26 Augustus 2012

By die Here is daar weer ’n geleentheid om weer te begin


26 Aug. 2012 Nagmaal (RB)
Mar 14:26-31 : Petrus se voortvarendheid – Voortvarende oppervlakkige Christene
Teksvers Mar 14:29
Luk. 22:54-62: Petrus se verraad & berou – Die dieptepunt van my sonde en                             ellende.
Teksvers Luk. 22:62
Joh. 21:15-19 Petrus ontvang vergifnis - God se genade
Teksvers Joh. 21:19
Sing    Lofsang:  Ps. 8 v 1 & 4       (OAB)
           Na wet:     Ps. 91 v 1 & 3     (OAB)
           Na gebed Ps. 86 v 1 & 3     (OAB)
           Tydens Nagmaal Ps. 23 v 3 & Ps. 116 (OAB)
           Slotsang   Ps. 18 v 1 & 2     (OAB)
Inleiding
Die verhaal van Petrus is kenmerkend van ons lewens saam met ons Here. Dit is ’n verhaal van bittere teleurstelling. ’n Verhaal van hartseer. ’n Verhaal van vergifnis. ’n Verhaal van ’n nuwe lewe saam met ons Here.

Voordat hy Jesus ontmoet het was Petrus ’n eenvoudige visserman sonder enige geleerdheid. Sy ontmoeting met Jesus verander sy hele lewe. Hy het ’n nuwe mens met nuwe doelwitte en prioriteite geword. Hy het egter nie ’n volmaakte mens geword nie, maar het nog altyd Simon Petrus gebly. Simon die seun van Johannes, Simon die voortvarende een. Simon die een wat eers gedoen en dan gedink het. Simon die een wat Jesus bitter teleurgestel het in sy uur van nood en benoudheid.

Wanneer ons na die lewe van Petrus kyk dan sien ons, ons eie lewens saam met die Here raak. Alhoewel ons ontmoeting met die Here ’n nuwe mens van ons gemaak het, bly ons nog steeds wie ons is. Die Here verander nie ons persoonlikheid en menswees nie. Hy gebruik dit in sy diens. Ons het nie nou skielik volmaakte mense geword na ons ontmoeting met die Here nie. Wat wel verander is dat ons nou nuwe doelwitte en prioriteite in ons lewens het.

In ons voorgelese gedeeltes hoor ons dat daar drie fases in Petrus se lewe saam met Christus was. Die eerste fase was die tyd van sy voortvarendheid. Kom ons noem dit die fase van voortvarende oppervlakkige Christenwees. Die tweede fase is Petrus se verraad & berou. Kom ons noem dit die dieptepunt van my sonde en ellende. Die derde fase is waar Petrus vergifnis ontvang. Kom ons noem dit God se genade in ons lewens.

Petrus se voortvarendheid – Voortvarende oppervlakkige Christene
Nadat Jesus sy dissipels van sy dood en opstanding vertel hoor ons in Mar 14:29 hoe Petrus ewe selfvoldaan verklaar:
“Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.”
Kenmerkend van Christene wat in hierdie fase is, is ’n selfvoldane trotsheid. Dis tipies daai houding van die Fariseër wat saam met die tollenaar gebid het soos ons hoor in Luk 18:11 & 12:
O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste.’

Dis die Christene wat baie maklik hulle mede broers en susters veroordeel omdat hulle manier van aanbidding nie volgens hulle oordeel korrek is nie. Hoe maklik beland ons self nie ook daar nie? My lewe is reg, kyk maar self hoe goeie lewe ek ly! As die ander in die gemeente maar net soos ek kon wees soos Petrus verklaar, “al sal hulle ook, ek sal nie!” ’n Christen met so ’n houding en gesindheid is nie baie bruikbaar in God se koninkryk nie en doen selfs die koninkryk skade aan deur mense af te sit met hulle arrogansie en selfvoldaanheid. Die Here waarsku ons ook inderdaad daarteen soos ons hoor in 1 Kor. 10:12:
Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
Dit is inderdaad wat ook met Petrus gebeur het soos ons in die volgende deel van sy verhaal hoor.

Petrus se verraad & berou – Die dieptepunt van my sonde en ellende
Kan u, uself indink hoe Petrus gevoel het toe hy opkyk en hy kyk in die hartseer oë van Jesus vas? Ons hoor so ietsie daarvan in Luk 22:62:
En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.
Dit was nie maar net ’n oppervlakkige berou nie. Dit wat ons so maklik doen wanneer ons met ons sonde gekonfronteer word: ja ek het dit of dat gedoen, maar ...... en dan voer ons allerlei verskonings aan om ons sondige gedrag te regverdig. Hierdie oppervlakkige berou is nog steeds deel van die voortvarende oppervlakkige Christen! Petrus het ’n diepe berou gehad waar hy in absolute wanhoop besef het wat sy sonde aan die Here gedoen het.

Geliefdes, het u al opgekyk en die pyn en hartseer in Jesus se oë raakgesien? Besef ek werklik die erns van my sonde wat ek daagliks teenoor die Here begaan? Is ek al op daardie punt dat ek vra: “hoekom doen die Here nog moeite met my?” Geliefdes, voordat ek nie die dieptepunt van my sonde ellende ervaar nie sal ek nooit werklik die diepere betekenis van geloofsversterking van die Nagmaal ervaar nie. Daarom sê die Here ook vir ons in 1 Kor. 11:28:
Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink
Om werklik die troos van die Nagmaal te ervaar moet ons vooraf eers nadink oor ons sonde en vervloeking sodat ons, ons met ’n diepe berou daaroor voor God kan verootmoedig. Het ek al soos Petrus buitentoe gegaan en bitterlik gehuil oor my sonde en ellende? Wanneer ek op daardie punt kom is ek reg vir die genesende salf van God se genade. Dit bring ons by die derde deel van Petrus se verhaal:

Petrus ontvang vergifnis - God se genade
Petrus het Jesus langs ’n vuur verloën en nou langs ’n vuur ervaar Petrus die helende salf van God se genade. Drie maal vra die Here vir Petrus of hy Hom liefhet en driemaal antwoord Petrus positief. Wanneer Jesus vir Petrus vra of hy Hom liefhet, vra Hy vir Petrus of hy lojaal teenoor Jesus is en of hy bereid is om homself op te offer. Die derde maal antwoord Petrus deur middel van totale onderwerping wanneer hy erken dat Jesus alles weet. Petrus het Jesus regtig lief, hoe skeef en krom sy optrede ook al is. Hy ken Jesus en het Hom werklik lief, al is sy menslike pogings vol gebreke.

Met die Nagmaal vra ons Here ook aan elkeen van ons: “het jy my waarlik lief?” Met die Nagmaal word God se genade en sy vergifnis opnuut weer aan ons bevestig. Die wonder van God se genade is dat Hy nie verwag dat ons volmaak moet wees voordat ons in sy diens kan staan nie. Al is ons menslike pogings ook krom en skeef, het Hy ons onvoorwaardelik lief. Daarom moet ons nie by die dieptepunt van ons sonde en ellende in wanhoop bly vassteek nie. Dit moet ons bring na die wonder van God se genade sodat ons daarin sy liefde vir ons kan ervaar.

Dan is dit moontlik dat ons ook die opdrag van die Here wat Hy aan Petrus gee, kan nakom: “Volg My!” Dan kan ons ook hier van die Nagmaaltafel opstaan en versterk in ons geloof werklik dissipels van Jesus wees. Dan kan ons navolgers van Jesus wees en so ook bruikbaar in sy Koninkryk waar ons die evangelie uitdra sonder dat dit vir ons moeite is.

Geliefdes kom ons gaan sit nou aan by die tafel van die Here om daar in ons geloof versterk te word want by die Here is daar weer ’n geleentheid om weer te begin!
Amen

22 Augustus 2012

Dit is net God wat sin en betekenis aan ons lewens gee


19 Aug. 2012 (RB)
Pred. 2:17-26; Teksvers Pred. 2:22
Sing   Lofsang: Ps. 48 v 1 & 5       (OAB)
           Na wet:    Ps. 48 v 4             (OAB)
           Na gebed Ps. 119 v 1 & 2   (OAB)
           Slotsang  Ps. 18 v 12 & 14  (OAB)

Het my bestaan in hierdie wêreld enige sin en betekenis? Dit is een van die belangrike vrae wat elke mens homself op een of ander tyd afvra. Hoekom is ek hier? Wat is my doel? Sou dit enige verskil gemaak het as ek nie hier was nie?

Dit is die vraag waarmee die Prediker homself besig hou in ons teks vanoggend:
Wat het die mens nou eintlik aan alles waarmee hy hom met soveel sorg en ywer in hierdie wêreld besig hou?
Prediker is een van die boeke wat saam met Job en Spreuke as wysheidsliteratuur bekend staan. Hierin vind ons twee kategorieë, naamlik wysheid met die doel om onderrig te gee oor hoe mens moet lewe soos wat ons in Spreuke vind. Die ander kategorie is nadenkende wysheid waar die skrywers daarvan poog om die sin en doel van die lewe te bepaal soos wat ons in Job en Prediker vind.

As mens so deur die boek prediker lees, lyk dit dat die boek vir ons tyd geskryf is want daarin word die kwessies van ons tyd aangespreek. Sake soos die onvoorspelbaarheid van die lewe, die onsekerheid, onreg en wanhoop word bespreek. Die antwoord wat ons in Prediker hierop vind is skokkend. Telkemale hoor ons die refrein “dit kom tot niks. Dit is ’n gejaag na wind.” Nadat die skrywer homself bekendstel as die seun van Dawid en koning in Jerusalem in Pred.1:1 is sy volgende woorde:
Alles kom tot niks , sê die Prediker, tot niks.
soos ons hoor in Pred. 2:2. Hierdie woorde word dan telkemale weer herhaal as ’n slotsom van dit wat bespreek word.

Inderdaad word Prediker deur baie mense beskou as ’n pessimistiese depressiewe boek omdat dit die lewe as nutteloos, vrugteloos en sonder welslae beskryf. Dit bring ons by die ongemaklike vraag: “Het my bestaan in hierdie wêreld enige sin en betekenis?” Of anders gestel, “waarin soek ek na sin en betekenis vir my lewe?” Soek ek daarna deur rykdom na te jaag? Dit is belangrik dat ek daardie duur sportmotor besit, want dit wys darem vir die wêreld dat ek al iets bereik het! Ek glo die leuen van die satan dat as ek tog net ’n miljoenêr kan wees, dan sal ek gelukkig wees. Soek ek daarna in dit wat ek in die lewe kan bereik? Die mense moet sien wie en wat ek is. My posisie in die lewe gee vir my sin en betekenis. Soek ek dit in die najaag van fisiese plesier soos byvoorbeeld kos, opwinding, avontuur? Of soek ek daarna deur kennis na te jaag?

As ek by status of rykdom of plesier of geleerdheid sin en betekenis in die lewe soek, vind ek dat dit doelloos en leeg is soos die Prediker ook vir ons bevestig in Pred. 2:21:
’n Mens wat met wysheid en kennis gewerk en sukses behaal het, laat sy besittings na aan een wat glad nie daarvoor gewerk het nie. Dit is nie reg nie.
Ook dit kom dus tot niks.
As ons maar net na die lewens van die mense om ons kyk, sien ons die waarheid daarvan raak. Hoeveel mense wat skynbaar alles in die lewe het is sielsongelukkig! Besittings of rykdom of status kan mens nie gelukkig maak nie.

En dan kom ons maar weereens by die vraag:
Wat het die mens nou eintlik aan alles waarmee hy hom met soveel sorg en ywer in hierdie wêreld besig hou?
Beteken dit dat mens nie moet hard werk om vorentoe in die lewe te kom nie? Mag ons nie die goeie in die lewe geniet nie? Mag ons nie ’n feesgeleentheid hou soos gisteraand se biltongete nie? Is dit wat ons in die lewe bereik inherent boos?

Glad nie geliefdes. Diegene wat deel is van God se uitverkore kinders, ervaar die lewe as ’n gawe van God en daarom kan die lewe ten volle geleef word soos ons dan ook hoor in Pred. 2:24-25:
Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van God is. Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie?
Prediker is inderdaad ’n boek wat hoop bied en daarom moet mens nie net teen die negatiewe daarin vaskyk nie. Om die lewe ten volle te leef en geniet beteken nie dat ons nou maar net leef om ons eie selfsugtige begeertes te bevredig nie. Dit is veel eerder ’n erkenning dat alles wat ons in die lewe het, ’n gawe uit die hand van God is.

Prediker is ’n boek van hoop, want daarin leer die Here ons dat alhoewel die mens baie dinge kan bereik en baie rykdom en kennis kan vergader, dit sinloos en leeg is sonder God. Dit kom tot niks en dit is ’n gejaag na wind. In prediker leer die Here ons dat die lewe slegs sin en betekenis het wanneer ons dit buite onsself soek deur in die regte verhouding met God te leef soos ons hoor in Pred. 2:26:
Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap.

Die Here leer ons ook dat daar net een manier is hoe ons in die regte verhouding tot Hom kan leef. Ons kan dit slegs doen deur sy genade in Jesus Christus soos ons hoor in 1 Pet. 1:3-4:
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

Deur God se genade in Jesus Christus kan ons as sy uitverkorenes die diepere sin en betekenis in die lewe ervaar juis ook in daardie dinge wat die Prediker so depressief gemaak het. Jesus Christus gee sin en betekenis aan die lewe en Hy wys vir ons dat dit wat die Prediker so baie gevrees het, naamlik dat alles met die dood tot ’n einde kom, nie waar is nie. Die dood is in Jesus Christus nie die einde nie, maar juis ’n heerlike deurgang tot God.

Hoe deel ek in hierdie wonderlike hoop? Ek deel daarin wanneer ek in geloof wat die Heilige Gees vir my gee vasgryp aan die genade van God dat Jesus Christus vir my sondes aan die kruis gesterf het en dat Hy aan my die nuwe lewe geskenk het deur die sy opstanding uit die dood. Geliefdes, kom ons deel in hierdie hoop. Glo, glo in Jesus Christus, want dit is net God wat sin en betekenis aan ons lewens gee.
Amen

15 Julie 2012

Elke gelowige is geroepe om die heerskappy van God op elke lewensterrein met sy hele lewe te verkondig.


8 Jul 2012 (RB)
Skriflesing: Jer. 32:26 – 33:26 Teksverse: Jer. 32:30 en Jer. 32:40 en 3:8

Sing    Lofsang:    Ps. 89 v 1 & 2     (OAB)
           Na wet:       Ps. 103 v 1 & 2   (OAB)
           Na gebed   Ps. 119 v 7&19  (OAB)
           Slotsang     Ps. 32 v 1 & 3     (OAB)

Inleiding
Maak God nog ’n verskil in ons lewe? As Christene aanbid ons die Skeppergod en ons bely dat Hy almagtig is, dat Hy in Jesus Christus ons Vader geword het. Ons glo dat dit Hy is wat ’n verskil in die wêreld kan maak. Tog leef ons dikwels asof Hy nie bestaan nie. Ons doen nie moeite om met Hom te praat nie en ons is traag om na sy stem te luister. Ons gaan Sondae kerk toe, maar vergeet van Maandag tot Saterdag feitlik heeltemal van sy bestaan.

Ons glo nie in die bestaan van afgode nie, maar ons vertrou ook nie juis op God vir elke oomblik van die dag nie. Die volkome beheer van ons lewens berus by ons en nie by Hom nie. In ons teksgedeelte hoor ons dat God volkome beheer oor ons lewe alleen vir Hom opeis. Hierin openbaar God Homself as die Heilige God wat sonde nie kan verdra nie, maar ook as die God wat ons geken het nog voordat ons gebore was en wat ons nooit sal verlaat nie, selfs nie wanneer ons ter wille van ons geloof moet ly nie. Wanneer ons die realiteit van God in ons lewens ervaar sal ons ook outomaties ons roeping uitvoer om as kerk van die Here om die heerskappy van God op elke lewensterrein met ons hele lewe te verkondig.

Historiese agtergrond
Die historiese agtergrond van ons teksgedeelte is soos volg: Dit is 587 vC die tiende jaar waarin Koning Sedekia regeer en dieselfde jaar dat die stad ingeneem sou word en die Jode in Ballingskap weggevoer sou word waar hulle vir 70 jaar sou bly voordat hulle na hul land kon terugkeer. Die Noordelike ryk of die 10 stammeryk Israel is reeds ongeveer 100 jaar vantevore deur Assirië in ballingskap weggevoer. Op hierdie stadium is die Babiloniërs besig om Jerusalem te beleer waar hulle stelling rondom die stad ingeneem het. Die prentjie lyk maar donker vir die Jode. Tog glo hulle en veral Koning Sedekia dat die Here nie sal toelaat dat die Babiloniërs hulle sal oorrompel nie. Jeremia was in gevangeskap omdat bly verkondig het dat die Babiloniërs die stad gaan inneem. Koning Sedekia vra vir Jeremia waarom hy so negatief is en dan antwoord Jeremia dat daar geen keer is aan wat noodwendig moet gebeur nie soos ons hoor in Jer. 32:28:
So sê die Here: Ek gee hierdie stad in die mag van die Galdeërs, in die mag van koning Nebukadnesar van Babel. Hy sal dit verower.

In hierdie gedeelte hoor ons dat God se Heiligheid vereis dat sonde gestraf moet word. God is egter nie net regverdig nie, maar Hy is ook genadig en dit is dan ook die twee aspekte waarby ons in die prediking gaan stilstaan, naamlik die werklikheid van sonde en God se genade.

Is sonde vir my nog ’n werklikheid?
In Jer. 32:26 tot 35 hoor ons dat die inwoners van Jerusalem gestraf gaan word oor hulle sonde. Die Jode het gedink hulle kan maar doen wat hulle wou en sonde doen. Daarom wys die Here hulle baie pertinent op hulle sonde soos ons hoor in Jer. 32:32:
Die mense van Israel en Juda het My getart met al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, hulle, hulle konings, hulle amptenare, hulle priesters, hulle profete, elkeen in Juda, al die inwoners van Jerusalem.

Is dit nie ook maar die probleem van ons tyd nie? Met die mond bely ons God, maar ons leef asof Hy nie bestaan nie. Die moderne mens wil nie weet van sonde nie. Die ongelowige sal baie vinnig vir jou sê dat jy nie veroordelend moet wees nie wanneer jy van sonde praat. Die gelowige aan die ander kant wil ook nie eintlik van sonde hoor nie. God is dan ’n God van liefde. Moenie vir ons van die Ou Testamentiese God preek wat vol oordeel is nie! Daarmee verloor ons baie gerieflik; net soos die Jode van ouds; die werklikheid dat God regverdig en heilig is. Hy kan geen sonde verdra nie. Sonde MOET gestraf word! Die straf vir sonde is die ewige dood weg van God. Besef ons werklik hoe ernstig sonde is en wat die gevolge daarvan is?

Hiermee saam moet ons net weer mooi verstaan wat sonde werklik is. In Jer. 32:34 & 35 hoor ons presies wat sonde werklik is:
Hulle het hulle afskuwelike afgode in die huis gesit waaroor my Naam uitgeroep is en so het hulle my huis verontreinig. Hulle het hoogtes vir Baäl gebou in die Ben-Hinnomdal om hulle seuns en dogters vir Molek as offers te laat verbrand. Ek het hulle dit nie beveel nie; so ’n afskuwelike gedagte om vir Juda te laat sonde doen, het nie eens by My opgekom nie.
Ons mag dalk nou dink dat ons nie meer afgode aanbid nie. Ons bring tog nie meer offers aan Baäl nie.

Maar ons moet insien dat afgodery vandag nog net so aktief is as wat dit in die tyd van die Jode was. Mens dien afgode wanneer jy iets in die plek van God aanbid of anders gestel wanneer iets in jou lewe belangriker as God word. Maartin Luther het gesê: “dit waaraan jy bereid is om die meeste van jou tyd en geld te spandeer is op die uiteinde jou god, al sê jy ook dat jy ’n ander een aanbid!” In die tyd van die Jode het hulle Baäl, die vrugbaarheidsgod in die plek van God aanbid. Doen ons dit nie vandag nog met die permissiwiteit wat so algemeen geword het nie?

Die Jode het hulle kinders vir Molek as offers laat verbrand. Offer ons nie ook maar ons kinders op wanneer ons hulle maar net laat begaan nie? In pleks van liefde en aandag oorlaai ons, ons kinders met al wat wêreldse goed is en leer ons hulle daarmee om die afgod van materialisme en geld te aanbid. Wanneer ons self daardie afgod aanbid dan stel ons mos die voorbeeld vir ons kinders. Is dit nie maar so dat kinders doen wat ons doen en nie doen wat ons sê hulle moet doen nie?

Wanneer ons leef asof God nie bestaan nie is ons besig met afgodery. Wanneer die eie ek in my lewe so belangrik word dat dit die enigste ding is waarop ek fokus, dan is dit ook afgodery. Wanneer ek eksklusief op myself en my behoeftes en wat van my verlang word fokus. Wanneer ek my verkeerde gedrag en optrede regverdig met “ag dit is nou maar eenmaal hoe ek is en mense moet my maar so aanvaar.” As ek in weerwil van God se opdrag weier om my broeder of suster te vergewe soos Hy byvoorbeeld in Kol. 3:13 vir ons sê:
Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

’n Baie goeie toets om te bepaal of ek die afgod van die eie ek aanbid is: “het ek nou enigsins gedink hoe my broeders of susters gesondig het na aanleiding van die voorbeelde wat nou genoem is? Hoogmoed, waar ons maklik die sonde by ander raaksien terwyl ons dit nie by onsself raaksien nie, is sonde! Hoe dikwels is ons nie ook maar self skuldig aan die sondes wat ons so maklik by ander raaksien nie?

Genadiglik is God nie net regverdig nie, maar Hy is ook genadig!

Hoe groot is God se genade?
In Jer. 32:40 hoor ons:
Ek sal nooit ophou om aan hulle goed te doen nie en Ek sal in hulle die begeerte lê om My te dien en nie van My af weg te draai nie.
In Jer. 33:8 hoor ons:
Ek sal hulle reinig van al die sondes waarmee hulle teen My oortree het en al hulle sondes vergewe waarmee hulle teen My oortree het, en in opstand gekom het.
Deur die Heilige Gees verander God ons op grond van sy groot genade. Ons vergeet dit so maklik en die hoogmoed van die eie ek kry so maklik weer die oorhand in ons lewens. Wanneer ons uit God se genade begin leef dan trap ons so maklik in die strik van hoogmoed waar ons begin trots word op die goeie werke wat ons wel doen. Dan begin ons so maklik dink dat God ons iets skuld terwyl ons so maklik vergeet dat ons beste werke nog steeds so vol sonde is dat dit nie vir ’n oomblik voor God se heiligheid kan bestaan nie. ’n Christin kan en mag nie roem oor die goeie wat hy doen nie. Hy kan enkel en alleen maar net dankbaar wees oor God se genade wat in sy lewe werksaam is.

Dit is alleen op grond van God se genade wat Hy in Christus vir ons gedoen het dat ons enigsins vanuit sy genade begin leef. In Jer. 33:15 hoor ons:
In daardie dae, in daardie tyd, sal Ek vir Dawid ’n wettige afstammeling gebore laat word en hy sal in die land reg laat geskied en reg doen.
In die geslagsregister waaruit Christus gebore word soos ons hoor in Mat 1:1-17 sien ons dat hierdie belofte in Christus vervul is. Christus is die ewige Koning wat uit die geslag van Dawid gebore is. Hy is die Koning wat die gevolge van ons sondes op Hom geneem het sodat ons vlekkeloos voor God kan staan. Christus het ons sondes op Hom geneem en sy heiligheid en geregtigheid vir ons gegee sodat ons kan lewe. Daarom moet God die middelpunt van ons lewens wees. Christus se evangelie, dit wil sê die goeie nuus dat Hy my sondes op Hom geneem en vir my lewe gegee het, is nie die eerste stap in ons nuwe lewe saam met God nie. Die evangelie van Jesus Christus is die spilpunt waarom my hele lewe draai.

Slot
Geliefdes kom ons sien weer raak watter verskil God in ons lewens maak. Neem God ernstig op wanneer Hy in Jer. 33:33 sê:
Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.
Ons is geroepe om die heerskappy van God op elke lewensterrein met ons hele lewe te verkondig. Kom ons leef elke dag uit die geskenk van God se groot genade wat Jesus Christus vir ons deur sy kruisdood en opstanding gebring het. Kom ons gryp dit vas met die geloof wat God, die Heilige Gees aan ons gegee het. Kom ons leef asof Christus gister gesterf het en vandag uit die graf opgestaan het en more weer kom op die wolke soos Hy beloof het.                                      Amen

In Christus is ons nou kinders van God en nie meer slawe nie


27 Jun. 2012 (RB)
Skriflesing: Gal. 2:11-21 & Gal. 5:13-26
Teksverse Gal.52:16 & 5:13 & 16

Sing    Lofsang:   Ps. 9 v 1 & 7       (OAB)
           Na wet:      Ps. 86 v 1 & 3     (OAB)
           Na gebed  Ps. 84 v 1 & 6     (OAB)
           Slotsang    Ps. 18 v 1 & 2     (OAB)

Inleiding
Seerowers laat Suid-Afrikaners vry. Dit is een van die koerant opskrifte hierdie week. Bruno Pelizzari, wat 20 maande gelede saam met sy meisie, Debbie Calitz, deur Somaliese seerowers ontvoer is, het gesê hy is bly om sy vryheid terug te kry. Sou dit nie baie eienaardig wees as hulle twee weer willens en wetens hulself as gyselaars by die seerowers gaan aanmeld het nie?

As mens ’n gevange was en jy word dan vrygelaat wil mens nie maklik weer ’n slaaf of gevange word nie, maar tog is daar so baie gelowiges wat hulself weer slawe maak nadat Christus hulle van die slawerny van sonde vrygelaat het. Dit is oor hierdie eienaardige gedrag van Christene dat Paulus hierdie brief aan die gemeente in Galasië geskryf het.

Daar is twee maniere waarop ’n vrygekoopte gelowige weer ’n slaaf word. Of jy word ’n slaaf van die wet of jy word ’n slaaf van die sonde. Altwee is ewe erg en het verwoestende gevolge in ’n mens se lewe omdat beide mens wegneem van Christus se genade.

Agtergrond
Die gemeente in Galasië het veral die gevaar geloop om weer ’n slaaf van die wet te word. Nadat Paulus die gemeente gestig het en hy daarna weer op ander plekke besig was met sendingwerk het daar dwaalleraars gekom en ’n vals leer in die gemeente ingebring. Dit was Joodse Christene wat gemeen het dat die geloof in Jesus Christus nie genoeg was om deel van God se volk te word nie. Hulle het vir die gelowiges in Galasië gesê dat daar nog bykomende vereistes was waaraan hulle moes voldoen voordat hulle deel van God se volk kon word. So het hulle byvoorbeeld van die gelowiges in Galasië verwag om hulself te laat besny en om die Joodse feesdae stiptelik na te kom soos ons hoor in Gal 4:10:
Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier.

Dit is dan ook hierdie dwaalleer wat Paulus in sy brief aanspreek. Die kern boodskap in hierdie brief is dat mens alleen op grond van geloof in Jesus Christus vrysgespreek word en dat dit onmoontlik is om self jou verlossing te verdien. Die gevare wat in hierdie brief aangespreek word is vandag nog steeds teenwoordig in die kerk van die Here en daarom is dit noodsaaklik dat ons daarop bedag moet wees.

Wanneer die kerk toelaat dat hulle ingesuig word in hierdie dwaalleer hou hul op om kerk van die Here te wees omdat hulle van die waarheid afwyk. Dan kan hulle ook nie hulle roeping vervul om die evangelie; dit wil sê die goeie nuus van die verlossing in Jesus Christus uit genade alleen; aan die wêreld te verkondig nie. Die twee gevare waaraan ons vandag in die prediking gaan aandag gee is of ’n slaaf van die wet of ’n slaaf van die sonde.

Slaaf van die wet
Hoe word mens ’n slaaf van die wet? Jy word ’n slaaf van die wet wanneer jy bewustelik of onbewustelik begin om allerlei voorskrifte vir jouself en ander voor te hou om die Here te dien soos Petrus byvoorbeeld gemaak het soos ons hoor in Gal. 2:11 & 12:
11Toe Sefas egter later na Antiogië toe gekom het, het ek my openlik teen hom verset omdat sy optrede duidelik verkeerd was. 12Voordat daar van Jakobus se mense aangekom het, het Sefas gewoonweg saam met nie-Joodse gelowiges geëet. Maar toe dié mense daar aankom, het hy hom onttrek en hom eenkant begin hou, omdat hy bang was vir die voorstanders van die besnydenis.

Dit spruit voort uit interpretasie van hoe die wette wat Moses in die eerste vyf boeke van die Bybel gegee het nagekom moet word. Neem byvoorbeeld die voorskrif in Eks. 23:19 dat ’n boklam nie in sy ma se melk gekook mag word nie. Die Jode se interpretasie daarvan is dat mens nie vleis en melk of self ’n melkproduk soos kaas mag saam eet nie. Hierdie interpretasie is mensgemaakte reëls. In die praktyk kom dit daarop neer dat jy hierdie reëls MOET nakom, anders is jy jou saligheid kwyt en so word jy ’n slaaf van die wet.

Dit plaas ’n geweldige swaar las op ’n mens omdat ons ten spyte van die beste bedoelings nie 100% getrou al die reëls kan nakom nie. Daarmee saam kom dan die oordeel soos ons hoor in Gal 3:10 wat ’n aanhaling uit Deut. 27:26 is:
Maar almal wat staat maak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: “Daar rus ’n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.”

Wat het dit dan nou met ons te doen? Ons hou tog nie meer by die Joodse gebruike van destyds nie. Die beginsel bly egter dieselfde. Sodra mens allerlei reëls en voorskrifte begin voorhou van dit mag en dit mag nie dan raak mens besig met ’n wettiese godsdiens net soos die Judaïste wat daar in die gemeente in Galasië besig was. Is ons kerke se groot stryd met watter berymings ons mag sing en nie mag sing nie ook nie maar besig om op ’n wettiese godsdiens af te stuur nie? Om nou maar ’n enkele voorbeeld te noem.

Wanneer mens so wetties raak, dan word mens gewoonlik ook baie veroordelend teenoor diegene wat nie daarby inpas nie. Dink maar net hoe venynig is gelowiges met mekaar oor die en die ander strydpunte daaroor. En so vertoon ons al hoe meer die karaktereienskappe van ons sondige natuur waar vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring aan die orde van die dag is soos ons hoor in Gal. 5:19-21.

Die troos is egter dat ons nie nodig het om slawe van die wet te wees nie want die Here sê tog baie duidelik vir ons in Gal 2:16:
En tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.
Dit is alleen op grond van mens se geloof in Jesus Christus dat ons vrygespreek word!

Wanneer hierdie waarheid so duidelik verkondig word kom die vraag noodwendig op: “Maak hierdie leer van genade dan nie van ons onverskillige mense nie?” Maar net soos ons slawe van die wet kan word, kan ons ook slawe van die sonde word.

Slaaf van die sonde
Hierteen waarsku die Here ons ook baie duidelik soos ons hoor in Gal. 5:13:
Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.

Christus het ons bevry van die slawebande van die sonde. Daar is geen vryheid in die sondige praktyke van onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al sulke dergelike dinge nie!

Dit is nie die lewe nie. Dit is die dood! Wanneer Jesus ons vrygemaak het moet ons, ons lewe deur die Heilige Gees laat lei soos ons hoor in Gal. 5:16:
Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.

Wanneer ons dit doen dan sal die vrug van die Gees duidelik in ons lewens sigbaar wees soos ons hoor in Gal.5:22:
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

Slot
Geliefdes pasop vir die gevare daarvan om weer ’n slaaf van die wet of ’n slaaf van die sonde te word. Kom ons soek ons vryheid in Jesus Christus en nie in die nakoming van allerlei voorskrifte soos wat ons mag aantrek of nie aantrek nie of dit mag ons op ’n Sondag doen en dit nie. Wanneer ons, ons lewens deur die Gees laat lei dan sal ons outomaties so aantrek dat dit tot eer van die Here strek en sal dit wat ons doen lei tot liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Ons moenie weer slawe van die wet of sonde word nie. Kom ons vind ons vryheid in Jesus Christus want in Christus is ons nou kinders van God en nie meer slawe nie.
Amen

God is Lig – wandel in sy Lig!


17 Jun. 2012 (RB) 15 Jul. 2012 TB
Skriflesing: 1 Joh. 1 Teksverse: 1 Joh. 1:5-7

Sing    Lofsang:  Ps. 100 v 1 & 4   (OAB)
           Na wet:     Ps. 40 v 4            (OAB)
           Na gebed Ps. 119 v 52       (OAB)
           Slotsang   Ps. 119 v 39       (OAB)

Inleiding
Wat verwag die Here van sy kerk? En as ons dit vra impliseer die vraag ook outomaties: “wat verwag die Here van my?” Dit is een van die vrae wat gelowiges oor al die eeue heen vra, veral in krisis tye en wanneer ons lewensbelangrike besluite moet neem. Wat verwag die Here van mense wat Hom opreg wil dien?

In 1 Joh. 1 kry ons ’n antwoord op bogenoemde vraag. Dit was een van die kwessies wat Johannes in sy brief wil opklaar en daarom skryf hy hierdie brief in die vorm van ’n preek omdat dit ten doel het om gemeente te leer. Hulle het ook gesukkel met die vrae “wat verwag God van ons? Wat beteken dit om ’n navolger van Jesus te wees?”

Om hierdie vrae te antwoord gebruik Johannes die beeld “God is lig - wandel in God se lig” en dan verduidelik hy wat dit beteken. Eerstens verduidelik hy wat beteken die stelling “God is Lig” en daarna wat dit beteken om in God se lig te wandel.

God is Lig
Hierdie stelling beskryf vir ons hoe lyk God se karakter en daarmee saam dan ook wat dit vir elke volgeling van Jesus beteken. Die tema van God wat Lig is loop soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel van Genesis 1 tot en met Openbaring 22. Lig staan vir alles wat eie aan God se wese is, dit wil sê vir alles wat reg en goed is. Lig wat goed is teenoor donker wat boos is, dit wil sê alles wat sonde is. Lig is iets konkreets wat wetenskapliks kan meet en bepaal.

Teenoor lig is donker. Donker is egter nie streng gesproke die teenoorgestelde van lig nie. Donker is die afwesigheid van lig en daarom kan mens nie donker meet of bepaal nie. Hoe donkerder dit is hoe minder lig is daar teenwoordig. Mens moet egter die hoeveelheid lig meet om te bepaal hoe donker dit is. Waar daar geen lig is nie is dit absoluut donker. Net so is sonde dit wil sê die boosheid nie die teenoorgestelde van goed en reg nie. Dit is die AFWESIGHEID van goed en reg. “God is Lig” verduidelik vir ons God se absolute heiligheid, dit wil sê daar is geen sonde teenwoordig nie soos ons dan ook hoor in 1 Joh. 1:5
God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.

God is alles wat sonde nie is nie. God is liefde. Sonde is ’n gebrek aan ware liefde. Hierdie beeld van God is Lig en daar is geen duisternis in Hom nie, is nie maar bloot net ’n teoretiese beeld van God nie. Dit beskryf vir ons ten diepste wie God werklik is. Hy is die suiwer bron van lig. God is volkome heilig en Hy is nie besoedel met die boosheid van byvoorbeeld haat, leuens, vyandskap en al die ander sondes nie. God is suiwer liefde. Daarom is dit ook ’n onsinnige vraag om te vra of God regverdig optree in dit of dat wat Hy doen. Wanneer mens dit vra dan meet mens God se regverdigheid aan ’n maatstaf wat buite God is terwyl God self die maatstaf is waaraan regverdigheid gemeet word.

Dink so daaraan. Toe hulle bepaal het hoe lank een meter is, het hulle ’n maatstok geneem en bepaal dat dit die standaard is. Daardie maatstok word veilig gebere. Mens kan dus nie gaan meet of daardie maatstok een meter is nie, want dit is die maatstaf wat bepaal hoe lank ’n meter is. Enige maatstok wat daarmee verskil is verkeerd. Net so is God die maatstaf wat bepaal wat goed en reg is en enige iets wat daarmee verskil is verkeerd. God is Lig en daar is GEEN donker in Hom nie.

Die duidelikste beeld van God wat lig is, word verteenwoordig in Jesus wat as mens na die aarde gekom het om God se liefde soos ’n lig in ons donker sondige lewens in te skyn. Dit is waarvan Johannes ’n ooggetuie is soos ons hoor in 1 Joh. 1:1-4.
Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.
Jesus Christus laat die volmaakte lig van God se liefde skyn op ’n donker wêreld wat God nie ken nie. Daar waar God se liefde soos ’n helder lig skyn kan die sonde nie langer bestaan nie. Daar is nie genoeg donkerte in die heelal om die lig van een klein kersie uit te doof nie. Hoeveel te meer sal die donker staande kan bly voor God se suiwer lig van geregtigheid?

Daarom beteken die stellig “God is Lig” ook
Wandel in sy lig
Wandel is ’n mooi Afrikaanse woord wat veel meer beteken as loop. Mens loop van een plek na ’n ander, maar mens wandel deur die lewe van jou geboorte tot aan die einde van jou lewe. Wandel in God se lig beteken dus: lewe jou lewe daar waar God se lig van liefde op jou skyn of nog eenvoudiger, om in God se lig te wandel beteken dat jy jou hele wese , dit wil sê alles wat jy dink, alles wat jy besluit en alles wat jy doen eers meet aan God se standaard. Dit beteken nie dat mens nou skielik volmaak word nie want die Here sê tog baie duidelik in 1 Joh. 1:8:
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.
en in 1 Joh. 1:10 beklemtoon die Here dit:
As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Ons is nie die bron van lig nie, maar slegs die spieëls wat God se lig weerkaats. Net soos ’n spieël nie volmaak al die lig weerkaats wat daarop skyn nie, net so is ons in hierdie lewe ook nie volmaak nie. Sommige spieëls het dowwe kolle en weerkaats dus maar flouerig. Die rede waarom ’n spieël lig flou weerkaats is omdat daar iets tussen die spieël en die bron van lig is. Dink byvoorbeeld aan die maan. Dit weerkaats die son se lig op die aarde, maar wanneer die aarde se skaduwee op die maan val kan dit nie die son se lig weerkaats nie. Sonde is soos ’n skaduwee wat op ons val omdat dit soos ’n muur tussen ons en God is en dan is dit onmoontlik om God se lig te weerkaats soos ons hoor in 1 Joh. 1:6:
As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie.

Hoe verder mens dan van God af wegbeweeg, hoe donkerder word dit in mens se lewe. Hoe meer mens sondig hoe verder beweeg mens van God af. As ons uit die donker van sonde in ons lewens wil wegbeweeg moet ons nader aan God se Lig kom. Die enigste manier hoe om dit te doen is deur Jesus Christus soos ons hoor in 1 Joh. 1:7:
Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.

Hoe doen ons dit prakties? Hoe kom ons nader aan die Lig? Die Here spel dit vir ons uit in 1 Joh. 1:9:
Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
Dit is eers wanneer ons bewus word van ons sonde dat ons daarteen kan stry. Ons word bewus van ons sondes wanneer ons, ons lewenswandel meet teen die volmaakte Lig van God se Woord. Mens kan eers die vuil kol op jou gesig raaksien wanneer jy in ’n spieël kyk. Net so kan jy eers die sonde in jou lewe raaksien wanneer jy na dit kyk in die spieël van God se Woord. As ek alles wat ek dink, alles wat ek besluit en alles wat ek doen meet teen die suiwer Lig van God, is die vraag “sal dit aan die standaard voldoen?” Indien nie maak dan soos die Here sê: Bely jou sondes teenoor die Here en weet dat Hy getrou is om ons te vergewe en te reinig van al ons ongeregtighede. Ons moet egter net baie goed onthou dat dit nie hier gaan oor verlossing nie. God gee verlossing uit genade sonder dat ons dit verdien vir elkeen wat glo aan Jesus Christus se dood aan die kruis en sy opstanding. Dit gaan hier oor hoe Jesus ons help om die sonde in hierdie lewe te oorwin. Dit is die pad van heiligmaking wat ons saam met die Here stap. Dit is soos ’n ghrieskol op jou hand. Die eerste keer wanneer jy dit was is dit nog daar, dit is net ligter, maar hoe meer jy dit was hoe ligter word dit totdat dit heeltemal skoon is. Hoe nader ons aan God se lig beweeg hoe minder word die sonde in ons lewens en hoe meer gehoorsaam ons sy heilige Woord.

Slot
Wat verwag die Here van ons as sy kerk? Hy verwag dat ons sal weet dat Hy die enigste bron van ware Lig is, dit wil sê Hy is die enigste bron van waarheid goedheid en regverdigheid is. Ons moet op Hom alleen vertrou. Ons moet met ons lewens al hoe nader aan die Lig beweeg, dit wil sê al hoe nader aan God beweeg sodat die lig van sy liefde deur middel van ons lewens al hoe helderder kan skyn in ’n donker wêreld wat Hom nie ken nie. Ons moet sy liefde weerkaats. Ons beweeg nader aan die lig van God se genade en liefde wanneer ons, ons sondes teenoor Hom bely. Wanneer ons, ons sondes teenoor Hom bely vergewe Hy ons sondes en reinig Hy ons daarvan. Hoe meer ons dit doen hoe nader beweeg ons aan God se lig.

Kom ons vat saam vir die jonger kinders. Net soos lig die donker wegvat, net vat Jesus al die verkeerde en lelike dinge wat ons doen weg. Al wat ons moet doen is om aan Jesus te glo en hoe meer ons dit doen hoe minder word ons sondes in ons lewe. Dan sien die mense wat Jesus nie ken dit raak en dit maak dat hulle Jesus ook wil leer ken. Die belangrikste wat julle moet onthou is “Glo in Jesus Christus”

Geliefdes: God is Lig – wandel in sy Lig!                          
Amen

Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie


10 Jun 2012 (RB)
Skriflesing: Open. 3:7-13 Teksverse: Open. 3:8 & 11

Sing    Lofsang:   Ps. 145 v 1&9     (OAB)
           Na wet:      Ps. 130 v 1 & 2   (OAB)
           Na gebed  Ps. 9 v 1 & 7       (OAB)
           Slotsang    Sb. 18-7 v 1,11 & 12   (Sb 45)

Inleiding
Een van ons groot bekommernisse is dat kerk op die platteland al hoe kleiner word. Heelwat gemeentes wat baie jare oud is moes hul deure sluit. Dit is ook nie net die Dopperkerk wat krimp nie. Ons broeders en susters in die NG kerk sit met dieselfde probleem. Ons gemeentes is maar klein en onaansienlik. Ons lidmaat getalle is maar klein. Ons sukkel met finansies met begrotings wat maar net nie wil klop nie. Daar is nie vername persone by ons nie. Menslik gesproke lyk die prentjie maar donker vir die kerk op die platteland.

In hierdie brief aan Filadelfia vertel die Here vir ons die verhaal van ’n kerk wat baie in gemeen het met ons plattelandse gemeentes. Filadelfia of Alaseïr soos dit vandag bekend staan lê ongeveer 45km suidoos van Sardis op die hoofposroete langs die Kogamisrivier. Die stad was ook gereeld deur aardbewings geteister en dit is ook ’n paar keer deur aardbewings verwoes en moes dan weer opgebou word. Die gemeente daar was maar klein en onaansienlik. Hulle was arm en daar was ook nie juis vername mense daar by hulle nie. Verder het hulle ook groot teenstand van veral die Joodse gemeenskap, die sogenaamde Judaïste ervaar wat Jesus nie as God aanvaar het nie en wat ook sy lyding verwerp het. Hierdie Judaïste het hulle probeer wysmaak dat hulle geen toegang tot God gehad het nie omdat hulle in Jesus geglo het.

Geleentheid
Wanneer Jesus ’n brief aan die gemeente stuur vertroos Hy dan ook die gemeente. Filadelfia en Smirna is die enigste twee gemeentes wat nie bestraf of vermaan word nie. Dit is ook die enigste twee gemeentes wat vandag nog bestaan. Ten spyte daarvan dat hierdie gemeente maar klein en swak was, was hulle getrou aan hulle opdrag om die evangelie te versprei en het hulle vasgehou aan die boodskap van Jesus se volharding in die lyding tot versoening.

Jesus stel Homself op ’n besondere wyse bekend in sy brief aan die gemeente. Hy begin deur te sê dat Hy die Heilige, die ware God is. Die titel van ware God beklemtoon sy egtheid as God. Die verwysing na die sleutel van Dawid dui sy mag as Messias aan. Hy is die enigste ware God wat in beheer van alles is. Al het die Jode hulle uit die sinagoge uitgesluit is dit net Jesus wat toegang kan verleen na God se volmaakte koninkryk, die nuwe Jerusalem. As Christus die deur oopsluit kan niemand dit toesluit nie. Die verwysing in vers 8 na die deur wat Christus oopgesluit het, het ’n dubbele betekenis. In die eerste plek dui dit daarop dat die gemeente toegang het na die koninkryk van God ten spyte daarvan dat die Jode hulle uit die sinagoge uitgesluit het. Aan die ander kant dui dit ook op hul sendingtaak wat hulle het deurdat die poort na die Ooste vir hulle ooplê.

In ons teksvers sien ons ’n belangrike beginsel wat vir ’n gemeente nodig is om die oop deur wat Christus gee te kan gebruik. Filadelfia was klein en swak. Hulle kon dus nie uit hulle eie vermoë gebruik maak van die oop deur nie. Die belangrikste aspek wat vir elke kerk van alle tye nodig is, het hulle nagekom. Hulle het in geloof bly vashou aan Christus se boodskap van volharding en sy lyding. Dit is die boodskap van die evangelie of goeie nuus dat Jesus Christus vir ons sondes gely het aan die kruis en dat Hy met sy opstanding aan ons ’n nuwe lewe gegee het. Filadelfia het aan hierdie boodskap vasgehou en dit beteken dat hulle Christus nie verloën het nie. Dit is nie hul goeie werke wat hulle gedra het nie. Dit is God se genade in Jesus Christus en hulle het in geloof vasgehou daaraan.

Omdat hulle aan God se genade met geloof vasgehou het, kon hulle groot teenstander hulle nie onderkry nie, want op die uiteinde is dit maar die satan wat mense gebruik om die kerk teen te staan. Die troos is dat hy God nie kan oorwin nie en dat ook hy wat die gelowiges gedurig deur aankla sal moet erken dat God sy kerk liefhet.

Wat sê hierdie brief vir ons? Ons moenie teen ons swakheid vaskyk nie. Die feit dat ons maar min lidmate het en dat ons daarom ook sukkel met ons finansies hoef ons nie te keer om God se opdrag uit te voer nie. In 2 Kor. 12:9 hoor ons dat God se krag tot volle werking kom wanneer ons swak is:
Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.
Dit is juis deur ons swakheid wat die Here se krag werk en daarom is ons gemeente se kleinheid en swakheid nie ’n nadeel nie, maar is dit juis ’n voordeel, want nou kan God se krag deur ons begin werk!

Om God se sending opdrag uit te voer moet ons net met geloof vashou aan die evangelie van Jesus Christus. Wat beteken dit prakties? Dit beteken doodeenvoudig dat ons nie spesiale vaardigheid of bekwaamheid nodig het om die evangelie te versprei nie. Al wat ons moet doen is om te glo in Jesus Christus se verlossing en dat ons teenoor almal wat oor ons pad kom kan getuig watter verskil Jesus in my lewe gemaak het. Dit is iets wat elke lidmaat, dit wil sê elke grootmens en elke kind in hierdie gemeente kan doen. Met my lewe wys ek vir die wêreld en met my mond getuig ek teenoor die wêreld watter verskil Jesus in my lewe maak. As Jesus nog nie ’n verskil in my lewe maak nie dan het ek nog nie by sy genade uitgekom nie. Dan is dit nodig dat ek in geloof (wat die Heilige Gees gee) na Hom toe kom en dat ek in geloof die verlossing wat Hy uit genade gee my eie maak.




Belofte
Elkeen wat met geloof vashou aan God se genade deel in die wonderlike belofte wat Hy gee. In die eerste plek is die belofte dat Hy ons in tye van beproewing sal vashou soos ons hoor in vers 10:
Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.
Christene word nie gevrywaar van die beproewings wat oor die wêreld kom nie, maar ons het wel die belofte dat God ons sal vashou en sal dra wanneer die beproewings oor ons pad kom.

Die opdrag wat die Here aan sy kerk gee hoor ons in vers 11:
Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie.
Die kroon waarvan hier gepraat word is die ewige lewe wat God gee. Hier word die beeld van ’n pilaar in God se tempel gebruik. Die gelowige staan stewig net soos ’n pilaar vas staan. Verder word God se Naam op elkeen geskryf. Dit dui op die vaste sekerheid dat elkeen wat glo aan God behoort en dat niks ons uit sy hand kan ruk nie. Hierdie belofte is egter net waar vir diegene wat glo in Jesus Christus en wat sy Naam bely as hul Heiland en Verlosser.

slot
God se krag kom juis tot volle werking wanneer ons swak is. Dit is juis dan wat God se krag in ons lewens sigbaar word en dan kan ek teenoor die wêreld getuig watter verskil Jesus in my lewe gemaak het. Dit is God se genade in Jesus Christus wat vir ons die belofte van die ewige lewe gee. Om deel te hê daarin moet ons luister na wat die Heilige Gees vir ons sê: “Hou in geloof vas aan God se genade.” Laat ons daarom vashou wat ons het sodat niemand ons kroon wegvat nie.
Amen

Leef die nuwe lewe wat God deur genade skenk


3 Jun 2012 (RB)
Skriflesing: 1 Pet. 1:1-16 Teksvers: 1 Pet. 1:3

Sing    Lofsang:   Ps. 33 v 1            (OAB)
           Na wet:      Ps. 38 v 1 & 17   (OAB)
           Na gebed  Ps. 33 v 5 & 11   (OAB)
           Slotsang    Ps. 31 v 4 & 5     (OAB)

Inleiding
Ons noem onself Christene, maar wat beteken dit werklik om ’n Christen te wees? Christenskap beteken tog veel meer as om te sê dat ek aan een of ander kerk behoort en dat ek gereeld op Sondae die eredienste bywoon. Is dit hoe ek myself as ’n Christen sien? As dit die somtotaal van my Christenskap is dan verstaan ek nog nie werklik wat dit beteken om ’n Christen te wees nie! As ek nie verstaan wat dit beteken om ’n Christen te wees nie, dan verstaan ek noodwendig ook nie wat dit beteken dat ’n Christen kerk van die Here is nie.

As ons vra wat beteken dit om werklik ’n Christen te wees, vra ons daarmee saam wat beteken dit om werklik kerk van die Here te wees? ’n Verkeerde idee van wat ’n Christen is bring ook mee dat ek ’n verkeerde idee het van wat kerk is. Dan is die uiterlike simbole en rituele van kerk vir my belangrik. Dan heg ek byvoorbeeld meer aandag daaraan oor watter beryming ons sing of oor watter instrument ons vir die begeleiding van die sang gebruik eerder as wat dit by my gaan dat ek met my sang God loof en prys. Dan stry ek byvoorbeeld daaroor oor watter klere gepas is om “kerk” toe te dra. Dan is die erediens die somtotaal van “kerk” vir my, maar as mens na my lewe kyk dan is die kerk van die Here nie sigbaar nie! Dan lyk my lewe maar net soos die wêreld daarbuite wat onmin stook, wat veroordelend is, wat my eie wil op mense wil afdwing en wat mense veroordeel wat nie by my wil inpas nie.

Die nuwe lewe
As Christen wees en kerkwees dan nie gaan oor die uiterlike simbole en rituele nie, wat beteken dit werklik om ’n Christen te wees? In hierdie eerste brief van Petrus sê die Here vir ons wat dit beteken om ’n Christen te wees. In die eerste plek word mens nie ’n Christen omdat jy so mooi of oulik of belangrik is nie. Dit is ook nie omdat jy iets gedoen het om dit te verdien nie. Dit is op grond van God se genade dat mens ’n Christen word soos ons hoor in 1 Pet. 1:3-4
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.
Christus het die dood, wat die straf vir die sonde is, oorwin met sy opstanding. Daardeur gee Hy aan ons ’n nuwe lewe. Ons ontvang dit sonder dat ons dit verdien het.

Wat beteken dit dat ons ’n nuwe lewe het? Dit beteken dat ons lewe nou radikaal anders lyk as die sondige wêreld waarin ons leef. ’n Christen se lewe skyn soos ’n lig in ’n donker plek. Daarom word ’n Christen se lewe nie meer beheers deur sondige begeertes nie. Losbandigheid en dronkenskap is nie meer deel van sy lewe nie. So ook is vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid en skeuring ook nie meer deel van ’n Christen se lewe nie.

Lyk my lewe radikaal anders as die sondige wêreld waarin ek leef? Wat moet ek doen om te deel in die nuwe lewe wat God vir my gee? Die verkeerde antwoord is dat ek my lewe moet regruk en sorg dat ek ’n beter lewe begin lei. Die Here sê vir ons hoe ons deel kan kry aan die nuwe lewe wat Hy in sy groot genade aan ons gee soos ons hoor in 1 Pet. 1:5
En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word

God se genade is so groot dat Hy selfs die geloof wat Hy vra aan ons gee soos ons hoor in 1 Pet. 1:2:
Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.
In sy genade gee God alles wat ons nodig het om deel te kry aan die nuwe lewe wat Hy gee. Daarmee saam gee Hy ook aan ons die verantwoordelikheid om met geloof wat Hy gee vas te gryp aan sy genade.

Die wonderlike troos van God se genade is dat Hy nie net aan ons verlossing skenk nie, maar dat Hy ons ook bewaar soos ons hoor in 1 Pet. 1:5:
En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.
’n Christen weet daarom ook dat God permanent vir hom sorg en dat hy alles in sy lewe aan God kan toevertrou.

’n Christen is iemand wat die nuwe lewe uit genade van God ontvang deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.

Watter reaksie veroorsaak die nuwe lewe wat God gee?
Iemand wat die nuwe lewe van God ontvang het kan nie anders as om ’n onblusbare vreugde te ervaar nie. Selfs of dalk veral wanneer dit swaar gaan in sy lewe gee die nuwe lewe mens krag om te getuig van God se liefde en genade. Omdat die geloof wat God gee so belangrik is om daarmee vas te hou aan God se genade, word dit getoets deur swaarkry en lyding soos ons hoor in 1 Pet. 1:6-7:
Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.

Swaarkry is nie lekker nie, maar dit is iets wat deel is van elkeen se lewe. Die manier waarop ’n gelowige swaarkry hanteer kan ’n baie sterk getuienis in mens se lewe wees. Petrus verwys herhaaldelik na lyding en beproewings in hierdie brief. Dit gaan hier egter nie om lyding in die algemeen nie. Dit gaan nie oor swaarkry wat as gevolg van siekte of rampe of jou eie sondigheid oor jou pad kom nie. Hier gaan dit oor swaarkry wat ons sou ervaar omdat ander mense teen ons diskrimineer omdat ons aan God gehoorsaam wil wees. Mense wat op die verkeerde pad is wil nie alleen op daardie pad wees nie. Hulle wil graag ondersteuning hê en daarom sal hulle alles in hul vermoë doen om diegene wat die regte ding wil doen af te kraak en te verkleineer. As net een of twee persone in ’n groep die regte pad wil loop, dan sal die res van die groep hul gewoonlik verkleineer en uitstoot.

Wanneer mens egter ’n nuwe lewe by God kry, dan wil mens nie meer saamgaan met die verkeerde dinge van jou sondige natuur nie omdat die Heilige Gees besig is om jou lewe te verander. Wanneer jy in ’n ander rigting loop as wat die meerheid gaan dan moet jy weet dat geloof getoets word. Vertrou jy eerder op God of vertrou jy op mense? Wanneer mens op God vertrou, veral in die aangesig van teenstand en diskriminasie dan besef jy dat om deel te hê aan die saligheid van God nie iets vir eendag is nie, maar dat dit nou reeds ’n werklikheid is. Die nuwe lewe wat God gee maak dit moontlik om ook onder swaarkry te volhard. Dan besef mens dat jy jou vreugde in die Here vind en nie in mense nie. Dit is net God wat jou gelukkig kan maak en nie mense nie daarom sê die Here ook vir ons in 1 Pet.1:14-16:
As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

Slot
Wat beteken dit om werklik ’n Christen te wees? Dit beteken dat ek ’n nuwe lewe ontvang uit God se genade deur Jesus Christus wat die dood oorwin het omdat ek glo. Dit beteken dat ek daardie nuwe lewe leef sodat ek kan besef dat ek nou reeds deel het aan die ewige saligheid saam met God. Geliefdes: Kom laat ons die nuwe lewe leef wat God uit genade skenk.
Amen