19 Januarie 2012

God is getrou aan sy verbond, daarom is daar vir ons hoop in ’n toekoms wat donker lyk

Geloftediens 16 Des 2011
Teks: Pred. 4v17 - 5v6; Ef. 3v14 – 20. 
Teksvers Pred. 5v3

Liturgie
na Votum Ps. 9 v 1 & 7  (OAB)
Slotsang Ps. 68 v 1 (OAB)
173 jaar gelede het ons voorvaders ’n gelofte teenoor die Here afgelê. Daarmee het hulle ’n verpligting op ons geplaas omdat daardie gelofte onder andere gemeld het dat: “ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte” Alhoewel daar sommige van ons volkgenote is wat daarteen rebelleer, bly ons gebonde aan daardie gelofte. Die Here waarsku ons dat ons versigtig moet wees wanneer ons ’n vrywillige gelofte teenoor Hom aflê soos ons hoor in Pred. 5v3:
As jy aan God ’n gelofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie. Hy hou nie van ligsinnige mense nie. Wat jy beloof het, moet jy betaal.
Op ’n ander plek in Deut. 23V21-23 sê die Here:
21“Wanneer jy ’n gelofte aflê teenoor die Here jou God, moet jy nie traag wees om dit na te kom nie, anders sal die Here jou God jou tot verantwoording roep en sal jy skuldig wees. 22 Wanneer jy nie ’n gelofte aflê nie, sal jy nie skuldig wees nie, 23 maar as jy vrywillig ’n gelofte teenoor die Here jou God aflê, moet jy versigtig wees met wat jy sê en moet jy die gelofte nakom.

Die vraag is nou of ons daardie gelofte wat afgelê is nakom? Voordat ons dit kan doen moet ons net eers kortliks weer gaan kyk presies wat die gelofte behels en wat daartoe aanleiding gegee het. Wat het aanleiding tot die gelofte gegee?

Die Voortrekkers in Natal het totale uitwissing in die gesig gestaar. Dit het met hulle bitter ellendig gegaan.
•     In Febr. 1838 is Piet Retief en sy afvaardiging
       op ʼn verraderlike wyse deur Dingaan by sy kraal vermoor.
•     Kort daarna volg die gruwel massamoorde
       teen die hange van die Drakensberge: Moordspruit, Bloukrans, Weenen.
•     In April het Piet Uys en sy seun Dirkie in ’n mislukte vergeldingspoging by Italeni gesneuwel
•     Om sake te vererger trek Andries Potgieter terug na Transvaal
•     In Aug./Sept. seëvier die doodsengel weer eens toe ’n maselepidemie die reeds moedelose en verswakte Voortrekkers nog verder uitgedun het.
•     Die kroon op hulle ellende was toe die 41 jarige Gerrit Maritz op 23 Sept. aan die Klein Tugela sterf.

Die Voortrekkers was nou uitgedun, leierloos, moedeloos – ja, weerloos uitgelewer. Hulle het vir hulself geen toekoms meer in die vooruitsig gestel nie. In sy voorsienigheid beskik God dat die bekwame Andries Pretorius twee maande later (in Nov.) hom by die Voortrekkers in Natal aansluit. Binne enkele dae het hy op baie bedrewe wyse die hele situasie daar in Natal opgesom en besluit dat daar nie anders kan as om in geloof teen Dingaan op te tree nie.

Dit word vertel dat toe die boere kommando opgeruk het na die vesting van Dingaan, Sarel Cilliers en Andries Pretorius volgens gewoonte alleen vooruit gery het. Dit was volgens oorlewering by dié geleentheid terwyl hulle oor die gevare en probleme van hul onderneming en die geweldige getalle oormag van die vyand gepraat het, dat Sarel Cilliers aan die generaal voorgestel het dat hulle ’n gelofte voor die Here God moet aflê – hulle moet hul krag van Hom alleen soek.
Op die aand van 7 Des 1838 is die gelofte die 1ste maal afgelê in die vorm van ’n erediens onder leiding van Sarel Cilliers. Die gelofte kan kortliks soos volg uiteengesit word:

Die voorneme om ’n gelofte te doen:

"Hier staan ons voor die heilige GOD van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen

Voorwaarde

dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee,

Belofte

1) ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n Sabbat sal deurbring,
2) en dat ons 'n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag,
3) en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte

Doel:- om aan God alleen die eer te gee

want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan hom te gee."

Die gelofte is daarna elke aand herhaal en op Sondag 16 Des 1838 het God die onmoontlike moontlik gemaak. Minder as 500 Boere kommandolede het ’n oormag van meer as 10 000 Zoeloe krygers verslaan. Nie een van die boeremagte is gedood nie en slegs ’n paar het ligte snywonde opgedoen. God het aan die noodroep van sy kinders gehoor gegee en Hy het hulle beskerm en die vyand in hul hand gegee. Hiermee is egter ’n verpligting op die nageslag van die verbondmakers geplaas.

Wat is die verpligting wat op ons as die nageslag geplaas is? In kort dat ons moet herdenk dat die Here in ’n tyd van nood vir ons voorvaders uitkoms gegee het en dat ons dit aan die volgende geslag moet oordra sodat die Here se Naam daardeur geëer kan word. Nou kom ons weer by die vraag wat ons in die begin gevra het, het ons die verpligting van die gelofte nagekom? As ons doodeerlik moet wees dan moet ons sê “NEE”. Dit is eers na 1910 dat 16 Des. as ’n nasionale gedenkdag ingestel is. Tot watter mate het ons werklik aan ons kinders oorgedra hoe God vir ons voorvaders in tyd van nood gesorg het? Tot watter mate getuig ons lewens daarvan dat ons net van God afhanklik is om vir ons te sorg? Gee ons met dit wat ons doen en sê die eer aan God alleen? Nee geliefdes, ons lewens getuig eerder van rebelse opstand teenoor God!

Toe Sarel Cilliers daardie gelofte in die week voor die slag van Bloedrivier teenoor die Here afgelê het, het die Here geweet dat ons nie 100% getrou gaan wees aan die beloftes wat gemaak is nie. Ten spyte daarvan het Hy nog steeds in sy groot genade gehoor gegee aan die pleidooi van die Voortrekkers, want Hy het lank reeds van sy kant af ’n ewige verbond met sy uitverkore kinders aangegaan waarin Hy sy ewige trou beloof het. Alhoewel ons nie getrou die beloftes kan nakom wat ons teenoor die Here maak nie, is daar Een wat wel 100% getrou in alles is en was. In Heb. 3v1 & 2:
Daarom, broers wat vir die Here afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping, moet julle noukeurig let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof wat ons bely. Hy is getrou aan God wat Hom aangestel het
Watter troos kan ons daaruit put? Toe die toekoms vir ons voorvaders donker gelyk het na die moord op Retief, Andries Potgieter wat na Transvaal teruggetrek het en die dood van Maritz het hulle, hulle krag in die Here en in sy groot mag gesoek (Ef. 6v10). Hulle het deur die Heilige Gees krag ontvang om innerlik sterk te word. (Efesiërs 3:16). Christus het deur die geloof in hulle harte gewoon en hulle was in sy liefde gegrondves. (Efesiërs 3:17). Hulle was in staat om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus gestrek het! (Efesiërs 3:18).

Hier is baie dinge wat die toekoms vir ons ook donker laat lyk. Die ekonomie wat maar net nie op dreef wil kom nie. Die dreigemente van ons plase wat deur herverdeling van grond afgevat kan word. Regstellende aksie wat ons en ons kinders van loopbaangeleenthede ontneem. Die golf misdaad en korrupsie wat so oor ons spoel. Ons kan en ons moet net soos ons voorvaders ons krag in die Here en in sy groot mag soek. Ons kan dit alleen doen wanneer ons deur die Heilige Gees krag ontvang om innerlik sterk te wees. Ons kan dit alleen doen wanneer Christus deur die geloof in ons harte woon en wanneer ons in sy liefde gegrondves is. Dit is eers wanneer ons Christus soek vir wie Hy is en nie omdat hy net nuttig is vir die seëninge wat Hy gee nie. Dit is eers wanneer ons Christus onweerstaanbaar vind net vir wie Hy is dat ons werklik op God kan vertrou.

In wese behels die gelofte dat ons, ons kinders van God se troue verbondliefde leer. God is getrou aan sy verbond, daarom is daar vir ons hoop in ’n toekoms wat donker lyk.
Amen



Christus verander die donker wanhoop in ons lewe na lig en hoop


Skriflesing:   Jes. 8v19 – 9v7 Teksvers Jes. 9v1
Liturgie  11 Des. 2011
na Votum Ps. 66 v 1  (OAB)
Na Wet Ps. 32 v 1 (OAB)
Na gebed Ps. 86 v 6  (OAB)
Slotsang Ps. 103 v 1 (OAB)

Die jaar is besig om ten einde te snel en Kersfees lê om die draai. Dit is daardie tyd van die jaar dat ons almal besig is om voor te berei vir die vakansie en daar is so ’n gevoel van feestelikheid in die lug. Dit is ’n tyd dat ons daarna uitsien om weer saam met ons geliefdes deur te bring. Vir baie mense is dit egter ook ’n tyd van eensaamheid en is dit ook so dat die aantal selfmoorde in hierdie tyd van die jaar toeneem. Hierdie tyd van die jaar is inderdaad ’n donker tyd vir baie mense. Kersfeestyd is nie vir almal altyd so vreugdevol soos wat ons gewoonlik dink nie. Dalk is dit omdat my kinders ver is of dalk is dit die eerste Kersfees wat ek sonder my geliefde moet deurbring. Daar is baie dinge in die lewe wat dit vir ons donker maak.

In ons teks sien ons dat Israel ook ’n donker tyd beleef het. In die tyd van Jesaja het Koning Tiglat-Pelser van Assirië reeds die Noordelike deel van Israel in Ballingskap weggevoer. Die gebiede Sebulon en Naftalie in die Noorde daar by die meer van Galilea was van die eerste gebiede wat deur Assirië oorval is. Die Israeliete wat in Ballingskap weggevoer was, het inderdaad donker tye beleef.

In Jes. 9v1 hoor ons egter dat daar hoop is vir Israel:
Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn.
Die profeet is so seker daarvan dat hy die verlede tyd praat asof dit reeds gebeur het. Israel sien net donkerte om hulle. Hulle land is verwoes. Hulle is ver van Jerusalem af en hulle het nie meer ’n tempel nie. Dit voel vir hulle of hulle heeltemal van God verwyder is. In Jes. 7v14 en 8v8 het die profeet reeds aan hulle die belofte van Immanuel gegee, God met ons. Nou gebruik die profeet die beeld van lig om die volk te bemoedig sodat hulle, hulle nie moet blindstaar teen die huidige donker omstandighede nie. Daar is hoop!

Verder gebruik hy nog twee beelde om vir die volk hoop te gee binne hulle huidige donker omstandighede. Eers gebruik hy die beeld van vreugde tydens oestyd en ook die blydskap van soldate wanneer die veldtog verby is en hulle die buit verdeel soos ons in Jes. 9v2-4 hoor. Die resultaat is dat alle vyandighede teen die volk van God gestaak gaan word.

In Jes. 9v5 hoor ons die rede vir die hoop waarvan die profeet praat:
Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee;
Weereens stel die profeet dit in die verlede tyd om die absolute sekerheid aan te dui dat dit wel gaan gebeur. Alhoewel Jesaja nie die woord Messias gebruik nie, verwys hy hier na ’n Koning wat uit die geslag van Dawid sal kom wat deur God aangestel is en wat as verlosser van sy volk sal optree soos die Here aan Dawid belowe het in 2 Sam. 7. Die Hebreeuse woord wat gebruik word om na so ’n koning te verwys is Messias terwyl die Griekse woord Christus is. In Afrikaans gebruik ons beide Messias en Christus. Hier is dus ’n belofte van ’n Koning wat ’n ewige vrederyk tot stand gaan bring.

Die kroning van die Messiaskoning word vir ons hier beskryf. Uit Psalm 2 weet ons dat ’n nuwe koning by sy kroning as seun van God aangeneem word en dat hy by dié geleentheid ’n nuwe naam kry. Dit presies dit wat vir ons hier in Jes. 9v2-5 beskryf word. Eers bely die volk: “vir ons is ’n Seun gebore, en aan ons is ’n Seun gegee” en dit verwys na die Messiaskoning wat die troon bestyg. Nou heers hy en by sy troonbestyging kry hy vier name wat sy heerskappy beskryf:
·        Wonderbare Raadsman - hy sal geen raad van ander nodig hê nie, want God is sy raadsman.
·        Magtige God – die Messiaskoning is God se direkte verteenwoordiger op aarde. Wie hom sien, sien as’t ware vir God.
·        Ewige Vader – soos dit ’n koning betaam is hy vir sy onderdane ’n vader wat voortdurend vir hulle sorg.
·        Vredevors – onder sy heerskappy sal daar harmonie wees sodat elke mens ongehinderd vir God kan dien.

In Mat. 4v12 – 16 hoor ons hoe hierdie profesie in Jesus Christus vervul is:
12 Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na Galilea toe gegaan. 13 Hy het nie in Nasaret gaan bly nie, maar Hom gaan vestig in Kapernaum by die see, in die gebied van Sebulon en Naftali. 14 So moes vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is:
15“Jy, gebied van Sebulon en gebied van Naftali, aan die seekant en oorkant die Jordaan, Galilea waar die heidene woon! 16 Die volk wat in duisternis woon, het ’n groot lig gesien; hulle wat in die skemerland van die dood lewe, vir hulle het die lig opgegaan.”

Watter troos hou hierdie profesie van ’n Messiaskoning wat 2000 jaar gelede gebore is vir ons in wat haastig op is na die einde van 2011? Vir elke donker oomblik in ons lewens is daar die hoop van Lig wat die duisternis sal verdryf. Ons is so geneig om tydens Kerstyd in die rooi Kersvaders wat ho ho ho sê vas te kyk. Hoe dikwels kyk ons net in die blink liggies en die reklame van Kerstyd vas en dan is ons verbaas omdat daar soveel donkerte in hierdie tyd is.
In Jes. 8v19 hoor ons:
Mense sê julle moet mediums en spiritiste raadpleeg wat fluister en mompel, maar moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie? Waarom sou ’n mens dooies in belang van lewendes raadpleeg?
As ons op die dooie dinge van hierdie wêreld vertrou dan sal daar in ons lewens ook niks anders as benoudheid en donkerte nie wees nie. Met Kersfees sê die Here vir ons ook: in die land waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie, want Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.

Geliefdes ons sien ook saam met Israel uit na ’n Koninkryk waar daar ewige vrede sal heers. Ons hou vas aan die belofte van die woonplek van God wat nou by die mense sal wees. Hy sal by ons bly; ons sal sy volke wees, en God self sal by ons wees as ons God. Hy sal al die trane van ons oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”
(Open 21v3&4)
.

Geliefdes moenie in hierdie feestyd u vreugde in die dooie dinge van die wêreld soek nie. Daar is net een ware bron van vrede soos die Here ook in .Fil. 4:6 & 7 vir ons bevestig:
6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
Hou vas aan die troos en vrede wat daar net by Jesus Christus te vinde is want Christus verander die donker wanhoop in ons lewe na lig en hoop.
Amen

ONS Getrouheid aan God se wet moet opreg wees sonder enige skynheiligheid


Skriflesing:   Mat 5:17 – 6:4 Teksvers Mat 5:20
Liturgie  4 Des. 2011
na Votum Ps. 84 v 4  (OAB)
Na Wet Ps. 91 v 1 (OAB)
Na gebed Ps. 84 v 3  (OAB)
Slotsang Ps. 107 v 1 (OAB)

Ons teksvers sê vir ons dat ons getrouheid aan God se wet opreg moet wees sonder enige skynheiligheid. Skynheiligheid is een van die aanklagte wat heel dikwels teenoor die kerk gemaak word. Hoe dikwels hoor mens nie dat iemand niks met die kerk te doen wil hê nie omdat die kerk (dit is nou ons geliefdes!) ’n spul huigelaars is wat elke Sondag ewe vroom en skynheilig die kerkbanke vol sit. Met ander woorde ons word aangekla dat ons voorgee om iets of iemand te wees wat ons nie werklik is nie! Die hartseer van die saak is dat daar ’n groot mate van waarheid in hierdie aanklag!

Hier in die Bergpredikasie ontmasker Jesus ons skynheiligheid en wys Hy vir ons wat die verskil is tussen ware geregtigheid wat God verlang en die wêreldse idee van geregtigheid wat ons so dikwels navolg. Geregtigheid beteken om op te tree volgens ’n sekere stel reëls of riglyne wat deur ’n hoër gesag daargestel is. Die wêreldse idee van geregtigheid kom daarop neer dat iemand geregtig is as hy/sy die regte ding doen en verkeerde dinge vermy, maak nie saak wat sy motivering daarvoor is nie.

Hier in die bergpredikasie wys Jesus ons dat die regte optrede met ’n verkeerde motivering skynheiligheid en huigelary is. Daarom sê Hy vir ons in Mat 5v20:
Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”

Die skrifgeleerdes en Fariseërs was die godsdienstige leiers van daardie tyd. Hulle was baie godsdienstig en hulle het die godsdienstige reëls baie streng toegepas. Tog sê Jesus vir hulle in Mat. 23v28:
27“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is. 28So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.”
Jesus noem hulle huigelaars. Huigelary het te doen met ’n teenstrydigheid tussen hoe dit lyk en hoe dit regtig is, dit wil sê tussen wat jy voorgee om te wees en wat jy werklik is.

Dit is inderdaad hoe die skrifgeleerdes en Fariseërs was. Hulle het voorgegee dat hulle hierdie vroom godsdienstige leiers was en gereeld in die openbaar gebid en gesorg dat hulle in die voorste plekke in die tempel was sodat almal hulle kon sien. Die probleem was hulle motivering oor waarom hulle dit gedoen het. Dit het nie vir hulle werklik oor hulle diens aan God gegaan nie, maar veel eerder oor hulle eie eer. Hulle wou hê dat die mense moes raaksien hoe vroom hulle lewe sodat hulle daardeur vir die volk kon wys hoe belangrik hulle was. Hulle het die regte goed gedoen met die verkeerde motivering soos ons ook hoor in Mat 6v1 & 2:
1“Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.
2“As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat.
Die Here sê vir ons dat dit nie goed genoeg is nie. Met so ’n benadering sal ons nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.

Hier in die bergpredikasie wys Jesus verder vir ons prakties wat dit beteken om volgens die wet van God te leef. Die wet van God strek baie dieper as die oppervlakkige manier wat ons so dikwels daarna kyk. In Mat 5v17-48 wys Jesus vir ons dat wat ek ook al dink my grootste sonde is, dat die werklikheid baie erger is. Ons mag dink dat ek darem nie ’n moordenaar is nie want ek het nog nooit iemand doodgemaak nie. As ons so dink dan wys die Here vir ons dat ’n slegte humeur eintlik moord is soos ons hoor in Mat 5v21en 22. Ons troos onself dikwels met die gedagte dat ek so kwaad geword het dat ek daardie persoon oor die kop kon slaan, maar ek het nie. Ek het nie eers op hom geskree nie. Ek het maar net omgedraai en weggeloop voordat ek iets kon sê. Dan sê die Here vir ons dat ons eintlik moord gepleeg het. In Mat 5v27 & 28 hoor ons:
27“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ 28Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.
Net die begeerte na ’n ander vrou of man is net so erg asof ek fisies owerspel pleeg.

Wie van ons kan nog eerlik sê dat ek nog nooit moord of owerspel gepleeg het nie? Verder ontmasker Christus allerlei wanpraktyke oor eedswering (die derde gebod) en laat dit dan uitloop op die groot gebod wat die vervulling van die wet is, naamlik liefde. In ons liefde mag ons nie onderskeid maak tussen vriend en vyand nie. Wie van ons kan werklik daarop aanspraak maak dat ons liefhet volgens God se standaard?

Hier in die bergpredikasie vind ons die praktiese riglyne van hoe burgers in die koninkryk van God behoort te leef. Kan ons werklik so leef soos wat die Here van ons verwag? As ons eerlik is, dan moet ons sê “NEE”. Wie van ons kan werklik sê dat ons volmaak is soos wat ons Hemelse Vader volmaak is? Ons is skuldig! Die harde werklikheid is dat ons getrouheid van die wet nie meer inhou as die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie met die gevolg dat ons nie in die koninkryk van die hemel sal kan ingaan as dit afhang van die manier waarop ons leef volgens God se wet nie.

Met die bergpredikasie wys die Here vir ons dat dit vir ons onmoontlik is om ons eie geregtigheid te verdien. Op die oog af mag dit dalk lyk of dit moontlik is, maar as ons dieper kyk dan sal ons sien dat ons dit nie kan doen nie. Dit is eers wanneer ons werklik verstaan dat ons niks kan doen om ons eie saligheid te verdien nie dat ons werklik by die genade van God in Jesus Christus kan uitkom. Solank as wat ek nog dink dat ek darem nie so sleg is nie, leef ek ’n skynheilige lewe van huigelary. Dit is eers wanneer ek besef dat ek nie die wet kan nakom nie en dat ek alleen deur Jesus Christus se geregtigheid gered kan word dat ek werklik in opregtheid kan begin leef.

In 2 Kor. 5v21 sê die Here vir ons:
Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.
Dit is eers wanneer ons besef dat ons nie deur goeie werke ons saligheid kan verdien nie, dat ons werklik die genade van God in Jesus Christus kan aangryp. Dan sal ons besef dat om ’n Christen wees beteken dat ons besef ons verlore was en dat ons by God, in Christus genade gevind het. Dan sal ons nie vol trots op ons “goeie werke” roem nie, maar besef dat ons dikwels struikel en val en dat ons God nodig het om vir ons die regte pad te wys. Dan sal ons besef dat ons nog steeds baie foute het, maar dat God dink dat ons die moeite werd is en dat Hy ons so lief het dat Hy sy enigste Seun gestuur het om in ons plek vir ons sondes te sterf. Dan sal ons besef dat ons nie beter is as ander mense nie, maar dat ons sondaars is wat God se genade ontvang het.

Kom laat ons die genade van God aangryp sodat ons kom wegkom van ’n valse sin van eiegeregtigheid en sodat ons opreg kan lewe vanuit God se genade.
Amen

As Jesus Christus ons verhoudings beheer sal ons mekaar opbou en nie afbreek nie.


Skriflesing Kol. 3v18 tot 4v1 Teksverse Kol. 2 v 13 & 14



Lit 27 Nov 2011 RB
 Ps. 92 v 1 na die Votum
 Ps. 119 v 7 na die wet
 Ps. 84 v 3 na gebed
 Ps. 133 v 1 en 2 slotsang

Hoe lyk ons verhoudings? Verhoudings is een ding wat alle mense in gemeen het en dit is ons verhoudings wat bepaal of ons gelukkig is of nie. Die stand van ons verhoudings bepaal die kwaliteit van ons lewens. ’n Mens se gesindheid oefen ’n groot invloed op die sukses van verhoudings uit. As ek ’n kritiese en veroordelende ingesteldheid het, dan sal dit ook in my verhoudingslewe deurskemer. Daar is niks wat so afbrekend is in ’n verhouding as ’n ingesteldheid van dat my goedkeuring en liefde vir jou bepaal word deur jou vermoë om aan my standaarde te voldoen nie. In kort kom dit daarop neer dat jy eers vir my moet wys dat jy goed genoeg is vir my liefde en aanvaarding.

Dit is veral binne ons naby verhoudings hier binne in die huisgesin dat so ’n gesindheid groot skade kan aanrig. Die verhouding van man en vrou, en ouers tot hulle kinders. Die opdrag aan vrouens om aan hulle mans onderdanig te wees beteken nie dat die vrou die man se vloerlap moet wees nie. Dit beteken dat die vrou die man se rol en posisie moet respekteer en dat sy dit nie vir hom moet moeilik maak om sy rol in die gesin te vertolk nie. In Spreuke 25v24 hoor ons:
Liewer bo-op ’n dak woon as saam met ’n twisgierige vrou onder een dak.
’n Vrou wat heeltyd krities is teenoor haar man se doen en late kan die lewe vir hom hel maak.

Aan die ander kant moet die man ook nie sy magsposisie misbruik om sy vrou sleg te behandel nie. In die meeste gevalle in vandag se samelewing is die vrou nog steeds net so afhanklik van haar man as wat vrouens in die destydse samelewing was. Mans moenie so teenoor hulle vrouens optree dat hulle begin bitter word nie. Die man se opdrag is dat hy sy vrou moet liefhê. Dit beteken dat hy sy vrou se belange eerste moet stel. In Ef. 5v 25 hoor ons:
Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.
Broeders, is ons werklik bereid om ons lewens vir ons vrouens af te lê?

Kinders kry die opdrag om aan hulle ouers gehoorsaam te wees en aan die ander kant kry vaders die opdrag om nie heeltyd by kinders fout te soek sodat hulle moedeloos word nie. Die een ding wat kinders soek (en ons is almal kinders in hierdie opsig) is aanvaarding. Die grootste fout wat ons kan maak is om te dink dat ons net deur streng reëls waar ons op die hoogste standaard aandring en deur middel van konstante kritiek daardie standaard handhaaf liefde kan gee. Dit beteken nie dat daar nie huisreëls moet wees nie. Dit gaan daaroor oor hoe dit toegepas word. Ons liefde vir ons kinders moenie bepaal word deur hulle vermoë om reëls te gehoorsaam nie.

In ons moderne samelewing het ons nou wel nie meer slawe nie, maar tog is daar in ons teks sinvolle beginsels in die voorskrifte wat vir die slawe van destyds van toepassing was. Die dilemma vir slawe en eienaars het ingekom waar eienaars en slawe Christene geword het. Slawe is oor die algemeen net as besittings beskou en nou is hulle en hulle eienaars broers in Christus. Die beginsel wat hier na vore kom is dat ons, ons werk so moet doen asof ons dit vir die Here doen. In elke beroep waarin ons staan, is ons deur die Here daargestel en daarom moet ons, ons werk ook eerbaar doen. Die ander beginsel wat na vore kom is dat mense wat in ’n toesighoudende posisie staan billik moet optree teenoor die mense wat onder sy toesig staan. Die implikasie is dat ons teenoor ons ondergeskiktes moet optree soos wat ons verwag die Here teenoor ons moet optree.

Die probleem is egter dat ons dikwels in ons verhoudings baie krities en veroordelend optree en ons is aan beide die uitdeel en ontvang kant van kritiek en veroordeling in ons verhoudings. Die rede waarom dit so is, is omdat ons verhouding met die Here deur sonde versteur is. Ons diepste vrees is die vrees dat ons nie goed genoeg is nie. Dit is daardie vrees dat as ons geweeg gaan word en dat ons te lig bevind sal word en dit word ten diepste gedryf deur die sonde besef hier diep binne in ons. Wanneer ons aan die ontvangkant is in ’n verhouding wat deur kritiek en oordeel gedryf word kwyn ons naderhand weg, want maak nie saak hoe hard jy probeer nie, op die uiteinde is dit net nie goed genoeg nie. Daarom dat mens dikwels vind dat mense steeds bly vasklou in ’n verhouding waar die een party in die grond in vertrap word. Dit is daardie soeke na aanvaarding. As ek net nog so ’n bietjie gewig kan verloor sal my man of kêrel vir my lief wees. As ek net probeer om beter punte te kry sal my ma of pa vir my lief wees. Die probleem is dat ons naderhand moed opgee en of heeltemal wegkwyn of aan die anderkant heeltemal in rebelsheid reageer.

Ons skuldgevoel oor ons eie onbevoegdheid dryf ons egter ook dikwels om aan die uitdeelkant van oordeel en kritiek in ons verhoudings te wees. Dit kom daaruit oor hoe ons die Here in ons lewe ervaar. As ons nie die genade van God verstaan nie sal ons God as veroordelend ervaar en dan sal dit ook in ons verhouding met mense so deurskemer. As ons in ons verhouding met die Here heeltyd probeer om sy genade te verdien met goeie gedrag sal dit ook in ons verhoudings met die mense om ons deurskemer. As ons by daardie punt gekom het dat ons teen God se gesag rebelleer sal dit ook in ons verhoudings deurskemer. Dit is eers wanneer ons God se genade wat Hy deur Jesus Christus se soenverdienste aan die kruis vir ons gegee het verstaan en ervaar dat ons werklik verlos kan word van die slawebande van ’n veroordelende en kritiese gesindheid.

In Kol. 2v13 & 14 hoor ons:
13Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. 14Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.
Dit is eers wanneer ons verstaan dat Jesus Christus al ons skuld weggeneem het, dat ons bevry word van ’n veroordelende of rebelse gesindheid. Want dan is ek nie meer in beheer nie, maar Jesus Christus is in beheer van my lewe. Wanneer Jesus Christus in beheer is van my lewe sal sy liefde ook in my lewe en in my verhoudings begin deurskemer.

In Spreuke 4v23 sê die Here vir ons:
Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.
As my hart vol oordeel en kritiek is, word my lewe deur oordeel en kritiek gekenmerk. As my hart egter vol van liefde is, sal my lewe deur liefde gekenmerk word. In 1 Joh. 4v19 sê die Here vir ons dat ons kan liefhê omdat God ons eerste liefgehad het. God se liefde vir ons beteken dat Hy die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak het, deur dit aan die kruis te spyker. Daardeur het Hy dit vir goed weggeneem.

Hou met die geloof wat die Heilige Gees vir ons gee vas aan God se genade in die soenverdienste van Jesus Christus. Laat Jesus Christus ons verhoudings beheer, dan sal ons mekaar opbou en nie afbreek nie.
Amen

Volhard in geloof deur jou oë te vestig op Jesus Christus


Skriflesing:   Heb. 11 v 1 tot 12 v 3; Teksvers Heb. 12 v 1
Liturgie  13 Nov. 2011
na Votum Ps. 100 v 1 & 4  (OAB)
Na Wet Ps. 25 v 1 & 5 (OAB)
Na gebed Ps. 40 v 4  (OAB)
Slotsang Ps. 146 v 1 & 3 (OAB)

Inleiding

Waar kry ons krag vandaan om enduit vol te hou in hierdie lewe? Daar kom tye in mens se lewe wat ons moedeloos raak. Die lewe raak net te veel en dan sien ek nie meer kans om aan te gaan nie. Ek stoei met siekte, finansies, die toekoms lyk vir my donker. Dit lyk of alles besig is om agteruit te gaan en ek weet nie of daar vir my en my kinders nog ’n toekoms in die land is nie. Die ergste is wanneer ek begin moeg raak in my geloofslewe. Ek voel nie meer lus om Bybel te lees nie. Daar gaan dae, selfs weke om dat ek nie bid nie en as wel die dag bid dan voel dit vir my leeg en sinneloos. Ek twyfel of God nog werklik vir my omgee.

In Hebreërs 12 v 1-3 gebruik die Here ’n wedloop as voorbeeld om vir ons te leer waar om krag vandaan te kry wanneer die lewe te veel word. Die wedloop wat hier beskryf word is nie maar net ’n gewone wedloop by ’n atletiek byeenkoms nie. Dit is nie ’n 100 m resies wat vinnig agter die blad is nie. Ons sou dit veel eerder met ’n Comrades maraton kon vergelyk. ’n Gewone maraton is 42 km lank. Die Comrades is twee keer so ver, ongeveer 90 km lank en dit staan bekend as ’n ultra maraton. Met ’n ultra maraton gaan dit nie soos met ’n gewone wedloop daaroor oor wie wen nie. Dit is in elk geval net ’n paar uitgesoekte atlete wat die vermoë het om ’n Comrades maraton te wen. Vir die res gaan dit eerder of jy die uithou vermoë het om die wedloop te voltooi. Kan ek vir 90 km hardloop om die eindpunt te haal? Dit is hoe die lewe is. Kan ek enduit volhou in hierdie lewe?

Waar kry ons krag vandaan om enduit vol te hou in hierdie lewe? In Heb. 12 verduidelik die Here vir ons waar ek krag kan kry om enduit vol te hou in die lewe. Om dit te verduidelik gebruik Hy die voorbeeld van ’n wedloop. Om ’n antwoord te kry op die vraag moet ons kyk na die wenners. Wenners in hierdie sin beteken diegene wat die wedloop voltooi het. Dan moet ons kyk na onsself en vir die antwoord moet ons kyk na Jesus Christus. In kort sê die Here vir ons: “Volhard in geloof deur jou oë te vestig op Jesus Christus.”

In die eerste plek, kyk na die wenners.

In Heb. 12v1 verwys die Here na ’n groot skare geloofsgetuies. Letterlik staan daar ’n groot wolk van geloofsgetuies. Die Griekse metafoor wat hier gebruik is verwys na ’n skare toeskouers wat in ’n atletiek stadion sit en wat soos een massa opstaan om die atlete aan te moedig. Hierdie toeskouers is die mense wat alreeds die geloofswedloop voltooi het en ons hoor van hulle in Hebreërs 11. Abel wat ’n beter offer as Kain gebring het. Henog wat in die hemel opgeneem is sonder om te sterf. Noag, Abraham, Isak, Jakob, Josef, Moses, die Israeliete wat droogvoets deur die dooie see gegaan het. Ragab die prostituut by Jerigo, Die rigters Gideon, Barak, Simson en Jefta. Dawid, Samuel en die profete en al die ander geloofshelde waarvan die name nie genoem word nie. Hulle het almal die wedloop van die lewe voltooi.

Dit is belangrik dat ons kennis moet neem dat hierdie mense wat as voorbeelde vir ons voorgehou word nie perfekte mense was nie. Dit wat uitgelig word is hulle geloof en vertroue in die Here en Hy hulle deur al moeilike tye gedra het. Dit is geloof wat hulle deur gedra het en dit is wat die Here vir ons sê. As Ek hulle deur die lewe gedra het, hoekom sal ek julle nie dra nie? Geloof beteken dat ons glo dat God ons ook deur die lewe en al sy moeilikhede sal dra net soos Hy al die geloofshelde van die verlede deur die lewe gedra het.

In die tweede plek, kyk na jouself.

In Heb. 12v1b se die Here vir ons:
laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding  hardloop
Hier moet ons so bietjie na onsself kyk om te bepaal wat dit is wat ons doen wat die lewe vir ons moeilik maak. ’n Atleet wat aan ’n wedloop deelneem gaan tog nie ’n sak vol swaar klippe saamdra nie, veral nie as daardie wedloop 90 km ver is nie! Wat is hierdie klippe wat ons saam met ons dra deur die lewe? klippe soos byvoorbeeld sorge, bekommernisse, swaarmoedigheid en moedeloosheid. klippe soos om ’n obsessie oor geld te hê of om jouself te haat omdat jy volgens jou mening nie mooi genoeg, slim genoeg of sterk genoeg is nie. klippe soos om op jouself gefokus te wees om net jouself raak te sien. ’n Kritiese gesindheid waar ek net die slegte in ander mense raaksien en net dit wat goed is in my eie lewe. Dan kla ek omdat niemand van my hou nie en hoe swaar dit is. Verkeerde vriende wat ’n swak invloed in my lewe het en my op ’n pad van verderf lei om maar enkele voorbeelde te noem. Hierdie dinge hang nou saam met sonde wat ons so maklik verstrik. Dit gaan nie veel sin maak om ’n lys te maak van hierdie sondes nie, want mens kan so maklik een of twee uitlaat of selfs sondes noem wat nie eintlik in hierdie omstandighede en tyd van toepassing is nie. Met so ’n lys verwys ons net na die simptome van sonde. Die eintlike wortel van sonde is ongeloof. In wese is ongeloof ’n gebrek aan vertroue in God. In kort moet ons gaan kyk wat dit in ons lewe is wat die lewe vir ons swaarder maak as wat nodig is. Daarmee saam moet ons, ons ongeloof dit wil sê die gebrek in vertroue aan God se sorg wat so dikwels in ons lewens na vore kom agterlaat.

Die vraag is nou hoe kry ons reg om te glo dat God ons sal help net soos Hy die geloofshelde van die Bybel en die tallose ander wat ons nie eens van weet nie, gehelp het. Hoe kry ons reg om daardie twyfel in God se sorg wat ons so verlam, neer te lê? Hoe kry ons reg om daardie sondes in ons lewens wat soos ’n swaar ysterbol met ’n ketting aan ons vasgemaak is, agterwee te laat. Hoe kom ons los van die dinge wat ons terughou in die lewe?

Ons moet na Jesus kyk!

In Heb. 12v1b en 2a sê die Here vir ons:
laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.
Jesus is die begin en die einde van ons geloof. Ter wille van ons het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins. Ons Here het vir ons die Nagmaal gegee om ons geloof sterk te maak. Net soos wat brood en wyn ons liggame voed, voed God deur sy Gees ons geloof wanneer ons Nagmaal gebruik. Die eindpunt van die wedloop waarmee ons besig is, is Jesus Christus. Ons geloof in Jesus Christus gee vir ons die krag om enduit te volhard. Dit help ons om nie geestelik moeg te raak en uit te sak nie. Kom laat ons nou met die gebruik van Nagmaal volhard in geloof en daardeur ons oë te vestig op Jesus Christus.
Amen

Op grond van die groot ontferming van God behoort ons onself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is


Skriflesing:   1 Tess. 5 v 12 - 28
Liturgie  6 Nov. 2011
na Votum Ps. 18 v 1  (OAB)
Na Wet Ps. 38 v 1 & 17 (OAB)
Na gebed Ps. 33 v 5 & 11   (OAB)
Slotsang Ps. 133 v 1 & 2 (OAB)

Inleiding

Wat is ons reaksie op die genade wat ons van God ontvang? Ons vier volgende week as die Here wil weer Nagmaal waar ons weer op ’n sigbare wyse gaan sien hoe groot God se genade in ons lewens is. Ons gaan in die brood en die wyn sien hoe Jesus Christus vir ons sondes aan ’n vervloekte kruishout vasgespyker is. Ons het hierdie week geleentheid om ons voor te berei op Nagmaal. Dit behels onder andere dat ons opnuut weer nadink en besef hoe onmoontlik dit is om onself van die sondeslawerny te verlos. Verder ook dat ons weet waar ons wel verlossing van hierdie sondeslawerny kan vind en dan ook dat ons, ons opnuut weer voorneem om soos verloste kinders van God te leef. Rom. 12v1 som dit mooi op:
op grond van die groot ontferming van God: Gee  julleself aan God as lewende  en heilige  offers  wat vir Hom aanneemlik  is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Hoe gee ons onself aan God as ’n heilige offer? God gee vir ons in sy Woord baie praktiese riglyne hoe om dit te doen. Ons gaan vanoggend fokus op die riglyne wat Hy aan die gemeente in Tessalonika gegee het omdat dit ook vir ons gemeente van toepassing is. Eerstens net ’n kort agtergrond oor hierdie brief aan die gemeente in Tessalonika.

Agtergrond

In Handelinge 17 hoor ons dat die gemeente in Tessalonika tydens Paulus se tweede sendingsreis in Asië tot stand gekom het. Verder hoor ons ook dat Paulus nie baie lank in die gemeente kon preek nie. Dit was nie veel meer as drie weke voordat hy vir sy lewe moes vlug nie. In hierdie eerste brief aan Tessalonika hoor ons dat Paulus baie bekommerd was oor die welstand van die jong gemeente wat hy so inderhaas moes verlaat. Daarom het hy vir Timoteus gestuur om te gaan kyk hoe dit in die gemeente gaan. Timoteus het teruggekom met die blye berig dat dit baie goed gaan in die gemeente, maar dat hulle tog sekere geloofskennis ontbreek het. Hulle was veral onkundig oor die wederkoms van Jesus Christus en daarom fokus Paulus in die twee briewe wat hy aan die gemeente geskryf het om hulle baie spesifiek ten opsigte van die wederkoms te onderrig en dat alles wat hulle doen juis op hierdie Christelike hoop van die wederkoms gerig moet wees.

In die tweede helfte van die brief gee hy dan ook baie praktiese riglyne aan die gemeente hoe om te leef met die hoop op die wederkoms van Jesus Christus. In ons teks gedeelte vind ons ’n samevatting daarvan. Daarin leer ons (1) hoe ons optrede teenoor die ampsdraers in die gemeente behoort te wees; (2) hoe ons onderlinge verhoudings behoort te wees en (3) hoe ons verhouding teenoor God behoort te wees. Uit hierdie riglyne kan ons ook leer hoe om te leef met die hoop op die wederkoms van Jesus Christus. Wat behoort ons reaksie te wees op die genade wat ons van God ontvang? Op grond van die groot ontferming van God behoort ons onself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is.

Hoe moet ons optrede teenoor die ampsdraers wees?

U het heel moontlik die afgelope week besoek ontvang van u ouderling en indien nie sal u in die komende week deur hom besoek word. In 1 Tess. 12 & 13 sê die Here vir ons:
Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar.

Slaan ag op die onderwysing wat hulle uit die Woord aan julle bring en wees dankbaar vir wat die bediening in julle lewens beteken. As dit nodig is dat ons deur hulle tereggewys moet word dan moet ons besef dat hulle dit in opdrag van die Here doen. As daar iets is in my lewe is wat nie reg is nie en die ouderling wys my daarop, dan moet ek besef dat die Here deur die ouderling met my praat. Wees dankbaar vir die werk wat die diakens doen en ondersteun hulle werk. Leef in vrede met mekaar saam. Moenie in ’n stryd met die ampsdraers van die gemeente betrokke raak nie.

Hoe moet ons onderlinge verhoudings wees?

Omdat ons die Here se persoonlike liefde ervaar behoort daardie liefde ook in ons onderlinge verhoudings sigbaar te wees. In 1 Tess 5V14-15 sê die Here dan ook vir ons hoe ons teenoor mekaar moet optree.
Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. Sorg dat niemand ’n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense.
Ons moet op mekaar ag gee en verkeerde gedrag moenie goedgepraat word nie. In Tessalonika was daar ’n klomp mense wat onder die voorwendsel van die wederkoms opgehou werk het en so op hulle gelowiges begin teer het. Sulke gedrag was onaanvaarbaar.

Verder moet ons mekaar ook ondersteun. Daar kom tye in mens se lewe wanneer jy baie broos is weens verskeie omstandighede soos siekte, hartseer en sulke dergelike dinge. In sulke omstandighede moet ons mekaar ondersteun en daar wees vir mekaar. Die opdrag om met almal geduldig te wees wys ons weereens daarop dat ons optrede deur liefde vir mekaar gemotiveer moet word.

Moenie ’n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. As iemand ons te na gekom het dan moet ons hulle vergewe. Vergifnis beteken nie om die ander persoon net so seer te maak soos hy/sy my gemaak het nie! Ons moet mekaar se belange op die hart dra, met ander woorde ons moenie ons eie belange voorop stel nie.

Hoe moet ons verhouding met God wees?

In 1 Tess 5v16 – 22 sê die Here vir ons:
Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. Moenie profesië uitsprake van dié wat die boodskap van God verkondig, geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is.
Ons moet blymoedig wees. Met ander woorde moenie altyd met ’n lang gesig rondloop asof die hele wêreld op jou skouers druk nie. Ons moet IN alle omstandighede dankbaar wees omdat ons weet dat die Here ons dra deur die moeilike tye. Dit is inderdaad soos ons in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus bely dat ons in voorspoed dankbaar moet wees en in teenspoed geduldig moet wees in die vaste vertroue dat Here alles ten goede laat meewerk.

Bid gedurig. Dit beteken nie dat ons heeldag op ons knieë moet wees nie, maar dat ons in alle tye biddend moet leef. Gebed is ons kommunikasie kanaal met God. Moet dit nie afskeep nie. Paulus vra ook in vers 25 dat die gemeente vir hom moet bid. Geliefdes bid julle gereeld vir julle dominee? Sonder julle gebede kan ek nie my werk behoorlik doen nie. Ons moet vir mekaar bid.

’n Verhouding sonder kommunikasie kan tog nie werk nie. Ons praat met God deur gebed, maar ons moet ook na Hom luister wanneer Hy met ons praat deur prediking en ook persoonlike Bybelstudie. Deur nie by die prediking uit te kom nie en ook nie Bybel te lees nie, staan ons die werking van die Heilige Gees teë, want die Gees werk deur die Lewende Woord van God. Die Gees werk nooit los van die Woord nie. Om aan die Here gehoorsaam te wees beteken dat ons doelbewus die goeie sal kies en wegbly van dit wat sleg is.

In 1 Tess 5v23 & 24 bid Paulus dan ook dat God die gemeente in die totaliteit van hul menswees sal bewaar sodat hulle onberispelik sal wees wanneer Jesus weer kom. Die verlossing in Jesus Christus is volmaak en daarom kan ons volkome vertrou dat Hy ons volkome sal verlos van die slawebande van die sonde. In vers 24 spreuk Paulus dan ook die vaste vertroue uit dat God dit sal doen omdat HY getrou is.

Slot

Op grond van die groot ontferming van God behoort ons onself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is. Ons doen dit deur die leiding van die ampsdraers in die gemeente te respekteer. Ons doen dit deur mekaar in liefde te ondersteun en mekaar se belange te dra. Ons doen dit deur in ’n lewendige verhouding met God te leef deur in gebed met Hom te praat en om na Hom te luister in die woordverkondig en persoonlike Bybelstudie. Laat ons daarom op grond van die groot ontferming van God onself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is.
Amen

Terwyl julle vashou aan die hoop wat God gee, moet julle die belange van julle gemeenskap bevorder!


Skriflesing:   Jeremia 29 ; Kernverse:Jeremia 29:5-7 en 10b
Liturgie  23 Okt. 2011
na Votum Ps. 146 v 1   (OAB)
Na Wet Ps. 130 v 1 & 2  (OAB)
Na gebed Ps. 31 v 1 & 3  (OAB)
Slotsang Ps. 146 v 3 & 8 (OAB)


Inleiding
Vir baie van ons voel dit nog vreemd om in hierdie nuwe Suid Afrika te lewe. Ons voel ook dikwels ontuis in die samelewing waar nuwe skokke, soos onbeheerste misdaad, verkragting en kapings, ons telkens tref. Daarom kom daar soms `n lam gevoel oor ons, `n gevoel dat ons dalk vreemdelinge in ons omgewing geword het. Is dit dalk amper soos die ballinge in Babel moes gevoel het? Wat daarby kom is dat ouderdom en `n ongeneeslike siekte ons ook laat vra: hoekom leef ek nog en wat is die sin daarvan as ek niks meer kan doen en my bewegings so ingeperk word?

Hoe moet ons hierdie situasie hanteer? Hoe kan ons die betekenis van hierdie tyd verstaan en hoe kan ons gemotiveer word om te lewe soos iemand wat voel sy/haar lewe is nog sinvol? Hierdie besondere hoofstuk aan die eerste groepie ballinge in Babel help ons vandag nog hiermee. Ons teksgedeelte kan eintlik so saamgevat word as `n tydige woord aan ons: Terwyl julle vashou aan die hoop wat God gee, moet julle die belange van julle gemeenskap bevorder!

Twee aspekte staan baie skerp uit:
·        Hou vas aan die hoop wat God gee!
·        Bevorder die belange van julle gemeenskap!

1.  Hou vas aan die hoop wat God gee
In hierdie hoofstuk is daar ’n warm briefwisseling tussen Jerusalem en Babel.

Jeremia skryf eers ’n lang brief en stuur dit saam met betroubare manne, Elasa en Gemarja, na die ballinge in Babel om hulle teen die valse profesie van die selfaangestelde profete te waarsku: name wat genoem word, is Agab, Sedekia en Semaja.

Semaja, ’n valse profeet in Babel, reageer skerp op Jeremia se brief deur te skryf aan die priester Sefanja, wat dissipline moes uitoefen in Jerusalem. Daarin vra hy dat die priester Jeremia moet stilmaak.

In ’n derde brief, een wat Jeremia skryf, reageer hy op Semaja se brief en waarsku dat God Semaja sal straf deur hom kinderloos te laat sterf. In hierdie preek val die klem op Jeremia se eerste brief aan die ballinge.

Wie was hierdie ballinge?

Dit was die eerste groep, leiers en belangrike en waardevolle persone, wat ongeveer in 597 vC, so tien jaar voor die val van Jerusalem en die vernietiging van die tempel in 586, na Babel weggevoer is. Hulle was nie té pessimisties oor die wegvoering nie, want die valse profete het hulle verseker dat hulle na twee jaar sal terugkeer. In Jerusalem het alles nog normaal gelyk, want ’n nakomeling van Dawid, Sedekia, was koning. In die stad het almal nog met hulle gewone lewe aangegaan en die tempel het gestaan en die offerdiens is onderhou. Hulle sou teruggaan, al moes hulle ’n rebellie teen die onderdrukkers in Babel voer, so het die valse profete hulle aangemoedig.

Jeremia kry berig van wat die gesindheid in Babel is en hy is hewig ontsteld oor die onrealistiese verwagting. Hy sê vir die ballinge en vir hulle valse profete wat God se woorde is. God sê: “Ék het julle weggevoer na Babel!” Die Here se manier van doen is dikwels vir ons met die eerste ervaring daarvan, vreemd en onverstaanbaar. Tog kan ons daaraan vashou dat Hy volkome in beheer van alles is, watter onaangename ervaringe ons ook al beleef.

Dieselfde God wat hulle weggevoer het, gee aan hulle ’n vaste belofte: “Ek sal presies oor 70 jaar vir Babel straf, julle onder my sorg neem en julle bymekaar maak en terugbring na julle vaderland.”

Die effek van Jeremia se brief is nie vertroostend nie, maar eintlik vernietigend vir die ballinge. Oor 70 jaar ... Nog 70 jaar hier! Die valse profete se boodskap is baie meer aanvaarbaar: oor 2 jaar! Dit kan nog, maar om te dink ek sien my ouers nooit weer, of my familie of my verloofde of my land of die tempel van die Here. Dan glo ek liewer die profete in Babel. Maar die Here leer dat die mense wat nou in Juda agtergebly het deur swaard, hongersnood en plae geteister sal word en ’n bespotting vir die volke sal wees. Hulle is soos slegte vye wat onbruikbaar is.

God weet wat Hy vir die ballinge beplan. Hy sê dit ook en in die “Ek weet wat Ek vir julle beplan”, word die “weet” baie sterk beklemtoon! Hy wil nie die ballinge seermaak nie, maar in die 70 jaar sy tug oor die volk uitoefen, ’n nuwe begin maak, hulle lei tot ware bekering. Daarom moet hulle vashou aan die hoop wat God gee. Hulle moet téén hoop óp hoop vertrou, soos wat Abraham dit gedoen het (oa toe hy op was om Isak te gaan offer). Sewentig jaar is kort in die oë van die Here, maar dit is die leeftyd van drie geslagte. Wie bly hoop en elke volgende geslag laat vashou aan die hoop, het ’n vaste punt van hoop. Die ballinge kan maar die tyd aftel: nog 40 jaar, nog 30, 20, 10, nog net vyf. Nou is dit die tyd! God sal hulle bymekaarmaak en terugbring op sy tyd. God bepaal die tyd waarop die hoop werklikheid sal word. Daar mag egter nie valse hoop wees nie.

Hoop is so belangrik vir die ballinge om te kan doen wat God hulle beveel.

God se beloftes is soos die saad van hoop wat klaar daar is, maar wat deur volharding moet groei en sterker word. Met die koms en sterwe en opstanding en hemelvaart van Christus het daar vir ons ook hoop aangebreek. Ons kan ook van 70 praat, maar dan nie letterlik nie. Tien en sewe was die volheidsgetalle in die Bybel en 10x7 is die tyd van volheid.

Ons hoop op die wederkoms is net so belangrik om te kan doen wat God ons beveel terwyl ons op aarde lewe. Hoop is om verseker te weet dat Christus wat reeds gekom het, wat sy belofte in die Ou Testament van die Messias wat sou kom, vervul het, dat hierdie Christus weer sal kom en alles nuut sal maak: Ons en die nuwe hemel en aarde. Wie nou voel hy/sy is in ballingskap mag vashou daaraan dat God verseker weet wanneer Hy sal kom om sy vyande te straf en ons by ons ewige bestemming uit te bring.

2.  Bevorder die belange van julle gemeenskap!
Terwyl die ballinge vashou aan die hoop, moet hulle die belange van die gemeenskap bevorder. Hulle moet dus die ballingskap aanvaar en nie net vol heimwee verlang na die ou dae nie.

Hulle moet bou en plant en kinders kry en vermeerder.

Hulle moet ’n gemeenskap bou wat na 70 jaar sterk in die geloof is, suiwer in hulle manier van lewe, en dan teruggaan na hulle eie land. By God werk dit dikwels so dat ’n geleentheid om ’n nuwe begin te maak, kan lei tot ’n sterk gemeenskap met vaste beginsels wat goed gemotiveer is. Toe die Israeliete Kanaän binnegegaan het, het hulle lande gekry wat reeds geploeg was, wingerde wat druiwe gedra het, olyflanings, huise wat klaar gebou was, maar hulle het hierdie gawes deur die eeue vertrap.

Nou moet hulle deur selfwerksaamheid ander karaktereienskappe ontwikkel. Hulle moet self plant en bou en so met die basiese dinge begin. God sal hulle beskerm en lei en selfs in die vreemde kan hulle, hulle huise aan Hom wy en die eerste vrugte van die oes aan Hom gee. Hulle kan kinders hê en ’n gesonde gemeenskap bou.

Die ballinge het merkwaardige vryheid gehad. Hulle kon vry beweeg, ’n normale lewe lei, behalwe dat hulle nie na Juda kon terugkeer nie. Hulle was die goeie vye! Deur hulle werk kan hulle die land van die Babiloniërs help herstel wat deur die lang oorlog teen die Assiriërs verwoes is. Die feit dat hulle kon trou, sonder dat hulle ouers (wat dalk agtergebly het) vir hulle vrouens gekies het, is simbool van hulle nuwe geleenthede wat hulle kan benut. Hulle kan ’n nuwe leefwyse begin!

Maar nie net plant en bou en kinders hê nie.

Hulle kan in die vreemde bid, en hulle móét bid vir die vrede en voorspoed van die stad. Dit is ’n absoluut merkwaardige opdrag en die enigste in die Ou Testament waar opdrag gegee word om vir vyande en ongelowiges te bid. In die Nuwe Testament beveel Jesus dit in die Bergrede, Paulus vra in Romeine 12:21: oorwin die kwaad deur die goeie (vgl ook Tit 3:1-3; 1 Pet 2:18). God bemoedig hulle om te bid en belowe Hy sal luister. Die volk het gedink God is nie in ’n vreemde land nie en jy kan Hom nie in die vreemde soek en tot Hom roep nie. Nou leer Jeremia hulle dat God grense deurbreek en dat die vreemde land nie noodwendig onrein is nie. As hulle die belange van die stad bevorder, is hulle tegelyk ook besig om hulle eie belange as nuwe geloofsgemeenskap te bevorder.

God se doel met die ballingskap was om hulle vir Hom af te sonder en sterk te maak, maar ook om hulle bloot te stel aan die vreemde om gevorm te word. Hulle kry daarby ’n missie om God se Koningskap in die vreemde te proklameer.

Wie hierdie opdrag uitvoer, ook in die omstandighede van vandag wat vir ons vreemd is, word bevry van selfbejammering en ’n passiewe gesindheid, negatief en nie lus om alles te gee nie. God gee aan hulle iets om voor te lewe, al weet hulle, hulle sal self nie lewend uit die ballingskap kom nie: hulle kan plant en bou en so entrepreneurs en ondernemers in die vreemde word. Hulle kan deur intensiewe voorbidding vir die heidense stad en die ongelowiges, hulleself geestelik verryk. As hulle die vestiging in Babel aanvaar, dan hou die Here sy verhouding met hulle in stand ten spyte daarvan dat hulle ver van die tempel en die heilige land af is.

Hulle kan bid, God soek en Hom vind.

Die klem verskuif van ’n formalistiese godsdiens na ’n intiem persoonlike verhouding met God. So leer hulle nuwe wyses van aanbidding om God in die Gees en in waarheid te aanbid.

Die wonder vir die opkomende geslagte is dat Jeremia hierdie beloftes op skrif gestel het. Sy brief kan bewaar word dwarsdeur die 70 jaar en elke keer weer moed aan die volgende geslagte gee.

Wat sê dit vir ons wat ná die koms van Christus lewe?

Die lyn van die geskiedenis loop so: Die ballinge het na ongeveer 70 jaar in die vreemde teruggekeer en in die stukkende land weer geplant en huise gebou, selfs die tempel herbou. Maar die bekering was van korte duur. In Maleagi se tyd is hulle maar weer die slegte vye.

Die ware tempel, die Christus Self, moes afgebreek word om te doen wat die ballingskap nie kon doen nie. Hy het met sy opstanding ware bevryding uit die ewige ballingskap van die dood gebring. Hy het selfs sover gegaan om elkeen wat in Hom glo saam met Hom uit die dood op te wek en saam met Hom laat opvaar na die hemel.

Maar Hy het ons nie onmiddellik ewig daar laat woon nie. Ons moes eers terug na die wêreld om ’n nuwe gemeenskap met Christus as Hoof te bou. Daarom is ek en jy hier, maar hierdie wêreld is nie ons woning nie. Ons het ’n lewende hoop dat ons òf by ons sterwe òf by die onverwagse wederkoms van Christus, onmiddellik by Hom sal wees.

Hierdie hoop moet ons vashou. Ons is nie bloot stof wat weer stof sal word nie. Ons het ’n ewige bestemming. Wie aan hierdie hoop nie vashou nie, sal in die grootste pessimisme en selfbejammering en verbittering verval.

Maar terwyl ons hierdie hoop vashou, moet ons die belange van ons samelewing bevorder. En ons het ’n ongemaklike samelewing. Dinge het drasties verander en ons worstel om te weet wat ons rol hierin is. Dalk is die misdaad- en verkragtingsberigte so neerdrukkend dat ons dink aan padgee uit hierdie land. Dan is die boodskap van Jeremia 29 steeds vir ons. Die Here se manier van doen is dikwels vir ons, wanneer ons dit op ’n nuwe manier ervaar, vreemd en onverstaanbaar, maar Hy is ook hierin altyd volkome in beheer.

Wat sê dit vir ons oor ons verblyf nou op hierdie plek? Twee dinge: Werk en hoop. Hou vas aan die hoop op Christus se koms en al die ander beloftes, veral die belofte dat die Heilige Gees ons sal lei. Maar bou en plant en bid en soek God en maak so jou aardse lewe vol betekenis.

·        Jongmense, God sal julle hier gebruik om entrepreneurs en kreatiewe denkers te wees, wat die belange van die hele land bevorder.
·        Ons hoogs bejaardes kan nog bid vir vrede en voorspoed, selfs vir wie hulle as God se vyande beskou. Hulle kan die boodskap van God se beloftes vir die volgende geslagte helder en duidelik oordra en so die volgende geslagte se hoop versterk.
·        Ons moenie net kritiseer nie, maar betrokke raak by die plekke waar daar geleenthede is, selfs by die plaaslike, provinsiale en landsregering.
·        Ons moet harder werk by ons werkplekke wat nou groter behoefte aan kreatiewe aksie en ondernemingskap het.

Want deur die belange van ons samelewing te bevorder, bevorder ons ook die belange van die kerk van Christus. Ons het immers die Heilige Gees om ons in alles te begelei. So kan ons meehelp om, waar land, werksplek en samelewing deur swak bestuur en korrupsie en ander faktore agteruitgegaan het, weer op te bou .

Hierdie nuwe begin, anders as waaraan ons gewoond was, sal tot versterking van ons persoonlike verhouding met die Here lei. Dit sal nuwe karaktereienskappe by ons ontwikkel en ons sal nie vassteek by heimwee na die verlede nie. Ons sal die kwaad deur die goeie oorwin.

Dit geld ook vir almal wat terminaal siek is: God laat daardeur sy krag, wat in ons swakheid werk, deurbreek en sigbaar word. En dit alles is nie soetsappige toesmeerstories nie. God het, soos met Jeremia se brief, dit alles vir ons in die Bybel gesaghebbend gegee.

Slot
God se beloftes is soos die saad van hoop wat klaar daar is. Hoe sterker ons vashou aan die sekerheid van sy wederkoms, hoe sekerder sal sy wederkoms vir ons nader kom. Terwyl ons vashou aan die hoop wat God gee, moet ons die belange van ons omgewing bevorder. Plant en bou en neem inisiatief en bid vir almal en soek die Here. Hy sal Hom laat vind!
Amen