die begin wees. Daardie Vrydag toe Jesus gekruisig is het sy volgelinge gedink dit is die einde. Alles waarvoor hulle gehoop het, het tot ’n einde gekom. Dit was alles tevergeefs. Die man waarop hulle hul hoop geplaas het is nou dood. Kan u uself indink hoe verslae Jesus se volgelinge moes gewees het toe hulle Hom daar aan die kruis sien hang het? Jesus het wel vir hulle verskeie kere vertel wat die verloop van gebeure sou wees, maar hulle het nie verstaan nie. Dit het vir hulle gevoel of die magte van die bose oorwin het.

In ’n sekere sin is ons lewens ook baie soos hulle sin. Ons het gehoor van die krag van die Jesus se opstanding, maar ons verstaan dit nie eintlik nie. Ons hoor elke Sondag die Evangelie, die Goeie Nuus van Jesus Christus. Hoe verander dit jou lewe?

Hoeveel van ons leef maar net voort asof die gebeure 2000 jaar gelede tydens die Joodse Paasfees nooit plaasgevind het nie! Ons gaan maar net aan met ons lewens soos voorheen. Ek is nog steeds nie bereid om te vergewe nie. Ek wil nog steeds ten alle koste wraak neem. My eie selfsugtige belange dra nog steeds ’n groter gewig as medemenslikheid.

Lewe in die plek van dood

As dit waar is in my lewe dan gebruik ek nog nie volle krag wat Christus se opstanding vir ons oopgesluit het nie. Jesus se opstanding is diè belangrikste aspek van ons geloofslewe soos ons ook hoor in 1 Kor. 15:14

En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.

Die Christelike geloof staan en val by Jesus se opstanding. as Christus nie opgewek is nie, is ons geloof waardeloos en is ons nog gevange in ons sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons inderdaad die bejammerenswaardigste van alle mense!

Daarom kan ons nie maar net ongeërg voortgaan asof Jesus se opstanding maar net ’n teoretiese saak is wat geen impak op ons lewens het nie.

Jesus se opstanding verander ons swakheid in krag. God bring groot dinge tot stand deur klein mense. Dit wat soos ’n neerlaag gelyk het verander God in ’n oorwinning.

God gebruik alledaagse mense soos ek en jy om sy Koninkryk te bou. Die rede waarom ons dit kan doen is omdat Jesus met sy opstanding die mag van die ewige dood gebreek het. Met sy opstanding het Jesus die angel van die sonde gebreek en daarom het dit nie meer mag oor ons nie, soos ons hoor in 1 Kor. 15:54 - 56

“Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”

“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God.

Sonde is alleen sonde omdat die wet van God sê dat dit sonde is. As daar nie ’n wet was nie, sou dit nie sonde gewees het nie. Dan sou die oordeel oor die sonde, naamlik die dood ook nie van krag gewees het nie. Maar God se wet is daar en die straf vir die sonde is die dood.

Maar nou hang daardie swaard van doodstraf nie meer oor ons koppe nie omdat Jesus die wet volmaak nagekom het en omdat Hy die straf vir die sonde betaal het. Sy opstanding is die bewys daarvan en daarom hang die swaard van die doodstraf oor sonde nie meer oor ons koppe nie, want Jesus het die prys betaal. Hy het die dood oorwin en dit gee vir ons die waarborg van lewe.

Met sy opstanding, gee Christus vir ons lewe en daarom kan ons nou die lewe leef wat God vir ons beplan het. Daarom is ons nie meer bang vir dit wat anderkant die liggaamlike dood wag nie, want ons weet dat God daar is. In die plek van die dood het God vir ons lewe gegee soos ons hoor in 1 Kor. 15:57

Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.

Leef die lewe wat God vir ons gegee het

1 Kor. 15 word afgesluit met ’n opdrag om die lewe te leef wat God vir ons gegee het soos ons hoor in 1 Kor. 15:58

Daarom, liewe broers, wees standvastig , onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.

Hoe kry jy dit reg? – Leef nader aan God. Hoe meer jy tyd aan God spandeer, hoe meer sal dit vir jou moontlik wees om die lewe te leef wat Hy vir ons gee.

Hier in 1 Kor. 15:58 gee die Here vir ons ’n paar voorbeelde van wat dit beteken om die lewe te leef wat Hy vir ons gee:

Wees standvastig: Met ander woorde staan stewig. God is daar en daarom kan ons vas staan wanneer die lewe moeilik raak. Omdat ons nie uit eie krag werk nie, maar uit die krag van die Heilige Gees wat altyd by ons is, word ons nie vernietig deur die aanslae van die lewe nie.

Dit beteken nie dat die lewe nie moeilik sal wees nie. Dit beteken wel dat God ons sterk maak om die lewe te hanteer wanneer dit moeilik raak. Dit beteken dat ons sterk staan wanneer ons teenkanting kry omdat ons die werk van die Here doen.

Wees onwankelbaar: Met ander woorde ons staan sterk in die geloof. Bly glo in die waarheid en moenie toelaat dat jou geloof ondermyn word nie, soos byvoorbeeld wanneer die ongelowige mense vir ons sê dat wonderwerke nie kan plaasvind nie en dat Jesus nie werklik uit die dood uit opgestaan het nie.

Bly glo in die waarheid van God se Woord. Wanneer die ongelowige mense sê dat Jesus maar net ’n mitiese figuur is en dat Hy nie waarlik geleef het nie, bly glo dat Hy God is wat werklik mens geword het. Glo eerder vir God as die ou satan wat vir jou lieg. Hou aan met glo dat die Bybel die Woord van God is en dat dit nie maar net stories is wat deur mense uitgedink is nie.

Wanneer die lewe moeilik raak, hou moed omdat ons God vertrou. Al verstaan ons nie rede vir sekere gebeurtenisse in ons lewe nie, vertrou God nog steeds.

Al sien ons nie dadelik die resultaat van ons werk in God se Koninkryk nie, vertrou steeds dat God weet wat Hy doen en dat Hy besig is om deur ons swakheid sy doel te bereik.

Wees altyd oorvloedig in die werk van die Here: Met ander woorde, werk met ywer in God se Koninkryk. Hou aan om sy liefdesgebod teenoor alle mense uit te leef. Hou aan om vir mense van God se genade, dit wil sê die goeie nuus van Jesus Christus te vertel deur ons leefwyse en ook deur ons woorde.

Wees betrokke in die gemeente waar God jou geplaas het. Dra mekaar se laste. Wees daar vir jou broers en susters in die geloof. Wees ’n steunpilaar vir hulle wat swaarkry. Deel in mekaar se vreugdes. Besef dat wanneer jy as ampsdraer geroep word, dan is dit die Here wat jou roep, nie die kerkraad nie.

Ons kan bogenoemde opdragte uitvoer omdat ons weet dat ons inspanning nie tevergeefs is nie. Die werk wat ons vir God doen is nie sonder resultate nie en ons weet dat God sy doel bereik deur die werk wat ons doen, hoe gering dit ook al mag wees. Wanneer ons glo dat Christus deur sy dood en opstanding die mag van die sonde gebreek het, weet ons dat ons werk in God se Koninkryk is nie tevergeefs nie.

Slot

Jesus Christus se opstanding is nie net ’n storie wat ons tydens Paasfees weer onthou nie. Dit is die krag waaruit ons elke dag leef. God gee aan ons die oorwinning oor die dood deur ons Here Jesus Christus, leef daarom elke dag uit die krag van daardie oorwinning!

Amen

13 Maart 2026

U is by my

Skrif: Psalm 23 ; Joh. 10:14-15; Open. 21:3-4

 Die tema van verlede week se preek uit Psalm 22 was: “Waar was God toe dit gebeur het?” Dis ’n vraag wat nogal dikwels by mens by mens opkom wanneer jy in die skerpkant van die lewe se seer vasloop.

En terwyl ek besig was om daardie preek te maak het ek ook gedink aan waar was God toe tannie Hester alleen daar in die hospitaal moes sterf? Die slotsom van die preek uit Psalm 22 was troos, geliefdes. Die antwoord op die vraag: “Waar was God toe dit gebeur het?” is, Hy WAS DAAR! Tannie Hester was nie alleen nie.

En dit is die troos wat Psalm 23 ook vandag vir ons bring, geliefdes. Psalm 23 beskryf die lewenspad wat ’n gelowige loop van die begin af tot en met die eindbestemming van jou lewe. Let wel, ek het NIE gesê van die begin tot by jou dood nie, want vir iemand wat in Jesus glo is die dood nie die eindbestemming nie! ’n Gelowige se eindbestemming is sy ewige tuis saam met God.

Psalm 23 maak gebruik van twee verskillende beelde. In vers 1 tot 4 hoor ons van die beeld van ’n herder wat sy skape oppas en vir hulle sorg en dan hoor ons in verse 5 & 6 van die beeld van ’n gasheer wat sy gas onthaal en tuis laat voel en dat die gas op die uiteinde ’n permanente inwoner word.

En dit beskryf vir ons die pad wat die Here saam met ons loop. Terwyl ons hier op aarde is, loop ons die pad saam met ons Herder wat ons lei. Hy sorg vir ons en ons kom niks kort nie. Alles wat ons het, ons kos, ons klere, ons blyplek, ons talente en vaardighede het ons net omdat die Here dit vir ons gegee het.

Hy laat ons rus in groen weivelde. Hy bring ons by waters waar daar vrede is. Wanneer ons terugkyk oor ons lewens en kyk na die mooi en goeie tye en al die vreugde wat ons in die lewe ervaar het, dan moet ons weet dat dit alleen daar was omdat die Here dit vir ons gegee het.

En die pad wat die Here vir ons uitlê is die regte pad want Hy lei ons deur sy Gees op die regte paaie tot die eer van sy Naam. Verder gee Hy ook vir ons die krag daarvoor, want die lewe is nie net altyd maklik en mooi nie.

Selfs wanneer ons deur donker dieptes gaan is Hy steeds by ons en Hy beskerm ons sodat ons ten spyte van die gevare steeds veilig bly. En geliefdes, wanneer ons terugkyk na die swaar tye van ons lewens, dan kan ons maar net bely, dis die Here se genade wat ons daardeur gedra het.

En geliefdes wanneer ons so na die beeld van ’n herder kyk wat sy skape versorg en oppas en na wyding toe bring waar hulle ook by stille waters kan rus in sy teenwoordigheid en waar hy hulle veilig deur die gevare bring wanneer die pad nou en donker raak daar in die diep klowe, dan sien ons die Here se sorg vir ons raak waar ons in hierdie lewe die pad saam met Hom gestap het.

Maar geliefdes, daar kom ’n tyd in elkeen van ons lewens waar ons op die tyd wat die Here bepaal het deur die donker vallei van die dood moet loop. En dit is hier waar die troos van Psalm 23 net nog meer intenser word.

Daar waar die Nuwe Testament by Psalm 23 aansluit hoor ons in Joh. 10:14-15

“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.

Wie is die Herder wat ons deur die donker vallei van die dood heen lei? Dis Jesus geliefdes en die geweldige troos wat ons hier vind is dat ons Hom kan vertrou om ons veilig daardeur te lei want Hy het op ’n keer alleen daardeur gegaan. Daar waar Hy aan die kruis gehang het, het Hy die woorde van Psalm 22 aangehaal toe Hy in bange God verlatenheid uitgeroep het:

My God, my God, waarom het U my verlaat

en bly U ver as ek om hulp roep?

Hy was heeltemal alleen. Daar was niemand wat saam met hom deur die donker vallei van die dood gegaan het nie. Hy het die volle verskrikking van die dood, die algehele Godverlatenheid, alleen trotseer ter wille van elkeen van ons en Hy het dit oorwin! Die dood kon Hom nie vashou nie! Hy het opgestaan en daarmee gee Hy vir ons die waarborg dat elkeen wat in Hom glo NOOIT deur God verlaat sal word nie.

Geliefdes, dis die geweldige troos wat ons het. Die dood hou vir gelowiges geen verskrikking in nie. Wanneer ons deur daardie donker vallei van die dood moet gaan is ons nie alleen nie. Ons Herder loop voor ons met sy stok, d.w.s sy knuppel om ons te beskerm en Hy loop agter ons met sy staf om ons te lei op die pad.

Let op die fyn detail van Psalm 23. In verse 1 tot 3 vertel Dawid vir ons van die Here. Hy vertel hoe die Here sy Herder is en hoe die Here vir hom sorg. Maar hier in vers 4 waar hy in die noute van benoudheid is, praat hy nie meer van die Here nie. Hy praat persoonlik met die Here: “U is met my!”

Hy praat met die Here self en hy sê vir die Here: “ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my” Wat sê dit vir ons geliefdes? God is naby. Hy is nie ver nie! Daar waar dit saak maak is jy nie alleen nie. Dit is daar waar God jou dra. Wanneer die donkerste oomblik kom, praat die gelowige nie meer oor God nie, dan praat jy met God.

En geliefdes as dit vandag vir jou voel dat jy nie kan sê “U is met my!”, luister na wat Jesus vir jou sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Kom na Jesus toe en ervaar die troos en liefde wat net God vir jou gee.

Die troos van Psalm 23 bereik ’n hoogtepunt in verse 5 & 6. Want hier sien ons waarheen die Herder wat die verskrikking van dood gebreek het ons lei. Die donker vallei van die dood is nie die einde nie want ons gaan saam met die Herder deur dit huis toe na ons ewige tuiste saam met God.

Hoor wat sê Dawid hier vir ons:

U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

In die tyd van die Bybel was gasvryheid baie belangrik. Wanneer iemand ’n gas ontvang het, was daar sekere tekens van eer en beskerming:

     olie op die kop

     ’n maaltyd

     die gasheer wat die beker volhou

Die gasheer het letterlik die wynbeker van die gas dopgehou en wanneer die beker begin leeg raak, het hy dit weer vol gemaak en dit het vir die gas gesê: “Jy is welkom om nog te bly.”

Nou word Psalm 23 se beeld baie sterk:

“My beker loop oor.” Dit beteken nie net oorvloed nie. Dit beteken ook: Die gasheer wil nie hê die gas moet weggaan nie.

En dit is juis hiermee waarmee Psalm 23 afsluit:

Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Hierdie troos en versekering sluit so mooi aan by Openbaring 21:3-4

Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Wanneer ons as gelowiges afskeid neem van ’n geliefde dan is ons hartseer want haar plek is nou leeg. Daar is as te ware ’n gat in jou siel wat voorheen nie daar was nie, maar ons treur nie soos hulle wat geen hoop het nie, want ons weet dat elkeen wat in Jesus Christus glo verseker daarvan kan wees dat nadat ons deur die donker vallei van die dood saam met ons Herder gestap het, dat ons vir ewig saam met God in ons hemelse tuiste gaan woon waar ons verlos is van die trane en verdriet van hierdie lewe.

Amen

08 Maart 2026

Waar was God toe dit gebeur het?

 Psalm. 22  teksvers Psalm 22:2

Waar was God toe dit gebeur het?

Waar was God toe die inbrekers ons in ons huis oorval het? Waar was God toe die ongeluk gebeur het? Hoekom het Hy dit nie gekeer nie? So is daar so baie situasies in ons lewe wat aanleiding gee tot hierdie vrae.

Elkeen van ons beleef op een of ander stadium die ellende van die lewe en dit is een van die tergendste vrae wat daar oor die lewe is. Hiermee saam probeer die satan ons oortuig dat God nie omgee nie.

Waar was God toe dit gebeur het? Dit is ’n vraag wat deur al die eeue heen maar net dieselfde bly. Die omstandighede wat aanleiding tot die vraag gee het dalk verander, maar die noodroep bly dieselfde.

Ons weet nie wat Dawid se omstandighede was toe hy Psalm 22 gedig het nie. Moontlik was dit toe hy vir sy lewe moes vlug toe Saul hom wou doodmaak. Moontlik daardie keer toe sy eie seun Absolom sy troon wou afneem. Ons weet nie, maar wat wel duidelik in die Psalm is, is dat dit die dieptes van ellende beskryf wat Dawid op ’n stadium ervaar het.

Die diepste nood wat ’n gelowige kan beleef is die ervaring dat God ons verlaat het. Dit is die ervaring wat Dawid verwoord in Ps. 22:2

My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?

Ons hoor hierin sy intense pyn wat hy beleef het. Die God wat my God is. Die God met wie ek ’n persoonlike verhouding het, het Hom van my onttrek. Hy was nie daar toe ek Hom nodig gehad het nie!

Sy teleurstelling is nog meer intens as ons luister na wat sy voorvaders beleef het in soortgelyke omstandighede soos ons hoor in Ps. 22:5

Op U het ons voorvaders vertrou. Hulle het vertrou en U het hulle gered

Sy ervaring is egter presies die teenoorgestelde. Hy voel soos ’n wurm, ’n voorwerp van bespotting. Sy situasie is so hopeloos dat mense vir hom lag en met hom spot omdat hy in sulke omstandighede nog steeds aan die Here bly vashou. As hy dan so baie van die Here hou, laat Hy hom dan red. So klink die spotstem van hulle wat op hul eie vermoëns staatmaak.

Tog het hy in die verlede ervaar dat God daar is. Dis dan God wat hom sy eerste lewenslig laat sien het en van sy geboorte by hom betrokke was. Dit is wat sy lyding soveel erger maak. Dit voel vir hom of God hom in die steek gelaat het.

Dit is wat lyding aan ’n mens doen. Dit laat jou voel of jy so weerloos is soos water wat uitgestort is. Dis asof jou bene uitmekaar val en jou hart so sag soos was word.

Dit voel vir jou of jou lewe net so min as ’n potskerf werd is. Hierdie beeld wat die digter gebruik, verwys na die erdepotte wat destyds gebruik is. Solank die erdepot heel is, is dit nuttig omdat mens allerlei goed daarin kan bere. Maar as dit gebreek is, is dit niks werd nie. Al wat mens met die stukkende potskerwe kan doen wat oorbly is om dit weg te gooi. Dit is wat lyding doen. Daardie gevoel dat God my in die steek gelaat het. Groter nood kan geen mens hom voorstel nie.

Wat doen mens wanneer jy in so ’n situasie verkeer? Wat het Dawid gedoen? Ten spyte van sy negatiewe ervaring, vlug hy nog steeds na God toe, want hy weet daar is niemand anders wat kan help nie. Ps. 22:12 – 22 beskryf sy gebed om hulp. Hy beskryf sy lyding in beeldryke taal. Sy vyande is soos wilde beeste uit Basan wat hom omsingel. Hulle is soos verskeurende brullende leeus wat op hom afstorm.

Wat doen mens wanneer jy in so ’n situasie verkeer? Jy wend jou na God toe in gebed en jy stort jou hart teenoor Hom uit. Jy beskryf vir Hom presies hoe jy voel. Al jou emosies van woede en vrees stort jy voor die Here uit. Dit help nie om die emosies wat jy ervaar te onderdruk nie, want hulle is daar. Die Here verstaan dat jy so voel en daarom kan en moet jy dit vir Hom vertel.

Psalm 22 beskryf die intense lyding van ’n mens wat swaar gely het, maar dit beskryf ook sy dank teenoor die Here wat hom van sy smart verlos het. Alhoewel dit vir Dawid gevoel het dat die Here hom in die steek gelaat het en dit soms vir ons ook so voel, is die werklikheid dat daar net een mens in die hele geskiedenis van die mensdom wat werklik deur God verlaat was.

In Mat 27:45-46 hoor ons hoe Jesus uitroep

45Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. 46Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

God is al deur die eeue ontelbaar baie keer aangeroep met die klag: “My God, waarom het u my verlaat?” Waar was God toe dit gebeur het? Maar tog was hierdie klag nog net een keer waar, naamlik toe Jesus dit aan die kruis uitgeroep het.

Hierdie middelste van sewe kruiswoorde is die dieptepunt van Jesus se lyding. Dit volg na drie ure van duisternis en stilte waar God en mense geswyg het. Wat het in daardie drie ure gebeur? Die Seun van God het die ewige dood van Godverlatenheid gely. Daarom kan elkeen wat glo in die verlossing van Jesus Christus verseker weet dat hulle nooit weer Godverlatenheid sal ervaar nie. Daarom kon Dawid ook in hierdie gebed waar hy sy ellende in gebed teenoor God verwoord, in die laaste gedeelte God ook dank vir die verlossing wat Hy gee.

Waar was God toe dit gebeur het?

Hy was daar!

Dit is Hy wat jou deur die krisis gedra het. Dit is Hy wat by jou is waar jy midde in die krisis staan. Dit is Hy wat die uitkoms gegee het. Dit is Hy wat jou vashou wanneer die aanslae van die lewe op hulle felste op jou afstorm.

God is daar. Ons moet verstaan dat God ons nie altyd uit die situasie neem nie. In hierdie wêreld is ons nog steeds onderwerp aan die gevolge van sonde. Die diepste nood wat ’n persoon kan ervaar, is om van God vervreem te wees.

Dit is wat Jesus kom herstel het. Met sy kruisdood het Hy die gebroke verhouding tussen God en mens herstel. Met sy opstanding het Hy vir ons ’n lewe saam met God gegee. Ons is egter nog in die wêreld en ons voel nog die nagevolge van die mens se opstand teen God. Ware vrede is nie om vry te wees van moeilike omstandighede nie, ware vrede vind ons in die teenwoordigheid van God.

Wanneer ons in moeilike omstandighede beland voel dit soms of God nie daar is nie, maar Hy is daar en dit is wat Dawid op die uiteinde ook besef het, naamlik dat God ook midde in sy moeilike omstandighede daar was. Daarom verklaar Dawid dat hy voor almal sal getuig wat God vir hom gedoen het en dit is waaroor ons ook moet getuig.

Jesus het die skeidsmuur wat sonde tussen ons en God geplaas het, weggeneem en daarom kan ons verseker wees dat God ons nooit alleen sal laat nie. Ons verstaan nie altyd hoekom sekere omstandighede oor ons pad kom nie, maar ons moet vertrou dat God in beheer is en dat Hy ons nooit alleen sal laat nie.

In Ps. 22:28-29 hoor ons

Mense oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer.

Alle volke sal Hom as koning erken, want die koningskap behoort aan die Here; Hy heers oor die volke.

Hier sien ons dat God besig is om die gebrokenheid van die sondige wêreld te herstel. Dit is die lewende hoop waaraan ons vashou.

Daar kom ’n tyd waar ons nie meer aan die ellende van hierdie wêreld onderwerp gaan wees nie. Dit gee ook vir ons ’n perspektief op die huidige werklikheid waarin ons leef. Selfs die gebrokenheid van hierdie wêreld is nie groter as God nie.

Wat is die ergste wat met ons kan gebeur in hierdie lewe? Ons kan ons lewe verloor en selfs wanneer dit gebeur, is God steeds daar. Die liggaamlike dood is nie die einde nie, maar slegs die begin van ’n ewigheid saam met God. Daarom hoef ons ook nie die dood te vrees nie.

Waar was God toe dit gebeur het?

Hy is daar. Hy laat ons nooit alleen nie selfs al voel dit soms of Hy nie daar is nie. Wanneer dit voel of God jou verlaat het, neem steeds jou toevlug tot Hom.

Jesus het eenmaal ware Godverlatenheid ervaar sodat elkeen wat in Hom glo nooit weer sonder God sal wees nie. Wanneer die lewe vir jou te veel word, stort jou hart teenoor Hom uit en weet dat Hy daar is en dat Hy jou nooit alleen sal laat nie.

Selfs al gebeur dit dat jou lewe geneem word, is Hy steeds daar. Jou liggaamlike dood is nie die einde nie. Dit is slegs ’n deurgang na die ewige heerlikheid saam met God.

Wanneer jy in jou nood na God toe vlug en nie weg van Hom af nie sal jy ’n nuwe perspektief daarop ontdek sodat jy Hom selfs midde in jou nood kan loof en prys. Hou in vertroue vas aan God se genade en weet dat Hy daar is, selfs al voel dit nie altyd so nie.

Amen