Wys tans plasings met die etiket sonde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket sonde. Wys alle plasings

06 Oktober 2013

Dood vir die sonde, maar lewend vir God

6 Okt. 2013 GKE
Skriflesing Rom. 6 teksvers Rom. 6:23
Liturgie
na Votum        Ps. 111-2 v 1 & 4  (NAB)
Na Wet            Ps. 1-1 v 1 & 3  (OAB)
Na gebed         Ps. 119-2 v 14 , 18 & 27  (NAB)
Slotsang          SB. 14-1 v 1 , 2 & 3
Inleiding
As jy voor die keuse gestel moet word waar die een alternatief lewe is en die ander dood, wat sal jy kies? Ek is seker dat elkeen van ons lewe sal kies. Die probleem is egter dat die keuse van lewe ’n prys het. ’n Prys wat so duur is dat dit onmoontlik is om daardie prys te betaal soos byvoorbeeld R100 biljoen rand. As ons nie die prys kan betaal nie is die enigste oorblywende keuse die dood.

Genade en genade alleen
Terwyl jy oppad is om tereggestel te word kom iemand en sê vir jou: “jy is vry want ek sal in jou plek tereggestel word. Moenie bekommer nie, want ek neem jou identiteit aan.” Wanneer hulle my doodmaak sal dit net so goed wees dat hulle jou doodgemaak het. Met ander woorde die persoon wat tereggestel moet word en die Redder het in so mate plekke omgeruil dat hulle as te ware identiteite omruil. Dit is wat Christus vir ons kom doen het. Dit is wat die Here in Rom. 6:5 vir ons sê dat as met Hom een geword het ons ook in sy dood met Hom een is. Christus se sterwe aan die kruis is asof ons self aan die kruis vasgespyker was en die prys vir die sonde betaal het soos ons ook in Rom. 6:6 hoor:
Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word.

As iemand in bogenoemde voorbeeld dus na die tyd sou navraag doen by daai tronk waar die teregstelling plaasgevind het om na ons te verneem sal hulle sê: “Jammer daardie persoon is nie meer met ons nie. Hy/sy is dood!” Iemand wat vir ’n oortreding doodgemaak is, kan tog nie aanhou om daardie oortreding te begaan nie, soos ons hoor in Rom. 8:7:
Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde.

Die logiese gevolg hiervan is dat ons lewe in plaas van om dood te wees. Net soos wat ons een is met Christus in sy dood deel ons ook in die lewe wat Hy met sy opstanding verkry het soos wat ons hoor in Rom. 6:5:
Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.
Christus het die prys ten volle betaal. Hy het die mag van die sonde gebreek daarom gee Hy aan ons die lewe.

Om een te wees met Christus in sy sterwe en opstanding is dat dit net so goed is asof onsself doodgemaak is en die dood oorwin het. Hoe word ons een met Christus sodat ons een met Hom kan wees in sy dood en opstanding? Alleen maar deur die geloof wat die Heilige Gees verniet aan ons gee. Dit is wat God se genade is. In plaas van die dood kry ons die lewe sonder dat ons iets hoef te doen of gee om dit te verdien.

Wat beteken dit vir ons? Ons staan nie meer onder die wet nie soos ons in Rom. 6:15 hoor omdat een van die funksies van die wet is om ons te wys wat ons sonde is soos ons hoor in Rom. 5:20
Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword.
Omdat ons deel in die genade is ons nie meer onderworpe aan die oordeel van die wet nie en daarom staan ons nie meer onder die wet nie. Dit beteken dat dit nie meer van my pogings om die wet te onderhou afhang of ek vir God aanvaarbaar is nie. Ek hoef nie vir God te bewys dat ek sy liefde verdien nie. Met ander woorde, my gehoorsaamheid aan die wet bepaal nie hoe lief God my het nie!

Maar wat van die wet?
Bogenoemde boodskap van genade laat die vraag ontstaan: “maak dit nie van ons onverskillige en lui Christene nie? Ek kan mos maar sonde doen, God vergewe my mos. Dit is ’n vraag wat twee keer in ons teksgedeelte gevra word soos ons hoor in Rom. 6:1
Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem?
En ook weer in Rom. 6:15
Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade?

Die antwoord hierop is baie duidelik soos ons hoor in Rom. 6:2
Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?
En ook weer in Rom. 6:16
Beslis nie. Julle weet tog: as julle, julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe.
Die Griekse woorde wat met “beslis nie” vertaal is, beteken letterlik dat dit nie kan gebeur nie. Daar staan nie dat dit nie moet gebeur nie of nie behoort te gebeur nie. Dit KAN NIE, met ander woorde dit is onmoontlik! ’n Vuur wat brand is warm. ’n Vlam kan nie koud wees nie!

Die beeld wat hier gebruik word om dit te verduidelik is die van ’n slaaf. ’n Slaaf kan nie anders as om aan sy meester gehoorsaam te wees nie. Hy het geen vryheid nie en MOET doen wat sy baas vir hom sê om te doen. As daardie slaaf dan sy vryheid ontvang is hy nie meer gebonde aan daardie slawemeester nie. Jesus het ons juis kom verlos van die slawerny van die sonde. Om terug te keer na ons beeld van die gevange wat van die doodstraf bevry is. As jy bevry is van ’n lot waar jy doodgemaak sou word gaan jy tog nie vrywillig weer terugkeer en aanmeld by daardie tronk nie! As jy uit ’n rioolput gered is en jy is skoongewas en jou siektes wat jy daar opgedoen is genees gaan mens tog nie weer vrywillig in daardie rioolput terugklim nie!

Dis wat God vir ons sê in ons teksvers Rom. 6:23:
Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.
Met ander woorde: “Ek het jou bevry van die dood en gee aan jou die lewe. Leef nou die nuwe lewe wat jy ontvang het.” Ons roeping is om roeping is om vir God te leef, nie vir die sonde nie.

Wat beteken dit prakties? Beteken dit dat ons nie meer sonde doen nie? Nee, geliefdes, want die Here sê ook baie duidelik vir ons in 1 Joh. 1:8:
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.
Wat dit wel beteken is dat ek nie meer verskoning soek vir my sonde nie. Dit beteken dat ek al hoe meer bewus raak van my sonde omdat ek al hoe meer sensitief raak vir die Heilige Gees wat besig is met God se heiligmakingsproses in my lewe. Dit beteken dat ek besef dat dit God se genade is daar waar ek wel gehoorsaam word aan sy liefdesopdrag. Dit beteken dat ek nie meer op myself nie, maar wel op God se genade roem. Dit beteken dat ek die vreugde begin smaak om aan God gehoorsaam te wees. Dit beteken dat ek God se teenwoordigheid in my lewe begin raak sien en dat sonde al hoe meer afstootlik word vir my. Met ander woorde ek sien nie sonde as iets lekkers wat ek moet prysgee nie, maar dat dit iets afstootlik is wat ek nie meer wil doen nie.

Iemand wat nog nie rêrig bewus is van sy eie sondegebrokenheid nie is nog ver van God se genade af. Iemand wat die houding het van: “ag God gee mos sy genade aan my so dit maak nie saak of ek in die sonde volhard of nie” verstaan nog niks van God se genade nie!

Wat doen ek met die sonde wat nog deel is van my lewe? Die Here sê vir ons in 1 Joh. 1:9:
Maar as ons, ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons, ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Slot
Beteken God se genade dat ons nou maar ’n roekelose lewe kan ly want God vergewe ons mos? Nee geliefdes, dit beteken dat ek al hoe meer bewus raak van sonde in my lewe en my afhanklikheid van God om dit te oorwin. Dit beteken dat sonde nie meer vir my iets lekker is waarvan ek my moet weerhou nie, maar wel dat sonde vir my iets afstootlik is wat ek nie meer wil doen nie. Dit beteken dat ek al hoe meer verlang na God se teenwoordigheid in my lewe deur opnuut weer bewus te word van sy genade in Jesus Christus. Dit beteken dat ek al hoe meer besef dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

Geliefdes kom ons wy ons lewens aan God want die loon wat die sonde gee, is die dood, maar die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

Amen

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne

17 Aug. 2013 Jes. 42:18 – 43:28
Fokusgedeelte : Jes. 43:1
Lof-Psalm   Ps. 42:1 & 3       (OAB)
Na Wet       Ps. 38:1 & 17     (OAB)
Na Gebed   Ps. 118:1 2         (OAB)
Slotsang     Ps. 42:5 & 7       (OAB)

Inleiding
Vandag is ons voorbereidingsdiens vir Nagmaal volgende week. Die rede daarvoor vind ons 1 Kor. 11:28
Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink
Dit is ’n geleentheid wat God ons gee om weer te gaan nadink oor wat die Nagmaal werklik vir ons beteken. Die vraag is nou geliefdes: “Hoe berei ons, ons voor vir die Heilige Nagmaal?”

In die Nagmaalsformulier word dit vir ons soos volg verduidelik:
Die ware selfondersoek bevat drie hoofpunte:
1) Ons moet nadink oor ons sonde en vervloeking en ons met diepe berou hieroor voor God verootmoedig. (Erken dat ek verkeerd gedoen het)
2) Ons moet die vaste belofte van God glo dat al ons sondes alleen op grond van die soenverdienste van Christus vergewe is en dat sy volkome geregtigheid ons toegereken en geskenk is.
3) Ons moet die opregte begeerte hê om met ons hele lewe dank aan God te bewys, opreg voor Hom te wandel en in ware liefde en eensgesindheid met ons naaste te lewe.

In ons teksgedeelte gee die Here vir ons so ’n bietjie perspektief oor bogenoemde drie sake wat soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel loop: sonde, verlossing en dankbaarheid.

Sonde
Die boek Jesaja kan in twee hoofdele opgedeel word. Jes. 1-39 en Jes. 40-66. Die eerste deel handel oor die tyd toe Juda en Israel gevaar geloop het om deur die Assiriërs ingeneem en in ballingskap weggevoer te word. Die tweede deel handel oor die tyd toe Juda in ballingskap was, ongeveer een en ’n half eeu na die tyd van die profeet Jesaja. Die gedeelte is gerig aan ’n platgeslane volk en verkondig dat die Here die Skepper en Verlosser is, die regeerder van alles. Daarom kan Hy red.

Die Here het sy volk telkemale gewaarsku om hulself te bekeer, maar hulle wou nie luister nie en daarom is hulle in ballingskap weggevoer soos ons hoor in Jes. 42:24 & 25a
Wie het van Jakob ’n gevangene gemaak, wie het vir Israel oorgegee aan dié wat buit gemaak het? Is dit nie die Here nie, Hy teen wie ons gesondig het? Ons wou nie sy wil doen nie, ons wou nie na sy woord luister nie. Daarom het Hy sy toorn teen hulle laat ontvlam: die geweld van oorlog.

Sonde beteken om in opstand teen God te kom deur ongehoorsaam te wees aan Hom. Dit beteken om nie God se gesag in ons lewens te aanvaar nie. Om net mooi die teenoorgestelde te doen wat God vir ons sê om te doen. Dit beteken om liefde vir selfsug en haat te veruil. Sonde is om teen my beterwete van God af weg te draai en dit hou baie ernstige gevolge vir in. In Jes. 42:25b waarsku die Here sy volk hierteen:
Daar was vlamme rondom hulle, maar hulle wou nie verstaan nie; dit het hulle gebrand, maar hulle wou dit nie ter harte neem nie.
Die gevolg vir Israel was dat hulle in ballingskap weggevoer is na ’n vreemde land weg van alles wat vir hulle kosbaar was. Hulle het nie meer grond besit nie. Hulle was weg van die tempel af waar hulle God aanbid het.

Dit is wat sonde in ons lewens ook doen. Dit bring verwydering tussen ons en God en daarom sien ons dat die gevolge van hierdie opstand teen God ook in ons lewens raak. Die vrug hiervan is vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns wat in ons lewens teenwoordig is.

Die eerste aspek van my voorbereiding is dus dat ek teenoor God moet erken dat ek ’n probleem het (verootmoediging) met die verhouding tussen my en God en dat ek moet besef dat ek dit nie self kan oplos nie. Dit is seker een van die moeilikste dinge vir ’n mens om te doen. As dit nie vir die Heilige Gees was wat my daartoe lei nie sal ek dit uit my eie nooit kan doen nie.

Verlossing
Vir die Israeliete wat in sak en as in Ballingskap sit kom daar ’n wonderlike troos van verlossing soos ons hoor in Jes.43:1-3a
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.

Israel is as ’n klomp slawe weggevoer na ’n vreemde land toe en hulle kan absoluut niks daaraan doen nie. Vir hierdie slawevolk bring die Here die wonderlike troos: “Alhoewel julle niks kan doen nie, Ek kan alles doen!” Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne

Die klem val hier op die Here wat sy volk red en hulle verlos uit die slawerny waarin hulle vasgevang is. Die Here sê: “Ek verlos jou” en in Jes. 43:11 sê die Here
Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie.

Dit is dikwels hier waar ons die denkfout maak oor voorbereiding. Ons kry so maklik die persepsie dat ek vir die Here moet wys dat ek eintlik nie so sleg is nie. Ja, ek het nou wel so bietjie droog gemaak, maar ek gaan van nou af harder probeer. As ons mooi luister na wat die Here hier en in die res van die Bybel vir ons sê, sal ons agterkom dat dit nie ek is wat myself moet regruk en verander nie. Ek kan nie al wil ek ook. Die Here vat my en Hy red my omdat Hy vir my lief is soos Hy vir ons sê:
Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

Hy dra ons wanneer ons deur diep waters moet gaan in die lewe. Daar waar die lewe te swaar word dra Hy ons. Daar waar dit vir my voel ek kan nie meer nie, gee Hy vir ons die krag om aan te gaan. Daar waar die vuur van my opstandigheid teen die Here dreig om my heeltemal te verskroei beskerm Hy ons omdat Hyself deur die water en vuur van die kruis vir ons gegaan het. Christus het die duurste prys betaal wat ’n mens kan. Hy het met sy lewe betaal en dit is wat ons met die Heilige Nagmaal kom herdenk sodat die Heilige Gees daarmee ons geloof kan versterk. En die troos wat ons ontvang is die sekere en vaste wete dat ons met Christus verenig is deur ’n onbreekbare band van die Heilige Gees.

Dit beteken prakties dat ek verseker kan weet dat selfs in my slegste tye en diepste oomblikke van donkerte God nooit spyt was dat Hy my gered het nie. NOOIT NIE! Soos Hy in Jes. 43:4 bevestig:
Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.

Die tweede aspek van my voorbereiding gaan dus daaroor dat ek besef dat ek nie meer kan nie en dat die enigste uitweg by God self lê. Dat ek sal besef dat die waarborg van my verhouding met God nie in my swak hande lê nie, maar in die sterk band van geloof wat God self in persoon van die Heilige Gees aan my gee. Dis nie ek wat moet goed wees nie. Dit is God se genade wat my red.

Dankbaarheid
In Jes. 43:18 sê die Here vir die volk
Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.
Dit wat in die verlede is, is klaar afgehandel. Wanneer die Here sonde vergewe het dink Hy nooit weer daaraan nie soos ons hoor in Ps. 103:12
So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

Nou is dit vorentoe. Dit is hoe dit vir ons ook moet wees. Die sonde in my verlede is soos ’n donker gat in die diepste binneste van ’n tronk. As ek daarvan gered is en vrygemaak is, gaan ek tog nie weer vrywillig daarnatoe terugkeer nie! God het vir my ’n nuwe lewe gegee waar ek verlos is van die selfsug en haat en ongeluk. Waarom sou ek daarnatoe wou terugkeer? Uit dankbaarheid wil ek weer leef en nie vasgevang wees in die doodsheid van die sonde nie. Ek kan hierdie nuwe lewe leef omdat die Gees my dra en in staat stel om dit te doen.

Slot
Waaroor gaan voorbereiding? Drie eenvoudige sake. Sonde, verlossing en dankbaarheid. Geliefdes kom ons maak hierdie week wat voorlê erns met ons voorbereiding sodat ons die volle troos kan ontvang wat die Here vir ons met die Nagmaal gee.

Amen.