24 Maart 2012

VERKLARING VAN DIE BYBELGENOOTSKAP VAN SUID-AFRIKA NA AANLEIDING VAN 'N PETISIE TEEN 'N NUWE AFRIKAANSE BYBELVERTALING


22 Maart 2012

VERKLARING VAN DIE BYBELGENOOTSKAP VAN SUID-AFRIKA NA AANLEIDING VAN 'N PETISIE TEEN 'N NUWE AFRIKAANSE BYBELVERTALING

Dit het onder die aandag van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) gekom dat daar skrywes per e-pos die rondte doen wat mense versoek om teen die Afrikaanse Bybelvertaling wat tans onderneem word, op te tree.

Die rede wat aangevoer word (en daar word aangehaal presies soos dit in die petisie  staan), is dat die vertaling “Jesus Christus, die Seun van God, as 'n gewone mens  omskryf” asook dat die vertaling “Beoog Om Jesus Christus Totaal En Al Uit DIE  MESSIAANSE PROFESSIEë Uit Te Vertaal, Deur KLEINLETTERS Te Gebruik Inplaas

van GROOT LETTERS.” Verder word gesê: “Met Jesus Christus uit hierdie Nuwe  vertaling (2016) word die GODHEID VAN JESUS CHRISTUS Totaal en al wegvertaal,  en kan ENIGE (NEW AGE) god nou in hierdie skrifgedeelte in geredeneër word.”

Die BSA wil hom ten sterkste teen hierdie e-posse uitspreek aangesien dit van alle waarheid ontbloot is. Hierdie aantygings word in 'n baie ernstige lig beskou.

Ons gee graag aan u meer inligting oor die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat tans onderneem word:

Hierdie vertaling is deur die kerke wat Afrikaans as voertaal gebruik, aangevra omdat  daar ‘n behoefte aan ‘n bronteksgeoriënteerde of direkte vertaling van die Bybel in  Afrikaans is. Die BSA inisieer self nie nuwe Bybelvertalings sonder die goedkeuring van  die betrokke kerkgenootskappe nie en voer dus net die opdrag van die kerke uit met  hierdie vertaling.

Die vertaalopdrag wat opgestel is in medewerking met die kerke is “skep ‘n goed  verstaanbare bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling wat geskik is vir voorlesing en  gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.” Dit word  verder omskryf as ’n vertaling wat ’n getroue weergawe van die betekenis van die  bronteks moet wees, terwyl beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks sover  moontlik behou moet word. Die vertaling moet van hoë letterkundige gehalte en goed  verstaanbaar wees. Verklarende voetnotas moet gebruik word om inligting te voorsien  wat nie in die vertaling self voor die hand liggend is nie.

Die vertalers van hierdie vertaling eerbiedig die Nuwe-Testamentiese verstaan van die  Ou Testament en aanvaar sonder voorbehoud die Ou Testament as deel van die  Christelike Bybel. Die vertalers is deeglik bewus daarvan dat daar vir die Nuwe  Testament op bepaalde plekke in die Ou Testament, naas die gewone betekenis ook ’n  “verborge” of “dieper” betekenis is, wat verwysings is na Christus en dit wat Hy sou kom  doen. Die vraag wat vooraf baie lank beredeneer is, was die volgende: Moet die  “verborge” of “dieper” Nuwe-Testamentiese verstaan van ’n teks reeds in die vertaling  van die Ou Testament neerslag vind, met die gevolg dat die voor die hand liggende  betekenis op die agtergrond skuif; of moet die gewone betekenis vertaal word met die  gevolg dat die Nuwe-Testamentiese verstaan van die teks, nie aangedui word nie? Dit was duidelik dat dit onmoontlik is om sowel die voor die hand liggende betekenis as die  dieper betekenis tegelyk te verwoord of in druk aan te dui in die vertaling.

Omdat die vertalers egter wel die Nuwe-Testamentiese verstaan van gedeeltes in die  Ou Testament eerbiedig, is besluit om in die vertaling al daardie gevalle waar die Nuwe  Testament ʼn verwysing na Christus in ’n woord of woorde van die Ou Testament sien, in  die Ou Testament met ’n voetnoot te merk. Sodoende kan die leser se aandag gevestig  word op die Nuwe-Testamentiese verstaan van die bepaalde woord of woorde en dít  sonder verlies van die betekenis daarvan in die Ou-Testamentiese verband. In die Nuwe  Testament sal daar ook na die betrokke Ou-Testamentiese gedeelte terugverwys word.  Hierdie oplossing tas die Godheid van Christus geensins aan nie, want die voetnoot dui  juis aan dat ’n spesifieke teks ’n verborge verwysing na Christus bevat.

Die probleem kan kortliks geïllustreer word aan die hand van ’n voorbeeld. In Hosea  11:1 staan daar die bekende woorde (volgens die 1953-vertaling): “Toe Israel ’n kind  was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.” Dit verwys sonder  enige twyfel na die twaalf stamme van Israel wat deur Moses uit Egipte uitgelei is. Dit is  die gewone betekenis in die verband van Hosea 11:1, en in die 1953-vertaling is “seun”  tereg nie met ’n hoofletter gedruk nie. Volgens Matteus 2:15 bevat Hosea 11:1 egter ’n  profesie wat verwys na die kind Jesus se terugkeer uit Egipte saam met Josef en Maria  ná die dood van Herodes. Op grond daarvan het die vertalers in 1933/53 en in 1983  “Seun” in Matteus 2:15 met ’n hoofletter laat druk. Dit is egter onmoontlik om die teks in  Hosea 11:1 deur die gebruik van hoofletters vir die leser as ’n verwysing na Christus  aan te dui sonder verlies van die gewone betekenis in die verband van Hosea 11:1. Dit  gaan met ’n voetnoot verduidelik word.

Let verder asseblief daarop dat, in verskillende tale, die oorgrote meerderheid  Bybelvertalings nie hoofletters gebruik in Ou-Testamentiese tekste wat in die Nuwe  Testament as verwysings na Christus aangedui word nie. Dit geld onder andere vir die  baie bekende Jesaja 53. Dit sluit in Engelse Bybels soos die King James Bybel (van  1611), New International Version, Good News Translation, English Standard Version,  Contemporary English Version, The Message, American Standard Version, The Net  Bible, New Century Version, New Jerusalem Bible, New Living Translation, 1890 Darby  Bible, ensovoorts. Ons is bewus daarvan dat enkele ander Engelse vertalings wél  hoofletters gebruik, maar dit is nie die algemene gebruik nie. Hoofletters word ook nie in  die Duitse Luther Bibel en Gute Nachricht Bibel gebruik nie. So ook nie in Franse,  Italiaanse, Spaanse en vier Nederlandse Bybels wat ons nagegaan het nie. In Afrikaans  is daar nie hoofletters in die 1983-vertaling en die Bybel vir Dowes asook ander  Afrikaanse vertalings wat in die mark is nie. Dit is duidelik dat die gebruik van hoofletters  hoofsaaklik beperk is tot uitgawes van die Nederlandse Statevertaling wat ná 1900  gedruk is en slegs enkele ander vertalings. Die Afrikaanse vertalings van 1933/53 het  die gebruik van die Statevertaling van ná 1900 nagevolg. Dit is algemeen bekend dat  die Hebreeuse taal nie enige “hoofletters” gebruik nie.

Sommige kerke het die BSA wel oor hierdie saak van hoofletters genader en die BSA is  die afgelope twee jaar met daardie kerke in gesprek. Daar is kerke wat, soos in die  1983-vertaling, die gedeeltes in die Ou Testament met kleinletters gedruk wil hê, en  daar is ’n paar ander kerke wat, soos in die 1933/1953-vertaling, die betrokke gedeeltes  met hoofletters gedruk wil hê. Ons kan die versekering gee dat die BSA besig is om op baie verantwoordelike wyse, met al die kerke wat die Afrikaanse Bybel gebruik, hierdie  saak te hanteer.

Ons wil dit baie duidelik stel dat vir die Bybelgenootskap en die vertalers die geloof in  die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, ononderhandelbaar is, en die  Bybelgenootskap of sy medewerkers sal nooit, soos die e-pos beweer, die Godheid van  Christus misken nie of op enige wyse daartoe bydra “dat Jesus Christus gelykgestel sal  word aan enige (New Age) god” nie. Sodanige bewerings tas die integriteit en  geloofsoortuiging van die Bybelgenootskap en die vertalers aan en word in die  sterkste taal verwerp. U kan absoluut seker wees daarvan dat GEEN Bybelvertaling  van die BSA die Godheid van Christus ontken of in die “new age” rigting beweeg nie.  Die BSA is sedert 1820 betrokke by en verantwoordelik vir betroubare Bybelvertalings in  al 11 die tale van ons land en sal nooit die betroubaarheid van die Goeie Nuus  ondermyn nie. 

Die vertaling waaraan tans gewerk word, sal ’n uiters deeglike vertaling van die Bybel  wees en ons glo dat, wanneer dit verskyn, dit baie Afrikaanssprekendes tot geloof en  nuwe lewe in Jesus Christus, die Seun van God, sal lei. Ons is ook oortuig daarvan dat  dit ’n instrument in die hande van die Heilige Gees sal wees om gelowiges te laat groei  in die “kennis van die Seun van God”. Mag hierdie vertaling God in alles verheerlik!

Ons vind dit heeltemal onaanvaarbaar dat mense oningeligte en onwaar aannames per  e-pos versprei. Ons ervaar dit as blote verdagmakery.  Besoek asseblief die webtuiste  van hierdie vertaling www.nuwekerkbybel.co.za vir die korrekte inligting.

U word dus vriendelik, dog dringend, versoek om te help om hierdie saak met die korrekte inligting reg te stel en hierdie dokument so wyd as moontlik te versprei.

In diens van die Woord

Ds. Gerrit Kritzinger
Uitvoerende Hoof


12 Maart 2012

Jesus se opstanding beteken dat ons waarlik léwe, nou en in die toekoms!


11 Mar. 2012 (RB) 1 Kor. 15; Teksverse 1 Kor. 15 v 3 & 4

Sing    Lofsang:   Ps. 84 v 1 & 2               (OAB)
           Na wet:      Sb. 7-2 v 1 & 2             (Beryming uit Open 22)
           Na gebed  Ps. 42  v 5                    (OAB)
           Slotsang   Sb. 18-7 v 1 , 3 , 11 & 12 (Beryming uit Open 21)
SONDAG 17
45  Vraag:  Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Antwoord:  Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). 
Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b). 
Ten derde is die opstanding van Christus vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).
(a) Rom. 4:25;  1 Pet 1:3;  1 Kor. 15:16.  (b) Rom. 6:4;  Kol 3:1, 5;  Ef. 2:5, 6.  (c) 1 Kor. 15:20, 21.

Inleiding
Wat beteken dit vir ons dat Christus opgestaan het? Ons hoor elke Sondag wanneer die ds. die geloofsbelydenis lees”
Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.
Maak hierdie belydenis enigsins ’n verskil in ons lewens?

Die vraag by Sondag 17 van die Heidelbergse Kategismus is:
Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Dit beteken doodeenvoudig: “Maak Christus se opstanding ’n verskil in my lewe?” In 1 Kor. 15 v 14 hoor ons wat die gevolge is as Christus nie opgestaan het nie:
En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.
As Christus nie opgestaan het nie, dan is ons almal besig om vanmore ons tyd te mors. Dan kan ons maar net sowel die kerkdeure toesluit en iets anders gaan doen. Dan help dit nie dat ons Bybellees en bid nie. Dan het ek nou reeds 8 jaar van my lewe vermors om te gaan studeer en predikant te word. As Christus nie opgestaan het nie, dan was al die tyd en moeite wat julle as kerk van die Here daaraan bestee het tevergeefs!

Die Christendom staan of val by die opstanding van Jesus Christus. In 1 Kor. 15 v 17 tot 19 hoor ons:
as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.
Jesus Christus se opstanding is een van die kern aspekte van ons geloofslewe en daarom MOET dit ’n verskil in ons lewens maak. In 1 Kor. 15 v 20 hoor hoe Paulus triomfantlik uitroep:
Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het.
Omdat die Here dit vir ons in sy lewende Woord sê, weet ons dat Christus se opstanding ’n verskil in ons lewens KAN maak!

Watter verskil maak Jesus Christus se opstanding in my lewe? Daar is drie areas wat my hele lewe omvat, naamlik die lewe wat agter my lê (my verlede), die lewe vorentoe (die toekoms hier op aarde) en dit wat na die dood vir my voorlê. In Kort kan ons sê: “Jesus se opstanding beteken dat ons waarlik léwe, nou en in die toekoms!”

Die eerste groot voordeel wat Christus se opstanding inhou is:
My verlede het nie meer ’n houvas op my nie!
Die mens is ’n slaaf van sy verlede. Dit wat in my verlede gebeur het is dikwels die tronk wat my vashou en keer dat ek die wonderlike geleenthede wat voor my lê kan aangryp. Elke verkeerde ding wat ek in die verlede gedoen het en elke verkeerde ding wat met my gebeur het, is soos slawekettings wat my vasbind en vashou. Dit bind my vas aan alles wat sleg en verkeerd is in hierdie lewe. Dit bind my vas aan my sondige natuur sodat ek nie daarvan kan loskom nie.

In Gal v 19 hoor ons ’n paar voorbeelde van so ’n sondige natuur:
Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge.
My sondige verlede keer dat ek loskom van verkeerde begeertes wat dan aanleiding gee tot onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid.

My sondige verlede gee aanleiding tot afgodsdiens en towery, dit wil sê ek vertrou op iets of iemand anders as die lewende God om my deur die lewe te help. Ek vind dit onmoontlik om by God troos te vind en ek probeer maar self regkom met die gevolg dat ek in absolute moedeloosheid verval elke slag as daar iets in my lewe gebeur wat nie goed is nie. Ek kry nie reg om die mense in my verlede te vergewe nie en daarom is vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns deel van my lewe.

My sondige verlede bind my vas aan dronkenskap en uitspattigheid. Dit maak dat mense hulle dronk drink om byvoorbeeld ’n geleentheid te vier. Dit maak dat kinders aand vir aand in kuierplekke rondhang sodra hulle onder hul ouers se toesig uit is.

Jesus se opstanding maak ons los van hierdie sondes wat keer dat ons werklik die lewe leef wat God vir ons beplan het. In 1 Kor. 15 v 22 sê die Here vir ons:
Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.


Daarom bely ons ook:
Die Here het deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak
Dit beteken eenvoudig die sonde in ons verlede geen houvas op ons het nie en dat ons nie meer voor God skuldig staan daaroor nie omdat Christus met sy opstanding die dood oorwin het en daarmee het Hy die straf vir die sonde (die dood) ten volle betaal.

Die eerste ding wat Christus se opstanding in my lewe verander is dat my sondige verlede nie meer ’n houvas het op my nie. Die twee voordeel wat sy opstanding inhou is:
Ek kan nou die lewe leef wat God vir my beplan het.
In 1 Pet 1v3 hoor ons
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.
Die tweede groot verandering wat Christus se opstanding in my lewe teweeg bring is dat ek nou ’n nuwe lewe het. Daarom is onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap en uitspattigheid nie meer deel van my lewe nie.

In die plek van hierdie sondige lewe waaraan ek verslaaf was het ek nou ’n nuwe lewe en daarom is die vrug van die Gees ook deel van my lewe. In Gal 5 v 22 hoor wat die vrug van die Gees is:
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
My lewe word deur vreugde en vrede gekenmerk. Ek is dankbaar teenoor die Here wanneer dit goed gaan met my. Ek beleef die Here se seën in die groot en klein dinge in my lewe. Wanneer ek byvoorbeeld in die oggend wakker word is ek dankbaar teenoor die Here dat ek nog ’n dag het om te lewe. Wanneer die beproewings in die lewe soos siekte en al die ander moeilikhede wat ons in die lewe ervaar oor my pad kom, dan is ek geduldig en blymoedig omdat ek weet dat die Here my nie in die swaarkry dae verlaat nie. Inteendeel ek ervaar hoe die Here my deur die swaarkry dae dra.

My lewe word gekenmerk deur vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Ek dra nie wrokke en bitterheid in my rond nie en ek kry reg om na die Here te luister wanneer Hy in Kol 3 v 13 vir my sê:
Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.
In kort vind ek dit al hoe makliker om die Here se liefdesopdrag in sy wet na te kom. Wanneer ek struikel en val dan vind ek vergifnis en verlossing by Jesus en sy opstanding.
Die tweede verandering wat Jesus se opstanding in ons lewens teweeg bring is dat ons nou die lewe kan leef wat God vir ons beplan het en daarom bely ons ook dat ons nou deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek.

Die derde voordeel wat Jesus se opstanding vir ons inhou is:
Ons het ’n lewende hoop waaraan ons vashou
Daar is een ding in die lewe waarvan ons seker is, naamlik dat elkeen van ons een of ander tyd gaan doodgaan. Vir baie mense is daar egter saam met hierdie sekerheid ook ’n groot onsekerheid omdat hulle nie weet wat gaan van hulle word nie. Christene wat met geloof vashou aan Christus se opstanding het nie laasgenoemde onsekerheid nie omdat ons ’n vaste hoop het waaraan ons vashou. In 1 Kor. 15 v 53 & 54 hoor ons:
Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike. En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”

Ons hoef nie meer bang te wees vir die dood nie omdat ons ’n lewende hoop het. Vir die Christen wat met geloof vashou aan Jesus se opstanding is die dood nie die einde nie, maar slegs ’n heerlike deurgang na die volgende bedeling waar ons ewig saam met God sal wees, verlos van die elende en hartseer van hierdie wêreld. Daarom bely ons ook dat die opstanding van Christus vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding is.

Slot
Die opstanding van Christus is die belangrikste aspek van ons geloofslewe wat ons lewens drasties verander. In die eerste plek beteken dit dat my verlede nie meer ’n houvas op my het nie. In die tweede plek beteken dit dat ek nou hiervandaan vorentoe die lewe kan leef wat God vir my beplan het. In die derde plek beteken dit dat ons ’n lewende hoop het om ewig saam met God te wees sonder hartseer, dood of pyn.

As hierdie lewensverandering nog nie deel is van u lewe is nie, kom na Jesus Christus toe en neem sy uitnodiging aan wat Hy in Mat 11 v 28 aan ons rig:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
Hou in die geloof wat die Heilige Gees vir ons gee vas aan die verlossing wat Jesus met sy kruisiging en opstanding aan ons gegee het en ervaar die nuwe lewe wat Christus vir ons gee, want Jesus se opstanding beteken
dat ons waarlik léwe, nou en in die toekoms!
Amen

08 Maart 2012

Moenie moedeloos word nie, Christus dra sy kerk deur tye van swaarkry


4 Mar. 2012 (RB) Open. 2 v 8 tot 11

Sing    Lofsang: Ps. 147 v 1 & 2             (OAB)
           Na wet:    Ps. 130 v 1 & 2             (OAB)
           Na gebed Ps. 86  v 1 & 6             (OAB)
           Slotsang  Ps. 31 v 1 &3                (OAB)
Voel u soms moedeloos omdat dinge net al hoe slegter word. Niks wil reg loop nie. Die een probleem is skaars opgelos of daar is twee ander in sy plek! Dan wonder ons soms waarom ons as Christene so swaar moet kry in hierdie lewe. Dit kan so erg raak dat ons selfs begin twyfel of God werklik omgee. Sien God regtig my ellende raak?

Die gelowiges in Smirna het ook goeie rede gehad om so te voel, want hulle het regtig swaar gekry ten spyte daarvan dat hulle in ’n stad gewoon het wat as ’n juweel van die gebied bekend was. Binne ’n stad waar die gemiddelde inwoner welvarend was, was hulle die uitgeworpenes en die armste van die armes. Verder het hulle gebuk gegaan onder erge vervolging vanweë hulle Christelike geloofsoortuiging. Die Jode het elke geleentheid gebruik om hulle onder verdenking te plaas en om hulle sleg te maak by die stadsowerhede. Die gevolg was dat hulle in ’n groot mate uitgesluit was en dat hulle geen geleenthede ontvang het in daardie stad nie. Hulle kon nie werk kry nie, met die gevolg dat hulle werklik arm was. In hierdie brief troos die Here die gelowiges in Smirna wat so swaarkry.

Hierdie brief is ook aan Christus se kerk oor al die eeue heen gerig en dit bring inderdaad ook vertroosting vir sy kerk wat swaarkry in hierdie wêreld. Daar is mense wat voorhou dat dit net goed moet gaan met die kerk, maar dit is ’n valse beeld van die kerk dat gelowiges nie sal swaarkry nie. Gewoonlik is die boodskap wat hiermee saamgaan om die werklikheid van swaarkry weg te praat dat mense wat swaarkry se geloof nie sterk genoeg is nie. Dit is egter ’n verkeerde idee van kerkwees wat uit die misplaasde voorspoed teologie na vore kom. Daardie foutiewe leer wat voorhou dat verlossing in hierdie wêreld gesetel is. Daar is geen sprake van sonde verlossing nie en God word inderdaad gebruik soos ’n gelukspakkie waar dit net gaan oor die materiële voordele wat God kan gee en nie oor God self nie. Die voorspoed teologie verkondig op die uiteinde maar net die groot leuen van die satan: “as ek net eers ’n miljoenêr is, dan sal ek gelukkig wees.”

Met hierdie brief leer die Here sy kerk dat dit nie net altyd voorspoedig sal gaan met sy kerk nie, inteendeel die Here sê inderdaad vir ons dat ons gaan swaarkry! Die lewe is nie altyd net lekker en goed nie. Ek is seker dat elkeen van ons dit uit ons lewenservaring sal kan bevestig. Hierdie brief aan die gelowiges in Smirna word ook gerig aan elkeen wat voel dat die wêreld buite beheer geraak het.

Reeds in die inleiding maak Christus dit baie duidelik dat Hy omgee vir sy kerk en dat hulle Hom na aan die hart lê. Hy stel Homself bekend soos ons hoor in Open 2:8:
So sê die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het
Christus is die begin en die einde en hiermee sê Hy vir ons dat Hy alles omvat. Daar is nie iets wat buite sy beheer is nie. Hy IS die begin en die einde! In Hom, deur Hom en uit Hom bestaan alle dinge. Verder sê Hy vir ons dat Hy alles deurgemaak het, selfs tot in die dood toe, maar dat die dood Hom nie kon vashou nie. Hy het die dood oorwin. Hiermee sê Christus dat niks buite sy beheer is nie. Maak nie saak wat die gelowiges in Smirna moet deurmaak nie, Christus het dit reeds gedoen.

Dan hoor ons van sy wonderlike vertroosting in Open 2 v 9:
Ek ken julle verdrukking en julle armoede, en tog is julle ryk. Ek weet ook van die kwaadstokery van die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar tot die sinagoge van die Satan behoort.
Christus wat alles in hierdie lewe beheer weet van hulle swaarkry. Die Griekse woord wat met ken en weet vertaal is kom net in die verlede tyd voor. Daarmee sê dit vir ons dat Christus van die begin af weet wat die omstandighede is en dat Hy absoluut verstaan.

Christus sê vir die gelowiges in Smirna: “Ek ken julle armoede”. In Grieks is daar twee woorde wat armoede aandui. Die een woord beskryf die gebrek aan sekere besittings terwyl die ander woord iemand beskryf wat absoluut niks het nie. Dit is hierdie laasgenoemde woord wat gebruik word om die armoede van die gelowiges in Smirna te beskryf. Ten spyte daarvan sê Christus egter ook “en tog is julle ryk!” Op die oog af gaan dit baie sleg met hierdie gelowiges, maar hulle het ’n skat wat groter is as enige materiële rykdom wat daar is, die verlossing in Jesus Christus.

Christus weet wat hulle omstandighede is en dat die Jode hulle onder verdenking plaas by die owerhede. Daarom die verwysing na die sinagoge van satan. Satan beteken ook “teenstander” en die Jode was groot teenstanders van die Christene. Hiermee troos die Here ons ook. Hy weet wat elkeen van ons se omstandighede is. Hy weet waarmee ons sukkel en wat maak ons bekommerd. Hy troos ons ook met die wete dat ons ’n geestelike skat het wat baie meer werd is as enige materiële rykdom wat daar is. Die Here sê hier vir ons dat ons nie moet val vir daardie leuen van die satan nie “as jy maar net ’n miljoenêr is, dan sal jy gelukkig wees”. Ware rykdom en geluk lê nie in aardse besittings nie.

Na hierdie vertroosting ten opsigte van dit wat die gelowiges alreeds deurgemaak het, bemoedig die Here hulle vir dit wat nog voorlê soos ons hoor in Open 2 v 10:
Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.
Hiermee sê die Here dat daar inderdaad swaar tye is wat voorlê, maar dat hulle nie daarvoor hoef bang te wees. Die Here gee twee redes waarom hulle nie bang hoef te wees, naamlik: Eerstens dat dit net ’n kort tydjie gaan duur. Die verwysing na tien dae se swaar kry dui daarop dat die lyding net ’n beperkte tyd sal duur. Verder verseker die Here hulle dat Hy diegene wat hulle volle vertroue op Hom stel deur die lyding sal dra.

Geliefdes, op wie vertrou ons wanneer dit swaar gaan in die lewe? As ons op Jesus Christus vertrou, geld hierdie belofte vir ons ook dat die swaarkry van hierdie lewe net vir ’n beperkte tyd sal duur en dat daar ’n einde aan sal kom. Verder verseker die Here ons ook dat ons nie alleen is nie, maar dat Hy ons daardeur dra.

Dan sluit die brief af met die wonderlike troos en hoop wat dit inhou vir diegene wat hoor en luister, dit wil sê ag slaan op wat die Here sê en wat inderdaad reageer op die boodskap van die Here. Elkeen wat sy verlossing in Jesus Christus soek en vind sal die lewe as oorwinningskroon ontvang. Dit verseker dat hulle nie deur die tweede dood, dit wil sê die ewige dood waar mens ewig van God en sy liefde geskei is en waar mens net die oordeel van God ervaar, getref sal word nie. Wat is die ergste wat met ons in hierdie lewe kan gebeur? Dat ons lewe van ons weggeneem word. Diegene wat in Jesus Christus glo kry die versekering dat selfs die fisiese dood nie die einde is nie, maar dat dit ’n heerlike deurgang is tot die volgende bedeling waar ons ewig saam met God sal lewe.

Geliefdes, moenie dat bekommernisse en lyding in hierdie lewe ons onder kry nie. Hou vas aan die heerlike wete dat Christus sy kerk dra deur tye van swaarkry.
Amen

26 Februarie 2012

Sonder liefde beteken ons suiwer leer en onvermoeide arbeid niks nie!


26 Feb. 2012 (RB) 
Open. 2 v 1 tot 7; teksvers Open. 2  v 4

Sing    Lofsang:  Ps. 92 v 1           (OAB)
           Na wet:     Ps. 38 v 1           (OAB)
           Na gebed Ps. 42 v 1           (OAB)
           Slotsang   Ps. 18 v 1           (OAB)
Inleiding
As liefde nie meer in die kerk teenwoordig is nie, dan is selfs ’n kerk met suiwer leer en onvermoeide arbeid nie meer die moeite werd nie. In hierdie brief wat Christus aan sy kerk geskryf het, gebruik Hy die beeld van liefde tussen ’n bruid en bruidegom om aan ons te verduidelik wat beteken om werklik kerk van die Here te wees.

In hierdie brief is daar twee sake wat aangespreek word. Die eerste is: Julle liefde het afgekoel en die tweede saak is: Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het.. In kort sê hierdie brief vir ons: Sonder liefde beteken ons suiwer leer en onvermoeide arbeid niks nie! Hierdie brief is deel van die Bybel omdat Christus bedoel het dat dit ’n brief is wat gerig is aan sy kerk van alle tye, ook aan die Gereformeerde Kerk Reddersburg. Dit is in die eerste plek gerig aan die kerk in Efese en daarom is dit nodig dat ons ook die agtergrond van die kerk in Efese moet in ag neem om die boodskap van hierdie brief te verstaan.

Historiese agtergrond van Efese
Efese was een van die belangrikste stede in Klein-Asië tydens die Romeinse bewind. Dit was ’n belangrike hawestad waar die Ooste en die Westerse handelsroetes bymekaargekom het. Dit was ook ’n belangrike stad wat ’n rigting gewende rol gespeel het ten opsigte van die godsdienste van daardie tyd. Die tempel vir die vrugbaarheidsgodin Artemis of Diana soos sy ook bekend was onder die Romeine, was ’n baie prominente kenmerk van die stad en dit is inderdaad ook beskou as een van die sewe wonders van die antieke wêreld. Die stad is ook beskou as die bewaker van die keiserkultus waar die keiser as ’n god beskou en aanbid is. Verder was daar ook ’n lewendige belangstelling in die toorkunste soos ons in Hand. 19:19-20 hoor.

Dit is binne hierdie omstandighede wat die gemeente in Efese wat deur Priscilla en Akwila gestig is, moes funksioneer. In die brief wat Christus aan die gemeente gerig het moes hulle die ontstellende aanklag hoor:

Julle liefde het afgekoel!
Uit hulle omstandighede is dit verstaanbaar dat hulle baie hard moes stry teen valse leraars wat allerlei valse leer wou inbring. Christus beskryf hierdie omstandighede in Open. 2 v 2-3:
Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie.

Die gemeente het inderdaad ’n stryd oor oorlewing gehad. Hulle moes stoei teen valse leerstellings soos teen die Judaïseerders. Dit is hulle wat geleer het dat die wette van die Ou Testament streng nagekom moet word en dat mens se pad na saligheid in die nakoming van die wet lê. Dan waar daar die sogenaamde Dosetiste wat ontken het dat Jesus mens geword het om sondaars te red. Verder was daar die Gnostiese groep wat Jesus se menswording ontken het. Aan die ander kant was daar ’n groep wat teen die wet was en ’n baie liberale leefstyl voorgestaan het. En ook die Nikolaïte wat die gelowiges met sedelike en godsdienstige kompromieë wou verlei. Verder was die samelewing ook baie vyandig teenoor die gelowiges soos ons ook in Hand 19 hoor waar Paulus aangekla is deur ’n oproerige skare daar in Efese.

Is dit nie maar waarmee ons ook sukkel nie? Ons leef in ’n samelewing waar allerlei ander leerstellings verkondig word binne en buite die Christelike geloof. Binne die Christelike geloof is daar diegene wat daarop aandring dat slegs deur streng wetsgehoorsaamheid saligheid gevind kan word. Hulle val daarop terug dat die Ou Testamentiese voorskrifte nagekom MOET word soos byvoorbeeld dat die Sabbat op die sewende dag, dit wil sê Saterdag onderhou moet word. Daarmee ontken hulle dat ons verlossing alleen op grond van die genade in Christus geleë is.

Aan die ander kant is daar ook diegene wat alles oorboord gooi en ’n onsedelike lewensstyl voorhou, want Christus het mos vir ons sondes gesterf en daarom maak dit nie saak as ons onsedelik leef nie. Verder is daar ’n al hoe groter wordende beweging wat sekularisme voorhou, dit wil sê dat God nie werklik bestaan nie en dat alles net deur natuurlike prosesse beheer word sonder dat God daarby betrokke is. Ook hulle wat voorhou dat alle gelowe ewe goed is en dat mens daarin saligheid kan vind. Vir die Christene is dit deur Christus, vir die Moslems deur Mohammed en vir die Bhudiste deur Bhuda. Hierdie valse leer waarteen ons vandag in die kerk stry, is maar dieselfde valse leer waarteen die gelowiges in Efese so hard moet stry. Die inhoud is dieselfde, dit is net die verpakking wat so effens anders lyk.

Die gemeente in Efese het baie hard gestry teen hierdie valse leer. Christus gee erkenning aan die gemeente daarvoor soos ons hoor in Open 2 v 2:
Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding
In Open 2 v 3 hoor ons dat hulle deurgedruk met volharding en dat hulle selfs gely het vir die kerk. In daardie samelewing waar keiseraanbidding as ’n prioriteit gestel is, kan ons nogal verstaan dat hulle swaargekry het. Hoor net die mooi woorde wat Christus aan hulle rig:
Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie.
Dit is voorwaar woorde waarop mens trots kan wees. Ons kan selfs ook vir ons die vraag vra: “is ons as kerk so ywerig vir die Here?”

Daardie gemeente was werklik hardwerkend en ywerig en daarom moes die volgende woorde van Open 2 v 4 soos ’n glas yskoue water in die gesig gewees het:
Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.
Die “maar” waarmee hierdie sin begin word, kanselleer effektief al die mooi en die goed van die vooraf gedeelte! Was dit dan verkeerd om so streng te waak teen die verkeerde leer? Nee geliefdes, die probleem is net dat iets verlore geraak het in die stryd. In Ef. 1 v 15 & 6 hoor ons:
Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie.
Nou, 40 / 59 jaar later het hulle liefde verlore geraak. Wanneer die liefde verlore raak, raak die prys vir regsinnigheid te hoog!

Die probleem met hierdie gemeente was dat hulle entoesiasme en Gees-drif plek gemaak het vir kliniese kilheid. Hulle liefde vir hulle broers en susters het getaan en plek gemaak vir selfsug en agterdog. In 1 Joh. 3 v 17 hoor ons:
Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie—hoe kan die liefde van God in hom wees?
Om ons naaste sonder voorbehoud lief te hê, is die sigbare bewys dat ons God lief het.

Hoe lyk die liefde in ons gemeente? Gee ons nog werklik vir mekaar om? Kom ek noem net een praktiese voorbeeld wat elkeen vir homself kan afvra? Ons kondig elke Sondag af (vanaf die kansel en/of in die nuusbrief) van ons broeders en susters wat beproef word en deur moeilike omstandighede gaan. Doen ons werklik moeite om hulle te ondersteun deur net ’n oproep of selfs ’n kuiertjie? Die belangrikste is, bid ons vir hulle? Sonder liefde beteken suiwer woordverkondiging, suiwere bediening van die sakramente en toepassing van die tug niks nie. Een van die belangrikste kenmerke van ’n kerk is ware liefde.

Wat moet ons doen as ons vind dat daar by ons ’n gebrek aan liefde is? Heel eenvoudig geliefdes. Dit wat die Here vir die kerk in Efese gesê het en wat Hy ook aan ons sê:
Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het.
In Open 2 v 5 sê die Here vir ons wat ons moet doen wanneer ons agterkom dat daar by ons ’n gebrek aan liefde is:
Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het.
1) Onthou: Dink terug aan hoe dit was, met ander woorde ons moet erken dat iets verlore is. 
2) Bekering, dit wil sê draai terug: Met ander woorde: “neem verantwoordelikheid vir dit wat verkeerd gegaan het, sonder om die blaam op iemand anders te pak.” 
3) Doen: begin die lewe leef wat God vir ons gee. Die wonder van liefde is dat wanneer jy liefde uitdeel dat jy dubbel soveel terug ontvang. Hoe meer liefde ons gee, hoe meer ontvang ons terug.

Ons moet ag slaan op die ernstige waarskuwing wat die Here gee in Open 2 v 5:
as julle, julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat!
As ons as kerk van die Here nie die lig laat skyn in sy koninkryk nie, sal ons die voorreg verloor om dit doen. Die opdrag van die Here is dat ons mekaar lief moet hê sodat ons daarmee die evangelie kan uitdra in ’n donker wêreld wat die Here nie ken nie.

Na hierdie ernstige waarskuwing van die Here ontvang die gemeente weer bemoediging soos ons hoor in Open 2 v 6:
Maar dít het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku.
Die Nikolaïete het kompromieë met die heidense gebruike van die wêreld en ’n verdraagsaamheid daarmee voorgehou. Hiermee sê die Here dat ons nie moet ophou met die goeie dinge wat in die begin van die brief genoem is nie. Geliefdes, hoor ons wat die Gees vir ons gemeente sê? Hoor ons die wonderlike belofte wat die Here in Open 2 v 7 gee?
Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.
As ons werklik die liefdesgebod van God begin uitleef, sal ons nou reeds begin deel in die nuwe lewe wat God uit genade vir ons gee. Hou vas aan die waarheid, maar moenie die liefde verwaarloos nie.

Slot
In hierdie brief sê die Here vir ons: Sonder liefde beteken ons suiwer leer en onvermoeide arbeid niks nie! Kom ons wees ware kerk van die Here deur vas te hou aan die waarheid sonder om die liefde vir mekaar en die Here te vergeet. 
Amen

19 Februarie 2012

Wie in Jesus glo sal ewig léwe, nou en in die hiernamaals


19 Feb. 2012 (RB) Joh. 6 v 22 - 59; teksverse Joh. 6:53 & 54

Sing    Lofsang:  Ps. 107 v 1 & 10          (OAB)
           Na wet:     Ps. 119 v 45                 (OAB)
           Na gebed Ps. 119 v 19                 (OAB)
           Slotsang   Sb. 12-3 v 1 & 2          (Enigste Here, enkele Wese)

Wat is jou kosbaarste besitting wat jy nie wil of mag verloor nie? Wat is dit in my lewe waarvan ons sê: “hulle kan alles van my wegvat, maar net nie dit nie?”

Geloof is die een ding in die lewe wat dit die moeite werd maak. Ons is so geneig om te dink dat geloof net betrekking het op die toekoms vir wanneer ons eendag doodgaan, maar dit is nie waar nie! Die ewige lewe begin nie eers dan nie, maar dit begin nou reeds wanneer ons lewe saam met God begin en daarvoor het ons geloof nodig.

Die belangrikste besitting in ’n mens se lewe wat jy nie mag verloor nie is jou geloof in Jesus Christus! Daarsonder is alles tevergeefs soos die HERE vir ons sê in Ps. 127 v 1 & 2:
As die Here die huis nie bou nie, swoeg  dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ’n bestaan te maak.
Hier in Joh. 6 sê die Here vir ons met die beeld van lewende brood hoe ons, ons geloof kan voed en bewaar. Ons ontvang ons geloof alleen op grond van God se genade. Die Heilige Gees gee vir ons geloof, maar tog kan ons die Gees bedroef soos ons hoor in Ef. 4 v 30
En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.

Ons kan die werking van die Gees teenstaan soos ons hoor in 1 Tess. 5 v 19:
Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie.
In 2 Tim 1 v 6 sê die Here vir ons dat ons die genadegawe van geloof moet aanblaas soos wat mens ’n vuur wat wil doodgaan weer moet aanblaas. Ons geloof word deur die soenverdienste van Jesus Christus gevoed en versterk wanneer ons Nagmaal gebruik.

In Joh. 6 v 53 sê Jesus:
“Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie.
Bedoel Jesus dat ons kannibale moet word? Nee geliefdes, Jesus gebruik hier in Joh. 6 die beeld van aardse en sigbare brood en wyn as teken van sy liggaam en bloed. Jesus is aan die kruis geoffer vir ons. Ons maak daardie offer van Jesus Christus ons eie asof self vir ons sondes betaal het wanneer ons geestelik sy liggaam eet en sy bloed drink soos ons dan ook hoor in Joh. 6 v 54:
Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.

Die manier waarop ons die liggaam en bloed van Jesus eet en drink is nie met ons mond nie, maar met die Gees deur geloof. Geloof is dan wat die Here ons ook beveel soos ons hoor in Joh. 6 v 28 & 29
28 Hulle vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”
29 En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”

Die Here gebruik die Nagmaal om op ’n eenvoudige sigbare wyse vir ons te verduidelik hoe ons geestelik deur sy liggaam en bloed gevoed en versterk word. Net soos wat brood en wyn ons liggame fisies voed en versterk, net so voed, versterk en vertroos Hy ons siel as ons sy liggaam eet en verkwik en herstel hy dit as ons sy bloed drink. Om dit eenvoudig te stel, wanneer ons van harte glo dat Jesus Christus vir my sondes aan die kruis gesterf het en dat Hy vir my die dood oorwin het met sy opstanding dan “eet” en “drink” ons die liggaam van Christus op ’n geestelike wyse en dan word die wonderlike belofte wat die Here vir ons in  Joh. 6 v 35 gee vir ons waar:
“Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

Die Heilige Gees gee vir ons die geloof wat ons nodig het om die liggaam en bloed van Christus te eet en te drink en deur die Nagmaal versterk die Heilige Gees ook ons geloof. Geloof is my belangrikste besitting, want daarmee kry ek deel aan die ewige lewe soos die Here vir ons belowe in Joh. 6 v 54:
Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.
Hiermee wys die Here vir ons dat ewige lewe reeds nou begin wanneer ons saam met God die lewe begin leef wat Hy nou reeds vir ons beplan het. Dit beteken nie dat ons nie meer gaan swaarkry nie. Wat dit wel beteken is dat wanneer die swaarkry tye in ons lewe verbykom dat ons daardeur kan gaan omdat ons weet dat ons nie alleen is nie omdat God by ons is. Wanneer dit goed gaan in ons lewens dan weet ons dat ons geseën word. Dan kan ons inderdaad ook geduldig wees in tye van swaarkry en dankbaar in tye van voorspoed.

Sonder geloof loop mens inderdaad die pad van die ateïs wat God blameer vir sy swaarkry en wat homself prys wanneer dit goed gaan in sy lewe. In Ef. 4 v 17 – 19 hoor ons hoe die ongelowige se pad loop:
In die Naam van die Here doen ek ’n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard. Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ’n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.
Dit is die pad waar die boosheid van die hart aanleiding gee tot bose gedagtes wat aanleiding gee tot bose dade. Dit lei tot morele verval en ’n ontrekking van ons Christelike broeders en susters. Dan begin die twyfel en as mens aanhou op daardie pad lei dit tot aktiewe verwerping van God in mens se lewe wat lei tot ’n leë en sinnelose bestaan hier op aarde. Sonder God beteken die beste huis en die duurste motor niks. Sonder God lei mens se verhoudings skipbreuk en word mens se lewe doelloos en sinneloos en leeg.

Geliefdes, kom ons voed en versterk ons geloof nou deur aan te sit by die tafel van die Here met wete dat diegene wat in Jesus glo ewig sal lewe, nou en in die hiernamaals.
Amen

12 Februarie 2012

Om waarlik kerk van die Here te wees hou vir ons groot waarde in


12 Feb. 2012 (RB) Ef. 1; teksverse Ef. 1:22 & 23

Sing    Lofsang: Ps. 146 v 1 , 2 & 8       (OAB)
           Na wet:    Ps. 19 v 4 & 5               (OAB)
           Na gebed Ps. 89 v 1 & 2              (OAB)
           Slotsang  Sb. 1-1 v 1 , 2 & 7        (Sb 24 swart Psalmboek)

Inleiding

Besef u wat dit beteken om waarlik kerk van die Here te wees? ’n Verkeerde verstaan van kerkwees bring mee dat ons nie werklik die krag van die Here in ons lewens ervaar nie. Dan mis ons die lewensvreugde om waarlik saam met God te wandel en dan kry die lewe ons maklik onder wanneer die moeilike tye in ons lewe verbykom. As ons ’n verkeerde kerkbegrip het dan is dit ook vir ons ’n sware las en ’n moeite om kerk van die Here te wees terwyl dit vir ons ’n vreugde en ’n seën is om werklik kerk van die Here te wees. Dan besef ons dat om werklik kerk van die Here te wees vir ons groot waarde inhou.

Die Here leer ons wat dit beteken om waarlik kerk van die Here te wees. Ons gaan eerstens luister hoe die Here vir ons vertel wie en wat die kerk is en daarna wat dit vir ons beteken om waarlik kerk van die Here te wees.

Wie en wat is die kerk?

Om te verstaan wie en wat die kerk is gaan ons eers kyk na wat die kerk nie is nie en daarna luister na wie en wat die kerk werklik is.

Wat is die kerk van die Here nie
Ons kry so maklik ’n verkeerde idee van wie en wat die kerk van die Here is. Ons weet dat die kerk nie hierdie gebou is waarin Sondae bymekaarkom nie, want ons die lidmate is die kerk. Tog dink ons so dikwels nog steeds verkeerd oor die kerk. Ons dink so maklik dat die kerk ’n organisasie is waarby ons as lede aansluit soos byvoorbeeld ’n klub waar ’n sekere stokperdjie beoefen word. Hoe werk so ’n organisasie? Jy besluit self of jy lid daarvan wil wees of nie en verder besluit jy ook self tot watter mate jy betrokke gaan wees. Gaan ek net ’n gewone lid wees wat so dan en wan byeenkomste en vergaderings bywoon, of gaan ek baie betrokke wees en elke geleentheid bywoon en selfs op die bestuur van die klub dien?

Wat is die gevolge as ek so oor die kerk van ons Here dink? Dan draai dit net om my en my grille en giere. Ek sien die kerk as ’n instansie wat my moet vermaak. Dan verwag ek dat dienste deel (ons kan nie hier van erediens praat nie, want dit gaan nie oor die eer van die Here nie, maar wel oor my) van daardie vermaak moet wees. Ek betaal mos my lidmaatgeld (my maandelikse bydra)! Ek verdien dus waarde vir my geld! Ek kom kerk toe as ’n toeskouer en ek besluit wanneer wil ek die genot van ’n diens beleef. As ek die Sondag nie lus voel nie dan kom ek nie na die diens toe nie. Die diens is net nog een van die aktiwiteite in my lewe wat saam met al die ander aktiwiteite moet meeding vir my tyd en aandag en daarom skuif ek maklik die diens op sy. Eintlik gaan dit nie om erediens nie, maar wel vermaaklikheidsdiens.

Wanneer ek wel ’n diens bywoon, dan woon ek dit net as toeskouer by en ek verwag dat ek bedien moet word. Die manier hoe die diens moet verloop, moet aan my smaak voldoen. Hier kan dit na twee kante toe uitval. Aan die een kant bly ek vasklou aan ou tradisies en gebruike wat ek al tot beginsels verhef het en ek verwag dat almal volgens my smaak en oordeel moet inval. Aan die ander kant verwag ek dat alles verander moet word en dat die diens radikaal anders moet wees selfs tot so ’n mate dat woordverkondiging maar afgeskeep kan word. Dit maak ook verder dat ek maklik besluit om te loop as dinge nie na my smaak is nie. As die predikant of ouderling durf om my aan te spreek oor een of ander aangeleentheid, dan loop ek.

Ek besluit self tot watter mate ek betrokke is by die kerk. Gewoonlik is daardie betrokkenheid beperk tot een of twee Sondae per maand. Verder wil ek nie in die week met kerklike dinge gepla word nie. Die sogenaamde Sondag Christen waar ek bloot ’n toeskouer is wat glad nie verder by die kerk betrokke wil wees nie. Die predikant en die kerkraad is mos daar om te sien dat dinge aan die gang bly. In baie gevalle is my naam net op die kerk se lidmaatregister, maar ek is nie aktief betrokke by die kerk nie.

In kort kom hierdie siening daarop neer dat ek self besluit of ek deel van die kerk wil wees en dat dit net oor my en my behoeftes gaan. Die gevolg is dat kerkwees vir my ’n moeite is en dat ek die vreugde van ware kerkwees in my lewe mis.

Wie en wat is die kerk van die Here werklik
Teenoor hierdie verkeerde idee leer die Here ons hier in die brief aan die Efesiërs wie en wat die kerk van Here die werklik is. Die brief aan die Efesiërs word dan ook beskryf as die brief oor die kerk. Die Griekse woord wat in die Bybel met kerk vertaal is beteken letterlik “die uitgeroepenes”. Hierdie woord word in die Bybel ook net ten opsigte van gelowiges wat in God glo gebruik en nooit om enige ander groep mense of geloofsoortuiging aan te dui nie. Dit is duidelik dat die Bybel die woord net gebruik om mense aan te dui wat deur God uitverkies is. In Ef. 1 v 4 & 5 word die betekenis van kerk dan ook duidelik uitgespel:
4 So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5 In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.

Wie is die persone wat deur God uitgeroep is, dit wil sê kerk van die Here is? Almal van ons wat waarlik glo dat Jesus Christus vir ons sondes aan die kruis gesterf en ook weer uit die dood opgestaan het soos die Here vir ons sê in Ef. 1 v 11:
“Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem. Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.
Geliefdes, besef u wat staan in hierdie gedeeltes? Hier staan dat dit nie ons besluit is om deel van die volk van die Here (sy kerk) te wees nie.  Wanneer ons in Hom glo, ís ons deel van sy kerk!  Ons het nie 'n keuse om deel van die kerk te wees of nie. Ek is ʼn lidmaat van sy kerk. Die Here gebruik hier die beeld van ’n liggaam om die verhouding tussen Jesus en sy kerk vir ons te verduidelik soos ons hoor in ons teksverse Ef. 1 v 22 & 23:
22 Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23 Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

Die woord lidmaat is net ʼn verbuigde vorm van die woord ledemaat. As jy glo dan is jy ’n lidmaat, dit wil sê ’n ledemaat van Christus se liggaam hier op aarde. As jy glo, dan is jy hande voete, oë en ore van Christus hier op aarde! Daar is net een baas in hierdie kerk, naamlik Jesus Christus. Verder is ons almal lidmate wat elkeen geroep is om ’n spesifieke taak in hierdie gemeente te verrig. Almal staan gelyk in hierdie diens en daarom is die predikant of die kerkraad nie bokant die gewone lidmate verhef nie. Elkeen het sy werk net soos wat hande, voete, oë en ore elkeen ’n spesifieke taak het. As een van die ledemate nie die taak verrig waarvoor hy of sy geroep is nie, dan ly almal daaronder.

Dit is ook nie toevallig dat ons lidmate is van die Gereformeerde kerk Reddersburg is nie, want by God is daar geen toeval nie. God het reeds voordat die aarde nog geskep was dit al besluit dat ons op hierdie tydstip lidmaat van hierdie kerk sal wees en daarom het Hy ons ook uitgeroep. Ons het nou nie ’n keuse nie, maar die plig en verantwoordelikheid om saam met ander gelowiges kerk van die Here te wees. Die feit dat ons nou hier is, is bevestiging dat die Here ons geroep het om hier kerk van die Here te wees.

Die verskil tussen ware kerkwees en verkeerde kerkwees beteken dat God my gekies het en dat ek aktief moet meewerk in die kerk van die Here omdat ek Christus se hande, voete oë en ore hier op aarde is. Teenoor dit is ’n verkeerde kerkbegrip dat ek besluit en dat ek bedien moet word in plaas van dat ek die een is wat dien. Wanneer ons waarlik kerk van die Here is, dan is kerkwees nie meer vir my ’n moeite en ’n las nie, maar ’n vreugde en vertroosting.

Wat beteken dit vir ons om waarlik kerk te wees?

Dit beteken dat ek ’n brandende begeerte het wat die Heilige Gees vir my gee om deel van die kerk te wees en dat ek tydens die eredienste deur die prediking en ook deur persoonlike Bybelstudie Jesus Christus waarlik sal leer ken. Dan sal ek die eredienste sien as ’n geleentheid waar ek God persoonlik ontmoet en waar ek ook sy seën ontvang. Die eredienste sal dan ook ’n prioriteit wees in my lewe en dan sal ek ook daarna uitsien om in antwoord op die Woord van God Hom te kom loof en prys vir die wonderlike genade wat Hy in Christus vrylik aan my geskenk het soos ons hoor in Ef. 1 v 6 & 12.

As ek nie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie, dan sal die krag van die Heilige Gees ook in my lewe ’n werklikheid word. Dan sal ek ook ervaar hoe God my dra deur die lewe en hoe Hy my seën met al sy ryke seëninge. Dan sal ek nie bang wees vir die moeilike tye in my lewe nie omdat ek bewustelik sal weet dat God elke dag deel van my lewe is. Dan sal ek werklik die liefde van God in my lewe ervaar en sal ek ook die vreugde ervaar om daardie liefde uit te deel. Dan sal ek werklik weet watter hoop hierdie roeping van God vir my inhou en dan sal ek ook die brandende begeerte hê om my broers en susters wat weggeraak het weer te gaan opsoek omdat ek besef wat se leegheid daar in ’n mens is om sonder God en die geloofsgemeenskap van sy kerk te leef. Dit is elkeen van ons se plig om hulle wat weggeraak het en wie eintlik net ’n inskrywing op ons lidmaatregister is weer in liefde te gaan opsoek. Dan sal daar die brandende begeerte in ons wees om ook hulle te gaan haal wie se name nog nie in ons gemeente se lidmaatregister opgeteken is nie, maar wat tog deur God uitgeroep is.

Geliefdes kom ons bid dat die Here ons werklik die waarde sal laat besef van wat dit beteken om waarlik kerk van die Here te wees en nadat ons gebid het, kom ons wees waarlik kerk van die Here.
Amen

Gebed
Ons troue Hemelse Vader, ons wil U loof en prys want aan U kom al die lof toe. Ons val in eerbetoon voor U neer en ons buig en kniel voor die HERE ons Skepper. U is ons God en ons is U kudde, U skape wat deur U hand versorg word. Ons sê dankie vir U groot genade dat U deur U Gees vir ons die Geloof gee en dat U ons voor die grondlegging van die aarde In Christus Jesus uitverkies het om U kinders te wees. Dankie vir U liefde wat U so mildelik oor ons uitstort.

Ten spyte van U liefde verval ons so dikwels in sonde sodat ons nie raaksien hoe groot U krag is wat in ons werk nie. Ons handhaaf so dikwels ons eie siening van kerkwees waarmee ons net ons eie selfsugtige begeertes wil bevredig en daarmee dan nie u troos en vreugde in ons lewens ervaar nie.

Ons bely vanoggend saam met die Psalmdigter: “Wie sien sy eie dwalings? Moet ons tog nie straf vir sondes wat ons onwetend gedoen het nie. Weerhou ons van opsetlike sondes sodat dit nie oor ons heers nie. Dit is slegs met U hulp dat ons onberispelik en vry van hierdie groot sondes sal wees.”

Ons bid dat U ons sondes in Jesus Christus vergewe en ook dat ons liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling sodat ons die dinge kan onderskei waarop dit werklik aankom sodat ons op die dag wanneer Christus weer kom, onberispelik en sonder blaam sal wees en dat ons deur Jesus Christus geheel en al in die regte verhouding met God kan leef tot sy lof en eer alleen.

Ons nader vanoggend in gebed tot U wat God die Vader van ons Here Jesus Christus is en ons vra dat U deur U Gees aan ons die wysheid sal gee en U so aan ons openbaar dat ons U werklik sal ken. Ons bid dat U ons geestesoë so sal verhelder dat ons kan weet watter hoop U roeping vir ons inhou en ook watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat U vir ons bestem het. Help ons om te weet hoe geweldig groot U krag is wat U uitoefen in ons wat glo. Help ons om te verstaan dat dit dieselfde kragtige werking van U mag is wat U uitgeoefen het toe U Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan U regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom.

Ons erken en bely dat U alles aan Christus onderwerp het, dat U Hom bo alles verhef het en dat ons as kerk sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.
Amen

10 Februarie 2012

Keer terug na die ewige waarheid van Jesus Christus se verlossing waar ons rus sal vind


5 Feb. 2012 (RB) Jer. 6; teksvers Jer. 6:16

Sing    Lofsang: Ps. 9 v 1 & 7       (OAB)
           Na wet:              Ps. 34 v 1 & 6     (OAB)
           Na gebed Ps. 30 v 1            (OAB)
           Slotsang  Ps. 66 v 7            (OAB)

Inleiding

Die jaar is besig om spoed op te tel. Januarie is verby en die jaar is aan die gang met al sy bedrywighede. Ons raak soms so besig met ons dag tot dag bedrywighede dat ons nie regtig tyd maak om te besin waarmee ons besig is nie. Het dit waarmee ek besig is ewigheidswaarde of het dit net tydelike waarde? Is ek nog op koers na my ewige bestemming toe of het ek êrens ’n afdraai paadjie gevat wat my wegneem van my ewige bestemming af? Is ons as kerk nog op die regte pad? As ons nie in ons persoonlike lewe op die regte pad is nie, dan kan ons ook nie as kerk op die regte pad wees nie, want ons is die kerk. My persoonlike lewe bepaal waarheen die kerk op pad is.

Israel het ook ’n verkeerde afdraai paadjie gevat.

Israel as Ou Testamentiese kerk het ook ’n afdraai paadjie gevat wat hulle na ’n verkeerde bestemming gelei het soos ons hoor in Jer. 6. In vers 6 hoor ons dat verdrukking in Jerusalem aan die orde van die dag is. In vers 7 hoor ons dat geweld en vernietiging hoogty vier. Ten spyte daarvan dat die Here sy profeet Jeremia gestuur het om hulle te waarsku wou hulle nie hoor nie soos ons hoor in Jer. 6v10:
Hulle ore is doof, hulle is nie in staat om te hoor nie. Hulle praat smalend oor die woord van die Here, dit kan hulle nie skeel nie.
In Jer. 6 v 13-15 hoor ons:
13 Almal, klein en groot, wil hulleself net verryk, almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog. 14 Hulle het ’n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net: “Alles is reg! Alles is reg!” Maar niks is reg nie. 15 Wanneer hulle aan die kaak gestel word oor die gruwelike dinge wat hulle gedoen het, skaam hulle, hulle nie eens nie, hulle weet nie van skaamte nie.

Die Here se opdrag om selfondersoek te doen

In Jer. 6 v 16 hoor ons hierdie dringende oproep van die Here aan sy volk, dit wil sê sy kerk in vandag se terme:
So sê die Here: Staan by die kruispaaie en kyk, en vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is en loop dit, dan sal julle rus vind.

Die eerste opdrag wat die Here hier aan sy volk gee is: Staan by die kruispaaie en kyk,” Die Here gebruik hier die beeldspraak van ’n reisiger wat op pad is en wat nou bietjie gaan stilstaan om te kyk waarvandaan hy gekom het en waarheen hy op pad is. Die Here wil hê dat sy volk moet insien dat hulle op ’n verkeerde pad is en dat hulle ’n koersaanpassing moet maak weg van die sondige pad waarop hulle nou is.

Die Here het hierdie gedeelte in sy lewende Woord laat opteken, want daarmee gee Hy ook aan sy kerk vandag hierdie selfde opdrag: “Staan by die kruispaaie en kyk” As ons so bietjie gaan stilstaan en kyk, dan is daar ’n paar goed wat ons bekommerd behoort te maak. Die eerste is dat die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika stadig maar seker besig is om dood te gaan! As ons na die statistieke gaan kyk, dan het ons belydende lidmate die afgelope twintig jaar met bykans 10% gedaal. Dit klink dalk nie so erg nie, maar as ons na die voerbron van die kerk kyk, ons dooplidmate dan sien ons die skokkende syfer dat ons dooplidmate in dieselfde tyd met bykans 60% gedaal het! Teenoor dit het ons by die pas afgelope sinode gehoor van ons broers en susters in Suid Amerika waar die kerke met Gereformeerde belydenis by ’n miljoen lidmate sterk is en waar hulle groei teen ’n tempo van ongeveer 300 kerke per jaar.

Ons kan baie redes uitdink oor hoekom dit so is, maar is die grootste rede nie omdat ons as kerk ’n verkeerde afdraaipaadjie gevat het nie? Is ons as kerk steeds besig om die Here se opdrag uit te voer soos Hy dit in Mat. 28 v 19 vir ons gegee het?
Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Keer terug na die waarheid toe.

In ons teksvers Jer. 6v16 is die tweede opdrag wat die Here hier aan sy volk gee:
vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is en loop dit
Ons kan maklik hierdie opdrag misverstaan omdat daar in die vertaling so ietsie van die oorspronklike taal verlore gegaan het. Ons kan maklik uit die Afrikaanse vertaling verstaan dat ons moet terugkeer na ons ou tradisies, maar dit is nie wat daar staan nie. Letterlik staan daar: “vra na die ewige paaie.” Die Hebreeuse woord wat hier met ou paaie vertaal is, beteken letterlik ewigdurend met die verwysing na ’n onbeperkte tydsduur met ’n fokus op die toekoms. Die opdrag is dus dat ons moet vra: “wat het ewigheidswaarde?” Die beste pad, is daardie pad wat fokus op ewigheidswaarde.

Saam met hierdie opdrag gee die Here ook ’n belofte “dan sal julle rus vind.” In Mat. 11 v 28 herhaal Jesus hierdie belofte:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”
Ons kan alleen rus by God vind in Jesus Christus se verlossing. Dit is die evangelie, die goeie nuus wat ons as kerk van die Here moet uitdra. Die pad met ewigheidswaarde is daar waar die evangelie brandend in my lewe is. Ons kan alleen rus by die Here vind as ons op die pad is wat ewigheidswaarde in Jesus Christus het. Dit is eers as hierdie goeie nuus lewend is in my eie lewe dat ek op die regte pad is.

Is dit nie miskien die rede waarom ons nie aan die Here se opdrag gehoorsaam is nie, omdat die evangelie nie meer brandend in my lewe is nie? In Hand 1 v 8a hoor ons duidelik dat ons alleen die opdrag van die Here kan uitvoer as ons dit deur die krag van die Heilige Gees doen:
Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
Is ons nie besig om die Gees te blus en bedroef met ons eie selfsug en ons fokus op die tydelike nie? Is dit nie dalk die rede waarom die krag van die Heilige Gees nie meer werklik is in ons lewens is nie?

Ons teksvers sluit met ’n baie hartseer stelling af:
Maar hulle het gesê: “Ons sal nie daardie pad loop nie.”
Die gevolg van hulle hardkoppigheid was dat hulle in ballingskap weggevoer is waar hulle as slawe vir die Babiloniërs moes gaan werk. Is dit waarheen ons op pad is? Is die rede waarom ons nie werklik by die roeping van kerkwees uitkom omdat ons ’n verkeerde begrip het van wat dit beteken om kerk van die Here te wees nie? In die prediking hierdie jaar gaan die fokus dan ook wees op wat dit beteken om werklik kerk van die Here te wees.

Daar is maar net een manier waarop ons die evangelie weer brandend in ons lewens kan kry, deur te vra na die pad met ewigheidswaarde, naamlik Jesus Christus se verlossing in my lewe.

Slot

Die Here se opdrag is: Staan by die kruispaaie en kyk,” Daarmee sê die Here vir ons dat ons indringende selfondersoek moet gaan doen sodat ons ook ’n koersverandering kan ondergaan om op die regte pad te kom. Verder sê die Here ook vir ons:vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is en loop dit” Hiermee sê die Here vir ons dat ons moet fokus op dit wat ewigheidswaarde het, naamlik Jesus Christus se verlossing in my lewe. As ek dit doen dan sal die belofte van rus ook in my lewe ’n werklikheid word. Geliefdes, kom ons keer terug na die ewige waarheid van Jesus Christus se verlossing waar ons rus sal vind.
Amen