30 Sep. 2012 (RB)
Joh. 13:31 – 14:18; Teksverse Joh. 14:16
Sing
Lofsang: Ps. 150 v 1 & 3 (OAB)
Na
wet: Ps. 32 v 1 (OAB)
Na
gebed Ps. 84
v 1 & 6 (OAB)
Slotsang Ps. 105 v 1 & 2 (OAB)
Die
lewe het ’n manier om anders uit te draai as wat ons verwag! Nes dit lyk of
alles nou in plek val en my vooruitsigte lyk mooi en goed, dan gebeur daar iets
wat alles deurmekaar krap. Dit is iets wat al meer as een maal in my lewe
gebeur het en ek glo elkeen van ons het dit al ervaar.
In
Joh. 14 vind ons dat dit ook iets is wat Jesus se dissipels ervaar het. Hulle
is hewig ontsteld oor dit wat Jesus hulle nou net meegedeel het terwyl hulle
besig was om die Paasmaal saam met Jesus te nuttig. Judas het homself verskoon
nadat Jesus aan hom openbaar het dat Hy weet dat Judas Hom gaan verraai. Nou
hoor die agterblywende dissipels hierdie onstellende boodskap wat in Joh. 13:33
vir ons opgeteken is:
My kinders, Ek is nog net ’n klein rukkie by julle.
Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle
ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.
Simon
Petrus vra die vraag wat in almal se gemoed is: “Here, waarheen gaan U?”
Hy kan maar net nie aanvaar dat Jesus weggaan nie en vol bravade roep hy uit: (Joh. 13:37)
“Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my
lewe vir U aflê.”
Dan
hoor hy en die ander dissipels Jesus se skokkende antwoord v38:
“Sal jy jou lewe vir My aflê? Dít verseker Ek jou:
Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”
Dink
net hoe ontsteld die dissipels op daardie punt was! Vir drie jaar lank het
hulle Jesus gevolg nadat hulle alles opgegee het. Hulle hoop was totaal en al
op hierdie Messias gevestig en heimlik het hulle verwag dat Hy Israel weer in
sy vorige glorie sou herstel en van hulle vyande verlos. Nou moet hulle hoor
die Messias op wie hulle al hulle hoop gevestig het, weggaan! Alles verniet,
tevergeefs soos die Prediker gesê het!
Jesus
se dissipels verstaan nog steeds nie die groter prentjie van God se koninkryk
nie, naamlik dat dit nie maar net nog ’n tydelike aardse koninkryk is nie. God
is besig om sy ewige koninkryk te vestig wat wyer strek as net die hier en nou
waarin die dissipels vaskyk. Daarom sê Jesus vir hulle: (Joh. 14:1-4)
“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo
ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was
nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak
nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en
sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En julle ken die
weg na die plek waarheen Ek gaan.”
Geliefdes,
het ons nie ook maar dikwels dieselfde probleem as wat die dissipels gehad het
nie? Is ons nie ook maar vasgevang in die hier en die nou nie? En wanneer dinge
nie heeltemal glad verloop soos wat ons verwag nie, dan raak ons ook paniekerig
en ontsteld! As ek tog maar net hierdie maand kan deurkom en dan breek die kar.
Ek het nie geld om die kar reg te maak nie! En dan gaan ons vol ontsteltenis na
God toe. Net soos die Jode ’n tydelike aardse koninkryk verwag het, ten spyte
van wat Jesus reeds vir hulle gesê het. Kyk ons nie ook maar net in die hier en
nou vas nie? Wil ons nie ook maar so dikwels vir Jesus gebruik om huidige
probleme op te los sonder dat ons kyk na die groter prentjie van God se
koninkryk waarmee Jesus besig is nie? Ons kyk net in die hier en nou vas en wil
Jesus net soos die Jode van ouds misbruik om ons eie behoeftes te bevredig. Die
Here waarsku ons teen so ’n benadering soos ons hoor in 1 Kor. 15:19:
As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus
vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.
Jesus
antwoord Petrus se vraag van “waar gaan U heen?” deur hom eers te kalmeer:
“Moenie ontsteld wees nie.” Hoe kry mens dit reg om nie ontsteld te wees oor
die dinge waarmee ons in hierdie lewe mee sukkel Nie? Eenvoudig: “Glo in God;
glo ook in Jesus.” Vertrou God, Hy is in beheer. Niks op hierdie aarde gebeur
buite sy wil nie. Dan gee Christus weer vir sy dissipels die groter perspektief
van God se koninkryk. Dit is meer as net die hier en nou. Christus is besig om
vir ons plek voor te berei om in die ewige heerlikheid saam met God te wees. En
julle ken die weg na die plek waar Jesus is.
Die
probleem is egter dat ons so dikwels net soos Tomas nie verstaan nie en dan het
Jesus met ons ook net soveel geduld as wat Hy met Tomas gehad het. Hy
verduidelik weer die eenvoudige boodskap van die evangelie (dit wil sê die
goeie nuus van Jesus Christus) soos ons hoor in ons teksvers Joh. 14:6:
Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die
waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.
Jesus
is die enigste ware weg na God en die lewe, daar is nie ’n ander weg nie.
Dit is ’n boodskap wat by die wêreld nie baie gewild is nie. ’n Wêreld wat
vasgevang is in die leuen van die satan dat elkeen maar op sy eie manier wel by
God sal uitkom. Dis nie ’n probleem wat uniek is aan die tyd waarin ons leef
nie. Dit was maar eintlik van die begin af dat die mens onafhanklik sy eie pad
wil loop.
Die
probleem is egter dat dit die pad na die ewige dood is waar mens vir ewig van
God verwyder is. Die beskuldiging word so dikwels gemaak dat dit ’n
veroordelende boodskap is, maar dit is nie waar nie. As jy verkies om God te verwerp,
dan kan jy mos vir niemand anders as jouself blameer wanneer jy as gevolg van
daarvan vir ewig van God geskei word nie soos ons hoor in Joh. 3:17-18:
God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om
die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.
Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel
omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.
Die
mens kan egter nie op sy eie sonder God bestaan nie. Filippus spreek hierdie
versugting van die mens uit met sy vraag: “Here, wys vir ons die Vader, en
dit is vir ons genoeg.” Dan wys Jesus weer eens vir die waarheid uit soos
ons hoor in Joh. 14: 9-10:
“Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie,
Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die
Vader’? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie?
Ten
spyte van hierdie duidelike boodskap is daar sommiges wat nie glo nie en as
gevolg van daarvan verlore gaan. Elkeen wat verlore gaan kan niemand buiten
homself blameer nie.
Die
uitverkore kinders van God ken egter vir Jesus en word sodoende weer met die
Vader versoen soos ons hoor in Joh. 14:7:
As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van
nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”
Jesus
se dissipels het Hom geken omdat hulle Hom persoonlik gesien het en na Hom
geluister het. Ons kan Jesus egter ook ken en as te ware ook sien. In Gal 3:1
hoor ons:
Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie
het julle verstand benewel? Jesus Christus is tog so duidelik aan julle
verkondig dat julle Hom as ’t ware aan die kruis kon sien hang!
Deur
Woordverkondiging en persoonlike Bybelstudie leer ons Jesus ken asof ons self
soos sy dissipels saam met Hom geleef het en ook gesien het toe hulle Hom
gekruisig het. Deur ons geloof in Jesus sien ons die wese en heerlikheid van
die Vader self raak. God is onsigbaar en tog sien ons Hom!
In
Joh. 14:11 herhaal Jesus dan weer hoe ons met die Vader versoen word en
sodoende deel kry aan sy koninkryk:
Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in
My; of anders, glo op grond van die werke self.
Glo
in Jesus Christus en beleef die wonder van God se genade!
In
Joh. 14:12 hoor ons dan ook wat die doel en opdrag van Jesus se kerk op aarde
is:
“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die
dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die
Vader toe gaan.
Jesus
het aarde toe gekom om die verlossing van die mensdom te bewerkstellig. Sy kerk
het die doel en die opdrag om hierdie verlossing aan die wêreld uit te dra. Die
groter dinge waarna hier verwys word is nie belangriker as Christus se werk
nie, maar wel dat daardie werk deur sy kerk voltooi sal word om al sy
uitverkore kinders te laat deel in die heerlikheid van sy koninkryk. Self in
hierdie taak laat God ons nie alleen nie, want Hy belowe dat hy sal luister
wanneer ons bid. Hy verseker ons dat elke keer wanneer ons bid
Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig
word;
laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde
geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef
ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons
nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die
koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
Dat
Hy ons gebed in die Naam van Jesus Christus sal verhoor.
Jesus
laat nie sy kerk alleen agter nie. Hy het die Heilige Gees gestuur sodat ons
deur sy Gees hierdie opdrag kan uitvoer wat Hy vir ons gegee het soos in
Joh. 14:16&17 verseker:
Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander
Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die
waarheid.
En
dan gee Hy ook nog vir ons die troos van Joh. 14:18:
“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek
kom weer na julle toe.
Geliefdes,
is u so vasgevang in die dinge van hier en nou dat u nie die groter prentjie
van God se koninkryk raak sien nie? Is u so verstrengel in die sorge van u
onmiddellike omstandighede dat dit vir u voel of alles tevergeefs is? Moenie
dat die tydelike dinge van hierdie lewe u ontstel nie. Sien die groter
perspektief van God se koninkryk raak. Glo in God, glo in Jesus Christus. Glo
dat Hy die enigste ware weg na God en die lewe is. Gaan dra hierdie goeie nuus
in woord en daad uit sodat elkeen wat uitverkore is, die blye boodskap kan hoor
en deur die Gees tot bekering gelei kan word. Maranate! Kom Here Jesus, kom!
Amen